Die kruisiging van Jesus

Die kruisiging van Jesus – Jan van der Watt

Jan vra:

Met die afgelope Paasnaweek en die gebeure rondom die kruisiging en opstanding van Jesus val my oog op Matth 27:51 waar hy sê die aarde het gebewe en die rotse het geskeur en verder Matth 28: 2: En daar kom ‘n groot aardbewing want die engel van die Here het uit die hemel neergedaal en die steen van die opening weggerol en darop gaan sit. Moet mens hierdie glo? So ‘n groot aardbewing en rotse wat skeur klink ‘n bietjie oordrewe om ‘n enkele klip weg te rol. Dit klink vir my maar redelik rof of het die skrywer bietjie aangedik?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

In Matt 27:51-53 lees ons: ‘En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur; en die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan. En ná sy opstanding het hulle uit die grafte uitgegaan en in die heilige stad ingekom en aan baie verskyn‘. Die verse het al baie geleerdes aan die wonder gehad, veral wat die mense geword het wat uit die grafte opgestaan het. Die besondere gebeure is egter deur die Ou Testamentiese profesiee voorspel (bv. Jes 24:19; 29:6; Jer 10:10; Sag 14:4); selfs dat die dooies sou opstaan as God weer na sy mense toe kom, wat inderdaad met Jesus se koms gebeur het (Jes 26:19). Die aardbewing en rotse wat skeur is tekens daarvan dat God op daardie oomblik teenwoordig en aan die werk onder sy mense is. Mense het immers verwag dat as God betrokke is, daar dinge gaan gebeur wat mense nie kan doen nie. Al die dinge wat gebeur het, sou as bewys dien dat God in sy krag teenwoordig is – die Ou Testament het immers die soort dinge voorspel. Niemand kan meer twyfel dat Jesus werklik die Een is deur wie God op hierdie aarde optree nie.

As ons egter by die vraag kom of die dinge regtig gebeur het, kan ons dit eintlik nie na enige kant toe bewys nie – dit kan nie bewys word dat dit nie gebeur het nie, ook nie dat dit gebeur het nie. Ons het geen video-opnames of foto’s nie. Al wat ons kan doen is om te glo dat die getuienis van die evangeliste waar is; en geloof is nog nie historiese bewys nie. Dit beteken egter nie dat ons aan die boodskap dat Jesus die gestuurde van God was hoef te twyfel nie.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Tye van Onkunde

Tye van Onkunde – Francois Malan

Jan vra: 

Hand 17: 30 sê: God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan alle mense oral dat hulle hul moet bekeer. Na watter “tye van onkunde” word hier verwys in die lig van 1 Petrus 3: 19 nl: in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God eenmaal gewag het in die dae van Noag. Die lot van die gevalle engele is bekend. Tog was al die mense nie gevalle engele nie en ek wonder wat het van hulle geword het dws nadat hulle in die vloed omgekom het? 1 Petrus 4: 6 sê: Want daarom is ook aan die dode die evangelie verkondig, sodat hulle wel geoordeel kan word na die mens in die vlees, maar lewe na God in die gees. Ek verneem graag wat die konteks van hierdie onderwêreld gebeure is, asseblief? Groete Jan Smith

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

1 Tye van onkunde

Die tye van onkunde in Hand.17:30 sluit aan by die Grieke van Atene se godsdienstigheid (17:22) met ‘n altaar ‘aan ’n onbekende god’, wat hulle aanbid ‘sonder om daarvan kennis te hê’ (letterlik: ‘as onbekende’ aanbid; 17:23). Daarop verkondig Paulus aan hulle die Skepper-God, wat alles onderhou, en wat al die nasies uit een mens gemaak het met die doel dat hulle Hom sal soek om Hom te dien. Hom sal ons nie vind by beelde wat maar bloot menslike skeppings is nie (17:24-29).

Al die heidense pogings met afgodsbeelde en tempels en altare word dan saamgevat as ‘onkunde’ (vgl. ook Petrus en Paulus se beoordeling van die Jode in 3:17 en 13:27). Oor die menigte afgodsbeelde van die hooggeroemde Griekse kultuur het Paulus baie verontwaardig geword (17:16). Vir die Grieke in Korinte skryf hy later, die Grieke soek wysheid, en vir hulle is die gekruisigde Christus onsin, maar wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense (1Kor.1:22-25).

Dat God die eeue van heidense onkunde, ‘die tye van onkunde’, oorgesien het, dit buite rekening laat, beteken nie dat hulle onskuldig voor God is nie. In Romeine 1:20-23 skryf Paulus aan die Griekssprekendes in Rome dat deur die heidene se gebrek aan insig, hulle in die duister bly. Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas, en sonder verontskuldiging. God openbaar sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid probeer onderdruk deur hulle ongeregtigheid (Rom.1:18). Die toorn van God bestaan daarin dat God hulle aan hulleself oorgee om te doen wat hulle wil, aan hulle verdraaide opvattings, aan die drange van hulle hart, en aan sedelike onreinheid, sodat hulle doen wat onbetaamlik is en hulleself vernietig (Rom.1:24,28).

Maar nou roep Hy al die mense oral om hulle te bekeer (Hand.17:30). Die Griekse woord vir ‘bekering’ (metanoia) behels ‘n verandering van jou lewenswyse as gevolg van ‘n algehele verandering van jou gedagte en ingesteldheid teenoor God, sonde en geregtigheid voor God. God het ook ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur Jesus Christus wat Hy uit die dood laat opstaan het (17:31).

Die drie tye word na mekaar genoem: tye van onkunde van die verlede, die huidige tyd van bekering, en die toekomstige dag van oordeel.

2 1 Petrus 3:19

Deur die eeue is verskillende verklarings vir die twee Petrus-tekse, 3:19 en 4:6, gegee. Die volgende lyk die mees duidelike en aanvaarbare te wees. Die twee tekse word met mekaar op 5 punte vergelyk om aan te wys dat hulle van verskillende sake praat. Eers 3:19:

2.1.1 Prediker: volgens v18 is dit Christus wat as mens doodgemaak is en deur die Gees lewend gemaak is wat die aankondiging maak.

2.1.2 Wanneer: dit is onseker of dit voor die opstanding was, d.w.s. tussen Goeie Vrydag en Paasmaandag, of na die opstanding op Paasmaandag. In elk geval doen Christus dit as oorwinnaar oor die dood .

2.1.3 Wie is die ‘geeste’ vir wie Hy gepreek het? Volgens v20 was hulle ongehoorsaam, toe God groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het, en net die 8 in die ark gered is. Dit gaan oor Noag se ongelowige, onbekeerlike tydgenote, wat ‘n voorbeeld van onbekeerlikheid geword het (vgl. bv. Jerusalem se onbekeerlikheid in Matteus 24:37-39). Dat ‘geeste’ verwys na mense blyk o.a. uit 4:6 wat praat van mense wat in die gees by God is. Hier in 3:19 egter van mense wat nie gelowiges was nie.

2.1.4 Waar is die mense wat die prediking gehoor het nou? In die gevangenis. Volgens Lukas 16:22-31 se gelykenis van die arm man en Lasarus, het die engele die arm Lasarus na sy dood weggedra na die ereplek langs Abraham (Lukas 16:9 praat van die ewige wonings, en Lukas 23:43 van die paradys), terwyl die ryk man in die doderyk (hades) in pyn verkeer het.      

1 Petr.3:19 sê Christus het deur die Gees na die gevangenis gegaan. Dit beteken dat Hy in die doderyk was (vgl. Hand.2:27), en daar sy oorwinning oor die dood aangekondig het.

2.1.5 Die effek van Christus se prediking in die gevangenis: Hy kondig sy oorwinning oor die dood aan, nie as goeie nuus vir die ‘geeste’ in die gevangenis nie, maar as ‘n bevestiging van sy oorwinning oor die sonde en die dood van Hom na wie hulle nie wou luister of glo, toe Noag, en ná hom al die profete, die woord van God na hulle toe gebring het nie. Die woord vir ‘aankondig’ (kerussoo) verwys na ‘n boodskapper wat ‘n offisiële aankondiging doen (dit is nie die woord euangilizoo wat gebruik word om die goeie nuus aan te kondig nie).

Die hele gedeelte is bedoel om die gelowiges in die klein gemeentes wat verspreid in die noorde van Klein-Asië bly en deur hulle eie mense verdruk word, te motiveer om ‘as dit die wil van God is dat julle moet ly dit sal wees wanneer julle goed doen en nie wanneer julle kwaad doen nie’ (3:17), en om steeds gereed te wees om getuienis vir Christus, ons verlosser en die heerser oor die heelal, af te lê in die hoop en verwagting dat ons saam met Hom in die hemel sal ingaan (3:15,21).

3 1 Petrus 4:6

3.1 Prediker: Vers 6 sê nie wie die evangelie verkondig het nie (euangelizoo goeie nuus verkondig), maar is waarskynlik die mense wat volgens 1:12 aan hulle die goeie nuus gebring het (euangelizoo).

3.2 Wanneer: Die evangelie is in die verlede aan hulle verkondig (euangelizoo staan in die verlede tyd), waarskynlik voor hulle dood.

3.3 Wie is dit wat nou dood is? In die lig van vers 5 se ‘lewendes en dooies’ wat geoordeel sal word deur Christus, is dit mense, wat gesterf het nadat hulle reeds voor hulle dood die evangelie aangeneem het.

3.4 Waar is die mense wat dood is nou? Vers 6 sê hulle lewe in die gees by God (NAV soos God). Terwyl hulle as mense geoordeel was – die werkwoord verwys na ‘n oordeel wat in die verlede geskied het, toe hulle gesterf het, want die dood is deel van God se ‘n oordeel wat alle mense ondergaan – is hulle lewe in die gees in die teenwoordige tyd wat steeds aangaan, in hierdie lewe (2:24) en ook na die dood, om ‘in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid’ (5:10).  

3.5 Die effek van die evangeliste se prediking van die evangelie: selfs hulle wat gesterf het nadat hulle die evangelie aangeneem het, hou aan lewe na die gees na/soos God (letterlik: by God).

Dit word gesê sodat die gelowiges nie verbaas sal wees dat die heidene hulle beswadder en van godslastering beskuldig (blasfemeoo) omdat hulle nie meer die afgode saam met hulle dien nie (4:3-4).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




DIE VLEUELS VAN GEBED (21)

DIE VLEUELS VAN GEBED (21) – Jan van der Watt

Die spore van God in die geskiedenis.

‘n Mens sou nou in alle billikheid kon vra: ‘Is daar nie darem ‘n aanduiding van waar en hoe ons God se wil kan verwag nie?’ Ons moet mos immers ook weet wat God se wil is as ons volgens God se wil moet bid!

Dit is nou natuurlik nie altyd so dat God ons gebede op verrassende maniere beantwoord nie. Gewoonlik is dit duideliker en eenvoudiger om God se antwoord te herken as in die geval van Paulus hierbo. (So tussen hakies, dit is ‘n goeie idee om jou eie ‘gebedsantwoordboekie’ te hê. Daar sal jy duidelik kan sien hoe God jou gebede beantwoord. Dit kan nogal baie vir jou geloof ook beteken!). Die vraag is natuurlik hoe ons God se wil leer ken.

 

God se wil in die geskiedenis

Niemand het God nog ooit gesien nie. Wat ons wel van Hom sien, is sy dade in die geskiedenis. Daar kan ons sy wil leer ken en iets van sy hart sien.

* Dit is veral in die Bybel waar ons die voetspore van God deur die geskiedenis sien. Daar kan ons sy wil leer ken. Daarom is Bybelstudie onlosmaaklik deel van ons gebed. Die Bybel vertel van God se geskiedenis met ons. Daar kan ons sien waarvan Hy hou en waarvan nie.

Dit beteken dat jy die Bybel biddend moet lees. Daar moet en sal jy God se woord hoor. Nou moet ons ook nie die fout begaan om van die Bybel ‘n ‘toorboek’ te maak nie. Die gewoonte om die Bybel enige plek oop te slaan en dit dan as God se onfeilbare antwoord te sien, is nie aan te beveel nie. Dit kan soms selfs misleidend wees. (Dit is egter nie te sê dat God nie soms wel ook so met jou sal of wil werk nie. Dit is egter nie die normale manier nie). Jou bybelstudie kan veral op twee maniere vir jou help om God se wil te ontdek.

1. God kan deur die loop van jou normale bybelstudie – of selfs deur iets soos ‘n preek – vir jou inligting gee wat Hy later wil gebruik. Op daardie oomblik is dit nie vir jou so belangrik nie. As jy later in ‘n situasie kom waar jy nie weet hoe verder nie, herinner God jou juis aan daardie woorde. ‘n Mens kan byvoorbeeld maklik lees dat die Here sê dat ‘n gelowige vir sy Christenskap kan ly. Hy beloof ook dat Hy jou in die lyding sal bystaan! Hoe ly ons nou eintlik vandag? Daar is niemand wat ons met swaarde vervolg of in tronke gooi vir ons geloof nie. Die woorde gaan eintlik op die stadium dat jy dit lees by jou verby. Dan gebeur iets by die werk. Jou baas wil hê dat jy oneerlik moet wees om ‘n baie belangrike transaksie te beklink. Dit sal by die werk in alle opsigte vir jou voordelig wees om dit te doen. Nou wonder jy wat die Here wil hê. Jy bid daaroor en soek sy wil. Eintlik weet jy diep in jou hart dat die Here nie sy siel aan geld verkoop nie, veral nie deur oneerlikheid nie. Maar jy weet ook dat dit vir jou sleg sal wees om nie te doen wat die baas vra nie. En dan onthou jy wat jy destyds in jou Bybel gelees het: Daar mag oomblikke kom dat jou keuses vir Jesus vir jou baie sleg sal wees. Dit sal jou laat ly! Maar die Here se veiligheidsnet is onder jou gespan om jou op te vang as jy swaarkry. Dan weet jy sommer ook wat om te kies. So gebruik God sy woord om jou in sy wil te lei.

2. As jy biddend met die Bybel voor jou sit, praat die Here ook soms net daar met jou. As ‘n mens met ‘n spesifieke vraag die Bybel lees, sien ‘n mens die antwoorde ook soveel makliker raak. Sê maar jy is ‘n tiener wat wil weet of jy na ‘n partytjie toe moet gaan waar al die ‘cool’ kinders ook sal wees. As dit van jou afgehang het, sou jy definitief gegaan het. Maar jy wil eers hoor wat die Here daarvan dink. Hoe gaan jy uitvind? In jou stiltetyd is jy juis by Kol 3:17: ‘En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.’ Biddend dink jy na oor hierdie woorde. Die Here antwoord jou nie reguit nie. Hy sê nie ‘ja’ of ‘nee’ vir die partytjie nie. Hy sê wel dat jy moet besluit of Hy ook daar tuis sal voel. Hy wil immers oral gaan waar jy gaan! God gebruik ook jou wysheid en insig in die antwoorde wat Hy gee.

Dit is natuurlik ook belangrik om te onthou dat die manier waarop God die sigbaarste met ons gepraat het, is deur Jesus Christus. Sy lewe moet vir ons die patroon en voorbeeld vir ons eie optrede wees. ‘Wie beweer dat Hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het’ (1 Joh 2:6). Deur die voorbeeld van Jesus wil God ons lei. Daar kan ons sien wat God van ons verwag.

* Die Here is egter nie net in die Bybel toegesluit nie. Hy is elke dag ook saam met my. Hy is deel van my lewe! Daarom kan ek ook die spore van sy teenwoordigheid in my eie lewe aflees. Dikwels wil ek ‘n sekere ding hê of doen. Tog loop alles skeef. Dit verloop nie soos wat ek dit beplan nie. Moet ek nie iets daaruit aflei nie? Of by ‘n ander geleentheid mag ek voel dat die Here van my verwag om ‘n spesifieke ding te doen. Ek is egter die een wat nie kans sien nie. Tog voel dit telkens vir my of die Here sy ‘hand op my skouer sit’ om juis my aandag op daardie saak te vestig.

Die probleem met hierdie manier van goddelike leiding is dat dit nie swart op wit geskryf staan nie. Ek werk met ‘gevoelens’, maar sê nou net my ‘gevoel’ is verkeerd?!

Om so in twyfel te verval is seker die aakligste deel van gebed, as daar inderdaad ‘n aaklige deel is. Net as ek seker is God wil hê dat ek iets moet doen, slaan die twyfel my voete onder my uit. Ek begin wonder of dit regtig God is wat dit wil hê. Is dit nie miskien maar net ek wat dit graag wil hê nie. Nou dink ek sommer God wil dit ook hê. As dit so is, sê die twyfel vir my, dan sondig ek mos teen God. Dan gaan God mos hierdie saak nooit seën nie. As ek nou besluit om dit nie te doen nie, begin die twyfel weer aan daardie kant vreet. Sê nou maar net dit was God wat wou hê dat ek die ding moes doen… Wat ‘n senutergende ondervinding is dit nie. Jakobus moes sekerlik deur hierdie proses gegaan het, want hy beskryf dit so goed:

Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie,

want iemand wat twyfel,

is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag

en heen en weer gedryf word.

So ‘n mens wat altyd aan die twyfel is

en onbestendig is in al sy doen en late,

moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.

(Jak 1:6-8)

Die ‘medisyne’ wat Jakobus vir die twyfel voorskryf, is geloof. Geloof aanvaar die teenwoordigheid van God in jou lewe. Dit is die vertroue dat Hy ook betrokke wil wees by jou sake. Daarom kan ‘n mens met vertroue bid.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Dawid en die Psalms

Dawid en die Psalms – Coen Slabber

Die boeke van die Bybel het aanvanklik geen titels/opskrifte gehad nie. Soos ander antieke Midde-Oosterse literatuur is na hierdie boeke verwys volgens hulle openingswoorde. So word daar na Genesis as bere’shith – in die begin – verwys. Die versameling liedere, getuienisse, gebede, profesieë en ander materiaal wat uiteindelik die Psalms sou word, word in die Septuagint die psalmoi (liedere gesing met ’n snaarinstrument) genoem.

In die studie van die psalms word daar gewoonlik baie aandag gegee aan wie die skrywer was en wat die historiese agtergrond van die psalms was. In die Christelike tradisie staan die psalms as ’n geheel mettertyd bekend as die Psalms van Dawid. Daarom kry ons dat individuele psalms dikwels aan gebeure uit sy lewe gekoppel word. Baie psalms se opskrif lees dan ook: ’n Psalm van Dawid.

 

Wat beteken dit as ons lees van Dawid? Daar is twee probleme hiermee:

(1) Dit mag verwys na Dawid, die seun van Isai wat vir Saul as koning opgevolg het. Dit mag egter ook verwys na enige latere koning uit die geslag van Dawid.

(2) Die woordjie wat met van vertaal word, mag ook ander betekenisse hê. ’n Paar moontlikhede is:

  •  Aan – Die psalm word aan Dawid (of ’n latere koning) gerig of is aan hom opgedra.
  •  Behoort aan – Hierdie psalm behoort aan ’n versameling wat deur Dawid of ’n latere koning geborg of gemagtig is.
  •  Vir – Vir Dawid of ’n latere koning om te gebruik of van te leer.
  •   Daar word gebid vir Dawid of ‘n latere koning.
  • Dit gaan oor Dawid of ’n latere koning.
  • Deur – Die Skrywer is Dawid of ’n latere koning.

Hier het ons te doen met ’n herhalende patroon in die Skrif: boeke wat anoniem was, het mettertyd skrywers gekry wat met hulle geassosieer is. Ons dink hier onder andere aan Matteus en Markus. Sodra boeke deur die gemeenskap aanvaar word, wil hulle dit graag assosieer met iemand van wie hulle weet. Ons kan sien hoekom Dawid se naam in die opskrifte met die psalms geassosieer word. Veral in Kronieke word Dawid beskou as die beskermheer van aanbidding: Hy (Hiskia) en die amptenare het toe die Leviete beveel om die Here te loof met die liedere van Dawid en die siener Asaf (2 Kronieke 29:30). Ons weet dat Dawid baie liedere geskryf het. ’n Goeie voorbeeld kry ons in 2 Samuel 22. In 1 Konings 4:32 lees ons: Hy het drie duisend spreuke gemaak en duisend en vyf liedere gedig. Sy reputasie as musikus en digter maak van hom ’n natuurlike kandidaat om as skrywer van die psalms as ’n geheel geïdentifiseer te word.

Die lang opskrifte wat verwys na sekere insidente in die lewe van Dawid het ’n verdere betekenis. Kyk na Psalm 3 se opskrif: ’n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het. Mense het onmiddellik aanvaar dat Dawid hierdie psalm geskryf het, alhoewel hier geen vermelding van die skrywer is nie. Al wat hierdie opskrif probeer doen, is om mense te help om hulle verbeelding te gebruik om die werklikheid van die toneel te begryp.

Vergelyk ons hierdie lang opskrifte met die inhoud van die psalm sien ons dikwels raakpunte, maar ook punte van verskil. Psalm 51 is ’n goeie voorbeeld: Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid na aanleiding daarvan dat die profeet Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel met Batseba. Hierdie psalm is baie toepaslik vir ’n koning met “bloed” aan sy hande, maar Dawid kan tog nie sê: Teen U alleen het ek gesondig nie. Is hierdie opskrif nie dalk later bygevoeg nie? Die hele doel van die opskrifte was om hierdie psalms te koppel met insidente uit die lewe van Dawid waarvan die Ou Testament ons vertel.

Die tradisionele Joodse Midrash (antieke kommentaar oor ’n deel van die Hebreeuse Skrif wat aan die teks van die Bybel geheg is – Oxford English Dictionary) sê dat alles wat Dawid in die Boek van die Psalms gesê het, op homself, op Israel en vir alle tye van toepassing is. Om die psalms met insidente uit die lewe van Dawid te koppel het mense geleer om die betekenis van die psalm en die verhaal waarna verwys word, raak te sien.

Die psalms se krag en gesag word nie bepaal deur die persoon wat hulle geskryf het nie – ’n belangrike persoon wie se naam ons ken nie. Hulle was gebede en lofliedere wat God aanvaar het. Hulle is deur die geloofsgemeenskap aanvaar, want dié het besef dat hulle waar is – al was hulle anoniem. Vir Christene is die feit dat hulle deur Jesus Christus aanvaar is ’n verdere beklemtoning van hulle gesag. Daardie geloofsgemeenskap wat hulle aanvanklik aanvaar het, nooi ons uit om te luister hoe God met ons deur hierdie psalms praat – en om dit ons eie gebede en lofprysing te maak.

Verwysing:

Goldingay, John (2006): Psalms, Volume 1, bladsy 28.

 

Skrywer: Dr. Coen Slabber