Die Handelinge van die Apostels: Stefanus se toespraak vervolg (Hand 7:1-53) – Francois Malan

7:9-39 Die
genadeverbond is die Here se woord aan Abraham in Genesis 17:7-9,14: ‘Ek sal
julle God wees en julle sal my volk wees…wat my verbond nakom; elkeen wat my
verbond verbreek, moet van sy volksgenote afgesny word’ (en in menige tekste in
die Ou Testament, bv. Jer 7:23; 11:4; 24:7; 30:22, 31:33). Stefanus verwys in
7:9-39 na twee figure in die Ou Testament, Josef en Moses, wat hy as voorbeelde
voorhou van Israel se verwerping van hulle Redder, soos die volk nou met
Jesus Christus gedoen het.

Die geskiedenis van Josef (Hand 7:9-16)

7:9 Uit jaloesie
het Josef se 11 broers, wat saam met hom Israel se stamvaders was, hom as slaaf
verkoop om na Egipte geneem te word. Hulle was jaloers op Josef oor Jakob se
voortrekkery van die seun van sy geliefde vrou Ragel, oor sy voorbeeldige lewe
en die slegte stories wat hy oor hulle by hulle pa aangedra het, en oor die
Here se seën oor hom met die drome wat hy gehad het (Gen. 29:18; 37:2-11;
18-20; 28). Maar God was met hom en het deur dié slaaf in Egipte Israel se
redding bewerk (vgl. Gen 45:7; 50:20), soos wat die Here deur Jesus die mensdom
se redding bewerk het, die Jesus wat deur die Raad verkoop is en laat kruisig
is.

7:10 Die Here
het Josef uit al sy beproewings (thlipsis moeilikheid wat direkte lyding
bring) gered, uit sy slaweskap, uit Potifar se vrou se kloue, uit die
tronk. Toe Josef voor die Farao verskyn, het die Here aan hom wysheid en die
guns van die Farao en al sy amptenare geskenk (Gen 41:37-39). Daarop het die
Farao vir Josef aangestel as die regeerder oor Egipte en oor sy hele huis (Gen
41:40-41: oor sy paleis en oor sy hele volk en oor die hele land Egipte; vgl.
Ps 105:21-22). So is Jesus verhoog tot die regterhand van God as Leidsman en
Verlosser van sonde (Hand 5:31). 

7:11 Die
broers het Josef in baie noodsituasies laat beland (thlipsis, 7:10).
Na ’n paar jaar laat die Here die hele Egipte en Kanaän in ’n groot nood (thlipsis)
beland met die sewe jaar droogte wat op die sewe jaar oorvloed gevolg het, soos
Josef die Farao se twee drome uitgelê het as ’n openbaring van wat God gaan
doen (Gen 41:25,28,32). Die gevolg was ’n wydverspreide hongersnood (Gen 41:56
‘oor die hele wêreld was daar hongersnood’) sodat ‘ons vaders’ geen kos kon kry
nie, en sou sterf (Gen 42:2), hulle wat vir Josef sonder kos in die put gegooi
het. Met ‘ons vaders’ wys Stefanus dat die gebeure van destyds ook vir hom en
die huidige geslag raak.

7:12 In die
nood van Abraham se nageslag het die Here sewe jaar voor die hongersnood al
voorsiening gemaak, deur Josef se raad om die sewe vet jare se oorvloed in
skure te berg vir die sewe maer jare (Gen 41:34-36). Die Here laat Jakob hoor
dat daar graan in Egipte is, en hy stuur ‘ons vaders’ daarheen (Gen 42:2). So
het die Here deur die wysheid wat Hy aan Josef gegee het, die redding van sy
volk
en die omliggende volke berei (Gen 41:57).

7:13 Soos
Lukas die prediking en genesings deur die apostels beskou as ’n tweede koms
van Christus
na Israel (Hand 3:26), beskryf Petrus Moses se twee pogings om
Israel te red in Hand. 7:23-25 en 34. By die tweede besoek van Josef se broers
om hulle van die hongersnood te red, het Josef hom aan hulle bekendgemaak as
hulle redder (7:13). Josef se herkoms het ook aan die Farao en die hele
heidense Egipte bekend geword. So word Jesus se herkoms uit die hemel aan die
regterhand van God as God aan die wêreld bekendgestel. Sy naam Jesus beteken
ook Jahweh red, die HERE is die Verlosser.

7:14 Die 75
mense (letterlik siele), die kern van die volk van die Here, moes toe
die land wat die Here aan hulle beloof het, verlaat (Genesis 46:26 se getalle
is effe verwarrend met 66 afstammelinge van Jakob sonder die seuns se vroue en
altesaam 70 afstammelinge met Josef en sy twee seuns bygereken. Die Griekse
vertaling het 9 seuns vir Josef en ’n totaal van 75 mense van die huis van
Jakob, ook so in Eksodus 1:5. Josef se 9 kinders sluit seker sy 3 kleinseuns en
twee agterkleinkinders in, Gen 50:23).

7:15-16 Hier loop Stefanus se weergawe van die geskiedenis effe deurmekaar. Josef is in Sigem begrawe op die stuk grond wat Jakob vir 100 stukke silwer by Gamor gekoop het (Josua 24:32; Gen 33:19; 50:25). Jakob is begrawe in die spelonk van Magpela by Hebron wat Abraham by die Hetiet Efron gekoop het (Gen 49:29-32; 50:12; 23:17-20). Die broers van Josef is volgens Josephus Ant 2:8:2 in Hebron begrawe, waar hulle vandag nog met ’n senotaaf in ’n moskee vereer word. Josef se geskiedenis onderstreep dat die Here sy reddingsplan deurvoer teen alles wat die mens as onwaarskynlik beskou. Jesus het oor die onmoontlikheid dat enigiemand gered kan word gesê: Wat onmoontlik is by mense, is moontlik by God (Luk 18:27).

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Stefanus se toespraak (Hand 7:1-53) – Francois Malan

Stefanus se toespraak is eintlik nie ’n direkte antwoord op die aanklag teen hom nie, maar ‘n frontaanval op die manier waarop die Joodse leiers deur die eeue die profete wat die Here na hulle gestuur het, verwerp het. Dit eindig in verse 44-50 met sterk argumente teen die tradisionele Joodse houding oor die tempel. In die loop van die toespraak word die twee hoofpunte van die klag in 6:13 indirek beantwoord, naamlik oor die ‘heilige tempel’ en oor die ‘Wet van Moses.’

Stefanus
herinner sy hoorders dat God aan Abraham verskyn het buite die heilige land,
voordat Hy die wet gegee het en voordat die tempel bestaan het (7:2-8). Hy
herinner hulle dat die Jode dwarsdeur hulle geskiedenis konstant die persone
wat God na hulle gestuur het, verwerp het, soos byvoorbeeld vir Josef
(7:9-16) en Moses (7:17-43). En dat hulle, die huidige leiers en die volk vir
Jesus verwerp het, die man wat God na hulle gestuur het. Deur hulle toewyding
aan die tempel het hulle God nie herken toe Hy met hulle in die persoon van
Jesus Christus gepraat het nie.

7:1
Die hoëpriester vra vir Stefanus: ‘Is dit regtig so?’ Daarmee verwys hy na die
klagtes wat teen Stefanus gelê is in 6:13-14, naamlik dat hulle gehoor het
Stefanus sê dat Jesus die heilige plek sal afbreek, en die gebruike wat Moses
aan hulle oorgelewer het sal verander. Dit gaan nie oor die meriete van die
uitsprake nie, maar of Stefanus dit gesê het.

Die geskiedenis van Abraham (Hand 7:2-8)

7:2
Stefanus begin sy toespraak eerbiedig met: ‘Manne broers en vaders, luister:…’
Anders as Jesus wat op sy aanklagte voor die Raad net stilgebly het, het
Stefanus ’n lang toespraak om sy getuienis oor Jesus te verduidelik. Deurgaans
verwys hy na sy en hulle voorouers as ‘ons vaders’ se geskiedkundige
hardnekkigheid en sluit hom by hulle in (verse 11,15,19,38,44), en in vers 51
‘julle vaders’  toe hy sy preek op die
Raadslede toepas.

Die
benaming  ‘die God van heerlikheid
(kabōd doksa) kom uit Ps 29:3 (1983 vertaling: die magtige God). Die heerlikheid
onderskei die Here van alle ander gode en beskryf die volheid van sy deugde
soos dit geopenbaar word in sy beheer oor die hele skepping – iets van die
heerlikheid van God is weerspieël op die aangesig van Stefanus (6:15). So het
Moses en Elia in die hemelse glans op die berg van Jesus se verheerliking
verskyn (Luk 9:31). In Hand 7:55 het Stefanus die heerlikheid van God aanskou.
Die God van heerlikheid het aan Abraham verskyn in Ur van die Galdeërs, in die
suide van Mesopotamië (Gen 11:31; 15:7; Neh 9:7), toe hy waarskynlik nog ’n
heidense maanaanbidder was (Die maan as die vader van die son is in Babilonië,
en veral in Ur en in Haran in die noorde van Mesopotamië as god aanbid). Die
verskyning van die God van heerlikheid aan Abraham het die hele geskiedenis van
die wêreld verander, en die heerlikheid van God is die grondslag van Israel se
bestaan as volk. Stefanus wil wys dat hy self juis die God van die verbond met
Abraham vereer en verkondig. Die openbaring van God aan Abraham het in die
heidense land geskied. God se teenwoordigheid en sy verering is nie aan ’n
tempel gebonde nie. Die wet kom ook meer as 400 jaar na Abraham se roeping.

7:3
Genesis 12:1 word hier aangehaal. Met die bevel om sy land en familie te
verlaat het die Here van Abraham ’n vreemdeling gemaak in die land wat
Hy aan hom sal aanwys. Die tema kom weer in die toespraak voor: Abraham se
nageslag sou 400 jaar lank vreemdelinge in Egipte word (7:6), Jakob sou as
vreemdeling in Egipte sterf (7:15), Moses word ’n vreemdeling in Midian (7:29),
Israel word later vreemdelinge in Babilon (7:43). Vir Abraham het die opdrag
van die Here beteken dat hy in geloof en vertroue op die Here die vreemde moes
in, en hom moes oorgee aan die daaglikse leiding van die Here. Sy familie het
skynbaar later weer afgode begin dien of bly dien, soos spreek uit Laban se
afgodsbeeldjies in Genesis 31:19.

7:4
Die weergawe van Stefanus oor die roepingsgeskiedenis van Abraham verskil
skynbaar van Genesis 11:27-32 se gebeure en jaartalle, maar dit is nie so
duidelik ’n verskil nie. Tera was 205 jaar oud toe hy in Haran sterf (Gen
11:32). Op 70 het hy die vader geword van Abram, Nahor en Haran (Gen 11:27). Of
Abram die oudste was, word nie gesê nie, maar vir die skrywer van Genesis was
Abram die belangrikste van die drie seuns, en word daarom eerste genoem. Haran,
die vader van Lot, het al in Ur gesterf toe Tera nog geleef het (Gen 11:28).
Abram was 75 toe hy uit Haran weggetrek het (Gen 12:4). Indien Haran die oudste
was, wat gebore is toe Tera 70 was (Gen 11:25), moes Haran 60 jaar ouer as
Abram gewees het om Abram se vertrek uit Haran na sy pa se dood op 205 jaar te
stel (70+60+75=205). Dit kan die teenstrydigheid verklaar, maar is
onwaarskynlik. Die roeping van Abram word in Gen 12:1 genoem, direk na die
berig oor sy pa se dood (Gen 11:32), wat aanleiding kon gegee het tot Stefanus
se idee dat Tera al dood was met Abram se vertrek uit Haran. Die Joodse wysgeer
Philo, wat in 50 n.C. gesterf het, het ook Abram se vertrek uit Haran ná Tera
se dood gestel, moontlik om dieselfde rede. Dat Stefanus sê ‘die Here het Abram
laat verhuis na die land waarin júlle woon’ impliseer dat Stefanus van
die Raad vreemdelinge in die Here se land maak omdat hulle nie in Jesus
as die Here van die land aan God se regterhand glo nie.

7:5
Die Here gee egter geen erfdeel in die land aan Abraham tydens sy lewe nie, nie
eers ‘n voetstap nie (Griekse idioom vir ’n tree of ’n vierkante tree;  hy koop later wel self die spelonk van
Magpela as sy besitting vir ’n kerkhof; Gen 23:18), maar die Here belowe dat Hy
die hele land aan hom en aan sy ‘saad’ saam met hom as besitting sal gee,
hoewel hy op sy ouerdom nog geen kind gehad het nie. Al wat Abram gehad het toe
hy as vreemdeling in Kanaän rondgeswerf het, is die Here se belofte van
’n groot nageslag en die besitting van die hele Kanaän (Gen 17:1-8). Dit was
nog voor God die wet gegee het en die tabernakel in Moses se tyd laat oprig
het, meer as 400 jaar na Abraham. Die soort vertroue op die Here en sy woord
makeer egter by die Joodse Raad wat nie in Jesus as die ‘saad’ van Abraham glo
nie.

7:6
Daarby belowe die Here vir Abraham se nageslag 400 jaar se slaweskap, as vreemdelinge
in ander se land waar die ander mense hulle sleg sal behandel, soos die Here in
Genesis 15:13 aan Abram gesê het (Eks 12:41 sê dit was presies 430 jaar, maar
in 15:13 is die eerste paar jaar uitgesluit, toe dit met hulle goed gegaan het
in Egipte onder Josef). Eers na hulle slawerny sal die Here se belofte vervul
word en sou hulle die wet en die tabernakel van Hom ontvang. Deur die eeue word
die volk van die Here geroep om in geloof in God en sy woord te lewe.

7:7
Die Here het aan Abraham belowe dat Hy die volk sou straf deur hulle slawe in
Egipte te maak en dan sou die Here hulle verlos (Gen 15:14). Na hulle vertrek
uit Egipte sou hulle die Here hier in dié plek, in die tempel in Jerusalem,
in vryheid kom dien (Eks 3:12 verwys na die berg Sinai in die Here se belofte
aan Moses; maar reeds in Gen 22:2,14 

word
Moria ‘die berg waar die Here voorsien,’ genoem, waar Salomo later die tempel
gebou het, 2 Kron 3:1). Wat God sê, doen Hy op sy tyd.

7:8 Die Here het met Abraham ‘n blywende verbond gesluit om sy God te wees en die God van sy nageslag (Gen 17:7). Die Here het die besnydenis gegee as teken van sy verbond met Israel. Elke seun onder hulle moes op sy agtste dag besny word (Gen 12:11). Met die Here se gawe van sy verbond en die teken daarvan, moes Abraham se nageslag vir meer as 400 jaar in geloof en afwagting lewe voordat hulle die landsbelofte ontvang het. Op die agtste dag het Abraham vir Isak besny (Gen 21:4) en so ook Isak vir Jakob en Jakob vir die twaalf aartsvaders op hulle agtste lewensdag (die besnydenis van Jakob en sy twaalf word nie in die Ou Testament uitdruklik vermeld nie). Vir Stefanus berus Israel se sekerheid van God se seënende genade op die Here se verbond met Abraham en sy nageslag, nie op die tempel of die wet nie. Die tempel is al ’n slag verwoes deur Nebukadnesar, maar die Here se genadeverbond met Israel het bly staan. Die Here se verbond met Israel is die rede vir hulle bestaan en is ouer en belangriker as die tempel of die wet van Moses.

Skrywer: Prof Francois Malan




Demone uitdryf – Francois Malan

Hester vra:

My vraag
is kan ‘n Pastoor wat werklik en opreg is in sy Bediening vir ‘n lidmaat se dat
dit nie moontlik is om iemand te help wat ‘n duiwelaanbidder was nie. Moontlik
dalk nog steeds is en wat kan ons dan ons familie doen om haar te help om die
demone uit haar te kry en dan ons woning en wat nodig is daarna te salf.

Dit is
nogal baie dringend asseblief ek sal enige hulp waardeer.

Antwoord

Prof
Francois Malan antwoord:

Geen
mens kan ’n demoon of ’n duiwel uitdryf nie, slegs die Here kan dit doen.
Daarvoor kan ons tot Hom bid en hom vra om ’n duiwel uit iemand te kry.
Vergelyk Markus 9:28-29 Jesus se dissipels het Hom gevra: waarom kon ons nie
die gees uitdryf nie? Hy het vir hulle gesê: Hierdie soort kan met niks anders
as gebed uitgedryf word nie.’

Ons
het nie seggenskap oor die Here om Hom rond te jaag om te doen wat ons wil nie.
Hy doen wat Hy wil, en ons kan Hom slegs in ootmoed en nederigheid in gebed
vra, in die geloof dat Hy alles kan doen, maar Hy weet wanneer en hoe Hy dit
sal doen en of dit gedoen moet word. Daarom kan ons enige tyd na die Here toe
gaan in gebed en ook aanhou met bid oor ’n saak. Maar altyd aan die einde sê:
Laat nie my wil nie, maar U wil geskied. Hy weet wat die beste is vir elke mens
en Hy wil elke mens verlos van sy sonde en sondige begeertes en gebruike. Maar
Hy wil ook elke bidder verander om te lewe soos Hy van ons vra, om mekaar lief
te hê en die Here lief te hê as ons Verlosser.   

Jesus
het ons ook gewaarsku: Wanneer ’n onreine gees ’n mens verlaat, swerf hy deur
waterlose streke op soek na rus sonder om dit te vind. Dan sê die onrein gees,
‘Ek sal teruggaan na my huis wat ek verlaat het’ En by sy terugkeer kry hy dit
uitgevee en aan die kant gemaak. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, slegter as
hyself, trek in en woon daar. Die uiteinde van daardie mens is erger as sy
begin (Lukas 11:24-26). As die Here nie self in ons bly deur sy Heilige Gees
nie, kan ons nie die aanslae van die duiwel weerstaan nie. As ons onsself aan
God onderwerp kan ons die duiwel weerstaan en hy sal van ons wegvlug (Jakobus
4:7).

Dit is nie nodig om die huis en ander goed te salf nie. Ons salf kan dit nie reinig of beskerm nie.  Ons lewe en ons goed word deur die woord van die Here gereinig. In Johannes 15:3 sê Jesus: ‘Julle is alreeds rein deur die woorde wat Ek vir julle gesê het.’ Sy woord kry ons in die Bybel en deur dit daagliks te lees skep Hy ons telkens nuut deur sy woord.

Skrywer: Prof Francois Malan




Jesus se Doop – Francois Malan

Francois vra:

Waarom
moes Jesus gedoop word en waarom het Hy toe eers die Heilige Gees ontvang ? As
drieenige God was die Heilige Gees mos reeds “by” Jesus gewees.

Antwoord

Prof
Francois Malan antwoord:

Johannes
die Doper het dieselfde vraag gehad. Mattheus 3:14-15:  Maar Johannes het Hom probeer teengaan met
die woorde: ‘Ek behoort deur U gedoop te word, en U kom na my toe?’ Jesus het
hom geantwoord: ‘Laat dit nou toe, want dit is goed dat ons op hierdie manier
alle geregtigheid vervul.’

‘Laat
dit nou toe,’ nou terwyl Ek praat. ‘Dit is goed’
– gepas en reg. Die woord ‘geregtigheid’ beteken om reg te doen volgens wat God
vereis. Johannes het mense gedoop en ’n doop van bekering met die oog op die
vergewing van sondes verkondig (Markus 1:4). Maar Hebreërs 4:14-15 sê ons
Hoëpriester, Jesus, die Seun van God…is nie ’n Hoëpriester wat nie medelye met
ons swakhede kan hê nie, maar Een wat, soos ons, in alle opsigte versoek is, en
dit sonder dat Hy gesondig het. En 2 Korinthiërs 5:21 sê: ‘Hy wat nie sonde
geken het nie, Hom het God sonde gemaak ter wille van ons sonde, sodat ons in
Hom (Jesus) voor God geregverdig kon word.’ Deurdat Jesus met sy doop Hom met die mensdom vereenselwig het en al ons sonde op Hom geneem
het
, sodat ons geregverdig voor God kan lewe en sterwe, word alle geregtigheid voor God met sy doop vervul. Daarom
was sy doop deur sy voorloper Johannes die Doper op daardie oomblik goed, gepas
en reg, want Hy het juis gekom om ons van ons sonde te verlos.

Jesus
se salwing met die Heilige Gees direk na sy doop verbind sy salwing met sy doop
as sy inhuldiging in sy taak as die Kneg van die
Here wat as ons Hoëpriester en as die Lam van God wat die sonde van die wêreld
wegneem, moes kom sterf volgens die verlossingsplan van God (Joh 1:29). Hy word
ook ingehuldig as die Seun van koning Dawid (Mattheus 1:1), wat oor die mensdom
kom regeer as die nederige Goeie Herder-Koning (Johannnes 10:11; 18:37).

Van
die toekomstige Dawid sê die Here in Jesaja 42:1 ‘Hier is my Dienaar, Ek stel
hom aan. Ek het hom uitverkies, hy geniet my guns. Ek laat my Gees op hom kom,
hy sal my wil aan die nasies bekend maak.’ Die woorde word in Mattheus 3:17
aangehaal, en in die aanhaling in Mattheus 12:18. Van die salwing van die Seun
van Dawid deur die Gees word in Jesaja 11:2 gepraat. Jesaja 61:1-2 praat van
die nuwe tyd van die Gees van die Here wat oor hom sal kom om ’n blye boodskap
(evangelie) te bring. In Lukas 4:16-19 lees Jesus in Nasaret se sinagoge Jesaja
61:1-2 voor en verklaar dan ‘Hierdie gedeelte uit die Skrif is vandag vervul
terwyl julle daarna luister.’ Die Gees van die Here het oor Hom gekom en die
Here het Hom gesalf om die blye boodskap te bring. Daarmee verwys Jesus na sy formele salwing met die Heilige Gees met sy doop, al
was Hy verwek uit die Heilige Gees (Mattheus 1:20). Sy formele salwing met die
Heilige Gees by sy doop is sy inhuldiging tot sy openbare bediening nadat Hy ’n
gewone skrynwerker in Nasaret was wat sy familie moes onderhou na Josef se dood
(Mark 6:3).

Jesus se bediening en sy Godheid word bevestig deur die stem uit die hemele wat gesê het: ‘Dit is my geliefde Seun oor wie Ek my verheug’ (Mattheus 3:17). Daarmee word die Drie-eenheid geopenbaar met die Vader se stem, die Seun wat mens geword het ter wille van ons, en die Heilige Gees wat soos ’n duif op Hom neerdaal om Hom te salf vir sy bediening van God se versoening met ons. Die woorde van God oor sy geliefde Seun weerspieël iets van die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees waarvan 1 Johannes 4:8,16 sê: ‘God is liefde.’  Dat die Vader Hom oor sy Seun se bevestiging verheug, wys dat God bly is dat sy Seun Hom met die mensdom kom vereenselwig het om God se verlossingsplan vir die wêreld te kom deurvoer met sy liefdesoffer van Homself. Na Jesus se eerste aankondiging van sy lyding, dood en opstanding (Lukas 9:22) praat hy en Moses (verteenwoordiger van die Wet) en Elia (verteenwoordiger van die profete) op die berg van verheerliking oor sy uittog wat Hy in Jerusalem tot vervulling sou bring (Lukas 9:31). Toe kom daar weer ’n stem uit die wolk wat sê: ‘Dit is my Seun, die Uitverkorene. Luister na Hom.’ Hy is uitverkies vir sy uittog om aan die kruis te sterf vir die sonde van die wêreld.

Skrywer: Prof Francois Malan