Geloofsvrae: Dankbaarheid en vreugde – Adrio König
Dankbaarheid en vreugde
1. Dankbaarheid
Dankbaarheid is die eerste komplementerende eienskap van die mens wat ons behandel. Die mens is nie net as die beeld van God geskape sodat ons op analogiese wyse iets van sy manier van lewe in ons lewe sigbaar moet maak nie, maar ons is ook in ‘n verbondsverhouding met Hom waarin ons paslik op sy inisiatiewe moet reageer. Ons reaksies sal noodwendig van sy inisiatiewe verskil omdat Hy God is en ons net mense, omdat Hy die senior bondgenoot is en ons die juniors. Maar ons reaksies moet paslik verskil sodat dit by sy inisiatiewe kan aansluit en ‘n paslike geheel daarmee kan vorm. By ‘n bollens pas ‘n hollens. By sy gesag pas ons gehoorsaamheid, by sy genade ons dankbaarheid, by sy onveranderlike trou ons vertroue, by sy beloftes ons hoop.
Dit is nie vreemd dat ons met dankbaarheid begin nie. Ten minste in die Gereformeerde tradisie was dit altyd een van die sentrale woorde vir ons houding teenoor God. Gereformeerdes vat die hele evangelie saam as sonde, verlossing, dankbaarheid.
Ons dankbaarheid is die paslike reaksie op God se genade. God is die genadige God. Sy genade is nie net onverdiend nie, maar is van wesenlike belang vir ons omdat ons sonder hierdie gesindheid van God onherroepelik verlore sou gewees het. Daarby pas net dankbaarheid met ons hele hart, ‘n lewensdaad van toewyding waardeur ons Hom dank en eer.
Sy genade het Hom duur gekos, onvoorstelbaar duur. Wat regtig op die spel was toe die Vader besluit het om die Seun te stuur, en die Seun besluit het om te gaan, sal ons ons moeilik kan indink. As Paulus skryf dat God sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom terwille van ons oorgelewer het (Rom 8:32), bedoel hy ook dat die Vader die Seun moes prysgee en in die steek laat toe die Seun Hom die nodigste gehad het (aan die kruis!). En dit het Hy – én sy Seun – nie vir hul vriende gedoen nie, maar vir hul vyande! – ons.
Wat sou van ons kant daarby pas? Ons reaksie sou paslik en geloofwaardig gewees het as ons te ver probeer gaan het, teveel probeer gee het, meer as wat ons kan, té groot offers vir Hom gebring het sodat daar niks vir ons self oorbly nie, as die apostels die vroeë Christene moes vermaan om minder te gee, minder vir God en vir mense in nood op te offer, ander mense minder in ag te neem. Dit sou ‘n mens kon begryp: dat ons oorboord gaan in ons reaksie op so ‘n oorvloedige genade.
Maar wat gebeur? Die vroeë Christene – en ons – doen voortdurend te min, hulle – en ons – is onwillig en traag, moet voortdurend aangespoor en aangepor word. Dit pas nie. Waar kom so ‘n reaksie dan vandaan? Onbegryplik! Dit is presies wat ons bedoel met die onbegryplikheid van die sonde. Die feit dat ons die Here nie ons hele lewe lank met onbeperkte oorgawe en ywer dien nie, maar dat Hy ons nogtans verdra en geduldig met ons aanhou, is ‘n ongelooflike getuienis van hoe groot sy genade is.
Daar is ook ‘n ander kant aan hierdie saak. Daar is ‘n gevaar in die eensydige beklemtoning van genade en dankbaarheid. Om genade en dankbaarheid te beklemtoon, is onontbeerlik. Ons is totaal verdorwe, nie in staat tot enigiets wat ons heil by God kan verdien nie. Dit is nét genade dat ons gered kan word. Ons is alles wat ons het, ja, meer as wat ons het, aan Hom verskuldig vir sy genade. Dit is die evangelie.
Maar dit kan op so ‘n wyse beklemtoon word dat ons die eer van God beklemtoon ten koste van die waardigheid van die mens. Ons probeer God al groter dink – wat reg is – maar dan dink ons ons kan God net regtig groot dink as ons die mens al kleiner dink. Dan eindig ons met slagspreuke soos: God is alles, die mens is niks.
Agter hierdie benadering sit die bekende konkurrensiemodel: God en mens staan teenoor mekaar. Hoe groter of belangriker ‘n mens die een beskou, hoe kleiner en onbelangriker moet die ander een wees. Sommige eksistensialiste was oortuig dat daar nie ‘n God kan wees as die mens vry is nie. Sommige teoloë is oortuig dat God se uitverkiesing die mens se keuse uitsluit. Daar is dikwels ‘n groot argument of weergeboorte of bekering (God of mens) eerste kom. God en mens word dus in ‘n konkurrensiemodel teenoor mekaar geplaas in plaas van in ‘n verbondsmodel verbonde aan mekaar.
Dit is tog juis die verbondenheid wat belangrik is in heelwat tradisies in die Bybel. Dink maar aan Psalm 8. Waar word die mens hoër gestel as juis hier? Mense is net ‘n klein bietjie minder as hemelse wesens, hulle is met aansien en eer gekroon – normaalweg beskrywings van God, hulle heers oor God se handewerk, alles is aan hulle onderwerp. ‘n Ongelooflike hoë posisie wat aan die mens toegeskryf word.
Bedreig dit vir God? Of is dit eerder Hy wat hieragter sit? Daar is geen woord wat meer in hierdie Psalm voorkom as `U’ nie, ‘n verwysing na God. Hy het die mens so groot, hoog en belangrik gemaak. Kan Hy dit waag? Sal die mens Hom nie bedreig nie? Die mens sal, as God ‘n klein of selfs net ‘n gemiddelde God was. Maar Hy is die groot Koning van die hele wêreld, Skepper van hemel en aarde. Hy word nie bedreig as iemand anders eer ontvang nie. Hy gee dit trouens sommer self.
Immers as ons as God se beeld geskep is, en Hy is so groot en heerlik, moet ons iets besonders wees om in staat te wees om iets van sy grootheid en heerlikheid in ons lewe te reflekteer. Sal hierdie oortuiging ons nie hoogmoedig maak nie? Nie as ons die geskiedenis onthou nie, nie as ons onthou hoe sleg ons hierdie hoë posisie hanteer het en hoe duur ons redding Hom gekos het nie. Dan sal dit net ons dankbaarheid vergroot dat Hy sulke moontlikhede vir ons geskep het, dat ons deur sy genade tot sulke hoogtes kan styg. Dit is juis te meer tot sy eer dat Hy sulke wonderlike skepsels soos mense gemaak het.
En dat Hy ons regtig uit die modder van ons sonde optel en ons voete op ‘n rots sit, dat Hy ons deel gee aan sy Seun se opstandingslewe wat die sonde oorwin en volkome aan God toegewy leef.
Die gevaar van die eensydige beklemtoning van genade en dankbaarheid asof dit beteken dat ons nooit êrens kan kom nie, is dat ons sal lewe met ‘n houding van: `Ja Baas, dankie Baas’ en nie as die nuutgemaakte sondaars wat deel in die verheerlikte Seun se oorwinningslewe nie. ‘n Houding van dankbaarheid waarin ons God nie geniet nie en nie opgewonde is oor die nuwe lewe nie, is vreugdeloos, wetties, moralisties.
Daarteen word ons beskerm deur die vreugde van die evangelie.
2. Vreugde
Die Bybel is vol van vreugde en blydskap. Mense loof die Here omdat hulle bly is. Die Westminster Kategismus verklaar dat ons lewensdoel is om God te verheerlik en Hom te geniet. Veral die Psalms ken blydskap. Dit sal ‘n interessante Bybelstudie wees om na te gaan presies waaroor die Psalmdigters alles die Here loof en prys.
Daar is ‘n merkwaardige uitspraak in een van die Psalms: `U troue liefde is meer werd as die lewe; daarom sal ek U prys’ (63:4). As dit die woorde van ‘n Griekse filosoof was wat in die onsterflikheid van die siel geglo het, kon ‘n mens dit nog verstaan dat iets vir hom meer werd kan wees as hierdie lewe. Sokrates het skynbaar inderdaad gedink die dood gaan hom vrymaak van sy liggaam wat sy bewegings so beperk het, sodat sy siel ongehinderd deur die ruimtes kan sweef na die vreugde van die Gode. Vir hom was hierdie lewe dus nie so belangrik nie.
Maar Jode het nie in die onsterflikheid van die siel geglo nie en in hierdie tyd nog nie van die opstanding uit die dood geweet nie. Niks was vir hulle belangriker as hierdie lewe nie. Behalwe vir hierdie Jood! Vir hom is God se liefde belangriker.
Gelowige Jode van daardie vroeë tyd het net van een geleentheid geweet om die Here te geniet en te loof, en dit was hierdie lewe. En omdat die gemeenskap met Hom meer as alles in hul lewe was, was die dood vir hulle skrikwekkend. `In die doderyk kan niemand U loof nie; geeneen wat dood is, kan U prys nie; niemand in die graf dink aan u trou nie! Net hulle wat nog lewe, kan U loof’ (Jes 38:18-19).
Maar dan is dit ‘n vraag of Ps 63:4 regtig sin maak. God is vir die digter meer werd as enigiets anders. Maar hy kan God net in hierdie lewe geniet. Dan kan God se liefde mos nie meer werd wees as hierdie lewe nie. Waar wil hy God se liefde geniet as hy hierdie lewe verloor? Streng genome ‘n sinlose uitspraak. Maar só is inderdaad baie van ons liefdes-uitsprake. `Ek vreet jou sommer op’ sal een geliefde vir ‘n ander sê. Streng genome sinloos want dan kan ek haar mos nie meer liefhê nie. Maar wat ‘n verruklike uitspraak.
‘n Merkwaardige gedagte: niks is vir hierdie gelowige Jood belangriker as die gemeenskap met God nie. Die sin van sy lewe is om God te lowe. En die sin van jou lewe?
Vreugde is een van die wonderlikste ervarings in ‘n mens se lewe.
Daar is ‘n verskeidenheid dinge waaroor ‘n mens kan bly wees soos as jy ‘n doel bereik het of daar ‘n verrassing op jou pad gekom het. Oomblikke van blydskap is oomblikke waaraan ons wil vasklou. Die tyd moet stilstaan.
Maar vreugde is baie broos. Dit breek maklik, en ‘n mens kan dit nie kunsmatig organiseer nie. ‘n Vakansie kan ‘n nagmerrie word in plaas van die groot wegbreek waarna almal uitgesien het, bloot omdat persoonlike verhoudings skeefloop. Plesier en jolyt is ook nie regtig vreugde nie. Die volgende dag is ‘n mens gewoonlik skaam daaroor.
Vreugde en spel is nou aan mekaar verbonde. Dis lekker om te speel. Ongelukkig het ons speel met kinders geassosieer asof dit onwaardig is vir grootmense. Verder het ons spel in sport verander wat so ‘n intensiewe kompetisie geword het dat dit vandag dikwels voltydse, harde werk is. Die element van argelose, onbekommerde spel en ontspanning het daaruit verdwyn. Daarmee het ons ‘n wonderlike deel van ons lewe ingetrek in ons Westerse lewensbeskouing dat die sin van ons lewe in werk en prestasie bestaan, in plaas van in verbondenheid, lewensvreugde en liefdesdiens. Ons moet wen, en ons kinders moet eerste kom. Daar is soveel mense wat nie regtig meer kan niks doen nie, vir wie vrye tyd ‘n bedreiging is. En juis omdat ons werkesels (werkesels!) geword het, geniet ons ook nie meer ons werk nie. Ons werk nie om te leef nie, ons leef om te werk.
Dit is ‘n basiese lewenshouding.
Vreugde en geluk is ‘n alternatiewe lewenshouding. Paulus noem vreugde as deel van die vrug van die Gees, en die vrug van die Gees is nie insidentele ervaringe nie, maar ‘n lewenshouding. Daarom lees ons: `Wees altyd bly in die Here’ (Fil 4:4). Daar is baie redes waarom ons kan bly wees oor ons verbondenheid aan Jesus Christus. Twee daarvan is dat ons ou sondige en ongelukkige lewe saam met Hom aan die kruis beëindig is, en dat ons deel het aan sy oorwinningslewe oor die sonde en die dood.
Hierdie oortuigings maak van ons vrolike, gelukkige, optimistiese mense. Ons het moed en entoesiasme om die uitdagings wat God oor ons pad bring, aan te pak.
Vreugde manifesteer in verskillende vorme wat dikwels met die geaardheid van die persoon saamhang. Dit kan gepaard gaan met uiterste liggaamlike betrokkenheid – Israel was nie skaam om hulle vreugde en lof voor die Here met liggaamsbewegings en luide sang en musiek uit te basuin nie. Maar dit kan ook stemmig en innig beleef word. Dit is opvallend dat ‘n mens van vreugde kan lag én kan huil!
Dit is ‘n twyfelagtige oortuiging dat ‘n mens oor alles moet bly wees en die Here onder alle omstandighede en selfs vir alles moet loof. Daar is mense wat oortuig is Hy verwag dit van ons. Dit kan egter nooit so wees nie. Nóg Israel nóg die apostels het Hom vir alles geloof. Die profete kon sterk te velde trek teen dit wat verkeerd was, die Jode in ballingskap kon weier om Hom te loof – en terég! (Ps 137) Paulus kon hard praat met ‘n gemeente wat weer die wet en die besnydenis wou gebruik om deur God geregverdig te word. En dan dink ‘n mens nog nie eens aan al die onreg en lyding in die wêreld nie. Sou dit nie heiligskennis wees (‘n skending van God se heiligheid) om die Here te loof oor Auschwitz of oor apartheid nie – en selfs net oor een kindjie wat mishandel word nie?
Wanneer iets gebeur waaroor God Hom nie kan verheug nie, kan sy kinders ook nie. En daar gebeur soveel téén sy wil, dat ons ook bereid moet wees om te huil van teleurstelling en ontsteltenis, en in heilige opstand te kom teen onreg en onnodige lyding. Wie nooit huil nie, kan ook nie lag nie. Wie nooit ontsteld is nie, kan nooit bly wees nie.
As ons God met blydskap loof, is dit ‘n teken dat ons dankbaarheid eg is en nie ‘n aangeleerde plig of ‘n nuwe wet nie.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.
Skrywer: Prof Adrio König