Die Judasbrief

Die Judasbrief – Francois Malan

Maude vra: 

Benodig inligting oor die Judasbrief in die Nuwe Testament – wie was skrywer, en aan watter gemeente? Ook sal ek graag die aanhalings uit die apokriewe boeke oor Henog wil lees.

Antwoord:

Prof François Malan antwoord: 

Judas is waarskynlik ook ‘n broer van Jesus, soos Jakobus, wat die brief van Jakobus geskryf het

(Jak. 1:1; vgl. Mt.13:55; Mk.6:3; 1 Kor.9:5), wat dit uit beskeidenheid nie meld nie, maar homself as ‘n dienskneg van Jesus Christus bekendstel. Sy aanval op die dwaalleraars is korter as 2 Petrus s’n, wat waarskynlik deur Judas uitgebrei is, en ander dele van Judas uitgelaat het. Daarom is Judas moontlik voor 2 Petrus geskryf. Petrus is volgens die tradisie teen 64 n.Chr. doodgemaak.

Maar daar is baie skrifverklaarders wat dink dat Judas eers teen die einde van die eerste eeu geskryf is, omdat dit volgens verse 3 en 17 sou lyk asof die apostels al almal dood is, die goeie Grieks van die brief sou nie lekker pas by ‘n eenvoudige man uit Galilea nie, en die dwaalleraars en hulle leer wat hy bestry sou beter pas by ‘n later datum. Daarom sou ‘n ander skrywer onder die naam van Judas, die broer van Jesus, die brief geskryf het. Die probleem daarmee is dat so iemand eerder onder die naam van ‘n apostel sou geskryf het om meer gesag aan sy woorde te gee. En Judas bied homself nie aan as ‘n apostel nie, maar slegs as die broer van Jakobus wat die leiding in die gemeente Jerusalem oorgeneem het nadat die apostels die stad verlaat het weens die vervolging van die apostels (vgl. Handelinge 12:17).

Aan watter gemeente – is nie seker nie. Waarskynlik was dit aan meer as een gemeente. Die opskrif suggereer dat die brief sommer aan alle gelowiges geskryf is (v1). Met die skrywer se kennis van die Joodse geskrifte, was hy waarskynlik’n Joodse-Christen. Of hy veral aan Joodse-Christene geskryf het, of ook aan Grieks-sprekende gelowiges (vgl. sy goeie Grieks) is nie seker nie. Maar uit verse 3 en 4 lyk dit of die skrywer persoonlik bekend was met die gemeentes aan wie hy skryf.

In vers 11 vergelyk Judas die dwaalleraars met drie persone uit die Ou Testament: Kaïn, Bileam en Korag as voorbeelde van wat gebeur met mense wat verkeerd loop.

Hy verwys ook na die mense van die uittog wat nie Kanaän wou binnegaan nie, en vir 40 jaar lank in die woestyn rondgeswerf het tot almal dood is (v5, vgl. Numeri 14:29-30), na engele wat hulle nie binne hulle perke gebly het nie (vers 6, vgl. Genesis 6), en na Sodom en Gomorra met hulle buurstede (v 7, vgl. Genesis 19).

Twee Joodse geskrifte uit die eerste eeu n.C. word aangehaal:

In vers 9 uit Die Hemelvaart van Moses. Die boek het verlore geraak, maar die eerste deel tot by Moses se opdrag aan Josua is in ‘n Latynse vertaling van die oorspronklike Aramese geskrif gevind. Ongelukkig het dit nie die laaste deel wat oor Moses se hemelvaart handel, waarna Judas verwys, bevat nie. Die voorstelling was blykbaar dat engele die goeies wegdra na hulle plek in die doderyk, en die duiwels dié wat kwaad gedoen het na hulle plek in die doderyk (vgl. Lukas 16:22-23). Die duiwels sou aanspraak gemaak het op Moses om hom na die plek van die slegtes te neem, omdat hy ‘n man doodgeslaan het (Eksodus 2:12). Maar Migael, die engel van Israel, betwis die duiwel se aanspraak op Moses, sonder om die duiwel arrogant te belaster. Al wat hy sou sê is Sagaria 3:2 se woorde van die Here tot die satan: Die Here sal jou straf.

Verse 14 en 15 verwys na die boek Henog wat in die vroeë kerk hoog aangeskryf was en later in die Westerse kerk nie meer gebruik is nie, maar veral nog in die Etiopiese kerk gebruik is. Die verwysing na Henog as die sewende geslag, met Adam as die eerste, word in Henog 60:8 en 93:3 so genoem (vgl. Gen.5:21-24). Die profesie van Henog waarvan Judas praat, is nie ‘n letterlike weergawe van Henog 1:9 nie, maar ‘n vrye aanhaling in ‘n teksvorm wat deels aan die Etiopiese vertaling en deels aan die Griekse vertaling laat dink. Dit is ‘n waarskuwing dat God se oordeel kom, en dit kom oor alle mense en engele, en dit geskied volgens hulle werke, hulle uitspattighede, ydel woorde en lasterlike taal. Die mense in Judas se gemeentes, wat met losse sedes lewe en nie God se oordeel daaroor verwag nie. sal nie aan die oordeel ontkom nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die NG Kerk en Sewendedag Adventiste

Die NG Kerk en Sewendedag Adventiste – Francois Malan

Deon vra:

Wat is die NG kerk (Sinode) se siening indien ‘n Sewendedagse Adventiste ‘n lid van hulle wil word? Moet ek n volledige NG kategese ondergaan? Of is dit nie nodig nie? Ek is Groot gedoop in die Adventiste Kerk. Getroud in NG en kinders gedoop in NG kerk. Is nou al 17 jaar n aktiewe NG kerk ondersteuner. Dankie

Antwoord:

Prof François Malan antwoord:

Ek reken nie dat ‘n volledige kategese nodig is nie, maar dat daar ‘n gesprek gehou moet word met die kerkraad se kommissie wat nuwe lidmate ondersoek. Daar is soveel ooreenstemming tussen die SDA en NGK oor die hoofsake van die geloof, maar daar is tog enkele minder belangrike sake wat uitgeklaar kan word. Daarna kan besluit word of jou naam net afgekondig kan word as nuwe lidmaat indien jy ‘n lidmaatsoordrag of bewys van die SDA indien, of na belydenis aflê voor die gemeente. Ek noem van die groot ooreenkomste en van die kleiner verskille.

Ooreenkomste

SDA en NGK glo

  •  in die Goddelike inspirasie van die Bybel en aanvaar dit as die enigste rigsnoer vir ons geloofslewe en gedrag
  •  in die liefdeseenheid tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees:
  1. die ewige Vader is die Skepper en Onderhouer van sy skepping wat uit liefde vir die wêreld sy Seun gestuur het om die mens se verhouding met God reg te maak sodat ons vir God sal lewe,
  2. die Here Jesus Christus is die ewige Seun van God, deur wie God alles geskep het en onderhou en aan wie ons as gelowiges verbind is om saam met Hom te sterwe aan ons sonde en op te staan om vir God te lewe
  3. deur die Heilige Gees kom die Vader en die Seun in ons gelowiges woon om ons aan die drie-enige God met geloof en liefde te verbind
  •  in die volle plaasvervangende lyding, sterwe en opstanding van Jesus Christus, wat vir ons die ewige saligheid as God se genadegawe gee, deur sy Gees wat die geloof in ons werk
  •  in die koms van Christus om te oordeel oor die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het, en die gelowiges met Hom te laat deel in die ewige heerlikheid van God in die nuwe hemel en die nuwe aarde by God. Daarvan is die Heilige Gees die waarborg en eerste gawe van God aan ons.

Enkele Verskille

  •  Die SDA doop deur onderdompeling na belydenis van geloof.
  1. Die NGK aanvaar onderdompeling in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, maar omdat kindertjies ook gedoop word, word besprinkeling (Eksodus 24:8; Hebreërs 9:19-20; 1 Petrus 1:2) vir kinders van gelowiges gebruik en vir volwassenes na hulle belydenis van geloof . Persone wat in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees gedoop is, word nie weer gedoop nie. Vir die NGK is die doop die uiterlike bevestiging deur God dat Hy die persoon reeds as sy kind aangeneem het in die genadeverbond wat God met ons en ons kinders (vgl. Hand.2:39) gemaak het deur Christus se sterwe en opstanding, en die verkryging daarvan deur die geloof wat die Heilige Gees in ons werk.
  •  Die SDA onderhou die tien gebooie as ‘n vrug van die bekering en glo dat die voorskrifte van die tien gebooie vandag nog letterlik en geestelik van krag is. Daarom onderhou hulle ook die sewende dag as die rusdag.

Die NGK aanvaar ook die tien gebooie saam met die hele Skrif en Jesus se opsomming daarvan as liefde tot God en die medemens as die riglyn vir ons lewe in dankbaarheid teenoor die Here, maar vier die opstandingsdag van Christus as teken dat ons elke dag begin rus van ons bose werke in die krag van die Heilige Gees, en saam met Christus vir God begin lewe in die rus van die ewige sabbat (Kolossense 2:16-17; Romeine 14:5-6).

  •  Die SDA glo dat wanneer ‘n mens sterf, hy/sy in die graf rus (sieleslaap) tot die opstandingsmôre.

Die NGK glo ook in die opstanding van die liggaam op die opstandingsmôre

(1 Kor.15:52), maar dat ons met ons dood reeds by Christus is (Filippense 1:23; 2 Kor 5:1-10).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Laat sy Liefde jou Lei: Vind vrede in jou roeping

Laat sy Liefde jou Lei: Vind vrede in jou roeping – Milanie Vosloo

Vind vrede in jou roeping

En nou vertrou ek julle aan God toe en aan die boodskap van die onverdiende goedheid wat Hy aan mense bewys. Handelinge 20:32

Werk, in watter vorm ook al, gee betekenis aan ‘n mens se lewe. Party van ons vind daardie sinvolheid in ’n uitdagende korporatiewe loopbaan waar ons op hoë vlak ’n bydrae lewer. Daar in die raadsale van die wêreld vind ons ’n stuk energie wat ons menswees stimuleer en ons opgewonde maak. Ander kry daardie geluksgevoel deur hul entrepreneursdroom uit te leef en met groot sukses hul eie ondernemings te bedryf. Dan is daar dié wat byvoorbeeld daarvan hou om kinders te onderrig, ander te verpleeg, maatskaplike dienste te lewer, skoonheidsbehandelings te doen of die Woord te verkondig.

Ware sinvolheid is om besig te wees met dié dinge waaruit jý vreugde put. Wanneer jy dit doen, is die kanse goed dat jy dit ook uitmuntend sal doen en ‘n sukses daarvan sal maak. En wanneer jy daardie unieke roeping gevind het en dit uitleef, maak dit regtig nie saak wat die wêreld om jou doen nie! Want dan het jy die rede gevind waarom jý op aarde geplaas is en ervaar jy die waarheid waarvan ons in Prediker 5:11 lees: Mense wat hard werk, slaap goed, maak nie saak of hulle baie of min eet nie.

Ware sinvolheid vergelyk nie haarself met ander nie! Want sy het vreugde gevind in die liefde in haar hart, in haar werk en in dit wat sy is.

Vader-God, laat ek vrede vind in dit wat ek goed kan doen.

 

Skrywer: Milanie Vosloo




God maak rokke

God maak rokke – Francois Malan

Jan vra:

Genesis 3: 21: En die Here God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek. God is Gees en ek wonder hoe Hy dan ‘n bok kon slag, die velle bewerk en rokke daarvan maak en om die twee dit te laat aantrek. Ek wil spekuleer dat Adam dit moes doen op die voorskrifte van God – maar dit is nie wat daar staan nie.

Antwoord:

Prof François Malan antwoord:

Calvyn het dieselfde gevoel gehad as die vraesteller, dat dit heeltemal in stryd is met die geestelike, onsienlike wese van God om ons voor te stel dat Hy, die Almagtige, eiehandig ‘n paar diere sou afslag, die velle aanmekaar werk en dit vir die twee aantrek. Hoe dit presies geskied het, kan ons nie sê nie. Maar die feit is dat God aan die eerste mense die eerste klere gegee het.

God vervang die onvoldoende verganklike blaarskorte (voorskote, Hebreeus chegorot), wat slegs hulle seksuele organe bedek het, met rokke (Hebreeus katenot) van diervelle, wat van die nek tot by die knieë of enkels bedek, wat later vir die priesters voorgeskryf is (Eks.28:41-42 maar vir hulle van linne gemaak is).

Volgens 3:21 het God die klere gemaak, wat die eerste slagting veronderstel. In 4:4 bring Kain die eerste diereoffer, en in 9:1-4 gee God die diere ook as kos vir die mens, terwyl 1:29 hulle kos tot plante beperk het voor die sondeval.

Dit is die kort antwoord op die vraag. Daar is ook ‘n baie lang antwoord, wat ek kortliks sal probeer opsom.

Die boeke Genesis tot Deuteronomium is waarskynlik op sy vroegste geskryf in die tyd van Dawid (1000 v.Chr.) of meer waarskynlik van sy seun Salomo (970-930 v.Chr.) [sommige verklaarders plaas hulle eers tydens of na die Babiloniese ballingskap tussen 600-500 v.Chr.]

Die skrywer het gebruik gemaak van geskrewe bronne, waarvan sommige tot by Moses sterk (1230 v.Chr), maar meesal van mondelinge oorlewerings. So plaas hy bv. twee skeppingsverhale na mekaar (1:1-2:4a; 2:4b-4:26), en twee verhale oor die verspreiding van die nasies (10:1-32; 11:1-9). Hy het ‘n kunswerk geskep en sy eie interpretasies gegee. Die eerste 11 hoofstukke is voorgeskiedenis, as inleiding tot die eintlike geskiedenis van God se verbond met die aartsvaders, wat met Abraham begin in 11:10. In die voorgeskiedenis wys die skrywer die plek van die mens in die skepping aan, en die plek van Israel in die volkerewêreld. Die skrywer bely dat die Here die aarde en die mens geskep het en die groot vloed gestuur het. Die skrywer het die velklere gesien as bedekking vir die mens wat in sonde verval het om sy skaamte te bedek, maar ook as ‘n herinnering aan sy sondigheid wat die dra van klere nodig gemaak het. Soos die mens God nie direk kan aanskou nie (Eksodus 33:20), mag die mens ook nie voor God onbedek lewe nie.

In Babilonië van die ballingskapstyd (597-520 v.Chr), en veel vroeër in die Sumeriese en Akkadiese tye, nog voor Abraham (1750 v.Chr.), was daar verhale oor die skepping en die groot vloed. In ‘n sekere sin is die eerste 11 hoofstukke van Genesis ‘n antwoord teen dié heidense verhale met hulle gode.

Die ou heidense stukke het melding gemaak van die verleidster wat die mens effektief verlei het, maar dat die mens daarna deur die natuur verwerp is, en sy vir hom sê dat hy nou wys is en soos ‘n god is. Daarna het sy sommige van sy klere verbeter en dit vir hom aangetrek om sy nuwe status aan te dui. Daarteen getuig die skrywer van God se genade wat die mens geklee het en geleer het om klere te maak. Maar hoe dit gedoen is, word nie uitgespel nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan