DIE VLEUELS VAN GEBED (6)

DIE VLEUELS VAN GEBED (6) – Jan van der Watt

Op my knieë in aanbidding en lof.

Gebed is daar omdat God daar is. Die wonder van alles is dat ons vry met God kan praat. Maar nou is God nie sommer enigiemand nie! Dit is nou nie sommer asof ons met die tuinhulp of met die buurman oor die draad gaan praat nie! Om te bid beteken om te weet met Wie jy praat.

1. Aanbid Hom, kniel voor Hom neer.

Gebed nooi ons in die troonsaal van die lewende God in! Uit Open. 4 kry ons nogal ‘n goeie ideë hoe dit in die troonsaal van God lyk.

In die middel staan ‘n groot troon met Iemand – God self – wat daarop sit. Rondom die troon is daar ouderlinge, verteenwoordigers uit die hele wêreld en baie engele. Dit is egter wat hulle doen wat ‘n mens beïndruk. Nag en dag, sonder rus roep hulle uit:

Heilig, heilig, heilig

is die Here God, die Almagtige,

Hy wat was en wat is en wat kom.

(Open. 4:8)

Hulle aanbid Hom terwyl die ouderlinge hulle krone voor Hom neersit:

Here, ons God, U is waardig

om die heerlikheid

en die eer

en die mag te ontvang

omdat U alles geskep het;

deur u wil het alles ontstaan

en is dit geskep.

(Open. 4:11)

Wie sal sommer net in hierdie troonsaal kan instap asof dit aan hom of haar behoort? Wie regtig besef dat gebed jou na die troonsaal van God voer, sal weet dat om net daar toegelaat te word, eintlik een groot stuk genade is. Dit is juis God wat vir jou sê dat as jy op jou knieë gaan, jy kan weet: Hierdie God aan wie die eer en die heerlikheid en die mag toekom, is JOU GOD! Hy wat op die troon sit het ook vir jou ‘n plekkie voor Hom. JY mag daar staan tussen al die engele en ouderlinge en skares en ook jou stem saam met hulle in AANBIDDING laat hoor.

AANBIDDING is die wegspringblokke vir gebed. Dit is soos die paal vir die paalspringer – dit moet jou help om die hoogte te bereik om oor die dwarslat te kom. Dit is daardie plek waar hemel en aarde ontmoet. Aanbidding help jou om raak te sien Wie God is, maar ook om raak te sien wie jy self is.


Aanbidding laat jou sien Wie God is!

Die Griekse woord wat vir ‘aanbidding’ in die Bybel gebruik word, beteken om op jou knieë te val of om laag te buig. Daar, laag op jou knieë, sê jy eintlik hoe belangrik die een voor wie jy buig vir jou is. Presies dit is wat aanbidding is. Dit is om laag voor God te buig in erkenning vir Wie Hy is! Dit behels die verheerliking en erkenning van God vir Wie Hy is en ook vir wat Hy vir jou doen.

Die eerste stap in jou gebed is dus om jou oë op te slaan en in die verblindende son van God se genade en goedheid te probeer instaar en net te prewel: ‘Dankie Here dat ek hier mag staan! Here, ek maak U groot vir Wie U is. Ek eer en aanbid U as my God.’ In die sin is elke gebed ‘n avontuurlike ontdekkingstog. Elke gebed laat jou opnuut die grootheid, ja, die majesteit van God ontdek en ervaar. Aanbidding is daarom die hoogste vorm van bewondering wat ‘n mens teenoor God kan uitspreek.

Dit is byna soos ‘n klein seuntjie vir wie sy groot sterk pa alles is. Elke beweging van sy pa lok bewondering uit. Elke blik van sy pa in sy rigting laat hom oorweldig van trots en vreugde.

Daar is verskillende maniere waarop jy in aanbidding voor die lewende God kan kniel. Soms mag jy bloot in stille verwondering voor die grootheid van God kniel, sonder om ‘n woord te sê. ‘n Ander keer mag dit wees dat jy die stortvloed van woorde nie kan keer nie. (Die gawe van spreek in tale kan hier selfs aan jou gegee word).

Dit mag ook gebeur dat ‘n mens se gedagtes partymaal so dwaal of deurmekaar is, dat jy sukkel om God met helder oë raak te sien. Maar om die werklike rykdom uit jou gebed te put mag daar geen rookdamp van sonde of bekommernis tussen jou en God kom staan nie. Jy moet God helder raaksien – die Een wat op die troon sit!

Kom ons vra daarom net weer Wie hierdie God is. Hier is dan ook ‘n praktiese wenk. Ons moet dit nou maar een maal erken. Dit kan gebeur dat jy net nie met jou gebed op dreef kom nie. Dit is asof jy jouself net nie kan voorstel dat jy in die troonsaal van God staan nie. Dit is asof jy nie kan sien wat daar aangaan nie. Dan help die Bybel ‘n mens nogal baie. Daar is pragtige Psalms wat ‘n mens kan lees om ‘n mens reg in te stel en jou oë helder op God te fokus (bv. Ps. 121, 125, 145, 146, 147 en so aan). Kom ons kyk hoe stel Jesaja (40:28-31) dit:

Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie?

Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde.

Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie

en sy insig is ondeurgrondelik.

Hy gee die vermoeides krag,

Hy versterk die wat nie meer kan nie.

Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat,

selfsmanne in hulle fleur struikel en val,

maar die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.

Hulle vlieg op arendsvlerke,

hulle hardloop en word nie moeg nie,

hulle loop en raak nie afgemat nie. 

Dink ‘n paar oomblikke oor hierdie woorde na…

So kan die woorde in die Bybel ‘n mens help om God helderder te sien. Dan kan jy aan Hom die glorie en eer gee wat Hom toekom (Open. 14:7). Dan maak dit vir jou sin om op jou knieë te staan, want dit kan nie anders nie. Voor so ‘n groot God is en bly dit vir jou ‘n genadige eer om wel op jou knieë te mag staan en jou aanbidding deel te maak van die engelekore wat God verheerlik.

 

Aanbidding laat jou ook sien wie jy is!

Daar op jou knieë sien jy jouself ook baie duidelik. As jy in die troonsaal sien dat God aan jou die guns bewys het om een van die groot leërskare te wees wat aan Hom eer toesing, wéét jy ook wie jy is. Jy is die een wat van God afhanklik is. Jy is nie die een wat in trots voor God kan staan asof Hy aan jou iets verskuldig is nie. Soos die sondaar van ouds kan jy maar net op jou bors slaan, oorweldig deur jou eie tekortkominge. Daarom draai aanbidding jou oë maar net weer telkens in bewondering na die God wat jy aanbid. Dit is die God op die troon, maar ook die God wat vir jou ‘n Vader wil wees!

Kom ons val in eerbetoon woor Hom neer,

kom ons buig,

kom ons kniel voor die Here ons Skepper!

Hy is ons God en ons is sy volk,

sy kudde, sy skape,

deur sy hand versorg.

(Ps. 95:6-7) 

 

Gebed groei uit aanbidding.

Dit is nou sekerelik verstaanbaar waarom daar gesê kan word dat gebed uit aanbidding groei. Met die paal van die paalspringer word hy tot by die dwarslat gelig… met die aanbidding word die gelowige tot aan die voete van die lewende God gebring. Daar sien hy nie alleen Wie God is nie, maar ook wie hy of sy self is. Wie kan dan anders as om uit dankbaarheid God te aanbid.

En wie sou dan nie ook verder wou bid nie…

Immers, As jy voor die almagtige God staan…

kan jy dan nog wonder of daar iets is wat vir Hom nie moontlik is nie?

As hierdie God sê dat Hy jou liefhet…

kan jy dan nog wonder of Hy jou in jou nood sal bystaan?

As Hy sê dat Hy elke haar op jou hoof getel het…

kan jy Hom dan nog daarvan verdink dat Hy jou sal vergeet?

As Hy jou uitnooi om in gebed van Hom te kom vra…

sal jy dan in stilte wegdraai?

As Hy beloof om jou trane af te droog…

Kan jy dan ooit voel dat Hy jou met sy troos sal oorslaan?

Aanbidding is inderdaad die bedding waaruit gebed groei. Op jou knieë in verwondering voor die Een op die troon, groei die avontuur van jou saamwees met God.


Kom ons aanbid!

Word ‘n oomblik stil. Fokus nou jou gedagtes op WIE GOD IS.

Vra jouself af wat dit prakties vir jou beteken. Dink ook ‘n oomblik

na oor WIE JY SELF IS in die lig van die grootheid van God.

Aanbid nou vir God vir Wie Hy is en wat Hy vir jou beteken.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Die Eerste Brief van Johannes (16)

Die Eerste Brief van Johannes (16) – Jan van der Watt

Deel 4: Al die verskil – in wat die gemeente doen

Hoofstuk 15: Liefde oorwin en bring die lewe

Wie die Seun van God het, het die lewe. Wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. (1 Joh. 5:12). Elkeen van hierdie stellings veroorsaak rimpelings in die lewe. Hoe raak dit jou?

1. Die wêreld haat julle. En hoe reageer julle?

Ons het reeds uit ’n vorige hoofstuk agtergekom dat die wêreld die gesin van God haat. Hulle probeer alles om die gelowiges te probeer skade berokken.

(1) Lees weer 1 Joh. 3:13 en Joh 15:18–21. Waarom haat die wêreld die gelowiges? (Probeer in gesinsterme dink.)

(2) Die groot vraag is nou: Hoe moet die gesin van God optree teenoor die wêreld wat hulle haat? Motiveer jou antwoord en probeer gedeeltes uit die Bybel noem om jou standpunt te ondersteun.

Uit die gesinskonteks het ons gesien dat die persoon in die gesin wat bepaal hoe die res van die gesin moet optree, die pa is. Hy bepaal die karaktertrekke van die gesin. Die res van die gesin moet soos hy optree.

(3) Joh. 3:16 sê wat die Vader van die Goddelike gesin se houding teenoor die sondige wêreld is. Wat sê dit van die gelowige se houding teenoor die sondige wêreld?

(4) Wat moet die doel van die “liefde vir die wêreld” wees volgens Joh. 3:16?

Op die haat van die wêreld antwoord die gelowige met liefde,

liefde wat ’n uitnodiging rig tot redding!

God het die wêreld lief. Sy liefde het een doel, naamlik om aan die mense wat in hulle sonde dood is die ewige lewe te gee sodat hulle nie verlore gaan nie.

Dit moet ook die doel van die gelowige se liefde vir die wêreld wees. Op die haat van die wêreld antwoord die gelowige met liefde, liefde wat ’n uitnodiging rig tot redding!

’n Gelowige kan nie anders as om gedurig die vraag aan homself te stel nie: “Nooi my gedrag en optrede ander uit tot redding in Jesus?”

(5) Wat antwoord jy oor jouself?


2. Jesus bly die antwoord

In Hoofstuk 1 en 6 het ons gesien dat die Christendom ’n openbaringsgodsdiens is. Dit beteken dat mense nie alles uitdink nie, maar dat God aan mense kom vertel hoe Hy dinge wil hê en doen.

(1) Wat was God se hoofgetuienis op aarde volgens 1 Joh. 5:9–12?

(2) Hoe het God beplan om ’n verskil in hierdie wêreld te maak volgens hierdie gedeelte?

(3) As ons die wêreld regtig liefhet soos God die wêreld liefhet, wat moet ons volgens hierdie verse in die wêreld doen?

God het eintlik ’n slim plan gemaak. As die gelowige ’n ongelowige in liefde na Jesus lei, beteken dit dat hy of sy die ongelowige na die liefdesgemeenskap van God, na sy gesin, lei.

As daardie persoon deel word van hierdie gesin sal hy in alles wat hy doen in liefde deur die Vader en die kinders omvou word.

God is liefde en daarom is alles wat Hy doen

van begin tot einde “liefde”.

God is liefde en daarom is alles wat Hy doen van begin tot einde “liefde”.

Ons hoor baie dat gelowiges ander “na Jesus moet lei”. Tog is dit nie altyd so maklik nie omdat die meeste mense sê dat hulle wel al van Jesus gehoor het of aan ’n kerk behoort. Dit maak dit nogal moeilik om presies te weet waar jy “sendingwerk” moet doen.

(4) Dink ’n bietjie na oor jou eie omgewing (wat jou hele leefwêreld insluit). Is daar iemand aan wie jy kan dink vir wie jy tot die “Lewe” kan lei? Hoe kan jy dit doen?


3. Waarheen lei alles?

Niemand hoef die gelowige daaraan te herinner dat die wêreld gebroke is nie. Ook die gesin van God het sy gebreke. Daarom is sondebelydenis so belangrik.

Is daar vooruitsigte op iets beters as wat ons nou het?

Beter vooruitsigte?

(1) Lees 1 Joh. 3:2–3 en sê wat ons van die toekoms kan verwag. Wat sê dit vir jou van die hemel?

(2) Wat sê dit vir jou oor die rede waarom jou nou hier op aarde op ’n Christelike manier moet leef?

Wat van die dag van oordeel?

(1) As jy besef dat God as die GROOT REGTER beskryf word wanneer die Bybel oor die finale oordeel praat, maak dit jou nie ’n bietjie bang oor wat Hy van jou gaan sê as jy eendag voor Hom moet verskyn nie?

(2) Wat sê 1 Joh. 2:28–29 hieroor?

Wat gebeur by die dag van oordeel met die gelowige?

Jy wag… Jou naam word gelees en jy stap die troonsaal in. Op die troon sit die Regter. Langs Hom lê die boeke met die aanklagte teen jou. Jy weet wat dit kan beteken!

Jou oog val op die aanklaer! Dit is niemand anders as jou eie broer Jesus nie. Jy skep moed! Hy het jou mos lief. Meer nog, jy weet Hy sal alles doen om jou te help! Die prys wat Hy betaal het, sal Hy ook vir jou aan die Regter aanbied.

Jou oë draai na die troon. Daar sit niemand anders as jou eie Vader nie, die Een wat jou liefhet!

Nou wonder ek wat die kanse is dat jy skuldig bevind sal word?

Maar wat van die arme persoon wat nie die Vader of die Seun ken nie? Wat is sy kans?

Ons kan die finale oordeel sonder vrees tegemoet stap, omdat Jesus die pad voor en vir ons gestap het!

Ons kan die finale oordeel sonder vrees tegemoet stap,

omdat Jesus die pad voor en vir ons gestap het!

Maar ’n mens bly maar ’n mens! Kan ’n mens heeltemal seker wees? Meer nog, kan jy seker wees God sal jou beskerm en versorg soos Hy belowe het, veral as jy struikel en nie altyd die kind vir Hom is wat jy behoort te wees nie?

Wat sê 1 Joh. 3:20 oor ons gewete?

Hierdie vers wil vir ons sê dat as ons self begin wonder, moet ons weer dink wie ons God presies is. As ons gewete ons begin pla en ons onseker begin raak, moet ons maar weer ’n slag mooi na God kyk!

God sal sy kinders nooit vergeet nie. As jy ’n fout gemaak het, vergeet God nie dat jy sy kind is nie. Hy vergeet nie dat Jesus jou van jou sonde gereinig het nie. God is groter as ons gewete!

Daarom kan ons, soos 1 Joh. 3:21–22 sê, met vrymoedigheid na Hom gaan!

Dink aan wat die Here vir jou beteken.

Vra jouself af of dit die moeite werd is om iemand wat Jesus nie ken nie, daarvan te vertel.


Dink daaraan dat as jy iemand van die Here wil vertel jy hom of haar eintlik gaan uitnooi om deel van God se gesin te word. Is jy bereid om so intensief by daardie persoon betrokke te raak soos wat God van jou sal verwag as daardie persoon sy kind—en jou broer—word?

Bid dat die Here aan jou ’n visie sal gee om aan ander die liefde van God oor te dra.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Jesus se geslagsregisters

Jesus se geslagsregisters – Francois Malan

Barnie vra:

In Matteus en Lukas verskyn `n geslagsregister van Jesus, maar hulle verskil. Wat is die rede daarvoor?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Matteus skryf aan Griekssprekende Joodse Christene, en verwys telkens na die Ou Testament om te bewys dat Jesus die beloofde Messias van die Jode is. Aan sy Joods-Christelike lesers stel hy Jesus Christus aan die begin van sy Evangelie voor as die Seun van Dawid, die Seun van Abraham (1:1).

Matteus se geslagslys begin by Abraham (1:2), die vader van die gelowiges, wat deur die Jode as hulle voorvader beskou word (3:9), en eindig by Jesus (1:16), wat sy volk van hulle sondes sal verlos (1:21).

Matteus sê dat Jesus die Christus genoem word (1:16). Dit is die Griekse woord vir die Hebreeuse ‘Messias’ wat die Jode verwag, in Afrikaans ‘Gesalfde’ – gesalf as koning, wat ook priester en profeet is, soos Dawid. Later kom Matteus daarop terug, dat Jesus uit die geslag van Dawid kom (Mat.22:44).

Hy is ook Immanuel, God by ons (1:23; vgl. Jes.7:14) vir wie Dawid in Ps 110:1 sê ‘Die HERE (God die Vader) het vir my (Dawid se) Here (Jesus die Seun van God) gesê: sit aan my regterhand…’(Mat.22:43-45). Vergelyk ook Petrus se belydenis in Mat.16:16 ‘U is die Christus, die Seun van die lewende God.’

Matteus verdeel die tyd tussen Abraham en Christus in drie maal 14 geslagte: van Abraham na Dawid, van Dawid na die Babiloniese ballingskap, van die Babiloniese ballingskap tot by Christus (al word nie volstrek 14 geslagte genoem in die derde groep nie). Matteus stel Jesus voor as die vervulling van God se beloftes aan Abraham (Gen.12:1-3) en aan Dawid (2 Sam.7:4-17). Die Babiloniese ballingskap is die laagtepunt in die geskiedenis van Israel, soos Abraham die beginpunt en Dawid die hoogtepunt is. Agter die hele geskiedenis van Israel staan God wat alles uitwerk volgens sy plan, ten spyte van laagtepunte en hoogtepunte.

In Matteus se lys word 5 vroue genoem, wat nie Lukas se lys voorkom nie. Al vyf vroue het ‘n vraagteken agter hulle: Tamar wie se tweeling deur haar skoonvader verwek is (Gen.28), Ragab was ‘n prostituut (Josua 2:1), Rut was ‘n heidense Moabiet (Rut 2:2), Dawid pleeg owerspel met die vrou van Uria en laat Uria venmoor (2 Sam.11), en Josef wou sy verlowing met Maria stilweg verbreek toe sy swanger word (Mat.1:9). Matteus stel Jesus voor uit ‘n geslag waarin prostitute, heidene, owerspelers, en moordenaars voorkom – Hy kom hulle van hulle sonde verlos (Mat.27:42).

Matteus wil met die geslagslys bekend maak wie Jesus is en wat hy kom doen as vervuller van God se beloftes aan Israel (Mat.10:5-7). Maar na sy opstanding stuur hy sy dissipels uit na al die nasies (Mat.28:19) en verseker Hy hulle dat Hy by hulle is al die dae tot aan die voleinding van die wêreld (daarmee sluit Hy alle gelowiges deur die eeue is).


Lukas rig sy twee werke, die Evangelie en Handelinge, aan Teofilus (Lk.1:1; Hand.1:1) met ‘n Griekse gemeente in gedagte. Sy geslagslys kom eers in hoofstuk 3, na die geboorte-verhale van Jesus se voorloper, Johannes die Doper, en van Jesus, en van hulle geskiedenisse tot by Jesus se doop. Jesus laat Johannes Hom doop, waardeur Hy Homself met die sondige mensdom vereenselwig. Nadat Jesus gedoop is, het Hy staan en bid, die hemel het oopgegaan, die Heilige Gees het in sigbare gestalte op Hom neergedaal (vgl. Hand.10:38), en ‘n stem uit die hemel het gesê: ‘Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My’ (3:21-22).

Tussen die doop en Jesus se eerste werk (waarna 3:23 verwys), nl. die versoekings van 4:1-13, voeg Lukas die stamboom van Jesus in om te wys dat Hy ten volle ware mens is, wat Hom met die sondaars vereenselwig in die doop en in die versoekings.

Anders as Matteus wat met Jesus eindig, begin Lukas met Jesus en noem 77 geslagte tot by Adam (teenoor Matteus se 3×14 geslagte). Vir sy Griekse gemeentes wys Lukas dat Jesus die seun van Adam is, die tweede Adam, soos Lukas in sy tweede boek aantoon, in Handelinge 17:26-31 (vgl. ook Rom.5:12-21; 1 Kor.15:45-49). Deur die al te menslike geslagte is Jesus aan die mens met sy swakhede en sonde verbind, nie net aan Israel nie, maar aan die ganse mensheid, en sy sending is eintlik gerig op die hele mensdom. God se doel met die skepping was ‘n noue kindskapsverhouding met die mens wat deur Jesus afgebeeld word, en wat Hy deel met almal wat sy dissipels word, soos Lukas uitwerk in Handelinge (vgl. bv. hoofstuk 10; 15; 17:30,31).

Maar Adam word geteken as die seun van God in Luk.3:38, om die mens Jesus ook as die Seun van God bekend te stel, soos die stem uit die hemel met sy doop gesê het, en soos Hy bewys het deur al die versoekings te weerstaan.

Matteus en Lukas maak gebruik van geslagslyste in Kronieke 1:28-34; 2:3-15 van Abraham tot Dawid. Lukas gebruik ook 1 Kronieke 1:1-27 van Adam tot Abraham, en Matteus 1 Kronieke 3:10-15 tot die ballingskap met die koninklike linie wat deur Salomo voortgesit word ná Dawid (vgl. ook Gen.5:3-32; 11:10-26; Rut 4:18-22).

Lukas volg ‘n lyn van Eli na Dawid oor Natan, wat Lukas as ‘n seun of nakomeling van Dawid noem, ‘n lys van gewone mense wat nie as konings regeer het soos in Matteus se lys nie (Sommige verklaarders meen Eli was die oupa van Maria, en dat Lukas die geslagslys van Maria aangee van Dawid af, wat onwaarskynlik is. Die Nuwe Afrikaanse Vertaling van 1983 se invoeging van ‘Josef was die seun van Eli’ in 3:23 staan nie in die oorspronklike nie. Die oorspronklike sê net: ‘Hy was die seun, soos hulle gemeen het, Josef van Eli’ – nie eers ‘van Josef’ nie).

 

Skrywer: Prof Francois Malan





Watter faktore dra by tot ons verstaan van God?

Watter faktore dra by tot ons verstaan van God? – Francois Malan

Jaco vra:

Wil net weet water faktore dra by tot ons verstaan van God?

Antwoord:

 

Prof Francois Malan antwoord:

In Efesiërs 3:14-21 bid Paulus dat die gelowiges in staat sal wees om iets van die liefde van God te begryp, ‘n liefde wat ons verstand te bowe gaan. In dié verse word verwys na ‘n hele aantal ‘faktore’ wat bydra tot ons verstaan van God, die God van wie 1 Johannes 4:7-9 sê ‘…elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God, en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. Hierin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.’


In Efesiërs 3 word ‘n aantal ‘faktore’ genoem in die proses om God te ‘verstaan’:


1.   Dit is iets wat ons van God die Vader in nederige gebed vra (Ef.3:14). In Ef.2:18 het hy reeds gesê: deur Christus Jesus se kruisdood ‘het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees, vrye toegang tot die Vader.

God die Vader het elke familie en familie-groep gemaak, ons bestaan en ons rol in die lewe is van Hom afhanklik (3:15). Hy sorg vir ons, en ons staan onder sy beheer as die Vader van elke familie (3:9 noem Hom reeds die Skepper van alle dinge).


2.   Die inhoud van die gebed is eerstens dat God ons innerlik sal versterk deur sy Gees (3:16). In 1:17 is reeds gesê dat God deur sy Gees aan ons wysheid gee en Hom so aan ons openbaar dat ons Hom werklik kan ken. Ons ‘innerlike mens’ is die setel van ons bewussyn, 3:17 noem dit ons hart, ons morele wese, waarmee ons verstaan en keuses maak. Ons verstaan iets van God deur sy openbaring van Homself aan ons deur sy Gees, wat in ons kom woon, om ons dag vir dag te vernuwe (2 Kor.4:16). God kan alles wat ons nodig het voorsien uit die onuitputlike rykdom van sy heerlikheid.

Die innerlike versterking beteken dat Christus self permanent in ons woon om in liefde te heers oor alles wat ons is en doen (3:17a). Sy inwoning is deur geloof, en geloof is ook ‘n gawe van God (2:8). Soos wat ons Hom vertrou, so maak Hy ons hart sy woning. Die Gees is besig om ons al meer te verander om soos Christus te wees in ons denke en optrede (vgl. 2 Kor.3:18).


3.   Die gevolg van ons versterking, deur die Gees deur Christus in ons te laat woon, is dat ons in die liefde sal wortelskiet – dat alles wat ons is en doen deur Christus se liefde gevoed word, soos ‘n plant deur sy wortels gevoed word om te groei; en dat ons op die liefde gegrond sal wees, as die fondament van ons lewe en lewensuitkyk, soos ‘n gebou stewig op sy fondamente staan (17b).

1 Joh.4:7-21 sê: slégs as ons in liefde teenoor mekaar lewe, kan ons God ken, want die liefde kom van God, elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde – dit het Hy geopenbaar deur sy Seun na die wêreld te stuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.


4.   Die tweede versoek in Paulus se voorbidding is dat God aan ons die krag sal gee om te begryp hoe onmeetlik Christus se allesomvattende liefde is (3:18). Dit is ‘n gebed dat God aan al die gelowiges egte insig sal gee in die liefde van Christus.

Die begrip van die liefde van Christus impliseer ‘n persoonlike kennis daarvan, om die afmetings wat die liefde van Christus aanneem persoonlik te ervaar en uit te leef. Die ‘verstaan van God’ is nie iets wat ons met ons verstand kan begryp soos boekkennis wat ons kan gebruik of nie gebruik nie. Die ‘verstaan van God’ gebeur in ‘n persoonlike verhouding met God as ons Vader aan wie ons ons lewe toevertrou, en vir wie ons uit liefde gehoorsaam in alles wat ons doen, soos Jesus sy Vader op aarde gehoorsaam het.


5.   Maar ons kan nooit die volle omvang en diepte van Christus se onmeetlike liefde verstaan nie (3:19a).

Dit is God wat ons vol maak met die volheid van God. Sy doel is dat ons die volheid van God sal beleef (3:19b). In 4:13-16 spel Paulus dit uit: dat ons almal uiteindelik sal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en ons kennis van God, dat ons, as sy kerk, soos ‘n volwasse mens sal wees, so volwasse en volmaak soos Christus, wat in liefde by die waarheid bly en in alle opsigte groei na Christus ons hoof toe, waar elke gelowige sy funksie in die liggaam van Christus vervul.


6.   In dit alles gaan dit nie om ons eer nie, maar om die eer van God, wat magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink; Hy werk in ons deur sy Gees. Maar ons kan Hom nie uit ons eie prys nie. Christus is die middelaar van God se werk in ons. Hy is ook die middelaar van ons reaksie om die Vader te prys (3:20-21).

Die ‘faktore’ (liewers die beweging) waardeur ons God ‘verstaan’ (in Romeine 11:33-36 besing Paulus God se wysheid in sy handelinge met die wêreld om die mens te verlos, en sy kennis van ons en van wat gebeur; sy oordele is ondeurgrondelik – dit is moeilik om sy optrede te verstaan maar ons weet dit is reg soos Job 5:9 en 9:10 sê, en sy weë is onnaspeurlik – hoe Hy werk om sy doel te bereik) eintlik kan ons God nie verstaan nie, maar Hom wel in sy liefde ken.

Maar die beweging om Hom te ken begin by Hom. Hy openbaar Homself aan ons, Hy maak Homself kenbaar. Dit het Hy gedoen deur Christus te stuur om ons deur sy kruisdood en opstanding van ons sonde te verlos, sodat ons die Skepper ons Vader kan noem. Die Heilige Gees het in ons kom woon om ons aan Christus te verbind om saam met die Seun van God te lewe vir ons Vader. En die hele beweging is een van liefde, want die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Gees is liefde. In daardie liefdesverhouding kry ons deel deurdat die Heilige Gees ons daarin opneem om die genade van Jesus Christus ons Here te ken, en die liefde van God ons Vader, deur die gemeenskap van die Heilige Gees (2 Kor.13:13). Die Heilige Gees gebruik veral die woord van God om ons te leer, deur die Bybel te bestudeer, daaroor in gebed na te dink en toe te pas, ook deur die prediking, mense, boeke, gebeure, ens. Slegs so kry ons iets verstaan van God, Hom ook in sy skepping as Skepper herken, en Hom as die Herskepper van mens en skepping begin ken, sodat ons Hom kan loof en eer met ons denke, woorde, lied en optrede.

 

Skrywer: Prof Francois Malan