Laat sy Liefde jou Lei: Leef positief

Laat sy Liefde jou Lei: Leef positief – Milanie Vosloo

Leef positief

“Moenie bang wees nie, Abram, want Ek sal jou beskerm en jou beloning sal groot wees.” Genesis 15:1b

Oor baie dinge in die lewe het ons nie beheer nie. Maar oor baie wél. Soos ons gedagtes en ingesteldheid teenoor dinge. Ons kan in enige situasie kies of ons moedeloos en negatief gaan wees en of ons ‘n gesindheid van “môre-sal-dit-beter-gaan” gaan handhaaf. ‘n Paar maniere om dit te doen is:

  •  Bid. Bid in moeilike tye meer as ooit, vertel God hoe jy voel en vra dat Hy aan jou die insig en krag sal gee om weer anders na die lewe te kyk.
  •  Dink positiewe gedagtes soos “Ek kán hierdeur kom!” “Ek sál oorleef.” “God ís aan my kant!”
  •  Maak nuwe planne. Wanneer die lewe jou teleurgestel en omgestamp het, is dit tyd om met ‘n nuwe visie aan die toekoms te dink en daar rondom te beplan.
  •  Werk aan môre. Beplan wat jy gaan doen en doen dan wat jy beplan het. 

Abram moes in opdrag van God weg van sy familie na ‘n onbekende land toe trek, Hy moes op ‘n stadium ernstige twis hanteer, amper ‘n eeu wag vir die geboorte van Isak en vele ander moeilike situasies te bowe kom. Abram hét, want Hy het elke keer gekies om met ‘n positiewe gesindheid vas te hou aan God se beloftes van trou.

Jy kan ook altyd kies of jy bly lê en of jy met nuwe vuur die toekoms tegemoet gaan.  

God van Vreugde, help my om die lewe élke keer weer positief te benader.

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Die genade van werk

Laat sy Liefde jou Lei: Die genade van werk – Milanie Vosloo

Die genade van werk

Dit is goed dat mense lekker eet en wyn drink en hulle werk geniet, wat hulle ook al onder die son doen, so lank as wat God hulle laat lewe. Prediker 5:17b

Wanneer jy jou spesiale talente en gawes deur jou dagtaak kan uitleef, is jy besonder bevoorreg! Want dan het jy rede vir jou bestaan gevind, geniet jy wat jy doen en is jou werk ’n verlengstuk van jouself. Die kanse is dan ook goed dat jy die spesiale roeping wat God vir jou hier op aarde beplan het, uitleef. Vra jouself vandag die volgende vrae:

  • Wat is my unieke talente; dié dinge waarin ek goed is?
  • Wat is my natuurlik belangstelling? Vind ek dit in my huidige dagtaak?
  • As ek vandag (oor) kon kies, wat sou ek die heel graagste wou doen?
  • Wat behoort ek te verander of te doen om in staat te wees om dit te doen waarvan ek regtig hou en waarin ek goed is?
  • Wat is my plan van aksie, wat het ek nodig en wat kan ek doen om by daardie doel uit te kom?
  • Hoe kan ek God verheerlik deur dit wat ek (wil) doen.

God wil hê dat jy jou werk en die vrug van jou arbeid sal geniet! Besluit vandag dat jy wel jou lewensroepende werk kan en sal doen. Bid dat jy dit sal vind en gaan dan en dóén dit.

Vader, ek wil deur my werk lééf sodat ek deur my werk U kan verheerlik. Help my daarmee asseblief.

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Die Verbondsboek

Die Verbondsboek – Coen Slabber

In die vorige artikel het ons na die boek van die lewe gekyk. In hierdie artikel kyk ons na die verbondsboek. Ons lees van die verbondsboek in twee kontekste:

  1. Hy (Moses) het die verbondsboek geneem en dit vir die volk voorgelees (Eksodus 24:7). Wat presies die inhoud van hierdie boek was, is onseker. Dit mag net die tien gebooie gewees het of dit mag Eksodus 20 – 23 (sonder die verhalende gedeeltes) gewees het. Dat hierdie boek wetsvoorskrifte bevat het, sien ons uit die reaksie van die volk: Ons sal alles doen wat die Here beveel het en daaraan gehoorsaam wees. Veel nader kan ons nie kom nie.
  2. Daar het hy aan hulle alles voorgelees wat in die boek van die verbond gestaan het (2 Konings 23:2). Tydens die bewind van Josia word die huis van die Here herstel. Die hoëpriester, Gilkija, ontdek die wetboek van die Here tydens die herstelwerk. Dit is nou uit hierdie boek wat hy voorlees. Verbondswette verwys gewoonlik na wette wat God met Israel gemaak het tydens Moses se leeftyd. Wat die inhoud van hierdie boek is, is ook onseker. Navorsers het na Hiskia se godsdienshervormings gekyk en daaruit probeer aflei wat die inhoud van die boek is. Party navorsers voel dat dit baie met die voorskrifte in Deuteronomium ooreenstem, terwyl ander dit betwyfel. Wat ons wel weet, is dat sekere hervormings die gevolg was van die ontdekking van hierdie boek: Daarna het die koning die volk beveel: “Vier die Paasfees tot eer van die Here julle God soos dit voorgeskryf is in hierdie boek van die verbond (2 Konings 23:21). Weereens is ons nie presies seker oor die inhoud van hierdie boek nie, maar dit was waarskynlik meer as net Eksodus 20 – 23. 

In 2 Konings 22:8 word daar na die wetboek verwys. Dit is dieselfde as die verbondsboek. Na die dood van Moses sê die Here vir Josua: Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie (Josua 1:8). In sy afskeidsboodskap aan die volk, sê Josua: Maar julle moet sterk staan in die uitvoering van alles wat geskrywe staan in die wetboek van Moses (Josua 23:6). Die profete verwys dan ook voortdurend na hierdie wetboek. Selfs Jesus verwys na hierdie wetboek. Toe die Sadduseërs Hom konfronteer met ’n vraag oor die opstanding antwoord Hy hulle: En dat die dooies opgewek word, het julle dan nie in die boek van Moses, in die gedeelte oor die doringbos gelees hoe God vir hom gesê het … (Markus 12:26).

Die verbondsboek/wetboek se inhoud is onseker. Ons weet dat dit die voorskrifte wat God aan Moses gegee het, insluit, maar presies watter voorskrifte weet ons nie. Ons kan aanvaar dat dit die tien gebooie ingesluit het plus ander gedeeltes waaroor ons nie heeltemal seker is nie.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Die Boek van die Lewe

Die Boek van die Lewe – Coen Slabber

Daar was onlangs ’n vraag op die webblad oor die Boek van die Opregtes. In twee artikels gaan ons kyk na nog twee boeke wat ook in die Bybel vermeld word: die boek van die lewe en die verbondsboek. Boek in Hebreeus verwys na enige geskrewe dokument geskryf op klei, klip of perkament. In hierdie artikel kyk ons na die boek van die lewe.

Die Boek van die Lewe word sewe maal in die Nuwe Testament vermeld – waarvan ses in Openbaring is.

(1) Paulus verwys na sy medewerkers – Euodia, Sintige, Klemens en ander wie se name hy nie vermeld nie en voeg dan by: wie se name in die boek van die lewe staan (Filippense 4:3).

(2) In die boodskap aan Sardis word gesê dat elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort (Openbaring 3:5).

(3) Hier lees ons van die dier uit die see: Al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die skepping van die wêreld af geskrywe staan in die boek van die lewe, die boek van die Lam wat geslag is nie (Openbaring 13:8).

(4) Die bewoners van die aarde wie se name nie van die skepping van die wêreld af in die boek van die lewe geskrywe staan nie, sal verwonderd wees as hulle die dier sien … (Openbaring 17:8).

(5) Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ’n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het (Openbaring 20:12).

(6) As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi (Openbaring 20:15).

(7) Niks onreins en niemand wat iets losbandig en vals doen, sal ooit daarin (die nuwe Jerusalem) kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan (Openbaring 21:27).

Paulus (Filippense 4:3) gebruik hierdie beeld om sy medewerkers aan te moedig – ’n lewende hoop vir die toekoms. In Openbaring is dit ’n hemelse rekord met die name van martelare en diegene wat aan Jesus Christus behoort. Daarom lees ons ook dat daar na hierdie boek as die boek van die Lam verwys word.

Hierdie boek het ’n noue verbintenis met die eindtyd. So lees ons dat die boeke oopgemaak word. In hierdie boeke staan daar wat die mense alles gedoen het. Hierdie getuienis word dan voor die Regter geplaas. As jou naam in die boek van die lewe staan, kry jy ’n toegangskaartjie na die nuwe Jerusalem; as jou naam nie in die boek is nie, volg die ewige oordeel. Ons kry iets soortgelyks in Lukas 10:20 waar Jesus die twee en sewentig terugverwelkom: maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is. God se liefde en goedheid is duidelik, want Hy het reeds van die skepping van die wêreld af die gelowiges se naam in die boek van die lewe geskryf. Ons kan dus absolute vertroue in God se versorging hê.

Maar waar het hierdie beeld sy oorsprong? Reeds in Eksodus 32:32 pleit Moses vir die volk na die episode met die goue kalf: Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het. Hierdie geld natuurlik nie net vir Israel nie: As die Here die name van die volke aanteken, sal Hy by elkeen skrywe: Hierdie een is ook ’n kind van Sion (Psalm 87:6). Die hele idee van ’n hofsitting kom sterk na vore in Daniël 7:10: Die hofsitting het begin en die boeke met die aanklagte is oopgemaak. Daniël 12:1 sê: In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word. Laastens moet ons net na Maleagi 3:16 kyk: Daar is ’n gedenkboek voor Hom geskryf met die name van dié wat eerbied vir die Here het.

Die boek van die lewe is ’n beeld wat reeds uit die Ou Testament kom. In Openbaring word hierdie beeld nie minder as ses maal gebruik nie. Dit het ’n baie nou verband met die eindtyd – gelowiges se name verskyn in hierdie boek. Indien jou naam nie in die boek verskyn nie, sal jy geoordeel word.

In die volgende artikel kyk ons na die verbondsboek.

 

Skrywer: Dr. Coen Slabber