Geloofsvrae: Die geskape werklikheid – Adrio König
Die geskape werklikheid
1 Nie goddelik nie, maar ‘n eenheid
Dat God alles geskep het, beteken dat die skepping ‘n begin het, dat dit nie ewig is nie, nie goddelik is nie, dat daar trouens niks goddeliks in die skepping is nie. Dit gee ons die vrymoedigheid om aan die geskape werklikheid te werk, om dit te beheers en te vorm, soos Hy ons trouens beveel het (Gen 1:26-28).
In ‘n sekere sin kan ons die Bybel se skeppingsverhale as die groot sekularisering (`ontgoddeliking’) van die skepping beskou. Dink net hoe lasterlik Gen 1:14ev moes klink vir die volke wat geglo het die son en die maan is gode, en hoe ondenkbaar maanreise vandag nog sou gewees het as ons geglo het die maan is ‘n God. As sekere dele van die geskape werklikheid goddelik was, sou ons beperk gewees het in wat ons kon doen. Maar nou glo ons dat alles geskape is, dat daar nie sekere stukke grond is wat die Gode s’n is sodat ons dit nie mag ploeg nie, of sekere diere wat goddelik is sodat ons hulle nie mag gebruik nie. Nou het ons die vrymoedigheid om die werklikheid te ondersoek en te vorm.
Intussen het dit egter ook duidelik geword dat ons ons opdrag verkeerd verstaan het, veral in die Weste. As niks in die skepping goddelik is nie, is ons self ook nie! Dan mag ons nie die skepping beskadig en vernietig asof dit ons s’n is en ons dit net vir ons eie selfsugtige gerief kan uitbuit nie. Trouens ons moet altyd onthou dat die skeppingswerk van God baie duidelik in die Bybel as ‘n eenheid voorgestel word. In die skema van Gen 1 skep Hy selfs op dieselfde dag die diere en die mens. Al is dit dus so dat daar ook sterk klem gelê word op die verskil tussen mens en dier, en dat die mens die kroon van die skepping is en die enigste wese wat na die beeld van God geskep is, is dit ewe belangrik dat ons en die res van die skepping in dieselfde proses geskape is, en dus naby aan mekaar staan en een groot eenheid vorm.
Die natuurwetenskaplikes het ons geleer dat die aarde een groot ekosisteem is waarin alles onderling van mekaar afhanklik is, sodat ons nie straffeloos een deel kan vernietig en dink die res gaan intakt bly nie.
2 Soos God dit wil hê
Die voorstelling dat God alles geskep het en verder dat Hy uit niks geskep het, beteken dat Hy nie in sy skeppingswerk gebonde was deur die beperkinge van ‘n oerstof nie. Die werklikheid lyk dus soos Hy dit wil hê. Ons lees selfs dat Hy gesê het dit is goed. Dit beteken minstens twee dinge.
Eerstens kan ons verwag dat iets van Hom in die skepping gereflekteer sal wees. Alhoewel dit net die mens is wat na sy beeld geskep is, sal die hele werklikheid ‘n struktuur hê wat net deur Hom bepaal is. Omdat Hy liefde is, kan ons dus verwag dat net liefde sal werk, dat in die verhoudinge op aarde, of dit tussen God en mens is, tussen mense onderling, of tussen mense en die res van die skepping, net liefde regtig sal pas. Al sal die vorm van liefde in die onderskeie verhoudings heelwat verskil, sal dit basies ‘n houding wees van die ander in ag neem en vir die ander omgee.
Verder beteken die feit dat God alles geskep het, dat ons met vertroue kan leef. Die werklikheid is geskik vir dit waarvoor dit bedoel is. Ons hoef nie in vrees te leef soos heelwat mense in die tradisionele godsdienste, dat enigiets enige oomblik verkeerd kan gaan nie. Daar is vastigheid, reelmaat in die werklikheid. Die son sal môre weer opkom, dit sal volgende jaar weer reën, nou bietjie meer, dan weer bietjie minder, maar ons kan in vertroue leef en werk. God het die aarde gemaak dat ons hier gelukkig kan leef, en ons kan in die verwagting leef dat dit moontlik is. Die meeste smart en ellende in ons lewe word dan ook deur onsself en mense om ons veroorsaak, nie deur die basiese struktuur van die skepping nie. In die meeste gevalle maak die natuur ons net seer omdat ons dit nie met respek behandel nie.
3 Die doel van die skepping
Omdat God alles geskape het, kan ons aanvaar dat die skepping ‘n doel het.
In die geskiedenis van die kerk is verskillende sieninge ontwikkel. Daar is veral drie wat belangrik is: die eer van God, die verbond, en die skepping self.
Ongelukkig is hierdie sieninge meestal teenoor mekaar gestel: óf die een óf die ander. Die bekendste teenstelling is seker die siening dat Calvyn en Luther teenoor mekaar sou gestaan het omdat Calvyn die eer van God, maar Luther die heil van die mens as die doel van die skepping beskou het. Dit is natuurlik ‘n vreemde teenoorstelling. Sou die eer van God nie dalk juis verband hou met die heil van die mense nie?
Daar is ‘n vreemde beskouing onder sekere Gereformeerde groepe wat inderdaad hierdie twee sake van mekaar losmaak en oortuig is dat God net soseer geëer word deur dié wat verlore gaan as deur dié wat gered word. Trouens sommige is selfs oortuig dat God, ter bevordering van sy eie eer, in die ewigheid besluit het dat sommige mense verlore moet gaan, nie oor iets wat hulle gedoen het nie, maar net omdat Hy dit wil hê.
‘n Mens kom soms nie los van die vraag of dié soort beskouings oor God nie aanleiding gee tot ‘n baie harde Godsbeeld nie, so asof God ten alle koste net op sy eie eer en dus net op Homself ingestel is: ‘n selfsugtige heerser wat iewers daarbo sit en alles moet net vir Hom regstaan. Leer ons nie in die Bybel van die God wat juis sy eer daarin vind om vir ons ruimte te maak, om ons lief te hê en selfs tot die uiterste te gaan om ons te red nie?
In die behandeling wat nou volg, sal uitgegaan word van die oortuiging dat die drie bekende sieninge oor die doel van die skepping nie noodwendig teenoor mekaar staan nie, maar mekaar sinvol kan aanvul. Dit is in beginsel altyd aan te beveel dat ‘n mens sover moontlik verskille binne die geloofsgemeenskap eerder as verrykende verskille probeer hanteer, in plaas van as verskille wat teenoor mekaar staan.
Die eer van God is ‘n baie ou formulering van die doel van die skepping. God het alles geskep om daardeur verheerlik te word. Ons lees dan ook dat alles `vir Hom geskep is,’ dit wil sê op Hom gerig is, en daarom moet die eer aan Hom gegee word (Rom 11:36; 1 Kor 8:6). Dikwels word onderskei tussen die outomatiese eer wat die nie-menslike skepping aan Hom gee en die vrywillige eer wat ons as mense aan Hom moet gee – en dan nie gee nie!
Omdat God die God van liefde is, sal Hy egter nie sy eer teenoor ons geluk laat staan nie. Trouens sy heerlikheid word die sterkste geopenbaar in sy selflose offer om ons te red. Daar is niks waarvoor ons Hom meer behoort te eer as juis daarvoor nie. Daarom kan ons aanvaar dat sy eer en ons heil direk met mekaar verband hou, net soos in die Ou Testament sy eer op die spel was in die heil van Israel. Daarom is ook die teendeel waar: omdat Hy Israel aanhoudend moes straf oor hulle ongehoorsaamheid, het die volke rondom Israel Hom begin spot (Eseg 36:16ev).
Dit is ‘n ou vraag of God verryk word deur die eer wat ons aan Hom gee. Mense huiwer by hierdie gedagte omdat hulle dink dat God dan nie alreeds `alles’ het nie en iets van buite Homself aan Hom toegevoeg kan word. Hy sou dan nie in Homself volmaak wees nie.
Dit is nie so seker dat dit regtig nodig is om hiervoor te huiwer nie. Dit verteenwoordig ‘n baie statiese siening van God wat meer aan sekere insette uit die Griekse filosofie herinner as aan die Bybel. As God deur die skepping verryk word, is dit tog Hyself wat Hom verryk. Dit is Hy wat alles geskep het, wat alles wat in die skepping is, daar ingesit het.
Trouens is dit nie taamlik vanselfsprekend dat Hy só verryk word nie? Dink vir ‘n oomblik aan al die nuwe verhoudings waarin Hy staan: Hy was nog nooit tevore Skepper nie, ook nie Onderhouer van die skepping nie, of die God van Abraham en van Israel nie, of ‘n mens, of die Verlosser nie. Voor die skepping was Hy nog nooit op aarde of in die tempel nie, en so kan ‘n mens aangaan. Dit is regtig ‘n vreeslike statiese siening oor God dat Hy nooit iets nuuts kan ervaar of verryk kan word nie. Daarom mag ons dit sien as doel van die skepping: dat God op hierdie manier sy eie lewe en eer wou verryk.
Wanneer ons nou na die tweede doel kyk, die verbond, is dit sondermeer duidelik dat dit nie teenoor die eer van God hoef te staan nie, maar dieselfde doel is, net met ‘n ander beklemtoning. God skep die wêreld as ‘n plek waar Hy in gemeenskap met mense kan leef sodat hulle in sy liefdesgemeenskap kan deel. Hy skep dus die wêreld met die oog op mense. Mense is meer as dinge en diere. Mense is na sy beeld geskep wat beteken dat daar ‘n besondere vorm van gemeenskap tussen Hom en hulle kan wees. Hierdie gemeenskap word die verbond genome.
Gen 2 leen hom pragtig om as ‘n verbondsverhaal gelees te word. God voorsien en sorg in elke opsig vir Adam. Die tuin met die groot rivier is ‘n idilliese prentjie in die redelik droë en kalkerige Palestina. God sorg tot vir ‘n maat om Adam se lewe te vul. En Hy dra ook sekere verantwoordelikhede aan hom op. Dit alles kan pragtig saamgevat word in die eerste deel van die verbondsformule: `Ek sal vir julle ‘n God wees.’
En Adam het dan die voorreg om dit alles te geniet, God daarvoor te eer en te dank, en gehoorsaam aan Hom te leef. Dit kan saamgevat word in die tweede deel: `en julle sal vir My ‘n volk wees.’
Die verbond tussen God en die mense is van die begin af ‘n genadeverbond, al is dit ook duidelik dat die genade deur die sonde ‘n ander dimensie sal bykry. As ons aan die mens as skepsel dink, kan ons van God se goedheid praat: Hy maak iemand om in sy vreugde en geluk te kan deel. As ons aan die mens as sondaar dink, is sy goedheid egter goedheid wat verwerp is. Dit word dubbele genade. Genade was eers versorging, maar deur ons sonde word dit versoening en vergifnis. Maar van die begin af was God se verhouding met ons genade. Daar was geen tyd wat die mens in ‘n ander verhouding teenoor God gestaan het as iemand aan wie goedheid, guns, genade bewys word nie. Daar was geen stadium waartydens ons ons posisie voor God moes verwerf of verdien het nie.
‘n Mens behoort dus nie van allerlei ander verbonde vóór die genadeverbond te praat nie, soos ‘n werkverbond of ‘n natuurverbond nie. God se verhouding met ons is van begin tot einde genade, goedheid, guns – al het dit in die loop van die geskiedenis verskillende vorme aangeneem. God skep ons om sy vreugde met ons te deel.
Derdens word die skepping self dikwels beskou as die doel van die skepping. Dit beteken dat die mens self die doel van sy of haar bestaan is. God het ons geskep om te lewe, om die lewe te geniet, om die wêreld om ons te geniet. Ons is dikwels so negatief oor die aarde en die dinge om ons. Ons kan ook so negatief oor mense en menswees dink. As ons ‘n fout maak of ‘n swakheid wil verskoon, sê ons so graag: `Ek is maar net ‘n mens.’
Maar het God dan so ‘n swak, minderwaardige wese gemaak toe Hy mense geskep het? Is ons nie as sy beeld geskep nie? Is ons nie die kroon van sy skepping nie? Het God ons nie net ‘n bietjie minder as hemelse wesens gemaak en ons met aansien en eer gekroon nie? (Ps 8:6)? Vergeet ons nie dat `aansien en eer’ eintlik gewoonlik aan God toegeskryf word nie?
Dis ‘n voorreg om ‘n mens te wees. God het die aarde, die son en maan, die berge en bome vir ons gemaak. Geniet dit om mens te wees. God het ons só gemaak dat net liefde regtig in ons verhoudings kan werk. Gee dan om vir die mense om jou, dit gaan hulle én jouself gelukkiger maak.
Ons het nie behoefte aan ‘n godsdiens wat ons vervreem van ons menswees en die aarde nie. God het ons op aarde gemaak, en op aarde sal Hy ons uiteindelik verheerlik, die aarde nuutgemaak en skoongemaak van al die gevolge van ons sonde.
Ons kan so vreeslik jaag deur die lewe. Ons is so op prestasie ingestel. Ons en ons kinders moet altyd wen. Die arme kind wat gemiddeld is, tel nêrens nie. Leef ons regtig, of word ons geleef? Kan ons nog ophou, stilsit, dink, speel, ontspan? Ek hoor soms ‘n vrou sê haar man is net in die pad as hy nie oortyd werk nie en saans by die huis is, want hy weet nie wat om te doen nie, al wat hy kan doen, is werk.
Daar is ook ‘n ander kant van hierdie saak. Daar is ongelooflik baie mense wat in ellende leef, wat nie genoeg het om te eet en aan te trek nie, wat ly van die môre tot die aand, wat geen voorsiening vir nood het nie. Is dit dan nie godslasterlik om so aan te gaan oor: geniet die lewe nie?
Ons moet ten alle koste nie die lyding van mense onderskat of probeer verdoesel nie. Maar ons moet ook nie die lyding so maklik op God se rekening skryf nie. Ons is nou besig om te dink oor die doel wat Hy met die skepping het, nie oor wat ons intussen van sy skepping gemaak het nie. Hy het bedoel dat ons lewensvreugde en genot sal hê, en ons mag aanhou om daaroor te praat omdat Hy beloof het om sy skeppingsdoel te verwesenlik. Ons mag dus noual dink oor dit wat ons uiteindelik op die nuwe aarde saam met Hom sal geniet.
Om al drie hierdie sieninge van die doel van die skepping saam te vat, sou ‘n mens kon sê dat God alles geskep het om die mense in sy lewensvreugde te laat deel sodat ons Hom daarvoor kan dank en eer.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.
Skrywer: Prof Adrio König