Jesaja 66

Jesaja 66 – Gustav Claassen

Jan Smith vra:

In Jesaja 66:23 & 24 sê die Here dat alle vlees sal elke maand op die nuwemaan of op die sabbat kom om My te aanbid. Dan sal hulle die lyke sien van die mense wat teen My gesondig het – want hulle wurms sal nie sterwe nie en hulle vuur sal nie uitgeblus word nie. Iemand skryf hieroor soos volg: ” During the time of the future reign of the Messiah in Jerusalem, there will be an opening somewhere on the earth where living men can look into hell and see the departed souls of men whose “worm shall not die”. Hierdie opening volgens die bron sal êrens in die Dooie See ontstaan. Wat sê vers 24 eintlik vir ons met verwysing na die lyke wat die mense te sien sal kry, asb? 

Antwoord

Dr. Gustav Claassen aantwoord:

In hierdie slotgedeelte van Jesaja gaan dit oor ‘n nuwe bedeling wat aanbreek. God begin voor met sy wêreld. Vir die volk wat in die doodloopstraat van ballingskap beland het, laat Hy terugkeer na hulle land toe. In Jerusalem kom almal saam om die Here te aanbid. Die nuwe Israel sal volkome aan God toegewy wees, die Here sal opreg gedien word. Elke nuwemaansfees en elke sabbat sal al wat leef die Here aanbid. In teenstelling met die vreugde en blydskap van die wat die Here dien is daar nog die wat ongehoorsaam en ver van Hom af leef. Die verwysing na die lyke buite die stad wys op die verskrikking van God se oordeel oor die ongehoorsames. Dit is dus ‘n waarskuwing aan die goddeloses. Buite die stad wag daar rampspoed en oordeel vir die ongehoorsames. Vir hulle wag iets verskrikliks – die dood en die vuur van God se toorn.

 

Skrywer: Dr Gustav Claassen




Geloofsvrae: Die doodstraf

Geloofsvrae: Die doodstraf – Adrio König

Doodstraf

Christelike kerke het in die verlede met min uitsonderings die doodstraf aanvaar en selfs verdedig. Dit was eerder uit ander, meer liberale kringe dat die doodstraf sedert die 18e eeu bevraagteken en later in dele van die wêreld verwerp is as onmenslik. Daarteen het die meeste konserwatiewe Christene hulle sterk verweer en veral met ‘n beroep op die Bybel die doodstraf geregverdig.

Dit is nie so maklik om met ‘n beroep op die Bybel die saak te besleg nie. Dit lei geen twyfel dat daar dikwels in die Bybel sprake is van die doodstraf in verskillende vorme nie. Twee sake verdien egter ons aandag: die wrede wyse waarop dit in sommige gevalle toegepas moes word (o.a. deur steniging), en die verskeidenheid oortredings wat met die doodstraf gestraf moes word (o.a. Sabbatsontheiliging, opstandigheid teen ouers, gemeenskap met ‘n verloofde vrou, homoseksualiteit, Num 15:32ev; Eks 20:15; Deut 22:22ev; Lev 20:13). ‘n Mens het dadelik die gevoel dat dit ‘n ander mensbeskouing en menswaardering veronderstel as waarmee ons vandag werk. Só goedkoop is ‘n mens se lewe darem nie, veral nie as ons onthou dat mense as die beeld van God geskape is nie. Die doodstraf het eenvoudig ‘n ander betekenis in die Bybel gehad as vandag.

Daar is twee partye wat by die vraag na die doodstraf betrokke is: die oortreder en die slagoffer. Kom ons kyk eers na die oortreder.

Een van die groot sake om in die geval van die skuldige persoon te oorweeg, is die feit dat die doodstraf ‘n onherroeplike finaliteit het. As dié straf eers voltrek is, kan dit nie hersien of versag word nie. Omdat alle hofuitsprake menslik en daarom feilbaar is, vervul die doodstraf ‘n mens met ‘n bepaalde huiwering.

Die doodstraf is ‘n vorm van erkenning dat die gemeenskap opgee met die skuldige. As een van die oogmerke van straf die rehabilitasie van die skuldige is, geld dit nie meer in hierdie geval nie. Daar is niks sinvol meer aan hom of haar te doen nie. Maar die persoon is tegelykertyd ‘n deel van die samelewing wat uit ons voortkom en grootliks deur ons gevorm is. Die doodstraf is dus ook ‘n refleksie op die samelewing. Dit is ons wat so ‘n samelewing geskep het.

Die doodstraf word dikwels geregverdig as ‘n afskrikmiddel, natuurlik nie vir die oortreder nie, maar vir ander mense. Dit lyk my altyd ‘n kwalike saak om deur ondersoeke vas te stel of dit waar of vals is. Daar is so ‘n verskeidenheid oortredings wat in aanmerking kan kom, en soveel verskillende mense en soorte mense wat oortreders is of kan wees, en soveel verskillende omstandighede wat van situasie tot situasie (land tot land) verander, dat dit nie duidelik is hoe die resultate uit een ondersoek op ‘n ander situasie toegepas kan word nie.

Tot sover oor die oortreder.

Wat die slagoffer betref, lê die dinge natuurlik baie anders. Mense se lewens word verwoes. Moord is miskien nie eens die ergste vorm van misdaad waaronder ‘n persoon kan lei nie. Aanranding, verminking, verkragting, en dikwels op barbaarse wyse, krenk en vermink mense se lewens soms vir goed. In ‘n samelewing waar dit so dikwels voorkom dat dit ‘n wesenlike bedreiging vir die meerderheid van die bevolking word, kan noodmaatreëls nodig word wat onder `normaler’ omstandighede nie oorweeg sou word nie. Sulke noodmaatreëls kan die doodstraf insluit selfs sonder dat daar klinkklare bewyse is dat dit inderdaad ‘n afskrikmiddel sal wees. Selfs al sou dit net ‘n deel van die samelewing die gevoel van ‘n bietjie meer veiligheid gee, het dit al ‘n bepaalde waarde.

Nogtans kan dit net regtig ‘n noemenswaardige verskil maak as die regsisteem só funksioneer dat daar ‘n vrees by potensiële oortreders bestaan dat hulle aan die pen kan ry. Erger strawwe sal uiiteraard nie ‘n positiewe uitwerking hê as te min oortreders aan die man gebring word nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Genesis 6:1-4 – Die mens se soeke na die ewige lewe

Genesis 6:1-4 – Die mens se soeke na die ewige lewe – Gustav Claassen

Koos vra:

Ek wil graag meer weet aangande die hemelwesens: hoe lyk hulle? Kon die dogters in Genesis 6 nie sien dat daar n verskil tussen hulle en die mans was nie? Het ons enige ander inligting?

Antwoord

Dr Gustav Claassen antwoord:

Genesis 6:1-4, is seker een van die moeilikste gedeeltes in die Bybel. Daar word van hemelwesens gepraat wat na die aarde gekom het, en met vrouens op die aarde getrou het. Die kinders wat uit hierdie verhoudings gebore is, was so groot soos reuse (nephilim). Dus, inderdaad ‘n vreemde gedeelte en baie is al geskryf oor hierdie gedeelte.

As agtergrond waarteen ons die teks moet verstaan ‘n paar opmerkings: Die boek Genesis, alhoewel dit eerste in die Bybel staan en vertel van die begin van die hemel en aarde, is nie die oudste boek in die Bybel nie. Genesis, word gedateer tussen 600 en 500 v C, in die tyd van die ballingskap. Gedurende hierdie tydperk maak die Jode die eerste keer kontak met die kultuur, filosofieë, godsdienste en ander oortuigings van die Perse, Assiriërs en Grieke.

In die kontak met die Perse, Assiriërs, Grieke en talle ander volkere het Israel ook kennis gemaak met hulle gode, verhale oor hierdie gode, en ook verhale oor die skepping van die aarde. So is daar byvoorbeeld die baie bekende Assiriese skeppingsverhaal, die Enuma Elish, wat in baie opsigte ooreenkom met die skeppingsverhaal van die Bybel. In die ander buite Bybelse skeppingsverhale is daar ook vertellings van gode wat by aardse vroue kinders verwek het, kinders wat bekend gestaan het as godmense, mensgode, of reuse.

So het die Ugaritiese god, El, by aardse vroue kinders verwek. Die Griekse god Zeus het Herakles verwek by Alkmene, die vrou van Amfitrio. Herakles, was reusagtig groot en baie sterk, ‘n soort godmens. Hulle was die manne van naam, reuse, godmense wat vir ewig lewe, wat nie sal doodgaan nie. Hulle is of gode, of halfgode, en gode leef vir ewig. Die belangrike ding om hier raak te sien is die verwysing na die “manne van naam” wat ewig sou leef. In hierdie wêreld het die Jode probeer om hulle geloof in hulle God te verwoord.

Die verteller van Genesis vertel sy mense die verhaal van die skepping van die hemel en die aarde. In die skeppingsverhaal wil die verteller dit baie duidelik stel: God alleen het geskep en is daarom alleen God, en God alleen lewe vir ewig. Verder vertel die skeppingsverhaal ‘n verhaal van die mens se opstand teen God. Adam en Eva, het in volmaakte omstandighede gelewe. Maar dan eet die mens van die boom van kennis. Hierdie oortreding van die mens het die mens die ewige lewe gekos.

God sê dan (Gen 2): as hulle tog nie ook die hand uitsteek na die boom van die lewe nie. Om te verseker dat dit nie gebeur nie beveel God hulle om die tuin te verlaat. Genesis vertel dan dat sedert dié dag is die mens op soek na die ewige lewe. Die mens wil soos God word wat nie alleen alles kan ken nie, maar ook vir altyd kan lewe. En doen die mens alles in sy vermoë om die ewige lewe te verkry. Om die toppunt van hierdie menslike soeke te illustreer, gebruik die verteller bekende verhale van godmense, en hoe die reuse tot stand gekom het. Hoe dat ‘n god uit die hemel na die aarde gekom het, en die een of ander vrou op die aarde verlei. En hoe daar uit die verbintenis ‘n halfgod-halfmens gebore word: ‘n mens, maar tog ‘n god. Dus: ‘n mens wat vir altyd kan lewe, die ewige lewe het!

Die verteller van Genesis sinspeel met sy verhaal oor die gode- en mensevermenging op die soeke van die mens na die ewige lewe. Die mens, sal as God hom die boom van die lewe ontsê, self ‘n plan maak. In Genesis 11 sou die mens weer op ‘n ander manier probeer om ‘n plan te maak, ons lees: “die mens wil ‘n toring bou om tot by God te kom, om in die hemel te kom, om God te word”.

God sien die opstand van die mens teen Hom raak, hierdie plan van die mens om soos God te wil word, om ewig te wil lewe. Die opstand van die mens teen God kos hom die ewige lewe. Maar God maak hierdie plan ongedaan. Sterflik sal die mens bly. Die mens sal nooit kan God word nie, sy lewensasem wat hy van God ontvang het sal van hom weggeneem word. Hy sal voortaan net 120 jaar lank bly leef. Die klem val hier nie op die 120 jaar nie, maar op die begrensdheid van die menslike lewe.

Om hierdie soeke van die mens, om die ewige lewe terug te kry, bloot te lê, gebruik die verteller bekende verhale soos mense wat met gode trou en so vir ewig kan lewe. God, sê die verteller, sien die mens se plan raak, en bring dit tot ‘n einde. Met God wat ‘n einde maak aan hierdie strewe van die mens, sê die verteller verder: God is sterker en magtiger as al die ander gode van wie hierdie verhale vertel is, want Hy sien deur hulle, hy bring hulle ook tot ‘n einde.

Hierdie verhaal sê dat ons nie onsself kan red nie. Dat God aan ons lewens grense stel. Alleen God kan aan ons die ewige lewe gee. En Hy gee dit aan ons deur Jesus Christus wat na ons toe kom en in ons plek die pad na die kruis toe stap.

 

Skrywer: Dr Gustav Claasen




Geloofsvrae: Aborsie: Beperkte aborsie

Geloofsvrae: Aborsie: Beperkte aborsie – Adrio König

Aborsie: Beperkte aborsie

Die derde standpunt oor aborsie is dat dit onder bepaalde omstandighede die minste van twee kwade is. In die verlede is slegs mediese gronde in ons wetgewing aanvaar as gronde vir aborsie, maar tans is aborsie onder sekere voorwaardes geredelik beskikbaar.

Daar is allerlei bepalings in die wetgewing wat vreemd en selfs aanstootlik klink soos die bepaling dat ‘n vrou sonder die toestemming van haar man, of ‘n minderjarige dogter sonder die toestemming van haar ouers, ‘n aborsie mag ondergaan.

‘n Mens moet hierdie bepalings evalueer teen die agtergrond van die verskil tussen kerk en staat. Terwyl die kerk die ideaal verkondig, die lewe soos God dit wil hê, die huwelik en seks soos dit behoort te wees, moet die staat voorsiening maak vir mense wat nie Christene is nie of wat in elk geval nie die Christelike (of Moslem of selfs ander godsdienste se) moraliteit handhaaf nie.

Die wette van die staat moet dus voorsiening maak vir die derduisende jongmeisies (soos straatkinders) wat nie ouers het of weet wie hul ouers is nie, of wie se ouers dit vir hulle in die huis onmoontlik sal maak as hulle van die swangerskap moet weet, en vroue wat nie getroud is of weet wie die man is wat vir hul swangerskap verantwoordelik is nie. Natuurlik is dit skrikwekkend om te besef dat daar sodanige gevalle is, maar daar is, en die wet moet daarvoor voorsiening maak.

Hierdie onderskeid tussen kerk en staat is van die uiterste belang, want as dit lyk of Christene te toegeeflik is wat die wetgewing en dus die toelaatbare betref, moet dit duidelik wees dat ons dit nie goedpraat nie, en dat ons sal aanhou om die evangelie te verkondig dat ons rein moet leef, dat die huwelik eerbiedig moet word, dat seks net binne die huwelik tuishoort, dat ouers hulle kinders deeglik moet begelei en onderrig, dat daar groot gevare aan aborsies verbonde is en dat dit honderd maal beter is om liewer die swangerskap te laat voortgaan as dit maar enigsins moontlik is dat die kind ‘n menswaardige lewe sal hê.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König