Die Jakobus-brief

Die Jakobus-brief – Francois Malan

Japie vra: 

Ek wil net weet of Jakobus vir die Jode of Christene geskryf is. 83-vertaling sê dit is aan 12 stamme in verstrooiing geskryf. Wie was dit?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Jakobus (om hom te onderskei van ander Jakobusse, is hy deur die vroeë Christene Jakobus die Regverdige genoem), was ‘n broer van Jesus (vgl. Markus 6:3), en die geestelike leier van die gemeente in Jerusalem (Hand.15:13; 21:18; Gal.1:19; 2:12), nadat die apostels so vervolg is dat ook hulle die stad moes verlaat.

Na die vervolging van die Christene in Jerusalem (Hand.8:1,4), het hierdie Joodse gelowiges in Egipte, Samaria, Sirië, Siprus tot in Rome gaan woon en van Jesus vertel volgens sy opdrag (Hand.1:8). Moontlik was die brief aan so ‘n groep gestuur en is na hulle plek as ‘in die verstrooiing’ verwys, ook met die gedagte dat die brief aan groepe verder aan deurgegee moes word (in Hand.15:22-29 word bv. na ‘n soortgelyke omsendbrief aan gemeentes verwys). Die gemeentes het oorspronklik uit gelowige Jode bestaan wat die evangelie verkondig het aan die nie-Jode, en die nie-Jode is ingesluit as deel van die gemeentes. Daarom word die brief aan Joodse en nie-Joodse gelowiges in een gemeente geskryf (vgl. Hand.11:19-26; Gal. 2:11-14).

In die gemeente(s) aan wie Jakobus skryf was daar blykbaar ‘n minderheid wat na ‘n suiwer godsdiens soek (1:24; 4:4). ‘n Aantal leraars, wat onderling verskil, belemmer egter hierdie strewe (3:14). Party pas aan by die sedelike en ekonomiese gebruike van die stad waar hulle woon. Ander wil die eie aard van die gemeente van Christus bewaar (1:2-12). Jakobus identifiseer hierdie konflik en spreek dit aan. Hy sien die gemeente(s), wat verspreid leef in ‘n begeerlike en aggressiewe omgewing (4:4), verloor hulle geduld (1:3; 5:7), en daarmee ook hulle geloof dat God die God oor alle nasies is (1:5,17). Hulle verkeer in spanning (1:20), praat baie, maar doen min (1:23), hulle wil nie meer opvallend wees in hulle omgewing nie (1:27), en stel meer belang in wat persone in hoë posisies van hulle dink as wat geringer mense van hulle dink (2:2-4). Hulle ontwyk hulle verantwoordelikheid vir sosiale geregtigheid (2:13), is bang om te ly (5:10) en vergeet om hulle te bekommer oor mense in nood (1:27; 5:14,19). Die gelowiges wat God en die medemens liefhet, soos Jesus gesê het, en met wysheid daarin volhard, het die belofte dat hulle lewe sinvol en skeppend sal wees.

Jakobus wys dat die lewe in die wêreld ‘n toets is vir ‘n lewende geloof, deur dit te toets aan wat die Woord van God sê (1:19-27). Dit toets jou geloof se reaksie op partydigheid (2:1-13), en hoe die toets goeie werke tot gevolg het (2:14-26). Die toets van jou geloof bring selfbeheersing (3:1-18); dit wys wat jou reaksie is op twis en tweedrag (4:1-12), op selfversekerde beplanning (4:13-17), of jy verkeerd reageer teenoor onreg (5:1-11), of jy selfsugtig gebruik maak van eedswering (5:12), en toets of jy jou toevlug neem tot gebed (5:13-18).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Tiendes – Vraag

Tiendes – Francois Malan

Danie vra: 

Tiendes – wat sê die Bybel? Is my tiende my inkomste of kan ‘n deel van my tiende ook bestaan uit tyd of uitreik of sending of woordverkondiging? Wat van as ek geen inkomste verdien nie – wat is my tiende dan ?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die eerste wat ons van die tiende in die Bybel lees is Gen.14:20, waar Abram ‘n tiende van die goed wat hy teruggekry het aan die priester Melgisedek gegee het, nadat Lot en die mense van Sodom weggevoer was en hy hulle teruggebring het. Daarvan lees ons ook in Hebreërs 7:2,4,5,6,8,9. Daarna lees ons in Gen.28:22 van Jakob, wat sonder iets moes vlug en by Bet-el ‘n tiende aan die Here beloof het van alles wat hy in die toekoms sou kry.

Daarna word die tiende in baie tekse van Levitikus, Numeri, Deuteronomium, 2 Kronieke, Nehemia en Amos voorgeskryf vir Israel. En dan Maleagi 3:8,10 se beloftes van die Here, dat die vensters van die hemel sal oopgaan as ons ons tiendes gee.

In Matteus 23:23 verwyt Jesus die Fariseërs dat hulle o.a. op die gee van tiendes steun, en nie op wat die swaarste weeg van die wet nie, dit wat belangiker vir God is, soos geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. In Matteus 25:34-40 verduidelik Jesus wat Hy van ons verwag.

Paulus se aanwysings oor die gelowiges se bydraes staan o.a. in 2 Kor.8-9. Hy sê bv. ‘die wat karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teësin of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief (9:6-7). Vir die ouderlinge van Efese herinner hy aan die woord van Jesus ‘Om te gee maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang’ (Hand.20:35).

Ons bring nie meer offers wat op ‘n altaar verbrand word soos die Israeliete nie, maar Paulus sê dat ons hele lewe ‘n offer van dankbaarheid aan God moet wees vir sy genade wat Hy aan ons bewys. In alles wat ons doen: huiswerk soos skottelgoed was, by die werk in ons beroep met eerlike harde werk om mense daarmee te dien, en in ons getuienis en gedrag teenoor mense, ook in die huwelik en grootmaak van die kinders wat die Here aan ons toevertrou het, is ons besig om God te dien. Vgl. Romeine 12:1 ‘Gee julleself aan God as lewende en heilige (= aan God gewyde) offers, wat vir Hom aanneemlik is…’

As ek geen inkomste verdien nie – lees Markus 12:41-44 (Luk.21:1,2).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Is liefde belangriker as geloof en liefde?

Is liefde belangriker as geloof en liefde? – Francois Malan

Yolande vra: 

In Korintiërs sê dit liefde is belangriker as geloof en hoop. Beteken dit dis okay om nie te glo nie, solank jy liefde leef? Ek was al by soveel begrafnisse waar die persoon wat dood is goed gepraat word. Dan sê die predikant X se lewe is gekenmerk deur liefde, maar sê niks oor sy/haar verhouding met Jesus nie. Dis vir my hartseer.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

1 Kor.13:13 sê: ‘en nou bly geloof, hoop en liefde, hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.

In hoofstuk 13 het dit eintlik gegaan om die genadegawes wat tydelik is en ophou, teenoor die liefde wat vir altyd bly, en tot in ewigheid. Skielik noem Paulus geloof en hoop saam met die liefde, omdat dit die drie dinge is wat ons geestelike lewe opsom:

Geloof = vertroue op God; dat Hy ons vergewe en ons aanneem as sy kinders vir wie Hy sorg; omdat ons in sy Seun Jesus Christus glo, vertrou op sy offer vir ons sondes en op sy opstanding waardeur ons ook die ewige lewe ontvang. Die geloof is egter ‘n gawe van God, wat die Heilige Gees in ons bewerk.

Hoop = die verwagting van die ewige lewe saam met God, wat Christus vir ons waarborg deur sy Gees wat in ons kom woon het. Die Gees is God se waarborg dat ons sy kinders sal bly deur daagliks sy leiding te volg met die krag wat Hy vir ons gee om te lewe.

Liefde = is die verhouding van die Vader en die Seun en die Gees met mekaar (God is liefde, 1 Joh. 4:7-21). God het in ons kom woon met sy Gees, sodat ons ook kan begin liefhê: vir God en vir mekaar, selfs vir ons vyande (Matt.5:43-48), soos die Vader en die Seun en die Gees mekaar liefhet. Uit ons eenheid met mekaar kan die wêreld sien dat God ons liefhet (Joh.17:20-23).

Die spanning van die geloof wat nog nie sien nie, gaan egter ophou as ons by God kom, want dan sal ons Hom ten volle ken soos Hy ons ten volle ken (1 Kor.13:12).

Ook die spanning van die hoop op wat ons nie sien nie (Hebr.11:1), gaan ophou as ons die ewige erfenis van God ontvang in die hemel.

Maar die liefde bly tot in die ewigheid, as die verhouding tussen die mense van die God van liefde, en tussen God en sy kinders – niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus wat die Here oor ons lewe is nie (Rom.8:39).

As Jesus in Matteus 25:34-40 vertel van die oordeelsdag, sê Hy niks oor die geloof in Hom nie, maar praat Hy oor die persoon wat die erfenis van die ewige lewe ontvang se liefdesdade. Dit is die bewys dat ons in Hom glo en op Hom hoop.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Verwag die Here dat ons altyd vir bedelaars moet gee?

Verwag die Here dat ons altyd vir bedelaars moet gee? – Kobus Kok

Yolande vra: 

Verwag die Here dat ons altyd vir bedelaars iets moet gee? Y

Antwoord:

Dr. Kobus Kok antwoord:

Iemand het eenmaal opgemerk dat indien mens vir bedelaars elke dag iets in die hand stop, jy hulle eintlik help om vasgevang te bly in hulle armoede. Die persoon se argument was dat mens eerder vir ‘n bedelaar ‘n visstok moet gee as om vir die bedelaar net elke dag ‘n nuwe vis te gee. Hierdie persoon is natuurlik reg dat vriendelike Christen gewers eintlik die armoede van die bedelaar in stand hou en die bedelaar nie bemagtig nie. Aan die ander kant het Jesus gesê dat Christene gekenmerk moet word deur die wyse waarop hulle gee. Ek het onlangs ‘n baie interessante boek gelees wat deur die geleerde Rodney Stark geskryf is met die titel “The Rise of Christianity”. In sy navorsing oor die saak het hy die vraag ondersoek na die eksponensiële groei van die Christendom in die eerste vier eeue. Die Christen beweging het met 12 mense begin en teen 315 nC was daar letterlik miljoene mense in die Romeinse Ryk wat Christene was, en het Constantyn, die eerste Romeinse Keiser tot bekering gekom en die Christendom die amptelike religie van die Romeinse Ryk gemaak. Hy het ook in sy navorsing bevind dat die antieke geskrifte dikwels melding maak van die omgee en die liefde wat Christene gewys het teenoor hulle eie mense, maar veral ook na die mense wat nie deel was van hulle eie groepie nie. Ja, die eerste Christene het bekend gestaan vir die wyse waarop hulle vir die heidene omgegee het. In die eerste drie eeue was daar naamlik verskeie epidemies wat die ganse wêreld platgeslaan het. Miljoene mense regoor die Romeinse Ryk het gesterf. Die antieke skrywers vertel hoe mense stede verlaat het en die siekes soos gemors langs die strate gelos het. Baie families het die siekes onder hulle net so onversorg gelos. Ironies genoeg het die Christene dit nie gedoen het nie. Hulle het nie net na hulle eie mense omgesien nie, maar ook na die doodsiek heidene opgesien. Baie het in die proses doodgegaan, maar ander se immuun sisteme het volgens Stark juis versterk en hulle in staat gestel om na die siekes te kyk. Dit het ‘n reuse indruk op die heidene gemaak en baie heidene het in die proses tot bekering gekom.

In Gal 6:10 lees ons dat Paulus sê dat Christene altyd goed moet doen aan mekaar, maar veral ook aan die wat buite die geloofsgemeenskap is. Dit was die hart van Jesus, en moet ook die hart van Christene vandag wees.

Wanneer ons egter vir mense gee uit skuldgevoel, dan mis ons die punt van Christus se boodskap. Dan hou ons die arm persoon in die greep van afhanklikheid en van armoede. Indien ons as Christene gee, moet dit wees op so ‘n wyse dat mense versterk en bemagtig word en dat die evangelie in die proses gedien en verkondig kan word. Dikwels het iemand meer nodig as ‘n geldjie op die straathoek – dalk sal belangstelling en woord van bemoediging of motivering meer waarde dra as die R10 wat jy in die persoon se hand stop. Gebruik jou geestelike oordeel.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok