Geloofsvrae: Die mensdom – Adrio König
Die mensdom
Daar is goeie rede om met die mensdom te begin as ons oor die mens wil praat. In beginsel lewe mense nie as enkelinge nie, maar as groepe. Mense se verhoudings is van beslissende betekenis vir die kwaliteit van hul lewe. Hulle kry selfs in ‘n groot mate hul identiteit deur hierdie verhoudings. Daar is ‘n sin waarin elke mens ‘n enkeling is, maar daar is ook ‘n sin waarin elke mens wesenlik deel van een of meer groepe is en nie ten volle mens kan wees sonder die ondersteuning van sulke groepe nie.
Daar is mensbeskouings wat óf die een óf die ander aspek beklemtoon. Die liberalistiese mensbeskouing gaan uit van die mens as ‘n individu met individuele regte. Die tradisionele mensbeskouing van Afrika gaan uit van die groep waarin ‘n persoon gebore word. Van hierdie groep ontvang die individu sy of haar lewe, identiteit en plek in die samelewing.
Daar is natuurlik allerlei kombinasies en variasies van hierdie uiterstes moontlik. Die apartheidsmensbeskouing het net soos die Afrika mensbeskouing die mens se identiteit deur die groep laat bepaal, maar in hierdie geval die ras beskou as die basiese groep waarin die persoon gebore is. Die regte wat elke mens geniet, het afgehang van die ras waarin hy of sy gebore is. Die kommunisme het ook die groep bepalend gemaak, maar die mensdom in net twee groepe ingedeel: die rykes en die proletariaat.
Dit is interessant om in hierdie verband na die Christendom te kyk. Sommige Christengroepe staan taamlik sterk teenoor mekaar. Die Evangelicals en die Pinkster- en Charismatiese tradisies lê groot nadruk op die enkeling. Hulle eis individuele bekering en geloof, en in die meeste gevalle sal hulle net ‘n persoon doop wat self kan glo. Hulle lê ook sterk klem op individuele betrokkenheid van lidmate in die samekomste en kerklike lewe. Die Pinkster- en Charismatiese groepe glo verder dat elke lidmaat ‘n besondere Geestesgawe ontvang waarmee hy of sy die geloofsgemeenskap moet dien.
Vir hierdie beklemtoning van die individu kan ‘n mens jou inderdaad sterk op die Bybel beroep. Wat die OT betref, is daar die besondere nadruk op die enkeling se verhouding met die Here in die Psalms. Die persoonlike verantwoordelikheid kom selfs nog sterker na vore in die NT. Dink maar aan Johannes die Doper en Jesus se sterk beklemtoning van persoonlike bekering, aan die feit dat persoonlike geloof ‘n vereiste is om gedoop te word, aan Paulus se nadruk op regverdiging net deur die (persoonlike) geloof, en aan die nadruk daarop dat elke individuele gelowige ‘n gawe van die Gees ontvang.
Daarteenoor beklemtoon die meeste historiese kerke die onderlinge verbondenheid van mense. Hulle sal babas doop wat in die geloofsgroep gebore word omdat hulle hulle as deel van die geloofsgemeenskap beskou.
Hierdie verskille in beklemtonings loop egter nie altyd op uiterstes uit nie. Die historiese kerke sal nog altyd bekering van opgroeiende kinders verwag, en mense wat van buite die geloofsgemeenskap kom, eers doop nadat hulle hul geloof bely het, en andersyds sal die meeste Evangelicals ook nie regtig hul kinders op dieselfde vlak as heidene beskou nie.
Maar dit lei nie twyfel nie dat die Bybel ook die groepsverbondenheid van mense sterk beklemtoon. Kom ons kyk in meer besonderhede hierna, om dan eers later te vra hoe ‘n mens dan hierdie twee beklemtonings in die Bybel met mekaar in verband moet bring.
Die genadeverbond wat veral in God se verbond met Abraham gestalte kry, en wat as die doel van God se skeppingswerk beskou kan word, is nie net ‘n verbond tussen God en die individu nie, ook nie net ‘n verbond tussen God en die mensdom nie, maar ‘n verbond wat mense ook op ‘n unieke manier onderling aan mekaar verbind. God sluit hierdie verbond, wat deurloop tot in die NT en selfs tot op die nuwe aarde, met Abraham-en-sy-nageslag as ‘n eenheid. Dit beteken dat Hy dit nie met Abraham sluit en agterna met Isak en weer met elke individu nie. Dit is ‘n korporatiewe verbond wat eenmaal gesluit word en waarin al God se kinders dan opgeneem word. Abraham is die vader van alle gelowiges (Rom 4:16) en verteenwoordig almal in die verbond wat God met hom-en-sy-nageslag gesluit het. Dit dui op ‘n merkwaardige onderlinge verbondenheid van alle gelowiges.
Hoe realisties selfs skrywers in die NT hieroor dink, kom mooi na vore in ‘n gedeelte in Hebr (7:1-10) wat andersins nogal vreemd lyk. Ons lees hier van die vreemde en merkwaardige koning Melgisedek. Hy het vir Abraham geseën en toe het Abraham tiendes van sy oorlogsbuit aan hom gegee. Die punt wat die skrywer dan maak, is dat Melgisedek ‘n besonder belangrike persoon moes gewees het, want die Leviete wat normaalweg van die volk tiendes ontvang, het `in Abraham’ tiendes aan Melgisedek gegee.
Maar hoe moet ‘n mens dit verstaan? Die Leviete het tog eers geslagte lank ná Abraham en Melgisedek geleef. Ja, maar `Levi was nog in die liggaam van die stamvader’ (Abraham) toe Abraham vir Melgisedek tiendes gegee het (v10). Dít is korporatiewe denke! In hierdie sin was ons saam met Christus aan die kruis en het ons saam met Hom opgestaan. Maar hieroor elders meer.
Die rolle van Adam en Christus wys in dieselfde rigting. Adam kan as die `verbondshoof’ van die mensdom beskou word. In die OT speel hy nie regtig ‘n belangrike rol nie. Maar in die Nuwe Testament gebruik Paulus hom om die betekenis van Christus te verduidelik. Dit beteken enersyds dat ‘n mens nie Adam moet verselfstandig nie. Hy het nie in homself besondere betekenis nie. Hy is net ‘n tipe van Christus. Paulus het hom net nodig as hy die betekenis van Christus wil verduidelik. Maar as sodanig toon sy betekenis inderdaad dat die mensdom onderling op ‘n unieke wyse aan mekaar verbonde is. Deur sy sonde kom alle mense onder die oordeel van God (Rom 5:12-21, veral vers 18). Net die feit dat alle mense deur hom onder die oordeel kom, word gestel. Hoe dit gebeur het, word nie verduidelik nie. Die rede is waarskynlik juis omdat Adam geen selfstandige betekenis het nie maar net bygebring word om die betekenis van Christus te verduidelik. Want hoe die regverdigheid van Christus die ander regverdig, dít word wel duidelik uitgespel (Rom 6).
Die feit dat Adam se sonde alle mense onder die oordeel van God gebring het, en veral die feit dat Christus se `gehoorsaamheid gelei het tot vryspraak en lewe vir almal’ (Rom 5:18), beteken dat die mensdom so aan mekaar verbonde is dat hulle almal deur een persoon verteenwoordig kan word én almal in een persoon opgeneem kan word. Dit is twee fasette van hulle onderlinge verbondenheid. Ons noem dit die representatiewe (verteenwoordigende) betekenis en die korporatiewe (insluitende) betekenis van Jesus Christus (en van Adam).
Onder die representatiewe betekenis van Christus verstaan ons dat Hy ons (dit beteken die hele mensdom) voor God verteenwoordig deur in ons plek die oordeel van God te dra sodat ons dit nie meer hoef te dra nie. En onder sy korporatiewe betekenis verstaan ons dat Hy ons deur die geloof en die doop in Homself opgeneem het sodat ons saam met Hom aan die kruis was, saam met Hom gely, gesterf, opgestaan en ten hemel gevaar het, tans saam met Hom in God verborge is, en weer saam met Hom sal kom (Rom 6:3-6; Ef 2:5-7; Kol 2:12-14,20; 3:1-4). Dit alles het natuurlik wonderlike betekenis vir ons siening van die heil, maar ons is nou met die mensbeskouing besig. Vir ons mensbeskouing beteken dit natuurlik ‘n ongelooflike onderlinge verbondenheid van die mensdom.
Die begrip korporatiewe persoon (`corporate personality’) is ‘n goeie weergawe van hierdie faset van die manier waarop daar in die Bybel na die mens gekyk word. Israel was in ‘n sekere sin nie net een volk nie maar ook een persoon. Die hele volk was in Abraham opgeneem en deur hom verteenwoordig.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.
Skrywer: Prof Adrio König