Kolossense 1

Kolossense 1 – Francois Malan

Christa vra: 

Wat is die verband tussen Kol 1:21-23 en Kol 1:15-20?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Verband

Soos in sy ander briewe begin Paulus die brief aan die Kolossense met ‘n inleiding en groete (1:1,2).

Daarna volg Paulus se gebruiklike dank aan God vir sy lesers se (i) geloof in Christus en (ii) liefde vir hulle mede-gelowiges, wat albei gebaseer is op hulle vaste hoop op Christus (1:3-8).

In 1:9-14 vertel hy van sy voorbidding vir die gemeente. Hy bid dat God hulle sal vul met die kennis van sy wil om ware geestelike insig te bekom, dat hulle daarvolgens sal lewe om God ten volle te verbly met hulle goeie dade en groeiende insig in sy wil, dat hulle met al die krag wat van God se heerlikheid af kom versterk sal word om in alle omstandighede met geduld en vreugde te volhard met hulle goeie dade en groei in kennis van God. En dat hulle God sal dank vir sy magtige en genadige werk in hulle deur hulle te red uit die krag van die duisternis, en hulle oor te plaas in die koninkryk waar sy geliefde Seun regeer, nl. Christus wat ons verlos en ons sonde vergewe.

Daarop volg 1:15-20 met ‘n loflied oor Christus as die Here van die skepping en die van die herskepping. God het alles in gemeenskap met Hom en deur Hom geskep, alles word deur Hom onderhou, en Hy is die einddoel van die hele skepping. Daarby is Hy die hoof van die kerk, wat deur Hom beheer word en wat vir hulle lewe en krag afhanklik is van Hom, wat eerste uit die dood opgestaan het. Deur Hom het God die hemel en die aarde teruggebring na die doel wat God daarmee het – om te lewe onder Christus se beheer en in vrede.

Die woorde van 1:21-23 gebruik frases en idees van die lofsang en pas dit op die lesers toe. Die kort gedeelte, wat uit drie sinne bestaan, tussen die lofsang en Paulus se stelling oor sy taak as apostel (1:24-2:5) is in die direkte rede: ‘Ook julle..’ is met klem voorop en lei Paulus se interpretasie van die loflied en sy toepassing daarvan op die lesers in. Hy onderskei skerp tussen die lesers se verlede in die heidendom en hulle huidige posisie in Christus.

Drie temas van die loflied word op die lesers toegepas: versoening (1:20 en 22); die versoening is bewerk deur Christus se dood (1:20 en 22); omdat Christus oor alles regeer wat in elk geval deur Hom geskep is, word die evangelie aan alle mense op die aarde verkondig (1:16 en 23).

Die doel van Christus se sterwe ‘om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel (1:22) brei uit op die voorbidding in 1:10, dat hulle tot die eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang.

Die vier begrippe: die geloof waarin hulle vas en sterk moet staan, en die hoop waarvan hulle hulle nie moet laat losruk nie, die evangelie wat hulle gehoor het, wat vinnig oor die aarde versprei (in 1:23) is reeds gebruik in die danksegging (4-6). In die danksegging word God, die Vader van Jesus Christus gedank dat dit alles by die gemeente uitgekom het. In 1:23 word dit aan die gemeente opgedra om daarin vas te staan.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Eerste Brief van Johannes (8)

Die Eerste Brief van Johannes (8) – Jan van der Watt

Deel 2: ‘n Geesvervulde lewe – in die gesin van God

Hoofstuk 7: Vervulling met die Gees

Die landerye onderkant ’n besproeiingsdam kan alleen vrug lewer as dit water uit die dam kry. So kan ’n gelowige alleen sinvol leef deur die krag van die Gees van God wat elke gedagte, daad, beweging of gesindheid “vul”. Die gelowige is van die Gees van God afhanklik om ’n normale Christelike lewe te lei! En tog is ons ervaring en verstaan van die Gees so vaag.

  Hoe weet ek dit is die Gees?

Sê eers vir jouself duidelik hoe jy die werk van die Heilige Gees in jou verstaan deur die volgende twee vrae te beantwoord.

  1. Verduidelik hoe jy die “vervulling met die Heilige Gees” verstaan.

  1. Hoe kan ’n mens (prakties) weet dat die Heilige Gees in jou werk?

Twee-uur een nag lui die telefoon. Jy skrik jou boeglam en wonder wie siek of miskien dood is!

Toe jy optel, hoor jy ’n kerkvriendin van jou vrou. Sy val met die deur in die huis en begin jou uitvreet oor wat jy alles verkeerd doen. Sy sê die Heilige Gees het nou vir haar gesê om vir jou te sê dat jy jou moet bekeer. Jy is op pad hel toe as jy so aangaan! Kaplaks sit sy die telefoon weer neer.

Die Heilige Gees tree net binne die raamwerk van Jesus en

sy verkondiging op. En dit is die raamwerk waarvan ons in die evangelie

van Jesus Christus leer!

Jy het eers gewonder waaroor dit gaan. Toe hoor jy jou vrou het by ’n Bybelstudie ’n opmerking gemaak dat jy so besig is dat jy selfs na ure moet werk. Die vriendin het dit duidelik verkeerd vertolk. Om een of ander rede het sy gevoel sy moet jou bel en jou regsien.

Sy beweer egter dat dit die Heilige Gees is wat haar gelei het…

Die groot vraag by baie Christene is: Hoe weet jy of hoe kan jy weet of dit regtig die Heilige Gees is wat met jou praat?

Dink na oor die volgende vraag en formuleer ’n antwoord daarop:

Wanneer kan jy seker wees die Heilige Gees lei jou?

Mense sê gedurig die Heilige Gees het dit of dat vir hulle gesê, of het hulle sus of so gelei. Dikwels kry ’n mens in ’n gesprek met so ’n persoon selfs die gevoel dat God jou vergeet het, omdat dit klink of God so direk met hierdie mense praat. Wat van jou? Hoekom “hoor” jy God nie so duidelik soos hulle nie?


Die taak van die Heilige Gees

Johannes gee nogal ’n duidelike beskrywing van die taak van die Heilige Gees. Die taak word deurgaans in die lig van Jesus beskryf.

Lees die volgende gedeeltes en dui elke keer aan wat die Heilige Gees doen.

1. Joh. 14:25–26:

2. Joh. 15:26:

3. Joh. 16:13–15:

4. Gal. 1:8:

Die Heilige Gees tree net binne die raamwerk van Jesus en sy verkondiging op. En dit is die raamwerk waarvan ons in die evangelie van Jesus Christus leer!

Dit is interessant dat volgens Joh. 16:13 die Gees ook dinge gaan openbaar wat nog gaan kom, maar dat dit nie in botsing is met die verkondiging van Jesus nie!

Daarmee het die Bybel eintlik aan ons ’n belangrike sleutel gegee om vas te stel of te “toets” of die Heilige Gees by iets betrokke is of nie.

Die toets vir die Gees: As iets met die EVANGELIE VAN JESUS bots, of op punte nie daarmee ooreenstem nie, kom dit nie van die Heilige Gees nie!

 

Toets die “Gees”

In die vroeë kerk was daar ook mense wat beweer het dat hulle “deur die Gees” praat. Dat daar sulke groepe in die Johannese gemeente was, het ons alreeds in die eerste Bybelstudie gesien.

As iets met die evangelie van Jesus bots, of op punte nie daarmee

ooreenstem nie, kom dit nie van die Heilige Gees nie!

Die probleem met die bewering: “die Heilige Gees het vir my gesê,” is dat dit nie kontroleerbaar is nie. As iemand dit vir jou sê, voel jy nie dat jy eintlik met hom of haar kan stry nie. Dit mag lyk of jy die gesag van God nie wil erken nie!

Moet ’n mens iemand wat sê dat hy of sy deur die Heilige Gees praat, “toets” en indien wel, hoe? (Kyk ook weer na die deel wat hierbo bespreek is.)

Vergelyk jou antwoord met die antwoord wat jy op die vraag net na die vertelling van dié voorbeeld aan die begin gegee het.

 

Vervul met die Gees

Ons hoor dikwels dat daar gesê word dat elke gelowige die Heilige Gees in hom of haar het.

Tog is daar gelowiges wat sê dat baie mense wat hulleself Christene noem, nie eintlik weet wat die “krag” van God se Gees oftewel die “vervulling met die Heilige Gees” regtig beteken nie! Maar as ’n mens die slag “vervul” is en daardie wonderlike ervaring gehad het, is dinge vir jou nooit weer dieselfde nie.

Nou wonder ’n mens: hoe pas die bewering dat alle gelowiges die Heilige Gees het by die bewering dat ’n mens spesiaal met die Gees vervul moet word?

  1. Kan altwee die bewerings direk hierbo gelyktydig waar wees? Dink hieroor en soek ’n oplossing.

  1. Lees Joh. 14:16–17; 1 Joh. 3:24; Rom. 8:9 en 1 Kor. 12:3. Wat sê hierdie verse oor die vraag of die gelowige die Heilige Gees het?

  1. Wat sê Joh. 14:26; 16:13; Gal. 5:25 en Rom. 8:5 oor die manier waarop die Heilige Gees in ons lewe teenwoordig is en ons lewe wil beïnvloed?

Vervulling is ’n verhouding

As dit gaan oor die vervulling met die Heilige Gees, moet ons onthou dat dit gaan oor ’n verhouding wat tussen twee persone bestaan.

As jy onseker is hoe die vervulling met die Gees werk, dink daaraan

hoe ’n verhouding tussen twee persone werk. Gebruik dit dan as

voorbeeld vir die manier waarop jy die verhouding tussen die Gees

en jouself kan verstaan!

Daarom word uitdrukkings gebruik soos: ons moet ons deur die Gees laat lei of laat beheers. Dit beskryf die verhouding wat daar tussen ons en die Gees bestaan.

Die Gees is in ons. Die Gees maak soos ’n intieme vriend deel van ons lewe uit.

Die Gees wil bewustelik invloed op ons uitoefen deurdat die Gees ons wil lei of beheers.

Soos in die geval van enige verhouding is dit egter moontlik om die invloed van die ander party te ignoreer en net te doen wat jy wil. Dan bedroef so ’n persoon die ander party. Net so kan die gelowige die Gees bedroef.

Dit beteken nie dat hulle nou sonder die Gees is nie, maar dat hulle verhouding met die Gees vertroebel is. Soos in ’n gewonde verhouding moet hierdie saak reggestel word deur die verhouding te suiwer. Gaan op jou knieë en praat die probleem uit en herstel die verhouding.

Wie egter konstant bewus is van die Gees se teenwoordigheid in sy of haar lewe en sy wil en besluite geheel en al ondergeskik maak aan die leiding van die Gees, sal in alles wat gedoen word die wil van die Gees ten volle (vervuld) uitleef.

Soos in die geval van ’n gewone verhouding voel ’n mens soms nader aan die ander persoon en soms verder van hom af. Jy voel nie altyd dieselfde nie, maar dit verander nie die feit dat daar ’n verhouding tussen julle bestaan nie.

Net so met die Gees. Dit mag wees dat jy ’n besondere ervaring van die nabyheid van die Gees het en oorspoel word deur die bewustheid van sy nabyheid. Later mag die “gevoel” weg wees, maar dit beteken nie dat die Gees nou minder by jou is nie.

Die belangrike ding is dat daar by jou die begeerte moet wees om jou in gehoorsaamheid deur die Gees te laat lei. Jy moet geestelik sensitief bly vir sy teenwoordigheid en leiding in jou lewe.

As jy onseker is hoe die vervulling met die Gees werk, dink daaraan hoe ’n verhouding tussen twee persone werk. Gebruik dit dan as voorbeeld vir die manier waarop jy die verhouding tussen die Gees en jouself kan verstaan!


Dink biddend na oor jou verhouding met die Heilige Gees. Vra jouself:

Hoe is my verhouding met die Gees? Hoe bewus is ek van die Gees in my lewe? Is ek bewus van sy “stem” in my lewe?

Hoe gehoorsaam is ek aan die wil van die Gees in my lewe?

Vra dat die Gees jou lewe lei, wat beteken dat jy jou wil volledig in die hand van die Gees lê.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Die Christen se wapenrusting

Die Christen se wapenrusting – Francois Malan

Estelle het drie vrae oor die Christen se wapenrusting gevra. Hulle word as ‘n eenheid hanteer: 

(a) Verduidelik die Wapenrusting en waarom hierdie voorbeeld as agtergrond gebruik word deur Paulus?  

(b) Verduidelik die oorlogsterrein in Efesiers met die wapenrusting.

(c) DieWapenrusting: verduidelik die geveg, die neerlaag, die oorwinning 

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

1. Die agtergrond van die volle wapenrusting van God wat Paulus gebruik is die profesie van Jesaja wat die wapenrusting van die Here en sy Messias (gesalfde koning) beskryf in Jes.11:4-5; 59:17; vgl. 49:2; 52:7.

Jes.11 praat van die Messias koning uit die geslag van Dawid. Nadat God vir Assirië gebruik het om Israel met brute geweld in ballingskap weg te voer, omdat hulle God verlaat het, ten spyte van die waarskuwings van Amos, Hosea en Jesaja, het Hy Juda laat oorbly en konings soos Joas en Hiskia uit die nageslag van Dawid die seun van Isai vir Juda laat terugkom na die Here, en hulle het met geregtigheid regeer omdat die Gees van die Here op hulle gerus het (Jes.11:1-2).

11:4b sê letterlik: (Die Here) sal die aarde met die roede (rottang) van sy mond en met die asem van sy lippe die goddeloses doodmaak (soos in die OAV – ou Afrikaanse vertalings van 1933/53. Die NAV – nuwe Afrikaanse vertaling van 1983 sê: Hy sal die goddeloses in die land hard oordeel, met sy uitsprake sal hy hulle om die lewe bring)

Die Here se krag word hier uitgedruk met die roede van sy mond en die asem van sy lippe. Die brute krag van die bosbouer sal nie meer nodig wees om Israel uit te kap nie. Egte gesag sal deur die koning se wetgewing uitgeoefen word, en die skuldige misdadiger sal deur ‘n ordelike regsproses aan bande gelê word.

Vgl.Ef.6:17 se swaard van die Gees, dit is die woord van God.

11:5 sê letterlik: En geregtigheid sal die gordel om sy lende wees, en getrouheid die gordel om sy heupe (soos die OAV. NAV sê: hy sal regverdig en betroubaar regeer).

Vgl. Ef.6:14 die waarheid as gordel om julle heupe, met die borsplaat van geregtigheid (NAV vryspraak deur God).

In Jesaja 49, 52 en 59 praat ‘n profeet in die gees van Jesaja oor die Persiese konings wat God gebruik het om Juda terug te stuur na Jerusalem, nadat die Babiloniërs onder Nebukadneser hulle na Babel weggevoer het (vgl. 44:28-45:1 vir die Persiese koning Kores).

49:2 praat van die mond wat ‘n skerp swaard is, vgl. Ef.6:17 se swaard van die Gees, dit is die woord van God.

52:7 praat van die voete van die boodskapper van die goeie tyding, vgl. Ef.6:15 se bereidheid om die evangelie (goeie boodskap) van vrede te verkondig as skoene aan die voete.

Jes.59:17 praat van geregtigheid soos ‘n pantser en redding as die helm op sy kop – vgl. Ef.6:14 se borsharnas van geregtigheid (NAV vryspraak), en 6:17 se helm van verlossing.

In Efesiërs 6 praat Paulus van elke gelowige. God gee, deur sy Gees wat in ons kom woon het, aan ons die krag om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in ons harte sal woon met sy liefde, om ons daarin te wortel en te grondves, dat ons gevul mag wees met die volheid van God se liefdeskrag (Ef.3:14-19). Daarom loop Paulus se hele argument in die brief uit op die oproep om die volle wapenrusting wat God tot ons beskikking gestel het, aan te trek. 6:10 sê letterlik: word sterk gemaak! (NAV soek julle krag). Dit gebeur deur ons noue verbindtenis en gemeenskap met die Here (Jesus Christus) as die bron van ons krag. Ons staan nie meer onder die tirannie van die vors van die onsigbare bose magte nie, die gees wat aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is nie (2:2). Ons staan nou onder Christus se regering van liefde met Hom as ons hoof (1:21; 3:18).


2.  Die oorlogsterrein van Ef.6 is die stryd van die Here se kerk gesamentlik en elkeen wat in Christus glo afsonderlik teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose geeste in die lug, die listige aanslae van die duiwel (6:11-12), dit is die Bose mag vir wie hierdie wêreld se mense volg in ongehoorsaamheid aan God (2:2). Dit is God wat stry teen die satan wat ons aanval, en Hy staan ons in die stryd by. Met die aantrek van God se volle wapenrusting wat Hy aan ons beskikbaar stel, gebruik Paulus ‘n beeld, soos hy in 4:22-24 letterlik die beeld van ou klere uittrek en nuwe klere aantrek gebruik het (soos in OAV. NAV sê: breek met die ou sondige mens in julle…lewe as nuwe mense). Die oorlogsterrein is ons alledaagse lewe (lees die bespreking daarvan in Ef.4:25-5:21: ons stryd teen: leuens, kwaadword, steel, vloek, bitterheid, woede, lastering, hoerery, gierigheid, dronkenskap.


3.  Die geveg. Dit is ‘n geveg om te lewe soos kinders van God wat vasstaan teen die aanslae van die duiwel (vier maal word die woord staan, vasstaan, weerstaan gebruik: 6:11,13,13,14). Daar is aanhoudend en ‘n wye verskeidenheid van aanslae van die duiwel. V16 sê dit soos brandende pyle wat hy teen ons afskiet. Dit kom as versoekings in ons om verkeerd op te tree, maar kom ook van buite deur mense en groepsdruk wat ons verlei (soos die reeks in 4:25-5:21 aandui). Christus het reeds die stryd gestry en oorwin. Daarom moet ons by Hom skuil, en deel in sy oorwinning deur nee te sê vir die versoekings van ons eie hart en geaardheid, en beklee word met die liefde van Christus in ons denke en optrede. Paulus noem die geveg ‘n worstelstryd (NAV stryd) met ‘n beeld uit die stoeigevegte van sy tyd (v12). Maar hier is dit nie twee liggame se spierkrag teen mekaar nie, maar ons gees teen die bose gees wat ons aanval in ons denke en optrede, en van buite deur die denke en optrede van ander mense.

Ons wapens is egter die waarheid as gordel om ons heupe (6:14), soos die Romeinse soldaat se leer gordel wat sy onderlyf en bobene beskerm teen pyle. Ons moet die waarheid van die evangelie se verlossing en nuwe manier van lewe aantrek en dit in ons houding, taal en gedrag uitleef (4:25).

Ons borsharnas is geregtigheid (4:25; NAV vryspraak), die regte verhouding teenoor God en die regte optrede teenoor mense (vgl. 4:24 volgens die wil van God; 5:1,2 in liefde). Die Romeinse soldaat het ‘n koper borsplaat gedra om sy borskas en hart te beskerm teen pyle en swaarde. So moet ons harte beskerm word deur reg te lewe met God en ons medemens.

Die Romeinse soldaat het leerskoene gedra vir die lang opmarse sodat sy voete kan bly marsjeer of hardloop (6:15). Die gelowige moet gereed wees om die goeie nuus van die vrede wat Christus vir ons met God en met mekaar bewerk het (2:14-18) te gebruik om op die geestelike terrein te gaan veg teen die ongelowiges, deur vir hulle van die vrede te vertel en dit teenoor hulle uit te lewe.

Geloof as skild (6:16). Die Romeinse soldaat het ‘n groot skild gedra, met ‘n houtraam wat met kalfsvel oorgetrek is en bo en onder met yster versterk is, om sy hele liggaam te bedek teen pyle wat met pik gesmeer en brandend afgeskiet is, en swaard aanvalle. Die geloof is vir die Christen sy skild teen die aanvalle van die Bose. Die geloof is ook ‘n gawe van God (2:8 letterlik: dit – nl. redding en geloof; NAV redding). Dit is vertroue in God, in Hom wat ons saam met Christus Jesus uit die sonde opwek en ons gemaak wat ons nou is. In Christus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (2:7,10).

Die helm van verlossing (6:17). Dit moet ontvang word (NAV opsit). Die Romeinse soldaat het ‘n bronshelm gedra om sy kop te beskerm. God het ons verlos uit die dood, die oordeel oor ons sonde, en die slawerny van die sonde, en ons in die nuwe koningkryk geplaas waar Christus regeer. Dit is sy gawe aan ons. Daarmee moet ons kop en ons denke gevul word.

Die swaard van die Gees (6:17). Die duiwel moet nie slegs teengestaan word nie, maar ook aangeval word. Die woord wat hier gebruik word, is die kort swaard wat die Romeinse soldaat gebruik het in man tot man geveg. Die Gees maak die swaard wat ons hanteer kragtig. Die swaard is die woord van God, die evangelie, die goeie nuus oor Christus se verlossing wat ons aan ander vertel, en wat die Gees gebruik om hulle te oortuig.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Eerste Brief van Johannes (7)

Die Eerste Brief van Johannes (7) – Jan van der Watt

Deel 2: ‘n Geesvervulde lewe – in die gesin van God

Hoofstuk 6: Daar is God! … maar dis dan Jesus!

Waar sou ons sonder Jesus gewees het? Ons sou ten minste God nie werklik geken het nie, ons sou nie geweet het hoe om op te tree nie, ons sou geestelike lyke gewees het. Maar nou weet ons beter… En tog wonder ons nog watter verskil dit regtig in ons lewe bring.

  

Jesus, die Een wat God kom “verklap”

 

Kan jy jouself indink hoe dit was voor die wêreld geskep is? Al wat daar was, is God. By Hom alleen was die ewige lewe, die waarheid, vrede, wysheid en so aan. Met die skepping het God alles volgens sy wysheid gemaak en lewe aan die skepping gegee. Soos ’n skilder met ’n skildery het God iets van hierdie kwaliteite van Hom in die skepping weggelê. Daarom kan ons iets van God uit die skepping leer!

Tog het God onsigbaar gebly (1 Joh. 4:12)—Hy was nie in die skepping vasgevang nie. Geen mens het direkte toegang tot Hom gehad nie. Deur drome, gesigte, profete en so meer het Hy met die mense op aarde gepraat.

Jesus het alles egter kom verander. Hy, wat self God is (1 Joh. 5:20), het sigbaar as mens na hierdie aarde gekom. In sy woorde kon ons die woorde van God self hoor en in sy optrede kon ons die manier sien waarop God werklik wil hê dat ons sinvol moet leef. Nou hoef ons nie op indirekte manier (deur die skepping of deur drome) na God te soek nie. In Jesus leer ons wat God regtig van ons verwag.

Daarom noem ons die Christendom ’n openbaringsgodsdiens. Ons suig nie sommer wat ons glo uit ons duim uit nie, maar glo dat God dit self aan ons kom wys het deur sy Seun, Jesus.

Deur Jesus in ons optrede en gesindhede na te volg, kan ons sê

dat ons werklik leef soos God vir ons bedoel het om te leef.

Deur Jesus in ons optrede en gesindhede na te volg, kan ons sê dat ons werklik leef soos God vir ons bedoel het om te leef.

  • As Jesus die voorbeeld is van hoe ons lewe moet lyk en hoe ons moet optree, maak ’n lys van die manier waarop Jesus opgetree het. Skryf direk na elkeen van jou stellings ’n voorbeeld of twee. Laat die regterhandse kolom oop vir vraag (ii) hieronder. Die regterhandse kolom met kleiner as die linkerhandse kolom wees.

Jesus het/was:

  • Meet jou lewe aan wat jy van Jesus hierbo gesê het: gee jouself in die regterkantste smal kolom hierbo ’n punt uit tien vir elke eienskap wat jy van Jesus opgenoem het.

Wanneer jy jouself bepunt, onthou: Jesus moet as voorbeeld vir jou lewe dien.

Wie jy is, is wat jy kan doen. En wat jy kan doen, wys wie jy is.

  1. Lees die volgende dele in die evangelies. Skryf in die linkerkolom hieronder die kwaliteite wat uit 1 Johannes kom. Pas dan die Skrifgedeeltes in die regterkolom by die ooreenstemmende kwaliteite van Jesus in die linkerkolom.


1 Johannes 1:2

Johannes 4:39 – 42

1 Johannes 3.3 

Lukas 23:47

Johannes 18:38

Johannes 19:4

1 Johannes 3:5 

Matteus 15:10 – 20

1 Johannes 4:14

Johannes 11:25

Johannes 14:6

1 Johannes 5:18

Johannes 10:28

Vergelyk nou hierdie kwaliteite met wat jy in Vraag 1 hierbo geantwoord het.

ONTHOU: Wie jy is, is wat jy kan doen. En wat jy kan doen, wys wie jy is.

 

Jesus, die rein en sondelose Redder

Die pa sorg dat dit reg gaan in sy gesin. Hy is verantwoordelik daarvoor om aan die kinders te leer hoe hulle moet optree.

Die manier waarop ons hemelse Vader dit doen, is deur sy Seun as VOORBEELD vir sy ander kinders te stuur (soos jy hierbo gesien het).

As Jesus vol sonde was, sou Hy ons werklik kon red uit ons sonde uit?

As Jesus onrein was, sou Hy ons werklik rein voor God kon stel?

As Jesus nie sterker as Satan was nie, sou Hy ons kon bewaar?

Jesus is die sondelose en rein Redder. Die groot vraag in die

Christendom is: Wie is Jesus vir jou?

Dit is duidelik dat Jesus ons Redder kan wees omdat Hy werklik sondeloos en rein is.

Jesus is die sondelose en rein Redder.

Die groot vraag in die Christendom is: WIE IS JESUS VIR JOU?

Jou antwoord oor wie Jesus vir jou is, beantwoord ook die vraag wat Hy vir jou kan doen!

Word ’n paar oomblikke stil en dink na oor wie Jesus werklik vir jou is!


Jesus reken met Satan af!

  • Wat was die doel van die koms van Jesus volgens 1 Joh. 3:8?
  • Op watter maniere, dink jy, het Jesus hierdie doel van Hom bereik?
  • Hoef ons nou glad nie meer bekommerd te wees oor Satan nie? Hoekom sê jy so?
  • Lees nou 1 Joh. 5:21 en dink oor wat Johannes daarmee bedoel.

 

Jesus is ook God!

1. As iemand vir jou vra: “Is Jesus God?” wat sou jy antwoord?

2. Kyk hoeveel “bewyse” jy uit die Bybel kan kry dat Jesus regtig God is.

3. Lees nou 1 Joh. 5:20; Joh. 1:1, 18; en 20:28.

4. Hoe moet ’n mens 1 Joh. 2:23; Joh. 10:30 en 17:21 verstaan?

5. Wat sê die gedeeltes hierbo oor die “Drie-eenheid”?


Voor jy verder gaan met die dinge van jou dag, staan stil by Jesus, die enigste Verlosser. Dink hoe jou lewe sonder Hom sou uitsien.

Bid dat Hy elke hoekie van jou lewe vul, in elke woord van jou sal wees, in elke daad van jou sigbaar sal word.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt