Laat sy Liefde jou Lei: Die Gees bid vir jou

Laat sy Liefde jou Lei: Die Gees bid vir jou – Milanie Vosloo

Die Gees bid vír jou!

Julle het die die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God: Abba – ons liewe Vader. Romene 8:15b 

Soms kan ons eenvoudig nie bid nie! Dis asof ons self nie mooi weet wat ons nou eintlik vir God wil sê of vra nie. Of ons weet dalk wat ons wil hê, maar kan net nie met Hom kontak maak nie. Ander kere ontbreek die regte woorde eenvoudig.

Die Woord leer ons egter dat ons nie altyd hóéf te weet wat en hoe ons moet bid nie. Want die Gees doen daardie werk vír ons. Ons kan maar net ons gedagtes op Hom rig en vra: “Bid vir my, Gees van God.” Paulus se brief aan die Romeine stel dit so mooi:

Die Gees van God help ons ook nog boonop met ons onbeholpenheid. Ons weet immers nie mooi wat en hoe ons moet bid nie. Maar die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugting wat nie in menslike taal verwoord kan word nie. Dié God wat die dieptes van elke hart deurgrond, weet wat die Gees in die oog het – dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowiges intree. En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy wil vir hulle lewe. (Romeine 8:26-28)

Fokus op hierdie oomblik jou gedagtes net op die Gees in jou en weet dan: Hy tree reeds vir jou in.

Sal U gedurig vir my bid, asseblief Heilige Gees?

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Geloofsvrae: Die eienskappe van die mens

Geloofsvrae: Die eienskappe van die mens – Adrio König

Die eienskappe van die mens 

Dit is nie so dat ons mense is en dan verder ook nog in ‘n verhouding met God staan nie. Ons verhouding tot God is wesenlik vir ons menswees. Hierdie verhouding behels dat ons sy bondgenoot en beeld is. Ons roeping is om in verbondenheid aan Hom te leef en sy beeld, sy manier van lewe, te vertoon. Dit is natuurlik ‘n vraag of dit nie darem ‘n bietjie hoog ingesit is nie. Sal ons daar kan bykom?

Wat dit in elk geval beteken, is dat ons vir God moet vra wie ons is en hoe ons moet leef. Dit is wat ons daarmee bedoel dat ons ons mensbeskouing op ons siening van God bou (fundeer).

Om God se bondgenoot en sy beeld te wees, is twee kante van dieselfde saak. As sy bondgenoot moet ons by Hom inpas. Die verbond is ‘n verhouding. In hierdie verhouding het God die inisiatief geneem en bepaal wat sy rol sal wees én wat ons s’n sal wees. Omdat Hy God is, neem Hy die inisiatief, en ons moet reageer. Hy spreek die oorspronklike woord, en ons moet ant-woord. Ons woord kan nie dieselfde wees as sy woord nie, dit moet ‘n paslike ant-woord wees. Om te pas, moet dit juis anders wees, maar paslik anders. Omdat Hy gesag het, sal ons antwoord pas as dit gehoorsaamheid is. Omdat Hy genadig is, sal ons paslike antwoord dankbaarheid wees. Omdat Hy getrou is, moet ons Hom antwoord met vertroue en geloof. Omdat Hy die God van die toekoms en die beloftes is, sal ons paslik antwoord met hoop.

Ons kan hierdie eienskappe van die mens komplementêre eienskappe noem, `aanvullende’ eienskappe, eienskappe wat anders as God s’n is (ons is na alles nie God nie), maar paslik anders, wat die ontbrekende pool in die verhouding aanvul. By gesag pas tog gehoorsaamheid, by getrouheid vertroue. Dit pas soos ‘n hollens by ‘n bollens. Só bepaal die feit dat ons sy bondgenote is, hoe Hy bedoel het dat ons moet wees en lewe.

Maar daar is ook ‘n ander reeks menslike eienskappe wat ons kan aflei uit die feit dat ons ook die beeld van God is. Dit beteken dat ons iets van Hom in ons lewe moet reflekteer. Ons moet soos Hy lewe, vergewe, liefhê, barmhartig wees, ens. Dit dui op ‘n bepaalde ooreenkoms. Hierdie eienskappe moet met syne ooreenstem, al sal dit altyd op sy beste maar net ‘n analogie, ‘n beperkte ooreenkoms wees. Ons is immers nie God of goddelik nie. Ons kan dus ook van ons analoë eienskappe praat.

Omdat God liefde is, moet ons liefhê, omdat Hy vry is, moet ons vry wees, omdat Hy heilig en geduldig is, moet ons heilig en geduldig wees.

Ons het hier dus ‘n tweede stel eienskappe van die mens wat ons uit God s’n aflei. Hierdie keer gaan dit om ooreenstemmende (analoë) eienskappe, nie om eienskappe wat anders is en daarom komplementerend is nie. In komplementerende eienskappe gaan dit om die verskil tussen God en mens (die verbond), en in analoë eienskappe om die (beperkte!) ooreenkoms (ons is sy beeld).

So probeer ons uit ons siening van God aflei hoe ons as mense bedoel is om te wees.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Belydende Christen wil met ‘n Moslem trou – wat nou?

Belydende Christen wil met ‘n Moslem trou – wat nou? – Kobus Kok

‘n Leser vra:

As belydende lidmaat met ‘n Moslem wil trou wat is die implikasies en verskille?

Antwoord

Dr Kobus Kok antwoord:

Van die vroegste tye in die Nuwe Testament het gelowiges met hierdie tipe vrae te doen gehad. Sommige huweliksmaats het Christene geword, in ‘n huis en gesin waar die dominante geloof Judaïsme was. Petrus was een van Jesus se dissipels. Hy het in 1 Petrus 3:1 die volgende raad gegee vir vrouens wat Christene geword het – en wie se mans nie Christene was nie:

1Pe 3:1 Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word

1Pe 3:2 as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het.

1Pe 3:3 Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie,

1Pe 3:4 maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.

1Pe 3:5 Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig,

1Pe 3:6 soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie.

1Pe 3:7 Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.

In die antieke tyd moes vrouens onderdanig wees aan mans – dan is hulle goeie vroue. Wat Petrus dus sê, is dat jy baie sensitief moet wees om binne die raamwerk van die kultuur waarbinne jy staan, op so ‘n wyse op te tree dat mense in daardie kultuur sal voel dat jy ‘n goeie en deugvolle vrou is. Petrus moedig die vrouens aan om innerlike skoonheid en reinheid te weerspieël en so hulle mans tot God te lei.

Ek weet van ‘n Moslem vrou wat tot bekering gekom het terwyl sy getroud was met ‘n Moslem man. Sy het egter aangehou om die kleredrag te dra wat vir die Moslems as eervol beskou word en die gebruike en gewoontes van die Moslems bly respekteer. Sy het presies gedoen wat Petrus voorstel. Inteendeel, haar man het skielik beleef dat hierdie vrou van hom baie verander het. Inteendeel, sy het ten goede verander vandat sy ‘n Christen geword het! Uiteindelik het die man na baie jare tot bekering gekom omdat die nederige integriteit en voorbeeld van sy vrou hom oortuig het van God se krag in haar lewe. Haar blote leefstyl was die sterkste getuienis. Ons getuienis moet van so ‘n aard wees dat ons woorde gebruik net as ons moet.

Ongeag of dit kultuurverskille, ouderdomsverskille of geloofsverskille is, trou is vir altyd. Mens moet baie mooi gaan dink en bid of die persoon waarmee jy wil trou wel die persoon is wat vir jou bedoel is. Luister fyn na jou hart, na die Here en na jou gesin en vriende. Indien jy lank en mooi daaroor gebid en dink het, dan maak jy jou keuse.

Gaan lees gerus meer oor die Moslem geloof by http://en.wikipedia.org/wiki/Muslim

Die basiese verskil tussen die Christendom en die Islam is:

  • Die Bybel is die Woord van God vir die Christene. Vir die Islam is die Qur’an die woord van God deur die profeet Mohammed aan mense en dit is die finale openbaring van God aan die mensdom.
  • Die Christendom glo dat God geken word deur sy Woord. Die Islam glo dat God geken word deur die Qur’an.

· Die Christendom glo dat Jesus die Seun van God is. Islam glo Jesus was maar net ‘n profeet en Mohammed was God se laaste profeet.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




Geloofsvrae: Die mens as beeld van God

Geloofsvrae: Die mens as beeld van God – Adrio König

Die mens as beeld van God 

1 Ons, of iets in ons? 

Net so beslissend as wat ons verbondenheid aan God vir ons menswees is, is die feit dat ons geskape is om sy beeld te wees. Trouens om sy beeld te wees, is eintlik net ‘n onderdeel van ons verbondenheid aan Hom. Dit omvat ‘n bepaalde faset van ons bondgenootskap.

Daar is min aspekte van ons menswees wat in die loop van die geskiedenis so breedvoerig bespreek is en ook soveel verskillende standpunte uitgelok het as hierdie allerbelangrikste uitspraak in die Bybel dat ons as sy beeld geskape is (Gen 1:26,27).

Tradisioneel is aanvaar dat die beeld van God iets in die mens is. Ons kry dit nog altyd in die uitspraak dat ons beelddraers van God is, en dat die mens deur die sonde die beeld van God verloor het. Iewers in ons sou ons dus iets ronddra wat sy beeld is en wat ons kan verloor. Sommige het gemeen dit is ons siel, ander ons verstand of ons wil. Die res van die mens is dan as minderwaardig beskou, gewoonlik die liggaam. Dit het as agtergrond sekere strominge in die Griekse filosofie wat die werklikheid in twee dele verdeel het, ‘n goeie, onsigbare, `geestelike’ deel, en ‘n laer, stoflike deel wat die sigbare, materiële dinge is, en die liggaam insluit. Hierdie minderwaardige deel kon nie direk met God in verband gebring word nie. Daarom kon mense nie aanvaar dat die liggaam deel is van die beeld van God nie.

Ons kry die gedagte terug wanneer mense oortuig is dat Bybelskrywers dit nie regtig ernstig kan bedoel as hulle van die ledemate van God (sy hande, voete, oë, ens) of van sy sogenaamde `menslike emosies’ praat nie (soos sy berou). Dit word dan `mensvormige spreke’ oor God genoem wat ons nie letterlik moet opneem nie omdat dit net ‘n aanpassing by ons beperkte verstand is. Dit is egter ‘n vreemde gedagte wat elders bespreek word.

Die soort tweedeling wat tussen ‘n hoër en edel deel van die mens, en ‘n laer en minderwaardige deel onderskei, net soos tussen die geestelike dinge en die stoflike of tydelike dinge, is vreemd aan die Bybel. God het alles geskape, dus is alles goed, elke soort is goed vir dit waarvoor dit bedoel is.

Daar is dan ook nie grond in die Bybel om net ‘n deel van die mens as beeld van God te beskou nie. Die mens is as sy beeld geskape, nie ‘n deel van die mens nie. Daaroor is Gen 1:26-28 duidelik.

2. Die waarde van die mens 

Dat ons as sy beeld geskape is, het besondere betekenis vir ons menswees. ‘n Mens kan ‘n paar dinge in hierdie verband oorweeg.

Eerstens is dit ‘n verrassing dat dit in Gen 1 staan dat ons as sy beeld geskape is. Dit bring ons immers in ‘n baie naby verhouding tot God terwyl daar juis in Gen 1 ‘n neiging is om die skepping skerp van God te onderskei as nie-goddelik, as anders en minder as God. Dit staan skerp teenoor die geloof van sommige van die volke rondom Israel wat baie dinge as goddelik beskou het soos son, maan en sterre. Om dit teen te werk, noem Genesis 1 die son en maan sommer net `twee groot ligte’ wat deur God gemaak en in diens gestel word. Daar is deurgaans die tendens om te beklemtoon dat niks behalwe God self goddelik is nie. Daarom word die geboortevoorstelling ook nie vir die skepping van die mens gebruik nie. Dit kan die indruk skep dat die mense goddelik is.

As die mens dan in hierdie verband die beeld van God genoem word, het dit besondere betekenis. Natuurlik maak dit ons nie goddelik nie, maar dit beklemtoon dat ons naby aan God is, in ‘n unieke verhouding tot Hom wat nie waar is van die res van die skepping nie. In Genesis 2 word dit weer uitgedruk met die voorstelling dat God `lewensasem’ in die kleipop se neus geblaas het `sodat die mens ‘n lewende wese geword het’ (2:7). Dit skep ‘n besonder noue verband tussen God en mens wat nie van die ander skepsels gesê word nie.

Wat verder belangrik is, is die feit dat alle mense as die beeld van God geskape is. Dit was nie in Israel se omgewing vreemd om te sê dat mense as die beeld van Gode geskape is nie, maar dit het net gegeld van besondere mense, veral die koning. Daarom het hy bo alle mense gestaan en was hy met goddelike gesag beklee. Niemand kon dit waag om sy woord teen te spreek nie. Dink maar aan die neiging by sekere Romeinse keisers om `Here’ genoem te word, ‘n aanduiding van goddelikheid.

Die merkwaardige feit is nou dat alle mense volgens Genesis 1 as die beeld van God geskep is. Alle mense het dus gelyke waarde. Daar kan nie onderskeid gemaak word en teen sommige gediskrimineer word nie. Alle mense behoort gelyke behandeling en gelyke regte en geleenthede te geniet.

3. Die inhoud van die beeld 

In watter sin is ons die beeld van God? Wat is die inhoud van die beeld? Dit is nie duidelik uit Genesis 1 nie. Dikwels is gemeen dit is ons heerserstaak (v 26,28) sodat ons die beeld van God is in die sin dat ons namens Hom oor die skepping moet heers, of dit is die feit dat die mense as man en vrou geskape is (v 27), wat beteken dat ons soos God in verhoudinge leef.

Dit is alles belangrike fasette van ons menswees, maar daar is nie voldoende rede om die beeld tot hierdie betekenisse te beperk nie. As ons Genesis 1 noukeurig lees, besef ons dit ook. Dat ons moet heers, word nie as ‘n omskrywing van ons beeldwees aangebied nie, maar as ‘n gevolg daarvan (`sodat hy kan heers’). `Man en vrou’ is ook nie ‘n omskrywing van ons beeldwees nie, maar net meer inligting oor hoe ons geskep is.

Ons moet dus in die res van die Bybel gaan hulp soek. En ons kry goeie hulp!

Eerstens word dit stilswyend aanvaar dat ons ondanks ons sonde nog die beeld van God is (1 Kor 11:7; Jak 3:9). Verder word Christus God se beeld genoem ((2 Kor 4:4; Kol 1:15; kyk ook Heb 1:3), en lees ons dat ons nuwe lewe die beeld van God (Ef 4:24; Kol 3:10) en die beeld van Christus is (en moet wees, Rom 8:29; 1 Kor 3:18).

Hieruit is ‘n paar dinge duidelik. Christus word die beeld van God genoem in ‘n verband waarin dit beklemtoon word dat Hy God openbaar. Die beeld van God moet dus verband hou met wie en hoe God is. Verder is die veronderstelling in hierdie uitsprake dat ons as sondaars nie meer die beeld van God is nie (anders as die vroeëre uitsprake). Daarom word ons opgeroep om in ons nuwe lewe sy beeld te wees (Ef 4) en al meer te word (Kol 3). Ons eindbestemming is dan ook om deur voortgaande vernuwing van ons lewe gelyk te word aan die beeld van Christus (Rom 8:29; 2 Kor 3:18). Daar is terloops geen rede om ‘n onderskeid te maak tussen die beeld van God en die beeld van Christus nie.

Uit die feit dat Christus wat God openbaar, sy beeld genoem word, kan ons aflei dat, omdat ons sy beeld is (moet wees), ook ons Hom in ‘n sekere sin moet `openbaar,’ wat op sy minste beteken dat ons deur ons lewe iets van Hom sigbaar moet maak. En omdat ons ook na die beeld van Christus vernuwe moet word, moet ons natuurlik ook iets van Christus in ons lewe vertoon. Dit herinner ‘n mens aan die belangrike uitspraak dat Christus in ons `gestalte moet kry’ (Gal 4:19). ‘n Moderne Duitse vertaling lui dat die mense in ons lewe moet kan sien wie Christus is.

In hierdie verband is ‘n laaste saak uiters belangrik. Daar is ‘n staande uitdrukking in die Nuwe Testament dat ons `soos God’ en `soos Christus’ moet optree (soos God: Mt 5:48; Lk 6:36; Ef 4:32; Kol 3:13; 1 Pet 1:15-16; 1 Joh 1:5-7, en soos Christus: Joh 13:34; 20:21; Ef 5:2,25; 1 Joh 3: 3,7). Ons moet soos God vergeef, soos Hy in die lig leef, soos Hy heilig wees, barmhartig wees en volmaak wees(!). Verder moet ons soos Christus liefhê, soos Hy in liefde lewe, as mans ons vroue so liefhê soos Hy die kerk liefhet, onsself rein hou soos Hy rein is, en regverdig wees soos Hy.

As ons na die inhoud van hierdie uitsprake kyk, is dit duidelik dat ons in ons hele lewe iets van God en van Christus moet reflekteer. Ons moet soos God en soos Christus leef, optree, reageer.

Dit blyk ewe duidelik uit ‘n ander reeks uitsprake wat ook ons lewe met dié van God en van Christus in verband bring. Ons goeie werke moet mense aan ons Vader herinner, ons moet God se voorbeeld navolg omdat ons sy kinders is, wat natuurlik impliseer dat daar ‘n ooreenkoms tussen Hom en sy kinders is! Dit lei tot ander ooreenkomste: omdat ons sy kinders is, ken die wêreld ons nie, want dit ken Hom nie (Mt 5:16; Ef 5:1; 1 Joh 3:1).

Op dieselfde manier word ons lewe met Christus s’n in verband gebring. Dieselfde gesindheid van nederigheid wat in Christus is, moet ook in ons wees, dieselfde werke wat Hy doen, sal ons ook doen, en dit sal sigbaar wees in sy lewe én in ons lewe dat die nuwe gebod werk (Fil 2:5ev; Joh 14:12; 1 Joh 2:8).

Genoeg. Dit kan min twyfel ly dat ons die beeld van God is (moet wees) in die sin dat ons in ons lewe sy manier van lewe kan en moet weerspieël. En as ons dit besef, besef ons ook hoe onnodig dit is om iets in die mens te soek wat sy beeld sou wees, en veral hoe verkeerd dit is om ons liggaam van die beeld te probeer uitsluit. Dit is juis as liggaamlike wesens dat ons sy beeld is en moet wees.

Die vraag of ons deur die sonde opgehou het om sy beeld te wees, het al deurgeskemer in Bybelaanhalings hierbo. Daar is uitsprake wat impliseer dat ons ondanks ons sonde nog steeds sy beeld is, en ander waarvolgens ons deur die geloof weer sy beeld word. Die twee reekse uitsprake beteken enersyds dat ons as sondaars nie meer sy beeld is nie in die sin dat ons nie soos Hy kan leef en dus iets van Hom in ons lewe sigbaar maak nie as ons in ons sonde volhard nie, maar andersyds dat ons nog altyd in staat is om sy beeld te vertoon as ons ons bekeer en na Hom luister.

Dit klink natuurlik na ‘n opdrag wat ‘n mens moedeloos sal maak om soos God en soos Christus te lewe. Is dit nie darem teveel gevra nie? Dit is, as dit net van ons afhang. Maar wat God as ‘n opdrag gee, gee Hy ook as ‘n gawe.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König