Gaan ons hemel toe?

Gaan ons hemel toe? – Francois Malan

Vraag:

Marilize vra:

Waar in die Bybel staan dit dat die kinders van die HERE hemel toe gaan? Ek lees in die woord dat ons na ons dood by die Here gaan wees, in die paradys (volgens Jesus self), die nuwe Jerusalem ens. Volgens die Bybel is die hemel die troon en woonplek van God. Is dit dus slegs ‘n aanname of afleiding dat ons hemel toe gaan?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

  1.   Wat is die hemel?

Die begrip ‘hemel’ word in die Bybel met verskillende betekenisse gebruik (hemelruim, wolke-hemel, sterre-hemel, ens.). Dikwels word van die God van die hemel gepraat (bv. Ps 33:13,14; Dan 2:18; Jona 1:9; Jes 63:15; Deutr. 4:36; Mark 1:11; Mat 5:48), met die gedagte dat die hemel God se woning is. Daarmee word allereers klem gelê op God se majesteit en heerlikheid, sy radikale andersheid en verhewenheid, sy heiligheid en ontoeganklikheid. Daarmee word gesê dat God nie van hierdie wêreld is nie, maar van ‘n ander wêreld. Die woord ‘hemel’ word dan ‘n beeld wat mense maklik kan verstaan.

Maar God is ewig en alomteenwoordig, en ons kan Hom nie op ‘n plek vaspen nie. Daarom bid Salomo by die inwyding van die tempel: Kyk, die hemel, die hoogste hemel, kan U nie bevat nie (1 Kon.8:27). Paulus sê vir die Grieke: Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy is die Here van die hemel en die aarde, en Hy woon nie in tempels wat mense gemaak het nie (Hand. 17:24).

Die hemel is die aanduiding van God se teenwoordigheid en optrede: Vgl. bv. Jakob in die oop veld buite die stad Bet-el in Gen 28:16,17: hierdie plek is die huis van God, die poort van die hemel; in die braambos (Eks.3:2); op die berg Sinai (Eks.24:16); in die midde van sy volk (Eks.25:8); in Jerusalem (1 Kron.23:25), op Sion (Ps.9:12); in Christus (Joh.14:10-11); deur die Heilige Gees woon Hy ook in ons (Rom 8:9-11). Waar God is, is die hemel.

Maar God word nie in sy skepping vasgevang nie. Hy is radikaal anders as sy werke, Hy bly die Skepper bo sy skepping. Die word uitgedruk met die uitspraak dat God in die hemel is.

  1.   Kinders van die Here gaan hemel toe

1 Petr.1:4 sê, daar is ‘n erfenis wat vir ons in die hemel bewaar word (vgl. Kol. 1:5). Openb. 21:1 praat van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde, en v3 dat die woonplek van God nou by die mense sal wees. Flp 3:20 sê ons is burgers van die hemel. Ef 2:6 dat Christus vir ons ‘n plek saam met Hom in die hemel gee. 2 Kor 5:1,2 dat ons ‘n vaste gebou in die hemel het, en dat ons verlang dat ons deur ons hemelse woning oordek word. Lk10:20 dat ons name in die hemel opgeskryf word. Mat 6:20 dat ons vir ons skatte in die hemel moet bymekaarmaak (vgl. Mat.19:21).

Met die ‘hemel’ word daarna verwys dat ons ‘by God/Christus sal wees’ (Flp.1:23), vir ewig, en sal deel in sy heerlikheid. Openb. 21 se beskrywing van die hemel is simbolies. Die nuwe Jerusalem is ‘n simbool van God se teenwoordigheid, die stad waar Jesus gewerk en gesterf het; so ook die tuin van Eden waar God openlik en sigbaar met die eerste mense verkeer het. Dit is nie ‘n plek waar ons volgens ons eie wil teen God se wil kan gaan lewe nie, maar waar ons ten volle sal wil om sy wil uit te lewe. Paulus sê, dan sal God alles wees vir alles (1 Kor 15:28).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




1 Korintiërs 15

1 Korintiërs 15 – Francois Malan

Vraag

Willie vra:

1 Korintiërs 15 :23-28 het betrekking. As ‘n mens die gedeelte lees wil dit amper voorkom asof daar seker magte of vyande van God is wat nie onder Sy beheer is nie . Dit kan tog nie, want God is almagtig . Of beteken dit dat God wel mag oor hulle het en hulle in elk geval aan Homself gaan onderwerp en dat dit in elke geval in Sy volmaakte tyd gaan gebeur en dat hulle doodgewoon nie Sy heerskappy erken nie , daarom moet Hy hulle aan Homself onderwerp- Kan u dalk n bietjie uitbrei oor die gedeelte asb.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

  1.  God se almag

(vgl. onder baie meer: Openb.1:8; Jes.1:24; Jer.32:18; Job 36:5; Ps.24:10; Mat.19:26; Rom.1:20; 2 Kor 6:18; Ef.1:19-22)

Oor die almag van God bestaan daar baie misverstand en on-Bybelse opvattings. Hy is bv. nie in staat tot iets wat nie met sy wese ooreenstem nie. 2 Tim.2:13 sê Hy kan Homself nie verloën nie, Num.23:19 dat Hy nie kan lieg nie, Jak.1:13 dat Hy niemand in versoeking lei nie, ens. Sy almag is nie ‘n mag wat alles onderdruk en oorweldig soos ‘n tirannieke demoon, soos ‘n noodlotsmag nie.

Die almag van God is die mag van sy wil, en sy wil is in harmonie met sy wese. Hy het die mag om te skep, sy skepping te onderhou, en tot die eindbestemming te lei wat Hy daarvoor gestel het. Hy kan beloftes maak en sy beloftes vervul. Hy kan sy Seun na die wêreld stuur om Homself vir die sonde van die wêreld op te offer. Hy stuur ook die Heilige Gees om die werk van sy Seun in die lewe van mense toe te pas en van die ou wêreld ‘n nuwe wêreld te maak. Sy almag is die mag om sy heerskappy uit te voer. Dit doen Hy in wysheid volgens sy geregtigheid en heiligheid. Sy mag is ook die mag van sy reg wat Hy bepaal.

Hy het die mens geskep en aan hom mag gegee wat hy self moet uitoefen (Gen.1:28). Hy het vir die mens ruimte geskep om op te tree en sy mag te gebruik, selfs te misbruik (Gen.2:16,17). Hy het die uiteindelike oormag oor mense (en die Bose) om selfs hulle verkeerde optrede vir sy doel in te span, en om van die mens rekenskap te eis vir sy gebruik van die mag wat God aan hom gegee het. Die doel van die mag wat Hy aan die mens gegee het, is om Hom en sy doel met die mens daarmee te dien. Die inskakeling van die mens en sy mag om in vryheid op te tree is ‘n bepaalde manier waarop God sy almag uitoefen. Ook daarin kan die mens God se almagtige teenwoordigheid beleef. Geen enkele aspek van die wêreld of wêreldgebeure is uit God se almagsregering uitgesluit nie, ook nie die mens met sy vryheid om sy mag wat aan hom gegee het te gebruik nie.

In Efesiërs 3:14-21 verduidelik Paulus hoe die krag van God in ons werk deur die Heilige Gees wat in ons kom woon het, en dat die krag van God juis bestaan in die liefde. Dit is met sy liefdeskrag, wat Hy aan die kruis vir ons kom bewys het, dat God die mens wil oortuig om sy wil te doen. Hy wil dit nie met mag en geweld doen as dit nie nodig is nie, maar dat ons Hom uit liefde sal dien, want 1 Joh 4:7-21 sê dat God liefde is – dit is die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees onder mekaar. In daardie liefdesverhouding wil God ons intrek deur sy Gees in ons, sodat ons ook sal liefhê, vir Hom en vir mekaar.

  1.  Magte en vyande van God wat nie onder sy beheer is nie

Die Bybel impliseer dat God ook engele geskep het as geeste in diens van God (Hebr.1:4-14; Ps 103:20,21); dat sommige van hulle ook die mag, wat God aan hulle gegee het, misbruik. Uit selfverheffing en hoogmoed aanvaar hulle nie hulle status onder God nie, kom in opstand daarteen (Judas 6; 2 Petr.2:4; Joh.8:44; Luk 10:18; 1 Tim 3:6; vgl. Openb.12:4,7-11); dat hulle die mense verlei om in opstand teen God te kom, om soos hulle ongehoorsaam te word aan God (Gen.3.4-5; Ef.2:2; 2 Kor.4:4). Ef.6:12 sê ons is betrokke by die stryd teen die Bose magte in die lug. En ons wapens teen hulle is die volle wapenrusting van God: nl. waarheid, God se geregtigheid, bereidheid om die evangelie te verkondig, geloof in Christus, God se verlossing te aanvaar, met die woord van God as ons wapen, en gebed.

  1.  1 Kor 15:24-28 (waarin Paulus Ps 8:6-7 en Ps 110:1 as sy argument gebruik)

Paulus beskryf Christus wat uit die dood opgewek is, se heerskappy vanuit die hemel. Hy het alle heerskappye, magte en kragte aan die kruis onttroon, kragteloos gemaak. Maar Hy is nog besig om dit uit te werk in die lewe van mense (en engele). Daar is nog verset teen sy koningskap van nederige liefdesdiens, teen sy manier van dink, lewe, glo en verwag. Mense verset hulle daarteen en verkies om volgens die tradisie te leef (dit was altyd so, as argument), die behoud van die bestaande orde (om soos Jesus te leef sal chaos beteken), volgens ons bose harte (moenie die mens te hoog aanslaan nie!), ons lewe vir ons self, vir ons selfbehoud, om my status te behou of te verbeter (selfs ten koste van ander), ons logiese argumente stuit teen Christus se selfverloëning. Daar is talle argumente teen Christus se heerskappy wat vra dat ons mekaar vergewe, verdra, liefhê soos onsself. Met die stryd teen onsself is die Heilige Gees wat in ons woon daagliks besig om ons te oortuig, sodat ons al meer soos Christus sal word (2 Kor.3:18).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Laat sy Liefde jou Lei: Wie is Hy?

Laat sy Liefde jou Lei: Wie is Hy? – Milanie Vosloo

Wie ís Hy?

Die Skrif sê tog: “So seker as Ek lewe, verklaar die Here, elke knie sal voor My buig, elke tong sal bely dat Ek God is.” Romeine 14:11

Om naby aan God te leef en Hom lief te hê, moet ons eers weet Wie Hy is. Kom ons hoor wat sê die Woord vir ons oor ons Here:

  • God is in die eerste plek ons Skepper, lees ons in Genesis 2:27a: God het die mens geskep na sy beeld …
  • God is ons Verlosser. Ons kan onsself nie van ondergang en die dood red nie. Net Hy kon. En omdat Hy ons lief het, hét Hy. God het die mens só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Johannes 3:16  
  • God is die Heilige Gees: dié Gees wat elke dag in ons lewens werk. Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: “Ek sal my Gees uitstort op elke mens.” Handelinge 2:17b
  • God is die enigste werklike God. Psalm 24:10 Wie is die roemryke Koning? Die magtige Here, Hý is die roemryke Koning.
  • God is die Een wat, tot met sy wederkoms, onverpoos vir ons sorg. Die Here is my herder; daar is niks wat my ontbreek nie. Psalm 23:1

God ís inderwaardheid dit wat net Hy kan wees! En dan sê Hy vir ons: Ek wil jóú persoonlike Geesgenoot wees.

Ek eer U, Vader – vir u grootheid en vir u groot liefde vir my.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Geloofsvrae: Die ekologiese krisis

Geloofsvrae: Die ekologiese krisis – Adrio König

Die ekologiese krisis 

Dit ‘n algemene oortuiging dat die natuur menslike lewe bedreig, en dat een van die waardes van ons kulturele ontwikkeling is dat dit ons teen die dreigende en vyandige natuur beskerm. Onder natuurbedreiginge verstaan ons droogtes, haelbuie, orkane, aardbewings, vuurspuwende berge, en nog baie ander, in Afrika veral ook roofdiere en giftige slange. Mense wat dit in die sogenaamde `vrye en ongerepte natuur’ inwaag, neem omtrent die hele stad met al sy geriewe saamneem om hul lewe te beskerm en te vergemaklik: gewere, tente, blikkieskos, medisyne, en noem maar op.

Ewe skielik het ‘n nuwe insig egter deurgebreek, en wel dat die verhouding vir die eerste keer in die geskiedenis ook omgekeer moet word: nie net dat die natuur die mense bedreig nie, maar dat die mense die natuur bedreig. En dit is ‘n baie omvattender, genadeloser en fataler bedreiging as wat die natuur ooit vir ons ingehou het. Dink maar aan die paar groot bedreiginge: omgewingsbesoedeling, hulpbron-uitputting, oorbevolking, kernwapens.

Een van die ironieë is dat dit veral die kulture is met ‘n sterk Christelike invloed wat die bedreiging veroorsaak. Sommige beskou dan ook inderdaad die Christene as die grootste bedreiging, en wys daarop dat Christene juis lank daarop geroem het dat juis die Bybel (Gen 1:26-28) hul gehelp het om die natuur te ontgoddelik en op dié wyse die vryheid te kry om die natuur tot die mense (d.i die Westerse mense) se voordeel te ontwikkel en te gebruik. Dit het tot ‘n ongekende selfsug en natuuruitbuiting gely, en vandag staar die hele wêreld die ekologiese krisis in die gesig.

Hierdie krisis het die wêreld een gemaak soos nog nooit tevore nie. Daar is nie grense aan besoedeling, uitbuiting en oorbevolking nie. Die besoedelde lug van Oos-Europa word oor die hele wêreld gewaai, die uitputting van die olievoorraad gaan alle lande beïnvloed, en die uitroeiïng van die Amasone-oerwoud sal die suurstof oor die hele aarde verminder. Die arm lande kry die swaarste onder die krisis, want die ryk lande kan betaal vir die hulpbronne wat hulle benodig vir die suiwering van hul eie omgewing (skoon water en lug) – met die gevolg dat hulle die hulpbronne nog verder uitput!.

Hierdie krisis kan nie anders as deur ‘n gesamentlike poging van alle lande aangepak word nie. Christene behoort ‘n leidende aandeel hierin te neem. Die Christelike evangelie, tesame met die Joodse geloof, bied sterk motivering om die natuur te bewaar. Immers ons het die aarde van God gekry as die ruimte wat Hy geskep het waar Hy in liefdesgemeenskap met ons wil leef. Die perspektief dat die nuwe aarde hierdie ou aarde is wat Hy wil nuut maak, bied grond vir ‘n besondere waardering vir die aarde en die natuur. Ons het teenoor Hom die verantwoordelikheid om die woonplek wat Hy ons gegee het en waar Hy in gemeenskap met ons wil leef, skoon te bewaar.

‘n Verdere implikasie is dat vermoënde Christene ‘n eenvoudige leefwyse sal aankweek, minder spandabelrig sal leef, en ‘n groter deel van hul vermoë sal wy om lewensruimte te skep vir die agtergeblewenes.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König