Vrouedrag in die Kerk

Vrouedrag in die Kerk – Francois Malan

Jacobus vra: 

Ek behoort aan een van die Pinkster Kerke wat baie gekant is dat vroue broeke aantrek en hul hoofde bedek moet word in die eredienste. Kan u asseblief uitbrei en hulp gee op hierdie vraag.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Ek veronderstel dat die kerk se teenkanting teen vroue wat broeke dra, kom uit die lees van Deuteronomium 22:5, en die voorskrif oor die bedekking van hulle hoofde uit 1 Korintiërs 11:5.

Deutr.22:5 vra dat die uiterlike onderskeid tussen geslagte en soorte wat God ingestel het eerbiedig sal word. Dit dra die stempel van die ou wettiese bedeling van Israel.

Die Hebreeuse woord keli wat deur die oorspronklike skrywer van Deuteronomium gebruik is, dui nie net kleredrag aan nie, maar ook wapens vir oorlog en ander gebruiksvoorwerpe vir die plaas en die huis. Die vroueklere simelot wat die mans nie mag dra nie, verwys weer na die vrou se mantel waarmee sy haar toedraai. Dit beteken dat ‘n vrou nie moet probeer om soos ‘n man te lyk of op te tree nie, en die man nie soos ‘n vrou nie.

Die afsku (Hebreeus: to’ebat) van die Here God, waarvan Deutr.22:5 praat, wys dat die uitruiling van mans en vroue se klere ook te doen het met die gebruike wat by die heidense Kanaäniete voorgekom het, en die Here wil nie hê dat Israel deelneem aan die Kanaäniete se feeste en die gebruike wat hulle daar beoefen nie, wat waarskynlik ook met homoseksuele dade gepaard gegaan het.

In 1 Korintiërs 11 verwys Paulus na die gebruike van sy tyd, toe dit vir ‘n vrou ‘n skande was om haar hare af te sny of af te skeer (v6).

Die aanwysings van Paulus oor optrede in die gemeente se samekoms volg op die beginsels wat hy in 1 Kor 10:23-11:1 gestel het – vgl. bv. vers 32: Moenie aanstoot gee nie, nie aan Jode of aan Grieke of aan die gemeente van God nie. Hier was nou ‘n gebruik van die Jode in die gedrang. ‘n Joodse vrou kon destyds in haar huis kaalkop bly, maar as sy uitgaan moes haar kop bedek wees. Vir ‘n getroude vrou om in die openbaar sonder iets om of op haar kop was ‘n ernstige skande. En so het die eerste gemeentes wat met Joodse gelowiges begin het, die gebruik in die kerk gevolg dat vroue se kop bedek was.

In 1 Kor 11:13 vra Paulus die gemeente om self te oordeel of dit betaamlik is (letterlik: of dit gepas is) vir ‘n vrou om sonder iets op haar kop in die erediens tot God te bid. ‘Gepas’ sluit aan by die mode van die tyd, of dit in die algemene gebruik pas. En in v16 verwys hy na die gewoonte in Korinte en in ander gemeentes, na die algemene gebruik. Daarom is Paulus teen die vroue wat hulle vryheid in Christus wat hulle van die wet vrygemaak het, misbruik deur aanstoot te gee aan ander gemeentelede en ander gemeentes.

Die gebruike van ons tyd verskil baie van destyds, en dit is nie meer onvanpas vir ‘n vrou om sonder ‘n hoed op straat of in vergaderings te verskyn nie – ook nie met broeke wat vir vroue gemaak is nie.

Christus het ons vry gemaak van ‘n wettiese lewe, waar ons met goeie werke ons verlossing of God se goedkeuring probeer verkry. Hy het die verhouding van ons sondaars met God kom regmaak deur ons sondes alles op Hom te neem, sodat ons in die verhouding van kinders tot ons Vader kan lewe (Romeine 8:14-17). Dit is alles uit God se genade en liefde vir ons (Galasiërs 5:1). Ons groot vraag vandag is of ons ons vryheid in Christus uitleef in liefde vir God en ons medemens, en nie vir ander ‘n struikelblok is nie (vgl. 1 Kor. 10:23-11:1)..

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Ek is vet

Ek is vet – Francois Malan

Charlene vra:

Ek is opsoek na ‘n versie wat ek vir myself en my 4-jarige dogtertjie kan leer. Hierdie week het ‘n seuntjie by my dogtertjie se crèche, vir haar begin sê sy is vet. Nou sy het lekker pokkel wangetjies en so maar anders is sy nie vet. Baie gesond en stewig. Sy is amper ‘n kop langer as al die ander kindertjies in haar klas. Ons het haar haartjies die naweek ook gesny, en dan is daar ‘n ander dogtertjie wat sê haar haartjies lyk “vieslik”. Nou ek wil vir haar ‘n versie leer wat sy altyd kan onthou, nou en in die toekoms, as mense vir haar sulke goed sê. Dat sy perfek is in God se oë. Veral in vandag se tyd waar daar soveel klem op die uiterlike is. Waar sal ek so mooi versie kan kry en ook in die vertaling wat makliker vir my en haar sal wees om te onthou.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

‘n Paar tekse wat miskien kan help – ek het hulle ‘n bietjie aangepas om makliker te kan sê:

Genesis 1:27 God het my geskep as sy beeld (as beeld van God)

Psalm 8:6 God het die mens/my net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak.

Romeine 8:31 God is vír ons/my, wie kan teen ons/my wees?

Rom 8:39 Niks kan ons/my skei van die liefde van God nie.

1 Kor 6:19:20 My liggaam is ‘n tempel van die Heilige Gees wat in my woon. Ek is gekoop en Jesus het die prys betaal. Ek moet God verheerlik met my liggaam.

Hd 10:28 God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Laat sy Liefde jou Lei: Gee die lig aan

Laat sy Liefde jou Lei: Gee die lig aan – Milanie Vosloo

Gee die lig aan

Dus staan die saak só: Wie suinig saai, sal karig oes; wie ruimskoots saai, sal volop oes. 2 Korintiёrs 9:6

Daar’s tye wanneer dit regtig goed met ons gaan en ons selfs wonder waarom ander so sukkel om met lewensvreugde te leef. Ja, wanneer die heerlike somerson van vreugde-voorpoed ons harte verwarm, vergeet ons dikwels hoe koud en ongenaakbaar die winters van die lewe kan wees. Dis dan maklik om doodluiters die luike van ons harte vir ander toe te maak sodat hul donker nie ons wêreld betrek nie.

Somer-oorvloedtye is goddelike tye wat aan ons gegee word om te geniet. Maar somertye is ook wérkgeleenthede. Wanneer die warm sonskynstrale ons harte verwarm en ons in sy oorvloed-seёn blom, wil ons Vader ook hê dat ons ander se winterharte sal verwarm deur ‘n deel van ons somervreugde uit te deel. Dis dan wanneer Hy sê: Daar moet ‘n balans wees tussen julle huidige oorvloed en julle gebrek. Dan kan julle oorvloed weer vir julle gebrek aangewend word. Op só ‘n manier kom daar ewewig. Soos daar geskryf staan: “Die een met baie, het nie te veel gehad nie; en die een met ‘n bietjie, nie te min nie.”(2 Kor. 8:14-15)

Winston Churchill het gesê: Ons maak ‘n bestaan uit wat ons ontvang, maar ons skep ‘n lewe deur te gee. Besluit om jou hartsvenster van liefde elke dag wawyd oop te maak sodat jy die goddelike genade wat jy ontvang het, ook op ander kan laat skyn.

Vader, wys my waar ek vandag u lig kan wees.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Geloofsvrae: Die dood in die Ou Testament

Geloofsvrae: Die dood in die Ou Testament – Adrio König

Die dood in die Ou Testament

Ons dink meestal aan die dood as ‘n toestand: ‘n mens is dood. Maar die Ou Testament dink aan die dood allereers as ‘n plek (as ‘n mens doodgaan, gaan jy in die dood in, wat ook die doderyk of die graf genoem is), of ‘n mag (die dood kry ‘n mens in sy mag en dan sterf jy – Ps 71:20).

 

Die dood kan ‘n mens ook al in sy mag begin kry nog voordat jy regtig dood is. Die dood dring soos ‘n monster in ons lewe in sodat iemand wat in lewensgevaar verkeer of siek is, alreeds in die mag van die dood is. Daarom noem ons siekte ‘n voorvorm van dood.

 

Oor die dood of die doderyk as ‘n plek waar die dooies is, word ook baie realisties gedink. Daar is heelwat beskrywings van hierdie plek in die OT, en hierdie beskrywings is almal baie donker en negatief. Ook mense wat in lewensgevaar verkeer, het alreeds in die ruimte van die dood (die doderyk) ingegaan en verkeer alreeds tussen die dooies (Psalm 88:4-7; 40:2-3; 30:4 OAV). Die dood is ‘n magtige monster (Ps 18:5,6,17; Jes 5:14; Hab 2:5), een van die choasmonsters wat uit `die waters onder die aarde’ kom (Ps 69:2,3; 124:4,5). (22.3)

Wat is die houding van die gelowiges in die OT teenoor die dood? Daar is enkeles wat die dood as ‘n redelik natuurlike lewenseinde sien, maar vir die groot meerderheid is die dood ‘n skrikwekkende, weersinwekkende einde.

‘n Paar persone aanvaar die dood as die voltooiing van hul lewe, as iets natuurlik: Abraham, Dawid, Job (Gen 25:7,8; 1 Kon 2:2; 1 Kron 29:28; Job 5:26; 42:17). Dit beteken nie dat enigeen van hulle regtig na die dood uitgesien het – so ‘n siening kry ‘n mens nie in die OT nie – of die dood bo die lewe verkies het nie. Hulle het net gelate die dood aanvaar omdat hul lewe verby was. Hulle is egter die uitsonderings wat die reël bewys: die dood is negatief, sinloos, gemeenskapsverbrekend, afstootlik, vreesaanjaend.

Waarom? Omdat die dood die mens van God skei en vervreem. Die sin en die diepste betekenis van die lewe, die heil, is vir die gelowige in die OT hierdie lewe in gemeenskap met God. Gevolglik is die dood die einde van ons verhouding met God en van die heil. God dink nie aan dié wat in die dood is nie, en niemand in die doderyk sal Hom prys nie. Daar heers die ewige, sinlose, donker stilte (Ps 115:17; 94:17; 88:11-13; Job 10:20-22).

Die ervaring van koning Hiskia (Jes 38) is een van die aangrypendste voorbeelde van die negatiewe reaksie van gelowiges teen die dood, totaal negatief – juis omdat hulle gelowiges is.

Tot kort voor die einde van die OT is daar geen sprake van die opstanding uit die dood nie. Daar is ‘n paar uitsonderings van mense wat nie gesterf het nie, maar deur God in heerlikheid opgeneem is (Henog, Elia), maar dit skep geen verwagting by die ander gelowiges nie, behalwe in die een geval (Ps 73:24) wat egter nie duidelik is nie en ook nie ‘n algemene verwagting word nie.

Om van `lewe na die dood’ in die OT te praat, is om te vergeet dat lewe gemeenskap met God is en dat die dood dit afbreek. Dit is om te vergeet dat mense geskape is as bondgenote van God, en dat hulle daarom die sin van hul bestaan verloor as hulle sterf en uit die gemeenskap met God weggeruk word. Die skimbestaan in die doderyk is nie meer gemeenskap met Hom nie en juis daarom nie lewe nie – daarom is dit so weersinwekkend vir die gelowiges.

Die verwagting dat dooies sal opstaan, kom eers baie laat in die OT voor. Dit staan nie regtig in Jes 24-27 of Eseg 37 nie. Dit is alles verwysings na Israel wat weer `lewendig word’ by die terugkeer uit die ballingskap. Dan 12:2 is die enigste duidelike getuienis dat daar ‘n opstanding sal wees. Dit is ook heeltemal begryplik dat dit eers hier na vore kom, omdat dit deel is van ‘n ander wêreldbeskouing, die apokaliptiese of `bonatuurlike’ siening van wêreldgebeure wat eers tydens die ballingskap ontwikkel het.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König