Geloofsvrae: Die hel – Adrio K
Die hel
Die hel as ‘n plek waar mense (dalk die meerderheid?) vir ewig die allerwreedste pyniging sal ly, is sonder meer die grootste probleem in die Christelike geloof. Dit gee geweldig aanstoot aan die moderne Westerse lewensgevoel wat ná die Verligting in die 18e eeu ontwikkel het en wat ‘n afsku het in wrede strawwe, ‘n lewensgevoel wat tot die vrystelling van slawe gelei het, en wat sovêr moontlik pyn voorkom en verlig.
‘n Mens sou kon sê dat die meeste kerke en teoloë wat as `liberaal’ bestempel word – wat ook al daarmee bedoel word – nie meer die bestaan van ‘n ewige verderf aanvaar nie. Dit is egter te min gesê. Die hel het eenvoudig uit die meeste Christene se denkwêreld verdwyn. Selfs kerke wat volkome behoudend is, preek omtrent glad nie meer oor die hel nie, en die insidentele verwysings daarna het min of geen betekenis nie omdat die heersende vorme van spiritualiteit nie meer erns maak daarmee nie.
Daar is redes waarom die leer oor die hel prakties uit die lewe van die grootste deel van die Christendom verdwyn het. Allereers is dit inderdaad ‘n skokkende gedagte dat mense vir ewig in die onmenslikste pyn en smart gemartel sal word. Verder het daar gedurende die 20e eeu ‘n verskuiwing gekom in ons siening van God. Hy is veel minder die heilige God wat sy eer verdedig met sy wraak en sy oordeel, en veel meer die God van liefde wat in Christus sy ongelooflike genade aan ‘n verlore wêreld bewys. Die oproep tot bekering word dan ook veel meer gemotiveer deur die liefde van God as deur sy oordeel en die ewige verderf. Weens hierdie verskuiwing in ons siening van God het dit ook veel moeiliker geword om jouself voor te stel dat sy eer herstel sal word deur die ewige, afgryslike marteling van ontelbare mense.
Saam met hierdie probleme is daar ook perspektiewe in die Bybel wat mense beweeg om nie die bestaan van die hel te aanvaar nie. Daar is ‘n sterk nadruk op Christus se oorwinning oor alle magte. Daar is liedere in die NT wat juig oor die feit dat Christus alles in die hemel en op aarde met God versoen het, dat die genade dieper as die sonde gedring het sodat almal wat in Adam onder die oordeel van God gekom het, in Christus vrygespreek word, dat elke tong sal bely (nie `erken’ soos die NAV nie) dat Jesus die Here is (1 Kor 15:25ev; Fil 2:10ev; Kol 1:19ev; Rom 5:17-19).
Hoe kon Christene in die verlede so maklik aanvaar dat God en sy kinders tot in alle ewigheid sy heerlikheid sal geniet terwyl die massa mense deur smart verteer word? Presies wat sou die verskil wees met die slawehandelaar wat op die dek huisgodsdiens vir die bemanning gehou het terwyl die slawe krepeer van ellende onder in die skip?
Die huiwering oor die hel hoef nie noodwendig deel te wees van ‘n slegte teologie nie. Dit kan ‘n teken wees van ‘n goeie insig in die wese van God en belangrike tradisies in die Bybel.
As ‘n mens dan nogtans aanvaar dat daar ‘n hel is en dat die pyniging in die hel ewig sal wees, is dit eenvoudig omdat hierdie leer oor die verderf in die laaste twee eeue voor Christus sterk na vore gekom het in die Jodedom, en daarna ‘n vaste plek in die leer van Jesus en die apostels gekry het (o.a. Mat 25:30,41; Mk 9:43ev; 2 Tes 1:9; Op 20:14ev). In ‘n sekere sin kan ‘n mens hierdie leer net aanvaar soos jy die bestaan van die sonde en die voortbestaan van die sonde in die kinders van God se lewe aanvaar. Geeneen van hierdie sake pas in die evangelie in nie, maar hulle is wel almal ingesluit in die evangelie. Dit hang saam met die sinloosheid en die onbegryplikheid van die sonde.
En tog is dit goed om van tyd tot tyd oor hierdie vreemde leerstukke na te dink, en die botsing te ervaar met ons moderne menslikheidsgevoel. Nie dat daar iets verkeerd is met hierdie gevoel nie. Ons kan die Here dank dat ons nie so vier of vyf eeue gelede geleef het nie! Maar ons moet ook nie ons menslikheidsgevoel verabsoluteer nie. In ‘n toekomstige nuwe situasie mag dit selfs nodig word om dit aan te pas. Maar dit is goed om op ‘n bepaalde punt uit eerbied vir hulle wat ons voorgegaan het in die geloof, en in tyd nader aan die Here geleef het as ons, teen ons moderne menslikheidsgevoel in, prioriteit aan ‘n faset van die Bybelse boodskap te gee, om te glo selfs al kry ons dit moeilik reg.
In die leer oor sonde, siekte, dood en hel is daar fasette van die Bybelse boodskap wat nie sinvol inpas by die evangelie nie – en dit weens hulle aard. Die Christelike evangelie bied nie ‘n oplossing vir ons probleme met hierdie dinge nie, omdat die Christelike evangelie juis die diepste oorsaak is dat ons hiermee probleme het. Weens die aard van die evangelie kan ons nooit vrede hê met die hel nie. Die evangelie bied ons nie ‘n sinvolle insig nie, ons moderne menslikheidsgevoel bots radikaal daarmee, en ons aanvaar dit net in gehoorsaamheid aan die Skrif en as uiterste konsekwensie van die sinlose sonde.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.
Skrywer: Prof Adrio König