Die Groot Geloofswoordeboek: Spiritualiteit
Spiritualiteit • Kerklike tradisies • Gereformeerde spiritualiteit • Evangeliese spiritualiteit Evangelicals) • Pinkster-Charismatiese spiritualiteit
Spiritualiteit
Spiritualiteit is ‘n begrip wat veral die laaste twee dekades na vore gekom het in die Afrikaanse kerklike taal. Dit het veral gebeur na aanleiding van die *Vernuwingsbeweging in die NG Kerk sedert die 1980’s. Voorheen is dit uiters selde gebruik, anders as in die Katolieke tradisie en sekere Protestantse en veral Evangelical tradisies in Noord-Amerika. Anders as hier ter lande, is Spiritual Theology daar ‘n bekende vak vir teologiese studie.
Spiritualiteit verwys na die soort of tipe vroomheid of geloofsbelewing. Dis verwys na die algemene manier waarop mense hulle geloof beleef en die Here dien. Dit gaan nie soseer oor die leer nie as oor die lewe, oor die manier waarop ons ons geloof (die leer) uitleef. Daarom is daar sterk verbande tussen leer en lewe. Spiritualiteit kry die duidelikste gestalte in die erediens en die gemeente-organisasie en -funksionering.
Kerklike tradisies
‘n Mens moet onderskei tussen verskillende tradisies in die Christelike kerk. Daar is minstens twee groot strominge: die hoogkerklike tradisie, en die laagkerklike tradisie. ‘n Mens kry die twee in een enkele kerk, die *Anglikaanse Kerk. Ook die *Katolieke Kerk en *Ortodokse Kerke is hoogkerklik, wat onder andere beteken baie formeel met ‘n sterk liturgiese inslag. Hierdie indeling is egter nie waterdig nie. Daar is mense wat byvoorbeeld die Evangeliese *Lutherse Kerk en selfs die *Gereformeerde Kerke en ander kerke soos die Presbiteriaanse Kerk as hoogkerklik sal beskou.
Onder die laagkerklike groep is daar verdere indelings moontlik, soos die Pinkster-Charismatiese tradisie en die Evangeliese tradisie. Die begrip “Evangelies” kan misverstaan word. In Europa beteken dit eenvoudig Protestants teenoor Katoliek. Omdat dit in die Engelse wêreld ontstaan en uitgebrei het, is dit eintlik beter om van “Evangelical” te praat. Dit is dan ook wat ons hier daaronder verstaan.
Hierdie tradisie het sy basis veral in die groot Baptistekerke in Engeland en die VSA. Die Metodistekerk het byvoorbeeld as ‘n Evangeliese kerk ontstaan, al sal almal dit nie meer vandag daaronder indeel nie.
Mense sal praat van Gereformeerde vroomheid, Pinkster-Charismatiese vroomheid, mistieke vroomheid, hoogkerklike vroomheid (Anglikaans-hoogkerklik en Katoliek). Die tipe spiritualiteit kom baie sterk na vore in die erediens, maar ook in die gewone lewe. ‘n Toegewyde Gereformeerde Christen en ‘n toegewyde Pinkster-Christen het net eenvoudig twee verskillende maniere om oor die Here te praat, en beleef elke Sondag die Here verskillend in hul eredienste.
Binne die konteks van die meeste lesers van hierdie boek, is daar drie tipes spiritualiteit of vroomheid wat deur sommige as “opponerende magte” beskou word: Gereformeerde vroomheid, Evangeliese vroomheid en Pinkster-Charismatiese vroomheid.
Gereformeerde spiritualiteit (Gereformeerde tradisie)
‘n Vraag wat vandag wyd bespreek word, is presies wat Gereformeerde spiritualiteit is. Uit ‘n hele aantal kenmerke kan net ‘n paar hier genoem word, maar dit sal tog ‘n idee gee van waaroor dit gaan.
Nederig en dankbaar
Gereformeerdes beklemtoon dat God ten volle voorsien het vir ons saligheid deur die onoortreflike offer wat Christus gebring het sodat ons niks hoef by te dra om gered te word nie. Vanselfsprekend moet dit ons baie nederig en innig dankbaar maak. Nederig omdat selfs die beste wat ons sou kon aanbied, geen waarde het nie. En dankbaar omdat God alles voorsien het terwyl ons niks verdien het nie.
Vol vertroue en rustig
Omdat God alles voorsien het, hoef ons nie op ons naels te byt oor die vraag of ons gered is nie. Hy het die inisiatief geneem. Hy het dit ernstig bedoel. Hy wil ons dus graag red. Ons kan dus net ons vertroue op Hom stel en dan in gerustheid ons lewe lei. Ons hoef selfs nie bekommerd te wees oor die vraag of ons enduit sal volhou nie. Hy is getrou, daarom sal ons volhard. Gereformeerdes sal dus nie soveel nadruk op hulle persoonlike belewing van hul geloof en veral hul persoonlike bekering lê nie, eenvoudig omdat alles van God af kom.
Belangstelling in die Bybel
Gereformeerdes het ook ‘n besondere nadruk op die Bybel as die finale rigsnoer vir ons leer en lewe. ‘n Mens sal dus verwag dat hulle nie baie in mistieke vroomheid sal belangstel nie, veral nie in woordlose mistiek, stil meditasie nie; dat hulle eerder sal belangstel in die Bybel, preke, Bybelstudie en in geartikuleerde gebede. Daar word dikwels ook verwys na die nugterheid van hulle spiritualiteit, sonder veel emosie, gebede met netjies geformuleerde sinne en min stembuiging, eerder saaklik as smekend.
Samelewingsbetrokkenheid
Omdat hulle glo dat Christus die Heer is oor alle terreine van die lewe, sal hulle ook sterk by die hele samelewing betrokke wil wees.
Eredienste
In die eredienste is daar ‘n soberheid en eerbied wat nie ruimte het vir uitbundigheid nie. Dit word soms ‘n ingehoue blydskap genoem. Gereformeerde Christene het ‘n absolute minimum liggaamsbetrokkenheid by hul sang. Net hul lippe roer. Hulle sien dit as ‘n vorm van eerbied.
Evangeliese spiritualiteit (Evangeliese tradisie)
‘n Mens kry hierdie vorm van vroomheid veral in die Baptistekerke, die laagkerklike Anglikane, die ou NG Sendingkerk (wat nou deel van die VGK is), die ou Evangeliese rigting en die huidige *Vernuwingsbeweging in die NG Kerk. Mense wat gekant is teen die Vernuwing in die NG Kerk praat graag daarvan as ‘n Charismatiese beweging (met die motief dat Charismaties vreeslik verkeerd is), maar dis net uit onkunde. Daar is ‘n duidelike verskil tussen Evangeliese en Pinkster-Charismatiese vroomheid.
Daar is heelwat raakpunte tussen Gereformeerde en Evangeliese teologie en vroomheid. Beide beklemtoon die Bybel as die finale rigsnoer vir ons leer en lewe (Amerikaanse Evangelicals noem hulleself people of the Book), beide aanvaar Christus se volkome versoeningswerk en die leer dat ons net uit genade en net deur die geloof gered word.
Maar daar is klemverskille. Met die gevaar van misverstand in gedagte sou ‘n mens Gereformeerdes meer objektief, en Evangeliese Christene meer subjektief kon noem. Evangeliese Christene lê sonder twyfel meer nadruk op die mens se verantwoordelikheid om gered te word, hulle het daarom ook ‘n baie sterker sendingywer, hulle het baie meer emosie in hul geloofsbelewing, bid met meer gevoel, nie sulke netjiese sinne soos die Gereformeerdes nie, maar baie meer stembuiging, soms eerder smekend, amper huilerig. Gereformeerde Christene kan dinge baie makliker in God se hande laat en rustig voortlewe, terwyl Evangeliese Christene baie meer bekommerd is oor hulle verhouding met die Here en oor verloregaande mense (“siele”). Hulle liedere is baie eenvoudiger as Gereformeerdes s’n, en hulle sing baie meer oor sonde en berou en bekering. Die kwaliteit van hulle musiek is nie so hoog soos dié van die Gereformeerdes nie, maar dit is inniger en eenvoudiger, en spreek baie sterker tot ‘n mens se emosies.
Pinkster-Charismatiese spiritualiteit
As Gereformeerde vroomheid nugter is, is Evangeliese vroomheid innig, en Pinkster-Charismatiese vroomheid uitbundig. (*Pinksterkerke en Charismatiese kerke) Veral die Charismatiese beweging is sterk ingestel op buitengewone, dramatiese dinge soos Slain in the Spirit, Toronto Blessing, Goudstof, Prosperity Gospel. Hulle eredienste verloop baie vry en spontaan, hulle sang is nog eenvoudiger as dié van die Evangeliese vroomheid, hulle sing dikwels dieselfde sinnetjie oor en oor, en hulle is ten volle liggaamlik betrokke by die sang. Hulle werk baie sterk met die Geestesgawes.
Heelwat meer hieroor onder *Four Square Gospel.
Skrywer: Prof Adrio König