Brassery

Brassery – Francois Malan

Wilna vra:

Hoe oorkom n mens brassery?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die HAT beskryf brassery as ‘oordadige etery en drinkery’. Nou weet ek nie of Wilna se probleem slegs die eet is, en of dit drinkery ook insluit nie. In die Bybel word die twee ook dikwels saam genoem:

In Deuteronomium 21:20 bring moedelose ouers hulle opstandige seun na die leiers van die stad en sê hy is boonop ‘n vraat en ‘n suiplap. In die ou bedeling is aanbeveel dat hy doodgemaak moet word.

Spreuke 23:20-21 word jongmense gewaarsku om hulle nie op te hou met suiplappe en vrate nie, want die suiplap en die vraat word arm en dronkenskap laat jou met vodde loop.

Toe Jesus op die aarde was, het Hy nie soos Johannes die Doper gevas en Hom in die woestyn afgesonder nie, maar tussen die mense gelewe en hulle feeste bygewoon. Toe het die mense Hom valslik beskuldig dat Hy ‘n vraat en ‘n wynsuiper is , maar ook dat Hy ‘n vriend van tollenaars en sondaars is (Mat. 11:19 Luk. 7:34). Die mense wou nie in Hom glo nie, daarom was Johannes vir hulle te heilig en Jesus nie heilig genoeg nie. Soos die mense wysheid verwerp, so verwerp hulle vir Jesus, maar God se dade is reg en goed, en dit sal uiteindelik bewys dat Hy reg is. Jesus word hier God genoem.

In Luk 21:34 waarsku Jesus sy volgelinge: ‘wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie’. Onmatige etery en drinkery is ook ‘n manier om jou sorge te verdoof en te vergeet. Maar daarmee saam word jou gees afgestomp en oorval die wederkoms van Christus jou onverwags, en is jy nie gereed nie om voor die Seun van die mens te verskyn nie. Jesus se raad is dat ons waaksaam moet wees en altyddeur bid dat ons van God krag ontvang om behoue daar deur te kom (21:36).

Daarom is die antwoord op jou vraag dat ons waaksaam moet wees. Dit beteken dat ons voortdurend op ons self sal let as die versoeking kom om te veel te eet of te drink, en dat ons nee sê vir die versoeking. En dat ons voortdurend moet bid. Om ons te help het God, die Heilige Gees, self in ons kom woon om ons die krag te gee om nee te sê (Rom.8:9-11). Hy is orals by ons en ons kan Hom elke oomblik vra om ons sterk te maak om nie aan versoekings toe te gee nie.

In Galasiërs 5:21 sê Paulus dat dronkenskap en uitspattigheid die werke is van die sondige natuur. Daarteenoor is die vrug van die Heilige Gees se inwoning in ons: liefde, vreugde, vrede, geduld vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (5:22-23).

In 1 Petrus 4:3,5 sê Petrus vir die gelowiges: toe julle nog heidene was, was julle lewe beheers deur heidense begeertes, o.a. swelg- en drinkpartye, waarvoor julle rekenskap sal moet gee voor die Here wat die lewendes en die dooies oordeel. Daarom moet die gelowiges hulle self beheer en nugter wees, sodat hulle kan bid (4:7).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Ek is …

Ek is … – Francois Malan

Marie vra:

Hoeveel keer en waar in die Bybel kom die “EK IS en EK IS WIE EK IS” woorde/frase voor?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Die vraag is nie duidelik nie. Verwys EK IS na alle kere wat ‘ek is’ gebruik word? Dan is daar ongeveer 780 maal ‘ek is’ in die Bybel. Indien dit spesifiek gaan oor die kere wat God sê: Ek is bv. Ek is die Here (jou God) dan 36 maal in Levitikus, 9x in Num, ens. deur die Bybel.

Nadat Moses vir die God van sy voorvaders Abraham en Isak en Jakob wat met hom in die brandende braambos gepraat het om sy Naam gevra het, het Hy in Eksodus 3:14 geantwoord: ‘Ek is wat Ek is’ (Hebreeus ehejeh esher ehejeh – die eerste persoon vorm van die werkwoord hajah om te wees) – wat altyd/ewig is, voortgaande onvoltooide aksie. Vgl. Openbaring 1:4 die Een wat was, en wat is, en wat kom (ook in 1:8; 11:17; 16:5). Sê vir die Israeliete ‘Ek is’ (ehejeh) het jou na hulle gestuur. In verse 12 en 13 word die werkwoord ehejeh viermaal gebruik. Met die herhalings beklemtoon die skrywer hoe die Hebreeuse naam Jahweh ontstaan het, wat die Griekse vertaling as kurios Here weergegee het, op grond van die Hebreeuse woord adonai Here – die Jode was bang om die naam van die Here ydellik te gebruik, en daarom het die Masorete later die klinkers van die woord adonai onder die medeklinkers jhwh geplaas. Elke keer as hulle die naam jhwh gelees het, het hulle dit adonai uitgespreek (so het die foutiewe naam Yehovah ontstaan). As jy nou regtig wil weet hoeveel maal EK IS vir God gebruik word in die Bybel, moet jy al die kere wat die naam ‘Here’ gebruik word by tel, bv. as Hy sê ‘Ek is die Here jou God.’ Die naam ‘Ek is’ wil sê dat die Here is teenwoordig. Vgl. ‘n letterlike vertaling van Jesaja 52:6: Voorwaar, op daardie dag sal my volk my naam uit ondervinding ken, voorwaar Ek is Hy, die Een wat sê: Hier is Ek. Vgl. ook Jes. 41:4; 43:10,11; 46:4; ens. Reeds in Eks.3:12 het die Here gesê ehejeh Ek sal wees met jou mond. Vergelyk ook Eks.33:19 waar die Here aan Moses verskyn het.

In Johannes sê Jesus: (in Grieks ego eimi) Ek is die brood van die lewe 6:35; Ek is die lig vir die wêreld 8:12; Ek is die deur vir die skape 10:7; Ek is die goeie herder 10:10; Ek is die opstanding en die lewe 11:25; Ek is die weg en die waarheid en die lewe 14:6; Ek is die ware wynstok 15:1; ook net ‘Ek is’ (in Grieks ego eimi) in 4:26; 6:20; in Afrikaans vertaal as ‘ek is wat ek is’ in 8:24,28; 13:19; en as ‘dit is ek’ in 18:5,6,8. Daarmee vereenselwig Jesus hom met Yahweh/die Here. Vgl. ook Mat.14:27; 22:32; 24:5; 26:22,25; Mark 6:50; 13:6; 14:62 waar ego eimi gebruik word.

Maar as jy net die Afrikaanse vertaling se EK IS en EK IS WAT EK IS wil tel, sal jy dit net in Eks.3:14 en die tekse in Johannes kry.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




My gedagtes is vol van ander dinge

My gedagtes is vol van ander dinge – Francois Milan

Willie vra:

Ek verwys na Rom 8 vers 5. Die mense wat deur hulle sondige natuur beheers word , hulle gedagtes word oorheers deur sondige dinge .Maar die wat deur die Gees beheers word – hulle gedagtes is vol van die dinge wat die Gees bly maak . Waarmee ek worstel is die feit dat my gedagtes baie maal juis nie vol van die dinge is wat die Gees sal bly maak nie. Soms as ek huis toe ry dan veg ek gevegte in my kop ( en deel sommer ‘n paar klappe ook uit ) – dit maak ‘n mens ongelukkig . Hoe hanteer ek dit – hoe kom ek by n punt uit waar my gedagtewêreld wel soos Rom 8 lyk? Die is iets wat ek asseblief mooi wil verstaan, want dit raak my lewenskwaliteit.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Paulus het ook dieselfde moeilikheid. In Romeine 7:15-24 bely hy dat hy self nie begryp wat hy doen nie, want, wat hy wil doen, dit doen hy nie, maar wat hy haat, juis dit doen hy (v15). Dan verduidelik hy dat ons gelowiges nog steeds deel is van die ou bedeling waarin ons vir onsself lewe en dood gaan, al is ons reeds deel van die nuwe bedeling wat Jesus vir ons gebring het met sy dood vir ons sonde en sy opstanding wat die dood en sonde oorwin het. Daarom kan ons nie langer tevrede wees as ons toegee aan ons selfsugtige begeertes nie (vv17-23). Op sy vraag wie hom sal verlos van hierdie doodsbestaan (v24), antwoord hy : Aan God die dank! Hy doen dit deur Christus Jesus ons Here (v25). Met sy gees dien hy die Here, maar in sy doen en late bly hy vir homself lewe deur sy sondige natuur te gehoorsaam.

En dan wys hy hoe God hom deur Jesus Christus verlos in hoofstuk 8. Dit gebeur deurdat die Heilige Gees permanent in my kom woon. Hy het in my gewerk sodat ek begin glo het in Christus se verlossingswerk aan die kruis. Die Gees verbind my aan Christus, sodat Christus in my kom bly deur sy Gees (vv9,10), sodat ek al meer soos Jesus sal word (vgl. 1 Kor 1:18).

Omdat Christus die Seun van God is, en ek aan Hom verbind is, leer die Heilige Gees my ook om God my Vader te noem, soos Jesus (vgl. Abba Vader in Romeine 8:15 met Markus 14:36), God het my aangeneem as sy kind wat Hy liefhet en Hy sorg vir my (vgl. ook Romeine 8:31-39). Al is ek nog steeds ‘n sondaar, is die Heilige Gees, wat in my woon, sterker as my sondige natuur, en kan ek met sy krag nee sê vir my selfsugtige begeertes en gedagtes. Maar dit bly ‘n stryd totdat ek die dag doodgaan. Dan sal my sondige natuur nie meer krag hê oor my nie, en sal ek ten volle aan Jesus se opstanding verbind wees om saam met Christus ewig te lewe by God. Daarvan oortuig die Heilige Gees my, en daarvan is Hy die waarborg dat dit sal gebeur. Nou het ons nog deel aan Christus se lyding, maar dan sal ons deel hê aan sy heerlikheid (v17). Die lyding wat ons nou moet verduur, weeg nie op teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (v18). Oor Christus se lyding sê Hebreërs 4:15 dat ons Hoëpriester medelye het met ons swakhede omdat Hy immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp was, maar Hy het nie gesondig nie. En Hebr. 5:8 sê: Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is (vgl. sy stryd in Getsemane, Matteus 26:39-44).

God het die hele skepping aan verydeling onderwerp, alles gaan dood saam met die mens (Genesis 3:17-19). Daarom sug die hele skepping en sien met gespanne verwagting uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Wanneer God ons van die verganklikheid bevry sal die skepping daarmee saam van die verganklikheid bevry word. Maar nou sug ons nog van frustrasie omdat ons lewe in die Gees nog nie ten volle tot volle oorwinning kan kom in ons tydelike bestaan nie. Ons gesug in ons stryd teen die sonde is egter ‘n teken van die Gees se teenwoordigheid. Hy skep in ons die hoop op ‘n beter lewe. Die Gees help ons in al ons swakhede, juis in ons verbondenheid aan ons sondige natuur. In ons hulpeloosheid voor God is dit die Gees wat vir ons intree by God (8:19-27). Juis wanneer ons erken dat ons geheel en al van God afhanklik is om ons deur ons versoekings te dra, kan God sy wil met ons bereik. Hy sal alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, want Hy het ons geroep om sy kinders te wees (8:28).

In die tussentyd lewe ons in die daaglikse stryd teen ons self en ons sondige natuur. Maar ons het die versekering van Romeine 8:1 ‘daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.’ En 8:31-39 God is vír ons, en niks kan ons skei van sy liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Na die dood?

Na die dood – Francois Malan

Hilda vra:

Waar gaan jy heen as jy sterf? Paradys of wag almal in die graf tot Jesus terugkeer?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Vir die misdadiger aan die kruis wat vir Jesus gevra het om aan hom te dink wanneer Hy in sy koninkryk kom, het Jesus gesê: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees (Luk.23:42-43). In Lukas 16:19-31 vertel Jesus van die arm Lasarus wat deur die engele weggedra is na die ereplek langs Abraham, en die ryk man wat na sy begrafnis in die doderyk in pyn verkeer en kla dat hy verskriklik ly in hierdie vuur. Die gelykenis wil eintlik net sê dat daar ‘n skeiding sal wees tussen die geluksaliges en dié wat in pyniging tereg kom. Hoe dit daar sal uitsien, kan nie hieruit afgelei word nie. Die paradys en die boesem van Abraham is voorstellings van gelukkige gemeensaamheid in die hemel, soos die tuin van Eden waar die mense met God gemeenskap gehad het voor die sondeval, en ‘n herinnering aan God se genadeverbond met Abraham.


Die Joodse verwagting oor die lewe na die dood, waarby Jesus hier aansluit, het ‘n wye verskeidenheid van gedagtes daaroor gehad. Aan die begin is gedink dat die dooies in die doderyk slaap tot die algemene opstanding en oordeel. Langs dié verwagting het ‘n ander ontwikkel dat die siele van die regverdiges na hulle sterwe dadelik hemel toe gaan. Dit word deur Jesus bevestig met ‘vandag’ en ‘met My’. Die ‘ereplek langs Abraham’ (letterlik: aan die boesem van Abraham) verwys na die sitplek aan die feesmaal langs Abraham, soos in Johannes 13:23 gebruik, vgl. Matteus 8:11).

In die heel eerste brief wat ons van Paulus het, 1 Tessalonisense 4:13-17 praat hy van die mense wat in Christus geglo het en gesterf het, dat hulle sal opstaan/opgewek word met die wederkoms van Christus (vgl. 1 Kor 15:52). In 2 Kor. 5:1-10 skets Paulus tog ‘n ander prentjie. Wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word = doodgaan, dan het ons reeds ‘n vaste gebou in die hemel en dat God ons vir hierdie oorgang voorberei het. Ons wil graag daar gaan woon, maar of ons nou hier woon of daar, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil, want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn oor hoe ons op aarde gelewe het. En in die laaste brief wat Paulus geskryf het voor sy eerste verhoor in Rome, verwag hy die ergste van die aanstaande verhoor voor die keiser op wie hy hom beroep het. Hy skryf aan die Filippense 1:21,23,24 ‘om te lewe is vir my Christus, en om te sterwe is vir my wins…Ek is in ‘n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe.’

Om die twee gedagtes wat in die Skrif te vind is te akkommodeer, van dadelik na die Paradys gaan of eers met die opstanding, antwoord die Heidelbergse Kategismus vraag 57: Die troos van die opstanding van die vlees is dat nie alleen my siel ná hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie (Lk 16:22; 23:43; Fil.1:21,23), maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (Job 19:25,26; 1 Joh 3:2; Fil 3:21).

Maar hoe dit presies gaan werk, bly vir ons ‘n verrassing. Dit weet ons vir seker, as ons as gelowiges sterwe, is ons by die Here – hoe en waar, weet ons nie. Paulus sê ons kyk nog soos in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken (1 Kor.13:12)

 

Skrywer: Prof Francois Malan