The Passion of Christ

The Passion of Christ – Kobus Kok

Luanette vra: 

Wat dink u van die DVD “The Passion of Christ”? Ek weet nie of ek dit moet kyk nie, is dit verkeerd? Party mense se dis nie reg nie!

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord 

Die film “The Passion of Christ” – reg of verkeerd? 

Ek het hierdie video self gesien kort nadat dit bekendgestel is en dit het ‘n groot indruk op my gemaak. Myns insiens is die video nie geskik vir jonger kinders nie, weens die eksplisiete aard van die geweld wat uitgebeeld word.

In die Middeleeue kon die meeste mense nie lees en skryf nie. In die kerke van die tyd, het mens dramatiese uitbeeldings gekry van die kruisiging, van Maria wat die gekruisigde Jesus op haar skoot vashou, ens. Hierdie visuele kuns het die mense van die Middeleeue aangegryp en was bedoel om die Bybelteks uit te beeld in die vorm van kuns.

Die Skrif is natuurlik altyd die eerste bron van ons inligting oor die Jesus-gebeure. Films soos the Passion is dus sekondêre bronne oor die Jesus-gebeure en hedendaagse kunsuitbeeldings Indien mens die Bybelse verhale rondom die kruisiging lees uit die evangelies, kan mens deur daardie bril na die film the Passsion kyk. Indien jy die Bybelse verhaal goed ken, sal jy ook weet waar The Passion afwyk van die Bybelse getuienis of Bybelse skrywers se oogpunte. Die volgende vraag is dan waarom die vervaardigers van die film op bepaalde punte van die verhaal ander aksente geplaas het op plekke wat die Bybel dit nie doen nie. Die antwoord op die vrae sal jou lei na die spesifieke betekenis wat die vervaardigers van die film probeer kommunikeer. Op hierdie wyse word die film dus ‘n ‘n leerervaring en ‘n gespreksgenoot en sien jy die Jesus-gebeure vanuit iemand anders se oog en waardeer jy ook weer die unieke hoek waaruit die verskillende evangelies die verhaal vertel. Volgens navorsing onthou ons baie meer van dit wat ons sien en self beleef. Die voordeel van die film is dat jy ingetrek word in die ervaring van die Jesus-gebeure en dit sal ‘n indruk op jou maak en mag jou dalk ook hartroerend aanraak.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




2 Korintiërs (4)

2 Korintiërs (4) – Francois Malan

Nuwe probleme in Korinte (10:1-13:10)

Dié vier hoofstukke word beskou as ‘n aparte brief, wat Paulus geskryf het nadat hoofstukke 1-9 gestuur is, op grond van die stuk se literêre eenheid en van Paulus se veranderde streng verdedigende toon teen nuwe teenstanders [Sommige verklaarders dink al 13 hoofstukke was een brief, maar dat Paulus 10-13 bygevoeg het toe hy verder nuus oor die gemeente ontvang het].

Paulus reageer op kritiek (10:1—11)

Hulle sê hy is gedweë by hulle, sonder die krag van die Gees. Sy briewe mag miskien die indruk van krag skep, maar met sy swak teenwoordigheid en onbekwaamheid as redenaar is hy pateties. Hy vra hulle dringend om hom nie te dwing om sy nederige optrede in navolging van Christus te laat vaar nie. Met die gesag van die Here en met kragtige wapens veg hy ‘n geestelike oorlog teen alles wat hy as teenstand teen God beskou. Hy waarsku egter dat as hy self in Korinte kom hy net so effektief sal wees as in sy briewe.

Paulus en die sendelinge wat hom probeer uitskakel (10:12-18)

Sy teenstanders is dom. Hulle beveel hulleself aan en vergelyk hulleself met mekaar. Hulle roem uitermate oor hulleself en wat hulle in Korinte bereik het, terwyl Paulus die grondlegger is in dié sendinggebied wat die Here aan hom toegeken het. Sy sukses in Korinte, vanwaar hy in die heiden-streke anderkant hulle wil gaan verkondig, is ‘n teken van die Here se beoordeling en goedkeuring van sy werk.

Paulus verdedig sy evangelie en optrede (11:1-15)

Soos ‘n vader het Paulus die Korintiërs aan Christus verloof, en hy waak om hulle rein te hou, dat hulle by die oorspronklike suiwer evangelie bly, totdat Christus, hulle bruidegom, kom. Maar hulle aanvaar geredelik die ander evangelie van die valse sogenaamde ‘baie spesiale apostels’. Hy mag ‘n swakker spreker as hulle wees, maar is hulle meerdere in die kennis van God, wat hy uitvoerig aan die gemeente geopenbaar het.

Sy teenstanders het sy weiering van finansiële steun vertolk as bewys dat hy nie ‘n ware apostel is nie. Hy het dit egter gedoen as hulle liefhebbende vader vir die voortgang van die evangelie en vir hulle geestelike verryking. Maar soos Satan homself voorgedoen het as ‘n engel van die lig om vir Eva te mislei, doen sy agente hulle voor as apostels van Christus om die gemeente te mislei, deur hulleself voor te doen as dienaars wat verkondig dat geregtigheid voor God verkry kan word deur wetswerke. Hulle sal ook deel hê aan Satan se lot.

Paulus se getuigskrifte en wense as apostel (11:16-13:13)

Hy doen ironies ‘n beroep op sy ‘wyse lesers’ om sy ‘dwase’ roem te verdra, soos hulle gretig sy dwase teenstanders se dwase grootpratery verdra, wat hulle uitbuit en hard behandel. Net soos sy teenstanders is hy van suiwer egte Joodse afkoms. Maar onvergelyklik oortref hy hulle as ‘n egte dienaar van Christus. Dit word bewys deur sy ontberings en lyding, fisiese swakheid, die las van sy verstandelike en geestelike verantwoordelikhede, en sy sorg vir die swakkes. Sy bediening was van die begin af in vernedering en skande toe hy uit Damaskus moes vlug. Sy eretekens is die littekens van sy diens. Al is hy deur ‘n hemelse gesig geroep, het Christus aan hom geopenbaar dat die gekruisigde Christus se genade en sy krag deur swakheid volbring word.

Al die beskuldigings teen Paulus het niks om die lyf nie, tog vra hy ironies vergifnis dat hy hulle nie uitgebuit het nie. As hy na hulle toe kom wil hy ook nie geld hê nie, maar hulle volle oorgawe aan Christus en vertroue op hom. Hy is steeds bekommerd oor hulle sondige gedrag. Sy bekommernis gaan oor hulle egtheid as Christene. Hy wil sy goddelike gesag gebruik om op te bou, nie om af te breek nie.

Hy beklemtoon sy solidariteit met hulle as sy medegelowiges, en doen ‘n beroep op harmonie in die verdeelde gemeente. Sy seënbede is dat die genade van Christus, die liefde van God, en die persoonlike gemeenskap met die Heilige Gees met hulle sal wees.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Geloofsvrae: Die gesag van die Bybel

Geloofsvrae: Die gesag van die Bybel – Prof Adrio König

Die gesag van die Bybel

Verreweg die meeste Christene heg besondere gesag aan die Bybel. Dit is ook nie vreemd nie omdat dit ons enigste direkte toegang is tot Jesus Christus en die geskiedenis (Ou Testament) wat op Hom uitgeloop het. Veral die Nuwe Testament bestaan uit geskrifte wat direk of indirek hul ontstaan aan die apostels te danke het. Dit is hulle wat spesiaal deur Jesus afgesonder, voorberei, en uitgestuur is om die evangelie te verkondig. Hulle het in hul werk, en daarom in hul geskrifte, onder die leiding van sy Gees gestaan.

Dit is ‘n moeilike vraag presies hoe ons die gesag van die Bybel moet verstaan. Moet ons gelyke gesag heg aan alle uitsprake van die Bybel, ook aan uitsprake oor voedsel en reinigingsgebruike in die Ou Testament? Dit is ‘n sterk oortuiging onder sekere groepe Christene. Alles in die Bybel lê op dieselfde vlak. Of dit uitsprake oor die natuur, oor historiese of aardrykskundige feite, of oor die betekenis van Jesus se kruisdood is, elke woord in die Bybel is die Woord van God, en omdat God nie kan lieg nie, moet elke woord die waarheid wees en dieselfde waarde vir ons hê.

Dit is ‘n duidelike en eenvoudige standpunt, maar dit is moeilik om konsekwent te handhaaf.

Dit is duidelik dat alle uitsprake in die Bybel nie vir Christene dieselfde gesag het nie. Die rituele uitsprake in die OT tel hieronder, maar ook uitsprake in die NT oor sake soos haarvlegtery en sluiers of hoofbedekkings vir vroue.

Daar is reeds daarna verwys dat sekere dinge, soos die uittog in die OT, sentraal is in die Bybel. Hierdie struktuur van die Bybel moet ons ernstig neem en die gesag van die Bybel in die lig hiervan probeer verstaan. Dit het die vanselfsprekende implikasie dat ons moet erken dat daar dinge in die Bybel is wat ons nie as bindend vir ons tyd beskou nie. Hoe maak ons hierdie onderskeid?

  1. Dinge wat nie bindend is nie

Daar is verskillende soorte dinge wat ons nie as gesaghebbend en bindend vir ons beskou nie. Daar is voorstellings van hoe die werklikheid lyk wat eenvoudig deur latere ontwikkelinge in die natuurwetenskappe agterhaal is, soos die bekende drieverdieping wêreldbeeld (die aarde, die doderyk onder die aarde, en die hemel bo die aarde – Eks 20:4), die `firmament’ (die blou koepel hoog bo die aarde wat volgens die oortuiging van die Bybelskrywers die water in die lug daarbo hou dat dit nie weer die aarde bedek soos by die sondvloed nie, in waarin daar `vensters’ is wat die Here oopmaak as Hy dit wil laat reën – Gen 1:6-7; Mal 3:10), die feit dat die aarde op fondamente (pilare) gebou is (Jes 24:18-20), die feit dat die son, maan en sterre relatief klein ligte is wat nie te hoog bo die aarde nie in die lug hang (Gen 1:14-16), die feit dat die aarde nie veel meer as omtrent 6000 jaar oud is nie, en nog baie ander gegewens. Dit was deel van die wêreldbeeld van daardie tyd en dit het die kerk duur gekos aan geloofwaardigheid om so lank te vat om te erken dat die natuurwetenskappe ons gehelp het om hierdie gegewens anders te lees as ons vroeë voorouers (Galileo!).

Daar is ook dinge in die Bybel wat deur latere ontwikkelinge in die heilsgeskiedenis self agterhaal is, soos die hele tempel-, offer-, en priesterkultus, die besnydenis, dit wat ons gewoonlik die seremoniële wette noem, en nog veel meer.

Daar is ook ‘n derde groep dinge wat om etiese redes vir ons onaanvaarbaar geword het soos die vreeslike wreedheid van die Ou Testament, hele volke met vrouens en kinders en al wat deur Israel uitgewis moes word in `heilige’ oorloë, strawwe wat totaal onmenslik is vir oortredings wat ons nie vandag meer as so erg beskou nie (soos die doodstraf vir kinders, Sabbatsontheiliging ), sekere siektes wat mense eenvoudig uit die gemeenskap uitgesluit het soos melaatsheid.

Daar is ‘n vierde groep dinge wat die meeste van ons as agterhaald beskou, al is dit nie altyd so duidelik waarom ons dit doen nie: die verbod om verwurgde diere of bloed te eet (Hand 15:20), beskeie vrouekleredrag sonder uitwendige versiering (1 Tim 2:9ev; 1 Pet 3:3), Christenmans wat mekaar met ‘n soen groet (Rom 16:16), Christene wat mekaar se voete was (Joh 13:14), en baie ander.

  1.  Wat is nou gesaghebbend in die Bybel en wat nie?

Die Bybel is in ‘n bepaalde kultuur geskryf, en daar is heelwat elemente in daardie kultuur wat vandag in ons kultuur vreemd en selfs ongeloofwaardig is. Dit is altyd ‘n risiko om te probeer bepaal waarom en hoe ons hierdie dinge onderskei van dit wat inderdaad gesag het, en gesag moet hê, vir Christene. Maar om dit nie te doen nie, is om die werklikheid te ontken en te hoop die probleem verdwyn.

Een maatstaf wat soms ‘n bietjie help, is dat dié sake waarom dit eintlik in die Bybel gaan, herhaaldelik na vore kom. Die teendeel hiervan is dat ‘n mens nie enige deel van jou geloof behoort te bou op dinge wat net eenmaal in die Bybel voorkom nie. ‘n Goeie voorbeeld is om Jesus se opstanding te vergelyk met die ouderdom van die aarde. Jesus se opstanding word herhaaldelik beklemtoon in die Nuwe Testament, verskillende betekenisse word daaraan gegee, daar word beklemtoon watter ingrypende negatiewe gevolge dit vir ons geloof sal hê as ons dit sou ontken. Maar die ouderdom van die aarde kom nie eens een keer direk in die Bybel ter sprake nie, en nêrens word enige betekenis daaraan gegee nie. Dit is dus nie deel van die gesaghebbende boodskap van die Bybel nie.

As ‘n mens met hierdie maatstaf werk, sal jy sekerlik nie noodwendig alle probleme kan oplos nie, maar tog hier en daar ‘n bietjie duidelikheid kan kry. ‘n Mens sou dan aan o.a. die volgende elemente as wesenlik fasette van die Bybelse boodskap kon dink: God, sy skeppingswerk, sy sorg vir sy skepping, sy omgang met mense wat Hy geskep het om sy troue bondgenote te wees en as sy beeld iets van sy manier van lewe te reflekteer, sy verkiesing van Israel en sy verbond met hulle as verteenwoordigers van alle mense, die koningskap in Israel waarin sy sorg vir sy volk gestalte moes kry, sy beloftes aan hulle en sy sorg vir hulle, sy geduld met hulle, sy opdragte en eise aan hulle, sy vermaninge en oordele oor hulle, hulle lof en gehoorsaamheid aan Hom, maar ongelukkig ook, en nog meer, hulle voordurende ongehoorsaamheid en ontrou aan Hom wat uiteindelik uitloop op die ballingskap as die grootste aardbewing wat hulle ooit getref het, hulle terugkeer na die beloofde land, die hernude spanning tussen hulle en die Here wat beteken dat God nooit sy doel met hulle bereik nie en die Ou Testament ‘n boek sonder ‘n slot word; die koms van Jesus Christus om die rol van Israel oor te neem en die Een troue bondgenoot van God in Israel se plek en daardeur in ons almal se plek te word, sy aardse optrede (woorde, wonderwerke, kruis en opstanding), Israel se totale mislukking deur die Messias te verwerp, Christus se koms in die Gees in Wie Hy sy werk kom voortsit om ons te vergader in sy gemeente, ons vry te spreek, ons in sy liggaam op te neem, sodat ons deel kan kry aan sy oorwinningslewe as die troue bondgenote van God wat ons as mense (en Israel in ons plek) van die begin af bedoel was om te wees, sodat ons as sy getuies Israel jaloers kan maak op hul Messias en alle ander mense kan uitnooi om saam met ons in sy bondgenootskap te deel, sy belofte om weer te kom, die dooies op te wek, alle mense te oordeel sodat reg uiteindelik aan almal kan geskied, en die hemel en die aarde nuut te maak sodat Hy by sy kinders op die nuwe aarde kan kom bly en só sy skeppingsdoel finaal en volmaak kan bereik.

Dit is die meeste van die groot temas in die Bybel (al sal ander dit anders formuleer en ook ander sake na vore bring), en daarom is dit sinvol om te vra of ons nie die gesag van die Bybel in verband met hierdie sake moet bring nie, en dus nie in verband met allerlei kleinighede wat nie regtig ‘n wesenlike rol speel nie.

Wat ook duidelik word uit hierdie lys, is dat Jesus Christus ‘n besondere konsentrasiepunt word om Wie omtrent alles draai. Die rede is voor die hand liggend. Hy neem Israel se rol oor wat ‘n oorheersende posisie in die Ou Testament speel, én Hy verteenwoordig God én die mense in die Nuwe Testament. ‘n Mens kan tereg vra: Wat bly oor? Hy is alles! As Hy uit die Nuwe Testament verwyder sou word, wat sou oorbly wat die moeite werd is? Daarom kon Luther Hom ook as maatstaf voorhou aan Wie die boeke in die Bybel gemeet moet word.

Dit beteken dat ons ook die gesag van die Bybel aan Hom kan verbind. Ons glo die Bybel omdat dit van Hom getuig. Anders gesê: Ons glo nie in Christus omdat die Bybel oor Hom handel nie, maar ons glo die Bybel omdat die Bybel oor Hom handel. As die Bybel oor ‘n ander God en Verlosser gehandel het, sou ons nie die Bybel aanvaar het nie.

Die gesag van die Bybel is dus gebou op Christus. Hoe direkter iets met Hom verband het, hoe meer gesag sal dit vir ons hê.

Omdat die Bybel sulke duidelike konsentrasiepunte het, is dit nie nodig om probleme te kry oor die waarde, waarheid en gesag van die Bybel op grond van historiese of aardrykskundige onjuisthede nie. (Dit staan teenoor die bekende standpunt: As daar een enkele onnoukeurigheid in die Bybel sou wees, ongeag waaroor dit gaan, kan ek niks in die Bybel meer glo nie. Omdat dit God se Woord is, kan dit geen enkele fout bevat nie.) Waarheid in die Bybel is iets anders as juistheid oor bysake, dit is die betroubaarheid van ‘n Persoon, van God en van sy Seun.

Daarom maak dit nie saak of Jesus een of twee blindes buite Jericho ontmoet het en of die blinde(-s) by die ingang of die uitgang van die dorp gestaan het nie. (Volgens Matteus was daar twee by die uitgang van die dorp, maar volgens Markus een; en volgens Lukas was daar een by die ingang van die dorp (Mt 20:29ev; Mk 11:46ev; Lk 18:35ev). Wat saak maak, is dat Jesus hom of hulle genees het omdat Hy die verwagte Messias is.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Laat sy Liefde jou Lei: Probeer anders voel

Laat sy Liefde jou Lei: Probeer anders voel – Milanie Vosloo

Probeer ánders voel

Sing vir die Here ‘n nuwe lied, want Hy het wonders gedoen. Hy het verlossing bewerk met sy krag en Goddelike mag … Breek uit in sang, sing van vreugde! Psalm 98:1,4

Soms het ons rede om in sak en as te sit en kla. Ander kere is ons geneig om met ’n groot gesnyde wit brood onder die arm ons lot te bekla teenoor almal wat wil luister (en selfs dié wat regtig nie lus is om te luister nie!). Dis die kere wanneer ons soos klein babatjies oor alles huil. Die geringste wind, hongerte, ongemak of nattigheidjie maak ons “ê-erig”!

As jy vandag so voel, kan jy dalk ‘n stuk bevryding ontvang deur die volgende te doen:

  • Onthou ‘n slag wat jy wél het. Wanneer jy wegkyk van jou verliese en raaksien wat jy oor het, sal jy besef hoeveel onverdiende genade en seёn daar steeds in jou lewe is.
  • Vergeet so bietjie van jouself. Ja, soms neem ons onsself, ons eie belang en emosies hopeloos te ernstig op!;
  • Kyk weg van jou eie klein wêreldjie en sien raak dat daar duisende ander is wat veel groter behoeftes, nood en lyding het.
  • Bid die volgende: “Here, maak my vry van hierdie klaagster-sindroom en help my om ’n ondanks-alles-vreugde-mens te wees”.

Bid vandag dat die Vader al die onnodige kla-onkruid uit jou hart sal spit en in die plek daarvan dankbaarheidsblomme sal plant.

Vergewe my my onnodige negatiwiteit, Vader en help my om weer ánders te dink, ánders te voel en ánders te leef.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milamie Vosloo