DIE VLEUELS VAN GEBED (12)

DIE VLEUELS VAN GEBED (12) – Jan van der Watt

Here, ek bely!

Wat behels sondebelydenis nou presies? Dit behels die herstel van die verhouding met God. Hoe word dit gedoen?

* In die eerste plek moet jy besef DAT jy ‘n fout gemaak het, maar ook mooi weet WAT hierdie fout presies is!. Dit beteken dat jy spesifiek moet weet wat jy gedoen het om God ongelukkig te maak. Ons bluf onsself baie keer. Ons bely ons sonde so in die algemeen en dan dink ons dit is genoeg. Maar as jy nie weet wat jy verkeerd gedoen het nie, hoe kan jy sê jy is jammer oor iets? Dan leef ons mos maar verder soos voorheen. Niks het dan eintlik verander nie. Dit kan tog nie! Na sondebelydenis kan ‘n mens nooit weer dieselfde wees nie!

 

Daarom moet jy spesifiek oor jou lewe nadink. Jy moet die probleem wat tussen jou en God kom staan het, identifiseer en kan sê:

Teen U alleen het ek gesondig,

ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.

U uitspraak is dus reg

en u oordeel regverdig.

(Ps. 51:6) 

* As jy dan seker is wat die probleem is, moet jy met God daaroor praat. Maar dit is nie maar genoeg om te sê dat jy ‘n fout gemaak het nie. Jy moet daardie fout voor God deurgrond. Jy moet jou oë na binne draai. Hier binne in jou hart moet jy inkyk. Terwyl jy dit doen, moet jy vir jouself afvra waarom jy hierdie fout gemaak het. Sondebelydenis vereis selfondersoek!

Byvoorbeeld, veronderstel jy het jouself liederlik vir Piet by die werk vererg en hom iets leliks toegesnou. Nou is dit al ‘n begin om vir die Here te sê jy’s jammer. Maar jy moet verder gaan. Jy moet jouself ook afvra waarom jy jou so vererg het. Nou kan jy seker die fout by Piet gaan soek (en dit kry ‘n mens gewoonlik). Maar jy moet jou oë darem na jouself ook draai. Jy is die een wat kwaad geword het! As jy hier binne in jouself kyk, sal jy miskien agterkom dat jy eintlik vir Piet kwaad geraak het omdat jy jaloers is op hom. Daar lê die werklike wortel van jou woede en frustrasie. Daaraan moet jy voor God aandag gee. Anders gaan jy maar net weer en weer vir Piet kwaad raak en sal jy elke keer maar net weer met ‘n rooi gesig na God toe moet terugkom.

As jy weet wat die probleem is sê dan vir God in alle eerlikheid jy is jammer en dat jy dit nie weer sal wil doen nie!

‘n Offer vra U nie, anders sou ek dit bring;

‘n brandoffer wil U nie hê nie.

Die offer wat U wil hê, o God,

is verootmoediging:

U sal ‘n hart vol ootmoet en berou

nie gering ag nie, o God.

(Ps. 51:18-19)

* Sonde is meer as net iets wat jy verkeerd gedoen het. Dit het eintlik die verhouding en vertroue tussen jou en God geskud. Juis hier moet die vertroue weer herstel word. Die hoogtepunt van sondebelydenis is daarom jou toewyding aan God. Jy moet vir jou Vader sê dat Hy nie uit hierdie fout van jou moet aflei dat jy Hom nie meer wil dien nie. Jy moet vir Hom sê dat jy voortaan gewillig is om die spel van die lewe saam met Hom, maar ook soos Hy te speel; veral as Piet naby is! Kyk hoe mooi het die Psalmis dit uitgedruk:

Maar U verwag opregtheid

diep in ‘n mens se hart:

laat ek dan diep in my binneste weet

hoe U wil hê dat ek moet lewe.

(Ps. 51:9) 

Sondebelydenis doen dus iets aan jou! Dit bring jou lewenshouding en gesindheid weer in lyn met wat God wil hê. Die positiewe effekte van die sondebelydenis is dus groot! Dit gaan nie alleen om die fout wat jy gemaak het nie, maar laat jou ook weer deeglik besef wie jy is. Jy is iemand wat God met alles moet dien. Jy besef in sondebelydenis weer opnuut dat jy jou lewe nie los van God kan leef nie, maar alleen met Hom.

Dit is ook maar ‘n leerproses. Kom ons vergelyk dit met ‘n balletdanseres. Dit vat baie oefening om ‘n behoorlike danseres te word! As die danseres nou ‘n nuwe beweging leer en dit nie heeltemal regkry nie, jaag die afrigster haar nie weg nie. Sy draai nie haar rug op die danseres nie en ignoreer haar nie. ‘n Balletafrigster is mos nie ‘n mafiabaas wat iemand wat ‘n fout maak daar en dan van kant maak nie. Inteendeel, die afrigster gee aandag en doen moeite om die ballerina te help. Maar dan moet die ballerina gewillig wees om te luister en te volg. Wat die afrigster bied moet met dankbaarheid aangeneem word.

* Sondebelydenis veronderstel dan ook ‘n positiewe en dankbare aanvaarding van die vergifnis van God. Die Woord sê immers:

As ons ons sondes bely –

God is getrou en regverdig,

Hy vergewe ons ons sondes

en reinig ons van alle ongeregtigheid.

(1 Joh 1:9)

Daarom sê die Psalmis (32:1) ook dat dit goed gaan met die mens wie se oortredings nie gestraf word nie, maar wie se sonde vergewe word. Daaroor kan ons ons in die Here verbly en jubel (32:11). As die Here met sonde afgereken het, het Hy daarmee afgereken, uit en gedaan. Hy dink nie meer daaraan nie.

Ons moet dus nie die fout begaan om soos nete in ons gedagtes aan die sonde wat ons bely het vas te klou nie. Ons moet God se vergifnis ten volle aanvaar. Om voortdurend aan jou sonde te bly dink of ‘n skuldige gewete te hê nadat jy jou saak met die Here reggemaak het, is werklik om die Here te wantrou. So iemand moet sommer sy wantroue ook voor God gaan regmaak deur God op sy woord te neem: Hy sê mos dat as ons opreg ons sonde bely, Hy ons sal vergewe.

Laat ons in die lig van wat ons sopas gesien het, prakties ons sonde bely:

Raak ‘n paar oomblikke stil. Dink aan een ding wat jou baie pla omdat jy voel jy het verkeerd gemaak. Skryf dit neer:……………………………………………………. …………………………………………………………………………………………………………..

Vra jouself nou af waarom jy dit verkeerd doen of gedoen het. Probeer in jouself ‘inkyk’ om jou motiewe te probeer verstaan, met ander woorde, probeer die situasie vir jouself so goed as moontlik verklaar. Skryf die redes waaraan jy kan dink hier neer………………………………………………………………………………. …………………………………………………………………………………………………………… ……………………………………………………………………………………………………………

Bespreek nou die saak met die Here. Sê vir Hom wat jy verkeerd gedoen het en waarom. ‘Beplan’ saam met Hom daar op jou knieë hoe om die probleem op te los. (Bv. as jy vir Piet kwaad is en jy kom agter dit is uit jaloesie, ‘beplan’ saam met die Here hoe julle die probleem gaan oplos). Soek daar na die pad wat die Here wil hê jy moet loop. Hier is eerlikheid en opregtheid natuurlik onontbeerlik! Deurgrond nou jou probleem uit nommer 1 en 2 so saam met die Here. Vra ook veral vir die Here om jou te vergewe. Vra Hom om jou fout nie teen jou te hou nie, natuurlik omdat jy vir Jesus en sy verlossing ken. …………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………….. ………………………………………………………………………………………………………….. …………………………………………………………………………………………………………..

Onderneem nou om dit nie weer te doen nie en aanvaar die vergifnis van die Here met dank. Trek sommer ‘n streep deur die oortreding wat jy in nommer 1 neergeskryf het, want dit is wat God nou van die oortreding dink. Dit bestaan nie meer vir Hom nie. Hy het dit vergewe. Maar ons moet darem hier eerlik genoeg wees om vir mekaar te sê dat God ook verwag om daardie oortreding nie weer in jou lewe te sien nie! Julle het mos saam oor die probleem geworstel (nommer 3) en saam ‘n plan beraam om die probleem uit te skakel. Nou moet jy dit gaan doen! Dus, aanvaar nou die vergifnis van die Here deur ‘n streep deur die probleem in nommer 1 te trek. Skryf nou ook jou onderneming hier neer om dit nie weer te doen nie………………………………………………………… ……………………………………………………………………………………………………………. ……………………………………………………………………………………………………………. …………………………………………………………………………………………………………….

Sê nou vir die Here dat jy net aan Hom wil behoort! Hy moet nie aan jou lojaliteit teenoor Hom twyfel nie. Wy jouself aan Hom toe. Sê nou in jou eie woorde dat jy aan die Here en aan Hom alleen lojaal wil wees……………………. ……………………………………………………………………………………………………………. ……………………………………………………………………………………………………………. …………………………………………………………………………………………………………….

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Vrou se gedrag in die gemeente

Vrou se gedrag in die gemeente – Jan van der Watt

Marius vra: 

Vrou se gedrag in die gemeente. In 1 Kor 11:2-16 lees mens dat n man nie mag bid of profeteer met ‘n hoofbedekking nie, omdat dit oneer aan God is. ‘n Vrou moet egter weer n hoofbedekking aanhê, wanneer sy bid of profeteer. Nou lees mens ook in dieselfde gedeelte dat mense vir hulself moet oordeel, want in die natuur doen ‘n man met lang hare homself oneer aan. Paulus skryf ook dat mense in die gemeente nie twisgierig moet wees nie. Beteken dit dan dat die kwessie aangaande die hoofbedekking en mans met lang hare ‘n persoonlike oortuiging is? Ek meen, ek ken baie groot Christen mans, vriende, wat hulle hare tot op hul heupe dra en geen vrouens wat ek ken – ek bedoel buiten my ouma – dra meer hoede kerk toe nie. Dis vir my asof hierdie hoofstuk nie meer van toepassing is nie, of is ek aan die dwaal?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Dit is altyd belangrik om die Bybel binne sy konteks te lees. Hoofstuk 11-14 gaan oor dinge wat in die erediens gebeur. Paulus reël dus kerkdinge. Kom ons neem die probleem van die hoofbedekking van die vrou. In die tyd van Paulus het vroue doeke oor hulle koppe gegooi as hulle in die publieke areas beweeg. Die doek oor die kop het ‘gepraat’ – dit het gesê dat die vrou haar man of pa eer en dus nie ‘beskikbaar’ is nie. Vroue wat sonder hoofbedekkings geloop het (uitgesluit heel jong meisies) het eintlik gesê dat hulle ‘beskikbaar’ is, met ander woorde, slegte vroue is. Daarom is daar in die konteks sprake van die hare van so vrou se kop afskeer, want dan is sy volgens ou gebruike nie meer vir mans aantreklik nie. In die privaatheid van haar huis het vrouens egter nie so ‘n hoofdoek gedra nie. Almal in die huis het mos geweet dat sy haar man op pa eer. Nou het daar iets belangriks in die vroeë kerk gebeur. Die Christene het in huise begin kerk hou. Dit het beteken dat gedurende die erediens in die huis die huis van ‘n private plek na ‘n publieke plek verander, want die mense kom dan mos in die huis saam vir kerk. Die vroue was egter gewoond om nie in die huise hoofbedekkings te dra nie. As daar nou ‘n man in die huis (wat nou kerk is) inkom en die vroue sien sonder hoofbedekkings kan hy dink dit is ‘n groep los, slegte vroue. As Paulus nou sê dat vrouens hoofbedekkings in die huise wat vir kerk gebruik word, moet dra, wil hy eintlik sê dat hulle so moet optree dat mense nie sal dink hulle is slegte vroue nie. Hulle moet wys hulle is mense wat hulle mans of pa’s eer. Daarom moet hulle hoofbedekkings dra. As ons vandag nie hoede in die kerk dra nie, gaan niemand daaruit aflei dat die vroue nie hulle mans of pa’s eer nie.

 

Ons moet dus nie vaskyk in die hoofbedekking self nie, maar wat die hoofbedekking wil sê. Dit wil sê vroue moet binne haar verhoudings met mans reg optree. Dit geld vandag nog net so as in Paulus se tyd, Ons hoef nie hoede te dra om dit te bewys nie, want hoede ‘kommunikeer’ nie meer so nie.

 

Die hoofbedekking van mans werk soortgelyk. Destyds het mense gevoel dat dit nodig was vir mans om hulle hoof te bedek as hulle voor God verskyn om die onderskeid tussen die man en God uit te druk. Dit dui dus ook eerbied aan. In ons Afrikaanse kultuur werk dit net die teenoorgestelde. Ons haal juis ons hoed af as ons aan God eer wil bewys. Ons doen dus die teenoorgestelde om dieselfde boodskap oor te dra – ons respekteer God en erken dat Hy anders en groter as ons is.

 

So moet elke teks in sy konteks verstaan word. Ons moet onderskei tussen die die gebruike en tradisies en wat die gebruike en tradisies eintlik wil sê.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Lig die sluier

Lig die sluier – Jan van der Watt

Lehana vra:

Ek het gelees van die ‘lig die sluier’ in die bruidsgids – waar kan ons meer inligting kry?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die Bybel sê niks hieroor nie. Dit is maar ’n kulturele gebruik. Ek is nie seker waar dit begin het nie.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




DIE VLEUELS VAN GEBED (11)

DIE VLEUELS VAN GEBED (11) – Jan van der Watt

Here, vergewe my sonde!

Dit is mense wat bid, jy en ek. Solank dit mense is wat bid, sal gebed altyd in die kloue van sonde en gebrokenheid vasgevang wees.

Nou kan ons ongelukkig nie rustig aanbid en hierdie saak ignoreer nie. Sonde benadeel gebed en benadeelde of gebrekkige gebed lei weer tot sondigheid. In hierdie bose spiraal wil geen Christen beland nie. En tog is dit ‘n strik wat so moeilik is om te vermy.

Ek het jou dan vertrou?

Wat is sonde? ‘n Mens sou seker vinnig ‘n lysie kan maak, soos vloek, lieg, steel en so aan. Maar die Bybel sal gou vir jou sê dat hierdie dinge net die simptome is van ‘n groter siekte. Die oorsprong van alle sonde lê in ‘n iets wat verkeerd loop met jou verhouding met God. Dit is iets wat maak dat jy so optree dat God ontevrede is. Nou kan daar baie redes voor gegee word, byvoorbeeld dat satan jou verlei, of dat jy ongehoorsaam is of jou eie kop wou volg. Maar die kern van die saak bly steeds dat daar iets verkeerd loop met jou verhouding met God.

Nou weet ons ook almal uit ervaring dat ‘verhoudings’ nie dooie goed is nie. Dit lewe! As jou beste vriend iets doen wat jou seermaak en benadeel, voel dit seer hier binne in jou. Daardie ‘onsigbare’ band tussen jou en hom – vertroue – word aan geknaag en geskuur. Dan moet dit reggemaak word. Die balsem van vergifnis en liefde moet uitgehaal word.

So werk dit ook maar met ons verhouding met God. Sonde, of dit nou vloek of steel is, doen iets aan my verhouding met God. En dit moet reggemaak word!


‘n Kind in die familie van God.

Feitlik al die woorde en beelde wat in die Bybel gebruik word om te verduidelik wat met ‘n mens gebeur as jy verlos word, gaan oor die herstel van die verhouding tussen God en mens: die slawe van die sonde word vry, die dooies in die sonde kry lewe, die aangeklaagtes word vrygespreek.

‘n Christen is dus in die eerste plek iemand aan wie God die voorreg gegee het om in ‘n verhouding met Hom te staan. Nou is dit nie sommer enige verhouding nie. God maak ons kinders in sy gesin (vgl. Rom 8:15-17; Joh 1:12-13). Ons word deel van sy familie.

In die tyd van Bybel was families ook anders gereël as vandag en God wil hê dat ons oor onsself dink in terme van die ou families. Vandag se families is indidvidualisties. Die kinders kan word wat hulle wil, kan hulle eie besluite neem, gaan gou uit die gesin en sit huis op en so aan. Die destydse families was anders. Dit was byna soos in die ou dae op die plaas. Die pa was die hoof van die gesin en het bepaal hoe die lede van die gesin hulle moet gedra. Die kinders was in die eerste plek lede van die gesin. Die band wat die ou gesinne saamgebind het was ‘n sterk groepsband. Gesinslede se persoonlike belange was ondergeskik aan die belange van die groep of gesin. Hulle moes maak soos die pa en die gesin van hulle verwag en lojaal teenoor die gesin wees. Daarvoor het die gesin hulle vertrou. Maar die individuele lid van die gesin kon ook van die gesin verwag om hom of haar te ondersteun en te beskerm. Die groep of gesin was dus ook lojaal teenoor die individu.

Die individuele lid van die gesin moet dus gewillig wees om die spel van die lewe saam met die res van die gesin te speel. Dit moet ‘n basiese lewenshouding wees. As die individuele lid egter iets doen wat die pa en die res van die gesin skade aandoen, raak die verhoudinge versteur. Onsekerheid ontstaan oor die wedersydse lojaliteit. Dan moet sake reggemaak word. Dit gebeur natuurlik net as die vertroue weer herstel word. Die skuldige een moet ten minste vir die ander om verskoning kom vra en weer sy lojaliteit bevestig.

Hierdie inligting oor hoe gesinne in die Bybelse tyd gewerk het, help ons om te verstaan wat met sondebelydenis in die Bybel bedoel word. Die Bybel sê dat die gesin van God vergelyk kan word met die gewone gesinne van daardie tyd.

God vra van sy kinders om in gehoorsaamheid aan Hom op te tree. Hulle wil mos immers Christene oftewel gesinsgenote van God wees. Daarom vertrou die Here dat die gelowige in sy optrede ook sal wees wat hy sê hy wil wees. As die gelowige nou sonde doen, skaad dit hierdie verhouding tussen Pa en kind. En die saak is met God nog baie erger as met ‘n gewone verhouding omdat God nie onreinheid duld nie. Hy sien nie maar foute oor nie. Hy sê nie ‘aag toemaar’ terwyl ons maar aankarring nie. Nee, op hierdie punt is God onverbiddelik. Hy háát sonde en daarom versteur ons sonde ongetwyfeld ons verhouding met God. Dit plaas ‘n vraagteken oor ons lojaliteit teenoor God. En dit kan nie so gelaat word nie.

Hierdie verhouding moet reggemaak word! Die vertroue moet herstal word. Die manier waarop God wil hê dat dit reggemaak moet word, is deur sondebelydenis.


Skrywer: Prof Jan van der Watt