Die Groot Geloofswoordeboek: Versoening
Versoening
- Losprys Plaasbekleding en plaasvervanging Soendood Universele en beperkte versoening
Versoening is een van die kernwoorde van die Christelike geloof. ‘n Hele paar begrippe is rondom hierdie woord gevorm.
Losprys word gebruik vir die kruis van Jesus wat ons van die sondemag loskoop, soos ‘n slaaf in die Ou Testament vir ‘n bepaalde prys losgekoop kon word om dan ‘n vry mens te wees.
- Plaasbekleding en plaasvervanging
Plaasbekleding en plaasvervanging word gebruik om te verduidelik dat Christus in ons plek opgetree het toe Hy aan die kruis die offer gebring het wat ons moes bring (“plaas” is ‘n ou woord vir “plek”, ons kry dit nog in “begraafplaas”). In teologiese kringe word daar soms ‘n onderskeid gemaak tussen die twee begrippe. Plaasvervanging word soms met huiwering gebruik omdat dit sou suggereer dat Christus my vervang sodat ek nooit weer regtig na vore kom nie, terwyl plaasbekleding dan sou beteken dat Hy tydelik, aan die kruis, my plek voor God ingeneem het, maar dat ek deur die krag van die Heilige Gees weer self na vore kom en my eie plek voor God inneem.
Maar as ‘n mens regtig tegnies wil raak, sou jy ook kon redeneer dat plaasvervanging tog op die ou end die beste in die Gereformeerde teologie inpas omdat daar ‘n sin is waarin Christus nie net aan die kruis in my plek gestaan het nie, maar my voortdurend voor God verteenwoordig sodat ek selfs nie meer voor God my eie (ou, sondige) lewe het nie, maar deur die *doop en die *geloof gesterf het (Gal 2:19-20) en ‘n aandeel aan Christus se opstandingslewe gekry het.
Soendood is ‘n verkorting van “versoeningsdood” en verwys na die kruisoffer van Christus waardeur ons met God versoen is.
Versoening veronderstel vervreemding
In die Bybel is veral sprake van versoening tussen God en mens en tussen mense onderling. Versoening is nodig as daar vervreemding ingetree het. Vervreemding kan verskillende oorsake hê. Misverstand kan vervreemding veroorsaak. Dis nie so moeilik om dan versoening te kry nie. Verduidelikings is gewoonlik voldoende. Maar as daar regtig nadelige dinge tussen mense gesê of gedoen is, is meer as verduidelikings nodig. Dan is berou en belydenis en vergifnis nodig.
Wanneer daar egter vervreemding ontstaan het deur ‘n strukturele onregsituasie, is meer as woorde (berou, belydenis) nodig. Dan moet die onreg sover moontlik reggemaak word. Apartheid was/is ‘n klassieke voorbeeld. Meer as belydenisse was/is nodig. Onregstrukture is destyds geskep, en dit moet sover moontlik afgebreek en vervang word. Regstellende aksie is maar een van die talle pogings om iets van die strukturele onreg reg te stel. En net soos die onreg van destyds mense seergemaak het, maak regstellende aksie ook nou weer mense seer.
Is versoening regtig nodig? Kan mense nie maar net ver van mekaar af bly en mekaar “met rus laat” nie? In baie gevalle gebeur dit wel. Selfs in politiek-sosiale sin aanvaar baie mense maar net noodgedwonge die nuwe situasie in Suid-Afrika sonder om regtig iets te doen om nader te kom aan mense van wie hulle vervreemd was/is, en iets te probeer regmaak van die onreg van die verlede.
Verbond-enheid
Maar in beginsel is dit vir Christene onaanvaarbaar. Dit het te doen met die wese van God en die wese van die mens. God is die Verbondsgod. (*Verbond) Hy het Hom aan ons verbind, én ons aan Hom en aan mekaar verbind. Mense is verbondsmense. Geen mens kan anders in die wêreld kom as deur twee ander mense nie. Mense is gemaak om in gesinne te leef, en dit beteken in verbondenheid. Daarom verarm eensaamheid en vervreemding ‘n mens se lewe.
Dit is dan ook nie vreemd dat twee van die betekenisse van die *kruis van Jesus alles hiermee te doen het nie. Deur Christus se kruisdood het God die wêreld met Homself versoen, en deur die kruis het Christus die vyandskap tussen Jode en nie-Jode vernietig en hulle met mekaar versoen (2 Kor 5:18 ev; Ef 2:13-21). Christus word dan ook die *Middelaar genoem, die Een wat in die middel kom staan om vervreemding uit te wis.
Hoe moet ons die versoening deur Christus verstaan? Wie is versoen? Wat het Hy gedoen om versoening te bewerk?
Drie modelle van versoening
In die loop van die geskiedenis het interessante verklarings na vore gekom. Kom ons kyk kortliks na drie wat aan drie name verbind word: Anselmus se objektiewe versoeningsleer (God moes versoen word), Abaelardus se subjektiewe versoeningsleer (ons moes versoen word) en Irenaeus se dramatiese versoeningsleer (die duiwel moes “versoen” – oorwin – word).
Irenaeus het al in die tweede eeu na Christus geleef terwyl Anselmus teen die einde van die elfde eeu en Abaelardus teen die begin van die twaalfde eeu geleef het.
Anselmus: God moes versoen word
Anselmus was oortuig dat God deur ons sonde vervreemd is en dat Hy dus die Een is wat versoen moes word. Ons het deur ons sonde die eer van God aangetas, en omdat daar geen groter onreg as dit moontlik is nie, moet die grootste moontlike prys as boete betaal word om God weer tevrede te stel. Omdat alle mense sondaars is, kon hulle nie afsonderlik of selfs gesamentlik so ‘n boete betaal nie. Eintlik sou net God self dit kon doen. Maar dit moes ‘n mens wees wat dit doen omdat dit mense is wat die sonde gedoen het. Daarom het God die Godmens Jesus van Nasaret gestuur om die versoening te bewerk. Omdat Hy God was, was Hy in staat om die prys te betaal, en omdat Hy ‘n mens was, was Hy geskik om dit te doen.
Kritiek
Heelwat kritiek kan op hierdie teorie gelewer word, maar daar is ook besondere waarde in. Wat die kritiek betref, kan ‘n mens sê dat Anselmus se taal/terme nie soseer uit die Bybel kom nie as uit die Middeleeuse regsisteem. Woorde soos “boete”, “genoegdoening”, ‘n prys wat net so groot is as die oortreding, die feit dat juis dieselfde wese as wat gesondig het, die prys moes betaal, kom nie uit die Bybel nie. Verder kan hierdie siening ‘n vreemde beeld van God oproep as iemand wat baie gevoelig en gesteld is op sy eer. Dit sou ook die gedagte kon versterk dat God eintlik moet verander van die toornige God na die liefdevolle God, en dat Christus hierdie verandering in God moes bewerk. En dit sou nie klop met die nadruk in die Bybel nie dat dit God is wat uit liefde vir die mens hierdie offer bring (Joh 3:16; Rom 5:8 ev; 2 Kor 5:18 ev).
Waarde
Nogtans is daar ook ‘n besondere waarde in hierdie teorie. Die nadruk op die *toorn van God as sy verwerping van sonde kom sterk na vore in baie dele van die Bybel. Dink maar net aan die profete wat die oordeel van die Here oor Israel aankondig weens hulle aanhoudende ontrou aan Hom. Dink verder aan die vernietigende *ballingskap as die voltrekking van die oordeel van God oor hulle sonde.
Maar wat dan van die negatiewe beeld van God waarna reeds verwys is? Die punt is dat ons eenvoudig moet aanvaar dat hierdie twee dinge saam in God se houding teenwoordig is: oordeel én liefde. Dit is nie so dat die Vader toornig op ons is oor ons sonde, maar dat die Seun dan tussenbeide tree en die Vader se toorn afkoel nie. Die Vader is inderdaad toornig oor ons sonde, maar Hy het ons tegelyk so lief dat Hy sy Seun vir ons gegee het. Juis aan die kruis sien ons die klassieke gestalte van beide sy toorn en sy liefde: sy toorn in die lyding van Christus, en sy liefde in die offer wat Christus bring vir die mense wat dit nie verdien nie. En die waarde van Anselmus se siening is juis dat dit die een kant van die saak – die erns van ons sonde – beklemtoon. Ons moet nie lighartig met God omgaan nie.
Abaelardus: Ons moes versoen word
Abaelardus staan skerp teenoor Anselmus. Die meeste van sy kritiek is reeds genoem. Hy is oortuig dat God nie eise stel voordat Hy vergewe nie. Hy is so vry soos die pa van die verlore seun. As Hy die dood van sy Seun geëis het, sou dit beteken dat Hy ‘n baie groter sonde eis as wat Adam en Eva ooit gedoen het.
Volgens Abaelardus stuur God sy Seun om sy liefde aan ons te openbaar. In Jesus sien ons hoe groot God se liefde vir ons is, én hoe ons op hierdie liefde behoort te reageer. God se liefde vir ons moet ons beweeg om ons vyandskap teen God te laat vaar en Hom te begin liefhê. As ons Hom begin liefhê, is dit die grond waarop God ons sonde vergewe. Die verlore seun het teruggekom en daarom het sy pa hom vergewe. In die verhaal van die vrou wat by Jesus se voete staan en huil, het die vertaling van 1953 gelui: “Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad” (Luk 7:47).
Kritiek
Dis eintlik makliker om Abaelardus te kritiseer as Anselmus. Dis duidelik dat hy ook in eensydighede beland. ‘n Mens kan nooit die toorn van God teen ons sonde oor die hoof sien nie. As Anselmus eensydig op die toorn van God klem lê, lê Abaelardus net so eensydig op die liefde klem. En hierdie eensydighede is volkome onnodig. Soos reeds gestel, het ons beide aspekte op ‘n aangrypende manier in God verenig én in Jesus se kruis vergestalt.
Verder is dit ook ver benede die maat om in Christus se kruisdood net ‘n illustrasie van God se liefde vir ons te sien. Die Skrif is duidelik oor die feit dat Christus se dood ‘n offer aan God was om alle Ou-Testamentiese offers oorbodig te maak (Ef 5:2; die Brief aan die Hebreërs). “Hy het Homself vir ons sondes gegee” (Gal 1:4). Al is dit nie duidelik waarom Christus hierdie offer moes bring nie (*Kruis), is dit wel duidelik dat Hy dit moes doen en gedoen het.
En dan is daar ook nog die feit dat Abaelardus die mag van die sonde heeltemal misken. Christus bring nie net ‘n offer om ons sonde te versoen nie, deur sy kruis word ons ook verlos van die mag van die sonde (Rom 6).
Waarde
Nogtans is daar baie te waardeer in Abaelardus se siening. Een van die gevare van Anselmus s’n is dat, terwyl daar lank gelede iets aan die kruis plaasgevind het, ek dit nou maar net “glo” sonder dat dit iets aan my lewe verander. Daarteenoor kom Abaelardus met die eis dat my houding teenoor God moet verander. Ek moet in reaksie op sy groot liefde wat in Christus aan my gegee is met wederliefde antwoord. As God van ons eis om lief te hê (Hom en ons naaste) wys Hy eers in die lewe en sterwe van Jesus wat liefde regtig is. Jesus se gebed vir dié wat Hom aan die kruis vasspyker, is seker ‘n demonstrasie van die toppunt van God se liefde. En dan dink ons terug aan sy opdrag om ons vyande lief te hê.
Jesus is die klassieke voorbeeld van “practise what you preach”.
As ons nou terugkyk na hierdie twee standpunte, kan ons hulle as kruis en munt van dieselfde muntstuk beskou. Anselmus beskryf wat eerste gebeur, en Abaelardus wat daarop volg: eers wat God in Christus vir ons doen, en dan wat Hy in ons doen; eers vergifnis, dan verandering.
Irenaeus: Die Bose moet “versoen” (oorwin) word
Irenaeus het baie lank voor Anselmus en Abaelardus geleef, alreeds in die tweede eeu na Christus. Hy het heeltemal van ‘n ander kant af na die kruis gekyk. Hy het in die Bybel gesien dat daar sterk sprake daarvan is dat die Bose en die bose magte deur die kruis en die opstanding van Jesus oorwin is (Kol 2:15 ev). Dit gebeur ook tydens die lewe van Jesus waar ons lees van die “Een wat sterker is” wat die sterk man se wapens afneem (Luk 11:22; Matt 12:29). Irenaeus was oortuig dat die mense deur hulle oorspronklike ongehoorsaamheid aan God onder die mag van die duiwel gekom het, en daarom moes God nou die duiwel oorwin om hulle uit sy mag te bevry.
Die vraag of ons vandag nog kan aanvaar dat daar sulke bonatuurlike bose magte is, is elders bespreek. (*Duiwel)
Ook die siening van Irenaeus oor die betekenis van die kruis van Christus pas goed in in ‘n meer omvattende versoeningsleer, want behalwe dat ons sonde versoen moet word (Anselmus) en ons innerlik verander moet word (Abaelardus), moet ons ook bevry of verlos word van die mag van die sonde (Irenaeus).
Dit alles beteken dat dit nie altyd nodig is om verskillende sienings téénoor mekaar te stel nie. In die meeste gevalle is daar ‘n waarheidskern in ‘n bepaalde teorie wat geïdentifiseer en in ‘n groter raamwerk ingeskakel kan word.
• Universele en beperkte versoening
Daar is ‘n onderskeid wat gemaak word wat saamhang met ‘n bepaalde vorm van die uitverkiesingsleer. (*Uitverkiesing) As God net ‘n sekere getal mense uitverkies het om salig te word, is dit logies dat Christus ook net vir hierdie beperkte groep gesterf het. Al sou sy offer dan genoeg kon wees vir die sonde van die hele wêreld, het dit net betekenis vir die uitverkorenes. Dit is wat onder beperkte versoening verstaan word.
Hierdie rigting beroep hom op sekere uitsprake in die Bybel, soos die een van Jesus dat die Seun van die mens sy lewe gee as ‘n losprys vir “baie” (Mark 10:45). Dit sou dan beteken nie vir almal nie. Ons lees ook dat Jesus sy lewe aflê vir die skape (Joh 10:11); dus nogeens nie vir almal nie.
Teenoor hierdie siening staan dit wat universele versoening genoem word; dit is die oortuiging dat Jesus vir alle mense gesterf het, maar dat net dié wat die boodskap in die geloof aanneem, regtig in die versoening deel. Vir hierdie siening word natuurlik ook steun in die Skrif gesoek. Dink maar net daaraan dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het, dat God die wêreld so liefhet dat Hy sy Seun gegee het, dat Christus die versoening is nie net vir ons sondes nie, maar vir dié van die hele wêreld, dat God wil hê dat alle mense gered moet word, dat Jesus die dissipels na alle volke toe stuur (2 Kor 5:18 ev; Joh 3:16; 1 Joh 2:2; 1 Tim 2:4; Matt 28:19).
Die geslote sisteem waarvan die beperkte versoening ‘n integrale deel is, is reeds afgewys. (*TULIP) Daar is geen manier waarop die evangelie as die dringende oproep aan alle mense om in Jesus Christus te glo langs hierdie weg verstaan en verkondig kan word nie.
Wat die Skrifverwysings betref, is daar geen rede waarom die “baie” in Markus 10 juis die beperkende betekenis van “nie almal nie” moet hê nie. Dit dui juis op die grootheid van Christus se offer, wat nie maar net vir ‘n klompie gebring is nie, maar vir die massa. En dat Hy sy lewe vir die “skape” aflê, word nêrens gestel teenoor die bokke vir wie Hy dan nie sy lewe sou aflê nie. Die teendeel is die dief wat dít nooit sal doen nie, maar inteendeel sal slag en eet en verwoes. Dit is ‘n loflied op die grootheid van die goeie Herder se sorg vir die skape, en nie ‘n beperking op die waarde van sy offer wat hoegenaamd nie in die verband sou pas nie.
Skrywer: Prof Adrio König