Efesiërs (2)

Efesiërs (2) – Francois Malan

1.3 God het ons saam met Christus opgehef en verhef (2:1-10)

Paulus se nie-Joodse lesers was geestelik dood deur hulle oortredings en sonde, deur hulle wêreldse lewenswyse, gelei deur die onsigbare bose heerser wat mense weglei tot ongehoorsaamheid aan God. Die Jode het ook die begeertes en gedagtes van hulle selfsug gevolg, en is saam met alle mense onderhewig aan God se toorn oor sonde.

Daarteenoor het God ons uit genade gered. Uit sy ryke barmhartigheid en sy innige liefde vir ons het Hy ons saam met Christus lewend gemaak, ons met Hom opgewek, en ons as burgers van die hemel laat lewe, oorgeplaas na die nuwe regering van Christus, in staat om die bose te weerstaan. God het die kerk ontwerp as die meesterstuk van sy goedheid vir tyd en ewigheid. Ons verlossing en ook ons geloof in Christus is God se genadegawes, nie ons eie prestasie waaroor ons kan roem nie. Deur Christus het God ons nuut geskep, om die goeie werke te doen wat Hy van ewigheid af vir ons voorberei het om daarin te lewe.

1.4 Die insluiting van die nie-Jode in die een liggaam (2:11-22)

Gelowiges uit die heidendom is nie meer sonder Christus, sonder God, en sonder hoop nie, maar is met Christus verenig, met toegang tot God deur Christus se offerdood.

Christus is ons vrede. Hy het Jode en nie-Jode verenig deur hulle vyandskap te oorwin met sy selfopoffering. Hy het die verbond van Moses se wet wat hulle van mekaar geskei het, afgebreek, en skep in sy persoon ‘n nuwe persoon, ‘n nuwe mensheid. Saam is hulle met God versoen, en die vyandskap tussen hulle en God is verwyder. Christus se vredesluiting het vir Jode en heidene vrye toegang tot die Vader gebring, deur die één Gees, in sy één liggaam, die kerk, deur sy goeie boodskap van vrede.

Gelowiges uit die heidendom is nou medeburgers van God se koninkryk, tuis in die Vader se gesin. Hulle is deel van God se tempel, wat opgebou word deur wat God in Christus geopenbaar het, die geheim wat die Heilige Gees aan die apostels en profete bekend gemaak het om te verduidelik en uit te bou. Alles word op Christus gebou, en die vorm van hulle opbou word deur dié hoeksteen bepaal. Die hele gebou funksioneer slegs in sy verhouding tot Christus, die gelowiges is aan Hom in die hemel verbind en met mekaar. Die tempel is God se hemelse woning, maar op aarde is dit sy mense in wie Hy deur sy Gees leef, om hulle met die hemel te verbind deur die Gees van die opgestane Christus.

1.5 Die hemelse geheim en Paulus se bediening onder die heidene (3:1-13)

Paulus vra die Filippense om nie ontmoedig te word deur sy lyding as gevangene wat Christus dien nie. Wat hy doen is tot hulle nie-Jode se voordeel, vir hulle ewige heerlikheid (3:1,13). Tussenin, 3:2-12, verduidelik hy sy rol in God se geheimenis:

  •  God se ope geheim, in gemeenskap met Christus, is dat nie-Jode en Jode mede-erfgename is van die toekomstige heerlikheid by God, lede van dieselfde liggaam van Christus, deelgenote aan God se belofte, naamlik die Heilige Gees. Die Gees het die geheim aan Christus se apostels en die profete in die gemeentes geopenbaar en deur God se genade ook aan Paulus. Oor die goeie nuus het hy in die vorige verse geskryf.

  •  Die bestaan van die nuwe gemeenskap van Jode en nie-Jode se eenheid in die één liggaam openbaar die ryke verskeidenheid van God se wysheid. Deur sy kerk se liefdeseenheid openbaar God Homself aan die bose magte, dat sy doelwit besig is om triomferend te beweeg na die klimaks, wanneer alle dinge aan Christus onderwerp sal wees. God het aan Paulus die genade gegee om die goeie nuus te verkondig dat God sy ryke genade en heerlikheid in Christus in oorvloed aan ander gee.

1.6 Paulus bid vir hulle krag, liefde en geestelike volwassenheid (3:14-21)

Paulus bid nederig tot die Vader wat elke orde van engele tot stand gebring het, en elke familiegroep op aarde tot stand bring, oor hulle heers, en aan elkeen sy naam gee wat by sy rol pas. Hy vra God:

  •  

  •  dat God hulle stewig vestig in sy liefde, wat Hy in Christus geopenbaar het en in hulle harte uitgestort het deur sy Gees. Liefde is die grond waarin die gelowiges wortel skiet en groei, die fondament waarop hulle gebou is;

  •  dat God hulle in staat stel om Christus se allesomvattende liefde waaraan alle gelowiges deel het, te begryp, en dat hulle Christus se liefde wat alle kennis vér oortref, persoonlik kan ken.

  •  Terwyl hulle reeds deel het aan Christus se volheid (1:23), bid Paulus vir hulle geestelike volwassenheid, dat God hulle mag vul met die volheid van God, om te word was hulle reeds is. Al wat God vir hulle begeer is om volmaak in die liefde te wees, soos God en Christus. Deur sy inwoning in ons kan God vér meer doen as wat ons vra of dink.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Geloofsvrae: Die noodsaaklikheid van die Bybel

Geloofsvrae: Die noodsaaklikheid van die Bybel – Adrio König

Die noodsaaklikheid van die Bybel

Daar is ‘n verband tussen die gesag en dit wat soms die noodsaaklikheid of onontbeerlikheid van die Bybel genoem word. Daar is ‘n sin waarin die Bybel onontbeerlik is. Hoe sou ons die evangelie suiwer ontvang het sonder die Bybel? Al sou daar deur al die eeue heen ‘n kerk gewees het wat die boodskap verkondig het, kon dit teen hierdie tyd al onherkenbaar verdraai gewees het. Dink maar net hoeveel verdraaiïngs daar al in die loop van die geskiedenis was ondanks die feit dat ons die Bybel het waaraan die leer van die kerk voortdurend gemeet kan word. En dink verder hoeveel leerverskille daar tussen kerke is ondanks die feit dat ons ‘n Bybel het. Daarom moet ons die Here dank dat die apostels om verskillende redes die evangelie in allerlei vorme neergeskryf het, en dat ‘n aantal van hierdie geskrifte bewaar gebly het.

Maar daar is ook ‘n ander kant van hierdie saak. As Paulus die ouderlinge van Éfese toespreek, sê hy o.a.: `Ek het nie nagelaat om die heilsplan van God in sy volle omvang aan julle te verkondig nie’ (Hand 20:27). Maar daarby het hy nie bedoel dat hy elke boek in die NT ten volle aan hulle verkondig het nie. Die meeste van dié boeke was nog nie eens geskryf nie. Hy bedoel dat hy dit waaroor dit in die evangelie gaan, Jesus en sy betekenis, aan hulle verkondig het. Natuurlik was daar nog baie implikasies van die evangelie wat hyself eers later sou uitspel, maar die evangelie as die waarheid oor Jesus, het hulle klaar gehoor. Die volle omvang van die heilsplan van God sluit dus nie elke besonderheid en selfs nie elke Bybelboek in nie.

Vir die Galasiërs skryf Paulus dat niemand ‘n ander evangelie mag verkondig as die een wat hulle van hom ontvang het nie (1:6ev). Die implikasie is duidelik: hulle moet alles wat hulle hoor, meet aan wat hulle van hom gehoor het. Maar hulle het op daardie stadium nog glad nie alles in die kwantitatiewe sin ontvang nie. Daar was nog nie eens ‘n enkele evangelie geskryf nie, wat staan nog Handelinge en die Briewe. Maar Paulus bedoel die volle evangelie in die kwalitatiewe sin, die waarheid soos dit in Jesus na hulle gekom het. Aan hierdie waarheid kan hulle alle dwalings meet en herken.

In hierdie sin is dit wat onontbeerlik is die waarheid waaroor (liewer: oor Wie!) die Bybel skryf, en nie die Bybel self nie. Ek skryf hierdie deel in die VSA. Ek was gister by ‘n ete waar die volgende storie vertel is. In 1982 gee ‘n aantal studente tydens ‘n sendingtoer pamflette uit diep in die bos in Kenia. Die adres van hul seminarie in die VSA is op die pamflette. Vyf jaar later kry die skool ‘n brief van iemand uit een van die dorpies. Sy storie is dat hy ‘n paar jaar tevore ‘n pamflet oor Jesus en sy verlossingswerk gekry en gelees het. Hy het daardeur tot bekering gekom, en mense in sy dorpie wat ook deur sy getuienis tot geloof gekom het, het om hom begin vergader. Op die stadium wat hy die brief skryf was daar al groepe in drie dorpies wat gereeld bymekaar gekom het. Maar nou het hulle gehoor die pamflet is nie al wat daar is nie. Hulle hoor daar is ‘n dik boek wat baie meer vertel. Kan hulle nie dalk so ‘n boek kry nie?

Wat noodsaaklik is, is die evangelie oor Jesus, nie noodwendig die Bybel nie, al sal dit natuurlik ‘n oneindige verryking vir hulle wees om ‘n volle Bybel te ontvang. Maar Jesus, die lewende Here, wat deur sy Gees in mense se lewens werk, is die eintlike onontbeerlike Een. Sonder Hom kom ons ook met die volle Bybel nie baie ver nie.

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Efesiërs (1)

Efesiërs (1) – Francois Malan

Efesiërs is die brief van die liefde: van God wat ons innig liefhet, ons uit die dood van sonde verlos en saam met Christus lewend gemaak het, en deur sy Gees, wat in ons kom woon het, vir ons laat deelhê aan die volheid van sy onbegryplike, onmeetlike liefde (2:4; 3:7-19), sodat ons mekaar sal liefhê en opbou in die gemeente (4:1-16), oor volksgrense (2:14-18), in die huwelik (5:21-32), in die gesin, en tussen werkgewers en werknemers (6:1-9).

Efesiërs 

‘n Omsendbrief

Efesiërs is ‘n algemene brief, geskryf uit die gevangenis (3:1; 4:1; 6:20), waarskynlik in Rome (Hand. 28:16,30), aan ‘n aantal gemeentes wat hoofsaaklik uit nie-Jode bestaan (2:11-14). Party van die gemeentes het Paulus nie persoonlik geken nie (3:2). Die brief word afgelewer deur sy medewerker Tigikus (6:21-22) wat op pad is na Kolosse (Kol. 4:7-9).

Die bestemming van die brief is ‘n raaisel. In die oudste en beste manuskripte ontbreek die woorde ‘in Efese’ (1:1), maar word in die meeste manuskripte ingevoeg. Dit was waarskynlik ‘n omsendbrief aan gemeentes in verskeie stede in suid-westelike Klein-Asië, wat Paulus tydens sy bediening in Efese gestig het (Hand.19). Daarom is daar nie die gebruiklike kommentaar oor die plaaslike gemeente en gemeentelede nie.

Inleiding

Die nie-Joodse Christelike lesers word aangespreek as ‘heiliges’ (aan God gewydes), wat deur God geroep is om, deur Christus Jesus, sy toegewyde volk te wees, deur in geloof op die roeping te reageer.

Sy seëngroet verwoord sy begeerte dat hulle die genade en vrede van God ons Vader en Jesus Christus ons Here sal verstaan en beleef. Die twee groot temas kom telkens in die brief voor. Die naam Christus (gesalfde) Jesus (verlosser) kom in elkeen van die drie elemente van die voorwoord voor (1:1-2).

Die eerste helfte van die brief (1:3-3:21) besing die lof van God in gebed en danksegging, soos in die Joodse berakah (lof), en die tweede helfte (4:1-6:20) verkondig die Christelike lewenswyse wat daarby hoort, soos die Joodse halakah (riglyne vir die lewe), nie as ‘n nuwe wet nie, maar as ‘n blye reaksie op God se oorvloed, ‘n dankbare antwoord op God se genadige inisiatief, verlossing en doel met ons, wat deur Christus en die Heilige Gees uitgewerk word.

  1.   Die nuwe mensheid as God se skepping (1:3-3:21)

1.1 Lof vir God se seën aan ons in Christus (1:3-14)

Die Vader van ons Here Jesus Christus is die bron van al die seëninge wat ons deur die Heilige Gees ontvang. God het ons aan Christus wat in die hemel is, verbind (1:3). Die seëninge waarvoor ons God loof is die volgende:

  •  vir sy ewige verkiesing, om uit sy genade ons heilig en in liefde te laat lewe in gemeenskap met Christus; vir sy vrye besluit om ons as sy kinders deur Christus aan te neem om Hom te loof vir sy wonderlike genade, wat Hy vryelik aan ons gegee het deur sy geliefde Seun (1:4-6);
  •  dat Hy deur Christus se kruisdood ons oortredings vergewe het, ons van sonde se mag bevry het, en sy genade in ons uitgestort het, om wys en met insig te lewe (1:7-8);
  •  dat Hy besig is om sy geheime plan, om alle dinge in die heelal uiteindelik onder Christus te verenig, aan ons bekend gemaak het (1:9-10);
  •  die oorblyfsel van die Jode wat eerste op Christus vir hulle verlossing begin hoop het, moet Hom loof vir die wonderlike uitvoering van sy plan; die heidennasies wat tot geloof in Christus as hulle Verlosser gekom het, is ook met die Heilige Gees beseël as God se eiendom. Die Gees is die waarborg dat ons aan God behoort totdat ons ten volle verlos is om God se heerlikheid te besing (1:11-14).

1.2 Danksegging, voorbidding en lof aan God wat Christus verhoog het (1:15-23)

Paulus dank God vir wat hy van die gelowiges se geloof in die Here Jesus gehoor het, en vir hulle liefdesdiens aan alle gelowiges. Hy bid gereeld vir hulle, dat God al meer kennis van Homself sal gee deur hulle toenemend deur sy Gees te verlig:

  •  

  •  dat hulle, as gelowige Jode en nie-Jode, God se eiendom is, deur wie Hy die onmeetlike rykdom van sy heerlikheid aan die heelal sal vertoon,

  •  

  •  Paulus loof God wat sy groot krag gebruik het om Christus uit die dood op te wek en aan sy regterhand te sit om te heers oor alle dinge, ten gunste van sy volk wat in gemeenskap om Hom vergader. Hy vervul alle dinge met sy oppermagtige heerskappy, en vervul die kerk met sy Gees, genade en gawes.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Geloofsvrae: Die inspirasie van die Bybel

Geloofsvrae: Die inspirasie van die Bybel – Adrio König

Die inspirasie van die Bybel

Die bespreking van die gesag van die Bybel vra vanselfsprekend om ‘n bespreking van die inspirasie omdat die gesag gewoonlik op die inspirasie gegrond word. Omdat die Bybelboeke geïnspireer is, het hulle gesag en is hulle betroubaar. Hiervoor is daar veral twee Skrifverwysings. `Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde ...’ (2 Tim 3:16). `Geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig’ (2 Pet 1:20-21).

Dit is nodig dat ons eers kyk na die betekenis van hierdie twee uitsprake. Die uitspraak in die Petrusbrief verwys net na ‘n deel van die OT. Die uitspraak uit 2 Tim is breër. Dit het op `die hele Skrif’ betrekking, en `die hele Skrif’ vir die vroeë Christene was die Ou Testament, egter nie soos ons dit vandag ken nie, maar in die vorm van die Septuaginta, ‘n Griekse vertaling van die Ou Testament wat op baie plekke onnoukeurig is, en meer boeke ingesluit het as ons huidige Ou Testament, die sg. apokriewe boeke wat ons juis nie vandag as gesaghebbend erken nie. Die skrywer van 2 Tim sê dus dat ‘n onnoukeurige vertaling van ‘n baie groter OT as wat ons vandag erken, deur God geïnspireer is en groot waarde het.

Dit beteken nie dat ons niks uit hierdie tekste kan aflei nie. Dit beteken ten minste dat die Ou Testament – en ons mag gerus glo ook die Nuwe Testament omdat Jesus die apostels wat groot dele van die NT geskryf het, op ‘n besondere wyse voorberei het om die evangelie te verstaan – in ‘n besondere sin onder die sorg van God geskryf is, en dat die profesieë nog direkter met Hom in verband staan en veral nie sonder sy betrokkenheid uitgelê kan word nie. Maar veel meer sal ‘n mens ook nie kan aflei nie, sodat ons nie ver kom om met behulp van Bybelse stowwe ‘n inspirasieleer (presies hoe God by die ontstaan van die Bybelboeke betrokke was) in enige besonderhede op te stel nie. Dit is ook waarom die kanon voor die inspirasie behandel is. Die inspirasie help ons nie om die gesag van die Bybel te verstaan nie, wel om dit te bevestig.

Daar is in die loop van die geskiedenis verskillende inspirasieteorieë ontwerp. Nie een van hulle is regtig bevredigend nie, maar dit is tog goed om daarvan kennis te neem. Daar is die meganiese en die organiese teorieë. Elkeen van hulle kan ook verder ingedeel word, maar dit is nie nou nodig nie.

Die meganiese of woordelikse of letterlike inspirasieteorie leer dat die presiese woorde geïnspireer is. Die groot nadruk van hierdie teorie is op die werk van die Heilige Gees. Hy is die eerste en eintlike outeur. Die mens is nie veel meer as ‘n meganiese werktuig wat Hy gebruik het presies soos Hy wil nie. Die mense het presies geskryf wat die Gees hul ingegee het. Daarom kom ‘n mens dikwels radikale uitsprake in dié verband teë soos dat elke sin, elke woord, elke letter in die Bybel die direkte uitsprake van die Allerhoogste God is. Alle inligting wat in die Bybel gegee word, van watter aard ookal, is volkome suiwer en korrek. Die groot argument is dan dat die Bybel God se Woord is en omdat Hy volmaak is en nie kan lieg nie, moet alles die volle waarheid wees. Natuurlik kan daar kopiërings- en vertalingsfoute wees, maar daar kon in die eintlike oorspronklike geskrif wat elke skrywer vir die eerste keer geskryf het (die outografa), nie foute in enige vorm gewees het nie.

Die organiese inspirasieteorie probeer die saak effens ruimer benader. Dit probeer meer ruimte gee vir die persoonlike bydrae van die skrywer. Die woord `organies’ probeer dit uitdruk: die mens is nie meganies, willoos, soos ‘n woordverwerker gebruik nie, maar as ‘n orgaan wat ‘n eie bydrae kon maak. Daarom is daar ooglopende verskille in die taal, styl, doel, en metode van die verskillende skrywers waarvan die Sinoptiese Evangelies goeie voorbeelde is.

Nie een van hierdie teorieë bied egter ‘n bevredigende oplossing vir die werklike vrae waarvoor ons staan nie. Die feit dat ons glo die Bybel is die gesaghebbende getuienis van die openbaring van God in Israel se geskiedenis en in Jesus, kan nie op enige manier bewys word nie. As dit kon, sou dit ook nie meer geloof gewees het nie.

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer : Prof Adrio König