DIE VLEUELS VAN GEBED (17)

DIE VLEUELS VAN GEBED (17) – Jan van der Watt

Wat kan ‘n mens alles van God vra en vir wie mag jy bid?

Op verkillende plekke in die Bybel staan daar vir wie en oor wat kan jy alles bid. Jy kan vir jouself bid, vir jou familie en mede-gelowiges, wel, selfs vir jou vyande! Net soos ‘n mens oor enigiemand mag gesels, so mag ‘n mens ook met God oor enigiemand praat.

Maar dit is nou nie die einde van die storie nie! HOE jy met God oor jouself en ander gesels, is ook weer ‘n ander saak!

 

Here, ek wil U iets VIR MYSELF te vra. Mag ek?

Kom ons gesels eers ‘n bietjie oor dinge wat ek vir MYSELF wil vra.

Ons het reeds gesien dat jy met gebed nie voor ‘n lekkergoedmasjien staan nie. Jy gesels met die lewende God wat saam met jou by jou saak betrokke is en wil wees. Met ander woorde, in gebed soek jy na ‘n antwoord waar jou wil God se wil ontmoet.

Dit sê eintlik iets baie belangrik vir ons oor die manier waarop ons dinge vir onsself van God moet vra. Van ons word verwag om dít te vra wat tot voordeel van God en sy koninkryk is! Ons moet mos eers sy koninkryk soek… (Mat 6:33).

Wat beteken dit in die praktyk? Kan ek vir ‘n nuwe kar vra? Hoe weet ek of dit in die belang van die koninkryk is? Of wat van hulp met ‘n saketransaksie wat nou nie soveel te doen het met die koninkryk nie? Kan ek regtig vir God vir daardie mooi ring vra wat ek so begeer? Want sien, die ring gaan nou nie eintlik die koninkryk so geweldig bevorder nie, maar ook darem nou nie die koninkryk in duie laat stort nie. Eintlik maak dit nie soveel saak nie?! Mag ek nou vra of mag ek nie?


Jy mag darem iets vra!

Ons het nou reeds gesien dat gebed eintlik ‘spanwerk’ tussen jou en God is. Binne die ‘atmosfeer’ van God wat tevrede moet wees met wat jy doen, kan jy maar gesels en vra. Die probleem kom eintlik by ‘neutrale’ dinge of dinge wat ‘vir jouself’ is, soos die ring of die kar.

Verwysings na gevalle in die Bybel waar ‘n persoon eintlik net vir hom of haarself vra, is skaars. Dit is moontlik so omdat God eintlik maar by alles van ons op een of ander manier betrokke is. Tog kry ons in 1 Sameul 1 die aangrypende verhaal van Hanna wat vir ‘n kind bid. Sy smeek dat die Here tog aan haar moet dink en haar nie vergeet nie (vers 11). Uiteindelik het die Here hierdie kreet uit die hart van die vrou gehoor. Hy het aan haar Samuel gegee wat Hy later self wonderlik in sy koninkryk gebruik het. Om dit so te stel, die Here is nie selfsugtig nie! Ook ons kan met ons gebed en smekinge na Hom kom (Fil 4:6). Hy luister ook na die versoeke en begeertes wat soos saad in ons harte ontkiem. Hy pluk die plante wat so groei nie uit nie, maar vang dit in sy reën en sonskyn op.

Om juis hierdie punt te onderstreep het Jesus mos self gesê dat dit ondenkbaar is dat iemand van sy vriend brood sal vra en dat sy vriend sal weier. Jy jaag net nie ‘n vriend met ‘n billike versoek weg nie, al kom dit ook op watter ongeleë tyd (Vgl. Luk 11:5-9). Hoe sal God dit dan nou doen.

MAAR, wat ewe waar is, is dat die Here nou nie vir ons enigiets gaan gee wat ons vra nie. Hy gaan aan ons iets gee wat vir ons goed is. Ons kan vra, maar God neem die verantwoordelikheid op Hom om vir ons te gee wat vir ons goed is. In daardie gesindheid moet ons dus vra. Ons moet vra met die wete dat God kan en sal besluit. Ons kan God nie dwing of forseer nie. Ons kan van Hom ons daaglikse brood vra, omdat ons van Hom afhanklik is. Ons kan dan ook vertrou dat ons Vader aan ons die nodige sal gee. Wat goed is, kan ons van Hom verwag.

Ons hoef dus regtig nie onseker of skaam te wees om vir die Here iets te vra nie. Tegelyk moet ons ook nie ongeduldig wees as die Here iets anders sou besluit nie. Ons moet vertrou dat Hy die beste weet en dat alles uiteindelik tot ons eie beswil sal gebeur. Ons weet mos dat ons lewe in die hand van God is. Wat se sin het dit nou ook vir ‘n Christen om sy lewe uit die hand van God te probeer haal deur God te probeer forseer om te doen wat hy of sy wil? Nee wat, gelowige, vertrou maar die Here, ook met dit wat jy van Hom vra!


Waarskuwingstekens by gevaarlike plekke

Die Bybel sê egter ook dat ‘n mens darem nie roekeloos met die vraery kan aangaan en dan verwag dat die Here moet ‘spring’ nie. Daarom het God by die gevaarlike plekke waarskuwingstekens opgesit. Hierdie gevaartekens het eintlik almal met ons gesindheid in gebed tedoen. Dit gaan oor die manier waarop ons bid.

* Kyk wat sê die Here in Jak 4:3:

As julle bid ontvng julle nie,

omdat julle verkeerd bid:

Julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig!

As die enigste persoon wat jy wil bevoordeel net jyself is, en jy wil selfs ander mense benadeel daardeur, moet jy mos nie dink dat God vreeslik opgewonde gaan wees oor jou gebed nie! Dit sê Jesus self ook in Mat 6:5. As jy die middelpunt van jou gebed begin raak, loop sake skeef.

* Jakobus gaan ook verder. Hy sê ook:

Nader tot God en Hy sal tot julle nader.

Was julle hande, sondaars,

en reinig julle harte, huigelaars.

(Jak 4:8) 

Oor sondebelydenis het ons alreeds gesels. Die Here hou glad nie daarvan as ons met verkeerde motiewe en veral met ‘n klomp sonde op sy skoot kom sit en dan ons lysie vrae in sy hand kom stop nie.

Of jy dus met ‘n slegte gesindheid bid of nie, sal jy waarskynlik die beste kan sê. Dit sê iets prakties vir die manier waarop jy moet bid. As jy jou sake met die Vader bespreek, moet jy ook gedurig vir jouself afvra waarom jy nou juis hierdie dinge vra. Wat is jou rede? Wat is jou motief? As jou motief lelik of negatief of darem uit en uit selfsugtig is, moet jy dit nie vir God ‘moeilik maak’ nie.

* Verder moet ons ook darem dit wat realisties is vra. Die Here gaan nie oornag al sy kinders kitsmiljoenêrs maak nie. Nee, ons erfdeel hou Hy vir ons in die hemel. Hy sê ook nie ons moet ‘n bidhuis langs die hospitaal opsit sodat al die Christene daar gesond gebid kan word nie. Hospitale is nie net vol ongelowiges nie! Die Here het immers ‘n plan met ons lewens. Uit dinge wat met ons gebeur, kan ons God se plan met ons lewens dikwels mooi ‘aflees’. Dit help nie om God heeltyd vir dinge te vra wat duidelik teen sy plan ingaan nie. Toegegee, die plan is nie altyd so duidelik nie! Maar elkeen van ons wat die pad al saam met die Here gestap het, sal weet hoe en waar Hy ook met jou wil loop. Kom ons kyk sommer na ‘n moeilike voorbeeld. Jy het voor die kansel vir die Here gesê dat die man of vrou wat jy daar mee trou van Hom af kom. Dit was sy plan met jou lewe. Nou help dit nie om elke aand voor jy gaan slaap vir die Here te bid om van die man of vrou ontslae te raak nie. Ons weet mos dat die Here niks van die idee van skei hou nie. Nee, ons moet onsself liewer binne die raamwerk van God se plan tuisvind. Wees realisties! Bid liewer positief vir jou huweliksmaat.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Linkshandig!

Linkshandig! – Francois Malan

Pieter vra:

Graag die volgende vraag. Rigters 20v16. Is daar enige rede hoekom die mense links was? Was dit dalk met die ontwerp van die slingervel gewees?

 

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

 

Die Hebreeuse teks lees letterlik: ‘in daardie hele leër was daar 700 sterk jongmanne regs gestremd’

‘Regs gestremd’ is die manier om linkshandig in Hebreeus aan te dui. Vgl. ook vir Ehud, die rigter uit die stam Benjamin, wat ook links (letterlik: regs gestremd) was.

Die Israeliete het linkshandigheid beskou as ‘n nadeel, dat jy nie soos almal regs is nie. Maar soos in Ehud se geval was dit ‘n goeie kamoeflering, sodat die wagte om koning Eglon van Moab nie onraad gemerk het, toe hy met sy swaard aan die regterkant onder sy klere vasgemaak in die koning se teenwoordigheid toegelaat is nie (Rigters 3:15-21). In die geveg van die stam Benjamin teen die res van Israel kon die linkshandiges ook ‘n verrassingsaanval loods, omdat hulle vyand nie die klippe uit hulle slingervelle in die linkershand verwag nie.

Uit ‘n leër van 26,700 Benjaminiete, is 700 nie eers 3 uit elke honderd nie (2.6%). Die Griekse vertaling het ‘regs gestremd’ waarskynlik foutief vertaal met ‘dubbelhandig’ (vaardig met albei hande).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




DIE VLEUELS VAN GEBED (16)

DIE VLEUELS VAN GEBED (16) – Jan van der Watt

Ek en ‘n lekkergoedmasjien?

Een ding is dus seker: gebed is nie soos ‘n lekkergoedmasjien nie. Ek kies nie maar net wat ek wil hê, gooi my geld in, vat die lekkergoed en loop nie. In gebed praat ons nie met ‘n masjien wat maar net op ons versoeke reageer nie. Ons praat met die lewende God. Dit verander dus die manier waarop ons vra.

Beywer julle allereers vir die koninkryk van God

en vir die wil van God,

dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

(Mat 6:33)

Veronderstel jy het ‘n probleem waaroor jy voel jy wil bid. As jy dan voor God gaan staan, is daar eintlik drie belangrike ‘pole’ wat ‘n rol speel. Dit is natuurlik God, jy en die saak waaroor jy wil praat.

Al drie hierdie ‘pole’ het ‘n invloed. Natuurlik moet jy die saak voor God stel, MAAR nie asof jy Hom net ‘inlig’ nie. Onthou, in gebed erken jy dat God ook by hierdie saak betrokke is. Sy belange moet ook in hierdie saak gedien word. Om die waarheid te sê, dit is belangriker dat Hy tevrede is met die uitkoms van die saak as wat jy is. Om dus iets in gebed na God toe te neem beteken om God se betrokkenheid en belange onlosmaaklik daarmee te vervleg. En nou kom jou siening ook nog by. God wil hê dat jy aan Hom vertel hoe jy oor die saak voel.

So is gebed: God, jy en jou saak. En wat jy probeer kry, is nie lekkergoed uit ‘n masjien nie, maar ‘n soeke na wat vir die koninkryk die belangrikste is. God het jou deel van sy koninkryk, sy familie, gemaak. Daarom is elke saak van jou God se saak. Hy is daarby betrokke. Nou moet jy só leef en só bid… ook in die oplossing van jou probleme. Nooit kan ‘n saak van jou meer ‘net ‘n saak’ bly nie!

‘n Nuusberig van God: ‘ Kom gesels, jy is welkom!’

God wil en is betrokke by sy kinders se sake. Daarom kan ons ook alles met vrymoedigheid met Hom bespreek. In die Bybelse tyd was die mense natuurlik geweldig bewus van God se heiligheid. Net spesiale priesters kon dit naby God se heiligdom waag. Maar Jesus het dit kom verander. Hy het die troonsaal van die hemel se deure vir ons oopgestoot en ons ingenooi. Nou kan ons sonder huiwering vrymoedig met God gaan praat.

En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan,

omdat Hy ons gebede verhoor

as ons enigiets volgens sy wil vra.

(1 Joh 5:14)

Jy kom staan immers openlik met al jou sake en jou leefwêreld voor God. Dit is mos sy sake ook, want jy is sy kind. Daarom moet jy nie huiwerig wees nie (Ef 3:12; Heb 4:16).

Maar ‘vrymoedigheid’ beteken ook tegelyk dat jy eerlik moet wees. Jy kan nie met ‘n ‘show’ voor God staan nie. Daar hoef jy nie ‘voor te gee’ om iets of iemand te wees wat jy nie is nie. Jy kan maar net jouself wees. Jy kan met jou swakhede, foute, probleme en behoeftes vrymoedig voor God gaan staan. Jy kan soos die soldaat voor ‘n groot geveg sê: ‘Here, as ek miskien deur die loop van die dag vergeet om aan U te dink, dink asseblief aan my!’

Kom sonder ‘n afspraak.. kom sommer altyd!

In 1 Tes 5:17 staan daar die kort vers: ‘Bid gedurig’.

Wat beteken dit om altyddeur of gedurig te bid? Dit beteken om nooit jou kontak met die beheerkamer te breek nie. As soldate op een of ander sending uit is, is radioverbinding met die beheerkamer feitlik net so belangrik as wapens.

* Hulle het die versekering dat hulle nie alleen is nie. Die mense wat hulle kan help is ‘n oproep ver. En die ‘kanaal’ van die radio is net vir hulle bespreek. Hulle kan sommer te eniger tyd oor enigiets praat.

Net so is God se ‘kanaal’ vir ons ‘gedurigdeur’ oop! Hy is ‘n woord uit die hart, ‘n stille fluistering of ‘n kreet om hulp ver. God nooi ons uit om so met Hom te praat… enige plek, enige tyd. As jy in die kar sit en met God praat, of voor die stoof of in die eksamenlokaal… is God daar! Bid gedurig!

* Maar die soldate doen nou ook nie wat hulle wil nie. Hulle doen wat aan hulle opgedra is. As hulle enige verandering aan hulle planne maak, bevestig en bespreek hulle dit eers met die beheerkamer. Eintlik kan ‘n mens sê dat hulle hele optrede en houding eintlik ‘n gehoorsame reaksie op die opdrag van die beheerkamer is. Eintlik bly die ‘woorde van die beheerkamer’ gedurig by hulle en reageer hulle so.

Ons lewens as gelowiges moet ook so in volledige afhanklikheid en erkenning van God se teenwoordigheid geleef word. Dit moet ‘n lewenstyl wees! Gebed beteken in die sin nie noodwendig dat ek die hele tyd met toe oë iewers staan nie. Nee, dit beteken om met oop oë in die bewustheid van God se teenwoordigheid alles te doen. Dit is asof jy saam met iemand rondstap. Jy hoef nie heeltyd te babbel nie. selfs die oomblikke wat jy niks sê nie, is jy bewus van daardie persoon se teenwoordigheid. Die manier waarop jy optree ‘praat’ dan ook met daardie persoon. So is dit met God ook. Ons hoef nie gedurig te babbel in gebed sodat dit gebed kan wees nie. Nee, die stil oomblikke waarin ons bewus van God se teenwoordigheid leef, is ook ‘gebed’. En God wil hê ons moet altyd so leef!

‘n Godsafhanklike lewenstyl is ‘n biddende lewenstyl! En as jy so in gebed lewe, lewe gebed ook vir jou!

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




DIE VLEUELS VAN GEBED (15)

DIE VLEUELS VAN GEBED (15) – Jan van der Watt

Gebed doen meer aan jou as aan God?!

As ‘n mens gebed teen hierdie agtergrond sien, kan ons heelwat dinge beter verstaan. Om die waarheid te sê, ons sal by die hart uitkom van wat dit beteken om God iets in jou gebede te vra.

As lede van God se span, sy familie, moet ons die belange van God se ‘span’ op die hart dra. Ons sal mos nie wil hê dinge moet gebeur wat God se ‘span’ benadeel nie. God wil dit ook nie hê nie. In die opsig loop sy wil en my wil op dieselfde spoor. Dit is juis wat God bedoel met: ‘Bid volgens my wil’. Ons belange moet so met God se belange ‘een’ wees, dat ons eintlik vir God niks anders sal wil vra as wat Hy buitendien vir sy familie sou wou gee nie. Dit is dan dinge wat buitendien volgens sy ‘wil’ is en daarom kan ons seker wees dat dit ‘goed’ is.

So gesien doen gebede dus meer aan jou as aan God! In jou versoeke aan God moet jy konstant onthou wie jy is! Jy is ‘n Christen, deel van God se familie. Jy bid dus nie bloot om jou eie sak vol te maak nie. Jy bid in die ‘omgewing’ van die sin wat God aan jou lewe wil gee. Jy is deel van sy ‘span’ wat speel en God wil hê dat jy so goed as moontlik speel. As jy dus bid, moet jy bid met die gesindheid om sinvoller kan leef in die lewe waar God jou geplaas het. En hoe leef jy sinvoller? Deur meer en meer die ‘spel van die lewe’ te speel soos God dit vir jou bedoel het.

Daarom doen jou gebede soveel aan jou. Dit is jy wat in pas met God moet kom en nie anders om nie! Jy moet met elke ding wat jy vra weer seker maak of dit in ooreenstemming is met wat God vir jou lewe wil hê. So op jou knieë voor God moet sy gedagtes jou gedagtes word en sy wil jou wil. Daarom word elke gebed ‘n gebeurtenis waarin jy meer en meer na God en sy wil toe beweeg. Jy moet soos jou Vader leef. Elke versoek is derhalwe ‘n versoek dat God jou ‘n beter ‘spanlid’ vir Hom sal maak. Sy wil moet jou wil word en bly!

Om dus te sê dat ons volgens die Here se wil moet bid, beteken meer as om net oor elke afsonderlike saak te wonder wat die Here hieroor sou sê. Nee, dit beteken meer. Dit beteken om jou hele lewe deur die stroom van God se teenwoordigheid en wil te laat meesleur. Elke ding wat jy vra moet ‘n versugting wees om meer en meer van God in jou lewe gestalte te gee.

Dit maak natuurlik ons ‘vrae’ aan God baie meer as net vrae. Dit is die deelname aan ‘n groter gebeurtenis. Dit is die soeke na God se wil vir jou lewe. In die sin is gebed ook ‘n stuk Gods-diens.


Op die skoot van Abba, Vader.

Eintlik is hierdie manier van bid iets wonderliks! Bloot die feit dat die gebed van die Here met ‘ons Vader’ begin, sê al baie. Paulus sê ook dat ons in gebed vir God kan aanroep as ‘Abba’, wat beteken vader of pappie (Rom 8:15; Gal 4:6). Al beteken die woord nie altyd net ‘pappie’ nie, wil Paulus tog iets uitdruk van die liefde en intimiteit wat met die woord ‘pappie’ saamgaan. En dit is wat met gebed gebeur – ons kom naby ons Pappie; ons klim op sy skoot.

Dink net daaraan! Ons kan op die almagtige, lewende God se skoot klim, ons arms om Hom slaan en vir Hom sê ‘Pappie’! Daar op sy skoot kan ons na sy hartklop luister of ons geheime wense in sy oor fluister. Maar so op sy skoot sal ons nie dinge kan vra of sê wat Hom seermaak of benadeel nie. So teen die bors van ons Vader sal sy wil en ons wil en sy gedagtes en ons gedagtes ineenvloei. So sal die verhouding tussen jou en die Vader net sterker en sterker word omdat jy net nader en nader aan Hom groei.

Ons gaan dus nie net na God se vraebus om ‘n versoek in te gooi en ander kant te gaan staan en wag vir die antwoord nie. Nee, ons gaan op die skoot van ons Pa klim. Daar gaan ons ons idees en vrae met Hom bespreek. Ons sal wil hoor hoe Hy daaroor voel! In sy antwoorde sal ons sy liefde en besorgtheid oor ons hoor, sal ons nader en nader aan Hom groei. As ons wegstap, sal dit vir ons ‘n vreugde wees om sy besluit, sy wil, te aanvaar en te gaan doen.

Ook om vir dinge te vra, is ‘n Godservaring. Daar ontdek jy weer dat jy sy kind is en dat Hy jou liefdevolle Vader is.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt