Nehemia

Nehemia – Gustav Claassen

Jaco vra:  

Ek is op soek na die boek kommentaar oor Nehemia. Kan u my dalk help asb.

Antwoord:

Dr Gustav Claassen antwoord:

Wat die vraag rondom ‘n kommentaar oor die boek Nehemia betref die volgende:

Daar bestaan gewoonlik ‘n hele verskeidenheid van kommentare oor ‘n spesifieke Bybelboek. Kommentare word geskryf met sekere vertrekpunte en ook moontlike potensiële verbruikers in die oog. Om hierdie rede sou sekere kommentare dalk meer akademies van aard wees en ander  weer meer populêr. Sommige lesers sal ‘n kommentaar wil gebruik om die teks in diepte te ondersoek en ander sou dalk meer die behoefte hê om dit bloot te gebruik as ‘n Bybelstudie. ‘n Meer akademiese kommentaar sal ‘n verwysingsraamwerk  by die leser veronderstel rondom bv agtergrond en ‘n taal soos Hebreeus. Dit is altyd belangrik om die behoefte van die verbruiker en sy verwysingsraamwerk te verreken wanneer ‘n keuse tov ‘n spesifieke kommentaar uitgeoefen word. Met dit as agtergrond kan na die volgende kommentare gekyk word en ‘n moontlike keuse gemaak word.

Kommentare wat meer akademies georiënteerd is:

  •  Blenkinsopp, J 1989. Ezra-Nehemiah(OTL). SCM: London.
  •  Clines, DJ 1992. Ezra, Nehemiah, Ester (NCBC). Eerdmans: Grand Rapids.
  •  Kidner, k 1979. Ezra and Nehemiah: An introduction and commentary. Wheaton: Intervarsity Press.
  •  Throntveit, MA 1992. Ezra-Nehemiah. Louisville: John Knox Press.

Kommentare wat meer ‘n ligter aanslag het is:

  • Achtemeier PJ 1985. Harpers’s Bible Dictionary. San Francisco: Harper&Row Publishers Inc.
  • Dunn, JDG & ROGERSON, JW(eds) 2003. Eerdmans Commentary on the Bible. Grand Rapids: Eerdmans.
  • Matthews, VH, Chavalas, MW & Walton, JH 2000. The IVP Bible background commentary: Old Testament. Downers Grove, IL: Intervarsity Press.

Vosloo, W & van Rensburg, FJ (reds), Die Bybellennium Eenvolumekommentaar. Vereniging: CUM.

 

Skrywer: Dr Gustav Claassen




Laat sy Liefde jou Lei: Waarom het Hy die Gees gestuur?

Laat sy Liefde jou Lei: Waarom het Hy die Gees gestuur? – Milanie Vosloo

Waarom het Hy die Gees gestuur?

Die “Here” dui hier op “die Gees” en waar die Gees van die Here is, heers daar vryheid. 2 Korintiёrs 3:17

Sonder die Gees van God sou ons brandarm kinders van die Heilige gewees het! Want sonder Hom sou ons hoegenaamd nie in staat wees om soos sy kinders te lyk nie. Daarom het ons alwetende Vader, ná die hemelvaart van sy Seun, ons met die teenwoordigheid van sy Gees geseёn het. Dié Gees wat:

  • persoonlik in elkeen van ons kan leef;
  • ons daarvan kan oortuig dat ons kinders van God is;
  • ons help om as vervulde geloofsmense te leef; en
  • ons wil lei om geestelik te groei.

 

In 2 Korintiёrs 3:18b verduidelik Paulus dit soos volg: … Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ‘n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee.

Die Gees is dus daar om ons op ‘n dinamiese manier te lei en gedurigdeur te hervorm sodat God al hoe meer sigbaar in ons lewens kan word. Hoe meer ons Hom toelaat om dit te doen, hoe duideliker word sy beeld in ons en hoe meer sal ander agterkom dat die Gees ons voortdurend verander.

Terwyl Christus die brug tussen ons en God gebou het, is die Gees daar om ons te oortuig om oor die brug te stap! Stap jy elke dag getrou agter Hom aan?

Gees van God, maak my ontvanklik vir u werking in my lewe en help my om U getrou te volg.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Geloofsvrae: Die aarde of die hemel

Geloofsvrae: Die aarde of die hemel – Adrio König

Die aarde of die hemel – waar is ons tuiste?

Die Bybel begin én eindig met die hemel en die aarde (Gen 1 en Open 21-22). Maar in beide dele gaan dit eintlik om die aarde, in Gen 1 om die oorspronklike aarde, en in Openbaring 21-22 om die nuutgemaakte aarde.

Dit het simboliese betekenis dat die Bybel só begin en eindig. Daar is bepaalde sentrale sake in die Bybel: God, die mense, en die aarde. As ons hulle in verband met mekaar wil dink, is dit: God in gemeenskap met die mense op die aarde. Wat is dit anders as die verbond, en hoe sou ons God se skeppingsdoel beter kon omskryf?

Maar wat dan van die hemel?

Daar is ‘n sin waarin hemel en aarde ‘n eenheid is (soos in Gen 1:1 en Open 21:1), maar daar is ‘n sin waarin hemel en aarde teenoor mekaar staan en ons tussen hulle moet kies. As ons klaar gekies het, kan ons terugkom en hul weer as ‘n eenheid aanvaar.

Hemel en aarde staan teenoor mekaar in die sin dat daar baie Christene is wat negatief teenoor die aarde staan en ‘n sterk verlange na die hemel het. Alles wat met die aarde en die `tydelike lewe’ te doen het, is minderwaardig. Dit gaan net om die geestelike dinge, en die vooruitsig om hemel toe te gaan. Hulle sleutelvraag aan ‘n ongelowige is: As jy vannag doodgaan, gaan jy hemel toe?

Daar is ‘n vroomheid en ‘n toewyding agter hierdie verlange na die hemel waaroor ‘n mens net dankbaar kan wees. Dit is meestal mense wat die Here regtig liefhet en ‘n hart het vir ander mense wat nie die Here ken nie. Maar dit beteken nog nie dat ons nie kan nadink en vrae vra oor hierdie oortuiging nie.

As hemel en aarde só teenoor mekaar geplaas word, wat moet ‘n Christen se keuse regtig wees? Gaan dit nie in die Bybel om die aarde nie? Het God nie die aarde gemaak om hier in gemeenskap met ons te leef nie? Kom God nie aarde toe as Hy gemeenskap met Adam en Eva wil hê nie? Kies Hy nie vir Abraham om in ‘n spesifieke land op aarde vir Hom ‘n volk te bou nie? Kom bly Hy nie in die tempel by hulle nie? Kom Hy nie in Jesus aarde toe om ons te verlos nie? Kom die Gees nie aarde toe om die verlossing van Jesus in ons lewe en in die wêreld in te dra nie? Red Hy ons nie om ons hier op aarde ‘n taak te gee nie? Bring Hy nie uiteindelik die nuwe Jerusalem na die nuwe aarde toe nie? En kom woon Hy nie dan finaal by ons op die nuwe aarde nie?

As dit alles waar is, beteken dit net dat God getrou is, dat Hy sy oorspronklike doel met sy skepping nie laat vaar nie: om ‘n aarde te maak waar Hy in gemeenskap met ons wil leef.

En die hemel? Daar is ‘n sin waarin die hemel ‘n bietjie buite die wêreld van mense lê. ‘n Mens lees selfs in die Psalms: `Die hemel is net vir die Here, maar die aarde het Hy vir die mense gegee’ (Ps 115:16). In die OT is dit dan ook die uitsondering as iemand hemel toe gaan (Henog, Elia). In die grootste deel van die OT is daar min sprake van ‘n hemelverlange of selfs van ‘n verwagting van lewe na die dood. Mense se vrees is dat hulle gemeenskap met God hier op aarde verbreek sal word. Hulle juig as God hulle van die dood red sodat hulle verder op aarde kan leef en die gemeenskap met God kan geniet. Hiskia is die klassieke voorbeeld (Jes 38), maar die Psalms is vol daarvan (Ps 6:5-6; 13:4-6; 18:5-7; 23:3-6; 30:3-6, en nog baie verder aan). Hulle geluk lê in ‘n `vol’ (lang en voorspoedige) lewe in gemeenskap met God op aarde, en as hulle hierdie voorreg geniet het, sterf hulle tevrede. Dink maar aan Abraham (Gen 25:7-8), Dawid (1 Kon 2), Job (Job 42:17) (9.1).

En dit klop met heelwat lyne in die Bybel. Allereers het ons reeds gekyk na wat ‘n mens die eerste eenrigtingstraat in die geskiedenis sou kon noem: die voortdurende beweging van God na die mense op die aarde. Die aarde as die plek waar God met mense werk. Verder is daar ‘n sterk verband tussen die mens en die grond. Die mens word nie net gevorm uit grond nie, maar die woord `adam’ het ook verband met `grond.’ ‘n Mens dink ook nog aan die merkwaardige rol wat die land speel as deel van God se verbond met Abraham, ‘n nadruk wat behou word in die NT as die landsbelofte uitgebrei word na al die kinders van God en na die hele aarde: `Geseënd is die sagmoediges want hulle sal die nuwe aarde ontvang’ (Mat 5:5). In lyn hiermee kry ons ‘n aantal beloftes wat direk die toekoms van die aarde raak soos die merkwaardige profesie oor die groot vrede op aarde (Jes 11:1-10).

En dan kan ‘n mens nie die merkwaardige einde van die laaste boek in die Bybel vergeet nie waar daar in besonderhede ingegaan word oor die eindbestemming van die mense in God se teenwoordigheid: ‘n nuwe (nuutgemaakte) aarde, die nuwe Jerusalem, die strate, poorte, geboue, die groot rivier met die bome, en die volke wat daarheen stroom. Dit is ‘n aardse prentjie van idilliese vrede en geluk wat ingelui word deur die belofte van alle beloftes: `Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God’ (Open 21:3).

Aan die einde kom God op aarde by sy kinders woon. En die hemel? Maar is die hemel dan nie juis waar Hy is nie? As Hy na ons toe kom, kom die hemel seker saam. Dan is ons op die aarde in die hemel. Dan sal dit regtig `hemel op aarde’ wees. Dít is ‘n gesonde hemelverlange.

Dit alles beteken dat die aarde ‘n sentrale rol in die omgang van God met die mense speel. Ons het op aarde ‘n roeping, en hier moet ons die Here verheerlik, nou, en tot in alle ewigheid.

Dit is jammer dat daar soorte teologie en vroomheid is wat mense vervreem van hul woonplek. ‘n Joodse teoloog het die Christene beskuldig van verraad teen die aarde. En die ander beskuldiging dat dit by uitstek Christene en Christelike oortuigings is wat lei tot die uitputting van die aarde se hulpbronne en tot die besoedeling van lug en water, is ongelukkig nie van alle waarheid ontbloot nie.

Dit moet vandag as een van die hoogste roepings van die kerk beskou word om met alle mag mee te werk aan die beskerming van ons omgewing vir die nageslag. Die `oplossing’ van die probleem wat deur sekere Christengroepe voorgestel word, dat die ekologiese krisis net nóg ‘n teken van die einde is en dat Jesus juis die aarde sal verwoes as Hy weer kom – en les bes, dat ons in elk geval nie soveel belang by die aarde het nie omdat ons hemel toe gaan – is net nóg ‘n voorbeeld van dié soort oortuiging wat agterna – as dit te laat is! – net stil verdwyn sonder dat iemand verder verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.

God het vir ons ‘n skoon aarde gegee. Dit is deel van ons heiligmaking dat dit binne-in ons, en rondom ons, sal skoon wees.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




God se Verbond met Abraham

God se Verbond met Abraham – Francois Malan

Vraag

Elizabeth wil weet:

Wat is God se verbond met Abraham?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:
In Genesis 12:1-3 word vertel dat die Here Abram roep en van sy belofte aan Abram. In 13:13-17 word sy beloftes herhaal en uitgebrei. In 15:18-21 word van die sluiting van die verbond vertel. In 17:4-9 word die verbond bevestig, Abram se naam verander na Abraham (as vader van baie nasies), die besnydenis word as teken gegee, en die inhoud van die verbond word beskryf as: Ek sal jou God wees en die God van jou nageslag. Wat van Abraham verwag word, word in 17:1 gesê: Lewe naby My en wees opreg. Nadat hy tot die uiterste getoets was of hy Isak sou offer in gehoorsaamheid aan die Here, en aan die Here gehoorsaam gebly het, herhaal die Here sy beloftes (22:16-18).

Met die uittog van Israel uit Egipte (1230 v.C.) sluit die Here met hulle ‘n verbond by Sinai en gee aan hulle sy gebooie wat op plat klippe geskryf is (Eks 34:28).

Deur die eeue het Abraham (wat ongeveer 1700 v.C. geleef het) se nageslag die verbond met die Here verbreek en ander gode gedien. Daarom word die 10 noordelike stamme van Israel in 722 v.C. na Assirië in ballingskap weggevoer, en die twee suidelike stamme in 586 v.C. na Babilon (Jer.22:8,9). Die Here belowe egter dat Hy ‘n nuwe verbond met sy volk gaan sluit (Jer.31:33) deur sy woord op die harte van mense te skryf en in hulle gedagtes vas te lê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees (vgl. Hebreërs 8:8-13).

Lk 1:70-75 word na die Here se verbond met Abraham verwys en dat dit met die geboorte van Jesus vervul word (vgl. Hand.3:25-26). In Romeine 4 verwys Paulus na Abraham se verhouding met God wat reggestel is deurdat Hy in God geglo het. So word elke mens se verhouding met God reggestel deur in Christus glo, op Hom te vertrou en vir Hom te lewe. In Romeine 8 beskryf hy hoe God sy wet in ons harte skryf, deur die Heilige Gees wat permanent in ons kom woon om ons geloof in Christus te gee en van ons kinders van God te maak wat Hom al beter begin gehoorsaam.

 

Skrywer: Prof Francois Malan