Laat sy Liefde jou Lei: As Jesus ma sou wees

Laat sy Liefde jou Lei: As Jesus ma sou wees – Milanie Vosloo

As Jesus ma sou wees …

So sê die Here: Die hemel is my troon en die aarde my voetstoeltjie. Jesaja 66:1

As Jesus ma sou wees, sou Hy ook skooltoebroodjies maak, taxi vir sy kinders ry en blomme in hul kamers sit …

As ons Meester ons aardse ma was, sou Hy, lank voor ons geboorte, ons bondeltjie menswees onder sy hart koester. Daarna sou Hy ons met groot ontferming voed, met teerheid sus en met deernis versorg. Hy sou sandkastele en lego-blokkies saam met ons bou, draai-op-roomys vir ons koop en stil-tevrede glimlag vir ons onskuldige kleuterskoolkonserte. Hy sou ook ‘n traan pik wanneer ons die eerste keer agter die skoolbanke inskuif, sy hart vashou as ons die sprong hoёrskool toe maak en hartseer wees as ons uit-die-huis-gaan-tyd aanbreek.

Maar Jesus sou méér wees as ‘n goeie dóén-mamma. Van kleins af sou Hy ons die mooiste Bybelstories vertel en ons leer hoe om met oorgawe te bid. Met elke dagbreek-oggend sou Hy ons aan sy Vader opdra en voor ons skooltoe gaan, sou Hy saam met ons uit die Woord lees. Wanneer ons met die normale lewensdinge stoei, sou Hy leiding gee vanuit die wysheid wat Hy sélf aan sy Vader se voete geleer het. Soms sou Hy met gesag praat. Ander kere … sou sy voorbeeld meer as ‘n duisend woorde sê. En wanneer ons nie by Hom is nie, sou sy gedagtes ons die heeltyd met die hemel verbind.

Gaan leef Jesus se ma-wees eienskappe aan jou kinders en ander uit.

Dankie dat U voelbaar bý my is, Here.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Geloofsvrae: Die Skepper

Geloofsvrae: Die Skepper – Adrio König

Die Skepper

1 Hoe? Of eerder Wie? 

In die Bybel het ons nie ‘n skeppingsgeloof nie maar ‘n Skeppergeloof, nie geloof in die skepping nie maar in die Skepper. In die tye van die Bybel is dit as vanselfsprekend aanvaar dat die wêreld geskape is en nie ewig is of toevallig ontstaan het nie. ‘n Mens glo nie iets wat vanselfsprekend is nie.

Die saak waaroor dit in die Bybelse skeppingsverhale gaan, is eerder: wie het alles geskep? Elke godsdiens het sy eie God(-e) gehad wat as die Skepper(-s) beskou is. Veral tydens die ballingskap in Babilon is Israel blootgestel aan die oortuiging van hulle oorwinnaars dat hulle God Marduk die eintlike Skepper van alles is. ‘n Mens sou dus kon verwag dat heelwat van die basiese boodskap oor Israel se God as die Skepper, na hierdie situasie terugherlei kan word. Dit is trouens die een groot nadruk wat ons in die Bybelse skeppingsverhale kry: Israel se God is die Skepper.

Hoe Hy geskep het, word nie beklemtoon nie. Daar is heelwat voorstellings oor hoe Hy geskep het. Die bekendste is skepping deur daad, woord, skeiding, voortbrenging, stryd en oorwinning. Hieruit kan ons aflei dat Israel omtrent al die voorstellings gebruik het wat ons ook by die volke rondom hulle kry, sonder om tussen dié voorstellings te kies. As hulle ‘n bepaalde voorstelling gebruik het, het hulle nie letterlik bedoel dat die voorwerp letterlik só geskep is nie. Om maar een interessante voorbeeld te noem: in Genesis 1 lees ons telkens dat God beveel het dat iets tot stand moet kom, en dan in die volgende vers dat God dit gemaak het (1:6 en 7, 14 en 16, 20 en 21, 24 en 25, 26 en 27). Dit beteken skynbaar dat die vraag hoe alles gemaak is – net deur ‘n bevel van God of deur ‘n daad van God – onbelangrik is, en die eintlike saak die boodskap is dat dit Israel se God is wat dit alles gemaak het.

Ons kan dieselfde afleiding maak uit die feit dat Israel dieselfde voorstellings gebruik het as die volke rondom hulle, en dat dit dieselfde voorstellings is wat ook elders in die wêreld voorkom, byvoorbeeld ook in Afrika se tradisionele godsdiens. Dit is nie duidelik wie dit van wie oorgeneem het nie, en dit is ook nie belangrik as die vraag nie is hoe alles geskep is nie.

Wat beteken die skeppingsvoorstellings dan? As hulle nie letterlik bedoel dat God só en presies net só geskep het nie, wat sê hulle dan vir ons?

Hulle sê vir ons hoe die Bybelskrywers oor God en oor die skepping gedink het. Die voorstelling dat God net deur die woord geskep het, beteken nie dat Hy letterlik alles net deur die woord geskep het nie, dit beteken dat God magtig is, dat Hy sonder enige hulp van buite kan skep. Dat God uit niks geskep het, beteken dieselfde. Dit is tog duidelik dat dit nie kan beteken dat God letterlik alles uit niks geskep het nie. Gen 1 is vol daarvan dat God iets beveel om iets anders voort te bring (11ev, 24ev), en Gen 2 verhaal van die mens wat uit grond gevorm is.

As ons lees dat God skep deur sekere dinge van ander af te skei (Gen 1:4,6,9,14), beteken dit dat Hy van die begin af sy skepping teen bedreiginge bewaar. ‘n Mens kan verwag dat dit in ‘n konteks geskryf is waarin Israel bedreig is en die profeet hulle van God se beskerming wou verseker. As ons lees dat God iets beveel om iets anders voort te bring, kan ons daarin hoor dat Hy mag het oor sy skepping en dat sy skepping aan Hom gehoorsaam is.

Net so kan ons ook oor die skepping sekere dinge uit die skeppingsvoorstellings aflei.

2 Skeppingsvoorstellings wat nie pas nie 

Wat wel belangrik is, is die feit dat Israel nie alle beskikbare voorstellings onveranderd gebruik het nie. Sommige het hulle eenvoudig nie gebruik nie, en ander het hulle aangepas by hulle oortuigings oor God. Die geboortevoorstelling het hulle glad nie gebruik nie, en die strydvoorstelling het hulle aangepas.

Die geboortevoorstelling wat algemeen was onder heelwat van Israel se bure, het hulle glad nie gebruik nie. In werklikheid is Genesis 1 in die vorm van ‘n geslagsregister geskryf sodat ‘n mens kon verwag dat die geboortevoorstelling gebruik sou word. Vergelyk o.a. die vaste struktuur, die reëlmatige herhaling van dieselfde uitdrukkings, en die Hebreeuse woord vir `geskiedenis’ in 2:4 wat in werklikheid `geslagsregister’ beteken. Die hoofstuk vermy egter die gedagte totaal dat die skepping uit God gebore is, en leer uitdruklik dat God dit gemaak het.

Waarom? Waarskynlik omdat Israel oortuig was dat die skepping nie goddelik is nie, en daarom nie uit God voortgekom het nie. Die skeppping is iets anders as God. Daar was ‘n sterk oortuiging by Israel dat net God goddelik is, dat alle ander dinge skepsels is en duidelik van Hom onderskei moet word. Daarom het hulle nooit die oortuigings van die omringende volke gedeel dat die koning goddelik is of dat sekere diere goddelik is nie. Dit het die weg geopen om die natuur tot voordeel van die mens te gebruik, iets wat by ander volke ‘n groot probleem was.

Verder is daar die strydvoorstelling wat die OT radikaal aanpas om by God te pas. Die strydvoorstelling was algemeen in Israel se omgewing. Omdat die volke rondom Israel ‘n veelgodendom aanvaar het, kon hulle die skepping maklik voorstel as ‘n stryd tussen twee of meer Gode wat dan deur een gewen word. Hy maak dan ‘n deel van die skepping uit die oorblyfsels van die verslane God. Dit sou natuurlik weer beteken dat die skepping goddelik is, al is dit dan net uit oorblyfsels van ‘n verslane God gemaak.

Daarom word die strydvoorstelling radikaal aangepas. In plaas van twee of meer Gode wat teen mekaar veg, veg Israel se God – wat die enigste ware God is – teen die chaosmonsters (Behemot, Leviatan, Rahab, Jam die seemonster), en verslaan hulle sodat hulle nie sy skepping kan bedreig nie. Ons kry hierdie voorstelling in ‘n hele paar tradisies in die OT, soos in die Psalms (74, 89, 104, 148), Job (9,26,38), Jesaja (51:9ev), Jeremia (5:22). Ook hierdie voorstelling is ‘n antwoord op die vraag: Wie het geskep?

Op die belangrikste skeppingsvoorstellings word later breedvoeriger ingegaan.

20.3 Wat sê die skepping oor God?  

Die twee bekendste voorstellings onder gelowiges is dat alles uit niks en net deur die woord geskep is. Dit is nie algemene voorstellings in die Bybel nie, maar omdat hulle al vir eeue lank deur Jode en Christene gebruik word om hul geloof in God as Skepper uit te druk, kan ons tog baie daaruit leer.

Al kom die voorstelling dat God uit niks geskep het, nie direk in die Bybel voor nie, kan ‘n mens dit tog aflei uit sekere gegewens in die Bybel. Daar word dikwels beklemtoon dat God alles geskep het (o.a. Hand 14:15; 17:24; 1 Kor 11:12; Ef 3:9). ‘n Mens kan daaruit aflei dat daar niks was waaruit Hy geskep het nie. Die voorstelling in Gen 2:5,6 (`daar was nog nie’) het dieselfde implikasie.

Dat God uit niks geskep het, is ‘n belangrike getuienis oor sy mag (16 en 54). God het nie hulp nodig as Hy skep nie. Hy is nie afhanklik van voorhande materiaal of oerstof nie. Hy skep vrymagtig.

Dit beteken verder dat God volkome vry is as Hy skep. Hy is nie beperk deur die moontlikhede wat daar in die stof is waaruit Hy skep nie. En as Hy uit niks skep, kan Hy natuurlik ook ander dinge uit niks doen. Hy is nooit afhanklik van beskikbare materiaal nie. Hy regverdig ook uit niks (Hy is nie afhanklik daarvan dat ons ‘n bietjie geregtigheid in ons het nie), en Hy wek op uit niks (dus alhoewel ons regtig dood is).

Skepping uit niks beteken ook dat Hy skep presies soos Hy wil, dat die skepping presies sal wees soos Hy dit wil hê. En nog verder beteken dit dat wat Hy skep regtig nuut is. Dit is nie iets wat reeds bestaan het wat net verander of nuutgemaak is nie. Dit skep ook die verwagting dat Hy in sy verdere dade werklik nuwe dinge sal doen en nie maar net altyd dieselfde ou dinge sal herhaal nie. Dit rig sy kinders se oë sterk op die toekoms. Daar wag meer as wat ons kan dink.

Dat God uit niks skep, beteken in ‘n ander sin natuurlik dat Hy inderdaad uit iets skep: uit sy eie hart. Sy besluit oor wat en hoe Hy wil skep, kom net uit Homself.

Dit beteken minstens twee dinge. Eerstens dat God uit liefde skep. Dít is wat daar in sy hart is. Hy het nie nodig gehad om te skep nie. Hy skep omdat Hy liefde is en sy liefde wil deel. In hierdie sin is skepping klaar genade. Ons het dit nie verdien nie, ons kon dit nie verwag nie, Hy het ons nie nodig gehad nie, en tog skep Hy ons, en skep daarmee die geleentheid dat ons uiteindelik aan sy goddelike lewe kan deel hê (2Pet 1:4 – 11.8).

Dat die skepping net uit Homself voortkom, beteken verder dat dit presies sal lyk soos Hy dit wil hê, en omdat Hy liefde is, kan dit ons nie verbaas dat die skepping ‘n liefdesstruktuur het en dat net liefde in die skepping kan werk nie.

Dat God net deur die woord skep, lei tot baie dieselfde konklusies as sy skepping uit niks. Dit is nogeens ‘n sterk getuienis van sy mag. Hy is nie afhanklik van enigiets anders as Hy skep nie. `Hy het gepraat en dit was so, Hy het beveel en dit was daar’ (Ps 33:9).

Netsoos God nie net uit niks skep nie, maar ook ander dinge uit niks doen, skep Hy ook nie net deur die woord nie, maar doen ook ander dinge deur die woord. So lei Hy vir Israel deur die woord. `Die woord van die Here’ is een van die sentrale uitdrukkings in die Bybel. Dit speel ‘n beslissende rol in die heilsgeskiedenis. God gee gestalte aan die geskiedenis deur woorde, beloftes, bevele. Daar is ‘n opvallende ooreenkoms tussen dit wat God sê en dit wat uiteindelik gebeur (vergelyk Gen 8:16-17 met 18ev; 17:16-21 met 21:1-4; 17:20 met 25:12-16). Die hele wet (die Tora) word `die woorde van God’ genoem, en die profete kom met `die woord van die Here’ na die volk, met die woorde: `So sê die Here.’ Die profete getuig ook van die krag wat die woorde van die Here het (Jes 55:11; Jer 23:29).

Dit is in hierdie lig nie vreemd dat Johannes die begrip `die Woord’ vir Jesus gebruik nie. Immers Hy word die beslissende faktor in die geskiedenis wat God met die wêreld maak.

Opnuut staan ons hier voor die besondere wyse waarop aspekte van die Bybel uniek is. Uit die aparte behandeling van die voorstelling `skepping deur die woord’ sal dit duidelik word dat soos in die geval van die ander skeppingsvoorstellings, ook hierdie een nie uniek is in die Bybel nie, maar ook onder ander volke voorgekom het. Maar wat wel uniek is in die Bybel is dat dit in ‘n baie ruimer konteks gebruik word as die wyse waarop God by die geskiedenis van Israel en van die wêreld betrokke is. Deur sy woorde bring Hy beslissende wendinge in die geskiedenis van die wêreld, en deur sy Woord bring Hy die verlossong en uiteindelik die nuwe aarde.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio Könog




Laat sy Liefde jou Lei: ‘n Pa … wat ook Ma is

Laat sy Liefde jou Lei: ‘n Pa … wat ook Ma is – Milanie Vosloo

‘n Pa … wat ook Má is

Kan ‘n ma die baba vergeet wat aan haar bors drink? Kan sy geen medelye hê oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou dit tog moontlik wees. Ék sal jou nie vergeet nie! Jes 49:15

 

Is God by uitstek vir jou net ‘n manlike figuur? Dalk wil Hy jou dan verras met dit wat Hy – bo en behalwe alles wat jy van Hom dink – nog méér is.

Wanneer ons sê dat God soewerein is, beteken dit dat Hy dié Wese met die hoogste gesag in hemel en op aarde is. Ja, groot, heilig en onverklaarbaar en onbeskryflik is Hy. As Vader is Hy jou Versorger, as Seun jou Verlosser en as Gees is Hy jou Leidsman … jou Vertroueling met wie jy ‘n persoonlike verhouding kan hê. Maar God is nog veel meer as dit: Hy is ook Moeder! Hy is die Ma wat ons met sagtheid troos, met haar lewe beskerm, met begrip dissiplineer, met oorleg raadgee; wat áltyd gereed is om te help … en ons ‘n duisend maal vergewe! Die Woord bevestig dit aan ons wanneer ons in Hosea 11:3 lees dat God sê: “Dit was Ekself wat Israel geleer het om te loop; Ek het Hom in my arms gedra …”, en in Jesaja 66:13 dit bevestig deur te sê: “Soos ‘n moeder haar kind troos, so troos Ek julle.”

Lê vandag jou kop teen die hart van jou onsterflike Moeder en ervaar jou God se intense liefde vir jou!

O Here! O liefdevolle Moeder-van-my-hart!

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo





Geloofsvrae: Die mensvormigheid van God

Geloofsvrae: Die mensvormigheid van God – Adrio König

Die mensvormigheid van God 

Daar is alreeds iets gesê oor die mensvormige manier waarop daar in die Bybel oor God gepraat word (onder die onsienlikheid en onkenbaarheid van God).

In die Bybel is dit algemeen om in menslike terme oor God te praat. Daar word mensvormige terme gebruik om na sy gestalte te verwys (sy gesig, oë, neus, mond, hande, voete, ens), na sy gevoelens (Hy het lief, Hy haat, Hy het berou, Hy hou van iets, Hy is bly en lag, ens), en na sy dade (Hy sien, hoor, praat, fluit, rus, daal neer, ruik, loop, ens).

Hoe is dit dan moontlik dat daar in die geskiedenis van die kerk vir eeue lank baie negatief geoordeel is oor hierdie kenmerkende Bybelse spreekwyse oor God? Die antwoord lê hoofsaaklik daarin dat mensvormige voorstellings van die gode in die Griekse mitologie onwaardig was. Die gode het al die sondes van die mense gedoen: hulle het baklei, mekaar doodgemaak, owerspel gepleeg, die mense bedrieg, en nog baie ander sondes. Natuurlik moes die vroeë Christene negatief hierop reageer. Maar ongelukkig het hulle toe die baba saam met die badwater uitgegooi, en sommer alle mensvormige spreekwyse oor God verwerp.

Hulle het toe gesê dat die Bybel maar net op dié mensvormige manier oor God praat omdat ons nie sou kon verstaan as die Bybel gesê het hoe God regtig is nie. Maar intussen was hulle oortuig dat hulle wel presies kon sê hoe God is deur abstrakte filosofiese begrippe te gebruik! God sou dan eerder die ewige syn (bestaan), selfgenoegsaam, onbeweeglik wees as dat Hy die Een is wat omgee, wat liefde is, wat sy besluit om ons te oordeel verander as ons ons bekeer.

Moet ons nie eenvoudig aanvaar dat daar goeie redes is waarom die Bybelskrywers juis so mensvormig, lewendig en beweeglik oor God skryf nie?

Daar is minstens twee redes. Eerstens is ons na sy beeld geskep wat beteken dat ons Hom op aarde moet verteenwoordig sodat iets van Hom in ons lewenswyse sigbaar moet word. En tweedens is Hy juis in ‘n mens (Jesus) ten volle geopenbaar. Ons kan die Bybelskrywers dus voluit ernstig neem as hulle by voorkeur in terme van mense en menseverhoudings oor God praat. Hy is so want Hy is in Jesus so geopenbaar.

Wat ons egter moet onthou, is dat nie alle mensvormige dinge ook van God geld nie. Sekere dinge wat oor en oor in die Bybel van mense gesê word, word juis nie van God gesê word nie. En dit is juis die fout in die Grieke se mites oor hul gode. Terwyl hulle oortuig was dat hulle gode ook in alle vorme van menslike sonde betrokke is, word geen van ons sondes ooit in die Bybel aan Hom toegeskryf nie. En daar word ook nie na enige seksuele betrokkenheid van God verwys nie. Die Bybel praat dus op ‘n heel besondere wyse mensvormig oor God – juis anders as die Griekse mitologie.

‘n Mens sou kon vra waar die Bybel dié voorstelling van ‘n mens vandaan kry in terme waarvan daar oor God gepraat word: ‘n mens sonder enige sonde? En die antwoord is seker dat dit is hoe God bedoel het dat ons moet wees. Die Bybel se mensvormige spreekwyse oor God is dus nie in terme van hoe ons nou in ons sonde is nie, maar hoe ons behoort te wees – en hoe Jeus inderdaad was!. Dit is eintlik ‘n kritiek op hoe ons is, en ‘n aanmoediging om te word wat God ons bedoel het om te wees.

Soms word die saak omgekeer en word gepraat van die Godvormigheid van die mens. En alhoewel dit vreemd mag klink, is daar goeie gronde om dit te doen. As ons na sy beeld geskep is, sal iets van Hom tog in ons sigbaar moet word. Ons sal dus in Hom kan sien hoe ons behoort te lyk. Dit is presies wat ons in die mensbeskouing gaan doen, om uit die Godsleer af te lei wat en hoe die mens behoort te wees.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König