Geloofsvrae: Geskiedenis – Adrio König
Geskiedenis
Dit is in hierdie verband nodig om iets te probeer sê oor die aard van die geskiedenis wat God met ons maak. Dit is egte geskiedenis waarin daar egte beslissings val, van sy kant, én van ons kant. Dit is nie ‘n toneelstuk wat vooraf geskryf is en nou net opgevoer word nie – ‘n siening waartoe ‘n mens omtrent genoodsaak is as jy die pad van sy verborge-wil-as-sy-eintlike-wil loop. Daarteenoor is dit beter om te aanvaar dat geskiedenis verbondsgeskiedenis is, geskiedenis waarin daar meer as een deelnemer is. In werklikheid moet ons ‘n paar deelnemers onderskei wat elkeen ‘n daadwerklike invloed op die uiteindelike verloop van die geskiedenis het. Daar is minstens God, die mense, die magte, en bepaalde wetmatighede in die natuur. Wat uiteindelik in die geskiedenis gebeur, is die resultaat van God se inisiatiewe, ons reaksies (wat ‘n mengsel van ontrou en trou is), die aanvalle van die bose magte op die heerskappy van God, en sekere dinge wat gebeur eenvoudig omdat daar bepaalde wetmatighede in die natuur is. Hierdie geskiedenis kan nie vooruit bepaal word nie omdat daar te veel onseker faktore is. Voorafbepaalde geskiedenis is in elk geval nie meer geskiedenis nie, maar ‘n toneelstuk.
Wat ons wel uit God se geskiedenis met Israel en in Jesus kan aflei, is enersyds dat Hy ‘n bepaalde doel met die wêreld en die mense het, en andersyds dat Hy in die loop van die geskiedenis telkens nuwe inisiatiewe geneem het om die geskiedenis terug te kry op die pad wat Hy wil loop om sy doel te bereik: soos die roeping van Abraham, die uittog uit Egipte, die koningskap in Israel, die ballingskap, die koms en veral die opstanding van Jesus, die koms van die Gees, en volgens sy beloftes, uiteindelik ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. Tussen hierdie beslissende wendings lê egter eeue van worsteling met sy kinders (Israel en die kerk) en fel aanslae van die bose magte.
Dit beteken dat die geskiedenis nie reëlmatig verloop nie, maar ‘n mengsel is van hoogtepunte en laagtepunte, van egte gemeenskap tussen God en sy volk (waarvan daar pragtige getuienis in die Psalms is). Van ons as mense se kant is daar sprake van aangrypende bekerings en mense wat gehoorsaam is aan God, maar ook van eeue van ongehoorsaamheid en ontrou in die geskiedenis van Israel en die kerk, met die hoogtepunt van menslike opstand teen God as sy Seun verwerp word. Só lyk ons (gemengde!) insette in die geskiedenis. Van God se kant af is daar die eeue van geduld, van terugroep en selfs oordeel, van vergewe en versorg, van telkens nuwe inisiatiewe en tekens van sy oorwinnende mag op sy pad na die nuwe aarde.
Dit is duidelik dat ons met hierdie siening op die geskiedenis moeite sal hê om die tradisionele filosofiese begrip van God se almag te akkomodeer.
Die werklike probleem met die tradisionele Gereformeerde siening lê in die oorweldigende indruk wat die Bybel maak oor die omgang van God met sy volk en met die mense in die algemeen. Laat ons ‘n bietjie uitbrei op wat opsommend gesê is. Ons het gesê God neem telkens nuwe inisiatiewe om sy doel te bereik as mense in hul ontrou sy vorige inisiatiewe dwarsboom. Hierdie nuwe inisiatiewe bring telkens wendinge mee in die verloop van die geskiedenis.
‘n Mens kan dink aan die roeping van Abraham nadat God se direkte omgang met die hele mensdom nie uitgeloop het op hulle toekeer tot Hom nie (Gen 1-11). In Abraham begin Hy iets nuuts: om deur één volk al die nasies na Jerusalem te lok om Hom daar te kom aanbid. As sy volk aan Hom getrou is, sou Hy hulle só seën dat die volke rondom oortuig sou word dat Israel se God die ware God moet wees. Veral sommige profete het daarna uitgesien (Jes 2:1-5; Miga 4:1-5).
Uiteindelik het ook dit egter nie gewerk nie. Israel se langdurige ontrou het eerder daarop uitgeloop dat die Here hulle só gestraf het dat hulle voor die volke vernerder is en die volke sy Naam begin belaster het (Eseg 36:16ev). Daarom het die Here die volk swaar gestraf sodat net ‘n klein klompie oorgebly het (die sg. oorblyfsel) wat aan Hom getrou was.
In hierdie tyd het die verwagting onder Israel toegeneem dat daar ‘n besondere persoon sal kom wat Israel sal verlos. Daar was verwagtings van die Messias as nasaat van Dawid, van ‘n lydende dienaar, ‘n profeet, ‘n menslike wese (of `seun van die mens’).
Uiteindelik neem God dan die een nuwe inisiatief wat alles in ‘n nuwe perspektief stel: die koms van Jesus Christus wat al hierdie verwagtings vervul. In Hom word ‘n ongelooflike rykdom van beloftes vervul. Hy is die Messias, die Seun van Dawid, die lydende Kneg, die profeet, die menslike wese of die Seun van die mens, die nuwe mens, die troue bondgenoot van God, die een wat God van die begin af in die oog gehad het. Deur Hom uit die dood op te wek, gee God aan die mensdom ‘n nuwe lewe. Alle mense moet deur geloof met Hom verenig word en só deel kry aan die verbond as God se skeppingsdoel, aan hierdie nuwe lewe van liefdesgehoorsaamheid aan God en liefdesdiens aan die naaste, ‘n nuwe lewe wat God in die opgestane Jesus aan ons voorsien.
Deur die Gees bring God nou die nasies tot geloof in Hom, om uiteindelik te deel in sy heerlikheid op die nuwe aarde.
Dit is wat ons onder die mag van God moet verstaan. En dan maak dit nie veel verskil of ons dit mag of almag noem nie. Al neem dit God soms baie lank, het ons in elk geval in Jesus se opstanding die versekering dat Hy uiteindelik sy doel sal bereik, ondanks al ons ontrou en onbetroubaarheid. Hy doen dit deur ons, sonder ons en uiteindelik selfs ondanks ons en teen ons weerstand in.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.
Skrywer: Prof Adrio König