DIE VLEUELS VAN GEBED (3)

DIE VLEUELS VAN GEBED (3) – Jan van der Watt

Die hart van gebed. 

Ons gaan voort met ons bespreking van die hart van gebed.

‘n Verhouding maak al die verskil!

 

As die Bybel praat oor wat presies met ons gebeur as ons gelowig word, word verhoudingsterme gebruik: ons word God se kinders; as slawe van die sonde word ons vrygespreek om vriende van God te word, en so aan.

Daarin lê ‘n belangrike motivering vir gebed. Vriende gesels tog met mekaar. ‘n Kind klim tog graag op die pa se skoot om hom alles te vertel. In die verhouding tussen God en sy kinders is dit ook nie anders nie. God wil hê en verwag dat ons op sy skoot sal klim en met Hom gesels – en sommer gereeld ook!

Die diepste belang en grond van gebed is dus nie dat ons noodwendig alles kry wat ons vra nie, maar dat ons die warmte van ons verhouding met God ervaar en beleef. Gebed is eintlik om die hartklop van God te hoor. Dit is om in geloof sy hand op jou skouer te voel. Dit is om verseker te wees van sy nabyheid. Daarin lê geestelike vervulling.


In die stilte oorweldig deur die teenwoordigheid van God!

Ons sê mos baie dat ons ‘stil’ word voor die Here. Dit is juis in daardie oomblikke van ‘stilte’ dat die wonder van God se teenwoordigheid jou oorweldig!

Geliefde, dit is nie iets waaroor ‘n mens eintlik kan skryf of praat nie! Dit is iets wat jy moet ervaar! Dit is iets wat jy kan ervaar as jy jou hand en hart in geloof na die Here rig. Dan eers word dit deel van jou lewensrealiteit. Jy weet, ‘n mens kan baie OOR God en gebed praat, maar dit is eers as jy werklik die nabyheid van GOD ervaar het dat jy daarin slaag om MET Hom in gebed te praat. 

Dit doen ‘n mens nie met jou kop vol van die gejaag en gebeure van die dag nie. Dit doen jy met die stille verwagting van iemand wat rustig wag vir sy afspraak met die Koning van die konings, sy Vader. Stille voorbereiding is daarom deel van die ABC van gebed!


‘n Verhouding met konsekwensies.

Gebed kan ‘n mens daarom nie koud laat nie! Om met die lewende God te gaan praat beteken om iets van die gesprek te verwag! Elke gesprek met God het konsekwensies, want God neem gebed ernstig! Hy luister!

Veronderstel jy het ‘n probleem met jou stukkende motor wat jy nie kan regkry nie. Jy gaan praat met jou buurman wat ‘n uitstekende werktuigkundige is. Hy kom en verseker jou dat hy dit dadelik sal regmaak. Die gevolg van julle gesprek sal wees dat jy nie eers meer daaroor bekommerd sal wees nie. Jy weet nie hoe hy die motor gaan regkry nie, maar jy weet hy sal. Jou gesprek het dus konsekwensies vir jou.

Met gebed is dit ook so. Dit moet ook konsekwensies vir ons praktiese lewe hê. Ons kan eintlik nooit dieselfde mense van ons knieë af opstaan nie. Gebed verander dinge, omdat ons met God praat… en God kan dinge laat verander. Wat maak ons buurman beter as God, dat ons buurman sy woord sal hou, maar as ons God iets vra ons soms nie verwag dat Hy iets daaraan gaan doen nie? Dit is tog absurd!

As ons van die lewende God iets vra, moet ons weet dat Hy daaraan sal aandag gee! Dit moet ons verwagting wees! As ons halfhartig bid, wat sê ons eintlik daarmee vir God? Stel ons nie so eintlik ‘n mosie van wantroue in Hom in nie?

Nee, deel van die hart van gebed is om te weet en te vertrou dat God na jou gebede en smekinge luister! Hy luister nie net nie, maar doen ook iets daaraan! En die wonderlike is om te weet dat God jou Vader is wat net die beste vir jou wil hê.


Gebed… die geestelike barometer van elke gelowige.

Gebrek aan geloof lei gewoonlik direk na gebrek aan die begeerte om te bid. As jy God nie meer helder in jou lewe raaksien nie, sal jy ook nie meer die begeerte hê om met Hom te praat nie. As jy nie meer dink dat Hy na jou luister nie, sal jy ook nie meer vra nie.

Jou gebedslewe ‘verraai’ eintlik jou siening van God. Die manier waarop jy na God gaan sê eintlik wat jy van God dink en hoe jy oor Hom voel. Immers as Hy vir jou die Vader is wat vir jou lief is en na jou luister, sal jy tog nie onbetrokke of ongereeld kan bid nie. Maar as Hy vir jou ‘n veraf God is wat soms in die mis van onsekerheid verdwyn, sal die erns waarmee jy Hom soek ook dienooreenkomstig taan!


Gebed… Geestelike sensitiwiteit en sensitiewe geestlikheid.

Gebed is, so het ons gesien, die ineenvloeiing van God se realiteit, sy wêreld, in my werklikheid in. Dit is God wat aan my die geleentheid gee om met Hom te praat soos ‘n kind met sy of haar pa. In gebed gaan ons oë besonderlik oop vir God se nabyheid. Anders gestel, God se nabyheid maak ons geestelik sensitief. Daar staan immers in Gal 4:6: ‘En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader!’

Gebed is dus ook om God se Heilige Gees in jou te laat uitroep! In stille afhanklik van God se Gees moet jou gebed ook voor die troon van God opklink.

 

Skrywer: Prof Jan vander Watt




Die Eerste Brief van Johannes (13)

Die Eerste Brief van Johannes (13) – Jan van der Watt

Deel 3: Die ratte loop op liefde – maar steek ook vas

Hoofstuk 12: Ek bly maar sondig … wat ‘n gemors

As Christen kan ’n mens nuut begin, elke dag. Die Here gebruik ons nie as pakdonkies vir ons sonde nie. Kyk hoe die Here jou vry maak en hoe jy elke nuwe dag positief met drif en ywer aanpak—as geskenk van die Here.

 

Het ons nou sonde of nie?

 

In die die vorige hoofstuk het ons uit 1 Joh. 3:9 gesien dat ’n Christen eintlik nie behoort te sondig nie. ’n Lid van ’n span gaan tog nie teen sy eie span speel of hulle benadeel nie.

Maar: beteken dit nou dat ’n mens perfek moet wees? Maak ’n mens nie soms ook foute nie? Nie een van ons sal seker ontken dat selfs die voorbeeldigste gelowige ook soms maar voete van klei het nie.

Dit is presies wat Johannes ook sê:

Vergelyk 1 Joh. 3:9 met 1 Joh. 1:8 en 10. Merk jy iets snaaks op uit hierdie verse?

In 1 Johannes 3 sê Johannes dat die gelowige nie kan sondig nie, terwyl hy weer in 1 Johannes 1 sê dat iemand wat ontken dat hy sonde het, juis sonde doen, omdat hy lieg! Almal doen sonde! Hoe verstaan ’n mens dit?


Johannes praat van twee soorte sonde

By Johannes kan ons twee soorte sonde onderskei:

Die woord sonde word (1 Joh. 3:9—soos uit die vorige hoofstuk blyk) gebruik vir die gesindheid van lojaliteit wat ’n gesinslid teenoor sy gesin het. Sy hele lewenstyl is daarop afgespits om sy gesin tevrede te stel. Dit gaan dus om sy lewenspatroon.

Die tweede gebruik van die woord sonde (1 Joh. 1:8 en 10) gaan oor die gelowige se indiwiduele dade.

Sy lewenspatroon is nie verkeerd nie, maar in ’n oomblik van swakheid maak hy ’n fout en sondig. Dit is iets wat met almal gebeur! Iemand wat dink hy is so volmaak dat hy nooit ’n fout gaan maak nie, maak juis ’n fout deur so te dink! Ons almal maak maar foute. Dit mag net nie ’n lewenspatroon word nie!

’n Christen se lewenspatroon word nie deur sonde gekenmerk nie, al maak hy of sy ook soms foute!

 

Wat maak ek met my sonde?

Nie God of die Christen kan ooit met sonde tevrede wees nie. En as jy sonde doen, wat dan?

(1) In 1 Joh. 1:9 word die “resep” vir gelowige se hantering van die sonde gegee. Wat is dit?

(2) Verduidelik so goed jy kan wat presies “belydenis van sonde” behels.

Lees nou eers die “storie” hieronder:

Botile en Mosé was twee lede van ’n Zulustam. Die stam se skape is gesteel deur ’n ander stam. Die kaptein van Botile-hulle sê toe hulle moet die skape gaan haal. Op pad soontoe struikel Mosé oor ’n klip en stamp Botile. Botile vererg hom en slaan Mosé oor die kop met sy knopkierie.

’n Christen se lewenspatroon word nie deur sonde gekenmerk nie,

al maak hy of sy ook soms foute!

Hulle moes toe omdraai, want Mosé kon nie meer verder nie. Terug by die kraal wou die kaptein weet wat aangaan. Het Botile dan teen die stam gedraai?

(3) Beantwoord die volgende vrae na aanleiding van die storie hierbo:

Wat, dink jy, sal Botile alles sê?

Teen wie het Botile regtig “gesondig”?

Botile moes “belydenis van sy sonde” doen. Dink jy hy sou sommer wegkom met ’n “jammer”? Wat, dink jy, word alles van ’n opregte sondebelydenis vereis?

Botile het teen die gesin oortree. Hy moes:

sy pa verseker dat hy nie teen die stam gedraai het nie, maar dat sy lojaliteit steeds aan die stam behoort.

beloof om dit nooit weer te doen nie.

gaan regmaak wat hy verbrou het.

Daarmee saam moes sy pa ook nog besluit watter straf Botile moes kry om vir die gevolge van sy verkeerde gedrag te “betaal”.

In essensie gaan sondebelydenis daaroor dat jy jou hele lewe weer

met erns toewy aan God as lojale lid van die gesin van God.

Dit gaan dus om die herstel van Botile se posisie in die gesin. Botile moet met die sondebelydenis homself weer in die gesin as goeie lid van die gesin vestig.

Sondebelydenis is nie maar net ’n “jammer” nie. ’n Kind van God wat sondig, doen die eer van God skade aan. Dit kan nie maar net sommer so gelaat word nie!

Hy moet weet en erken dat hy verkeerd gedoen het.

Hy moet God dan verseker van sy lojaliteit—hierdie ding wat hy verkeerd gedoen het, beteken nie dat hy nie meer deel van God se gesin wil wees nie.

Hy moet onderneem om dit nie weer te doen nie.

In essensie gaan sondebelydenis daaroor dat jy jou hele lewe weer met erns toewy aan God as lojale lid van die gesin van God.


’n Paar praktiese vrae oor sondebelydenis

(1) Hoe dikwels, dink jy, moet ’n mens sonde “bely”?

(2) Behoort ’n mens spesifieke sondes te bely, of is dit voldoende om maar in die algemeen te vra dat die Here jou sonde vir jou vergewe? Verduidelik jou antwoord.

(3) Wat staan jou te doen as jy agterkom dat jy elke tweede aand dieselfde sonde moet bely?

(4) Dink jy die sondebelydenis soos ons dit in die kerk doen, is voldoende of die moeite werd? Waarom sê jy so?

God neem sondebelydenis ernstig! As jy dit ernstig bedoel dat jy in absolute lojaliteit net vir Hom wil dien, vergewe Hy die fout wat jy gemaak het. Hy “herstel” graag jou posisie in die gesin.

Sonde wat ons opreg bely, hoef ons dus nie op die Christelike pad te ontmoedig nie. Dit moet ons eerder aanmoedig om met meer en meer toewyding vir God te leef.

 

Die straf op sonde is nie speletjies nie!

Deel van die “belydenis van sonde” in die antieke gesin was dat die persoon wat oortree het vir sy oortreding moes boet. Hy moes gestraf word. Die gebruik was dat die pa van die gesin besluit het wat ’n behoorlike straf sou wees. Hy kon met ’n ander manlike lid van die gesin beraadslag voordat hy sy besluit neem (in Latyn heet dit “concilium”).

God neem sondebelydenis ernstig! As jy dit ernstig bedoel dat jy

in absolute lojaliteit net vir Hom wil dien, vergewe Hy die fout wat jy

gemaak het. Hy “herstel” graag jou posisie in die gesin.

In die gesin van God het dit nie anders gewerk nie. Lees nou 1 Joh. 2:1 in die lig van die “concilium-gedagte”.

(1) Wie is die Persoon met wie die Vader beraadslaag oor die straf vir die sonde van die gelowiges?

(2) Wat antwoord Jesus die Vader volgens 1 Joh. 1:7 en 2:2 oor die straf wat die gelowige moet tref?

(3) Hoe reageer die Vader op die verlossingswerk van Jesus as ons met ons belydenis van sonde voor Hom staan (1 Joh. 1:9)?

In 1 Joh. 1:9 staan daar dat God getrou en regverdig is. Hy het immers sy Seun gestuur om ons van ons sonde te verlos (1 Joh. 4:10).

Ons hoef dus nie self te probeer om vir ons sonde te betaal nie. Jesus het dit klaar gedoen!

Ook vir die foute wat ons daagliks maak, is Jesus daar!

God erken dit en daarom is Hy getrou aan sy eie plan en regverdig om ons nie te straf as Jesus klaar die straf vir ons gedra het nie (vgl. ook 1 Joh. 2:12).

Die verskil tussen jou wat Jesus ken en iemand wat Hom nie ken nie, is dat Jesus tussen jou en die Vader se toorn oor jou sonde kom staan. Met sy arms van liefde vou Hy jou toe.

Iemand het eenmaal vir ’n gelowige man gesê: “Julle Christene is ’n klomp huigelaars. Sondae sit julle in die kerk, maar julle is maar net so sondig soos ons almal.”

Die gelowige man sê toe: “Meneer, jy is eintlik die huigelaar. Ek gaan nie kerk toe omdat ek dink ek is so goed nie. Ek gaan kerk toe omdat ek weet dat ek die verlossende krag van Jesus nodig het om my lewe te leef. Jy dink skynbaar jy kan jou sonde alleen dra.”

Dit is inderdaad die verskil tussen iemand wat Jesus ken en wie Hom nie ken nie.


Kyk indringend na jou sonde, maar veral na Jesus se vergifnis vir jou. Jesus het vir jóú gesterf—dít maak jou die bevryde mens wat jy is!

Bid dat jy die oorwinnende Christelike lewe sal leef van iemand wat die werklike krag van God se verlossing besef.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




DIE VLEUELS VAN GEBED (2)

DIE VLEUELS VAN GEBED (2) – Jan van der Watt

Die hart van gebed. 

Wat maak gebed GEBED?

Wat maak gebed GEBED? Die antwoord is eenvoudig: GOD!

Gebed is eintlik ‘n snaakse ding. Sê nou maar Manie die Marsman sou by die slaapkamer kon inloer as jy bid. Daar staan jy op jou knieë in doodse stilte met jou hande gevou vir vyf of tien minute. Op die oog af moet hierdie houding seker snaaks lyk vir iemand wat nie weet wat daar gebeur nie. Vir jou is dit egter nie so snaaks nie. Jy weet jy het Iemand met wie jy praat, hoewel jy Hom nie kan sien nie. Dit maak wat jy doen sinvol – die stilte, die staan op die knieë, jou hande wat gevou is.

 

Gebed is net sinvol omdat dit ‘n gesprek is tussen jou en God! Jy praat nie alleen nie – God is daar om te luister: daarom maak gebed sin!

‘n Wêreld wat ons te klein gemaak het vir God om in tuis te voel!

Nou gebeur dit nogal baie dat mense sukkel met gebed. Hoewel hulle teoreties vir jou allerhande mooi dinge oor gebed sal sê, bid hulle tog nie so gereeld nie. Wat hulle oor gebed sê en wat hulle uiteindelik doen, stem nie ooreen nie. Dit is amper asof hulle nie aan die bid kan kom nie en veral nie gereeld kan bid nie.

Daar kan ander redes ook wees, maar die algemeenste rede is sekerlik dat ons ons wêreld te klein gemaak het vir God!

Wat word hiermee bedoel?

Ons leef in ‘n wetenskaplike en tegnologiese tyd. Vir omtrent elke ding is daar ‘n wetenskaplike verklaring. Met die rekenaars kan ons ook omtrent alles uitwerk. Ons word van skool af geleer om alles te verklaar en met ons verstand uit te werk. Alleen dit is ‘regtig’ wat so met die verstand verklaar kan word of met die oog gesien kan word!

Dit beteken natuurlik dat ons ons wêreld net so groot gemaak het soos ons verstand of so ver as wat ons met ons oog kan sien. Enigiets wat ons nie kan verklaar nie of wat ons nie kan sien nie, ‘bestaan’ eenvoudig nie vir ons nie.

Ons kan egter nie vir God so in die beperkinge van ons verstand inhok nie. Ons kan Hom ook nie met ons blote oog sien nie! Vir mense wat gewoond is om te sê dat alleen dit werklik is wat met die oog gesien kan word of met die verstand verklaar kan word, word God vreemd. Hy pas nie binne hulle ‘wêreldjie’ wat so groot is soos hulle oë ver kan sien of hulle verstand kan uitredeneer nie.

Hulle wêreld van verstandelike verklaring het te klein geword vir God. God is nie net so groot dat Hy in die beperkinge van die menslike verstand of sintuie moet bly nie! HY IS BAIE GROTER!  

Nou kry party mense swaar om te bid omdat hulle wonder of God regtig dáár is. Hulle wonder of Hy na hulle sal luister. Hulle verstand sê vir hulle dat daar nie ‘n oplossing vir hulle probleem is nie… sal dit nou regtig help om te bid. Is God regtig daar om te luister! Soos ‘n ateïs een maal vir my gesê het: ‘Ek kan eenvoudig nie glo in ‘n God wat heeltyd reg sit om na mense te luister nie. Hy moet darem iets beter hê om te doen!’ Of ons sluit God uit ons wêreld omdat ons dink dat ons probleme Hom nie eintlik aangaan nie; of ons ons sluit God uit ons wêreld uit omdat Hy nie binne ons verstandlike grense pas nie.

Hoe ons ook al dink, dit beïnvloed ons gebedslewe! Immers, as jy twyfel aan die persoon met wie jy moet praat, gaan die gesprek maar vrotterig verloop! As jy nie regtig oortuig is dat die persoon na jou luister nie, gaan jy eintlik nie eers met Hom praat nie. Meer nog, as jy nie weet of Hy regtig in jou belangstel of regtig dáár is as jy met Hom praat nie, gaan jy nog minder ure aan die gesprek spandeer.


Stoot die grense tussen jou en God oop!

Die hart van gebed lê in die oorweldigende teenwoordigheid van God by jou as gelowige! Dit is ‘n teenwoordigheid wat jou vasgryp, jou op jou knieë dwing.

Vir die gelowige wat op sy knieë gaan om te bid, is dit belangrik dat die grense van sy wêreld oopgestoot moet word. Sy of haar wêreld moet groter word. Sy wêreld kan nie eindig by wat sy verstand kan verklaar of sy oë kan sien nie! Die gordyne moet weggestoot word sodat die bidder die wêreld van God kan betree. Sy oë moet oopgaan sodat hy in geloof die troonsaal van God kan ingaan. Meer nog, die bidder moet die werklikheid en teenwoordigheid van God self raaksien.

In gebed word die grense tussen jou en God weggestoot. Dit is die geleentheid waarin jy uit jou aardse gebondenheid tree en in geloof voor die lewende God gaan staan!

Dit is immers wat geloof is: geloof is jou geestelike oë wat oopgaan. Jy kyk verby die geslote grense van jou verstand of die wetenskaplike reëls. Jou oë gaan oop vir wie God regtig is! Jy besef dat Hy regtig dààr is (Heb 11:6)! Dit maak al die verskil. Jou wêreld, jou werklikheid word deel van sy wêreld! Jy kom agter dat God nie buite jou wêreld staan nie, maar dan moet jy in geloof in sy wêreld staan! So gesien lyk jou wêreld ook sommer heeltemal anders! Met God se teenwoordigheid wat deel word van jou wêreld kan jou wêreld nooit weer dieselfde lyk nie. Julle belange vervloei. Nooit weer kan of hoef jy alleen te wees nie! Met Hom by jou lyk ook jou probleme anders, en jou smart en jou blydskap!


Kom ons dink vir ‘n oomblik hieroor na:

WIE IS HIERDIE GOD WAT JY AANBID PRESIES? WAT KAN HY DOEN? HOE Sê HY VOEL HY OOR JOU? WAT SOU JY ALLES VAN HOM KON VERTEL?

* Skryf dit wat jy oor God kan sê hier neer:

……………………………

……………………………

……………………………

……………………………

……………………………

……………………………

* Wat is die konsekwensies van dit wat jy oor God gesê het vir jou eie lewe:

……………………………

……………………………

……………………………

……………………………

……………………………

……………………………

Wie is hierdie God regtig met wie jy in gebed kan en mag praat?

*   Is dit nie die God wat gesê het dat Hy jou so lief het dat Hy sy Seun vir jou gegee het nie? Dink jy Hy sal jou dan sommer vir enigiets uit sy hand laat glip?

*   Is dit nie die God wat sê dat elke haar op jou hoof getel is nie? Sal Hy dan sommer vir sy rug op jou draai en jou in die steek laat?

*   Is dit nie die God wat gesê het dat sy las lig is en sy juk sag is nie? Sal Hy dan sommer vir jou ‘n swaar las uitsoek?

*   Is dit nie die God wat sê dat jou naam op sy handpalm geskryf is nie? Sal Hy jou roep om hulp ignoreer?

Ja nee, is Hy nie die Een wat alles gemaak het nie? Is Hy nie die Almagtige en Barmhartige nie? Is Hy nie die Een wat alles in sy hand hou nie. Is Hy nie die Een wat nooit sluimer of slaap nie, maar jou rotsvesting is nie?


Word ‘n oomblik stil en dink!

As jy mooi stil gaan sit en dink Wie God presies is, sal jy tot een duidelike besef kom: Gebed is nie speletjies nie… Gebed is die wonderlike geleentheid wat God jou gee om jou bewende mensehand in die rigting van goddelike almag uit te hou. As jy op jou knieë neersak voor ‘n Almagtige God, moet jou verwagting reg wees. Jy moet steeds daaraan dink Wie hierdie God is… maar ook wie jy is!

Per slot van sake is die kind van die staatspresident steeds sy kind en die staatspresident sy pa. Daarom is daar ‘n spesiale verhouding tussen hulle. Die pa gee die kind spesiale voorregte. Net so is die Almagtige God jou Vader. En daarom het jy die spesiale voorreg om in gebed met Hom te kan praat!

Maar gebed doen ook iets aan jou. As jy in die teenwoordigheid van die Almagtige God staan, sien jy ook jou eie gebrokenheid raak. Geen mens wat werklik besef voor Wie hy of sy in gebed staan, kan met enige sweempie van hoogmoed daar staan nie. Juis daar besef jy waar jou krag en sterkte vandaan kom. Daar, voor die troon van die Barmhartige God, besef jy jou eie onmag en nietigheid. En as ‘n mens dit eers besef, is jy gereed om werklik voor die God van hemel en aarde te buig!

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt





Laat sy Liefde jou Lei: Opofferende Diensbaarheid

Laat sy Liefde jou Lei: Opofferende Diensbaarheid – Milanie Vosloo

Opofferende diensbaarheid

Jy sien dus dat hy God só vertrou het dat hy bereid was om te doen wat God vra. Sy geloof het dus eers volwassenheid bereik toe dit dade geword het. Jakobus 2:22

Jesus was vreemd. Duidelik was Hy nie die tipiese godsdienstige leier wat op ‘n verhoog die Evangelie verkondig het nie. Hy het mense bedien in Galilea, ‘n onbelangrike plek, op een of ander berg, in die agterstrate en op die uithoeke van dorpe – daar waar die melaatses gebly het. Sy gehoor was nie geleerdes, aansienlikes en mense uit ‘n hoё sosiale stand nie. Hy het die Woord gebring aan tollenaars, weduwees, wese, siekes, sondaars … aan onbelangrike mense wat geen regte gehad het of aansprake kon maak nie. Die mense wat Hy kies om saam met Hom die pad te loop, is nie helde nie. Hulle gebruik mense wat nie eens in tel by die wêreld is nie.

As jy gekies het om ‘n ware dissipel van hierdie “vreemde” Jesus te wees, moet jy ook bereid wees om ánders te wees as wat die sosiale norme vereis. Dan moet jy ook bereid wees om mense sonder aansien te gaan bedien, om die Woord te bring aan hulle wat jou nie gaan vereer nie en om mense te help wat niks het om vir jou terug te gee nie.

God se werklike helde is nie kieskeurig oor die plek en manier waar hulle moet bedien nie. Hulle sê eenvoudig: “Here, gebruik my waar U my nodig het.”

Vader, maak my hart gewillig om U onvoorwaardelik te volg.

 

Skrywer: Milanie Vosloo