Hoekom sê Johannes ‘n Christen kan nie meer sondig nie?

Hoekom sê Johannes ‘n Christen kan nie meer sondig nie? – Kobus Kok

Francois vra:

‘n Kind van God sondig nie meer nie. Hoe moet 1 Joh 1:8 (as ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself) en 1 Joh 5:18 (Ons weet dat iemand wat ‘n kind van God is,nie meer sondig nie) verstaan word?  

Antwoord:

 

Dr Kobus Kok antwoord:

Hoekom se Johannes ‘n Christen kan nie meer sondig nie?

Die antieke mens het geglo dat dit wat jy doen sê wie jy is. Jou dade is dus gesien as ‘n voortsetting van jou identiteit. In Johannes se denke is daar twee families: Die familie van God (Joh 1:12) en die familie van die Satan (Joh 8:44). Mense se optrede is ‘n bewys van hulle identiteit. In hierdie sin stel Johannes dit duidelik dat ‘n Christen nie sonde kan doen nie omdat die saad van God (Grieks: sperma toe theo) in hom is. Net soos ‘n getroude mens nie kan egbreuk pleeg nie omdat hy/sy getroud is, net so kan ‘n kind van God nie sondig nie. Johannes sê ‘n kind van God kan nie sondig nie, bedoelende hy/sy wil nie, sal nie, en het geen begeerte om dit te doen nie. Op ander plekke in 1 Johannes sê die skrywer dat indien ons beweer daar is nie sonde in ons nie dan jok ons en maak ons God tot leuenaar omdat almal sondig is. Maar, indien ons ons sondes bely, is Hy getrou en regverdig en vergewe ons. Die punt wat Johannes met ander woorde wil maak is dat kinders van God nie meer kan voortgaan om doelbewus en opsetlik te sondig nie omdat hulle nie wil nie, omdat dit teen hulle aard as kinders van God inbeweeg. Ons is immers kinders van God en God is lig en daar is geen duisternis in hom nie – daarom moet ons ook as kinders van die lig leef.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




Geloofsvrae: Die vrug van die Gees

Geloofsvrae: Die vrug van die Gees – Adrio König

Die vrug van die Gees

`Die vrug van die Gees’ is ‘n uitdrukking wat aan Gal 5:22 ontleen is waar nege deugde saam `die vrug van die Gees’ genoem word. Dit is egter ‘n gedagte wat elders ook voorkom, met of sonder die benaming `vrug’ (1Kor 13; Ef 4:32-5:2; 5:9; Fil 4:8; Kol 3:12). Dit gaan nie om presies net hierdie nege deugde van Gal 5 nie. Daar word ook ander genoem soos geloof en hoop saam met liefde (1Kor 13). Elders is redelik breedvoerig ingegaan op sommige van die eienskappe: liefde, hoop, geloof.

 

Daar is dikwels daarop gewys dat daar in Gal 5 net sprake is van die enkelvoud: vrug, en nie van vrugte nie. Die betekenis sou dan wees dat die nege elemente ‘n eenheid is, en dat dit as ‘n druiwetros voorgestel sou kon word: ‘n aantal dele wat saamhoort en ‘n onverbreeklike eenheid vorm. Dit mag op die oog af gekunsteld lyk, maar daar is waarskynlik twee belangrike evangeliese waarhede hierin opgesluit: die vrug werk anders as die gawes, en dit gaan in die vrug nie om natuurlike aanleg of, erger nog, om ‘n swak selfbeeld nie.

 

Die vrug werk anders as die gawes. Een van die basiese beginsels i.v.m. die gawes is dat die Gees aan elkeen ‘n ander gawe gee om in diens van die hele liggaam te beoefen. Een persoon sal dus nie al die gawes hê nie – dit sou die hele beginsel ophef van onderlinge afhanklikheid, diens en verbondenheid. Maar in die geval van die vrug ontvang elkeen juis alles omdat dit ‘n eenheid is. Die volle vrug vorm ‘n volwasse Christelike lewe. Dit gaan dus ook nie daarom dat iemand nou maar eenmaal sonder inisiatief gebore is en daarom ook nooit haastig of ongeduldig is nie – so iets soos `sagmoedige Neelsie.’ Geduld as deel van die vrug is iets anders as dit.

Wat is die vrug van die Gees anders as ‘n beskrywing van die beeld van God waarvolgens ons geskep is en waarvolgens ons herskep word? Is dit nie wat God vir ons lewe beoog het nie?

Ons sou dit kon toets aan die vraag of dit is hoe God lewe. Ons het tog gesien dat ons sy beeld is om soos Hy te leef. Maar hoe sal ons weet hoe Hy leef? Sal ons dit nie in die lewe van sy Beeld kan sien nie, die Beeld wat Hy ons teruggegee het nadat ons sy beeld in ons lewe verwring het met ons sonde? Is Jesus nie die openbaring van God en dus ook van sy soort lewe nie? En hoe het Jesus geleef?

Die vrug van die Gees is ‘n beskrywing van Jesus se lewe. Wat sien ons in die Evangelies anders as Iemand wat vol liefde is, wat geduldig, vriendelik, goedhartig, getrou en nederig is en volkome selfbeheersing het?

Ons staan in die vrug van die Gees voor Jesus se lewe. Dit is hoe God lewe, én hoe Hy ons lewe bedoel het. Daarom het ons in die werk van die Gees net soseer met die laaste dae en die einddoel van God in die lewe van sy kinders te doen as in die optrede van Jesus. God wil sy doel in ons lewe bereik. Hy doen dit deur die vrug wat die Gees in ons lewe dra. Dit is eskatologie (die doel wat bereik word) in die volste sin van die woord. Die doel wat bereik word het ons in Jesus se aardse optrede aangetref, en nou weer in sy werk deur die Gees. Daar is dus veel meer eskatologie (eindtyd, bereiking van God se doel) in die Christelike geloof as net ‘n paar `laaste dinge.’

Die feit dat ons in die vrug van die Gees voor Jesus se lewe staan, kan natuurlik die negatiewe effek hê dat ons in moedeloosheid vra wie daartoe in staat is om soos Hy te lewe? En ‘n eerlike antwoord sal wees: Niemand nie – in elk geval nie onder ons nie. Maar daar is wel één: Jesus. En wat doen die Gees anders as om ons ‘n aandeel aan sy lewe te gee?

Trouens dit is tog die hele punt in die uitdrukking: die vrug van die Gees. Dit gaan nie om ons reuse pogings om soos God te probeer leef nie. Dit gaan om ‘n gawe wat ons ontvang: die lewe van Christus waarin die Gees ons laat deel. Skryf Paulus dan nie iewers: `Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my’ nie? (Gal 2:19) En op nog ‘n ander plek: `Christus is ons lewe’! (Kol 3:4) En wat is dit anders as die beeld van die druiwestok en die lote (Joh 15)? Wie dra die druiwe? Die druiwe sit wel aan die lote, maar die lote (ons) kry al die sap uit die druiwestok (Christus), wat dieselfde beteken as dat ons ons nuwe lewe as ‘n gawe van die Gees ontvang.

Opnuut sien ons hier hoe Christus en die Gees aan mekaar verbonde is, en hoe hulle werk ineengevleg is. Eintlik kan ‘n mens nie regtig sê of ons nou met Christus of met die Gees besig is nie! En só hoort dit. Hulle is onafskeidelik aan mekaar verbonde. Jy kan nooit op die regte manier op die Een konsentreer sonder om ook met die Ander Een te doene te hê nie. Daarom is ‘n eensydige konsentrasie op Christus ten koste van die Gees (die historiese kerke?) net so vreemd as ‘n konsentrasie op die Gees ten koste van Christus (‘n beskuldiging wat soms aan die Pinkster- en Charismatiese kerke gerig word).

‘n Laaste saak wat nie ons aandag moet ontgaan nie, is dat die vrug van die Gees eenheid onder mense bewerk. In Galasiërs staan die vrug van die Gees skerp teenoor die `werke van die vlees’ (5:19ev OAV), die ou lewe in die sonde. Niks is opvallender in die vergelyking tussen die twee reekse eienskappe nie as die feit dat die ou lewe op verdeeldheid, wantoue, vyandigheid en vernietiging uitloop, terwyl die vrug van die Gees mense aan mekaar verbind en op mekaar laat steun. Liefde, geduld, vriendelikheid en al die ander verenig mense, skep onderlinge vertroue, terwyl onsedelikheid, jaloesie en woede mense uitmekaar dryf.

Dit klop natuurlik met een van die belangrike vrugte van die kruiswerk van Christus: dat Hy die vyandskap tussen mense vernietig het en vrede en eenheid bewerk het, ja, dat Hy selfs een nuwe mens uit die ou verdeelde mensdom geskep het, en dat die kerk hierdie (een!) nuwe mensheid verteenwoordig (Ef 2:15-18). Dit is net nog ‘n voorbeeld hoe die einddoel van God met die mense bereik word sowel deur die kruis van Christus vir ons, as deur die werk van die Gees in ons – dus eskatologie in die volste sin van die woord.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Gawes en Vrug

Geloofsvrae: Gawes en Vrug – Adrio König

Gawes én vrug

Dit kan vreemd voorkom dat die beroemde hoofstuk oor die liefde (1Kor 13) die twee hoofstuke oor die gawes verdeel (12 en 14). Daar is selfs gepraat van velle papirus wat deurmekaar geraak het, ‘n moontlikheid wat seker nie in beginsel buite beskouing gelaat kan word nie en soms ook aangebied word as oplossing vir vreemde volgordes in die Johannesevangelie.

 

In hierdie geval is dit egter heeltemal onvanpas omdat dit die presiese punt verduister wat Paulus wil maak. Die probleem in Korinte was dat die gawes onenigheid en jaloesie veroorsaak het. Dit is presies die teendeel van wat hulle bedoel is om te doen. Die probleem het gekom omdat daar kompetisie ontstaan het oor wie se gawe die belangrikste is. Daarteenoor stel die apostel dan `die allerbeste,’ die liefde. Die manier waarop die gawes in die gemeente moet funksioneer is in liefde. En ons weet die liefde is die belangrikste deel van die vrug van die Gees, en Paulus verwys inderdaad ook in hierdie hoofstuk na sommige van die ander elemente van die vrug: geduld en vriendelikheid, blydskap, en impliseer verder ook nederigheid en vrede. Wat hy dus eintlik doen, is om as deel van die bespreking van die gawes, die vrug ter sprake te bring as die onontbeerlike atmosfeer waarbinne die gawes moet funksioneer om die gemeente te bou en nie te breek nie. Dit maak die liefdeshoofstuk wesenlik deel van die hoofstukke oor die gawes, want gawes en vrug hoort bymekaar.

 

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer : Prof Adri König




Geloofsvrae: Die verhouding gawes-vrug

Geloofsvrae: Die verhouding gawes-vrug – Adrio König

Die verhouding gawes-vrug

Gawes óf vrug?

Daar is in sekere kringe ‘n neiging om die vrug en die gawes van die Gees as alternatiewe te sien en dan een van die twee te kies en die ander te verwaarloos. Dit kom gewoonlik voor in kerklike kringe wat ‘n reaksie het teen die gawes of die gawes wil beperk tot die tyd van die NT.

 

Daar het ‘n hele teologie ontwikkel om hierdie posisie te probeer regverdig, die sg. streepteologie. Hiervolgens was die gawes net bedoel vir die vroeë Christene toe die kanon nog nie finaal vasgestel was nie. Dit word afgelei uit 1Kor 13:10, waarvolgens die gawes, wat die onvolmaakte dinge genoem word, sal verdwyn `wanneer die volledige kom.’ Normaalweg word aanvaar dat dit wys op die wederkoms van Christus. Die gawes sal dus tot by sy koms aanhou.

 

Die argument teen die voortgang van die gawes meen egter dat `die volledige’ die volledige Bybel is, die kanon. Dié het teen die middel van die vierde eeu finaal beslag gekry, en die gawes sou dan inderdaad gedurende hierdie vroeë eeue opgehou het.

Dit is ‘n kwalike beskouing met min goeie gronde. Die verband spreek sterk teen dié verklaring van `die volledige.’ Direk daarna (vers 12) werk die apostel met ‘n teenstelling tussen `nou en eendag’ waar `eendag’ duidelik nie na die afsluiting van die kanon kan verwys nie maar na die voleinding van die wêreld. Daar is ook geen goeie teologiese rede waarom die gawes moet ophou voor die voleinding van die ou wêreld nie. Die funksionering van die gemeente word so beslissend aan die gawes verbind dat ‘n gemeente sonder gawes ‘n anomalie is. Verder is dit duidelik dat die gelowiges inderdaad die soort gawes waarna in die NT verwys word, in hierdie bedeling sal nodig hê .

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König