Hoekom moes Jesus sterf?

Hoekom moes Jesus sterf? – Kobus Kok

Jaco vra:

Waarom moes Jesus sterf? Ja dit was Sy straf. Wat sê die OT en wat sê die NT? Eenvoudige waarom moes Jesus sterf?

Antwoord:

 

Dr Kobus Kok antwoord:

Jaco, hierdie vraag kan nie sommer net eenvoudig beantwoord word nie omdat daar baie komplekse dimensies in ag geneem moet word. Daar is letterlik duisende boeke geskryf oor die onderwerp en mens het eintlik ‘n boek nodig om die vraag te beantwoord. Ons het eintlik net 800 woorde om mense te beantwoord maar die artikel gaan twee keer langer as dit moet wees. Ek gaan vinnig die kompleksiteit aantoon om net vir jou ‘n gevoel te gee vir die feit dat dit nie sommer net eenvoudig is nie en dan aan die einde sal ek ‘n eenvoudige antwoord gee. Sommige ingeligte en denkende lesers mag dit te simplisties vind. Ek verwys hulle dan na prof Jan van der Watt se internasionale boek “Salvation in the New Testament”. Dit sal hulle vir ‘n jaar besig hou. Daarin word die soteriologie (teologie van die redding) van elke Nuwe Testamentiese boek hanteer. Diegene wat nog verder en gespesialiseerd oor die saak wil lees kan ‘n Nuwe Testamentiese Teologie boek koop soos die van James Dunn, The Theology of Paul the Apostle, 1998, pp 1-808 of George Ladd se Theology of the New Testament, 1993, pp 1-757.

Een so ‘n komplekse saak is dat die teologie van die dood van Jesus in die Nuwe Testament deur die verskillende skrywers van die NT verskillend geïnterpreteer word. Ons sit dus met verskillende teologiese aksente in die Nuwe Testament. Dit is baie soos vandag. Vra nou vir 4 dominees om die vraag te beantwoord en almal van hulle sal vir jou ‘n perspektief gee wat so bietjie verskil. Jy sal dus vier verskillende perspektiewe kry. Hierdie verskillende teologiese perspektiewe sal egter ook sekere lyne en temas hê wat wel ooreenstem. Dit is dan die kernsake waaroor dit gaan. Net so kry ons in die Nuwe Testament verskillende teologiese perspektiewe. Een rede is byvoorbeeld dat die boeke in die Nuwe Testament uit verskillende tye dateer. Die vroegste brief is Tessalonisense wat deur Paulus geskryf is teen ongeveer 50 n.C. Die evangelies is almal na alle waarskynlikheid na 70 n.C. geskryf. Dit beteken dat hulle 40 jaar nadat Jesus geleef het geskryf is. Johannes is tussen 90 en 110 na Christus geskryf wat dit 70 jaar na Jesus se aardse lewe plaas. Jy kan jouself net indink dat daar in 70 jaar verskillende perspektiewe in die kerk ontwikkel en daarom kry mens verskillende perspektiewe op die rede waarom Jesus moes sterf. Tog kry mens duidelike goue lyne wat deurloop van Paulus dwarsdeur tot by Johannes.

Kom ons gaan dan net gou weer terug na Paulus. Hy skryf sy eerste brief so teen 50 n.C. en sy laaste brief voor sy dood in 64/65 n.C. Die vraag wat geleerdes vra, is hoe daar oor die dood van Jesus gepraat is in die tyd tussen Jesus se dood en opstanding en die tyd wat Paulus sy briewe geskryf het. Met ander woorde wat het in die ongeveer 15 jaar na die dood van Jesus en die eerste Bybelse dokument plaasgevind? Hoe het mense oor die dood van Jesus gepraat? In ‘n poging om daarby uit te kom moet geleerdes navors wat die sogenaamde pre- (of voor) Pauliniese materiaal sou behels het. Dit is ‘n hele wetenskaplike proses en baie ingewikkeld. Een so ‘n saak behels die hele kwessie oor die vraag hoe die dissipels kort na Jesus se dood en opstanding na die dood van Jesus sou verwys. Ons lees byvoorbeeld in Johannes 20 dat die dissipels na Jesus se dood vreeslik bang was en agter geslote deure vir die Jode weggekruip het. Hulle het toe nog nie mooi verstaan waarom Jesus moes sterf nie! Thomas, een van die twaalf het selfs so ver gegaan dat hy gesê het dat indien Jesus nie fisies aan hom verskyn en hy nie sy hande in Jesus se wonde kan plaas nie, hy gewoon net nie sal glo nie. En dan verskyn Jesus kort daarna aan hom, en Thomas maak sy groot belydenis dat Jesus Here en God is (Joh 20:28). Hoe het die dissipels daarna oor Jesus se dood gepraat? Hoe het hulle vir 15 jaar daaroor gepraat voor Paulus vir die eerste keer ‘n brief sou skryf waarin ons vandag ‘n venster op die vroeë kerk kan kry? Indien mens fyn navorsing gaan doen sal mens sien dat die Bybelskrywers oor die dood van Jesus praat en die woordjies dia (deur) en huper (ter wille van) gebruik. Die gebruik van die twee woorde maak ‘n groot verskil. Dink maar net aan die Afrikaanse sinne:

Ek loop in/deur (dia) krag

Ek loop ter wille (huper) van krag

In die Nuwe Testament word die word huper (ter wille van [kyk Rom 5, 6.8; 14, 15; 1 Kor 8, 11; 15, 3; 2 Kor 5, 14-15; 1 Tess 5:10) dikwels gebruik om te verwys na Jesus se plaasvervangende dood. Jesus moes dus sterf ter wille van ons (lees hier Joh 11:50-51). Die motivering vir die sterfte van Jesus en die resultaat daarvan word alles bepaal deur hierdie woord. Indien mens die plaasvervangende offermotief gebruik om oor Jesus se dood te praat, roep dit onmiddellik die gedagtewêreld van die Joodse offersisteem op. In die Joodse denke moes die Jode ‘n dier offer wat ter wille van hulle sondes sterf met die gevolg dat God die persone vryspreek. Indien Jesus dan soos ‘n offerdier moes sterf, is die funksie daarvan om namens ons te sterf. Die meeste mense dink vandag so oor die dood van Jesus.

Daar is egter ook ander maniere om te kyk na hoekom Jesus nou eintlik moes sterf. In Johannes sien mens myns insiens die beste voorbeeld daarvan. In Johannes 3:16 lees ons: 14 Moses het die slang in die woestyn hoog op ’n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoogg word, 15 sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê. 16 “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17 God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18 Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.[1] Die basiese punt is dat dit nodig was dat God vir Jesus stuur omdat die wêreld fundamenteel gebroke is en vervreemd van God geword het (kyk ook Rom 1-2). God moes ingryp en genesing bring. Hy moes ons oë oopmaak, want mense was geestelik blind (Joh 9:40-41; 12:40-41; Joh 3:3-6) en vasgevang in ‘n geestelike doodsbestaan.

Hiervolgens moes Jesus dus “op ‘n paal (kruis) gesit word omdat God hom gestuur het om dit te kom doen. Ons sit myns insiens hier met ‘n plaasvervangende gedagte. Dit is interessant om teen hierdie agtergrond na Johannes 10:11 te kyk waar Jesus die metafoor van die goeie herder gebruik en sê dat hy soos ‘n goeie herder sy eie lewe ter wille van (huper in Grieks) sy skape. In Johannes 10:17-19 sê Jesus dat hy sy eie lewe neerlê met die doel om dit weer op te tel en dat dit gesien moet word as iets wat deel is van God se plan. Hier kom ons by ‘n belangrike punt in Johannes se teologie. Jesus moet dus sterf sodat hy kan opstaan uit die dood en dat dit deel is van God se plan. In Johannes 12:24 sê Jesus dan baie duidelik dat ‘n saadkorrel eers moet sterf voordat hy kan vermenigvuldig. Dood is dus die voorwaarde en konteks waarbinne die lewe kan ontspruit. Volgens Johannes moes Jesus sterf juis om te kan wys dat hy die bron van lewe is (Joh 1:4). As Jesus dan sterf, sterf hy ter wille van ons, soos ‘n offer, maar anders as in die geval van offers, staan Jesus uit die dood uit op en dit is waar die eintlike fokus lê. Dit is ook by Paulus duidelik dat as hy oor die dood van Jesus praat hy dit nooit losmaak van die belangrike ander kant van die munt, naamlik die opstanding nie (vgl. Rom 4:24-25; 5:6,8,18; 6:4,8-9; 8:11, 34; 10:9; 14:9, 15; 1 Kor 1:23; 2:2; 6:14; 8:11; 2 Kor 4:14; 5:15; 13:4; Gal 1:1; 3:1; 2:21; 6:14). Die Christendom het nie gestol in die dood van Jesus nie. Die storie van die dood van Jesus is van die begin af bedoel om uit te loop op die opstanding van Jesus. Die opstanding illustreer dat Jesus God is en dat hy die mag het oor dood en lewe. Daarom kan Jesus ook lewe gee en word geloof in Jesus die weg na die Vader (Joh 14:6).

In Johannes gebeur daar dan ook iets belangrik na die opstanding. Die dissipels is nog agter geslote deure in Johannes 20:19-23 en vol vrees en ongeloof. Hulle verstaan nog nie hoekom Jesus moes sterf nie. Dan verskyn Jesus aan hulle en blaas oor hulle en sê: Ontvang die Heilige Gees. Daar en dan word die dissipels vervul met die Heilige Gees en uitgestuur om die wêreld met die goeie nuus van Jesus se opstanding te bereik. Indien Jesus nie gesterf het nie, sou hy ook nie opgestaan het nie, en indien hy nie opgestaan het nie, sou niemand weet dat Hy die mag oor lewe en dood het nie en dan was ons nie net vasgevang in ons sonde nie, maar was ons geloof ook leweloos en kaal, leeg soos ‘n verdorde put in ‘n woestyn van pyn.

In kort: hoekom moes Jesus sterf? Hy moes sterf om op te staan uit die dood en aan te toon dat Hy die bron van lewe is en dat God ‘n plan het met ons. Hy moes sterf en opstaan sodat die Heilige Gees uitgestort kon word en mense die leweskeppende krag van God se Gees kon beleef – dieselfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het is immers werksaam in ons (Kol 2:12-15; Rom 6:4; Rom 7:4; Rom 8:11; 1 Kor 6:14; 1 Kor 15).



g Vgl. Joh. 12:32-12:33

[1]Die Bybel : Nuwe Vertaling. 1983 . Bybelgenootskap van Suid-Afrika: Capetown, South Africa

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




Laat sy Liefde jou Lei: Liefde wat anders dink

Laat sy Liefde jou Lei: Liefde wat anders dink – Milanie Vosloo

Liefde wat ánders te dink

Daarop sê Hy vir hulle: “Kom! Word my dissipels en Ek sal julle vissers van mense maak.” Matteus 4:19

Wil jy graag soos Jesus wees? Het jy die begeerte om iets van sy liefde en goedheid uit te straal aan ander en sou jy ook, soos Hy, ‘n genade-mens wou wees? Dan, liewe leser, moet jy – soos Hy – bereid wees om ánders te dink, te doen en te leef. Want ons Meester was inderdaad ánders:

  • Jesus het Hom nie gesteur aan menslike strukture en status nie. Hy het sy boodskap van liefde op gewone plekke aan eenvoudige mense gebring Hy het ‘n groot deel van sy Woordverkondiging in Galilea gedoen – ‘n dorp wat eintlik die godsdienstige “agterland” van Israel was. (Matt 4:12)
  • Wanneer Jesus sy dissipels kies, gaan soek Hy hulle nie tussen die geleerdes nie. Hy roep onder andere vir Petrus, Andreas, Johannes en Jakobus – onbelangrike en ongeskoolde arbeiders – om saam met Hom die pad te loop. (Matt 4:18-20)
  • Wanneer Jesus sy Bergrede rede, praat Hy nie van leiers, begaafde en intellektueles nie. Sy Bergrede gaan oor die treurendes, die afhanklikes, die wat sagmoedig is en hulle wat vervolg word. (Matteus 5-7)

Voordat ons soos Jesus kan wees, moet ons eers enige vooropgestelde idees oor wie en wat belangrik is, neerlê en in die plek daarvan bereid wees om op die onaansienlike stofpad te loop wat Hy ons wys. Wil jy dit doen?

Om U te volg is nie altyd maklik nie, maar Here, ek weet: dis altyd die moeite werd!

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Die Eerste Brief van Johannes (9)

Die Eerste Brief van Johannes (9) – Jan van der Watt

Deel 2: ‘n Geesvervulde lewe – in die gesin van God

Hoofstuk 8: ‘n Lewe … as kind van God

Die lewe is vol geleenthede om regtig Christen te kan wees en ’n verskil te maak. Jy moet egter weet hoe om dit te benut—tussen al die vaaghede en probleme oor die Christelike lewe wat ons dikwels ervaar.

  Die groep is belangriker as die indiwidu

Bye is wonderlike goed! Hulle werk nie net hard nie, maar is ook vir almal ’n voorbeeld van samewerking en opoffering. As ’n by byvoorbeeld ’n klomp blomme met nektar kry, hou hy dit nie geheim nie, maar vlieg dadelik terug nes toe om vir die ander te gaan vertel. Sy groeplede is vir hom belangriker as hyself. Elke by doen ook nie maar net wat hy wil nie, maar tree op soos die groep wil. As die nes bedreig word, sal die by sonder om te vra die aanvaller steek en so sy eie lewe vir die groep gee.

Die rede waarom bye so maak, is omdat hulle nie indiwidueel aan hulleself dink nie. Die groep en die groep se belange is belangriker as die indiwiduele by.

So wil God hê moet sy gesin ook wees!

Met die antieke gesin was dit nie anders nie. In Hoofstuk 3 het jy gesien dat die kerk deur Johannes beskryf word as die “geestelike” gesin van God. Destyds is daar ook gesê dat die gesin as groep belangriker as die indiwiduele lede is. Die pa was die een wat namens die groep die gesag gedra het en die reëls gemaak het. Elke groeplid moes volgens die reëls lewe as hy homself lid van die groep wou noem. Die lid van die groep moes dus nie in die eerste plek vra wat hy of sy self wou hê nie, maar wat die groep van hom of haar verwag! Daarin lê die karakter van die gesin.

God die Vader laat nie sy kinders in die duister oor hoe hulle moet optree nie. Hy sê presies wat Hy van hulle as sy gesin verwag.

  • Lees 1 Joh. 2:3–5 en 3:24. Dink oor hoe hierdie verse verstaan kan word in die lig van wat hierbo oor die Vader en sy gesin gesê is.

Ons word deesdae met moeilike vrae gekonfronteer, byvoorbeeld of aborsie geregverdig is, of homoseksualiteit toelaatbaar is en so aan. Die groot argument van die mense wat hierdie en soortgelyke probleem-sake aan die brand steek, is dat elke mens die reg het om te besluit wat hy wil doen; almal is “vry” en daarom kan die een nie vir die ander voorskryf nie. Kortom, die reg om te besluit wat ek wil doen of nie wil doen nie, lê by myself. So reken hulle.

As die Christen hom- of haarself ’n kind van God wil noem, moet hy

of sy bereid wees om na die Vader te luister.

  1. Dink na oor hierdie vraag wat nou by die Christen opkom: Kan die Christen vir homself besluit wat reg of verkeerd is? Indien nie, na wie moet die Christen dan luister om te weet wat reg of verkeerd is?

As die Christen hom- of haarself ’n kind van God wil noem, moet hy of sy bereid wees om na die Vader te luister.

 

Ouboet, help!

Die kerk—die gelowiges—is die gesin van God. In die gesin is Jesus die spesiale, unieke Seun van God (vgl. Joh. 1:18 en 3:16). As Seun van die Vader is Hy egter ook die gelowiges se “Ouboet”.

Hoe sal die gelowiges nou weet hoe die Vader wil hê dat hulle in die wêreld moet optree? Die Vader is immers onsigbaar (Joh. 1:18). Die onsigbare Vader het egter ’n plan gemaak. Hy het sy Seun gestuur om vir ons as voorbeeld te dien van wat Hy van ons verwag. Kyk maar na Hom en jy sal weet hoe om op te tree.

Presies hoe ons moet optree, het Jesus aan ons kom wys.

  1. Vul nou by elke Skrifgedeelte hieronder in wat oor die verhouding tussen die gelowige en Jesus gesê word. Skryf telkens in die eerste reël wat oor Jesus gesê word, en in die tweede reël wat oor die gelowige gesê word.

1 Joh. 2:6:

1 Joh. 2:29:

1 Joh. 3:3:

1 Joh. 3:5–6:

1 Joh. 3:16:

1 Joh. 4:17

(1) Hoe, sou jy sê, moet die gelowige se lewe lyk volgens die beskrywings in die verse hierbo?

(2) Behoort daar ’n verskil te wees tussen die manier waarop die gelowige in ’n situasie optree en hoe Jesus in dieselfde situasie sou optree? Waarom sê jy so?

Persone wat aan dieselfde gesin behoort, tree dieselfde op. Presies hoe ons moet optree, het Jesus aan ons kom wys.

 

Vader, hoe moet ek optree?

Die pa van die antieke gesin het die gedrag van die gesin bepaal. Die pa was immers die een wat gesê het wat reg en wat verkeerd is.

Wie ’n kind van God wil wees, moet soos ’n kind van God optree!

Lidmaatskap aan die gesin eis gehoorsaamheid aan die Vader.

’n Paar vrae duik nou op:

(1) Hoe is die gelowige se Pa? (1 Joh. 4:8 en 16.)

(2) Hoe moet die kind wees? (1 Joh. 4:7–8 en 16.)

(3) Hoe belangrik, dink jy, ag God die werke van die gelowige? Verduidelik dan ook hoekom jy so sê.

(4) Wat moet ’n mens aflei as ’n persoon sê dat hy of sy wel ’n gelowige is, maar nie eintlik so optree nie? (1 Joh. 3:10 en Jak 2:14–17.)

Wie ’n kind van God wil wees, moet soos ’n kind van God optree! Lidmaatskap aan die gesin eis gehoorsaamheid aan die Vader.

(5) Dink nou aan die volgende vraag: Hoe wil die Vader hê moet sy kinders oor hulleself dink? Kies elke keer hieronder Ja of Nee. Motiveer telkens waarom jy ‘n spesifieke keuse maak.

  •  Ek is maar ‘n arme sondaar wat tot niks goeds in staat is nie. Eintlik probeer ek nie eers nie, want ek weet sommer ek gaan misluk.

Ja/Nee

Motiveer:

  •  Ek kan soos Jesus wees.

Ja/Nee

Motiveer

  •  Ek moet net my bes probeer om soos Jesus te wees, hoewel ek weet ek kan eintlik nie.

Ja/Nee

Motivering:


Die lewe is vol geleenthede

Dink net daaraan: As ’n mens die lewe positief sien, kan dit nogal ’n verskil maak! Die lewe is immers vol geleenthede om regtig Christen te kan wees.

Neem byvoorbeeld die kere wat jy jou liederlik vir iemand vererg en hom net wil invlieg! Wag so ’n bietjie! Besef dit: Ergernisse en probleme is eintlik vir jou ’n kans om jou Christenskap uit te leef! As jy liewer nie jou humeur verloor nie, maar liefdevol reageer, bereik jy mos iets konstruktief tot eer van God! Versoekings en beproewings is geleenthede om VIR GOD TE LEEF!

Ergernisse en probleme is eintlik vir jou ’n kans om jou Christenskap

uit te leef! As jy liewer nie jou humeur verloor nie, maar liefdevol

reageer, bereik jy mos iets konstruktief tot eer van God!

Versoekings en beproewings is geleenthede om vir God te leef!

’n Christen moet nie van die probleme van die lewe weghardloop nie, maar moet die lewe positief soos Jesus aanpak. Watter vertroue plaas God nie in ons nie: om van ons te verwag om sy gesin—soos Jesus—in die wêreld te gaan wees!

Kyk nou eers met aandag na hoe jy die voorbeeld van Ouboet Jesus navolg. Hoe positief leef jy jou lewe? Sien jy dinge rondom jou as geleenthede om vir God te leef?

Vra vir liefde soos Jesus liefgehad het, vir reinheid soos Jesus rein was, vir regverdigheid soos Jesus regverdig was … vir ’n lewe soos Jesus se lewe!

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




God se heerlikheid

God se heerlikheid – Francois Malan

Christa vra:

Verduidelik asseblief vir my die term: :God as heerlikheid.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

God as heerlikheid (die Griekse woord doksa)

Die Hebreeuse woord vir heerlikheid kabood word in die Ou Testament gebruik om iemand se eer of aansien aan te dui (vgl. Ps.95:1), maar veral die mag van God (Ps.19:2 wat oor sy skeppingsmag handel). Die Griekse vertaling van die Ou Testament het die Hebreeuse woord kabood met doksa vertaal om veral God se mag en sy eer mee weer te gee. Sy mag is ‘n uitdrukking van sy wese, en sy eer is die eer wat mense en engele aan Hom gee oor sy mag. Sy goddelike heerlikheid word in sy skepping en ander dade gesien. So word sy verskynings gesien as uitdrukkings van sy goddelike ligglans, soos by Sinai en aan Moses in die tent van ontmoeting, en daarna skitter selfs Moses se gesig (Eks.34:29-35). Die Nuwe Testamentiese gemeentes en skrywers het veral die Griekse vertaling van die Ou Testament gebruik. En daarom gebruik hulle die woord doksa heerlikheid, om die eer en die mag van God uit te druk, maar ook sy goddelike wese (bv. Lukas 2:9; 9:29-31).

Kol.1:11 Mag God wat oor al die mag en die heerlikheid beskik, julle versterk en aan julle al die krag gee om in alle omstandighede met geduld te volhard (NAV). Letterlik: mag julle versterktes wees met alle krag volgens die krag van sy heerlikheid (= sy heerlike krag) vir alle volharding en geduld met vreugde.

In hierdie teks gaan dit nie eintlik oor die heerlikheid van God nie, maar oor die heerlikheid van sy mag, sy verbasende mag. – dit wat ‘n mens verwonder, waaroor jy verbaas is. So ook bv. in Romeine 6:4.

Ook in Joh.11:4: Jesus sê dat Lasarus se siekte nie op die doop sal uitloop nie, maar op die openbaring van die heerlikheid (NAV mag) van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word – dit geskied toe Jesus Lasarus uit die dood opwek en baie mense tot geloof in Jesus gekom het (Joh.11:45). Weereens is dit die mag waaroor ‘n mens verbaas staan, en daardeur sal die Seun van God eer en lof ontvang.

In Joh.11:40 vertaal die NAV ook die woord doksa met mag.

Joh.12:43 lui letterlik: hulle (die lede van die Joodse Raad wat te bang was om hulle geloof in Jesus te bely) het die eer (doksa) van mense meer liefgehad as die eer (doksa) van God.

In Handelinge 7:55 het Stefanus die heerlikheid van God in die hemel gesien, en Jesus wat aan die regterhand van God staan. Hier gaan dit om die ligglans van God.

Romeine 3:23 sê letterlik: want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (OAV). Die NAV vertaal die heerlikheid van God net as God. Dit gaan oor sy wese.

2 Korintiërs 4:6 sê: God wat gesê het: Laat daar lig skyn uit die duisternis (Genesis 1:3), het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.’ Hier word die heerlikheid van God gesien in die neerbuigende liefde van Christus wat vir ons aan die kruis gesterf het en deur God opgewek is (3:14)

1 Timoteus 1:11 ‘…die evangelie van die heerlikheid van die goeie God’ (NAV; of: die heerlike evangelie van die geseënde God). Dit beskryf die boodskap van verlossing wat die sigbare heerlikheid van God openbaar in die Christus gebeure. Dit is God se heerlikheid wat sigbaar word in sy krag en majesteit met die dood en opwekking van Christus omdat Hy die wêreld so liefhet dat Hy sy enigste Seun gegee het, om ons van sonde te verlos en ons deel te gee aan die ewige lewe saam met Hom (Joh 3:16).

In Johannes 13:31-35 sê Jesus dat die Seun van die mens verheerlik word deur sy sterwe en opstanding uit liefde vir die wêreld, en dat God daardeur verheerlik word. En as ons mekaar liefhet word die Seun en die Vader verheerlik in die wêreld. Die heerlikheid van God word geopenbaar in sy liefde (vgl. 1 Joh 4:7-16 God is liefde, die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees is ‘n liefdesverhouding waarin ons deel kry deur die Heilige Gees wat in ons woon). Deur Jesus se kruisweg leer ons dat God se heerlikheid geleë is in sy nederige neerdaal na ons toe en ons opneem in sy heerlikheid, om soos God en Jesus lief te hê.

Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun van die mens op sy heerlike troon sit, sal sy volgelinge ook op trone sit en regeer (Matteus 19:28). Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, die Heilige Gees verander ons al meer om aan die beeld van Christus gelyk te word, aan sy liefdesdiens, en die heerlikheid wat van ons uitstraal as ons in nederige liefde ons medemens dien neem steeds toe deur die werking van die Gees in ons en met ons deur sy woord (2 Kor.3:18).

 

Skrywer: Prof Francois Malan