Die Wysheid in Spreuke 8

Die Wysheid in Spreuke 8 – Francois Malan

Andre vra: 

Wie is Wysheid waarvan Spreuke 8 praat, want Hy sê Hy was saam met die Here toe die aarde geskep is. Vers 22 – Die Here het my geskep. Dit kan dus nie God of Jesus wees nie, is dit dalk die Heilige Gees.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Spreuke 7 handel oor die verleidelike taal van die owerspeelster, wat ‘n beeld is van alle slegte vroue. Daarop volg hoofstuk 8, wat wysheid aan die woord stel as die predikster van haar waarde vir die mens. In 7:4 het die prediker reeds vir sy seun gesê hy moet wysheid sy suster maak en insig sy familie om hom weg te hou van die slegte vrou af. Soos 1:20-33 word wysheid hier ook geteken as ‘n persoon. Na die gedeeltes oor die wysheid in 1:20-33, 3:13-20, 4:8,9 word wysheid in hoofstuk 8 aan die kant van God self gestel, voor die skepping v22, in gesprek met die Skepper v30, en ‘deur Hom geskep/voortgebring as die begin van sy pad, die eerste van sy werke van toe af’ v22. Die heelal wat God geskep het getuig van sy wysheid waarmee dit gedoen is, en God se plan waarvolgens Hy geskep het word digterlik as ‘n persoon voorgestel.

In hoofstuk 8 gaan dit om digterlike personifikasie van die wysheid van God waarmee Hy die wêreld geskep het, soos in hoofstukke 1,3 en 4, as predikster tot die mense en as troetelkind van die Here. Omdat sy so hoog verhewe is, moet die mense na haar luister. Die bedoeling van die hoofstuk is om die begeerlikheid van die wysheid teenoor die begeerlikheid van die slegte vrou op ons harte te bind, soos ook in die hele eerste afdeling van Spreuke (hoofstukke 1-9). In 8:30 word wysheid as ‘n ou dame voorgestel, ouer as die aarde en die hemel. God onderhou ook sy skepping met wysheid en daarvoor gebruik Hy mense, soos die Spreuke digter self, om die mense aan te spreek.

Die wysheid staan langs die strate, by kruispaaie, by die stadspoorte (8:2). So was die profete die stem van Goddelike wysheid in die openbaar (vgl. Jeremia 7 en 26). Aan koning Salomo is bv. die gawe van Goddelike wysheid gegee om reg te spreek (1 Kon.3:28). Koning Josafat leef soos die Here dit wil (vgl. Spr.1:7), en hy stuur sy beste amptenare uit om in die stede onderrig te gee in die wet van die Here (2 Kron.17:6-9). Later tree die Seun van God self op met die wysheid van God (Mat.13:54, Hebr.1:1; Joh. 18:20; Mt.11:19; Lk.7:35) en Hy is self die weg en die waarheid en die lewe (Joh.14:6).

Jesus kom ons leer van die Heilige Gees (Joh.14:26; 16:7). Die Ou Testament weet van die Gees van die Here wat oor mense kom en hulle vaardig maak, konings, priesters, profete, ambagsmanne, landbouers, ens. Maar nou weet ons van Hom as God wat in ons woon (Rom.8:9). Nou weet ons ook dat God die hemel en die aarde deur sy Woord, Jesus, geskep het (Gen.1:3; Joh.1:1-3; 1 Kor.8:6), dat God ons Vader is, soos Jesus ons leer bid het (Mat.6:9; 11:27); en dat die Heilige Gees wat aan ons die lewe gee, reeds by die skepping oor die waters gesweef het om lewe aan die skepping gegee het (Gen.1:2; 8:2).

Die Vader en die Seun en die Heilige Gees tree met wysheid op, met die skepping, met die onderhouding van die wêreld, en met die herskepping van ons as sy kinders. Die wysheid waarmee hulle dit doen, word in Spreuke 8 besing in die lofsang op die wysheid waarvolgens ons moet lewe. Dit verkry ons deur God te leer ken uit sy woord (ook uit Spreuke), onder leiding van die Heilige Gees in ons, wat ons daagliks lei en onderskraag.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Geloofsvrae: God se almag

Geloofsvrae: God se almag – Adrio König

God se almag 

By die bespreking van die wese van God is doelbewus oor sy `mag’ gepraat. In die geskiedenis van die kerk is voorkeur gegee aan die begrip `almag.’ Dit is een van ‘n aantal begrippe wat mense vir God gebruik, maar wat nie so direk uit die Bybel afkomstig is nie maar eerder uit sekere strominge in die Griekse filosofie, begrippe soos alomteenwoordigheid, alwetendheid, onkenbaarheid. Daarom is die bespreking van hierdie begrippe tot nou toe uitgestel. Kom ons kyk eers na die begrip almag.

In die Apostoliese Geloofsbelydenis word eksplisiet net een eienskap van God genoem: `die Almagtige.’ Mense wat graag balans in die belydenis wil sien, wys tereg daarop dat, voordat ons sy almag bely, ons bely dat God `die Vader‘ is, wat beteken dat God omgee. Die probleem is natuurlik dat dit slegs ‘n indirekte belydenis is waaruit ons wel die liefde van God kan aflei, sonder om dit in soveel woorde te bely. In die teologiegeskiedenis is God dan ook veel eerder met almag as met liefde beskryf, en het sy liefde selde of ooit ‘n plek gekry in die `definisies’ wat teoloë van God gegee het, al was dit (gelukkig!) nie altyd waar van die prediking en die persoonlike vroomheid nie.

In die Bybel is alles nie so duidellik nie. In die OAV het die woord `almag’ selde voorgekom. In die NAV kom dit veral in die OT dikwels voor omdat die vertalers besluit het om twee benaminge van God (El Shaddai en Jahwe Zebaot), waarvan die betekenis nie regtig vasstaan nie, te vertaal met `die almagtige God’ en `die Here die Almagtige.’ Bybellesers kry nou die indruk dat dit omtrent op elke bladsy van die Bybel staan dat God almagtig is, terwyl die Bybel in werklikheid opvallend selde dié gedagte uitspreek.

Die tweede probleem is dat die begrip `almag’ eerder in terme van sekere strominge in die Griekse filosofie verstaan word as in terme van die Bybel. Baie Christene verstaan onder almag die letterlike betekenis dat God enige tyd enigiets kan doen. Hierdie almagsbegrip het sy eie probleme, want ‘n mens kan God se almag beswaarlik letterlik verstaan as sy vermoë om enigiets te doen. God kan byvoorbeeld nie ‘n klip maak wat so swaar is dat Hy dit nie kan optel nie.

Maar ‘n mens besef natuurlik dadelik dat dít ook nie regtig die soort mag is wat in die Bybel aan God toegeskryf word nie.

In die bespreking van die wese van God het ons die onderskeid gemaak tussen sy oorredende mag en sy oorweldigende mag. Daar is duidelike voorbeelde van oorweldigende mag, van God wat eenvoudig oor sy vyande loop. Veral die apokaliptiese boeke het voorbeelde hiervan. Dit is egter iets wat by geleentheid gebeur en nie op staande voet nie. Dit is eerder die uitsondering as die reël. Dit getuig daarvan dat God soms op ‘n vreemde manier optree en sy vyande oorweldig. Ons kom ook sterk onder die indruk hiervan in die stryd van Jesus teen die bose magte. Hy vernietig hulle eenvoudig.

Die oorweldigende indruk wat ‘n mens egter uit die Bybel kry, is nie dat God te enige tyd enige iets kan doen nie, selfs nie as Hy dit graag wil hê nie. Inteendeel, God word dikwels gefrustreer in sy planne met Israel, Hy moet vir lang tye by hulle pleit om na Hom te luister, daar is dikwels baie min reaksie op sy dreigemente by monde van die profete, sodat Hy dikwels nuwe inisiatiewe moet neem as mense enduit onwillig bly om positief te reageer.

Natuurlik is daar ‘n manier om hierdie gegewens te probeer interpreteer sodat ‘n mens nog altyd kan vashou aan die gedagte dat alles wat gebeur, die direkte beskikking van God is omdat Hy almagtig is en dus enige oomblik alles kan laat gebeur wat Hy wil. Later sal dit egter blyk dat dít ‘n pad is wat ‘n mens beswaarlik kan loop. Dit verwring eenvoudig die duidelike patroon wat ons uit sy eeuelange omgang met Israel aflees.

Daarom is dit miskien die beste om te aanvaar dat God met sy oorweldigende mag mense kan vernietig, maar dat God nie mense kan dwing om iets te doen nie, soos om hulle te bekeer en Hom lief te hê nie. Daarvoor kan Hy net sy oorredende mag gebruik, en mense (die volk Israel!) kan weier om daarop te reageer. In die volgende paragraag word verder hierop ingegaan.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König





Laat sy Liefde jou Lei: Ken jy Hom?

Laat sy Liefde jou Lei: Ken jy Hom? – Milanie Vosloo

Kén jy Hom? 

“U het gesê: ‘Luister, want Ek wil met jou praat! Ek sal jou vra, en jy moet My antwoord.’ Tot nou toe het ek net met my ore van U gehoor, maar nou het ek U met my eie oё gesien…” Job 42:4-5

Wanneer ken jy iemand? As jy weet wat sy naam, beroep en gesinsverband is? Wanneer jy sy persoonlikheid, gewoontes en voorkeure verstaan? Of is om te “ken” dalk meer intiem? Soos om werklik iemand se hart te hoor klop, begrip vir daardie persoon te hê en in ‘n persoonlike verhouding met hom/haar te leef?

Die feit is, God wil hê dat ons Hom regtig sal kén: dat ons so naby aan Hom sal leef dat ons sy grootheid sal sien, sy liefde werklik sal aanvoel, sy wil sal wéét en deurgaans bewustelik sal beleef dat Hy bý ons – ín ons – is. Wanneer ons Here bloot vir ons ‘n ‘n feitekennis-God is waarvan ons in die Bybel lees, kén ons Hom nie. En dan … mis ons ‘n ongelooflike stuk rykdom in ons lewens.

God wil hê dat jy in ‘n intieme verhouding met Hom sal staan. ‘n Verhouding waarin jy daagliks sy hand neem, sy Woord jou eie maak, sy stem in jou lewe toelaat en sy leiding volg. Want wanneer jy dit doen, leef jy in ‘n nuwe dimensie met die Skepper, met jouself en met ander.

Laat toe dat die Gees aan jou openbaar wie God werklik is. Wie Hy vir jóú wil wees.

Maak Uself aan my bekend, grote God.


Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Geloofsvrae: God se heiligheid en toorn

Geloofsvrae: God se heiligheid en toorn – Adrio König

God se heiligheid en toorn

Net soos God se geregtigheid nie teenoor sy liefde staan nie maar eerder ‘n vorm van sy liefde is, so staan sy heiligheid ook nie teenoor sy liefde nie. Dit sê eerder iets oor die aard of die grens van sy liefde.

 

In die ou Bybelvertalings het ons nog gelees dat God jaloers is (Eks 20:5). Dit kon natuurlik misverstaan word, want jaloesie tussen mense is lelik. Daarom vertaal nuwer vertalings dit met iets soos: die God wat onverdeelde trou eis, of die God wat omgee vir ons liefde, die God wat nie mededingers duld nie. God se liefde is so eg en ernstig dat Hy kan seerkry. As ons sy liefde nie met wederliefde beantwoord nie, krenk dit Hom. Enigiets van ons kant is nie maar goed genoeg nie. Hy het ons met onverdeelde liefde lief, en Hy eis onverdeelde liefde van ons.

Dit is vir Hom so ‘n ernstige saak dat ons selfs van sy toorn lees. As ons deur ons ontrou sy liefde misken, wek ons sy toorn op sodat ons onder sy oordeel kom. Ons moet nie sy toorn verwar met woede of haat as onbeteuelde emosionele reaksies waarin Hy buite Homself is en dinge doen waaroor Hy later spyt kry nie. Sy toorn en straf is berekende reaksies van die God wat liefde is, sodat die miskenning van sy liefde Hom wesenlik raak. Sy toorn pas by sy liefde, dit sê hoe eg en diep sy liefde is.

Dit is ook nie waar dat sy toorn tot die OT beperk is en eintlik maar ‘n vroeë vorm van Israel se geloof reflekteer wat later tot ‘n hoër trap sou ontwikkel het sodat sy liefde sy toorn heeltemal vervang het nie. Net soseer as wat ons alreeds in die OT van sy liefde lees (o.a Hos 11!), lees ons in die NT nog steeds van sy toorn oor dié wat sy liefde verwerp. Net in die Romeinebrief alleen kry ons dit minstens ses keer (soms met `straf’ vertaal: 1:18; 2:5; 4:15; 5:9; 9:22; 12:19).

‘n Deel van God se heiligheid is sy afkeer van die sonde. `U is nie ‘n God wat onreg verdra nie, die kwaad het by U geen plek nie’ (Ps 5:5). Hy haat selfs almal wat onreg doen en verafsku moordenaars en bedrieërs (vers 6-7). Dit beteken nie dat daar nie vergifnis by God is nie, trouens dit beteken juis dat mense opgeroep word om hulle te bekeer sodat die Here hulle kan vergewe en hulle die toorn van God kan ontvlug.

Daar is ‘n sin waarin hierdie heiligheid en toorn van God tot die wese van die evangelie behoort. As God nie omgegee het vir ons liefde nie, sou ons sy liefde ook nie kon ernstig neem nie, dit sou goedkoop, vryblywende liefde gewees het waarop ‘n mens nie kon reken nie. Dat sy liefde heilige liefde is, liefde wat beantwoord moet word, maak dit duur liefde waarop ons kan reken. En ons kan Hom dank vir sy eis dat ons Hom met wederliefde moet antwoord en net aan Hom getrou moet bly, want wat sou van ons geword het as ons maar tussen verskillende gode kon rondskarrel?

Was Augustinus nie reg toe hy gesê het dat ons vir God gemaak is en dat ons harte onrustig sal bly tot dit rus vind in Hom nie? Is ons verhouding tot God nie deel van ons menswees nie?

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König