Die Groot Geloofswoordeboek: Vulgaat

Die Groot Geloofswoordeboek: Vulgaat

Vulgaat

(*Vertaling(-s) van die Bybel)

Dit is die vertaling van die Bybel wat Hiëronimus (Jerome) in die vierde eeu in Latyn gemaak het. Hy het liewer die Hebreeuse Ou Testament as die Septuagint gebruik. Dit help ons soms om te weet hoe die Hebreeuse teks destyds gelyk het omdat daar dele van die Hebreeuse Ou Testament is waarvan ons nie meer afskrifte uit daardie tyd het nie. Die Vulgaat was vir eeue lank algemeen in gebruik in die Westerse kerk. Dit is belangrik om te onthou dat die Vulgaat, net soos die Septuagint, ’n aantal boeke ingesluit het wat nie in ons Ou Testament is nie, sodat ook die kerk in die Weste vir baie eeue ’n ruimer Ou Testament as ons gebruik het. (*Kanon) Die kerk in die Nabye-Ooste het natuurlik Grieks gepraat. Hulle sou dus die oorspronklike Griekse Nuwe Testament en die Septuagint gebruik het.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Vreemde Tale

Die Groot Geloofswoordeboek: Vreemde Tale

Vreemde tale

Daar is baie verwarring oor talespraak omdat mense nie tussen twee verskillende vorme daarvan onderskei nie. Wat op die Pink­sterdag gebeur (Hand 2) en wat Paulus in 1 Korintiërs 12-14 behandel, is twee verskillende verskynsels. By die uitstorting van die Heilige Gees praat die apostels in bekende tale, tale wat nodig is om die evangelie aan bepaalde groepe oor te dra. Maar in Korinte was daar lidmate wat onverstaanbare tale gepraat het, tale wat uitgelê moes word anders was dit sinloos om dit in die gemeente se samekoms te praat. As daar nie iemand was wat die taal kon uitlê nie, moes die talespreker dit tuis doen in sy of haar persoonlike omgang met die Here.

Dit bring nog ’n verskil na vore. Die tale van Handelinge 2 was bedoel om die evangelie aan ander oor te dra, die tale in Korinte was bedoel vir die opbouing van die lidmaat en die gemeente. Beide vorme van tale is gawes van die Gees.

Dis ’n interessante vraag of die wonder op die Pinksterdag ’n praatwonder of ’n hoorwonder was. Dit lyk of dit net Petrus is wat preek. Maar hy kon tog nie gelyk al die verskillende tale gepraat het nie. Sou hy doodgewoon Aramees gepraat het en die wonder was dat elkeen sy eie taal gehoor het? (2:11: “Ons hoor hulle in ons eie tale … ”) Of sou elke apostel in ’n ander taal gepraat het, wat ’n taamlike deurmekaarspul sou afgee? (“Ons hoor hulle in ons eie tale praat … ”)

Dis een van die dinge wat ons maar eendag moet vra as ons daar kom.

In Korinte is die probleem nie dat daar in tale gepraat is nie, maar dat die talesprekers gedink het hulle gawe is belangriker as dié van die ander lidmate. Daarom lê Paulus soveel klem daarop dat al die gawes belangrik is, dat selfs dié wat onbelangrik lyk, net so nodig is as die ander (12:14 ev).

Die niebestaande, vreemde tale is eie aan die Pinkster- en Cha­rismatiese bewegings. Die wyse waarop dit daar voorkom, is nie so vreemd soos wat dit dalk vir buitestanders klink nie. Daar is verder ook verskille in hierdie geledere oor presies hoe dit werk. Sommige meen dat ’n persoon op ’n bepaalde oomblik die gawe ontvang en dit dan net vir daardie beperkte tyd kan praat. Ander meen dat ’n persoon die gawe permanent kry en dat dit tot sy of haar beskikking is sodat dit te eniger tyd gebruik kan word.

Indien dit net by geleentheid en net vir die bepaalde situasie gegee word, sou dit vreemd wees dat die Gees dit gee in ’n situasie waar dit volgens Paulus nie gebruik behoort te word nie. Immers, hy verklaar uitdruklik dat iemand nie in tale moet praat as hy of iemand anders dit nie kan uitlê nie (1 Kor 14:5, 28). Dit beteken dat iemand permanent die gawe het en kan besluit wanneer hy of sy dit gaan gebruik. Maar dit beteken dat die uitlêer se gawe ook permanent moet wees en verder dat hy of sy alle talespraak moet kan uitlê, anders weet die gemeente nie of daar iemand is wat sal kan uitlê voor die persoon begin praat nie.

In die Pinksterbeweging is daar ’n wydverspreide oortuiging dat alle gelowiges in tale moet praat as hulle met die Gees ge­doop word. (*Doop met die Gees) Die tale sou dan die teken wees dat jy die Geesdoop ontvang het (Initial Evidence). Hier­die oor­tui­ging is nie so algemeen in die Charismatiese beweging nie. Hier is meer ruimte daarvoor dat die tale maar net een gawe onder baie ander is, en dat “die Gees dit gee aan wie Hy wil” (1 Kor 12:7, 11).

Die eis dat almal in tale moet praat, is moeilik te rym met die beginsel van die liggaam wat Paulus in 1 Korintiërs 12 breed uit­werk. In ’n liggaam is daar baie verskillende ledemate, en elk­een is nodig om die liggaam goed te laat werk. Elke lidmaat kry dus ’n bepaalde gawe om al die ander daarmee te bedien. Maar dan is dit sinloos dat alle lidmate dieselfde gawe kry.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Vrede

Die Groot Geloofswoordeboek: Vrede

Vrede

Die vrede wat God in die Bybel beloof, is soveel ryker as dit wat ons gewoonlik onder vrede verstaan. In die omgang het die Hebreeuse woord sjaloom (shalom) al bekend geword. Sommige mense gebruik dit selfs as ’n groet.

Onder vrede verstaan ons gewoonlik die afwesigheid van span­ning, stryd, oorlog. “Daar’s weer vrede” beteken net die oor­log is verby.

In die Ou Testament is “vrede” baie meer. Vrede is een van die sen­trale woorde in die Ou Testament. As God aan Israel vre­de beloof, beteken dit nie net die einde van vyandelikhede nie, maar dat dit in hulle hele lewe regtig goedgaan. Dit bete­ken goeie oeste, goeie vee-aanteelt, goeie gesondheid, baie kinders – veral seuns – goeie verhoudings, oorwinnings oor die naburi­ge vol­ke, en dit alles onder die seënende hand van die Here.

’n Goeie verhouding met die Here was wesenlik. Om voor­spoed sonder Hom te hê, was onreg. Voorspoed sonder gehoor­saamheid aan die Here was ’n anomalie wat hulle in ernstige geloofstwyfel laat beland het. Psalm 73 is die klassieke voorbeeld. Die psalmdigter kry self baie swaar, maar “die goddelose se oë peul uit van vet” (v 7, 1953-vertaling). Dit is vir hom onbegryplik, want hy dien die Here in alle opregtheid, en saam met die ander “opregtes” bely hy dat God goed is vir Israel (73:1). Na ’n lang en hewige worsteling kyk hy na die goddelose se einde, en dan kry hy gemoedsrus: God sal hom vashou, en aan die einde sal hy in ere by Hom wees.

Dit is moontlik dat hy hier ’n perspektief op die situasie ná die dood het, al is dit baie skaars in die Ou Testament. (*Opstan­ding) Dit bly egter vir die gelowiges in die Ou Testament ’n uiters vreemde situasie dat iemand wat God opreg dien, swaarkry. Al die groot figure was ryk en voorspoedig: Abraham, Isak, Jakob, Dawid, Salomo, Job. (*Voorspoedsevangelie)

In die Nuwe Testament verander dit egter. In die Ou Testa­ment is die normale situasie dat jy vrede het, dus voorspoedig is, as jy God opreg dien. Om God te dien en om sy gawes van voor­spoed te geniet was ’n eenheid. Maar in die Nuwe Testament word hier­die eenheid verbreek. Omdat die bose magte op aarde oorgeneem en die heerskappy van God verduister het, word die kinders van God aangeval en vervolg omdat hulle die Here dien, presies die teenoorgestelde situasie as in die Ou Testa­ment. Die groot vrede word dus uitgeskuif na die toekoms wan­neer Christus weer sal kom om die mag van die Bose te vernietig en die aarde nuut te maak. Dan kom die groot en finale vrede wanneer God by sy kinders op die nuwe aarde sal woon. Dit is ’n omvattende vrede soos ons dit in die Ou Testament gekry het, maar op ’n ander vlak. (*Verheerliking, *Opstanding)

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Koningin van Skeba

Die Koningin van Skeba – Francois Malan

Marius Nel vra: 

Ek is n getroue leser en student van die woord. Ek het onlangs ‘n paar dvd’s gekoop met Bybel verhale op. Ek was baie beindruk met die akkuraatheid van die verhale en het besluit om nog daarvan aan te skaf. Ek het toe in dieselfde reeks, Salomo gekoop en kon nie wag om by die huis te kom en dit te kyk nie. Groot was my telleurstelling toe ek die dvd kyk en besef hulle het, alhoewel ‘n groot gedeelte van die verhaal akkuraat was, in die verhaal gesê dat Salomo met die koningin van Skeba trou en ‘n kind by haar het, ens. – iets wat ek nêrens in die bybel raakgelees het nie. Ek wou al op n stadium die dvd weggooi, maar het daarteen besluit vir tyd en wyl tot ek sekerheid kry. Is daar dalk êrens in die Bybel – behalwe Konings en Kronieke – wat vir ons vertel dat Salomo met die koningin van Skeba getrou het ens? Ek kon nêrens dit raaklees nie. Die Bybel se slegs dat sy hom besoek het en dat dat sy weer terug is na haar koninkryk.

 

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord

Haar besoek aan Salomo word in 1 Konings 10:1-13 en 2 Kronieke 9:1-12 beskryf. In Matteus 12:42 en Lukas 11:31 word na haar verwys as die koningin van die Suide. Haar naam word nêrens in die Bybel genoem nie (die Etiopiërs noem haar Makéda, en die Moslems Bilkis). Volgens die berigte in Konings en Kronieke kom sy om Salomo sy wysheid te toets. Daarby bring sy baie goud en goed saam en ontvang van Salomo ‘alles wat sy begeer en gevra het, buiten nog wat hy uit sy eie vir haar gegee het’. Sommige verklaarders dink aan handelsverdrae wat gesluit is (2 Kronieke 9:12 verander die laaste opmerking na ‘meer selfs as wat sy vir die koning gebring het’ – as ‘n gulle bewys van die rykdom van die vors Salomo).

Skeba (Hebreeus: Sjeba) word geïdentifiseer met die Sabeërs, ‘n nasie wat weerskante van die Rooisee gewoon het, aan die kus van die huidige Eritrea, Somalië, Etiopië en Jemen – vgl. die verwysing na die drie groepe (1) Gen.10:7: uit die geslag van Gam in Kus, Egipte, Put en Kanaän, met Seba en Skeba (Sjeba); (2) Gen.10:28: uit die geslag van Sem: Skeba (Sjeba), vgl. Job 1:3,15; (3) Gen.25:3: uit die geslag van Sema via Ketura, die vrou van Abraham, Skeba (Sjeba). Gen.10:7 en Ps 72:10 onderskei tussen Seba (seun van Gam) en Sjeba (kleinseun van Gam).

Die 2e en 3e groepe word veral met die suide van Arabië vereenselwig, en die 1e met Afrika (Kus verwys gewoonlik na Nubië en Etiopië, suid van Egipte). Gewoonlik word gedink dat die koningin uit Arabië gekom het (so ook die Moslems wat haar stad aanwys by die ruïnes van Ma,rib in Yemen; die Etiopiërs en Josefus dink sy het van Etiopië, die ou Abessinië, gekom).

In die Etiopiese Kebra Nagast word in detail beskryf dat die koningin van Skeba ‘n seksuele verhouding met Salomo gehad het (as verklaring van ‘alles wat sy begeer het’ in 1 Kon.10:13), en by rivier Mai Bella in Eritrea geboorte gegee het aan koning Menelik I van Axum, wat as ‘n Jood geleef het, aan wie Salomo ‘n replika van die ark van die verbond gegee het, maar wat omgeruil is met die oorspronklike ark wat toe saam met die koningin en haar kind na Axum gekom het en deur ‘n enkele priester opgepas word tot vandag toe, maar wat deur niemand anders gesien mag word nie. Die Joodse koningshuis sou ontwikkel het tot die Christelike koninkryk van Etiopië, na die doop van die Etiopiër deur Filippus (Hand. 8:38). Die koningshuis se regime is na bykans 3000 jaar beëindig met die omverwerping van Haile Salassie in 1974.

 

Skrywer: Prof Francois Malan