Die Ou Apostoliese Kerk

Die Ou Apostoliese Kerk – Pieter Verster

Henk vra:

Ek wil twee dinge weet asb. Ek wil graag weet die ou apostoliese kerk, hoe reg of verkeerd hulle is, Ek het al paar goed gelees, maar een van hulle konfronteer my. Ek het Kitte Pienaar se boek gelees en wil graag net hulp hê in hierdie verband. Tweedens het ek diploma in Teologie gedoen en wil graag verder studeer, Waar en hoe kan ek dit doen  

Antwoord

Prof Pieter Verster antwoord:

Die Ou Apostoliese kerk. Reg of Verkeerd?

Edward Erwing (1794 -1834) ’n belowende Skotse prediker word as die stigter van die kerk beskou. Hy het beweer dat hy visioene gehad het dat die ampte herstel moes word, onder andere die Apostelamp. Groot klem word gelê op die feit dat die Apostel die persoon is wat werklik die ware lig deurgee. Die werk van die Apostel word as deurslaggewend beskou. Elke woord wat van die Apostel uitgaan, word as gesagvol beskou. Nie die woord van die Skrif is deurslaggewend nie, want volgens hulle maak die letter dood, maar die Gees maak lewend. Daarom word die Skrif ook nie letterlik beskou nie. Die Bybel word vergeestelik. Die Apostel spreek egter die ware woord en juis daarom word die Apostel erken as uiters gesagvol. Die hoofstroom kerke beskou agter die gesag van die Skrif as deurslaggewend. Daarom sal daar duidelik aangedui moet word dat Christus en nie die Apostel die ware Woord van God spreek.

Teologiese Fakulteite in Suid-Afrika bied baie kursusse aan wat ook geleentheid tot verdere studie vir diplomastudente bied. Die universiteit van Pretoria, die Universiteit van Stellenbosch, die Universiteit van die Vrystaat, die Noordwes-universiteit en die Universiteit van Kwa-Zulu Natal se tuisbladsye op internet kan bekyk word. Die South African Theological Seminary (SATS) bied ook verskeie kursusse aan.

 

Skrywer: Prof Pieter Verster




Geloofsvrae: Jesus Christus: Sy menslikheid

Geloofsvrae: Jesus Christus: Sy menslikheid – Adrio König

Die menslikheid van Christus (Christologie van onder)

Dit is nie tradisioneel om die betekenis van Jesus Christus van onder af, dit beteken in terme van sy mensheid, te oorweeg nie – en miskien is dit juis daarom so opwindend, want dit ly min twyfel dat dít is hoe die mense rondom Hom, insluitende sy eie dissipels, aanvanklik na Hom gekyk het.

Jesus was nie opsigtelik totaal anders as ander mense nie. Mense het nie onmiddellik voor Hom neergeval en God in Hom herken as hulle Hom sien nie. Trouens baie mense, selfs godsdienstige leiers, het Hom heeltemal verkeerd opgesom. Hulle kon selfs neerhalend met Hom praat. Dit is interessant om selfs net Joh 8 te lees. Let op hoeveel misverstande daar is en hoe vernederend hulle teenoor Hom is: `Ons het mos gesê jy is ‘n Samaritaan (‘n uiterste vervloeking!) en van die duiwel besete’ (8:48, ook verse 52-53, en 59).

Geleidelik het daar egter ‘n aantal opvallende trekke in hierdie vreemde Jood uit Nasaret na vore gekom. Sy wonderwerke was een van die opvallendste kenmerke van sy optrede. Dit het die skare getrek. Hulle was telkens verbaas. Dit het mense laat vra of Hy nie dalk die groot profeet is wat sou kom nie (Luk 7:16; 9:7-8). Sy wonderwerke was trouens die grootste enkele rede waarom mense na Hom gestroom het, en Petrus kan selfs na sy opstanding nog altyd sy optrede opsom as wonderwerke (Hand 10:38).

Dit het die skare ook opgeval dat Hy met gesag optree (Mat 7:28-29; Mark 1:26-28; Luk 4:36-37), selfs teenoor die natuur (Mark 4:41). Dit is opvallend hoe onmiddellik en onvoorwaardelik mense reageer as Hy hulle as dissipels roep (Mark 1:16-20). Terwyl ‘n mens die indruk kry dat hulle Hom vir die eerste keer ontmoet, kom hulle sonder meer agter Hom aan, terwyl dit ‘n radikale besluit was wat beteken het dat hulle afstand moes doen van alles wat vir hulle belangrik was (Mark 1:16-20; Luk 5:11).

Wat ook opvallend is, is dat niemand Hom kon plaas nie, dat niemand duidelikheid oor Hom gehad het nie, selfs nie Johannes die Doper wat Hom deur sy doop geïdentifiseer het, of sy eie dissipels nie (Luk 7:18; Mark 6:51-52; 9:10, 32; Mat 16:21-23). Die een rede is waarskynlik dat Jesus Hom met niemand geïdentifiseer het nie. Alle bestaande groepe het uiteindelik teen Hom saamgespan. Al het Hy nie opvallend anders gelyk nie, was Hy ten diepste só anders dat Hy Hom nêrens regtig tuisgevoel het nie. Trouens Hy het juis almal voor die eis gestel om Hom te aanvaar, óf deur God verwerp te word (Mat 10:32-33: Luk 11:30; Joh 5:23-24). Hy het dus eenvoudig ‘n nuwe identiteit gehad en ‘n nuwe groep gevorm, waarby ‘n mens óf aangesluit het óf verlore gegaan het.

Nog ‘n kenmerk van sy lewe is die feit dat Hy vir ander geleef het, nie vir Homself nie. Sy lewe is die sterkste getuienis dat die gebod dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself, nie ‘n gebod is dat jy ook jouself moet liefhê nie (39.5). Hy het Homself vir ander gegee. Hy het nie sy eie lewe probeer behou nie maar dit vir die massa as losprys geoffer (Mark 10:45). As die insidente uit die Evangelies verwyder sou word waarin Jesus op ander gerig is en terwille van ander optree, sal min oorbly.

Maar dit is nog te algemeen. Hy het meer gedoen as om net in die algemeen vir ander om te gee. Trouens Hy was juis nie so besonder behulpsaam vir mense wat weer iets vir Hom kon terugdoen nie! Dié in gesagsposisies het juis van Hom die skerpste teregwysings gekry, só erg dat Hy by hulle in onguns geraak het en dat hulle later selfs aktief beplan het om Hom uit die weg te ruim. En dit alles nie omdat Hy nie vir hulle omgegee het nie, maar omdat Hy hulle in hul werklike nood wou help, omdat Hy hulle wou skok en tot bekering wou roep (Mat 23! Joh 11:53).

Daarom was die opvallendste kenmerk van Jesus se lewe waarskynlik dat Hy volkome `na onder’ geleef het, nie vir ander in die algemeen nie (dit ook!), maar vir die wat onder was, vir die mense in nood, dat Hy na ander se belange omgesien het, en nie na sy eie nie. Dit was sonder meer duidelik dat Hy ‘n menslike mens was. Hy kon die skare jammer kry (Mat 9:36; 14:14), Hy het moeë mense dringend uitgenooi om by Hom te kom rus (Mat 28-30), Hy noem dié wat honger en dors ly, die vreemdelinge, die armes en siekes, die gevangenes sy broers (Mat 25:34-40). Hy rig sy aandag op tollenaars, sondaars, straatvroue, siekes, melaatses, uitgeworpenes. Die godsdienstige leiers het dit skokkend gevind dat die mense wat om Hom saamdrom, nie die regverdiges is nie, nie dié wat die wet ernstig neem nie, maar `die tollenaars en die sondaars het die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister’ (Luk 15:1). Jesus gee vir die wat nie het om terug te gee nie, Hy kom die siekes help, nie dié wat nie ‘n dokter nodig het nie (Mat 9:9-13). Jesus gee sonder om terug te verwag, Hy genees selfs sonder om te vra of die persoon in Hom glo.

Dit is trouens ‘n groot misverstand dat Jesus se genesings eintlik ten doel gehad het om mense nader te trek om die `eintlike,’ `geestelike’ genesing te ontvang. Daar is geen konsekwente patroon in Jesus se genesings nie. Soms is mense se geloof ter sprake, óf voor hul genesing óf daarna, maar meer dikwels is daar geen besondere vermelding van hulle geloof nie. Waarom? Omdat Jesus se genesings self deel van die evangelie is en nie net ‘n trekpleister om mense by die `geestelike’ genesing uit te kry nie. Hy het die mense liefgehad, nie net iets van hulle (soos hulle `siele’ nie). Die koninkryk van God wat Hy kom herstel het, was die heerskappy van God oor die skepping, oor die mens se totale lewe. Daarom is die mens vir Hom ‘n eenheid, en netso ook die heil. Hy verlos mense (nie net ‘n deel van die mens nie) van die mag van Satan deur hulle te genees, te vergewe en van die mag van die sonde te verlos of vry te maak.

Jesus se diens aan mense van wie Hy niks kan terugverwag nie, is so merkwaardig dat dit Hom onvergelyklik maak. Dit is moontlik die diepste rede waarom die godsdienstige leiers op sy kruisiging aangedring het: hulle moes Hom ten alle koste uit die weg ruim, en dit met die vernederendste dood denkbaar, om hulle selfbeeld te probeer red. Jesus was onuitstaanbaar vir iemand wat hom of haar nie wou bekeer en onwaardiges wou dien nie. Mense wat sleg was, sou dit nog met Hom kon uithou, maar iemand wat goed wou wees – soos inderdaad die Fariseërs en ander godsdienstige leiers – kon onmoontlik iemand soos Jesus hanteer. Omdat hulle hulle nie wou bekeer nie moes hulle met Hom kompeteer.

Hierdie uniekheid in Jesus se lewe het die ruimte geskep vir sy dissipels en dié wat in Hom geglo het, om Hom as dié Een te herken wat sou kom, as sonder meer dié vervulling van die verwagting in die Ou Testament, soveel so dat dit uiteindelik nie gegaan het om bepaalde beloftes wat in Jesus vervul is nie, maar om die totale beloftekompleks van die Ou Testament. Daarom kan die evangeliste omtrent enige belofte waarop hulle in die OT afkom, in Jesus in vervulling sien gaan. Trouens Matteus kies sommer ‘n historiese uitspraak wat nooit ‘n belofte was nie, en maak daarvan ‘n belofte wat in Jesus se `uittog’ uit Egipte vervul word (2:15).

Die uniekheid van Jesus se lewe het dus uit sy lewe self na vore gekom, en nie deur hoë uitsprake oor Hom waardeur sy volgelinge aan Hom aansien moes gee nie. Sy lewe het sy opstanding opgeroep. Sy lewe was so uniek dat God nie anders kon as om hierdie Jood van Nasaret op te wek en daardeur sy seël op sy lewe te plaas nie (Hand 2:36; Rom 1:4). Trouens Jesus se opstanding het net die unieke verhouding bevestig wat daar alreeds voor sy opstanding tussen Hom en sy Vader bestaan het.

Dit is presies wat ons as die laaste unieke trek in Jesus se lewe wil behandel: sy verhouding met God wat Hy sy Vader noem. Die begrip `Vader’ word selde in die Ou Testament vir God gebruik, nooit as aanspreekvorm nie, en net ‘n paar keer om sy verhouding met Israel uit te druk (Jes 63:16; 64:8). Daarteenoor noem Jesus God meer as 40 keer Vader in Matteus, en meer as 50 keer in Johannes. Dit dui op ‘n unieke verhouding met God, veral ook omdat Jesus in sy diepste nood die liefdesvorm gebruik (Abba, Mark 14:36). Hy verkeer dikwels met sy Vader in gebed (Mark 6:45; Luk 6:12; 9:28ev), en wend Hom juis in groot krisisse in gebed tot Hom (Joh 11:41ev; 17; Mark 14:32ev).

Sy lewe word volkome bepaal deur dit wat Hy van sy Vader glo. Hy word gemotiveer deur die bewussyn dat sy Vader altyd by Hom is, en sy lewe bestaan net in die uitvoering van sy Vader se opdragte (Joh 8:28-29). Die verhouding tussen Hom en sy Vader is so innig dat dit vir die godsdienstige leiers ‘n groot aanstoot word. Hulle is veel meer bewus van die afstand wat daar in die Ou Testament tussen God en die volk is, selfs tussen God en die koning, profete en priesters. Daarteenoor dek Jesus sy optrede deurentyd met die gesag van sy Vader, en verklaar selfs dat Hy en die Vader een is en dat Hy in die Vader is en die Vader in Hom – uitsprake wat so aanstootlik in die ore van die leiers klink dat hulle Hom telkens wil stenig. Hulle sien dit as godslastering `omdat jy, wat ‘n gewone mens is, jou as God voordoen’ (Joh 10:33, vgl vv 29-39).

Hierdie unieke verhouding tussen Jesus en God as sy Vader is Johannes se weergawe van die koms van die koninkryk in die Sinoptiese Evangelies. Die koms van die koninkryk word dikwels beskou as die kern van Jesus se boodskap. Wat egter in hierdie verband belangrik is, is die feit dat Jesus nie net aankondig dat die koninkryk (d.i. die heerskappy) van God op hande is nie, maar dat Hy Homself met die koninkryk identifiseer en verklaar dat Hy die koninkryk deur sy wonderwerke laat aanbreek (Luk 11:20-22; 17:21). Origenes het gesê Jesus was self die koninkryk, dit beteken Hy was die Koning wat God se heerskappy sou kom hervestig. Dit is eenvoudig ‘n ander manier as Johannes om sy vereenselwiging met God te verwoord.

Jesus moes dus uiteindelik gekruisig word. Sy uitsprake was te uitdagend en verregaande. Trouens die keuse was duidelik: as Hy nie vernietig word nie, sal dit impliseer dat die leiers sy godslastering duld, wat hulleself aan godslastering skuldig sou maak, en daarvoor het hulle hul verhouding met God te ernstig opgeneem. ‘n Mens moet dus die moontlikheid ooplaat dat ten minste sommige van die leiers Jesus se kruisiging uit diep godsdienstige (Ou Testamentiese!) motiewe gesteun het. En selfs vir die dissipels het dinge eers ná die opstanding begin duidelik word.

‘n Mens moet hierdie perspektief van onder op Jesus se optrede baie ernstig neem. Dit gee ‘n veel gebalanseerder insig in die werklike dilemma wat die buitengewone optrede en uitsprake van hierdie Jood uit die onderlae van die volk geskep het. Daar was net een van twee moontlikhede: óf Hy was reg (wat die leiers nie ernstig oorweeg het nie, maar Goddank die dissipels wel), óf Hy kon nie geduld word nie – terwille van die eer van God!

Daar is ook vandag geen objektiewe, onbetrokke houding teenoor Jesus moontlik nie. Jy kies óf vir Hom, wat radikale implikasies vir jou hele lewe het, óf jy is teen Hom, al bly jy net passief en interpreteer nie regtig jou optrede in so ‘n ernstige lig nie (Luk 11:23).

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Jesus Christus: Aardse optrede (5)

Geloofsvrae: Jesus Christus: Aardse optrede (5) – Adrio König

Selflose diens

‘n Ander aangrypende faset van Jesus se aardse optrede is sy nederige diens.

Die eis van selflose diens wat Jesus aan sy volgelinge stel, is baie hoog. Daar is ‘n sin waarin Hy byna deurgaans die OT radikaliseer. Dele van die bergrede is goeie voorbeelde. Hy eis dat ons getrouheid aan die wet meer inhou as dié van die Fariseërs. Dit beteken dat ons nie net die agste gebod oortree as ons letterlik iemand vermoor nie. Ons kan iemand met ons oë of met ons woorde vermoor. Ons oortree nie net die sewende gebod deur fisiese onsedelikheid nie, maar deur met ons oë en in ons gedagtes onrein te wees. In plaas van die OT se beginsel van ‘n oog vir ‘n oog, vra Jesus dat ons ook die ander wang sal draai. In plaas van een kilometer vernederende diens, vra Hy twee. In plaas van om net jou `naaste’ (wat in die OT jou volksgenoot of geloofsgenoot beteken het) lief te hê, vra Hy dat ons ook ons vyande moet liefhê (Mat 5:17-48).

Dit is baie gevra! Is dit nie ‘n bietjie hoog opgegee nie? Weet Hy wat dit kos?

As Hy dit nie self gedoen het nie, kon ons sulke vrae gevra het. Maar omdat Hy dit alles eers self gedoen het, en wel op ‘n baie radikaler manier as wat ons ooit kan hoop om dit te doen, het Hy ons alle reg ontneem om sulke vrae te vra. Ons het ook nie die reg om (in nederigheid!) te bely dat ons nie uit onsself daartoe in staat is nie, omdat Hy ons ou sondige lewe deur die doop van ons weggeneem het (79.2), en ons deel gegee het aan sy nuwe lewe sodat Hy nou in en deur ons leef as ons op Hom vertrou (Gal 2:19ev).

Selflose liefdesdiens sien ons in die lewe van Jesus Christus. Hy wat as die Here volkome aanspraak op ons diens kon maak, het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien, en dan nie deur hier en daar te help nie, maar deur sy lewe te gee as ‘n losprys vir die wat dit nie verdien of werd is nie (Mark 10:45).

Dit is dan ook onvanpas om Jesus se gebod van naasteliefde uit te lê asof dit twee gebooie is (39.5). Jy moet jou naaste liefhê soos jouself beteken nie jy moet jouself liefhê en dan jou naaste ook só liefhê nie. Dít leer ons nie uit Jesus se voorbeeld nie. Daarom behoort Fil 2:4 ook nie te lees nie: `Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.’ In die lewe van Jesus, wat ook hier as voorbeeld aan ons voorgehou word (Fil 2:5ev), sien ons iets anders, iets veel radikaler. Hy het nie eers Homself lief en dan ook ander nie, Hy word nie eers self bedien en dan bedien Hy ook ander nie, Hy dink nie maar net naas sy eie belange darem ook aan ander s’n nie.

Inteendeel. Hy het nie Homself nie, maar ander lief; Hy kom nie om gedien te word nie, maar om self te dien; Hy dink nie aan sy eie belange nie, maar juis aan die van ander. En hierin volg Paulus Hom na: `Ek soek nie my eie belange nie maar dié van ander …’ en vervolg uitdruklik: `Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg’ (1Kor 10:33ev).

Jesus se wonderwerke en sy nederige diens is twee van die belangrikste fasette van sy aardse optrede. In sy wonderwerke tree Hy met mag op teen die Bose, en in sy diens tree Hy met liefde op onder die mense in nood. Dit herinner ons aan God wat in die OT met mag teen sy vyande optree maar sy volk met oorredende liefde probeer wen (10.3, 11 en 16).

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Jesus Christus: Aardse Optrede (4)

Geloofsvrae: Jesus Christus: Aardse Optrede (4) – Adrio König

Die duiwel en die bose magte

Die apokaliptiese (`bonatuurlike’) agtergrond van Jesus se prediking en optrede maak ook vir ons duidelik waarom die duiwel in die NT in ‘n nuwe gestalte optree. Ons vergeet soms dat daar tussen die OT en die NT ‘n baie duidelike ontwikkeling was in die siening van die duiwel.

In ons poging om die vreeslike ellende op aarde te probeer hanteer, maak baie van ons graag gebruik van die begrip `toelating’. Die Here laat die duiwel toe om sekere vreeslike dinge op aarde te doen. Die vreeslike dinge is dan die duiwel se skuld, maar die Here `bly in beheer.’ Die Bybelse voorbeeld wat dan skynbaar soos ‘n handskoen pas, is Job. Die Here laat die Satan toe om Job te teister, maar net tot op ‘n sekere punt (Job 1:12; 2:6).

Maar ons besef nie dat dié voorbeeld glad nie meer in die tyd van Jesus toepaslik is nie. Die apokaliptiek sien die Satan en sy bose magte in heeltemal ‘n ander lig. In die OT is die Satan ‘n redelik onskuldige figuur wat maar ‘n paar keer voorkom (Job 1-2; 1 Kron 21:1; Sag 3:1ev). Hy sou met reg die openbare aanklaer genoem kon word. Hy hou die mense op aarde dop, en as hy iets verkeerds vermoed, gaan vertel hy dit vir die Here. Hulle bespreek dan die saak, neem ‘n besluit, en Satan kom voer dit uit (Job 1 en 2). Satan is dan ook ‘n gerespekteerde figuur as een van `die seuns van God’ of hemelwesens.

Daar is ‘n hemelsbreë verskil tussen hierdie figuur en die duiwel en die bose magte wat die lewens van mense vernietig in die tyd van Jesus. Stel jou ‘n oomblik voor dat Jesus eers met die bose magte beraadslaag oor die lewe van die besetene van Gerasa!? Inteendeel! Hier het ons ‘n absolute botsing van twee magte wat radikaal teenoor mekaar staan, ‘n nuwe situasie wat ná die ballingskap ontwikkel het. Daarom kan daar ná Jesus nie meer sprake wees van Job se situasie van onderhandeling tussen God en die duiwel of van God wat die duiwel toelaat nie. Dit sou net so goed wees as om op grond van Eks 4:24-26 vandag nog van Christene te eis om hulle te laat besny.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König