Die Groot Geloofswoordeboek: Piëtisme

Die Groot Geloofswoordeboek: Piëtisme

Piëtisme

Die Piëtisme het in Duitsland in die *Lutherse Kerk ontstaan aan die begin van die agtiende eeu. Hulle het persoonlike bekering en ‘n lewe in heiligheid en toewyding beklemtoon teenoor die bloot formele aanvaarding van die leer van die kerk wat hulle as dooie ortodoksie bestempel het. Jakob Spener word as die vader van die Piëtisme beskou. Daar het baie groot sending-entoesiasme van hul­le uitgegaan na baie dele van die Derde Wêreld, insluitende Suid-Afrika. Daar is vandag ‘n groot Lutherse Kerk onder die swart be­vol­king in ons land.

Skrywer: Prof Adrio König




Tale in die antieke Midde-Ooste

Tale in die antieke Midde-Ooste – Marius Nel

Willie wil weet: (Hierdie is ‘’n opvolgvraag)

Ek verwys na ondergenoemde antwoord en wil , as ek mag , my vraag bietjie uitbrei

Moses het in die Farao se paleis groot geword – hy sou dus die taal van die Egiptenare van daardie tyd gepraat het – weet ons hoe hulle taal van daardie tyd  gelyk en geklink het ? Sou n mens kon aflei dat die Israeliete twee tale gepraat het ( Beide Hebreeus en dan die taal wat die Egiptenare gepraat het ) Moses sou dalk as kind nie veel aan Hebreeus blootgestel gewees het nie en dan wonder n mens wanneer hy dit sou geleer het ? Of kan dit wees dat die 2 tale baie eenders gewees het dat dit nie juis n probleem sou gewees het nie . Vandag praat die Egiptenare Arabies , maar dit fassineer my watter taal hulle destyds gepraat het en wat die invloed daarvan op Moses was . Sou n mens dan ook kan aflei dat God in Hebreeus met Moses gepraat het , daar in die woestyn by die brandende bos.

 

Antwoord:

Dr. Marius Nel antwoord:

Ja, Moses sou waarskynlik die Egiptiese taal aangeleer het. Daarom kon hy later met die farao onderhandel, sonder ‘n tolk. Die volk in slawerny het ook die Egiptiese taal geken, soos die mense van Afrika ook die kolonialiste se taal moes aanleer om enigsins te oorleef. Die Egiptiese taal is aan ons bekend deur die hiërogliewe-taal wat oorgelewer is, en mettertyd ook ontsyfer is. Hoe dit geklink het, weet Egiptoloë nie meer vandag nie. Die twee tale, Egipties en die Semitiese dialekte, was nie nou verwant nie. Ons weet egter dat baie mense in antieke tye tweetalig was. Ons aanvaar dat God in Hebreeus met Moses gepraat het, omdat Hy die Hebreeuse woorde gebruik om sy Naam (eienaam:JHWH) aan Moses te verklaar.

Skrywer: Dr Marius Nel

 




Hebreeus en Aramees

Hebreeus en Aramees – Marius Nel

Willie vra:

Is dit moontlik om vas te stel watter taal/tale Moses en die volk Israel gepraat het ten tye van hulle verblyf in Egipte , gedurende die trek deur die woestyn en selfs toe hulle die beloofde land binnegegaan het . Op watter stadium het Hebreeus en Aramees hulle spreektaal geword ?

Antwoord:

Dr. Marius Nel antwoord:

Die Ou Testament verwys heel vroeg na die Israeliete as die Hebraioi, of Hebreërs. Hieruit kan ons aflei dat hulle Hebreeus gepraat het, een van die Semitiese dialekte. Die twee stamme is na Babilonië in ballingskap weggevoer, waar hulle aan Ryksaramees blootgestel is. Mettertyd het die Jode na die ballingskap Hebreeus vir Aramees verruil.

 

Skrywer: Dr Marius Nel

 




Die doop as teken

Die doop as teken – Jan van der Watt

Johan vra:

In ‘n artikel waarin u raad gee aan ‘n vrou oor die doop, noem u dat die doop ‘n teken is. Kan u asb verduidelik waarvan die doop ‘n teken is asb. Ek sien dit nie duidelik in u antwoord aan die vrou nie.

Antwoord:

Prof. Jan van der Watt antwoord:

Die doop word in die Ortodokse en Rooms Katolieke kerke gesien as die instorting van genade in die mens. Daardeur sou die mens dan salig word. Dit is byna soos ‘n glas wat met geboorte halfpad vol water (genade) is, maar nog nie vol is nie. Met die doop word die glas dan heeltemal volgemaak met genade, wat beteken dat die persoon dan gered is.

Die Reformatore (Luther, Calvyn en andere) het ‘n ander pad ingeslaan. ‘n Mens word nie deur die doop gered nie, maar deur geloof in Jesus. As die doop dan nie red nie, waarom doop mens dan, is toe gevra. Die Reformatore het verduidelik dat die doop ‘n teken is van iets groters, net soos die ring aan die vinger van ‘n getroude die teken van iets groters is. Maar waarvan is dit ‘n teken?

Romeine 6 en Kolossense 2:11 help ons om die vraag te antwoord: Met die doop word die persoon saam met Jesus begrawe (die ou mens is weg) en saam met Hom opgewek (sodat hy of sy ‘n nuwe lewe kan leef (Romeine 6 en Kolossense 2 ).Die doop wil dus simboliseer dat mens van die dood na die lewe saam met Jesus toe oorgegaan het. Jy het nou ‘n nuwe identiteit, naamlik van iemand wat gered is en aan Jesus behoort. Daaraan moet die doop jou herinner en daarvan is dit ‘n teken.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt