Etes en kos in die Bybel (2)

Etes en kos in die Bybel (2) – Jan van der Watt

Brood was ‘n basiese bestanddeel van enige huishouding se diëet. Brood was deel van elke aandete (en selfs van ander etes gedurende die dag). Brood was nie alleen ‘kos’ nie – dit was veel meer. Dit het ook diens gedoen as ‘eetinstrument’. Daar was gewoonlik ‘n bak met sous of vleis in die middel van die tafel. Die brood is dan (soos ‘n lepel) gebruik om die sous of vleiserigheid uit die bak te skep. Daar was nie messe en vurke nie. Jesus verwys na die gebruik as Hy sê dat die een wat sy brood saam met hom in die bak druk Hom sou verraai (Matteus 26:23; Johannes 13:26). Verder is die brood ook gebruik om jou hande en vingers mee af te vee nadat jy geëet het, byna soos ‘n servet. Die stukke brood wat so gebruik is, is gewoonlik vir die honde gegooi – dit is die krummels waarna die Kanaänitiese vrou in Matteus 15:27 verwys. Die armes het die stukke oorskiet selfs kom optel en eet, soos Lukas 16:20 vertel. As Jesus dus die brood as een van die elemente van die nagmaal aanwys, beteken dit eintlik dat hy die deel waarsonder geen ete werklik ‘n ete is nie en wat altyd daar moes wees as teken aanwys.

Vroue het gewoonlik brood self gebak. Die brode was gewoonlik rond van vorm. Hulle het suurdeeg gebruik, maar die Jode het met geleentheid ook plat broodkoeke gebak om hulle aan die swaar dae in Egipte te herinner. Jesus verwys dikwels na suurdeeg, want dit is iets wat elke kind daagliks in die huis gesien het (Matteus 13:33; Markus 8:15). Die brood is gewoonlik of in keioonde, gate in die grond waarin vuur gemaak is en die as dan uitegkrap is of oor warm stene gebak – in groot dorpe was daar gewoonlik gemeenskaplike oonde waar ‘n mens jou brood kon gaan bak.

Brood is van graan soos koring of gars gemaak. Dikwels is verskillende soorte graan gemeng om broodmeel mee te maak. In gevalle is selfs boontjies of lensies in die broodmeel ingemeng (Esegiël 4:9). Graan was ‘n basies landbouproduk – die ekonomiese indeks (hoe goed of sleg dit gegaan het) is aan die beskikbaarheid van graan gemeet. Dit is selfs in die vroeë jare as ‘geld’ in die Midde-Ooste gebruik. Hongersnode is ook aan die beskikbaarheid van graan gemeet. Graan is dikwels ingevoer en as die skepe miskien sink of daar iets verkeerd loop en die graan daag nie op nie, is van ‘hongersnood’ gepraat.

Wyn was ook ‘n belangrike deel van die maaltyd, soos ons met Jesus se laaste maaltyd ook sien (Markus 14:23-25; Johannes 2:1-11). Arm mense het nie altyd wyn beskikbaar gehad nie, maar as daar wel wyn was, is dit gedrink. Die wyn is gewoonlik met water verdun (dikwels 3 eenhede water en 1 eenheid wyn). Wynmakery was nie so verfynd soos vandag nie. Hulle het die druiwe gepars, in bakke opgevang waar hulle die sap deur lappe gesuiwer het. Dan is die sap in leersakke of kleipotte gesit en in ‘n koel plek geherberg. Daar het die druiwesap dan gegis. Daarom moes ou sakke nie gebruik word nie. Die ou leersakke het sag geword en as die wyn daarin gis kon dit die sakke makliker skeur (Matteus 9:17; Markus 2:22). Goeie wyn was dan wyn wat behoorlik gegis het.

 

* Van die kosse waarvan ons in die Bybel lees:

Graan

koring 1 Sam 6:13; 2 Sam 17:28; 1 Kon 5:11; Eseg 4:9; 27:17; Op 6:6

meel Lev 2:1; 2 Sam 17:28

stampkoring Lev 2:16

sorghum Eseg 4:9

Groente

boontjies 2 Sam 17:28; Eseg 4:9

komkommers Num 11:5; Jes 1:8

knoffel Num 11:5

lensies Gen 25:34; 2 Sam 17:28; Eseg 4:9

oliywe Deut 8:8

prei Num 11:5

uie Num 11:5

wildekomkommers 2 Kon 4:39

 

Kruie en speserye

anys  Matt 23:23

kaneel Eks30:23-24; Op 18:13

koljander Eks 16:31; Num 11:7; Matt 23:23

kosbare kruie 1 Kon 10:2

kumyn Jes 28:25; Matt 23:23

kruisement Matt 23:23; Luk 11:42

mostert Matt 13:31; 17:20; Luk 17:6

wynruit Luk 11:42

sout Lev 2:13; Job 6:6

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Pinksterkerke/Charismatiese Kerke

Die Groot Geloofswoordeboek: Pinksterkerke/Charismatiese Kerke

Pinksterkerke • Charismatiese kerke

Alhoewel hierdie twee groepe kerke baie in gemeen het, is daar ook duidelike verskille. Die eerste verskil is die tyd van ontstaan. “Pinkster” (soos die Pinksterkerke soms genoem word) het teen die begin van die vorige eeu in Amerika ontstaan, terwyl die Cha­ris­matiese beweging ‘n halfeeu later, in die laat 1950’s begin het.

Pinksterkerke

Die Pinksterbeweging het in die VSA ontstaan, aanvanklik in 1901 in Topeka, Kansas, onder die Metodistepredikant Par­ham, en daar­na in 1906 in Azusastraat in Los Angeles, Kalifornië, in ‘n ou Me­to­distekerkgebou, onder die leiding van ‘n heiligheidsprediker Wil­liam Seymor. Dit was van die begin af gekenmerk deur die *doop met die Gees en *spreek in tale, en ander *gawes van die Gees. (*Pink­sterspiritualiteit)

 

Charismatiese kerke

Die Charismatiese beweging het ook in die VSA begin in histo­riese kerke wat nie verband met die Pinksterbeweging gehad het nie. Dit is eweneens van die begin af gekenmerk deur die doop met die Heilige Gees, die spreek in tale en ander gawes. Anders as die Pinksterbeweging wat van die begin af aparte kerke gevorm het, het die Charismatiese beweging aanvanklik in die historiese kerke gebly en in baie gevalle ‘n groot invloed op hierdie kerke uitge­oe­fen. In Suid-Afrika het dit in die begin van die 1960’s in die Anglikaanse Kerk begin en vinnig na ander historie­se kerke uitgebrei. Die so­ge­naamde *”Afrikaanse kerke” het die sterkste weerstand gebied, en is ook die minste deur hierdie beweging beïnvloed.

Daar is groot ooreenkomste tussen hierdie kerkgroepe, maar ook duidelike verskille. Die een probleem is dat die Cha­ris­­ma­­tie­se be­weging so wyd vertak het en soveel gestaltes aan­ge­neem het, dat veralgemenings baie moeilik en soms selfs mis­leidend is. Daar het byvoorbeeld in die 1970’s onafhanklike Cha­rismatiese kerke ont­staan (die sogenaamde deno­mi­na­sione­le Charismatiese bewe­ging) wat onderling soms groot verskille openbaar, en ook heelte­mal weg­beweeg het van die Charismatiese groepe in die historiese ker­ke. (*Charismatiese spiritualiteit)

Wat ooreenkomste betref, aanvaar albei groepe die *Four Square Gospel: Jesus is die Verlosser, die Geneser, die Doper met die Gees en die komende Koning. Beide lê groot nadruk op ‘n persoon­li­ke be­keringservaring, die doop met die Gees, die ga­wes van die Gees, die persoonlike leiding van die Gees en *evan­ge­li­sa­sie.

Wat verskille betref, beskou die Charismatiese beweging nie so al­gemeen die spreek in tale as bewys van die Geesdoop nie. Dit word meer opsioneel beskou sodat iemand wel met die Gees ge­doop kan wees sonder om juis in tale te praat. Die onafhankli­ke ker­ke in die denominasionele Charismatiese beweging het nie sterk onder­linge bande met mekaar nie, en in Suid-Afrika is daar die losse groe­pe­ring van die ICCC, die International Council of Christian Churches. Dit is heel anders as die Pinksterbeweging wat hoofsaaklik in­gedeel is in die Apostoliese Geloofsending, die Volle Evangelie Kerk van God en die Assemblies of God.

Terwyl die Pinksterkerke in klein gemeentes georganiseer is en pastore vryelik oor en weer na gemeentes beroep word, het die de­no­minasionele Charismatiese beweging in makrogemeen­tes ontwikkel wat onder die gesag van een persoon staan; die stig­terpastoor wat onafskeidelik aan die gemeente verbonde is, en sonder meer die hoof, die hart en siel van die gemeente is.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Annus virtualis

Annus virtualis – Stephan Joubert

Annus virtualis, die jaar/era van virtualiteit is op ons.  Een en ‘n half miljard mense wêreldwyd is reeds aanlyn- vele vir langer as 20 ure per week. Meer as 2 triljoen dollar se besigheid word jaarliks op die internet gedoen, met 33 % boeke wat tans aanlyn verkoop word. Facebook het reeds in 2009  met 5 miljoen mense per week gegroei, met 140 miljoen nuwe lede wat tussen Februarie 2007-Maart 2009 aangesluit het. Twitter spog ook met meer as 800 miljoen lede.

Die internet is ‘n onuitputlike bron van informasie. Jy kan enigiets “Google” en binne milli-sekondes ‘n reeks webblaaie tot jou beskikking hê met antwoorde. Of jy kan by Wikipedia inval en meer akkurate inligting as Encyclopedia Brittanica daar raakloop.  Maar die digitale wêreld is nie net ‘n kortpad na informasie nie, dis ‘n verlengstuk en uitdrukkingsvorm van miljarde mense se leefwêrelde.  Hier vorm nuwe verhoudings, taal en denke -sowel positief as negatief . Leadbater (We-Think, 2009) praat van ‘n nuwe soort virtuele “we-think waar opinievorming nie langer deur ‘n paar kenners beheer word nie, maar deur groot groepe mense.

Virtualiteit is ‘n integrale deel van ons lewens. “Connectivity”/ konnektiwiteit is die nuwe wagwoorde . Deur middel van ons eietydse elektroniese en digitale verbindingsmedia skep en betree miljarde mense daagliks nuwe interaktiewe spasies. Wêreldwyd verbind mense op nuwe maniere met mekaar.

Jesse Rice (The Church of Facebook, 2009) sê een van die grootste behoeftes vir internetverbuikers, veral diegene op Facebook, is dieé aan ‘n “home’, ‘n tuiste. Nuwe virtuele families kom hier tot stand met gedeelde narratiewe. Mense is immers met hul harte en emosies hier aanwesig. Dirigent Eric Whitacre kon daarom selfs al ‘n virtuele koor dirigeer waaraan 185 sangers uit 12 lande deelgeneem het sonder enige persoonlike kontak (http://www.youtube.com/watch?v=D7o7BrlbaDs).

Wat van die gevare van die internet?” soos wat ou doomnis sou vra. Wag, ek wil nie juis tyd op hierdie wa deurbring waar “kenners” gewoonlik meer weet van alles wat verkeerd is met die wêreld as dit wat reg is met God se goeie boodskap nie. Ook wil ek nie doen wat my hond doen deur te blaf vir dit wat hy nie verstaan nie omdat ek dalk vasgevang is in ‘n dualistiese leefstyl waar my kerklike lewe in ‘n ander wêreld afspeel as die res van my lewe. Ek wil eerder saam met Len Wilson (The wired church 2.0, 2009) sê: “Our job as messengers of the gospel, is to speak in whatever language the culture is speaking.” Ek wil die evangelie eietyds, onverdund en eg vergestalt binne die nuwe realiteite van ons dag.

Die internet vervang nie gesig tot gesig kontak of interpersoonlike, fisiese verhoudings nie.  Dit mag ook nie. Hiervoor moet ouers, vriende, skole en kerke sorg. Maar as ons meen betekenisvolle sosiale interaksie is nie moontlik op die internet nie, dan is ons nie betrokke by Facebook, blogs of Twitter nie. Studies wys dat vele jongmense (en volwassenes) eerder hul harte op Facebook met hul “Facebook Friends” sal deel as met hul biologiese familie!  Via my eie betrokkenheid by ekerk, ‘n virtuele bediening, het ek al meer mense tot geloof in Christus sien kom as in “regte” kerke. Ook beleef ek aanhoudend hier hoedat nuwe virtuele verhoudings vorm aanneem wat ook grondvat in konkrete hulpprogramme en aksies.

In my skooldae het ons geld ingesamel vir kerklike orrelfondse. Ek wonder hoekom vele gemeentes nie vandag digitale- en mediafondse het nie? Ek wonder ook hoekom party gemeentes hul webblaaie slegs as “elektorniese afkondiging-brosjure” gebruik? As ons dink betrokkenheid by die digitale wêreld is ‘n luukse, of ‘n hulpmiddel tot bestaande bedienings, dan mis ons hierdie nuwe universele digitale kultuur. Nog erger, dan gaan ons binnekort op die godsdienstige wa van irrelevansie rondsit.

Ons is geroep om ons kultuur te help transformer in die lig van God se koninkryk wat in Christus aangebreek het. Kom ons leer by ‘n Maarten Luther wat ook die nuwe media van sy dag, naamlik die drukpers,  effektief gebruik het om die Reformasie deur te voer. Kom ons omhels vandag se wêreld entoesiasties en sorg dat God se koninkryk met styl aanbreek binne ons uitdagende digitale en fisiese leefwêrelde.

 

Skrywer: Dr Stephan Joubert




Etes en kos in die Bybel (1)

Etes en kos in die Bybel (1) – Jan van der Watt

‘n Gewone persoon in die ou tyd het gewoonlik ietsie ligs vroeg in die oggend geëet soos gedroogte vrugte (vye of olywe), kaas en het dikmelk gedrink as dit beskikbaar was. Hulle het dit gewoonlik sommer om hulle lyf saamgedra. So teen 10-12 uur het hulle dan ‘n groter ete geëet. Ons lees daarvan in Johannes 4 – Jesus sit in die middel van die dag by die put terwyl sy dissipels in die dorp gaan kos koop het. Die groot ete was in die aand. Dan was die hele gesin saam en in arm huise het hulle gewoonlik saam om die vuur gesit terwyl die kinders in die ligkring van die vuur gespeel het. In ryker huise is die mans bedien. Die vroue en kinders het gewoonlik eenkant geëet. In die duur Romeinse huise het die mans en vroue tot verskillende eetkamers gehad. Dikwels was die eetkamers aanmekaar verbind met ‘n gang.

Die etes van die gewone mense was maar eenvoudig. Vleis was baie skaars. Dit is gewoonlik gekook. Die algemene was dat daar brood met ‘n soort sous was wat van groente of so iets gemaak is. Dit was in ‘n gemeenskaplike bak opgedien sodat almal uit die een bak geëet het. Daarom is ‘n feesmaal so belangrik in die Bybel as teken van die hemel. Die arm mense het min en eenvoudig geëet – die konings het weer baie gehad om te eet. Met so feesmaal was daar nie ‘n tekort aan eetgoed nie. Daar was selfs musiek en ander soorte vermaak soos dans en gedigte lees. ‘n Mens kan jou voorstel dat die arm mense gedroom het om by so feesmaal uit te kom (Matteus 22:1-14).  Ons lees net in een plek in die Ou Testament dat mense voor ‘n maaltyd gebid het (1 Samuel 9:13), maar Jesus het dit skynbaar gereeld gedoen (Matteus 15:39; Lukas 9:16).

Etes was ook ‘n baie belangrike sosiale geleentheid, juis omdat die hele gesin, asook die gaste wat teenwoordig is, rustig om die kosbak kon ontspan. Jy het egter nie sommer saam met enigiemand geëet nie. Jy het saam met jou vriende geëet, díe mense met wie jy jou graag sou wou assosieer. Daarom is die Fariseërs so ontsteld as hulle Jesus saam met die tollenaars en sondaars sien eet (Matteus 9:10-11). Die spreuk sou lui: Sê my saam met wie jy eet en ek sê jou wie jy is. By meer spoggerige etes het die gasheer gereël dat sy belangrike gaste se voete gewas word, hy kon selfs vir hulle mooi klere gegee het (Matteus 22:11) en het dan die plekke toegeken waar die mense kon ‘aansit/aanlê’. Hoe nader dit aan die gasheer was, hoe belangriker was die gas (Markus 12:39; Lukas 14:8).

Mense het grootliks maar geëet wat beskikbaar was. Vrugte (druiwe, vye, dadels, granate en olywe), groente (uie, boontjies, lensies, ertjies, preie, spanspek, komkommers), melk, kaas of dikmelk, brood en soms vleis en wyn was geredelik beskikbaar. Hulle het nie suiker gehad nie, maar baie heuning. In die omgewing van die see van Galilea was daar ook genoeg vis; die vis is gedroog om langer te hou. Gewoonlik is daar ook net een dis voorberei wat dan in die bak in die middel van die groep mense gestaan het. Hulle het die dis dan saam met brood geëet. Dit lyk ook of die baas van die huishouding soms die porsies uitgedeel het, moontlik om te keer dat party te veel vat (1 Samuel 1:4).

Kom ons kyk na twee van die basiese kosse wat op die tafel was en wat vandag nog ‘n belangrike rol in elke gelowige se lewe speel, juis omdat Jesus dit as tekens van die nagmaal gekies het.

 

‘n Spyskaart as besoekers kom:

Wat het gebeur as ‘n gemiddelde tot ryk man in Paulus se tyd by die huis sou kom en sê: ‘Ou vrou, ons kry mense vir ete’? Martial, ‘n Romeinse skrywer, vertel vir ons wat om te verwag (in sy geskrif Epigramme 5.78). Hy gee vir ons ‘n tipiese spyskaart uit daardie tyd. Die arme vrou moes sowaar ‘n driegang maaltyd voorberei en nog vir die mans bedien ook:

Voorgereg (oftewel die aptytwekker):

* Blaarslaai en sterk prei. (die Romeine het geglo dit is ‘n goeie lakseermiddel).

* Tuna (of ander vis) wat met gekerfde eiers versier is. (Eiers was altyd deel van die voorgereg).

 

Hoofgereg:

* Gekookte koolblare (as groente) is op ‘n swart bord voorgesit.

* ‘n Klein worsie of (klein) stukkie gekookte vleis is op ‘n growwe tipe hawer, verwerkte koring of iets soos couscous opgedien. (Vleis is gewoonlik bokant die vuur aan die dakbalke opgehang. So is dit gerook en het dit langer gehou).

* Wit boontjies is saam met ‘n stukkie spek gaargemaak. (Kleur was vir hulle belangrik in hulle kos).

 

Poeding:

* Vrugte soos druiwe, pere, appels.

* Warmgemaakte neute.

* As gedroogde vye, pruime of dadels beskikbaar was, is dit ook aangebied.

 

Wyn of asyn wat met water verdun is, is saam met die ete gedrink.

Na die ete, terwyl hulle lekker om die wyn lê en kuier, het hulle verder aan olywe of warm peulgroente geknibbel.

 

Bon appetite!

Volgende keer gaan ons kyk na brood en wyn en van die kosse waarvan ons in die Bybel lees.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt