Laat sy Liefde jou Lei: Hoe dink Hy oor jou?

Laat sy Liefde jou Lei: Hoe dink Hy oor jou? – Milanie Vosloo

Hoe dink Hý oor jou?

Die Here sê: Ek dink heeltemal anders as julle. Ek doen dinge ook heeltemal anders as wat julle doen. Soos die wolke ver bo die aarde is, is die manier waarop Ek dinge doen ook ver bo die manier waarop julle dit doen. Jesaja 55:8a

Niemand van ons is verniet op hierdie aarde nie. Ook nie jy nie. Toe God besluit het om jou in jou moeder se skoot te plaas, het Hy oor jou gedroom .. gesien hoe jy as mens ontwikkel, met passie leef en ‘n ware dissipel vir Hom is.

Nou mag jy sê: Waar is dié ongelooflike “ek” wat God gemaak het vandag? Voldoen ek aan sy reuse verwagtinge? Leef ek al die goed en mooi wat Hy in my geplaas het met passie en waardering uit? Of het ek mettertyd myself begin sus met “gewoon-wees”. Met woorde soos “Ek is maar so-so”, “Ek het tog nie juis talente nie” of “Ander mense is soveel meer besonders as ek.”? As dit jou gedagtegang is, moet jy weet: Jy dink nie soos God dink nie. En jy gebruik waarskynlik nie die wonderlike talente en gawes wat Hy in jou geplaas het nie. En dan … staan jy die kans om dit te verloor.

Onthou: jy hoef nooit geïntimideerd te voel oor die gawes en talente van ander nie. Die mens wat jy is en dit wat God in jou geplaas het, maak van jou die beste jý. Jy moet dit net met oorgawe gaan lééf!

Meester-mensmaker, help my om u droom vir my lewe, te volg!

 

Skrywer: Milanie Vosloo




DIE VLEUELS VAN GEBED (14)

DIE VLEUELS VAN GEBED (14) – Jan van der Watt

Op die skoot van God aan die gesels.

Vra wat jy wil… maar wie se wil?

Gebed ‘werk’ nie! En nou?

Een van die grootste probleme wat mense met gebed het, is hoe gebede beantwoord word. Wat presies gebeur met gebed? Hoe moet ons daaroor dink. Is dit soos ‘n geldoutomaat waar ons ons versoeke inpons en die outomaat reageer maar net? Is dit soos ‘n bedelaar wat langs die straat sit en maar vernederd sit en vra met die hoop dat iets na sy kant toe sal kom? Of werk dit miskien soos ‘n belastingvorm wat jy indien maar nooit seker is wat daar gaan uitkom nie? Ja-nee, wat is gebed presies as dit by die vraslag kom?

Ons grootste probleem is inderdaad ons verwagtings wat nie altyd met ons ervarings strook nie. Nou die dag hoor ek van ‘n jong meisie wat uit slegte huislike omstandighede kom. Sy het blykbaar lank en innig gebid dat die probleme in die huis moet verander, maar dit is nog maar alles dieselfde. ‘Gebed nie dus nie gewerk nie, nou rook sy maar’, sê sy. Rook help darem ‘n bietjie, want dit verlig die spanning. So ‘n gebedservaring maak dit sekrelik baie moeilik om maar weer en weer te bid as jy voel dat dit nie gaan werk nie. En gedeeltes soos Joh 14:14: ‘As julle iets in My naam vra, sal ek dit doen’, maak hierdie ervarings ook nie makliker verstaanbaar nie. So onwikkel gebed maklik in ‘n onverstaanbare vraagteken.

Daar kan natuurlik allerhande antwoorde en verduidelikings aan die meisie vir haar ervaring gegee word. Een ding bly egter seker. Aan haar ervaring en vertwyfeling kan ons nie veel verander nie – dit het gebeur. En daar is duisende ander gelowiges wat met dieselfde frustrasie sit, miskien nog uself.

Die meeste misverstande rondom gebed ontstaan egter omdat ons nie altyd reg dink oor hoe ons in gebed moet vra en wat ons moet verwag nie. Ons dink òf God is ‘n outomatiese teller òf ‘n belastinggaarder of wat ook al. Daarom is dit belangrik om mooi na te dink oor wat ons presies sê as ons sê dat God ons gebede verhoor.

God se wil vang jou gebede op

Die Bybel is nie skaam om te sê dat ons van die Here dinge moet vra nie. Hierdie uitnodigings wemel in die Bybel. Kom ons kyk na ‘n paar van hierdie uitnodigings:

So sal die Vader aan julle gee

wat julle ook al in my Naam vra.

(Joh 15:16)

Bid en julle sal ontvang.

(Joh 16:24)

As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem

en daaroor bid,

sal my Vader wat in die hemel is,

hulle dit laat kry.

(Mat 18:19)

Vra, en vir julle sal gegee word;

(Mat 7:7)

Op sig self lyk hierdie beloftes van die Here baie duidelik. Ons moet vra en Hy moet gee! Maar is dit wat presies bedoel word?

As ons weer ‘n keer na hierdie en ander uitsprake kyk, kom ons ‘n interessante ding agter. Die meeste van hierdie uitsprake word gekwalifiseer: die persoon wat bid moet vra volgens die wil van God. Kyk byvoorbeeld na 1 Joh 5:14:

Nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan

omdat Hy ons gebede verhoor

as ons enigiets volgens sy wil vra. 

In Mat 7:11 word dit op ‘n ander manier gestel:

As julle wat sleg is,

dan weet om goeie dinge vir julle kinders te gee,

hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is,

goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?

God het duidelik ook ‘n sê in wat ons bid. Hy is nie ons kelner of bediende wat maar net opdragte uitvoer nie. Inteendeel, Hy is ons Vader en God. Hy gee ons nie sommer enigiets nie, maar wat volgens sy wil goed is.

Wat beteken dit? ‘n Kind wat probleme met sy maag het en lekkers vra gaan waarskynlik net sieker word. Sy ma sal vir hom liewer medisyne gee. Die ma is bekommerd oor die welsyn van haar kind. Sy sal nie iets doen wat die kind kan benadeel nie. Ook die teenoorgestelde is waar: ‘Watter mens sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra of ‘n slang as hy vis vra?’ (Mat 7:9-10). God sal jou nie doelbewus probeer benadeel nie. As jy van Hom iets vra en Hy gee jou ‘n ander antwoord as wat jy verwag het, probeer Hy jou nie ‘spite’ nie. God weet wat vir jou goed is en so sal Hy op jou gebede reageer. Sy wil is die net waarin ons gebede opgevang en geweeg word.

Jy speel in God se span!

Dit is nou alles goed en wel, maar hoe weet ek dan nou wat God se wil is? Dit is nie altyd ‘n maklike vraag om te beantwoord nie. Dikwels moet ons lank worsel om regtig ‘n antwoord hierop te kry.

Tog sal dit ons help om net weer na te dink oor wat gebed presies is en wat daar gebeur as jy God sekere dinge vra.

In die Bybel word ons kinders van God genoem. Ons is dus deel van die familie van God. God word nie verniet ‘ons Vader’ genoem nie (Mat 6:9). Ons rol in die familie van God is dus dieselfde as dié van ‘n kind in ‘n antieke familie in Jesus se tyd. Die families het anders gewerk as wat ons families vandag werk.

Destyds was die mense groepsmense. Jou familie (groep) se belange was vir jou belangriker as jou eie belange. Alles wat jy gedoen het was daarop gemik om jou groep te bevoordeel. Die Vader was weer die hoof en die verteenwoordiger van die gesin. As jy dus wou weet wat van jou verwag word, het jy maar net dopgehou wat jou pa gedoen het. Jy het dan soos Hy opgetree. Korrekte optrede is dus deur die Vader en die groep se behoeftes bepaal. Wat jy wou hê en ook gevra het, sou dan tot voordeel van die groep moes wees. (Dit stem baie ooreen met die tradisionele Afrikagesin. As jy byvoorbeeld ‘n Zulu is, tree jy soos ‘n Zulu op, trek so aan, verdedig die Zulu’s en so aan. Wie jy is word dus bepaal deur jou groep waaraan jy behoort).

Soos ‘n lid van ‘n rugbyspan, is jy lid van die familie van God. In die oë van God speel jy die spel van die lewe saam met Hom en jou mede-gelowiges. Jy staan nie alleen nie! Jy het ‘n rol om te speel en dit kan jy nie los van die res van die ‘span’ speel nie. Dáár waar God jou wil hê in die lewe, hoe Hy wil hê jy moet speel, daar lê die sin van jou lewe, sê die Bybel. Ons speel in God se span in die wêreld. Daarom moet ons God se belange verteenwoordig. God se belange en ons belange is dus vervleg.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Het Jesus ’n bruin vel gehad?

Het Jesus ’n bruin vel gehad? – Kobus Kok

Saartjie vra: 

Ons weet dat Jesus ‘n Jood was, maar ek verneem dat hy ook ‘n Hebreër was. Was hulle donkervellig? Ek lees in Jesaja 53 dat Jesus nie “aansienlik” was nie. Wat kan ek daarvan aflei?

Antwoord:

Dr. Kobus Kok antwoord:

Die blonde Jesus met die waaiende lang hare wat ons in tekenprente sien, en Jesus soos ‘n Switserse of Germaanse model laat lyk, is waarskynlik nie hoe Jesus regtig gelyk het nie. In die tradisie van sommige kringe het Jesus hare soos wol gehad – wat tipies lyk soos die bruin krullerige hare van die Jode. Jesus was immers geneties gesproke, ’n Jood. Baie Jode het bruin velle, ander het ligte velle. Die Jode is Oosters Mediterreense mense, wat beteken dat hulle volgens die nuutste navorsing in molekulêre genetika die genepoel deel van die Palestynse Arabiere, die Turke, die Koerde, die Romeine, die Grieke, die Libanese, ens. Die Jode het in verskillende tydperke met verskillende kulture in kontak gekom en het in die sogenaamde Diaspora oor die hele Mediterreense wêreld en later ook in Europa voorgekom. In onlangse navorsing blyk dit dat onder die Joodse gemeenskappe waarin genetiese toetsing gedoen is die Noord Afrikane, by name die Marokkane, geneties gesproke die beste voorbeeld is van die genepoel van die antieke Joodse gemeenskappe wat waarskynlik dateer uit die tydperk voor die Babiloniese ballingskap (ongeveer 2500 jaar terug). Die meeste Marokkane het donker velle en swart krulhare met bruin oë. Soos ek in die begin gesê het, is dit eintlik ‘n heel irrelevante vraag. Dit maak glad nie saak hoe Jesus gelyk het nie. Dit maak wel saak wat Jesus vir ons oor God kom wys het. Dit is waarop ons met fokus.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




Voorvereistes vir die Doop

Voorvereistes vir die Doop – Francois Malan

Henk vra:

Na aanleidig van 1 Pet 3 vers 15 en 16 en Hand 8 vers 36-38 net die volgede oor die Doop: Is daar nie ‘n voorvereiste vir die Doop van ‘n persoon nie? Dit meen jy moet ‘n geestelike besluit kon neem? Wat van my klein doop is dit reddend? Hoekom is Hand 8 vers 37 uitgelos uit die nuwe vertaling?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Voorvereiste vir doop – slegs dat God ‘n persoon aan Christus verbind het. Vir volwassenes beteken dit dat hulle in Christus glo as die Seun van God wat vir hulle sonde gesterf het, en dit sluit dié gelowiges se kinders in; vgl. bv. Hand.16:31-33 waar die bewaarder en sy huisgesin gedoop is, soos Abraham en sy gesin destyds besny is (Genesis 17:11-12).

1 Petrus 3:15-16 is deel van Petrus se onderrig oor onregverdige lyding van gelowiges in verse 13-17. Dit handel oor hoe ‘n Christen moet optree te midde van vervolging, maar ook teenoor elkeen wat ‘n verduideliking vra oor die hoop waarin ons lewe, nl.

  1. uit heilige eerbied vir Christus as Here, letterlik: eerbiedig Christus as die Here in julle harte – deur in gehoorsaamheid te lewe soos Hy sê, as die Here van my lewe.
  2. van die hoop waarin ons lewe, wat die verborge krag en dryfveer van ons lewe is, nl. ons verbindtenis aan Christus se opstanding en dat ons saam met Hom ewig sal lewe.
  3. dat ons verantwoording van ons geloof steeds met beskeidenheid en vriendelikheid sal wees teenoor die persoon of persone wat ons om ‘n verduideliking vra – nie in selfverheffing bo hulle en selfvoldaan nie.
  4. dat ons getuienis steeds met eerbiedige ontsag vir God gelewer sal word. Dan sal ons nie bang wees vir die mense nie, maar bewus dat ons aan Hom verantwoording doen.
  5. dat ons lewe voor die mense skoon bly deur in gemeenskap met Christus te lewe, met sy liefdeskrag en met sy genade teenoor ander mense.

Die gedeelte in 1 Petrus veronderstel dat ons aan Christus verbind is, en wys ons hoe ons as Christene moet lewe.

Die doop is God se uiterlike teken wat Hy aan ons gee dat ons aan die Vader en die Seun en die Heilige Gees behoort, in wie se naam ons gedoop is. Dit is ‘n verseëling van die verbond wat God met ons maak. 1 Petr.3:21 kan letterlik ook soos volg vertaal word: ‘Dit (die redding van Noag en sy gesin) is ‘n beeld van die doop wat julle red, nie van die vuilheid van die sterflike liggaam nie, maar as ‘n pand (‘n waarborg) deur God van ‘n skoon gewete, op grond van die opstanding van Jesus Christus’

Die doop is die pand wat vir ons waarborg dat Christus ons verhouding met God reggemaak het deur vir ons die straf op die sonde te dra, dat die Vader van Jesus Christus ons aangeneem het as sy kinders vir wie Hy sorg.

Romeine 6:4-5 sê: Deur die doop is ons immers saam met Christus in sy dood begrawe, sodat, soos Christus (die Seun van God) deur die heerlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook ‘n nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding.

Die Heilige Gees kom in ons woon om ons aan Christus te verbind, om ons te laat glo dat die Seun van God vir ons sondes gesterf het en dat ons saam met Hom opgestaan het (Rom.8:9-11), om ons kinders van God te maak en God ons Vader te laat noem (Rom.8:15-16). In Johannes 3:5-8 verduidelik Jesus dat ons weergebore word deur die Gees. Wedergeboorte is God se werk,wat geloof in ons wek. Bekering is ons verantwoordelikheid, om ons daagliks na God te keer en vir Hom en vir ons naaste te lewe in alles wat ons doen.

My kleindoop reddend? – redding kom slegs deur Christus. God gee die doop as die uiterlike teken, wat die redding deur Christus illustreer en waarborg.

In Kolossense 2:11-12 word ons verbondenheid met Christus se dood beskryf as die besnydenis van Christus, waardeur God ons sondige natuur weggeneem het. Dit gebeur in die doop, waardeur God ons verbind aan die dood en opstanding van Christus. Deur ons verbinding aan Christus verkry ons verlossing van ons sonde en die nuwe lewe uit liefde vir God en ons medemens, saam met Hom.

In Handelinge 2:38-39 sê Petrus: die mense wat na hom luister moet hulle bekeer en elkeen gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergiffenis van hulle sonde en hulle sal die geskenk van die Heilige Gees ontvang, want die belofte is aan julle en julle kinders en almal wat ver is, elkeen wat die Here ons God na Hom toe roep.

In die Ou Testament is seuntjies van agt dae oud besny as teken dat God hulle opgeneem het in sy genadeverbond (Genesis 17:12 wat selfs die kinders van slawe in Abraham se gesin gegeld het; vgl. Lukas 2:21).

In 1 Korintiërs 7:14 sê Paulus dat die kind van ‘n gelowige aan God behoort. 

Waarom is Handelinge 8:37 uitgelaat?

Boekdrukkuns is eers in 1450 n.Chr. uitgevind. Tot op daardie datum is alle boeke, die Bybel ingesluit, met die hand geskryf en afgeskryf. In 1516 het Erasmus die eerste Griekse Nuwe Testament saamgestel uit twee manuskripte uit die 12e eeu na Chr. Die een manuskrip wat hy meeste gebruik het, het nie vers 37 gehad het nie, maar in die kantlyn van die tweede manuskrip was die woorde van vers 37 ingeskryf, wat hy toe ook in sy uitgawe ingesluit het. Dit het die grondteks van die Nederlandse State vertaling in 1637 gevorm en ook van die Afrikaanse vertalings van 1933 en 1953. In 1870 is ‘n manuskrip uit die laat sesde eeu gekry wat wel vers 37 in het.

Die Afrikaanse vertaling van 1983 gebruik egter ‘n Griekse teks wat gebasseer is op manuskripte wat uit die 3e en 4e eeu na.Chr. geskryf is. Daarin kom vers 37 nie voor nie. Daar bestaan ongelukkig geen oorspronklike manuskrip van Handelinge wat deur Lukas geskryf is nie. Ons het slegs afskrifte wat later van mekaar afgeskryf is. Maar die vertalers gebruik deesdae ‘n Griekse teks vir die vertaling van die Nuwe Testament, wat saamgestel is uit die oudste en betroubaarste manuskripte.

 

Skrywer: Prof Francois Malan