Laat sy Liefde jou Lei: Hy het jou lief – ook wanneer jy nie het nie!

Laat sy Liefde jou Lei: Hy het jou lief – ook wanneer jy nie het nie! – Milanie Vosloo

Hy het lief – ook wanneer jý nie het nie!

Deur die krag van sy Goddelike heerlikheid sal Hy julle toerus met al die krag wat julle nodig het om in alle omstandighede geduldig te volhard. Kolossense 1:11

Daar’s tye wanneer ons sukkel om lief te hê. Dis die dae wanneer ons eintlik sommer net vir die wêreld en God wil gaan wegkruip. In sulke liefde-arm-tye is dit maklik om te wonder of ons Here ons nog lief het. Hoe op aarde kan Hy ons tog bly liefhê as ons nie eens lus is om tyd vir Hom te maak nie, wonder ons.

Een van die wonders van ons Vader, is dat sy liefde nie afhanklik is van die diepte van ons liefde vir Hom nie. Hy is nie wispelturig, uitsoekerig en veranderlik in sy liefde nie. Nog minder laat Hy Hom beïnvloed deur ons afsydigheid! Veel eerder vou sy genade met ekstra deernis om ons wanneer ons soms ons rug op Hom draai.

Weet vandag: Jesus se hart klop élke dag vuurwarm vir jou. Daar waar jy met jou gewone dagtaak aangaan en nie eens aan Hom dink nie, waak Hy onverpoos oor jou. Wanneer jy Hom ignoreer of vir Hom wegkruip, is Hy steeds by jou. Ja, in jou donker is sy liefde soos ‘n spreilig steeds bo-oor jou!

Jou Vader se liefde vir jou is soos sy hele wese: Onveranderlik en ewig. Hou in die dae, wanneer jy sukkel met die lewe, baie styf vas aan dié wete.

Dankie dat u liefde soveel groter is as my klein bietjie liefde, Here.

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Die Eerste Brief van Johannes (4)

Die Eerste Brief van Johannes (4) – Jan van der Watt

Deel 1: Uit God se hart van liefde—’n kerk gebore

Hoofstuk 3: Gebore in ‘n nuwe gesin

God het jou nie sommer vir niks gemaak nie. Hy het jou gemaak om waarlik te lewe! Beleef jy genoeg van hierdie lewe? Kan jy dit raaksien, dra jy die regte bril?

Die wêreld in lig en donker

’n Mens kan die wêreld op baie maniere beskryf, afhangende van watter “bril” jy opsit. Jy kan die “natuurbril” opsit of miskien die “politieke bril”.

Johannes sê dat as jy die “godsdienstige bril” opsit, (die bril waarmee God na die wêreld kyk) sien jy net lig en duisternis … dan sien jy dat die wêreld eintlik net in twee kontrasterende dele gedeel kan word. Daar is die deel wat aan God behoort en die deel wat aan die Bose behoort. Die deel wat aan God behoort, kan aan sekere eienskappe uitgeken word, terwyl die deel wat aan die Bose behoort net die teenoorgestelde eienskappe vertoon.

  • Hoe praat Johannes daaroor in sy brief? Kyk in die genoemde verse hieronder watter twee kontrasterende woorde daar gebruik word om die twee “godsdienstige wêrelde” van mekaar te onderskei. Let daarop dat dit in elke geval oor spesifieke kwaliteite van die wêreld gaan.

(Maak twee kolomme in jou boek. Aan die een kant skryf jy God se wêreld en aan die ander kant die Bose se wêreld.) Hier volg die teksverse:

1 Joh. 1:5:

1 Joh. 3:14:

1 Joh. 2:21:

1 Joh. 4:20:

  • Stel jou die volgende denkbeeldige situasie voor: Jy bou ‘n huis en vind uit dat die bouer sekere dinge nie gedoen het waarvoor jy betaal het nie. Na ‘n telefoonoproep belowe hy om dit te kom doen, maar niks gebeur nie. Jy gaan sien hom en vind uit dat hy ernstige finansiële probleme het.

• Sê hoe iemand wat aan God se wêreld behoort die situasie volgens die eienskappe in Vraag (1) hierbo sal hanteer?

• Sê dan hoe iemand wat aan die Bose se wêreld behoort ’n soortgelyke situasie sal hanteer?

• Sê ook waar die verskil lê. (Hiervoor gebruik ons weer twee kolomme – God se wêreld en die Bose se wêreld en teken die verskille aan.)

ONTHOU: Hierdie is God se manier waarop Hy na die wêreld kyk! As jy regtig sinvol wil leef, moet jy naby God lewe! Dit beteken om die wêreld deur sy oë te bekyk en so te lewe!

 

Hoe kom iemand in God se wêreld?

Lees Joh. 3:1–8. (Let op dat ons hier uit die Evangelie lees. Onthou ook dat die “Bybel” van daardie gemeentes die Evangelie was, soos in Hoofstuk 1 gesê is).

  1. Hier word God se wêreld as ’n koninkryk beskryf. Hoe kom ’n mens in die koninkryk (3:3)?
  1. Hoe verstaan Nikodemus Jesus se woorde (3:4)?
  1. Verduidelik in jou eie woorde wat Jesus volgens 3:6 wil sê.

Elke mens het op presies dieselfde manier in die wêreld gekom: hy of sy is in die wêreld gebore. Omdat hy of sy gebore is, het dit vir hulle moontlik geword om in die wêreld te leef, dinge te doen, ’n gesin te hê en so aan. Sonder geboorte is hierdie “deelneem aan die wêreld” nie moontlik nie.

As Jesus nou wil verduidelik wat met ’n mens gebeur as jy ’n Christen word—met ander woorde, as jy deel van God se wêreld word—sê Hy jy word geestelik gebore. Die geboorte maak dit dan vir jou moontlik om in God se wêreld te kan leef, optree, ’n hemelse Vader te kan hê, en so aan.

Dit is egter nie ’n gewone geboorte nie. Dit is ’n geestelike geboorte. Hoe dit werk, verstaan ’n mens nie (Joh. 3:8), maar dit verhoed ’n mens nie om te weet as dit met jou gebeur nie.

En wat presies gebeur met jou? Jy is nie soos Nikodemus wat nie die boodskap van Jesus verstaan nie (Joh. 3:9–10). God gee vir jou ’n “bril” om die geestelike wêreld te verstaan—jy word op daardie golflengte ingestel. (Dit is wat dit beteken om “gees te wees”—Joh. 3:6).

As jy regtig sinvol wil leef, moet jy naby God lewe!

Dit beteken om die wêreld deur sy oë te bekyk en so te lewe!

Nou kan jy in Jesus van Nasaret die Seun van God raaksien.

Die kruis is nie die vernederende einde van Jesus nie, maar die plek waar Hy Satan finaal verslaan het.

Jesus se woorde is nie ydel laster nie, maar die wysheid van God.

Die boek in die Nuwe Testament waar die meeste na die geestelike geboorte verwys word, is 1 Johannes. (As jy belangstel, vergelyk 1 Joh. 2:29; 3:9; 4:7; 5:1, 4 en 18). Iemand wat geestelik gebore is, word met “kind van God” in die Nuwe Vertaling weergegee, maar in Grieks staan daar eintlik: “Uit God gebore”.

 

Geloof sluit aan by weergeboorte

Geloof sluit nóú aan by die gedagte van weergeboorte. Die een kan nie sonder die ander verstaan word nie.

As ons 1 Joh. 5:1 lees, sien ons dat elkeen wat in Jesus glo, is “uit God gebore,” hy of sy is dus weergebore. (Onthou: “kind van God” is in Grieks “uit God gebore”).

Geloof is dus om oorgegewe aan God te aanvaar wat Hy jou deur sy geestelike “bril” laat “sien” het, veral wat Jesus betref.

Kom ons kyk watter verskil dit maak om “deur die oë van God,” oftewel op ’n geestelike manier, na alles te “kyk”.

Hoe beïnvloed die perspektief waarmee ‘n mens na ‘n saak kyk die manier waarop jy daardie saak verstaan ? Vul jou gedagtes by elkeen van die sake hieronder in. Skryf eers in die linkerkolom neer hoe ‘n doodgewone mens dit sal sien – iemand wat nie weergebore is nie. Skryf dan in die regterkolom hoe iemand wat weergebore is, met ander woorde wat deur die oë van God kyk, dit sal sien. Die sake waarna jy moet kyk, is:

• Die kruis van Jesus

• Jesus self.

• Lyding

• Jou vyand

• Opoffering vir ander

’N INTERESSANTE INSIG: ’n Mens kan weet dat jy weergebore is as die wêreld met alles wat gebeur vir jou begin lyk soos God dit sou sien!

 

 Om weergebore te wees, beteken…

In 1 Johannes word daar heelwat gesê oor wat met ’n mens gebeur as jy weergebore word. Dit gaan immers oor ’n totale verandering van die manier waarop jy jouself en die lewe sien.

Kom ons kyk wat alles met die weergeboorte saamhang.

. Jy het kontak met God

Weergeboorte bring die mens in direkte kontak met God self.

1Joh 3:9 –‘n Weergebore mens (‘n kind van God) het die Gees van God in hom

1 Joh 4:7 ‘n Kind van God het ander lief en ken God.

’n Mens kan weet dat jy weergebore is as die wêreld met alles wat gebeur vir jou begin lyk soos God dit sou sien!

Dit beteken dat ’n mens in gemeenskap met die Vader—altyd in sy teenwoordigheid—kan leef (1 Joh. 1:7).

  1.  Jy tree anders op

Weergeboorte verander die mens se optrede.

  1. 1 Johannes 3:9, 5:4 en 18: ’n Kind van God leef nie meer ’n lewe van sonde nie.
  2. 1 Johannes 4:7, 5:1: ’n Kind van God se lewe word deur liefde gekenmerk.
  3. 1 Johannes 2:29: Aan ’n regverdige lewe kan die kind van God uitgeken word.
  1.  God bewaar jou

Weergeboorte plaas ’n mens diep in die bewarende hand van God.

  • 1 Johannes 5:18: Die Seun van God bewaar die kind van God.
  • 1 Johannes 5:18: Die duiwel kry die gelowiges nie in sy greep as hy naby die Seun bly nie.

Leef bewus van jou weergeboorte

Dink na oor die volgende:

  • Dink jy dat ’n mens in jouself kan weet en ervaar dat jy weergebore is? Skryf jou gedagtes neer.
  • Indien jou antwoord op Vraag 1 hierbo “ja” is, verduidelik presies wat ’n mens in homself ervaar.
  • Dink nou oor jou eie lewe in hierdie verband na.
  • Dink jy dat ’n mens wat weergebore is, sal heeltemal onverskillig kan leef? Waarom sê jy so?

 

’n Weergebore mens leef in die teenwoordigheid van en onder die beskerming van God. Daarom moet jy na jouself kyk en na alles wat met jou gebeur asof jy deur die oë van God daarna kyk.

Dink eers na oor die week wat verby is. Het jy in alle opsigte soos ’n weergebore mens opgetree? Indien nie, bespreek dit met God en onderneem om in sy krag jou lewe soos Hy te sien.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Die Dooie See

Die Dooie See – Coen Slabber

Reeds in Genesis 14:3 lees ons van die Soutsee. Soos met die See van Galilea staan die Dooie See bekend onder verskillende name: Die See van Araba, die Oostelike See (Esegiël 47:18). In buite-Bybelse geskrifte word daar ook verwys na Die See van Sodom, Die See van Lot en die See van Asfalt. Die Dooie See ’n meer geleë tussen Jordanië en Israel.

Die oppervlak en kuslyn is 423 meter onder seevlak; dit is 377 meter diep. Die water bevat 33,7% sout – 8,6 maal meer as die see self. Geen diere kan hier oorleef nie en daarom die benaming die Dooie See. Klein hoeveelhede bakterieë en swamme word wel in die water gekry, maar geen vis of waterplante nie. Weens die hoë digtheid van die water is dit moeilik om in die See te swem – jy kan egter heel ontspanne dryf op die water. Die See, geleë in die skeurvallei van die Jordaanrivier, is 67 km lank en 18 km breed op sy breedste punt. Die hoof invloei is uit die Jordaanrivier. Daar is geen uitvloei nie. Hier is ‘’n satellietfoto van die See van Galilea en die Dooie See. (Verskyn in Wikipedia)

dooiesee

 

Volgens die Bybel was dit ‘’n plek waarheen Dawid gevlug het (1 Samuel 23:29 – 24:1). Dit was ook een van die wêreld se eerste gesondheidsoorde – vir Herodes die Grote. Die hele jaar skyn die son en is dit droog – minder as 100 mm reënval per jaar. Een van die belangrike produkte wat hier verkry word, is asfalt. Dit is veral deur die Egiptenare vir mummifisering gebruik.

Net noord van die Dooie See is Jerigo geleë. Waarskynlik aan die suid-oostelike kus van die Dooie See was Sodom en Gomorra geleë en die stede waarvan ons in Deuteronomium 29:23 lees – Adma en Sebojim. Soar is gespaar, want Lot het uit Sodom daarheen gevlug. Nog ’n belangrik dorp was Machaerus waar, volgens Josefus, Johannes die Doper aangehou en vermoor is. Masada was waarskynlik die bekendste van hierdie dorpe. Hier het ’n klein groepie Jode die mag van die Romeinse leërs van 70 – 73 uitgehou.

Esseners het hulle aan die weskus van die Dooie See gevestig. Of hulle en die Koemraan-gemeenskap dieselfde mense was, is onseker. In grotte naby waar hulle gewoon het, is die Dooie See-rolle gekry.

In Esegiël 47:8 – 9 lees ons ’n interessante profesie: Wanneer dit (die water in die Jordaanvallei) in die Dooie See inloop, sal die water van die Dooie See vars word. Waar die stroom ook kom, sal dit wemel van al die soorte diere en sal daar baie vis wees. Ons kry ’n soortgelyke profesie in Sagaria 14:8.

Wat baie interessant is, is dat die Nuwe Testament geen melding van die Dooie See maak nie.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Die Ou Apostels

Die Ou Apostels – Pieter Verster

Vraag:

’n Leser het ’n vraag gevra oor die Ou Apostels. Wat glo hulle en verskil dit van die ander kerke soos die NG Kerk , Gereformeerde Kerk , Hervormde Kerk en AGS.

Antwoord:

Prof. Pieter Verster antwoord:

Wanneer op die oog af na die geloofsbelydenis van die Ou Apostoliese Kerk gekyk word, is daar baie waarmee saamgestem kan word.

Hulle bely soos volg

Ons Glo

In een God, die Almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde en alle dinge sienlik en onsienlik, en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader van ewigheid af. God uit God, en Lig uit Lig, waaragtig God en waaragtig mens, verwek deur die Heilige Gees en gebore uit die maagd Maria, wat gely het, gekruisig is, gesterf het, neergedaal het na die hel, en op die derde dag opgestaan het, wat in die hemel opgevaar het en aan die regterhand van God die Vader sit, vanwaar Hy weer kom in heerlikheid, om die lewende en die dood te oordeel, en aan wie se koninkryk daar geen einde sal wees nie, en in die Heilige Gees wat deur die Profete spreek, waardeur ons die beeltnis van die Vader dra, en wat in ons leer en lei in alle waarheid, en dat Hy een enige Here is.

Ons Glo

In Sy heilige Apostoliese Kerk, die gemeenskap van die heilige en die Apostel tot ons gestuur as die gesalfde van Jesus Christus.

Ons Glo

In die bediening van die drie heilige sakramente, naamlik die Heilige Doop met water tot bekering in die Naam van Jesus Christus, die Heilige Avondmaal, waardeur ons vergifnis van sonde deur die bloed van Jesus Christus ontvang, en in die Heilige Verseëling, deur die handoplegging van ‘n Apostel van Jesus Christus, waardeur ons die Heilige Gees ontvang, en in die beginning van die drie heilige sakramente, aan die siele in die doderyk deur middel van die lewende vir die dode.

Ons Glo 

In die heilige skrifte, die Ou en Nuwe Testament, en in die vervulling van al die beloftes daarin vervat.

Ons Glo

Ons siele word in die liggaam van Jesus Christus gereinig en beklee met geregtigheid as lede van die sielebruid, sodat ons as kinders van God, Hom bo alles moet liefhê, en in onderdanigheid moet dien, die broederskap moet eer, en ons naaste moet liefhê soos ons self; sodat ons ter wille van die Here, ons moet onderwerp aan die owerhede, en magte wat oor ons gestel is, en dat ons alle verordeninge moet gehoorsaam, asook die wettige heersers van die land, waarin ons woon moet erken en respekteer, al gaan dit met benoudheid gepaard. Amen

Daar is egter baie wat ook tot diepe kommer stem.

Die kernsaak vind ons die erkenning van die Apostel wat gestuur is as die gesalfde van Jesus Christus. Volgens die Ou Apostoliese Kerk bestaan die apostelamp voort en moet die gesag van die apostel in hulle kerk erken word. Hierdie Apostel spreek volgens hulle die lewende woord. Die Apostel verkry buitengewone mag.

Wat moet ons in die lig van die Skrif hieroor sê. In die Skrif is die Apostelamp iets besonders. Hulle het Jesus gesien en kan getuig dat Hy hulle in die amp bevestig het. Hulle was buitengewone getuies van die Here. Hierdie amp bestaan nie voort nie en die toekenning van buitengewone gesag aan huidige Apostels moet bevraagteken word. Die Apostels in die OAK neem dan ook ‘n plek in in die kerk wat radikale beslissing vel en dus ook in direkte verhouding met Jesus staan. Dit moet afgewys word.

Die sakrament van verseëling wat deur die Apostel opgelê word waarmee die Heilige Gees ontvang word, is ook nie Skriftuurlik verantwoordbaar nie. Veral die verwysing na die siele in die doderyk stem ‘n mens onrustig. In Jesus se gelykenisse word die grens tussen lewe en dood duidelik geteken.

Wat die Skrif betref word die Bybel geestelik verstaan en die letterlike verwysings ook vergeestelik. Die implikasie is dat weinig van die Skrif ook as ware gebeure aanvaar word.

Sake soos die kruisiging van Jesus en sy opstanding is egter essensieel vir ons geloof.

Die OAK beskou homself as die enigste weg tot saligheid en enigeeen wat gered wil word moet by hulle aansluit. Juis daarom het hulle geen ekumeniese bande met ander kerkgenootskappe of organisasies nie, en verlang ook nie om sulke bande aan te knoop nie.

Waar die Apostelamp op enige wyse die wonder van geloof in Jesus wil beheer is dit verkeerd en lei tot ‘n verkeerde leer.

Vergelyk ook die volgende skakels

http://www.met.org.za/htm/Afrikaans/Wat%20jy%20van%20Ou%20Apostel%20kerk%20moet%20weet.htm 

http://af.wikipedia.org/wiki/Ou_Apostoliese_Kerk

 

Skrywer: Prof Pieter Verster