Laat sy Liefde jou Lei: Hoe sien jy die wêreld?

Laat sy Liefde jou Lei: Hoe sien jy die wêreld? – Milanie Vosloo

Hoe sien jy die wêreld?

Jou oog is ‘n lamp vir jou liggaam. ‘n Suiwer oog laat die lig na binne stroom sodat jy daarbinne geheel en al lig word. Matteus 6:22

 

Wat laat jou hart klop? Is dit jou omstandighede, die sukses in jou werk, die kwaliteit van jou verhoudings, jou besittings of jou prestasies? Of is daar iets anders wat jou lewenskwaliteit bepaal? Iets wat jou góéd laat voel?

 

Dis belangrik om mooi oor hierdie vrae te dink. Want, sê Jesus hier in sy bergrede: die manier hoe jy na die lewe kyk, bepaal hoe jy dit beleef. As jy eksterne dinge as belangrik beskou, sal die kwaliteit en waarde daarvan verseker jou hele wese beïnvloed. Wanneer jy egter deur die Lig in jou na die wêreld kyk, sien jy alles in en om jou in ‘n totaal ander lig. Dan beoordeel jy jouself, dit wat met jou gebeur, ander mense en dinge met ‘n ander maatstaf: dan meet jy die waarde daarvan met die ewigheid-skaal.

Wanneer aardse dinge tussen jou en God staan, “ … versper dit die lig en jou binneste bly (jy) geheel en al donker. As die lig wat jy gedink het jy het, in werklikheid donkerte is, hoe pikswart is jou donker dan nie!” (Matt 6:23)

In alles wat met jou gebeur en in elke mens is daar lig én donker. Die ingesteldheid van jou hart bepaal egter waarop jy fokus. Mag jy vandag die wêreld deur God se liefdeslig in jou sien.

Plaas u lig in my, Gees van God: u heilige lig van liefde.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Geloofsvrae: Vryheid

Geloofsvrae: Vryheid – Adrio König

Vryheid 

Hoe ons die mens sien, hang af van hoe ons God sien. Ons is immers geskape om in ‘n verbondsverhouding met Hom te leef en om sy beeld te wees. Ons sal dus by Hom leer wie ons is en hoe ons behoort te leef.

Toe ons gevra het wie en hoe God is, was die eerste twee eienskappe van God wat ons behandel het, sy liefde en sy vryheid. Dit is dus gepas om dié twee ook te behandel as die eerste twee eienskappe van die mens. As God die Een is wat in vryheid liefhet, en die mens is sy beeld, moet die mens ook in vryheid liefhê.

Natuurlik sal ons vryheid, net soos ons liefde, maar net ‘n flou skaduwee van God s’n wees, maar iets van hoe Hy vry is, moet in ons lewe blyk want daarvoor is ons geskape.

Daar bestaan groot verskille oor die mens se vryheid. Reeds onder die ou Grieke was daar uiteenlopende beskouings. Daar was die oortuiging dat jy net vry is as jy nie onder ‘n tiran staan nie. Ander het gemeen ons is eers vry as ons oor ons drifte en hartstogte beheer het. ‘n Derde groep was oortuig dat ware vryheid beteken dat ‘n mens vry is van die wêreldse dinge sodat jy jou kan onttrek en in afsondering leef. Vandag is daar nog steeds interessante vryheidsbegrippe. Sommige sien ons vryheid as ‘n las. As vrye wesens is ons ‘n abnormale verskynsel in die res van die wetmatige werklikheid. Dis juis ons vryheid wat lei tot al die ellende in die wêreld. Ons is gedoem tot vryheid. Daarteenoor is daar ‘n groot groep wat die vryheid sien as die hoogste goed. Elke mens is vry en hierdie vryheid is ons mees basiese reg wat ten alle koste beskerm moet word. Daar moet so min as moontlik sosiale beperkinge wees sodat mense hul aangebore vryheid kan uitleef en waarlik gelukkig kan wees.

Dit is nie moeilik om kritiese vrae aan hierdie vryheidsbegrippe te vra nie. Om maar net by die laaste een stil te staan, is dit waar dat ons ons vryheid sal geniet as ons geen sosiale bindinge het nie? Is dit nie dalk nader aan die waarheid dat sosiale bindinge ons help om nie ons drange onbeheersd te volg en juis ons eie en ander se lewens in ongeluk te dompel nie? Is ons vry gebore of is ons slawe van die sonde?

Staan ons nie nog ‘n keer voor die feit dat ons nie ons mensbeskouing uit mense se werklike lewe kan aflei nie, maar net uit God se bedoeling met ons? Ons is nie vry as die Seun ons nie vrygemaak het nie, maar ons behoort vry te wees, want só het God ons bedoel.

Wat beteken dit om vry te wees?

Vryheid lê nie op dieselfde vlak as liefde nie, nie in die geval van God nie, en ook nie wat mense betref nie. As liefde die inhoud van ons menswees is, is vryheid die vorm. Ons is nie geskape om vry te wees nie, maar om lief te hê. Ons leer dit by God. God se wese is nie sy vryheid nie. Sy wese is sy liefde. Sy vryheid is die manier waarop Hy liefhet. Hy is vry van selfsug sodat Hy kan liefhê. En Hy het ook vir ons vry geskape sodat ons kan liefhê. Vryheid is die infrastruktuur van die liefde. As ons vryheid ons nie langer help om lief te hê nie, het ons ons vryheid verloor.

Dit staan skerp teenoor heelwat ander oortuigings. Veral nasionalistiese bewegings sien vryheid as ‘n waarde op sy eie. Hulle sal stry en selfs ander doodmaak vir hul vryheid. Hoeveel oorloë is nie al vir `ons vryheid’ geveg nie! En watter rol het vryheid nie die afgelope dekades in die politiek in Suid-Afrika gespeel nie!

Daarteenoor staan Christelike vryheid in diens van die liefde. Die ander persoon of groep is nie ‘n inperking of ‘n bedreiging van my vryheid nie, maar ‘n geleentheid om hulle in vryheid lief te hê.

Hierdie standpunt help ons ook om die ou bekende onderskeiding tussen formele vryheid en materiële vryheid te hanteer. Formele vryheid is keusevryheid, die vermoë om ‘n besluit te kan neem. Materiële vryheid of inhoudelike vryheid is die vermoë om reg op te tree, dit is vryheid om lief te hê.

Ons sien dit alreeds by God, en juis omdat ons by Hom leer hoe ons as sy beeld behoort te wees, is sy vryheid belangrik om ons te help om te verstaan wat Hy met ons vryheid bedoel.

God se vryheid is sy vermoë om lief te hê. Ons kan dus verwag dat minstens ‘n analogie daarvan in ons vryheid sigbaar moet word.

Kom ons pas hierdie oortuigings toe op Adam en Eva se sonde (Gen 3). Adam en Eva sondig in die tuin. Hulle is aan God ongehoorsaam.

Hoe is dit moontlik? Gewoonlik word gesê dat God hulle met vryheid geskape het en dat hulle hierdie vryheid misbruik het. Die veronderstelling is dat hulle vryheid formele keusevryheid was. God het hulle die vermoë gegee om te kies en hulle toe voor ‘n keuse gestel. Dit word dikwels die `proefgebod’ genoem. Hulle kies dan verkeerd. Dit is natuurlik vreeslik jammer, maar God moes hulle noodwendig met hierdie vryheid skep anders was hulle soos diere of robotte. Liefde moet vry wees om die naam liefde werd te wees. Gedwonge liefde is nie liefde nie.

Die `voordeel’ van hierdie verklaring is dat ‘n mens skynbaar kan verstaan hoe dit moontlik was dat Adam en Eva gesondig het. Om mense te hê, en nie robotte of diere nie, het God geen ander keuse gehad as om hulle te skep met die moontlikheid om te sondig nie.

Van hier af loop die paaie dan uiteen. Die meeste Christene sal aanvaar dat dit jammer was dat dinge só geloop het, maar dat God genadiglik ingegryp het en verlossing bewerk het. Maar daar is sommige wat nie hiermee tevrede is nie. Hulle voel dat dit nie aan God reg laat geskied nie. Hy is nie maar net die magtelose toeskouer wat ons laat begaan en later reageer op die foute wat ons maak nie. Hy is die een wat vooraf alles bepaal wat gebeur, en daarom moet ons aanvaar dat Hy ook die sonde beskik het. Gewoonlik word as verklaring aangebied dat Hy wel bepaal het dat hulle sal sondig, maar dat hulle skuldig is omdat hulle in vryheid gesondig het. Dit is so ongeveer die sieninge van Calvyn.

Intussen het daar natuurlik al heelwat ernstige probleme om die hoek begin loer, so ernstig dat ‘n mens ‘n ander benadering moet oorweeg – al moet ons vooraf goed besef dat elke siening sy eie probleme sal oplewer sodat ons op die ou end maar moet kies wat vir ons die mees bevredigende lyk.

Die probleme is natuurlik eerstens dat dit ‘n vreemde soort vryheid is wat God dan vir die mens sou gegee het. Dit is ‘n vryheid wat geen verband het met sy vryheid nie, terwyl die mens as sy beeld tog geroepe is om sy vryheid te weerspieël. God se vryheid beteken nie dat Hy kan kies of Hy wil sondig of nie(?!). Sy vryheid is die infrastruktuur van sy liefde. Sy vryheid beteken dat Hy vry is van alle selfsug, vry van willekeur, nie gebonde aan sy hoë posisie nie, sodat Hy kan neerbuig en geringes kan liefhê.

As ons vryheid analoog aan syne moet wees, sal dit seker verband hou met sy vryheid en daarom ook met die NT se vryheidsbegrip waarvolgens die Seun ons vrymaak sodat ons vry is van die sonde, vry om lief te hê en God met ons hele hart te dien. Waarom sou God ‘n vreemde vryheid in sy beeld inbou wat geen verband met sy eie vryheid het nie?

Trouens dit bring ons by die tweede probleem. Is dit waar dat Adam en Eva hul vryheid (verkeerd) gebruik het toe hulle gesondig het nie? Moet ons nie eerder aanneem dat hulle hul vryheid verloor het deur te sondig nie? Het hulle nie in terme van die NT slawe van die sonde geword nie?

Die derde probleem is dat God hulle nie in die tuin voor ‘n keuse stel en vra dat hulle moet reg kies nie. Hy wys vir hulle ‘n weg, die enigste begaanbare weg: Hy verbied hulle om verkeerd te doen en gebied hulle om reg te doen. Dit is nie ‘n keuse nie. As Hy hulle voor ‘n keuse gestel het, kon Hy hulle nie agterna kwalik neem as hulle die keuse uitoefen nie.

Dit is dus beter om liewer die vryheidsbegrip te kies wat baie sterk in die NT ontwikkel het: materiële, inhoudelike vryheid, vry van die mag van die sonde en die duiwel, vry om God te kan dien en ons naaste lief te hê. Dit is vryheid as die infrastruktuur van die liefde, analoog aan die vryheid van God.

Dit kom sterk na vore in ‘n interessante uitspraak van Paulus: `Julle is tot vryheid geroep … dien mekaar dan deur die liefde’ (Gal 5:14). Dit is met die eerste oogopslag ‘n teenspraak. Kan ‘n mens tegelyk vry wees én dien, veral as ‘n mens besef die Griekse woord vir dien is slawediens? Slawe kan tog nie vry wees nie? Nie? Het Jesus nie die vorm van ‘n slaaf aangeneem nie, en was dit nie die sterkste getuienis dat Hy vry was om só ver in sy liefde te gaan nie? As Hy uitgelewer was aan sy heersersposisie, ‘n gevangene van sy goddelikheid, was Hy nie vry om te dien nie. En ons is geroepe om sy beeld te vertoon. Is ons dan nie juis vry as ons ons vryheid gebruik om in liefde te dien nie?

Vryheid is die regte gebondenheid. Israel is uit hul slawegebondenheid uit Egipte bevry om voortaan aan God gebonde te wees en daarom vry van slawerny. Maar telkens as hulle hierdie (regte en goeie!) gebondenheid aan God prysgegee het, het hulle in die slegte gebondenheid van slawerny verval (o.a. in die ballingskap). Onthou ons is aan die Verbondsgod gebonde, maar ook verbonde omdat ons by Hom geborge is.

Met liefde en vryheid het ons twee van die analoë eienskappe van ons menswees behandel. Die beginsel waarvolgens ons gewerk het, is die feit dat ons bedoel is om die beeld van God te wees en dus (analogies) iets van sy wese en lewe te reflekteer, iets van sy liefde en sy vryheid. Ons sou op dieselfde wyse by Hom iets kan leer van ander eienskappe wat die mens behoort te hê soos heiligheid en geduld.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die bose oog en die beswering daarvan

Die bose oog en die beswering daarvan – Kobus Kok

In die oorspronklike Griekse Nuwe Testament lees ons van die ponêros ofthalmos, of die bose oog (Luk 11:34; Matt 5:22). Ons vind dikwels in die NT vreemde konsepte wat nie vanuit ons eie kultuur verstaanbaar is nie. Dit is juis waarom die sosiaal-wetenskaplike studie ontwikkel is. Laasgenoemde dissipline in die Nuwe Testamentiese wetenskap is ontwikkel om ons te help om die wêreld van die Nuwe Testament en die antieke tyd waarin Jesus en die eerste Christene geleef het beter te verstaan.

Die geloof in die bose oog, en die feit dat die bose oog jou, jou besittings en familie skade kan aandoen, was ‘n wydverspreide bygeloof in die antieke tyd. Dit was moontlik om iemand skade aan te doen deur met jaloesie of haat na iemand te kyk. Die antieke filosowe van die tyd het geglo dat mens ‘n vorm van energie uit jou oë kan uitstraal en ‘n bepaalde uitwerking op objekte en mense daarmee kan uitoefen. In die Babiloniese Talmoed lees ons byvoorbeeld dat daar geglo is dat 99% van alle slegte dinge wat gebeur die resultaat is van die bose oog en die res die gevolg is van natuurlike oorsake (vgl. b. BM 107b; Fiensy 2007:13-14).

 

Juis om hierdie rede was mense baie bang vir die bose oog se gevolge en het hulle allerlei metodes aangewend om die bose oog af te weer. In die Griekse papirus briewe uit Egipte sien ons dit meer as dikwels in die openingswoorde van briewe:

In die eerste plek bid ek dat jy kan eet in goeie gesondheid en nie deur die bose oog iets slegs slegs aangedoen kan word nie (POxy 11.292; 25 CE).

Jou susters en die kinders van Theonis – mag hulle beskerm word teen die bose oog – ek groet jou …” (POxy VI, 930; 2nd to 3rd CE; Fiensy 2007:15-17)

 

Bogenoemde papirus tekste toon aan dat die geloof in die bose oog wydverspreid voorgekom het in die antieke tyd, en dat mense dikwels die seën op hulle vriende toegebid het ter beskerming van die bose oog.

Plutarchus (2de eeu n.C.), een van die bekende filosowe uit die antieke tyd skryf in sy Moralia V 7, 680-683 waarom en hoe die bose oog skade kan berokken: Volgens hom is daar emissies (aporroiai) van partikels deur lewende objekte en veral deur die oog.

Volgens ons verstaan van die funksionering van die oog word lig van buite ingelaat in die oog. Die antieke mense het die teenoorgestelde geglo. Hulle het geglo dat die oog lig of duisternis kan uitskyn en dit ‘n effek kan hê op objekte buite die oog. Deur gewoon na iemand te staar kan jy ‘n negatiewe effek op hulle lewe uitoefen, al bedoel jy dit nie so nie.

Kinders was in die antieke tyd diegene wat die meeste blootgestel was aan die skadelike effek van die bose oog. Daar is geglo dat sommige rasse en volkere soos die Thibaeans van noordelike Pontus dodelike mag deur hulle oë kon uitoefen (Plutarch, V 7, 680-681). Plutarch gebruik die voorbeeld van die effek wat ‘n geliefde se blik op die ander geliefde kan hê as voorbeeld om te argumenteer dat die bose oog krag het. Net so kan die jaloerse kyk van iemand anders ‘n bose effek op jou lewe hê.

Die antieke mense het geglo dat selfs demone kan meewerk aan die negatiewe uitwerking van die bose oog. Indien die jaloerse persoon die bose oog aanwend, dan maak dit die demone ook sommer aktief wat hulle mag gebruik om die persoon skade te berokken. Die filosoof Libanius wat in die vierde eeu na Christus geleef het vertel byvoorbeeld van die drie jongmanne wat hy geken het wat vervloek was deur die bose oog nadat iemand vir hulle komplimente gegee het en ‘n jaloerse demoon nie gehou het van die komplimente wat hulle ontvang het nie (vgl. Libanius Epistle 1403, -2).

 

Die afwering van die “bose oog”

So ver as moontlik moes die antieke mens probeer om ander mense nie jaloers te maak nie. Derhalwe moet mens nie ‘n vertoonkamer van jou besittings maak nie en nie spog met jou kinders nie (h. Taanith 8b; b. BB 141a). Mens moet ook nie te vinnig komplimente gee aan mense nie omdat komplimente hulle skade kan berokken en dikwels ‘n teken is dat iemand jaloers is. Indien iemand vir jou ’n kompliment gee moes jy dit nie aanvaar nie maar afweer. Lofbetuiging kon lei tot iemand se ondergang.

In die Joodse Talmoed lees ons die volgende:

If anyone is going up into a town and is afraid of the evil eye, let him take the thumb of his right hand in his left hand and the thumb of his left hand in his right hand, and say: “I, so-and-so, the son of so-and-so, am of the offspring of Joseph and the evil eye has no power over us. If he is afraid of his own evil eye, he should look at the side of his left nostril (b. Beracot 55b).

Daar was met ander woorde spesiale tekens wat aangewend kon word om die vloek van die bose oog af te weer. Die interessante is dat die antieke mense geglo het dat sommige mense die mag van die bose oog gehad het sonder dat hulle dit regtig bedoel het. Dit kon so erg wees dat sommige mense selfs vir hulself die bose oog kon toedien! (Plutarch, Moralia V, 7, 682).

Sommige moeders was so bygelowig in die mag van die bose oog dat hulle nie die vaders van hulle kinders toegelaat het om na die kinders te kyk nie Plutarch (Moralia V, 7, 682).

Daar was ook ander maniere om die bose oog af te weer, byvoorbeeld om helderkleurige juweelstukke te dra wat die aandag van iemand se bose oog kon aftrek en so die mag van die bose oog minder kon maak (vgl. t. Shabbath 7:23; t. Shabbath 4:5). Mens kon ook drie keer op die grond spoeg (Theocritus 6, 39).

In die antieke tyd, en selfs nog tot en met vandag, het mense amulette gedra met ‘n teken van die bose oog. Hierdie amulette is om die nek gedra

boseoog1

Falliese simbole is ook aangewend as amulette en is om die nek gedra of by die ingang van huise geplaas om die effek van die bose oog af te weer (Moralia V, 7, 681-682):

boseoog2

Fallus in muur om huis se inwoners te beskerm teen Bose Oog (Cf. Van Eck en Kok)

 

boseoog3

Standbeeld met fallus in Pompeii om straat te beskerm teen Bose Oog (Cf. Van Eck en Kok)

 

boseoog4

Vliegtuig van Turkse Lugredery (2009) (Cf. Van Eck en Kok)

 

Hierteenoor lees on die Nuwe Testament hoe Jesus ‘n radikale nuwe boodskap kom gee oor die bose oog en die effek van die bose oog.

Ons lees in Matteus 5:22 en in Lukas 11:34 die volgende

Die lamp van die liggaam is die oog.

Die lamp van jou liggaam is die oog.

As jou oog dan reg is,

As jou oog goed is,

is jou hele liggaam ook verlig;

is jou hele liggaam ook verlig.

maar is dit verkeerd is,

Maar as jou oog sleg is,

is jou liggaam ook donker.

Is jou hele liggaam ook sonder lig.

(Luk 11:34; 1953-vertaling)

(Luk 11:34; NAV)

Die interessante wat Jesus hier doen, is dat Jesus dit duidelik stel dat daar nie so iets bestaan as iets wat van buite jou leed kan aandoen nie. Jesus plaas die fokus op die binnekant van die mens en maan die gelowiges aan om rein van hart te wees. Binne in hulle eie harte moet hulle mense wees wat die Lig van die lewe in hulle dra. Op so ‘n wyse sal hulle mense wees wat ook die goeie aan ander mense doen.

Jesus het soortgelyke argumente gevoer met die Fariseërs. Hulle het geglo dat objekte wat onrein is die mens aan die binnekant kan kontamineer en onrein maak. Jesus wys hulle dan daarop dat dit nie gaan oor die dinge wat die mens in sy liggaam insit deur sy mond wat hom of haar onrein maak nie, maar wel die ding wat uit die mens se hart kom.

Dit is die mooi van die Jesus-boodskap. Jesus het nie net die bygelowige mites van die antieke wêreld afgebreek nie, maar mense gelei tot ‘n lewe van innerlike krag.

Geraadpleegde werke:

Allison, D C 1987. Eye is the lamp of the body (Matthew 6.22-23 = Luke 11.34-36). NTS 33, 61-83.

Elliott, J 1994. Evil eye and the sermon on the mount. Biblical Interpretation 2, 51-84.

Fiensy, D A 2007. Jesus the Galilean: Soundings in a first century life. Piscataway: Gorgias Press.

Malina, B J 2001. The social gospel of Jesus:The kingdom of God in Mediterranean perspective. Minneapolis: Fortress Press.

Van Eck, E., en Kok, J., 2011., Inleiding tot die Sosiaal-Wetenskaplike benadering met toepassing op Matteus, Ongepubliseerde Lesingsmateriaal, Universiteit van Pretoria.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




Geloofsvrae: Liefde

Geloofsvrae: Liefde – Adrio König

Liefde

Ons lei ons mensbeskouing af uit ons siening van God. Toe ons oor God nagedink het, het ons by sy liefde begin. Omdat ons as sy beeld geskape is, is dit dus voor die hand liggend dat ons by liefde sal begin as ons vra hoe God wil hê dat ons moet wees.

Ons moet liefhê soos Hy liefhet. Dit beteken nie dat ons liefde presies soos syne sal lyk nie. Ons liefde kan op sy beste analoog aan sy liefde wees. En wel om ‘n paar redes. Allereers is ‘n beeld (ons) nie identies aan dit wat afgebeeld word nie (God). ‘n Beeld het net ‘n mate van ooreenkoms met die afgebeelde. Maar tweedens is God so oneindig meer en ryker en anders as ons dat sy liefde ons s’n sekerlik ver sal oortref. Dink maar net aan die prys wat sy liefde Hom gekos het. Ons kan tog nooit so ‘n prys betaal nie.

‘n Terloopse opmerking is hier belangrik. Onderstreep die woordjie `moet’ in die eerste sin van die vorige paragrafie. Daar staan nie: Ons is liefde nie, maar: ons moet liefhê. Vergelyk dit nou met die bespreking van God se liefde. Daar word nie een keer gesê dat Hy moet liefhê nie, maar eenvoudig dat Hy liefhet of dat Hy liefde is. Waarom dié verskil? Omdat God is wat Hy bedoel is om te wees, omdat Hy getrou is aan sy wese, terwyl ons nie is wat ons behoort te wees nie. Ons is ontrou aan ons wese, aan dit wat God ons bedoel het om te wees. Dit is ons sonde. Daarom weet ons ook nie goed wat ons eintlik bestem is om te wees as ons dit nie by God leer nie. As ons net na mense kyk en die manier waarop hulle mekaar behandel, weet ons eerder hoe ons nie moet wees nie. Daarom vra ons vir God wie en hoe Hy is, én wie en hoe ons as sy beeld behoort te wees.

Omdat ons sy beeld is, moet ons iets van sy lewenswyse reflekteer. Omdat Hy liefde is, moet ons in liefde leef.

Al sal daar ook groot verskil wees tussen sy liefde en ons s’n, is die eerste saak wat nou ons aandag vra, die ooreenkoms. Ons moet liefhê omdat God liefde is.

Dink vir ‘n oomblik aan die opvallende ooreenkoms: God is liefde, en ons moet Hom liefhê én ons naaste liefhê (Jesus se opsomming van die wet). Omdat ons mensbeskouing in ons siening van God gefundeer is, is ons liefde in sy liefde gefundeer. Of soos Johannes sê: `Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het,’ en `die liefde kom van God’ (1 Joh 4:19,7).

God is wesenlik liefde. Dit is nie so dat Hy onafhanklik van sy liefde bestaan én dan sy liefde agterna kan byvoeg nie. Die twee uitsprake: God is, en God is liefde, sê presies dieselfde.

As ons sy beeld is, geld dit ook van ons. Dan is liefde wesenlik om regtig mens te wees soos God ons bedoel het. Dan is liefde nie iets lofwaardigs wat ons tot ons lewe kan toevoeg om dit nog ryker en mooier te maak nie. Dan het ons lief, of ons leef nie menswaardig nie. Die alternatief op: `Lewe in liefde’ is: anders lewe julle nie regtig nie (Ef 5:2).

Wat is ons liefde? Allereers is ons liefde ‘n beweging weg van ons na ander terwille van hulle. Dit lees ons af uit God se liefde vir ons. Sy liefde het Hom op ander gerig, op ons, om na ons behoeftes om te sien, om ons te behou. Omdat ons sy beeld is, moet ons liefde ook op ander gerig wees, nie op onsself nie. As God se liefde op Homself gerig was, was ons nie verlos nie.

Verder is God se liefde ‘n beweging na onder, na die wat minder is as Hy, na ons wat dit nie verdien nie, wat dit selfs verwerp. Omdat ons sy beeld is, moet ons liefde ook na onder gaan, na die wat minder is en het as ons, na die wat in nood is. Dis lekker om vir die dominee ‘n mandjie lekkernye te vat (die dominee geniet dit ook!), maar wat van die arm mense, die kinderhuis of ouetehuis?

Waarom moet ons ander liefhê? Wel, waarom het God ons lief? God het ons nie lief oor wat ons is nie, maar oor wie Hy is. Ons is nie so aangenaam of waardig dat ons Hom beweeg om ons lief te hê nie. Hy het ons trouens eerder lief ondanks onsself. Hy het ons lief net omdat Hy ons wil liefhê. Hy motiveer self sy liefde vir ons. Daarom kan Hy onwaardiges liefhê, selfs mense wat sy liefde verwerp. Sy liefde hang nie van ons af nie, maar net van Homself. Dit mag dus nie ‘n vraag by ons wees of ander ons liefde werd is nie. Ons mag hulle nie terwille van hulle waarde liefhê nie. Terwille waarvan dan?

Die dwaling lê voor die hand om te sê: Soos God self sy liefde vir ons motiveer, moet ons ook self ons liefde vir ander motiveer. Soos Hy ons net terwille van Homself liefhet, moet ons ander net terwille van onsself liefhê. Immers dit gaan om analogiese liefde, ons moet liefhê soos Hy. Maar enige analogie is nie goed genoeg nie. As ons self ons liefde moet motiveer, sal ons nie liefhê nie – behalwe vir onsself, en selfliefde sal ons onder die sonde behandel! (39.5)

Genadiglik neem Hy altyd die inisiatief. Dit is een van die wesenlike kenmerke van die verbond (10.1 en 27). Daarom moet ons ander liefhê omdat Hy hulle liefhet. Soos Hy self sy liefde vir ons motiveer, motiveer Hy self ook ons liefde vir ander. Dit beteken dat ons ander moet liefhê al verwerp hulle ons liefde.

En dan is daar nog ons liefde vir Hom. En hier is die een uitsondering op die reël, wat egter tegelyk ook die reël bewys. Tot dusver het die voorwerp van die liefde nie die liefde gemotiveer nie. Die persone wat ons moet liefhê, hoef nie ons liefde te verdien nie, net soos die persone wat God liefhet, ook nie sy liefde verdien nie. Maar as ons God liefhet, verdien die Voorwerp van ons liefde duisend maal dat ons Hom sal liefhê! Ons het Hom lief oor wat Hyself is. Ons motiveer nie ons liefde vir Hom nie, Hy motiveer ons liefde vir Hom. Hy is meer as wat ons ooit kan besef. Maar wat ons van Hom besef, gee ons alreeds meer as genoeg rede om Hom lief te hê met alles wat ons is en het.

Terloops, die feit dat ons so traag is met ons liefde vir Hom, is deel van die onbegryplikheid van die sonde (40).

Dit beteken dat die reël bevestig is: God motiveer self alle vorme van liefde: sy liefde vir ons, ons liefde vir ander, en ons liefde vir Hom. Dit bevestig wat Johannes geskryf het: `Die liefde kom van God,’ en: `Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het’ (1 Joh 4:7,19).

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König