Die Groot Geloofswoordeboek: Wêreldbeeld

Die Groot Geloofswoordeboek: Wêreldbeeld

Wêreldbeeld

In die Bybel word ’n drieverdieping-wêreldbeeld veronderstel: die hemel is daarbo, die aarde in die middel, en die doderyk onder die aarde (Eks 20:4). Bokant die aarde is ’n koepel wat “die water daarbo” keer dat dit nie op die aarde val nie. Hierdie water is gevaarlik, soos dit tydens die sondvloed geblyk het. Daar is vensters of openinge in die koepel waardeur die water stroom as dit reën (Mal 3:10). Die sterre is klein liggies in die blou koepel. Die aarde is ’n plat skyf bo-op “die water onder die aarde” en dit rus op fondamente wat in die water staan (Jes 24:18; Jer 31:37). Dit beteken dat die hemel “daarbo” is en die hel onder die aarde. Die aarde is die middelpunt, en die son draai om die aarde.

Ons aanvaar nie vandag meer hierdie beeld nie. Ons besef ook nie watter stryd dit vir sekere natuurwetenskaplikes bete­ken het om hierdie wêreldbeeld te bevraagteken en daardeur direk in stryd te kom met die kerk nie. Galileo en Kepler is maar vae herinnerings.

Maar verder besef sommige van ons ook nie dat die Bybel nie net hierdie fisieke wêreldbeeld het wat ons nie meer aanvaar nie, maar ook ’n temporele wêreldbeeld. Die geslagsregisters in die Bybel impliseer dat die aarde maar net so ongeveer 6 000 jaar gelede geskep is. Ook die ouderdomme van mense in Genesis 1-11 (soms selfs ouer as 900 jaar) lyk vandag vir ons vreemd.

Aan hierdie temporele wêreldbeeld wil sommige nog vashou. As natuurwetenskaplikes van biljoene jare praat, sien hulle dit as uitings van ongeloof. Hulle probeer selfs wegkom van sterk argu­mente dat die skepping baie ouer as duisende jare moet wees. Dink maar aan sterre wat talle ligjare van die aarde ver­wyder is terwyl ons hulle lig kan sien. Dan moes daardie lig mos talle ligjare lank getrek het om by ons te kom. (*Evolusie)

Net so aanvaar hulle ook nie dat die Bybelse voorstellings van die wyse waarop God alles geskep het, ook ’n deel van hierdie ver­gange wêreldbeeld is nie. (*Evolusie) Dit beteken dat lang ar­gumente gevoer word om ’n saak in die Bybel te verdedig wat nie deel van die boodskap van die Bybel is nie, maar van die kultuur waarin die Bybel na ons gekom het. En die redenasies bereik nie veel meer as om ons kinders, wat natuurkunde op skool leer, in onnodige spanning te bring nie.

Die evangelie staan of val nie by hoe alles geskep is nie, maar by hoe ons verlos word; nie by Genesis 1 en 2 en Psalm 104 en Job 38 nie, maar by Matteus 27 en 1 Korintiërs 15.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Wederkoms van Christus

Die Groot Geloofswoordeboek: Wederkoms van Christus

Wederkoms van Christus

(*Eindtyd, *Laaste dae, *Tekens van die tye, *Antichris, *Jode, *Hei­densending, *Vertraging van die Weder­koms)

Die wederkoms van Christus is wesenlik vir ons geloof, maar is nie voorstelbaar nie. Dis wesenlik vir ons geloof omdat dit in terme van die Christelike geloof nie moontlik is dat alles enduit op aarde so kan voortgaan soos nou nie. Die onreg, smart en ellende kan nie gerym word met die heilsbeloftes van die Bybel nie. God het meer beloof en Christus het meer verdien as wat ons tans op aarde beleef.

En tog kan ons ons nie die wederkoms voorstel nie. Ons moet nie eens probeer nie. Die profesieë oor sy koms was nooit be­doel om ’n soort vooruitgeskrewe geskiedenis te wees nie. (*Vervulling van profesieë) Dit is deel van die *apokaliptiek wat ’n wêreldbeeld veronderstel wat ons nie meer deel nie, en wat boonop ’n werklik­heid probeer beskryf wat nie deel van die skry­wers se ervaring was nie en daarom in boaardse, onwerkli­ke beelde gedoen is. Die profesieë wat reeds volgens die Bybel vervul is, soos die profesie van die uitstorting van die Gees, is so vry en verrassend vervul dat ’n mens nie vooraf ’n voorstelling kan vorm van hoe die vervulling van ’n profesie lyk nie.

Daarom is voorstellings van die wederkoms wat op allerlei detail ingaan onvanpas. ’n Mens kry byvoorbeeld die gedagte dat die wederkoms eintlik nou eers kan plaasvind omdat ons TV het. Dat “al die volke van die aarde” (Matt 24:30) Hom sal sien, was nooit moontlik nie omdat die aarde rond is. Maar op TV kan die hele wêreld Hom gelyk sien; daarom kon Hy nog nooit tevore gekom het nie.

Daar is sienings van die wederkoms en die gebeurtenisse wat daarmee gepaardgaan, wat baie ingewikkeld is. (*Chiliasme) Daar is egter ook heel eenvoudige sienings soos die gangbare Gere­formeerde beskouing waarvolgens ons net vier gebeurtenisse ver­wag:

• die wederkoms van Christus

• die opstanding

• die oordeel

• die nuwe aarde

Omdat die wederkoms alreeds in die tyd van die Nuwe Tes­tament naby was (*Eindtyd), verwag ons nie die vervulling van nuwe *tekens van die tye wat nog nooit tevore vervul is nie. Tekens wat ons nou sien, is tekens wat al herhaaldelik deur die eeue vervul is as staande herinnering dat die wederkoms altyd naby is, dat die Here enige oomblik kan kom.

Volgens hierdie siening is daar niks spesifieks wat nog moet gebeur voor die Here kom nie. ’n Mens kan dit ook as kon­trolepunt stel: as iemand nog dinge verwag wat eers na ’n be­paalde tydperk moet gebeur, kan dit beswaarlik inpas by die dringende oproepe van die Nuwe Testament om elke oomblik gereed te wees omdat die Here se koms “voor die deur” is (Jak 5:9).

 

Skrywer: Prof Adrio König




Oorlogvoering in die Ou Testament (1)

Oorlogvoering in die Ou Testament (1) – Coen Slabber

Die herhaalde oorloë waarvan ons in die Ou Testament lees, skep vir baie moderne lesers ‘n probleem. Die probleem word nog erger as God die opdrag gee dat al die inwoners van ‘n stad uitgeroei moet word. Israel het in ‘n wrede wêreld probeer oorleef. Hulle moes voortdurend hulle grondgebied teen invallers beskerm. Dit sou egter net ‘n tydelike fase in die geskiedenis van Israel gewees het.

Jesaja voorsien ‘n tyd van vrede: Daar kom ‘n tyd … Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie (Jesaja 2:2 – 4). Net ‘n paar hoofstukke verder lees ons: Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring … Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid (Jesaja 9:6).

 

Ons gaan na enkele aspekte van fisiese oorlogvoering in die Ou Testament kyk. Maar wat is oorlog? Dit is ‘n geveg met wapengeweld tussen groepe van verskeie aard (lande teen mekaar, een bevolkingsgroep teen ‘n ander, ens. HAT) Dit gaan oor vernietiging en beskerming.

Die eerste aspek waarna ons gaan kyk, is stadsmure.

Stadsmure

‘n Eenvoudige muur sal vyande tydelik buite hou. Om werklik doeltreffend te wees, moes die mure aangepas word. Dit moes ook dien as platform vanwaar soldate hulle pyle kon skiet en hulle spiese kon gooi en so die aanvallers verdryf. So ‘n muur het gewoonlik uit drie dele bestaan:

(a) Die muur self. Gekapte klip is gewoonlik gebruik om die muur mee te bou.

(b) Die platform bo-op die muur. Hierdie platform was die plek vanwaar op die aanvallers geskiet is. Die verdedigers kon op die platform rondloop, want daar was ‘n mate van beskerming vir hulle – gewoonlik ‘n verdere muur. Daar was openinge waardeur hulle hulle pyle kon skiet. Groot klippe is van die platform op die aanvallers gegooi (2 Kronieke 26:15).

(c) ‘n Reeks hindernisse voor die muur. Hierdie hindernisse moes die boogskieters en die stormram verhoed om te na aan die muur te kom. Daar is soms ‘n grag voor die muur gegrawe wat verhoed het dat die stormram tot teen die muur gebring kan word. Die aanvallers moes eers die grag opvul, maar in die proses is hulle deur die verdedigers afgemaai.

Later is daar op gereelde afstande torings op die muur gebou. As aanvallers dalk die verdedigers sou oorrompel en op die stadsmure kom, is daar vanuit hierdie torings op hulle geskiet. Kasematmure is ook gebruik. Dit was eintlik twee mure met ‘n spasie tussenin. Hierdie spasie is gebruik vir stoorplek of selfs vir kamers. Ons sien dat Ragab se huis in die stadsmuur was, sodat sy in die muur gewoon het (Josua 2:15).

Stadspoorte

Die hek/poort van die stad was dikwels die fokus van ‘n aanval, omdat dit as ‘n swakplek in die verdediging beskou is. Hoe is die risiko verminder? Baie van die stede (soos Jerusalem) was op hoogtes gebou. Die pad na die hek het gewoonlik skuins teen die hoogte opgeloop. Daar is altyd probeer om te verseker dat die aanvallers met hulle regtersy na die muur geloop het. Die regterkant is dus blootgestel aan die verdedigers. Hoekom? Want die aanvallers het hulle skilde in die linkerhand gedra.

Die dik houtdeure was swaar en is dikwels met ‘n metaalplaat bedek. Die plaat het verhoed dat die aanvallers die deur kon afbrand. In gevalle waar dubbeldeure gebruik is, was daar ‘n swaar balk aan die binnekant wat die deur gesluit het. Aan beide kante van die hek was torings. Aanvallers wat die deure wou afbreek of aan die brand steek, het deurgeloop onder die verdedigers se pyle, spiese en klippe.

Die probleem met mure was die omtrek van die stad. Mure van tot 2 kilometers lank is gevind. Die hele muur moes beskerm word. Hiervoor was baie verdedigers nodig. Die aanvallers het dikwels hulle aanval op een plek gekonsentreer om die aandag van ander dele van die muur af te lei. Dan het ‘n tweede groep aanvallers die muur oorgesteek waar daar min of geen verdedigers was nie. As die muur eers oorgesteek is, was die verdediging binne die stad self dikwels swak. Sekere stede is in afdelings verdeel met ‘n muur om elk, maar dit was die uitsondering. Die beste soldate is in ieder geval op die buite mure geplaas.

Op die hoogste punt in die stad is daar dikwels ‘n vesting opgerig. Aanvanklik was dit om die tempel te beskerm, maar later is die koning se paleis en huise van hoogeplaastes ook binne hierdie vesting gebou. So lees ons van Simri wat sewe dae lank koning van Juda was. Die volk het egter vir Omri, die hoof van die leër, tot koning uitgeroep. Hy trek op na Tirsa waar Simri was. Dan lees ons: Toe Simri bemerk dat die stad ingeneem word, het hy na die verskanste deel van die paleis toe gevlug en die paleis op hom afgebrand (1 Konings 16:18).

Volgende keer gaan ons kyk na die strategieë wat aanvallers gebruik het om ‘n bres in die mure te slaan.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Die Groot Geloofswoordeboek: Vryheid

Die Groot Geloofswoordeboek: Vryheid

Vryheid

Vryheid is ’n gelade woord, of dit nou godsdiens is of politiek. Die woord “Liberalisme” is direk afgelei van vryheid (liberty). In ons politieke verlede was vryheid een van dié woorde. Die Afri­kaners moes bevry word van die Engelse oorheersing, en toe hulle dit regkry, vergeet hulle hulle stryd en verkneg weer die mense van kleur. Toe kom die nuwe stryd om vryheid. Tot 1994. En daarna?

In die godsdiens is vryheid ook ’n sentrale woord. Dink maar net aan *godsdiensvryheid. Hoe kosbaar is dit nie dat ’n mens vry is om die godsdiens van jou keuse te beoefen nie. Dink maar aan ons verre voorouers wat in die tyd van die *Kerkhervorming verplig was om die Katolieke geloof te beoefen.

Wat is vryheid eintlik?

Daar was al onder die ou Grieke verskillende opvattings oor vryheid. Volgens sommige was jy net vry as jy nie onder ’n tiran gestaan het nie. Volgens ander was jy eers vry as jy oor jou drifte en hartstogte heers. Nog ’n derde groep het gemeen jy is net vry as jy vry is van die wêreldse dinge en bereid is om in afsondering en askese in die woestyn te leef.

In die vorige eeu was daar ’n groep wat hulleself die ek­sistensia­li­s­te genoem het. Hulle het ’n negatiewe betekenis aan vryheid ge­heg. Vryheid is ’n las. Omdat die mense vry is, is hulle ’n abnormale verskynsel in die res van die skepping wat streng wetmatig is. Dis ons vryheid wat ons ongelukkig maak en in ellende dompel.

Daar is ’n baie interessante verskil tussen die vryheid van die liberaliste en Bybelse vryheid. Volgens die liberale beskouing word mense vry gebore en dis net die sosiale en politieke sis­teme wat ons vryheid inperk. Sodra alle sosiale beperkings en ongelykheid verdwyn, sal alle mense hulle aangebore vryheid uitleef en geniet.

Daarteenoor staan die Bybelse vryheidsbegrip. Ons is nie van nature vry nie. Ons moet vry gemaak word van die mag van die sonde. “Eers as die Seun julle vry maak, sal julle waarlik vry wees” (Joh 8:36). En as ons hierdie vryheid geniet, kan ons ook in die tronk vry wees, soos Paulus en Silas (Hand 16:22 ev).

*Adam en Eva se vryheid

Die begrip “vryheid” speel altyd ’n belangrike rol in die ma­nier waarop mense die eerste sonde verstaan. Die gedagte is gewoonlik dat Adam en Eva vry geskape was en daarom óók on­gehoor­saam aan God kon wees. Dit beteken dat daar in die skep­ping, in die mens self, ’n duidelike verklaring is vir die sonde. ’n Mens kan maklik verstaan hoe dit moontlik was dat hulle kon sonde doen. Dit was eintlik in die struktuur van die skep­ping ingebou. Eintlik sou ’n mens ook kon sê dat God nie ’n keuse gehad het nie. As Hy mense wou hê wat Hom uit eie vrye keuse liefhet, moes Hy hulle so geskape het dat hulle ook vry was om Hom nie lief te hê nie. Liefde is net werklik liefde as dit vry en spontaan is. Daarom, so word verder beweer, het God hulle ook ’n keuse gegee: om Hom te gehoorsaam of nie. Dit word die “proefgebod” genoem. God wou sien hoe hulle hulle vryheid gaan gebruik. Hulle moes kies of hulle God gaan gehoorsaam en nie van die boom eet nie, en of hulle in ongehoorsaamheid wel gaan eet (Gen 2:15-17).

Maar dis tog ’n vraag of alles hier pluis is. Elders word be­weer dat sonde wesenlik onbegryplik, onverstaanbaar is, en juis nê­rens sinvol in die skepping inpas nie. (*Oorsprong van die sonde) Hoe is dit dat alles nou so maklik en duidelik en sinvol verklaar kan word oor die oorsprong van die sonde? Die moontlikheid om te sondig lê struktureel in die skepping ingebou.

Is dit regtig so? Kom ons kyk weer na Genesis 2. Gee God vir Adam ’n keuse? Of gebied Hy hom net een ding? Sê God: “Hier is jy op ’n kruispad. Kies watter pad jy gaan loop”?

Of sê God: “Hier is die pad. Dis die enigste pad. Loop daarop. Anders sterf jy”?

Was Adam vry om te kies? Of was daar geen keuse nie, net ’n bevel? Verder, het Adam sy vryheid gebruik toe hy teen God gekies het, of het hy juis sy vryheid verloor toe hy teen Hom gekies het? Werk ons hier met meer as een vryheidsbegrip?

Wat kry ons elders in die Bybel? Lees ons nie dat ons slawe van die sonde is en dat ons vry gemaak moet word sodat ons God in vryheid kan dien nie? (Rom 8:12 ev) En as ons in sonde val, verloor ons nie dan ons vryheid en word slawe van die sonde nie? Is dit nie wat met Adam gebeur het nie?

Formele en materiële vryheid

Kom ons onderskei tussen formele vryheid en materiële vry­heid. Ons noem die een keusevryheid, iets wat ons het, maar wat diere nie het nie. Ons kan dit ook omgewingsvryheid noem, vry van jou omgewing om dit te verstaan, te ondersoek en te verander. Uit hierdie vryheid kom dan ’n kultuur, damme wat ons bou, paaie wat ons maak, fabrieke wat ons bou, om maar na een kant van die saak te kyk. Ons is nie ingehok in ons omgewing om maar net van geslag tot geslag instinktief daarin te probeer oorleef nie.

Maar materiële vryheid is iets anders. Dit is nie keusevry­heid nie. Dit is vry van … en vry om te … In die Nuwe Testament is dit vry van die mag van die sonde, vry om God te dien. Is dit nie dalk die soort vryheid wat God aan Adam gegee het en wat hy toe ver­loor het toe hy teen God gekies het nie? En beteken dit nie dat ons in werklikheid glad nie kan verstaan hoe dit moont­lik was dat hy dit gedoen het nie? Hoe is dit moontlik dat iemand wat vry van die mag van die sonde geskape is, vry om God lief te hê, besluit om aan God ongehoorsaam te wees?

Is dit nie die houding wat agter Jeremia 2 en Romeine 6 sit nie, om maar net twee gedeeltes in die Bybel te noem? Nie net Je­re­mia nie, maar God self vind dit onbegryplik en ongehoord dat Israel Hom vir afgode verwerp. En op die vraag of ons maar kan aan­hou met sonde doen nadat God ons vry gemaak het van die sonde, reageer Paulus nie met: “Natuurlik nie, want ons mag nie,” maar met: “Natuurlik nie, want ons kan nie” (Rom 6:1-3).

’n Mens kan ook van ’n ander kant af daarna kyk. Ons is ge­maak om God se *beeld en sy bondgenote te wees, om sy mense te wees wat in ’n verhouding van liefdesgehoorsaamheid met Hom leef. Ons is dus aan Hom gebind, en dit kragtens ons skepping, kragtens die soort wese wat ons is: gemaak as sy beeld.

Ons is vry om net aan Hom gebonde te wees. Tegelyk vry en gebonde. Dis die soort vryheid wat Hy ons gegee het. En daarom is sonde onbegryplik. Adam is vry van die mag van die sonde ge­skape. Hoe begryp ’n mens dan dat hy die sonde kies en aan God ongehoorsaam word? Die onbegryplikheid van die sonde lê struk­tureel ingebou in die skepping, presies die teenoorgestelde van waar ons netnou begin het.

Ons kry iets daarvan in Galasiërs 5:13: “Julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.”

Kyk na die drie gekursiveerde woorde: vryheid, dien, liefde. Tegelyk vry en in diens! Presies die teenoorgestelde as die Grie­ke. Vry om lief te hê. Wat ook beteken: vry solank jy liefhet. Maar as jou liefde opdroog, droog jou vryheid ook op. Adam het nie sy vryheid gebruik om te sondig nie, hy het sy vryheid verloor toe hy gesondig het. As jy ophou liefhet, verloor jy jou vryheid.

Dit bring ons by die laaste belangrike saak. Het jy agterge­kom dit gaan nie om die vryheid nie, maar om die liefde? Die vry­heid is nie die groot saak nie, maar die liefde. Ons vryheid staan in diens van ons liefde. As ons ophou liefhet, verloor ons ons vryheid. Vryheid is die infrastruktuur vir die liefde. Vryheid is die gereedskap wat ons moet gebruik om lief te hê. En dit be­teken dat ons gebonde is in ons vryheid. Dis nie keusevryheid sodat ek kan kies of ek wil liefhê of nie. Dis vryheid om lief te hê. Dis waarvoor God ons vry gemaak het van die mag van die sonde.

Waarom juis liefde? Omdat ons sy beeld is en Hy is liefde.

 

Skrywer: Prof Adrio König