Laat sy Liefde jou Lei: Laat jou gawes jou anders maak

Laat sy Liefde jou Lei: Laat jou gawes jou anders maak – Milanie Vosloo

Laat jou gawes jou ánders maak

Lê julle toe op die liefde. Bly egter ook entoesiasities oor die gawes van die Gees.1 Korintiёrs 14:1

Ons almal wil graag betekenisvol leef. ‘n Sinvolle lewe dra mos by tot ons selfwaarde en selfvervulling.

Die vraag is: Leef jy betekenisvol? Kan jy met oortuiging sê dat jy ‘n vervulde mens is omdat jy weet dat jy iewers op jou pad ‘n werklike verskil maak? Doen jy dit waarvoor jou Skepper jou hier op aarde geplaas het? Die feit is: jou Vader – die Een wat elke detail van jou lewe gemaak het – weet ook watter gawes Hy binne jou geplaas het. Hy het die bestanddele van jou menswees noukeurig uitgesoek en Hy weet presies wat die resep van jou lewe behoort te wees. Juis omdat Hy jou beter as jyself ken, weet Hy hoeveel goddelike gawes daar binne jou is, wat jou unieke sterk punte is en wat jou volle potensiaal is. Hy weet ook van dat van jou drome dalk al mettertyd vervaag het omdat ander dinge jou lewe opgeeïs het of jy dalk vertroue in jouself verloor het. En dan sê Hy vir jou: My kind, jy is soveel meer werd as wat jy dink. Binne in jou het ek wonderlike gawes geplaas waarmee jy my koninkryk kan bedien en waardeur jy groot betekenis in jou lewe sal vind.

Kniel vandag voor jou Meester en vra Hom: Here, wat is die gawes wat ek kan beoefen en waardeur ek U kan verheerlik?

Heilige Gees, ek wil ‘n diensbare en bruikbare instrument in u hande wees.

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Geloof aan die bestaan van een God

Geloof aan die bestaan van een God – Francois Malan

Vraag: 

Leoni vra: 

Ek vra asb hulp met die antwoord van een vraag en dalk kan u my verwys waar ek sulke antwoorde kan opspoor Ek het al die netwerk deursoek maar kry niks. Die vraag is: Geloof aan die bestaan van een God, wat Skepper en Bestuurder van die heelal is.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

In 1 Korintiërs 8:4-6 sê Paulus: ‘ons weet…en dat daar ook geen God is nie, behalwe Een. En al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is, soos daar trouens baie is wat “God” en baie is wat “Here” genoem word, is daar nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.’

Een God die Vader (soos Jesus sý Vader aan ons bekend gemaak het; deur geloof in Christus kry ons deel aan Jesus se kindskap en word so self kinders van God) is die bron en bestemming van alle dinge, ons wat in Christus glo as ons verlosser, is daarby ingesluit. Om Hom te dien en te gehoorsaam is die sin en doel van ons lewe.

Vergelyk ook Efesiërs 4:4,5,6 ‘…en net één Gees (wat die een liggaam van Christus, sy kerk, met hoop op die ewige lewe vervul)… Daar is net één Here (aan wie ons verbind is deur in Hom te glo en in Hom gedoop te wees)…één God en Vader van alles/almal: Hy wat oor almal is (wat oor sy hele skepping waak, hulle versorg en daaroor heers), deur alles en almal werk (as sy instrumente deur wie Hy in die wêreld werk om alles in die skepping in Christus te verenig; Ef.1:10), en in alles en almal is (deur sy Gees gee Hy lewe aan elke ding en mens; vgl. Ps.104:29-30; Hand.17:28).’ Van dié eenheid is die kerk die voorloper-instansie (vgl. 1 Kor.15:28).

Een Here (in die Ou Testament word God die Here genoem. In die Nuwe Testament word die titel Here veral vir sy Seun gebruik om Hom aan te dui as die een wat oor die skepping en die kerk regeer, vgl. Efesiërs 1:22-23), Jesus Christus, die goddelike middelaar deur wie God alles geskep het en deur wie Hy ons verlos tot ‘n nuwe lewe, ewig met God (vgl. ook 1 Tim 2:5 se een God en een Middelaar).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




DIE VLEUELS VAN GEBED (5)

DIE VLEUELS VAN GEBED (5) – Jan van der Watt

KOM ONS WORD STIL. 

Kom ons word stil…

Die uitdrukking wat ons soms gebruik om te sê ons wil bid, is treffend: ‘Kom ons word stil’. As ons mooi daaroor nadink is dit eintlik so ‘n bietjie snaaks. Gebed is mos juis ‘n gesprek met God. In ’n gesprek wil ’n mens mos nie stilbly nie. Hoe rym dit?

Met hierdie woorde sê jy iets oor wat met jou gebeur as jy op jou knieë gaan. Om te bid vra van jou om jouself gereed te maak, voor te berei vir ‘n ontmoeting met God. En daarom moet jy die ratte van jou besige lewe eers so ‘n bietjie rem. Die besige lewe met sy stress het nogal die geneigtheid om die bril van jou lewe toe te wasem. Die gejaag van oomblik tot oomblik, plek tot plek om die of daai afspraak te hou maak dat jy later net jou eie belange raaksien. Al waaraan jy dink is die volgende ding wat jy moet doen. So kan jy ook nie regtig ‘n gesprek voer nie.

 

Dink maar net hoe frusterend is ‘n gesprek met iemand wat by die kamer ingewaai kom met die houding dat hy baie haastig is. Dit lyk heeltyd as hy met jou praat of hy eintlik iets anders wil doen. Hy wil ook nie regtig gesels nie. Hy spring so van een kort opmerking na die volgende. Elke nou en dan kyk hy op sy horlosie. In ‘n sekere sin beledig hy jou, gee hy jou die idee dat ander dinge belangriker is as jy. ‘n Mens voel sommer om vir so ‘n persoon te sê dat hy liewer maar die gesprek moet los as hy dit nie ordentlik wil doen nie. En met gebed is dit nie anders nie.

Om regtig te bid beteken om stil te gaan staan en die wasem van die besige lewe van jou lewensbril af te vee. Dan sal jy God duideliker kan sien. Maar jy sal ook jouself duideliker sien! Hierdie voorreg moet jy jouself gun! Bederf jouself ! Moenie op jou knieë gaan soos ‘n atleet wat eintlik net wag vir die oomblik wat hy moet opspring en verder hardloop nie. Laat gebed liewer die plek wees waarheen jy hardloop om in die arms van die Here regtig te gaan ‘stil word’.


Gee jouself ’n kans.

Ons lees in die Bybel dat die Here Jesus Homself die kans gegun het om ‘stil’ te word. Hy het na ‘n geskikte plek gegaan en daar alleen met sy Vader gepraat (Mat. 14:23). Daaruit kan ons nogal goeie lesse leer vir ons daaglikse ‘stiltetyd’ met God. Gee jouself daardie kans om in ‘stilte’ met God te gesels. (Dit gaan nie hier om skietgebede of kort gesprekke wat jy soms met God voer nie).

Gebed vra van ons om TYD te maak. As jy nou regtig die laaste bietjie vreugde uit jou gebedslewe wil tap, maak dan asof gebed soos ‘n vinnige stop in die kuipe vir ‘n renjaer is. As jy jouself nie tyd gun vir die gesprek met God nie, sal jy gou agterkom dat jy nie veel vir God te sê gehad het nie… en dat Hy ook nie veel vir jou kon sê nie.

Gebed vra ook dat jy jou PLEK reg kies. Jesus het na ‘n stil plek gegaan. Dit help nie om jou wit gordyne met oliehande te probeer was nie. Kry vir jou daarom ‘n plek wat by die stilte van gebed pas en daar nie allerlei dinge is wat jou aandag aftrek nie. Dit is natuurlik nie te sê dat ‘n mens nie ‘n skietgebed of ‘n ander kort gebed in die geroesemoes van die alledaagse lewe kan bid nie. Hier gaan dit om jou daaglikse ‘stiltetyd’ met God.

Gebed vra ook die regte GESINDHEID. Jy moet wíl bid. Jy moet jouself wíl oopstel vir die gesprek met God. Dit klink snaaks om so te sê, maar daar is ‘n gevaarlike vyand wat soos ‘n wurm die hele binneste van jou gebedslewe kan wegvreet sodat net die skil nog oorbly: en dit is VORMGEBED. Vormgebed vreet juis aan ons gesindheid. As ons nie elke keer onsself instel op die ontmoeting met God nie, word ons gebede later net gewoonte. Ons wíl dan nie meer bid nie, maar ons voel ons móét. Dan gaan dit nie meer om die gesprek nie, maar om die gewoonte. Die skil is dan nog daar, maar die hart is uit.


Stel jouself in.

Om eers ‘n rukkie ‘stil te word’ voor jy met God begin gesels is belangrik. Dit is jou geleentheid van voorbereiding en beplanning vir jou gesprek met God. Dit is jou tydjie wat jy voor die gebed neem om jouself ‘in te stel’. Dan hoef jy nie te praat nie; jy hoef nie met allehande dinge besig te wees nie. Jy kan maar net ‘stil’ word. Jy kan jou oë toemaak sodat dit net jy, jy alleen is.

Dit is nogal iets waarmee ons in ons gejaagde lewe swaarkry: ons kan nie tot stilstand kom nie. Vir ons is tyd geld; daar moet dinge gedoen word, daar is programme op TV wat gekyk moet word, daar is goed wat in die huis gedoen moet word, daar is… daar is… en so is daar altyd maar nog net meer en meer om te doen. Selde gun jy vir jouself die tyd om net JY en JOUSELF te wees.

Kom ons probeer iets:

SIT SOWAT DRIE MINUTE DOODSTIL. MAAK JOU Oë TOE EN PROBEER NET ‘ONTSPAN’. MOENIE AAN IETS SPESIFIEKS DINK NIE, MAAR AS JOU GEDAGTES AAN DIE LOOP GAAN, LAAT DIT ‘LOOP’ WAAR EN SOOS DIT WIL.


Beskryf nou wat jy ervaar het en wat gebeur het:

……………………………………………………………………………………………………………….

……………………………………………………………………………………………………………….

……………………………………………………………………………………………………………….

……………………………………………………………………………………………………………….

Verskillende dinge kan natuurlik met ‘n mens gebeur as jy so stil sit. Dit kan wees dat na ‘n besige dag jou gedagtes net nie tot ruste kom nie. Hulle spring en maal rond. Dit mag ook wees dat jou gedagtes by een ding vassteek en soos ‘n berg voor jou kom lê. Of jy kan so moeg wees dat jy sommer net aan niks dink nie. Jy voel net hoe die slaap soos ‘n swart kombers oor jou getrek word.

Maar wat hier gebeur moet nie onderskat word nie. As jou gedagtes so maal en spring moet jy weet dit is JOU gedagtes daardie. Dit is die dinge wat vir jou belangrik is. As ‘n mens ‘n bietjie ontspan het dit dikwels die gevolg dat jy so ‘n bietjie helderder dink. (Daar is seker van ons wat al met ‘n wiskunde som of ander probleem geworstel het en net as ons in die bed klim om te slap, is dit byna asof ‘n helder oomblik ons tref: daar net voor ons deur die donker deur van die slaap stap, kry ons die oplossing). Hierdie dinge wat so by jou opkom moet jy neerskryf, want dit is dinge wat jy met God kan en moet bespreek. Dit is veral belangrik as jou gedagtes net by een saak vassteek. Dit beteken dat daardie saak vir jou op daardie oomblik baie belangrik is. Daaroor moet jy praat!

Om so stil te word, berei jou nie alleen voor vir jou gesprek met jou Vader nie, maar rig jou al op die sake waaroor jy eintlik met God moet praat. (Soos ons verder gaan met die bespreking van die verskillende elemente van gebed sal daar dikwels stilgestaan word by die belangrikheid en nuttigheid van hierdie ‘stille nadenke’).


Om ‘stil te word’ is die voorportaal van gebed.

‘n Kasteel het gewoonlik ‘n voorportaal waar ‘n mens ontvang word. Daar kan jy jou jas uittrek, jou hare kam en gereed maak vir die ontmoeting met die koning in die kasteel. Daar wag jy op die koning. Om ‘stil te word’, of kom ons sê: ‘Om jouself eers weer so ‘n bietjie te vind’, is die voorportaal van gebed. Daar kyk jy vir jouself in die spieël. Daar word jy bewus daarvan dat jy nou in die ‘kasteel’ van God se teenwoordigheid instap. Daar kom gedagtes by jou op wat jy graag met die koning sal wil bespreek. Daar kan jy op die Here ‘wag’.


Moenie sommer in gebed injaag nie. Gun jouself die tyd om ‘stil’ te word en op die Here te wag.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Die Eerste Brief van Johannes (15)

Die Eerste Brief van Johannes (15) – Jan van der Watt

Deel 4: Al die verskil – in wat die gemeentes doen

Hoofstuk 14: Vra en …?!.

  1.  Bid en jy sal ontvang!

Die sprokie van die feë wat aan die arm man drie wense gegee het, het menige kind—en waarskynlik ook grootmense—se verbeelding al op hol gejaag. Dink aan die moontlikhede om te kan wens vir net wat jy wil hê en dit te kan kry! Ongelooflik!

(1) Lees 1 Joh. 3:22 en Joh. 14:13–14. Wat gebeur volgens hierdie verse as ons vra?

 

(2) As jy nóú kan kry wat jy vra, wat sal jy alles vra?

(3) Glo jy dat jy alles sal kry wat jy in gebed vra? Waarom sê jy so?

(4) Hoe weet ’n mens wanneer God gebede verhoor?

 

Gebed is ’n gesinsgesprek

Mense verstaan die beloftes wat God oor gebed maak dikwels verkeerd. Inderdaad sê Jesus dat Hy aan die gelowige sal gee wat hy vra, maar wat presies word daarmee bedoel?

Weer eens moet ons aan die gelowiges dink as die gesin van God. Hierdie gesin speel as groot span saam in die spel van die lewe. Hulle belange is verweef. Die indiwiduele gelowige is nie noodwendig oor homself bekommerd nie, maar oor die voordeel en die belang van die groep. As hy met die Pa van die gesin gaan praat, vra hy nie vir dinge wat homself maar nie die gesin kan bevoordeel nie. Wat vir hom belangrik is, is dat wat hy van die Pa vra, tot voordeel van die gesin moet wees.

Jou gebede moet die voordeel van die gesin as doel hê!

Wie so bid, ontvang.

Dit is eintlik baie logies as ’n mens besef dat Johannes nie wil hê gelowiges moet hulleself as indiwidue sien nie, maar as belangrike groeplede van die gesin van God (of van die liggaam van Jesus soos Paulus in 1 Kor. 12 sê). Kyk na die volgende voorbeeld:

Jy speel in die Springbokrugbyspan. Sal jy in die wedstryd vir die skeidsregter vra vir ’n roomys wat jy eers rustig langs die veld wil gaan klaar eet terwyl jou span op die veld swoeg? Nee, jy sal net die veld wil verlaat as jy seergekry het en nie jou beste kan lewer nie. Jy sal gou hulp gaan kry sodat jy so goed as moontlik ter wille van jou span verder sal kan speel. Wat jy dus vir die skeidsregter vra, is altyd tot voordeel van jou span. Anders is jy ’n swak, selfsugtige speler.

Presies dieselfde word met “vra en jy sal kry” bedoel. Jou gebede moet gerig wees op die voordeel van die gesin van God. As jy vir jouself bid, moet dit wees om jou so effektief as moontlik vir jou gesin te maak.

(1) Wie besluit uiteindelik wat effektief en goed vir die gesin van God is?

(2) Hoe pas die belofte van 1 Joh. 5:14–15 in by wat hierbo gesê is?

(3) Om dit nog duideliker te maak: Wat is die belangrike voorwaarde vir ’n gebed om verhoor te word? Waarom sê jy so?

Jou gebede moet die voordeel van die gesin as doel hê! Wie so bid, ontvang.

Daarom kan Johannes ook die woord “vrymoedigheid” in 1 Joh. 5:14 gebruik. Soos ’n kind wat die pa se gesin wil bevoordeel opgewonde na sy pa gaan, so moet en kan ons met vrymoedigheid na God gaan! God wil graag na ons luister.

 

So ’n gebed doen meer aan jou as aan God

Dit is interessant wat gebed “volgens die wil van God” aan jou as gelowige doen!

Dit is eintlik baie logies:

Jy word by ’n werk aangestel as iemand wat artikels moet aankoop. Maar jou aanstelling staan onder die streng voorwaarde dat jy alleen mag aankoop wat tot voordeel van die firma is—en nie noodwendig wat jy wil nie. Hoe sal dit die manier beïnvloed waarop jy die aankope doen? Verduidelik ook waarom dit jou aankope so beïnvloed.

“Gebed volgens die wil van God” beteken dat jy al meer en meer die wil van God vir jou eie lewe sal soek. In jou gebede sal jy besig wees om jou lewe meer en meer in ooreenstemming met die wil van God te bring.

Gebed sal jou nader en nader aan die wil van God bring. Dit sal jou

meer in ooreenstemming bring met wat God vir jou

en jou lewe beplan.

Gebed sal jou dus nader en nader aan die wil van God bring. Dit sal jou meer in ooreenstemming bring met wat God vir jou en jou lewe beplan.

So is gebed nie eintlik ’n manier om God se “arm te draai” nie. Jy sal dit buitendien nie regkry nie. Volgens Johannes is gebed ’n belangrike manier om jou lewe meer en meer in die hand van God te plaas.

In jou gebed moet jy gedurig vra na jou plek en bydrae tot die gesin van God.

Eet jy “roomys langs die veld” of speel jy jou hart uit vir die “span van God”. As jy jouself met die “roomys in die hand” betrap, moet jy weer ’n keer nadink oor die rol wat God aan jou in sy gesin gegee het.

En die plek waar jy hierdie soort vrae uitsorteer, is natuurlik op jou knieë!

 

Kom bid

Gebed is nie eintlik iets om baie oor te praat nie, maar om te doen.

Uit wat tot nou toe gesê is, is dit duidelik dat daar ook baie “voorafdenke” in gebed gedoen moet word. Jy moet oor jou eie lewe nadink, oor jou rol in die gesin van God. Jy moet nadink hoe ’n goeie “spanlid” jy is en waarvoor jou Pa jou wil gebruik, en so kan jy aangegaan.

In jou gebed moet jy gedurig vra na jou plek en

bydrae tot die gesin van God.

Gebruik nou die res van die tyd om presies dit te doen. (Gebruik tyd om met God te gesels. Moet dit nie te vinnig doen nie. Hoe rustiger, hoe beter).

(1) Hoe lyk jou gebedslewe? Voel jy dit is vir jou die moeite werd?

(2) Waaroor en waarvoor bid jy die meeste?

(3) Hoe sien jy jou rol in die gesin van God?


Gebruik nou tyd en bid

(1) Bid vir dit waarvoor jy dink God jou die graagste sal wil gebruik.

(2) Bid dat God jou meer en meer in pas met Hom sal bring.

(3) Sê vir God jy is syne.

Dink deeglik na oor wat jy pas gedink en gedoen het. Dit is dinge hierdie wat ’n mens se lewe verander!

Dink hoe jou lewe gaan uitsien as jy alles gaan kry wat jy vra … soos God dit wil hê!

Loof en dank God vir gebed.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt