Laat sy Liefde jou Lei: Is jou geestelike batterye pap?

Laat sy Liefde jou Lei: Is jou geestelike batterye pap? – Milanie Vosloo

Is jou geestelike battery pap?

“… Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ‘n helder lig sal uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys!” Matteus 4:16

Jy is God se ligstrale op hierdie aarde. Die dag toe jy sy kind geword het, het Hy binne in jou die spreilig van sy genade aangeskakel sodat jy sy flitslig op hierdie aarde kan wees. En elke dag staan Hy gereed om jou hart se geestelike batterye te herlaai. Jy is só belangrik vir Hom dat Hy jou deurentyd – ja ook vandag – met nuwe moed, krag en wysheid wil vul sodat jy in staat sal wees om heeldag sy lig aan hierdie wêreld uit te dra.

Die vraag is: wat maak jy met die lig wat Hy binne jou geplaas het. Laat jy toe dat Hy jou elke dag vernuwe sodat jy met oorgawe kan skyn? Stel jy jouself daagliks tot sy beskikking sodat Hy deur jou ‘n stukkie hemelse lig in ander se lewens kan bring? Of laat jy toe dat die eise van die wêreld jou batterye só pap maak dat daar niks meer van Hom in jou sigbaar is nie?

Moet nooit een dag jou lewe geestelik ongelaai aanpak nie. Haal elke aand jou pap menswees-battery uit, gee dit vir jou Vader en laat toe dat Hy jou gedurende die nag met nuwe geestelike krag herlaai. Gaan dan en wees sy lig in ‘n wêreld wat op baie plekke al pikdonker geword het.

Heilige God, wees asseblief heeldag my Kragpunt sodat u lig-van-liefde glashelder deur my sal skyn.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Geloofsvrae: God se trou

Geloofsvrae: God se trou – Adrio König

God se trou (geduld, onveranderlikheid, veranderlikheid)

Dat God onveranderlik is, staan vir baie gelowiges sondermeer vas. Elke verandering waarin God volgens die Bybel betrokke is (soos die berou van God of dat Hy van besluit verander), word dan só uitgelê dat dit met sy onveranderlikheid rym. Dat Hy berou het en sy beslissing verander, word dan gesien as ‘n mensvormige manier van praat omdat ons nooit sou kon verstaan as Hy sou sê hoe Hy werklik is nie. Wat egter vreemd aandoen, is dat die teoloë wat hierdie standpunt verdedig, dan presies weet hoe Hy regtig is: onveranderlik.

Waarom hierdie reaksie teen enige moontlike veranderinge in God? Omdat die gode van die volke om Israel wispelturig was, omdat mense nie op hulle kon reken nie. As hulle die oggend `met die verkeerde voet uit die bed uit opstaan’ was enigiets moontlik!

Teen hierdie agtergrond is dit vanselfsprekend dat ons sal vashou aan die onveranderlikheid van God. Ons bedoel dan dat Hy getrou is, dat Hy sy woord hou, dat ons op Hom kan reken. Christus word die “ja” op al die beloftes van God genoem (2Kor 1:20). God se Woord staan vas, en daarom ook sy woorde en beloftes. God is dus onveranderlik in die sin dat Hy getrou is. `As ons ontrou is – Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie’ (2Tim 2:13).

Tog is dit beter om van sy trou te praat as van sy onveranderlikheid omdat daar in die Bybel net so duidelik sprake is van sy veranderlikheid, waarmee dan nie iets negatiefs bedoel word nie.

Die Bybel praat dikwels daarvan dat God berou het (of bedroef is) oor iets wat Hy gedoen het (o.a. Gen 6:6,7; Num 23:19; 1Sam 15:11,35; Jer 4:28) en dan sy plan verander. Die bekendste voorbeeld is die verhaal van Jona. In hierdie verhaal is daar een wat onveranderlik is en een wat verander. Jona is kwaad vir God want, sê hy: `Ek het geweet U is ‘n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het’ (Jona 4:2). Dit is dus nie God wat onveranderlik is nie. Hy sien af van die straf wat Hy aangekondig het. En Jona se grootste probleem is dat God so bekend is daarvoor dat Hy afsien van die straf wat Hy aangekondig het as mense hulle bekeer, dat Jona dit al van die begin af verwag het. God is dus eenvoudig so. Ons het nie hier ‘n uitsondering nie. God verander voortdurend sy besluite sodat Hy aan sy wese getrou kan bly. Wesenlik is Hy die barmhartige God wat berouvolle sondaars vergewe. As die mense hulle bekeer, het Hy dus `berou’ oor sy besluit om hulle te vernietig.

Wie is dan onveranderlik? Jona. Hy wil hê dat God `konsekwent’ moet wees, dat Hy moet voortgaan met die straf waarop Hy besluit het. Hy voel dat hy dan sal weet waar hy aan of af is met God. Dan sou Jona nie in die verleentheid beland het dat die oordeel wat hy (in die Naam van God!) aangekondig het (en heimlik natuurlik geniet het, want die Assiriërs was aartsvyande van Israel), nooit voltrek word nie. Maar nou sal hy beskou word as die profeet wat die vyande van Israel betyds gewaarsku het sodat hulle nie vernietig is nie! Verraaier! Hy moes nooit soveel sukses met sy prediking gehad het nie!

Met sulke skewe waardes sit ‘n mens – en ‘n God – wat onveranderlik is in die sin dat jy nie kan reageer op ‘n nuwe situasie nie.

Daar is min dinge wat duideliker in die Bybel is as dat God verander. Hy leef telkens in nuwe verhoudinge met nuwe verantwoordelikhede. Deur te skep, word Hy Skepper, en ná die skepping is Hy ook Onderhouer. Hy word die God van Abraham, later die God van Israel, die troue verbondsgod wat nooit voor die skepping in ‘n verbond met mense geleef het nie. In Jesus word Hy ‘n mens, en dit ‘n vernederde mens. God kom voortdurend in nuwe situasies en verhoudings te staan. In hierdie sin verander Hy voortdurend.

Maar dit alles net omdat Hy in ‘n ander sin onveranderlik is, of liewer (aan Homself) getrou bly, getrou aan sy wese, getrou aan sy skeppingsdoel as die God wat gemeenskap stig om ander in sy vreugde te laat deel.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Laat sy Liefde jou Lei: Geloof gaan nie oor ons nie

Laat sy Liefde jou Lei: Geloof gaan nie oor ons nie – Milanie Vosloo

Geloof gaan nie oor ons nie

Die Here stuur sy engele om mense te beskerm wat Hom dien … Onthou, die Here voorsien in elke behoefte van mense wat Hom dien. Psalm 34:8 en 10b

Gelowiges kan so maklik in die strik van verwagting trap. Ons kan so gou dink dat, omdat ons in God glo, Hom getrou aanbid en dalk selfs vir Hom ’n werkie of twee doen, Hy iets aan ons verskuldig is. Dan is ons vinnig om ongelukkig te raak wanneer God nie aan ons verwagtinge voldoen nie. Dis die tye wanneer ons geloof om óns draai!

Die waarheid oor geloof is egter dat dit allermins oor my en jou gaan. Geloof gaan oor die heilige en alwetende God en oor Hom alleen. Sonder ons God is daar niks!: nie verwagting nie, nie hoop nie en nie ’n toekoms nie. Daarom sê Eugenia Price is die volgorde van geloof soos volg:

  • God – die God wat altyd daar is – kom eerste.
  • Tweedens kom vertroue in God. Ja, ook wanneer Hy ver voel, ís Hy by jou.
  • En dan eers … kom jou gevoelens. Want jou gevoelens is onbetroubaar.

As jy dus soms “voel” of jy God nie kan vertrou nie, lees gerus dan weer die hele Psalm 34 en onthou dan dat God, ongeag ons emosies, God is en blý. Daarom sál Hy in en deur alles onwankelbaar en betroubaar blý.

Here, help my om ánders oor U te dink: om te besef dat U – die ware en enigste God – áltyd aan my getrou bly. Veral wanneer ek self twyfe.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Geloofsvrae: God se geregtigheid

Geloofsvrae: God se geregtigheid – Adrio König

God se geregtigheid

God se geregtigheid het alles met die woordjie `reg’ te doen. Omdat Hy die verbondsgod is wat in ‘n liefdesverhouding met sy skepping leef, het sy geregtigheid te doen met regte verhoudings. Hy staan in die regte verhouding tot ons, en Hy verwag van ons om ook in die regte verhouding teenoor Hom, teenoor mekaar en die res van sy skepping te staan. Die groot toekomsperspektief is dan ook ‘n aarde wat vol is van geregtigheid, d.w.s. waar alles reg is.

Wat is geregtigheid? Wanneer is alles reg? Die begrip geregtigheid het nie ‘n vasstaande inhoud nie. Alles hang af van die betrokke verhouding. Geregtigheid geskied, of eenvoudiger gesê: dinge is reg, wanneer die verhouding is soos dit behoort te wees. ‘n Mens moet dus weet wat die verhouding behoort te wees voordat jy kan besluit wat reg is, dus wat die inhoud van geregtigheid is.

Israel het in geregtigheid teenoor God geleef as hulle Hom in liefde gehoorsaam, die `oudstes’ (regters) het in geregtigheid teenoor die volk geleef as hulle regverdige uitsprake lewer, ons leef in geregtigheid teenoor ons kinders as ons hulle met liefdevolle gesag opvoed, ‘n man en ‘n vrou leef in geregtigheid (d.w.s. reg) as hulle mekaar in liefde opvang en ondersteun, rykes leef reg teenoor armes as hulle hul oor die armes ontferm, ons leef in geregtigheid teenoor die natuur as ons dit met verantwoordelike eerbied gebruik om ons lewe te ondersteun.

God se geregtigheid beteken dat Hy altyd reg leef in sy verhoudings. By Hom val dit wat behoort te wees, saam met dit wat is. Sy geregtigheid teenoor verdrukkers is dat Hy hulle teenstaan, sy geregtigheid teenoor verdruktes is dat Hy hulle red. Dit is waarom die geregtigheid van God sowel ‘n bedreiging as ‘n troos is. Die bekende Psalmberyming: `U hand wat nooit die kwaad gedoog, rys vol geregtigheid omhoog‘(Ps 48:4) is ‘n waarskuwing aan dié wat onreg pleeg, en terselfdetyd ‘n troos vir dié wat veronreg word.

In die NT kry ons die verrassende wending dat God die goddelose regverdig! Christene `glo in Hom wat die goddelose vryspreek‘ (Rom 4:5). Dit lyk met die eerste oogopslag na onreg. Die oudstes kon nie die oortreders onskuldig verklaar nie. Maar God verklaar hulle onskuldig. Nee, dis tog verkeerd gesê. God verklaar nie die goddeloses regverdig nie – dit sou inderdaad onreg wees. Hy verklaar die goddelose wat glo, regverdig; Hy regverdig mense deur die geloof; want om te glo, beteken om op Jesus as jou geregtigheid te vertrou. Die goddelose wat glo, het dus geregtigheid, hulle is reg. Hulle staan nie voor Hom in hul eie geregtigheid nie, maar in iemand anders s’n, in Jesus s’n. Hy is reg en hulle vertrou op Hom.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König