Die Handelinge van die Apostels: Saulus in Jerusalem (Hand 9:26-31) – Francois Malan

9:26 
Na sy ontsnapping uit Damaskus gaan Saulus na Jerusalem. In Galasiërs
1:18 sê Paulus dat hy daarheen gegaan het om Sefas te ontmoet, waarskynlik
omdat Sefas die hele tyd saam met Jesus was tydens sy bediening, en leiding
geneem het onder die volgelinge van Jesus. Maar toe Saulus in Jerusalem kom en
by die gemeente wou aansluit, was die dissipels almal bang vir hom omdat
hulle hom nog as hulle kwaaiste vervolger onthou en nog nie kon glo dat hy
waarlik ’n dissipel van Jesus geword het nie. Na die oorlog tussen Herodes en
Aretas was die verbinding tussen Damaskus en Jerusalem nie te goed nie, en het
die gemeente moontlik nog nie gehoor van sy bekering nie.

9:27 Josef, die Leviet uit Siprus, het
by die apostels die bynaam Barnabas (seun van vertroosting) gekry. Hy
was die eerste dissipel wat sy stuk grond verkoop het en die geld na die
apostels gebring het vir die weduwee-versorging (Hand 4:36-37). Hy was Markus
se oom, in wie se huis die gemeente bymekaar gekom het (Hand 12:12). Die
lidmaat Barnabas was dié keer die middelman wat Saulus na die apostels geneem
het (Paulus sê in Gal. 1:18-19 dat hy met dié geleentheid van die apostels
slegs vir Sefas ontmoet het, en by ’n volgende geleentheid met van die ander
kennis gemaak het, Gal 2:9). Barnabas het aan die apostels die hele verhaal van
Saulus se bekering vertel en hoe hy in Damaskus vrymoedig in die Naam van Jesus
gepreek het (parrêsiazomai om openlik en met vrymoedigheid oor iets te
praat). Waar Barnabas aan die kennis van Saulus se bekering gekom het, word nie
gesê nie, maar dit is duidelik dat die Here, wat met hom op die Damaskuspad
gepraat het, Barnabas gebruik het om Saulus te laat opneem in sy gemeente in
Jerusalem. In Galasiërs 1:18 vertel Paulus dat hy vyftien dae by Sefas gebly
het. In dié tyd kon hulle hom inlig oor alles wat Jesus gesê en gedoen het,
maar veral oor Jesus se dood, opstanding, hemelvaart en die uitstorting van die
Heilige Gees. Die lys wat aan Saulus oorgelewer is van persone aan wie Jesus na
sy opstanding verskyn het, het hy waarskynlik met dié geleentheid by Sefas
gehoor (1 Kor 15:5-9).

9:28 Die vers beskryf hoe Saulus saam
met die apostels was en met vrymoedigheid gepraat het in die Naam Jesus,
wat hy vroeër wou uitroei (parrêsiázomai om openlik en met algehele
vertroue te praat).Om in Jerusalem in en uit te gaan, is ’n Hebreeuse
idioom wat sê dat hulle dit dwarsdeur Jerusalem gedoen het, sonder vrees vir
die Joodse Raad, in vertroue op die Here wat van hulle sy getuies gemaak het in
die stad van sy lyding (vgl. Lukas 18:31-33). In die Naam van Jesus beteken dat
hy oor die Jesus wat aan hom verskyn het vertel het, uit die Ou Testament bewys
het dat Jesus die beloofde Messias van die Ou Testament is, en dat hy waarlik
God is wat aan die regterhand van die Vader oor alles en almal heers (soos Dan
7:14 sê). 

9:29 Soos Stéfanus voor die
Griekssprekende Jode uit die verstrooiing geredeneer het (suzêtéō Hand
6:9), so het Saulus ook met die Helleniste (Griekssprekende Jode) in
Jerusalem gepraat en geredeneer. Hulle het, soos met Stefanus, steeds
probeer/gesoek (epicheiréō imperfektum) om Saulus dood te maak. Saulus,
wat Stefanus se dood goedgekeur het (Hand 8:1), neem nou sy plek in as Jesus se
getuie en sendeling onder die Helleniste.

9:30 Toe die gelowiges (hier ‘broers’
genoem) hoor van die planne van die Helleniste om Saulus te vermoor, het hulle
hom van Jerusalem bo in die Efraimsberge na Sesarea aan die kus afgebring.
Daarvandaan het hulle hom na Tarsus weggestuur. Paulus se weergawe van die
gebeure voor die volk in Hand 22:17-21 voeg by dat die Here vir hom in die
tempel gesê het om haastig uit Jerusalem pad te gee omdat hulle sy getuienis
oor Hom nie sal aanvaar nie. Hy moet weggaan omdat die Here hom ver weg wil
stuur na die heidene. Tarsus, Paulus se geboortedorp, was ’n welvarende
stad aan die Taurusgebergte in die huidige Turkye. Destyds was daar ’n beroemde
universiteit wat meegeding het met die universiteite van Athene en Alexandrië.
In Hand 21:39 verdedig Paulus hom voor die Romeinse hoofman wat vra of hy dan
Grieks ken: ‘Ek is ’n Joodse man, afkomstig uit Tarsus in Silisië, ’n burger
van ’n nie te onbelangrike stad nie (Paulus was ’n gebore Romeinse burger met
die regte van Romeinse burgerskap, vgl. Hand. 16:27; 22:25-29; die Romeine het
die ou stad Tarsus, wat sedert 833 v.C. bekend was, in 64 v.C. die hoofstad van
hulle nuwe provinsie Silisië gemaak).

Handelinge 11:25 tel weer die
geskiedenis van Saulus op nadat hy vir ongeveer 10 jaar in Tarsus, in die
provinsie Silisië  was. Van die tyd ná sy
vlug uit Jerusalem, skryf hy in Galasiërs 1:21: ‘Later het ek na die streke van
Sirië en Silisië gegaan’ waar hy skynbaar in die ongeveer tien jaar voortgegaan
het met sy prediking van die evangelie (vgl. Gal 1:22).

                Oorsig oor die lewe van die vroegste
gemeentes
(Hand 9:31)

9:31 Die Griekse mèn oun lui ’n
nuwe gedeelte van Handelinge inoor wat verder gebeur, deur op te som
wat vooraf gebeur het, en om verder iets nuuts te beskryf. So vertel dié vers
dat die kerk vrede beleef het – ná die bekering en getuienis van Saulus, die
leier van die vervolging van die Jesus-gelowiges; ‘en opgebou is.’ Die passiewe
werkwoord veronderstel dat die Here sy kerk opgebou het – deur die gelowiges se
verkondiging van sy woord.  ‘En hulle het
met die vrees van die Here gewandel…’ – met ontsag vir die Here geleef, dat sy
woord en wil hulle manier van lewe bepaal het. ‘En met die hulp van die
Heilige Gees is hulle getalle deurlopend baie vermeerder
’ (plêthúneto
om baie uit te brei in getalle en omvang; imperfektum wat voortgang aandui,
passief wys dat dit die Heilige Gees is wat ongelowiges oortuig het om in Jesus
te glo deur die gelowiges se getuienis met woord en lewenswyse; vgl. Joh 16:8;
Matt 5:13-16). Die vredestyd vir die kerk was ook die tyd vir sy innerlike
opbou en uitbreiding. Die tyd van vrede (Hand 9:3-11:30) staan egter tussen
twee gedeeltes van vervolging van die kerk (tussen 8:1-9:2 en hoofstuk 12).

Die Griekse woord ekklêsia vir kerk, was voorheen altyd gebruik vir die onderlinge verbondenheid van die burgers van ’n Griekse stad. Maar in die Nuwe Testament wys dit veral na ’n gemeente van Christene wat die interaksie en gemeenskap van die lidmate impliseer. Hier verwys die enkelvoud na al die gemeentes saam as kerk. Elders in die Nuwe Testament verwys ekklêsia na ’n plaaslike gemeente (bv. 1 Kor 1:2) of ’n byeenkoms van gelowiges (bv Hand 19:39). Die gebied waarin die kerk vrede beleef het en opgebou is, word aangegee as in Judea, Galilea en Samaria. Handelinge 9:32-12:19 handel juis oor wat verder gebeur het in Lidda, die Saronvlakte, Joppe, Sesarea en Jerusalem, wat in die provinsies Judea en Samaria geleë is. Die vers is ook die begin van die tweede reeks oor Petrus in die volgende vier hoofstukke, wat in 11:19-30 onderbreek word om Saulus weer onder die aandag van die leser te bring (die eerste gedeelte oor Petrus het gestrek van Handelinge 1:15-5:42).

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Saulus se prediking en vervolging (Hand 9:19b-25) – Francois Malan

9:19b Die getal van die paar dae word
nie gemeld nie (hêmeras tinas ’n onbepaalde aantal dae), waarskynlik was
dit nie baie dae nie. Gedurende die paar dae was hy, Saulus, saam met die
dissipels
in Damaskus – die mense wat hy vroeër wou arresteer is nou sy
geloofsbroers. Hy word in die gemeente opgeneem, waarskynlik met die voorspraak
van Ananias wat die hele verhaal aan die gemeente sou vertel het, soos Barnabas
later in Jerusalem (Hand 9:26-27).

9:20 Dadelik, na sy paar dae saam met
die dissipels, het hy Jesus begin verkondig in Damaskus se Joodse sinagoges (kêrússō
aankondig, vertel, preek). Aan die Jode het hy verkondig dat Jesus die
Seun van God is
. Toe die hoëpriester Jesus voor die hele Joodse Raad
gekonfronteer het met die vraag: ‘Is jy die Christus, die Seun van die
Lofwaardige?’ het Jesus geantwoord: ‘Ek is!’ en hulle het Hom met veragting
verwerp, en vir godslastering laat kruisig (Mark 14:61-65). Nadat Jesus egter
persoonlik met Saulus uit die hemel gepraat het, was hy oortuig dat Jesus
waarlik die Seun van God is! (vgl. 1 Kor 8:6; Kol 1:15-20; Flp 2:9-11; Rom
8:34; Efes 1:2).

9:21 Almal wat Paulus se boodskap
gehoor het, was uitermate verstom oor die radikale omswaai van die
gevreesde man (eksístamai  so
verbaas dat jy amper nie kan verstaan wat jy ondervind nie). Dit was veral die
Jode wat so verbaas was, maar sy getuienis het ook die gelowiges verbaas. Die
vers bestaan verder uit twee retoriese vrae wat in Grieks die antwoord ‘ja, dit
is so!’ veronderstel, en omdat dit twee vrae is, veronderstel dit eintlik die
antwoord ‘ja, dit is verseker so!’  ‘Is
dit nie hy wat in Jerusalem dié wat daardie Naam noem aangeval het om hulle uit
te wis nie? (portheō aanval met die doel om uit te wis; die woord word
in die Nuwe Testament net hier en in Gal 1:13,23 gebruik); en het hy nie
hierheen gekom om hulle gebind na die hoëpriester toe te vat nie?’ Saulus se
reputasie het hom vooruit geloop.

9:22 Saulus het ‘n konsternasie onder
die Jode wat in Damaskus gewoon het veroorsaak, deurdat hy aan hulle
onteenseglik bewys het dat Jesus die Jode se verwagte Messias/Christus is.
Die Here hom gaandeweg al sterker daarvan oortuig. Hy kon skynbaar die Ou
Testamentiese woorde oor die Gesalfde van God al duideliker uitlê as profesieë
wat in Jesus vervul is. Daarop het die Jode nie ‘n antwoord gehad nie. Daarom
het hulle verbasing oor sy bekering in vers 21 ‘n verwarring in hulle gemoed en
geloof geword. Hulle wou nie aanvaar dat Jesus hulle Messias is nie, maar kon niks
daarteen sê nie.

9:23 Lukas gaan hierna oor na die Jode
se vervolging van Saulus in Damaskus na ’n lang tyd (hêmérai hikanaí ‘ná
baie dae’). Maar Saulus voeg hier ’n tydperk in waarin hy in Arabië gaan preek
het, teruggekom het Damaskus toe, en dat hy eers drie jaar na sy bekering na
Jerusalem opgegaan het (Gal 1:11-20). Dit kon alles in die ‘lang tyd’ van
Handelinge ingepas wees.

‘Toe baie dae voltooi is (plêróomai
om tot die einde van ’n tyd te kom, met die implikasie van die voltooiing
van ’n plan)  het die Jode saamgespan
(sumbouleuómai om saam te beplan om ’n gemeenskaplike aksie te loods) om
Saulus dood te maak (anairéō om van iemand ontslae te raak deur
eksekusie). Dit het ’n lang tyd van beplanning geneem voor die Jode se plan om
Saulus dood te maak eenstemmige goedkeuring gehad het. In 2 Kor 11:32 voeg
Paulus nog ’n ander aspek daarby: ‘In Damaskus het koning Aretas se goewerneur
die stad Damaskus bewaak om my te arresteer.’ Of die Jode agter die opdrag van
die goewerneur was, word nie gesê nie, maar die Jode kon die goewerneur
goedskiks oortuig het om Saulus te laat vang, soos hulle Pilatus oortuig het om
Jesus te laat kruisig.

[Aretas  IV het in Petra oor die Nabateërs regeer van
9 v.C. tot 39/40 n.C. Hy was die skoonvader van Herodus Antipas, wat van Aretas
se dogter geskei het om met sy halfbroer Filippus se vrou Herodias te trou.
Herodias was ook Herodus se halfbroer Aristobulus se dogter. Oor die verstoting
van sy dogter het Aretas in’n veldslag Herodus en sy soldate verslaan. Aretas
het oor Damaskus regeer van 37-39/40 n.C. in die tyd van keiser Caligula wat
hom goedgesind was. Saulus se ontsnapping uit Damaskus kon moontlik gedurende
die drie jaar geskied het.]

Dwarsdeur sy loopbaan was die Jode
Paulus se mees verbete teenstanders. In hulle oë was hy ’n verraaier van sy
volk en van hulle godsdiens. Hy moes uit die weg geruim word (vgl. Hand
21:27-31; 24:5-6). Hier in Damaskus het die Here reeds begin om hom te wys wat
hy vir die Naam van Jesus moet ly. Hierdie eerste vernedering word laaste
genoem in die lys van sy lydings in 2 Kor 11: 23-33 as ’n laaste van sy
swakhede waaroor hy roem. Dit het hom dwarsdeur sy lewe bygebly, maar hy het
daaroor geroem as sy verwerping en lyding vir en saam met Jesus (vgl. Hand
21:10-14). 

9:24 Die Here sorg egter dat
Saulus hoor van die Jode se komplot, en dit word bekend dat hulle die stad se
poorte dag en nag dophou om hom dood te maak.

9:25 Saulus se dissipels het hom egter geneem (dieselfde Griekse woord vir ’n  dissipel mathêtês kom van twee verskillende werkwoorde: manthánō om te leer, en mathêteō om te volg. Daarom kan die woord verwys na leerders of volgelinge van ’n persoon). Saulus het in die lang tyd alreeds ’n aantal volgelinge wat deur hom onderrig word, waarskynlik onder die Jode vir wie hy in hulle sinagoges verkondig het dat Jesus die Seun van God is (Hand 9:20) en nie-Jode, die heidene onder die Arabiere, aan wie hy Jesus verkondig het (Gal 1:16). Hierdie lojale dissipels van Saulus het hom in die nag geneem, geleidelik laat afsak deur die versterkte stadsmuur, af in ’n groot mandjie (spurís). In 2 Kor 11:33 sê Paulus hy is met ’n groot mandjie van tou gevleg (sargánê) deur ’n venster (thurís) in die stadsmuur geleidelik laat afsak. (So het Ragab Josua se twee verkenners met ’n bloedrooi tou deur die venster van haar huis in die stadsmuur van Jerigo laat afsak om te ontvlug (Jos 2:15,18).

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Jesus roep Ananias om vir Paulus te sê wat hy moet doen (Hand 9:10-19a) – Francois Malan

9:10 Lukas stel Ananias (‘Die
HERE – Jahweh – is genadig’) aan sy lesers voor as ’n dissipel (volgeling van
Jesus). In 9:13 beskou Ananias homself as een van die Here se ‘heiliges’ – wat
aan die Here toegewy is. In Paulus se verweer voor die Joodse volk in Hand
22:12 beskryf Paulus hom as ’n vroom man wat volgens die wet lewe en ’n goeie
naam onder die Jode het (Daar is drie persone in Handelinge met die naam
Ananias – die bedrieër in 5:1; hierdie vroom man (ook in 22:12 genoem) en die
hoëpriester in 23:2 voor wie Paulus aangekla is na sy derde sendingreis.

Die Here Jesus het in ’n visioen
Ananias op sy naam geroep en hy het homself direk tot die beskikking van die
Here gestel: ‘Hier is ek, Here.’ Hy herken Jesus in die visoen en is dadelik
bereid
om na Hom te luister as die Here aan wie hy homself oorgegee het, en
wat die seggenskap oor sy lewe het.

9:11 Reguitstraat was destyds die
hoofstraat wat oos-wes deur Damaskus geloop het, met ’n poort van pilare aan
elke kant. Die huis van Jason in die hoofstraat skep die vermoede dat dit ’n
herberg was waar Paulus se metgeselle hulle blinde leier gelos het (vgl. Luk
10:34). As inwoner van Damaskus sou Ananias die huis geken het. Saulus word
hier vir die eerste keer deur sy geboortestad Tarsus geïdentifiseer om hom te
onderskei van ander met die naam Saulus wat dikwels voorgekom het. ‘Want kyk!’
Luister mooi! Die belangrikste omtrent die man is dat hy op die oomblik in
afhanklikheid besig is om soekend met Jesus te praat (proseuchomai om
met God te praat, jou versoeke tot God te rig). Sy gebed is die bewys
van die egtheid van sy bekering om Ananias gerus te stel.

 9:12 Ook Saulus het ’n visioen gehad, soos
Ananias. Daarom moes Ananias besef dat Jesus met Saulus besig was. Met die
visioen aan Ananias het Jesus die pad na Saulus vir Ananias oopgemaak. Hy
verwag Ananias as gestuurde van die Here om hom die hande op te lê om hom weer
te laat sien. Ananias kan weet die man is tans hulpeloos blind en wag op die
Here se antwoord op sy gebed. Hy sal Ananias as God se bode ontvang. So
berei die Here die twee voor vir die ontmoeting wat Hy reël.

9:13 Ten spyte van die Here se
verduidelikings bly Ananias skrikkerig vir die man van wie hy by baie mense gehoor
het watter bose dinge hy met die Here se mense in Jerusalem gemaak het en hy
sien op teen sy opdrag. Daarmee word ook onderstreep hoe sleg Saulus die
gelowiges behandel het(vgl. 
Moses in Eks 3:11 en Jeremia in Jer 1:6 se opsien teen die Here se opdrag
aan hulle). Saulus se naam is al in Damaskus bekend onder die gelowiges.
Ananias gebruik die benaming ‘u heiliges’ vir Jesus se volgelinge. Die
woord heilig het die betekenis van toegewy aan God. ‘U heiliges’ is mense wat
aan Jesus toegewy is deur hulle geloof in Hom en deur hulle lewenswandel
volgens sy woord (vgl. 1 Kor 1:29 ‘Deur God is julle in Christus Jesus, wat vir
ons die wysheid geword het wat van God kom: regverdiging sowel as heiliging en
bevryding.’ 

9:14 Ananias is ook ingelig oor Saulus
se opdrag van die Joodse Raad om Jesus se mense te kom arresteer. Hy noem hulle
‘al die Here se mense.’ Dit was die onderskeidingsteken tussen Jode wat aan
hulle ou godsdiens toegewy was en   mense
wat die naam Jesus gebruik het, die naam wat die Joodse Raad wou uitwis (Hand
4:18; 5:40; 7:55-57). Letterlik staan hier ‘almal oor wie u Naam uitgeroep
word’ – die passiewe werkwoord van die idioom word die beste weergegee met ‘om
die mense van die Here te wees.’ Later word hulle Christene genoem as
mense wat aan Christus behoort (Hand 11:26). 

9:15 Jesus laat Ananias uitpraat en
dan herhaal hy sy opdrag: ‘Gaan!’ en gee vir Ananias ’n kykie in sy planne met
Saulus. Deur die Here se onbegryplike verkiesing het Hy Saulus, die vyand van
Jesus uitgekies om sy instrument te wees om juis die Naam Jesus, wat Saulus wil
uitdelg, uit te dra;‘Want juis hy is vir My ’n uitverkore werktuig
om my Naam te dra’ (bastázō ónoma, ’n idioom, letterlik ‘dra ’n naam,’
om informasie oor ’n persoon wyd te versprei). Jesus maak van sy doodsvyand sy
bruikbare werktuig (skeuos voorwerp, ding, instrument, word figuurlik
gebruik vir ’n persoon vir ’n spesifieke taak). Jesus gaan hom stuur na
heidene, en ook na konings, en die kinders van Israel – Jode en nie-Jode,
hooggeplaastes en gewone mense. Die heidene kom eerste in die lys en hy beskou
homself eerstens as die apostel na die heidene toe (Rom 1:13; 1:14; Gal 1:16;
Ef 3:1, ens.). Hy het voor koning Agrippa getuig (Hand 25;13,22; 26:2) en voor
goewerneurs (Hand 13:6). Paulus het gewoonlik eers in die Joodse sinagoge
gepreek en as hulle die evangelie verwerp, dan na die heidene gegaan (vgl. Hand
9:20; 13:44-46; 17:1-2; 18:4,6). Om sy Naam uit te dra behels die
bekendstelling van Jesus as die Seun van God wat vir ons sondes kom sterf het, uit
die dood opgestaan het om vir ons die pad na die ewige lewe oop te maak,
en aan die regterhand van God oor die ganse skepping regeer en dit onderhou.

9:16 Van die onwaarskynlikste man,
vervolger van Jesus se volgelinge, sê Jesus: 
‘En Ekself sal aan hom toon hoeveel hy ter wille van my Naam moet ly
– Hoe sleg (hósa kakà) Saulus die Here se mense behandel het (8:13),
word gebalanseer met hoeveel hy moet ly (hósa dei pathein) ter wille van
die Here se Naam. Die vers begin met ’n beklemtoning deur die Here: ‘Ek, Ek sal
aan hom bekendmaak…’ Soos Jesus moes ly om ons verlossing te bewerk (Luk
24:26,46; Hand 17:3) moet Jesus se volgelinge ter wille van die evangelie ly (1
Kor 4:9-13; 2 Kor 1:5-7; Flp 1:29-30; 3:10; Kol 1:24). Jesus se lyding is vir
ons ’n voorbeeld, soos Paulus se lyding ook vir die gemeentes wat hy gestig het
’n voorbeeld was om te volhard in baie ontberings om in die koninkryk van God
in te gaan (Hand 14:22).  

9:17 Ananias wat in opdrag van die
Here moes kom, kom die huis binne. Die blinde Saulus word aan hom bekendgestel
deurdat hy sy hande op Saulus lê, soos Saulus in die visioen gesien het (9:12).
Hy sê ook vir Saulus dat die Here hom gestuur het – die Jesus wat aan hom
verskyn het op die pad waarmee hy gekom het – sodat hy weer kan sien, soos
Jesus aan Saulus in sy visioen gesê het. Daaruit is dit vir Saulus duidelik dat
Ananias alles weet wat met hom op die pad gebeur het. Ananias spreek hom in sy
moedertaal aan as ‘Saul,’ en voeg daaraan toe ‘broer’ wat beteken dat hy Saulus
in die gemeente verwelkom as ’n mede-broer in Christus (vgl. Hand 1:15). Met
die handoplegging word die Here se belofte vervul dat hy weer kan sien en met
die Heilige Gees vervul
word. Met die Heilige Gees wat in Saulus kom woon
verbind die Here Hom aan Saulus en neem Hy hom in diens as sy dienskneg en
getuie, sy gestuurde apostel (vgl. Hand 22:14-15; 26:16-18; Rom 1:1; 1 Kor 1:1;
2 Ko 1;1; Gal 1:1; Ef 1:1; Kol 1:1; 1&2 Tim 1:1; Titus 1:1). Saulus is die
Latynse naam vir Saul, sy Hebreeuse naam.

9:18 Onmiddellik val daar iets van sy oë af, soos vliese (wat sy oë teen die verblindende lig beskerm het?), of soos die skubbe van ’n vis of die skilfers van jou vel (lepís ’n skub of ’n skilfer) en hy het weer gesien (vgl. Luk 4:18) – na drie dae se duister waarin hy tot stilstand moes kom, sy opstand teen God bely het (vgl. 1 Kor 15:9-10; 1 Tim 1:13-14), sy woede teen die Jesus-gelowiges moes aflê en hy anders oor Jesus en sy volgelinge moes begin dink. Die man wat dreiging en moord in- en uitgeasem het (Hand 9:1), het later gelowige eienaars vermaan om hulle dreigemente teen hulle slawe te staak omdat hulle altwee dieselfde Here in die hemel het, wat niemand volgens die uiterlike beoordeel nie (Ef 6:9). Dit was drie dae vir besinning en aanvaarding van Jesus as die verwagte Messias van Israel en as die Here ook van sy lewe. Hy het opgestaan en is deur Ananias gedoop as die seël op sy kindskap van God. 9:19a Na drie dae se vas (9:9) eet Saulus weer en het hy sy liggaamlike en geestelike kragte herwin. Hy het later gesê: ‘As iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het en aan ons die bediening van die versoening gegee het…’(2 Kor 5:17-18).

Skrywer: Prof Francois Malan




Jesus se broers – Francois Malan

Wessel vra

Goeie dag. Ek erken dat my Bybel kennis nie goed is. Julle skrywe verduidelik vrae baie mooi en dit is hoekom ek hulp vra met die volgende.

In die Bybel soos in Johannes 19:26
word daar gepraat van die dissipel wat Jesus liefehad het maar sonder naam. Is
dit nie “James”, sy broer? Hy het ook gepreek oor Jesus en so ver ek
weet is hy ook van n muur afgegooi en gestenig vir sy preeke.

Word hy en Jesus se ander broers en
susters nie opsetlik nie baie oor gepraat omdat toe die boeke van die Bybel
bymekaar gesit is, die belangrikeid van Jesus se famielie nie wou beklemtoon
word nie?

Baie dankie by voorbaat.

Antwoord

Prof
Francois Malan antwoord:

1 Die dissipel vir wie Jesus
liefgehad het .

In hoofstukke 1-12 van die Evangelie
volgens Johannes, word na Johannes en Jakobus, die seuns van Sebedeus verwys as
dissipels van Jesus. Van hoofstuk 13-21 word na ‘die dissipel vir wie Jesus
liefgehad het’, verwys in 13:23-26; 19:25-27; 20:1-10; 21:1-14,20-24. In
18:15-16 word verwys na ‘die ander dissipel.’

Die vroeë kerk het ‘die dissipel
vir wie Jesus liefgehad het,’ beskou as dieselfde persoon as Johannes, die seun
van Sebedeus. Daar is egter in die loop van die geskiedenis van die kerk baie
vrae of dit dieselfde persoon is. Maar niemand weet vir
seker
wie ‘die dissipel vir wie Jesus liefgehad het’ was nie en
waarom dit nie in die Evangelie uitgespel is nie. Waarom begin die skrywer van
die Evangelie homself van hoofstuk 13 af ‘die dissipel vir wie Jesus liefgehad
het’ noem en in die eerste twaalf hoofstukke net Johannes? 

Die ‘ander dissipel’ van Joh
18:15-16 wat bekend was by die hoëpriester in Jerusalem, kon seker nie die
visserman Johannes, seun van Sebedeus van Joh 21:2 wees nie (vgl. Matt  4:21 en Lukas 5:10).

2 Jakobus

Die Jakobus waarna jy verwys was
nie die dissipel Jakobus, die seun van Sebedeus nie. Dié broer van die dissipel
Johannes is volgens Handelinge 12:1-2 deur Herodes Agrippa I met ’n swaard laat
doodmaak. 

Johannes en Jakobus was broers,
seuns van Sebedeus en ook ongeletterde vissers (Mark 1:19-20; Hand 4:13). Hulle
was neefs van Jesus. Markus 6:3 noem die ander kinders van Maria. Johannes en
Jakobus se ma, Salome, was Maria se suster as jy die volgende twee tekste
vergelyk: Mark 15:40 sê Salome het by die kruis gestaan, en Joh 15:25 sê: Jesus
se moeder se suster het by die kruis gestaan. Jesus het die twee seuns
Boanerges genoem, seuns van die donder (Mark 3:7; vgl Luk 9:54). Jakobus,  die broer van Johannes was die eerste
apostelmartelaar (Hand 12:2).

Jakobus die broer van Jesus, word
in Markus 6:3 genoem as een van Jesus se broers. Die broers van Jesus het eers
nie in Jesus geglo nie (Joh 7:5), maar na Jesus se hemelvaart vertel Handelinge
1:14 dat hulle saam met Maria en die apostels volhard het in gebed.

Jakobus, die broer van Jesus, word die
leier van die gemeente in Jerusalem nadat die apostels uit die stad moes padgee
weens die vervolging teen hulle (Hand 12:1-3,17).  Paulus noem hom eerste as een van die pilare
van die kerk saam met Sefas en Johannes (Gal 2:9), as leier van
die gemeente in Jerusalem (vgl. Gal 2:12) en dat Jesus na sy opstanding aan
Jakobus verskyn het (1 Kor 15:7). By die Jerusalemvergadering van apostels en
ouderlinge het Jakobus die laaste woord gehad en die besluit van die
vergadering geformuleer (Hand 15:13-21). Met Paulus se terugkoms in Jerusalem
na sy derde sendingreis kom doen hy verslag aan Jakobus en die ouderlinge (Hand
21:18). Jakobus skryf ook die brief van Jakobus in die Nuwe Testament.
Hy rig die brief aan die twaalf stamme in die verstrooiing, die gelowige
Jode wat buite Palestina woon. Hy noem homself ’n dienskneg van God en die Here Jesus Christus (Jak 1:1).
Eusebius skryf dat Hegisippus vertel het dat die priesters hom van die toring
van die tempel afgegooi het, dat hy vir hulle gebid het en dat hulle hom met
klippe gegooi het en een hom met ’n knuppel
oor die kop doodgeslaan het omdat hy van die toring af verkondig het dat Jesus
aan die regterhand van God sit en weer met die wolke sal kom (vgl. Luk 22:69;
21:27). Hy is toe, volgens die tradisie, op die
tempelterrein begrawe.

’n Ander broer van Jesus was Judas (Mark 6:3), wat die brief van Judas begin met ‘Judas, dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus (Judas 1:1). Hierdie Judas moet nie verwar word met Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het nie.

Skrywer: Prof Francois Malan