Laat sy Liefde jou Lei: Aan wie gee jy die eer?

Laat sy Liefde jou Lei: Aan wie gee jy die eer? – Milanie Vosloo

Aan wie gee jy die eer?

“… Ek loof en prys U, God van my voorouers: U het my wysheid en krag gegee; U het my ingelig oor wat ons van U gevra het; U het my ingelig oor die droom van die koning.” Daniёl 2:23

 

Dis maklik om ‘n mens se eie geloofsreis te oorskat! Om na ander mense te kyk en dan jouself op die skouer te klop oor jou sogenaamd sterk geloof! Hierdie illusie kan juis in ons hart ontspring in tye wanneer dit uitstekend met ons geloofslewe gaan en wanneer ons dalk vir ‘n wyle vergeet dat ons geloof ‘n gawe en ‘n louter stuk genade is.

 

Wanneer ons die verhaal van Daniёl lees, is dit insiggewend om te besef dat Daniёl nie net op sy knieё was toe hy onstellende leeukuil-tye beleef het nie. Nee, Daniёl was in totale afhanklikheid en nederigheid voor sy God selfs toe hy wonderlike oorwinnings behaal het en geeёr is as die enigste een wat koning Nebukadneser se drome kon ontleed. Dit was op so ‘n hoogtepunt in sy lewe wat hy met groot nederigheid erken: Die geheim is vir my verklaar, nie omdat ek slimmer is as enige iemand anders nie, maar omdat God wil hê dat die koning moet verstaan waaroor hy gedink het.” Daniёl 2:30

Opregte geloof leef altyd in volkome oorgawe en nederigheid uit die genadehand van God. En gee daarom onder álle omstandighede eer aan die Een deur wie alles is en sal wees.

Genade-God, help my om altyd te onthou dat ek is wat ek is, om U ís.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Geloofsvrae: Die posisie van die vrou in die Bybel

Geloofsvrae: Die posisie van die vrou in die Bybel – Adrio König

Die posisie van die vrou in die Bybel 

Die Bybel is ‘n manlike boek – patriargaal en androsentries (gesentreer op die man). Die vrou beklee ‘n onderhorige plek. Sy is huisvrou en moeder. Sy het nie veel van ‘n eie regsposisie nie, en is volkome op haar man aangewese. Sy staan eintlik in diens van haar man en sy familie om kinders (veral seuns) vir hulle voort te bring want dit is hoe die man se familie uitgebou word. Vroue is nie noodwendig sleg behandel nie (en tog: Gen 19:6-8!!), veral nie moeders nie, maar hulle het ‘n onderhorige sosiale en regsposisie beklee, in Israel selfs swakker as onder sekere groot kultuurvolke soos die Egiptenare en Babiloniërs.

Die vraag vir ons is wat die status en waarde van hierdie duidelike tendens in die Bybel is. Is dit deel van die evangelie, of is dit, soos die manlikheid van God, deel van die kulturele pakket waarin die evangelie na ons toe kom?

Dit is dikwels moeilik om ‘n antwoord op so ‘n vraag te kry. Ons gaan egter weer doen wat ons in verband met die manlikheid van God gedoen het. Ons gaan kyk of hierdie duidelike tendens van vroue-onderhorigheid betekenisvol deurbreek word in die Bybel. As dit die geval is, kan ons met ‘n redelike mate van reg aanvaar dat dit deel van die kultuur van daardie tyd was, en nie vir ons gesaghebbend is nie.

Ongelukkig kan ons ons nie so maklik op Jesus beroep as Iemand wat ‘n besondere plek aan vroue gegee het nie. Daar is sommige wat oortuig is dat Hy by uitstek as die eerste vrouebevryder beskou kan word, en dat veral Lukas Hom teken as die een wat aan die vrou ‘n nuwe plek in sy dissipelkring, in die geloofsgemeenskap en in die samelewing gee. Maar daar is ander wat dit ten sterkste ontken, en ongelukkig met sterk argumente.

Daar is egter ‘n aantal plekke in die Bybel waar daar merkwaardige deurbrekings van die onderhorige posisie van die vrou voorkom (Gen 1, Gen 2-3, Hooglied, Gal 3:28, 1 Kor 7:3-5).

  1. Genesis 1 en Genesis 2-4 

Tradisioneel is daar aanvaar dat die onderhorigheid van die vrou ‘n `skeppingsordening’ is, dit wil sê ‘n permanente reëling van God by die skepping van man en vrou. Dit is egter moeilik om dit te handhaaf in die lig van wat werklik in die eerste twee skeppingsverhale staan.

Gen 1:26-28 beklemtoon sonder meer die gelykheid van man en vrou. Sonder onderskeid word dieselfde dinge van hulle gesê: Hulle is geskape as die beeld van God, om te vermeerder en te heers, om die aarde te bewoon en te bewerk, en hulle vorm saam `die mens.’ Ons is nie regtig verbaas genoeg oor hierdie opvallende gelykheid tussen man en vrou in Gen 1 nie omdat ons die kulturele agtergrond vergeet. Onthou volgens die oorwegende tendens in die Ou Testament was die vrou onderdanig aan die man, in werklikheid een van sy besittings. Gen 1 deurbreek hierdie patroon radikaal.

En netso Gen 2-4. Die gelykheid van man en vrou is hier nog te meer opvallend as ‘n mens onthou dat die patriargale kultuur nog sterk deurkom in ‘n paar trekke in die Gen 2. Eerstens is daar die ontmoeting. Dis nie man en vrou wat mekaar ontmoet nie, dis die man wat die vrou ontmoet, oor haar juig, en haar vat as sy vrou. Verder is dit hy wat haar ‘n naam gee, wat tradisioneel sy gesag oor haar aandui. Sy neem op geen manier in hierdie ontmoeting inisiatief nie. Dit is die bekende kulturele patroon van vroue onderdanigheid.

Teen hierdie agtergrond is daar opvallende trekke in die verhaal. Die man kom glad nie na vore in die skepping van die vrou nie. Hy ontvang haar net. Verder word beklemtoon dat sy sy gelyke is. Voordat ons verder hierop ingaan, moet ons net onthou dat `gelyke’ hier basies beteken `van dieselfde soort,’ wat beteken sy is nie ‘n dier nie. Die man se uitroep (2:23) beteken iets soos: Uiteindelik is hierdie een nie soos een van die diere nie, maar van dieselfde soort as ek (vergelyk 2:18-20).

Maar die gelykheid van man en vrou word sterker as dit beklemtoon. Allereers kan die man nie alleen regkom nie. Terwyl daar ‘n deurlopende tema in Genesis 1 is: `En God het gesien dit is goed,’ lees ons hier van iets wat God gemaak het wat nie goed is nie: die man wat alleen is (2:18). God besluit dus om iemand te skep wat hom kan help, sy gelyke.

Die gedagte dat ons hier ‘n skeppingsordening van ongelykheid en vroue-onderdanigheid het, word sterk gebou op die oortuiging dat die vrou as `helper’ onder die man staan omdat ‘n `helper’ noodwendig die mindere is. Dit het egter geen grond nie. Daar is geen rede om te dink dat helper hier onderhorige beteken nie. God word self herhaaldelik Israel se helper genoem (Eks 18:4; Deut 33:7; Ps 20:3). Verder is daar ‘n aantal voorbeelde waar gelykes helpers genoem word, maar daar is geen voorbeeld in die Bybel waar ‘n mindere ‘n helper genoem word nie. Net een van twee afleidings is moontlik: óf die vrou is die man se meerdere (soos God Israel s’n is), óf sy is sy gelyke waarsonder hy nie kan regkom nie.

Die laaste moontlikheid word ondersteun deur die naam wat hy haar gee. In die Hebreeus sit hy net ‘n vroulike uitgang agter die woord vir man. Die OAV het hierdie opvallende woordspeling nog probeer weergee met man-mannin. Die Hebreeus dui aan dat daar net een verskil is tussen man en vrou: die een is van ‘n ander geslag as die ander een. Die vrou is ‘n vroulike mens, die man is ‘n manlike mens.

Teen die patriargale agtergrond van hierdie verhaal is hierdie beklemtoning van gelykheid merkwaardig, en ‘n mens kan aanvaar dat die OT se patriargale kultuur van vroue-onderdanigheid hier deurbreek word.

Wat die sonde van Adam en Eva betref, is dit opvallend dat Adam glad nie na vore kom nie. Die vrou neem al die inisiatief. Sommige is oortuig dat dit juis deel van haar sonde is: nie net dat sy ongehoorsaam aan God was nie, maar dat sy die skeppingsordening deurbreek het waarvolgens sy onderdanig aan haar man moet wees. Sy het al die inisiatief geneem – en kyk waarop het dit uitgeloop. Dus vroue moet onderdanig bly!

In die verhaal is egter geen grond vir hierdie siening nie. Die skepping van die vrou het juis hul gelykheid beklemtoon, en daar is geen aanduiding in die verhaal dat deel van haar sonde die feit is dat sy inisiatief neem in plaas van om dit aan haar man oor te laat nie.

Die straf van die vrou is interessant (3:16). Hier is vir die eerste keer sprake dat die man oor die vrou sal heers. Dit is egter nie meer deel van die skeppingsverhaal nie, maar van haar straf. En juis daarom kan dit nie as ‘n vasstaande skeppingsordening beskou word nie – net so min as die straf wat die man gekry het (3:17ev). Ons probeer sover moontlik `die `dorings en dissels’ uitroei om die man se straf teen te werk, en ook om die straf van die vrou te beperk dat sy sal swaarkry as sy geboorte gee. Daar is dus nie rede waarom ons nie haar straf dat haar man oor haar sal heers, ook sal teëwerk nie.

  1. Hooglied 

Wat ‘n merkwaardige lied! Die heerlike liefdesverlange en -vervulling van ‘n jong man en ‘n jong vrou.

Wat die lied egter so belangrik maak vir ons ondersoek, is die feit dat dit totaal uit die heersende patriargale en androsentriese kultuur uitbreek en ‘n vars, verkwikkende verhouding van wederkerigheid tussen twee verliefdes skep. Vir die oomblik gaan ons die tradisionele uitleg aanvaar dat die koning in werklikheid koning Salomo is. Dit beteken dat die twee rolspelers die magtige koning is en ‘n plaasmeisie wat in die wingerde werk.

Daar is geen sprake van manlike oorheersing of selfs net eensydige manlike inisiatief in die lied nie. As iets waar is, is dit eerder dat die meisie se aandeel dié van die man oortref. Dit blyk selfs uit die noukeurig saamgestelde struktuur van die boek. Dit bestaan hoofsaaklik uit ‘n aantal liedere wat die man en die meisie oor mekaar maak. Haar liedere is egter byna twee keer so lank soos syne, en die hoogtepunt van elk van die drie hoofdele van die boek is ‘n lied van haar ekstase oor hom.

Die inisiatief in hul verhouding word vrylik afgewissel tussen man en meisie sodat ons ‘n verhouding van wederkerigheid kry. Eers hy (2:8-10) en dan sy (3:1-4) laat geen steen onaangeroerd om die ander te kry nie – in so ‘n mate dat selfs ons vandag vir haar sou sê: `Stadig, moenie dat hy die indruk kry jy is verleë oor hom nie. Laat hy die inisiatief neem.’ En dan geld dit honderd maal meer dat dit ‘n totale deurbreking is van die kultuur waarin hierdie lied ontstaan het.

Dit beklemtoon nogeens dat die patriargale struktuur van die verhouding man-vrou in die Bybel deurbreek word.

  1. Galasiërs 3:28 

`Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.’

Is hier net sprake van ‘n `geestelike’ eenheid – almal word op dieselfde manier salig – of het dit sosiale implikasies? Die punt wat Paulus in die brief maak, is dat die gelowiges uit die heidene niks méér hoef te doen as om in Jesus te glo nie. Hulle hoef nie ook nog besny te word en die wet te hou soos die Judaïste dit wou hê nie. Tot sovêr sal ongeveer alle partye saamstem. Maar is dit al?

Dat hierdie `geestelike’ eenheid konkrete implikasies het, is duidelik. Petrus het aanvanklik nie kans gesien daarvoor nie (2:11-14). Dit beklemtoon dat ons hier ‘n radikale verandering in menseverhoudings kry wat beswaarlik beperk kan wees tot gelyke geestelike toegang tot die heil. Dit moes uitloop op gelyke behandeling in die openbaar. Saameet in die openbaar was ‘n baie sensitiewe saak vir Jode.

Wat hierdie konkreetheid egter nog verder beklemtoon, is die `onnodige’ byvoegings wat Paulus in die teks maak. Om sy punt te maak, was die voorbeeld `Jood of Griek’ heeltemal voldoende. Hy wou net aantoon dat die Grieke deur die geloof in Christus volle lidmate van die kerk word en gelyk behandel moet word.

Waarom voeg hy by: `slaaf of vry, man of vrou’? Natuurlik om sy punt sterker te probeer maak. Maar wat beteken dit dan? Dat álle diskriminasie verbode is, nie net tussen Jode en heidene (dus op godsdienstige vlak) nie, maar ook tussen sosiale groepe en tussen mans en vroue. En juis die laaste is vir ons probleem so belangrik: `man en vrou.’

Die NAV se vertaling (`man of vrou’) is verkeerd. Daar staan eintlik: `manlik en vroulik’ en dit is ‘n aanhaling uit Gen 1:27. Dáár is dit ‘n skeppingsuitspraak wat die gelykheid van man en vrou impliseer, sodat die gelykheid van Gal 3:28 uit die skeppingsverhale gefundeer word. Paulus wil sê: onthou tog dat God hulle as gelyke bondgenote geskape het, daarom kan julle nie teen die vrou diskrimineer nie. Dit gaan dus hier om meer as die feit dat verskillende groepe op dieselfde manier salig word. Dit gaan om hul skeppingsverhouding en daarom sluit dit alle vorme van diskriminasie uit.

  1. 1 Korintiërs 7:1-16 

Ons het hier ‘n uitspraak oor die huwelik wat die beginsel van wederkerigheid, wat so sterk in Hooglied deur die kulturele grens gebreek het, op ‘n merkwaardige wyse konkretiseer, sowel in die struktuur as in die inhoud van die perikoop.

Die struktuur is net so versigtig en planmatig saamgestel soos dié van Hooglied. Daar is sewe pare stellings wat op verskillende plekke in hierdie perikoop voorkom. Elke paar bestaan uit twee dele wat presies dieselfde sê oor die rol van die man en die vrou in die huwelik. Paulus begin elkeen van die eerste twee pare met die man as onderwerp gevolg deur die identiese stelling met die vrou as onderwerp (verse 2,3). Dan volg twee wat presies omgekeerd is (die vrou as onderwerp gevolg deur die man as onderwerp – 4,10-11), dan weer twee wat met die man begin (12-14), en uiteindelik die laaste een wat weer met die vrou begin (16). Dit vorm ‘n merkwaardige simmetrie wat baie fyn beplan is en op die volkome wederkerigheid van die man en die vrou in die huwelik dui.

Die inhoud onderstreep hierdie wederkerigheid. Die eerste stelling (2) poneer die beginsel van wederkerigheid. Die tweede (3) pas dit op die seksuele lewe toe. Dit begin met die man wat sy (seksuele) plig teenoor sy moet vrou nakom. As ‘n mens onthou dat die kulturele agtergrond was dat die vrou ‘n besitting van die man is wat sy geslag moet voortsit, is dit merkwaardig dat die vrou skielik haar eie waardigheid kry en dat die man ‘n plig het om haar behoeftes te bevredig. Eintlik was sy in die tradisionele kultuur net daar tot sy beskikking.

Die volgende twee stellings begin by die vrou en draai dit dan om na die man (vers 4 en vers 10-11). Die eerste stelling pas presies in by die kulturele patroon: `Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man.’ Dit beteken die vrou is die besitting van die man om sy behoeftes te bevredig. Hy beskik oor haar liggaam. Maar dan waag Paulus om dit om te keer – en dit is revolusionêr: `Net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.’ Dit deurbreek die androsentriese huweliksmodel radikaal. Watter beskikking die man ook al tradisioneel oor die vrou het, het die vrou ook oor die man!

Voordat Paulus die volgende stelling formuleer (10-11), bring hy ‘n nuwe woord by wat die nuwe huweliksmodel bevestig: mekaar. Sy uitspraak klink ewe revolusionêr as die vorige: `Moenie vir mekaar (seksuele) omgang weier nie’ (5). Selfs hieroor kan die man nie meer eensydig besluit nie. Hulle gaan dit saam doen. En dit word die nuwe model vir die huwelik: nie die man wat die laaste woord het en die vrou wat onderdanig is nie, maar twee mense wat hul besluite saam neem, selfs hierdie allerintiemste besluite wat tot dusver vanselfsprekend die man se prerogatief was.

Hierdie perspektief deurbreek nogeens die patriargale huweliksmodel wat nog in die grootste deel van die Bybel veronderstel word, en selfs ook die moderne `verligte’ patriargale model waarvolgens die vrou natuurlik saam met die man kan besluit, maar sodra hulle verskil, moet die man die besluit neem `omdat daar net een besturende direkteur in ‘n besigheid kan wees.’ Asof die huwelik ‘n besigheid is en nie die allerintiemste saamleef van twee mense wat albei veilig moet voel in ‘n verhouding van geborgenheid nie.

Die res van die parallelle stellings bevestig net verder die wedersydse struktuur van die Christelike huwelik. Dit beteken dat ons nie langer onseker hoef te wees oor die rykwydte van Gal 3:28 nie. Dit geld minstens ook die huwelik.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Feminisme

Geloofsvrae: Feminisme – Adrio König

Feminisme 

1. Die agtergrond 

Die Feminisme is ‘n beweging van vroue – waarmee sommige mans hulle vereenselwig – wat nie tevrede is met die plek wat die samelewing aan hulle toegewys het nie. In die meeste kulture word daar teen vroue gediskrimineer, en daarteenoor eis hierdie vroue gelyke regte, behandeling, en geleenthede. Sommige sien hul saak teen ‘n baie breër agtergrond: die totale samelewingstruktuur moet verander: in plaas van owerheid en onderdaan, kies hulle vir vennootskap, in plaas van sogenaamde `harde kragte,’ verkies hulle `sagte kragte,’ in plaas van kompetisie en konfrontasie, liewer onderlinge verbondenheid en samewerking.

‘n Belangrike faset van die agtergrond is die feit dat daar ‘n baie algemene oortuiging is dat daar ‘n manlike natuur en ‘n vroulike natuur is. Dit beteken dat mans sekere aangebore eienskappe het (mans is sterk, hulle reageer vinnig en neem inisiatief, hulle kan leiding gee), en vroue ander (sy is die `swakkere vat,’ sy is sag, geduldig, bereid om te dien, onseker, met ‘n behoefte aan leiding).

 

Vroue reageer op minstens drie maniere hierop. Sommige aanvaar dit gelate en onnadenkend, ander verdedig die beginsel van vroulike onderdanigheid as ‘n godsdienstige eis, en nog ander bevraagteken en beveg dit. Die tweede groep kom veral in konserwatiewe godsdienstige kringe voor (nie net onder Christene nie, ten minste ook onder Moslems) en die Christene onder hulle kan ‘n sterk beroep op die Bybel doen omdat daar ongetwyfeld sterk uitsprake oor die onderdanigheid van vroue in die Bybel is.

Twee belangrike teologiese vrae is eerstens of God manlik is (wat sou kon beteken dat Jesus noodwendig ‘n man moes wees om God te openbaar), en tweedens of die onderdanigheid van die vrou deel van die evangelie is of net deel van die kultuur waarin die Bybel ontstaan het?

2 Is God manlik? 

Die Bybel is ongetwyfeld oorwegend ‘n manlike boek. Mans en manlike beelde oorheers totaal: aartsvaders, priesters, konings, profete, Jesus, apostels, leiersfigure. Verder word daar oorwegend in manlike terme na God verwys. Dit kan natuurlik eenvoudig deel van die androsentriese (manlik-georiënteerde) kultuur van Israel wees, maar dit lyk soms nogal of dit bedoel is. As die profete ‘n keuse het, kies hulle die man as beeld van God, en die vrou as beeld van Israel (en die kerk). Nogtans is daar interessante beperkinge op die `manlikheid’ van God. So word seksualiteit nooit met Hom in verband gebring nie terwyl dit algemeen was vir die volke rondom Israel dat Gode in seksuele verhoudings betrokke is.

Verder relativeer hulle die `manlikheid’ van God deur ook vrouebeelde op Hom toe te pas. Feministe verwys na ‘n hele aantal voorbeelde wat nie almal eweveel gewig dra nie. Daar is egter ‘n paar wat ongetwyfeld die punt maak dat ons ook vroulik oor God kan dink. Hy word dikwels voorgestel as ‘n moeder wat ‘n kind in die wêreld bring, troos, en gerusstel (Dt 32:18; Jes 49:15; Ps 131:2; Jes 66:13). In die beskrywing van die uittog kry ons ‘n paar ewe opvallende voorbeelde. Die Here voorsien telkens vir die volk kos en water in die woestyn. Dit was die pligte van die vrou in Israel. Num 11:12 impliseer dat die betrokkenheid van die Here by die uittog voorgestel word as ‘n moeder wat ‘n kind in die wêreld bring en laat drink. Trouens daar word meer dikwels vroulike beelde vir God in verband met die uittog gebruik (Hos 11:3-4).

Daar is ‘n paar vroulike woorde wat in ‘n besondere verband met die Here staan: sy Gees, die wet, en sy teenwoordigheid. ‘n Mens moet egter nie teveel uit die geslag van woorde aflei nie.

Daar is egter wel waarde in die verwysing na die wysheid wat as ‘n vrou voorgestel word. Dit gaan nie net om die vroulikheid van die Hebreeuse woord vir wysheid nie, maar om ‘n vrouefiguur wat `die wysheid’ genoem is – en ‘n uiters belangrike figuur is. Ons moet onmiddellik sê dat God nooit met die wysheid geïdentifiseer word nie. Wat haar egter belangrik maak, is dat Jesus in die NT met haar geïdentifiseer word, en dat sy in die OT ‘n posisie inneem bo alle mense en dus ook bo alle mans, soveel so dat sy in ‘n nouer verhouding tot God staan as enige mens (dus ook man), dat sy alle mense na haar toe roep (dus gesag oor hulle uitoefen), dat sy konings (natuurlik almal mans) in staat stel om goed te regeer, en dat sy beskou word as die een wat saam met God die inisiatief geneem het in die skepping en in die hele geskiedenis van Israel. Trouens van geen manlike figuur word ooit gesê wat van haar gesê word nie: dat sy God se lewe met Hom deel (Spr 8; Job 28:20-28; vergelyk ook Wysheid van Salomo 7-9; Sirag 24).

Hieruit is dit duidelik dat die heerskappy van die man en die onderdanigheid van die vrou nie as ‘n onbuigbare beginsel in die OT geld nie, maar eerder deel is van die kultuur van die tyd. (Die onderdanigheid van die vrou in die huwelik word verder aan bespreek.)

Die betekenis daarvan dat die wysheid ‘n vrou is, gaan egter verder. In die NT word Jesus met haar geïdentifiseer (1 Kor 1:24,30; Mt 11:19). Dit beteken dat daar nie net manlike titels en beelde vir Jesus gebruik word nie maar ook ‘n vroulike een. Ons moet dus aanvaar dat Jesus se manlikheid nie noodsaaklik was nie, dat Hy ook ‘n vrou kon gewees het en nog die openbaring van God en ons Verlosser sou kon wees.

3 Die eienskappe van God 

‘n Laaste uiters belangrike saak oor die `manlikheid’ van God is sy eienskappe. Die eensydig manlike verwysings na God sluit nie uit dat daar ook sogenaamde vroulike eienskappe aan Hom toegeskryf word nie en dat ons Hom uiteindelik juis met hierdie eienskappe identifiseer.

In die vorige sin is nie verniet na `sogenaamde’ vroulike eienskappe verwys nie. Daar is reeds verwys na die vraag of daar ‘n manlike natuur en ‘n vroulike natuur is. Dit is natuurlik moontlik dat ‘n mens inderdaad bepaalde eienskappe (oorwegend?) by onderskeidelik mans en vroue vind, maar dat dit nie noodwendig aangebore, `natuurlik’ eienskappe is nie, maar gesosialiseerde eienskappe. Ons maak kinders groot om in hierdie rolle in te pas omdat die samelewing dit verwag.

In die Bybel word die eienskappe inderdaad oorwegend só gebruik, en die meeste Christene sal waarskynlik sonder meer aanvaar dat veral die manlike eienskappe op God toegepas word: mag, inisiatief, kreatiwiteit, en dat die vroulike eienskappe net per uitsondering vir Hom gebruik word. Immers die Apostoliese Geloofsbelydenis meld net sy almag.

Daar is egter goeie redes om juis die teendeel te aanvaar: dat dit wat kenmerkend van God is, juis die `vroulike’ (`sagte’) eienskappe is. Ons sien dit in die ontwikkeling in ons siening van God in die twintigste eeu, en ook in ‘n bepaalde tendens in die Bybel self.

Vroeër het teoloë inderdaad veral die harde, sterk, koue eienskappe aan God toegeskryf: almag, denke, wysheid, onveranderlikheid, selfgenoegsaamheid, onbetrokkenheid. Daarteenoor het teoloë veral gedurende die laaste helfte van die twintigste eeu al meer eienskappe soos liefde, verbondenheid, getrouheid, geduld aan Hom begin toeskryf – dus eerder `vroulike,’ sagte, warm eienskappe (9-14).

In die Bybel het ons dieselfde situasie. In die vroegste geskrifte in die Bybel word God eerder as ‘n stryder, ‘n regter en ‘n oorlogsgod voorgestel, ‘n God wat straf en wat met fisiese mag optree, terwyl sy liefde en geduld eers later sterker na vore kom. Die optrede van Jesus Christus lewer ‘n beslissende bydrae in dié verband. Terwyl ons God in Hom leer ken, is Hy by uitstek die nederige, lydende Dienskneg, die sorgende en helpende Heiland, die vergewende Here.

Ons moet nie dié tendens verabsoluteer nie. Van die oudste skeppingsverhale, soos Gen 2, beklemtoon alreeds sy sorg en verbondenheid, en die harde eienskappe verdwyn nooit heeltemal nie. Tot in die boek Openbaring bly mag en geweld eienskappe van God. Dit gaan dus net om verskillende beklemtonings, nie om ‘n absolute teenstelling nie.

Maar hierdie beklemtoning beteken in elk geval dat die harde eienskappe van God nie oorheers nie, en baie van ons herken Hom juis by voorkeur aan sy sagte eienskappe. As dit `vroulike’ eienskappe is, soos konserwatiewe Christene beweer, lê die identiteit van God netsowel (of selfs meer) in sy vroulike eienskappe as in die manlikes.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Laat sy Liefde jou Lei: Wie is in beheer: jy of God?

Laat sy Liefde jou Lei: Wie is in beheer: jy of God? – Milanie Vosloo

Wie is in beheer: jy of God?

Hy maak dinge oop wat diep en weggesteek is; Hy weet wat in die donker gebeur en by Hom is daar lig. Daniёl 2:22

“Is dit die wind wat die bome laat beweeg of is dit die beweging van die bome wat die wind laat waai?” vra Chesterton. Dom vraag!, sou ons sê, totdat ons die dieper geloofsbetekenis daaragter verstaan. Want trap ons nie maar almal soms in die strik om te dink dat óns wonderlike vertroue, gehoorsaamheid en gebed God in beweging kan sit nie?

Dis menslik om te dink dat óns goeie lewe en opregte geloof ‘n invloed op God behoort te hê. En dat Hy, namate ons op ons geloofreis vorder, meer geneё behoort te wees om na óns te luister en óns wil te doen. Dit terwyl die orde van geloof allermins oor mý en God gaan. Geloof gaan oor dit wat God met, in en deur my doen.

Dis God alleen wat aan ons die gawe van geloof gee, dis Hý wat ons bekwaam en gewillig maak om sy wil te doen en dis net Hy wat ons in staat stel om Hom te verheerlik. Elke beweging op ons geloofspad kom van God af, elke stukkie groei in ons geloofslewe vind deur Hom plaas en elke vorm van Geesvervulling is suiwer sý genade.

Mag ons altyd onder die besef leef dat dit die wind van God is wat ons geloofstakke laat waai … en nie anders om nie!

Here, ek weet: U ís in beheer … ook van my geloofsvorming.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo