Eindtyd – Hermie van Zyl

Michele vra

Boodskapteks: Volgens wat die Bybel sê, is ons blykbaar in die laaste sewe jaar tot
Jesus weer kom. Beteken dit dat ons nou al in die tribulasietyd (= groot
verdrukking) is? Kan mos nie wees nie, want die wegraping moet eers plaasvind.
Kan u asb verduidelik?

Antwoord

Prof
Hermie van Zyl antwoord:

Die vraagsteller gaan klaarblyklik uit van
die sogenaamde chiliastiese of millennialistiese standpunt waarvolgens sekere
Bybeltekste binne ‘n bepaalde skema van eindtydelike gebeure geïnterpreteer
word. Ek skets kortliks die chiliastiese standpunt, en stel dan my eie
standpunt, waarby ek hoop die vraagsteller baat sal kan vind.

Die Chiliasme

Ek wil graag die vraagsteller uitnooi om ons webblad –
www.bybelkennis.co.za – te besoek en daar méér oor die chiliasme te lees as wat
ek hieronder kan gee. Op genoemde webblad is daar ‘n baie goeie stuk van prof
Adrio König wat breedvoerig oor die chiliasme en die wegraping handel. Tik die
volgende woorde in by jou soekenjin: http://www.bybelkennis.co.za/die-groot-geloofswoordeboek-die-eindtyd/.
Dit behoort jou by die betrokke artikel uit te bring. Wat ek hieronder bied, is
‘n baie vereenvoudigde weergawe van die chiliasme en is net afgestem op die
vraag van die vraagsteller.

Die woord chiliasme is afgelei van die Griekse woord chilioi wat 1 000 beteken. En
millennialisme is weer afgelei uit twee Latynse woorde, mille wat 1 000 beteken, en annus, jaar. Beide die begrippe “chiliasme” en
“millennialisme” verwys dus na dieselfde saak. Hiervolgens sal
Christus eers vir ‘n tyd lank (1 000 jaar) op aarde regeer waarna die
finale koms van die koninkryk van God plaasvind. Daar is dus eintlik ‘n dubbele
wederkoms van Christus in hierdie siening vervat: die eerste by die sogenaamde
wegraping van die gelowiges waarop, ná ‘n tyd van verdrukking, die
duisendjarige vrederyk op aarde volg, en daarna wanneer Christus kom om die
bose finaal te vernietig en die koninkryk van God te vestig. My aanvoeling is
dat die vraagsteller haar breedweg by hierdie standpunt skaar.

Ondersteuners van die chiliasme huldig nie almal
dieselfde siening oor presies hoe die eindgebeure chronologies verloop nie. Wat
ek hier onder voorhou, is volgens die premillenniastiese standpunt, wat die
gewildste chiliastiese voorstelling van die eindtydelike gebeure is. Dit kom op
die volgende neer: Openbaring 20:1-10, waar gehandel word oor die duisendjarige
vrederyk, word gepaar met die sogenaamde wegraping wat na bewering in 1
Tessalonisense 4:13-18 voorkom. Hierdie twee stelle gegewens word dan so met
mekaar verbind dat die “wegraping” van gelowiges eers plaasvind.
Hulle ontmoet Christus in die lug, word geoordeel, en vier saam met Hom
die  bruilof van die Lam (Op 19). Hierna
breek die groot verdrukking aan, wat groot ellende vir die bewoners van die
aarde meebring. Vervolgens word die Satan gebind, en dan breek die
duisendjarige vrederyk op aarde aan waar Christus die wêreld regeer (Op
20:1-6). Ná hierdie tydperk word die duiwel weer vir ‘n kort rukkie losgelaat
om sy verwoestingswerk voort te sit (Op 20:7-9), waarop die vernietiging van
die Satan en die bose magte, die opstanding en oordeel van die ongelowiges
volg, en die nuwe hemel en aarde aanbreek (Op 20:9-21:8).

Die chiliasme word dikwels ook verbind met die sogenaamde
dispensasionalisme. Dit hou in dat die wêreldgeskiedenis in verskillende
dispensasies of tydperke ingedeel word, waarvan die laaste tydperk die
duisendjarige vrederyk is. Maar waar pas die groot verdrukking in? Dié kom net
voor die duisendjarige vrederyk. Die groot verdrukking word afgelei uit Daniël
se profesie van die sewentig “jaarweke” of tydperke in Daniël
9:20-27, wat opgebreek word in 7 + 62 + 1 tydperke (Dan 9:25-26). Elke tydperk
beloop sewe jaar. Volgens die berekening wat begin met die bevel van koning Kores,
die Pers, in 538 vC om Jerusalem te herbou, bring die eerste 69 tydperke (7 +
62) ons min of meer uit by die tyd van Christus, wat dan nog een onvervulde
tydperk van sewe jaar laat. En dié word gesien as die tyd van die groot
verdrukking wat nog êrens in die toekoms moet plaasvind. Laasgenoemde word weer
in verband gebring met die profesieë van Jesus in Matteus 24 wat praat van die
groot verdrukking, ‘n tyd waarin daar natuurrampe sal wees, die antichris sal
optree, mense nie sal kan koop en verkoop as hulle nie die merk van die dier
het nie (Op 13:17), en daar in die algemeen groot ellende vir almal sal wees
(Matt 24:3-28). Sommige chiliaste sê ook dat dié tyd opgebreek word in twee
tydperke van twee en veertig maande (= drie en ‘n half jaar) elk, volgens die
woorde van Openbaring 13:5. Vergelyk ook Daniël 7:25 se “vasgestelde
tyd”, wat letterlik ” ‘n tyd, tye en die helfte van ‘n tyd” is,
wat weer gelyk is aan drie en ‘n half jaar.

Ter opsomming kan mens dus sê dat die chiliastiese
standpunt oor die eindtyd die volgende volgorde van gebeure voorstel: Wegraping
van gelowiges, groot verdrukking (sewe jaar), binding van die Satan,
duisendjarige vrederyk, ontbinding van die Satan ná die millennium,
vernietiging van die bose en sy engele, opstanding van en oordeel oor die
ongelowiges, en die koms van die nuwe hemel en aarde.

Vervolgens stel ek my eie standpunt oor die eindgebeure,
wat ook min of meer die hoofstroomdenke onder Bybelwetenskaplikes
verteenwoordig.

Eie standpunt

  • Die Bybelse gegewens oor die eindtyd verplig my nie om
    iets soos die chiliastiese standpunt te aanvaar nie. Daarom aanvaar ek ook nie
    die wegraping van gelowiges, die sewejarige groot verdrukking of die
    duisendjarige vrederyk soos dit tipies in die chiliasme voorgestel word nie.
  • Die aanname dat ‘n wegraping sal plaasvind, lei
    noodwendig tot die aanvaarding van twee wederkomste van Jesus – eers met die
    wegraping en dan die finale wederkoms. Maar die Bybel praat nêrens van twee
    wederkomste nie. Dit is die chiliaste wat telkens tekste wat handel oor die wederkoms interpreteer as sou dat dit op
    die wegraping slaan. Maar dis
    onnodig, daar is geen uitlegkundige noodsaak om daardie tekste as
    “wegraping” te interpreteer nie; dit handel gewoon oor die een
    wederkoms van Jesus aan die einde van die tyd. (Vir ‘n breedvoeriger hantering
    van die argumente, kyk prof König se artikel waarna aan die begin verwys is.)
  • Die aanvaarding van die sewejarige verdrukking lewer
    eweneens probleme op. Eerstens, dit
    is gewoon willekeurige en spekulatiewe uitleg om Daniël 9 se gegewens te
    gebruik om ‘n uitgebreide en ingewikkelde dispensasieteorie op te stel
    waarvolgens die 69e week saamval met die tyd van Jesus, en dan die laaste
    tydperk van sewe jaar te laat slaan op êrens in die toekoms. In elk geval, dit
    is slegs met taamlik “kreatiewe” berekening dat die 69e week saamval
    met Jesus se tyd. Geleerdes is dit eens dat die 69e week volgens Daniël se eie
    berekenings saamval met die sluipmoord op die hoëpriester Onias III in 171vC,
    en die 70e week op die verdrukking van die Jode onder Antiogos IV Epifanes in
    167 vC. Tweedens, die bymekaarbring
    van ‘n hele klomp tekste (waaronder Matteus 24) as sou dit ‘n aanduiding van
    die sewejarige tydperk van die verdrukking wees, doen ook willekeurig en
    geforseerd aan en hou nie rekening met die betekenis daarvan in Matteus en die
    ander Bybeltekste self nie. Derdens,
    hoe weet mens wanneer hierdie tyd van verdrukking begin? Wie besluit daaroor?
    Chiliaste self is vaag oor wanneer die sewe jaar van eindtydelike verdrukking
    aanbreek. Ons vraagsteller lyk my gaan gewoon uit van die veronderstelling dat
    ons reeds in die sewejarige verdrukking is, en is dan tereg bekommerd daaroor
    dat die wegraping nog nie eens plaasgevind het nie. Dit is geweldig spekulatief
    om so met Bybelse gegewens om te gaan. Mense wat in die verlede hulle hand
    gewaag het aan sulke berekenings het telkemale bedroë daarvan afkom. En dit
    maak net ‘n hele klomp gelowiges onrustig en selfs beangs. In elk geval waarsku
    Jesus ons teen berekenings. Hy sê baie duidelik dat niemand weet wanneer dié
    tyd kom nie (Matt 24:36). Ons moet dus wegbly van berekenings. Die sogenaamde
    tekens van die tyd is nie gegee vir berekenings nie, maar vir bekering, vir
    waaksaamheid, vir altyd-gereed-lewe (Matt 24:42). Dit is daarom beter om hierdie
    voorbeelde van verdrukking wat in die Bybel voorkom, nie te misbruik vir
    eiewillige en willekeurige teorieë oor wanneer en in watter volgorde die
    eindgebeure gaan plaasvind nie. Die verdrukkings waarvan die Bybel praat het
    nog altyd in die wêreld se geskiedenis voorgekom. Wanneer ons dus sien dat die
    tye boos is – en hulle ís boos – moet ons nie begin somme maak nie, maar
    waaksaam lewe. Want die einde kan enige dag kom, soos ‘n dief in die nag. Dís
    die boodskap van hierdie tekens in Matteus 24, en waar dit elders ook voorkom.
  • Om ‘n letterlike duisendjarige vrederyk te
    aanvaar wat nog êrens in die toekoms lê, is eweneens nie die beste manier om
    met hierdie gegewens in Openbaring om te gaan nie. Ons moet onthou dat
    Openbaring deel uitmaak van die sogenaamde apokaliptiese literatuur in die Nuwe
    Testament, wat om spesiale uitlegmetodes vra. Net om een te noem: Openbaring is
    bekend vir sy simboliese taalgebruik. Elkeen wat hierdie boek probeer uitlê,
    moet hiermee rekening hou. Die apokaliptiese kodetaal waarin die boek
    geformuleer is, doen vir ons verstaan vandag vreemd aan, omdat ons nie altyd
    die antieke sleutels het om die kodetaal te ontsluit nie. Juis daarom moet ons
    versigtig wees om Openbaring letterlik te lees; dis bedóél om simbolies en
    figuurlik gelees te word. Verder, Openbaring bring nie radikaal ander insigte
    oor die eindgebeure na vore as die res van die Nuwe Testament nie. Dit is dus
    altyd nodig om wat Openbaring oor die eindtyd sê in verband te bring met wat
    die ander boeke van die Nuwe Testament ook oor die eindtyd sê. So gesien is dit
    beter om die duisendjarige binding van die Satan en die Christusregering op
    aarde nie te sien as iets wat nog in die toekoms lê nie, maar as aanduiding van
    die hele tyd tussen Christus se eerste koms tweeduisend jaar gelede en sy
    wederkoms wat uiteraard nog in die toekoms lê. Ons leef dus nóú in die
    duisendjarige vrederyk. Reeds tydens sy aardse lewe het Jesus gesê dat die
    duiwel gebind en oorwin is (vgl Matt 12:27-29; Luk 17:20-21). Christus het
    inderdaad gekom om die mag van die bose te breek; dit gaan nie eers eendag
    gebeur nie. Maar dan moet ons ook aanvaar – en dis ook die boodskap van die
    Bybel – dat die mag van die bose nog nie volkome en finaal vernietig is nie;
    dié gebeur eers by die wederkoms van Christus. Intussen loop die duiwel rond
    soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind (1 Pet 5:8), al is hy gebind
    aan ‘n ketting, by wyse van spreke. Dus, die bose se mag is tegelyk gebind én
    hy is nog magtig; albei is gelyktydig waar. Dit is die struktuur van die tyd
    waarin die kerk nog altyd geleef het, en ook sal lewe tot by die wederkoms.
    Daarmee moet ons vrede maak. Daar gaan nie ‘n tyd kom op aarde waar die duiwel
    volkome magteloos is nie. Ja, hy is reeds oorwin deur Christus se dood en
    opstanding, en dus gebind. Daarom heers Christus reeds (die vrederyk); die
    duiwel kan nie doen wat hy wil nie, hy word aan bande gelê deur die reddings-
    en versoeningswerk van Christus (vgl Luk 10:17-18; Rom 8:31-39; 1 Kor
    15:54-57). Maar hy is steeds ‘n werklikheid waarmee gelowiges moet rekening
    hou, in hulle persoonlike lewe sowel as in die samelewing. Die verwoesting wat
    die Satan nog kan aanrig, is skrikwekkend en elke dag sigbaar rondom ons. Maar
    die oorwinning is reeds behaal; ons stryd teen die bose is dus nie uitsigloos
    en sonder hoop nie, maar word gevoer vanuit die perspektief van die oorwinning
    oor die bose deur Christus.
  • Waarom praat Openbaring 20:3 van ‘n duisend jaar wat die vredesryk duur? Die
    getal moenie letterlik geneem word nie, maar is simbolies vir ‘n afgeronde en
    beperkte tyd. Die agtergrond hiervan lê in die Joods-apokaliptiese geskrifte
    van die tyd waarin Openbaring ontstaan het. Aanvanklik het die Joodse geskrifte
    gesê dat die messiaanse ryk vir altyd op aarde sou duur. Maar gaandeweg het die
    gedagte ontstaan dat die lewe op aarde nie volmaak is nie en daarom vervang sou
    word deur die Godsryk. Die messiaanse ryk sou dus nie onbepaald wees nie, maar
    beperk, net ‘n duisend jaar. Die Openbaringboek neem waarskynlik hierdie konsep
    oor. Die “duisend” bevat dus beide die gedagtes van afgerondheid –
    die Christusryk is sodanig dat die Satan dit nie kan stuit nie, want hy is
    gebind – maar ook dat dit nie vir altyd sal duur nie. Uiteindelik sal die Satan
    vir ‘n kort rukkie weer sy verwoestingswerk kan voortsit, maar dit sal gou tot
    ‘n einde kom wanneer hy en sy trawante vernietig word en die Christusryk
    uitmond in die ewige Godsryk op die nuwe hemel en aarde.

Ten slotte, ons vraagsteller sal myns insiens daarby baat om gedagtes oor ‘n wegraping en groot verdrukking wat nog voorlê, te laat vaar en eerder te leef vanuit die “eie standpunt” soos hierbo gestel. Dit behoort die angstigheid rondom berekenings van tye en skemas tot rus te bring, maar terselfdertyd haar ook te laat fokus op die dinge waarop dit regtig aankom in ons stryd teen die bose op aarde.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Die Handelinge van die Apostels: Stefanus word gevange geneem (Hand 6:8-15) – Francois Malan

6:8 Lukas beskryf hier die
geskiedenis van een van die diakens, van Stefanus, wat met sy marteldood
eindig. In Handelinge 6:5 is hy reeds beskryf as ‘vol van geloof en die Heilige
Gees’ – dat die Heilige Gees in hom ’n sterk geloof in Jesus geskenk het en dat
sy lewe getuig het van die werking van die Gees in sy lewenswyse wat deur almal
gesien kon word. Hier word daarna verwys. Sy lewe was ’n getuienis van die
Heilige Gees se genadewerking in en deur hom, dat hy met die krag van die
Heilige Gees groot wonders en tekens onder die volk verrig het, soos die
apostels (2:43; 5:12). In 4:30 word dit uitgespel as ‘tekens en wonders deur
die Naam (= Persoon) van u heilige Dienskneg Jesus.’ Die groot wondertekens verwys
waarskynlik na baie gevalle waar Jesus deur Stefanus siek lede van die volk in
Jerusalem gesondgemaak het en van die Griekssprekende Joodse weduwees op
wonderbaarlike wyse versorg het, deur Stefanus as sy instrument.

6:9 ‘Hulle het opgestaan (= begin)
om teen Stefanus te redeneer…’ en tussenin word vertel wie hulle almal was. Dit
was waarskynlik almal ongelowige Helleniste, Jode wat Grieks gepraat het, en
nie Hebreeus of Aramees nie, en benewens die tempel hulle eie sinagoge gehad
het. Tydens die ballingskap en die diaspora (verspreiding) van die Jode oor die
hele Romeinse ryk, het Jode in die stede waar hulle gewoon het, begin
bymekaarkom in sinagoges wat hulle gebou het, waar veral onderrig aan die Jode
gegee is, ook aan hulle kinders, en op die Sabbat byeenkomste gehou is. In
Jerusalem was daar so ’n sinagoge of sinagoges. Dit was juis weduwees wat uit
dié Griekssprekende groepe tot geloof in Jesus gekom het en kom kla het dat
hulle met die daaglikse versorging deur die gemeente oor die hoof gesien is.
Stefanus kon moontlik ook uit hierdie groep gekom het. Hier is sprake van die
sinagoge van die Libertyne, soos dit bekend gestaan het – Dit is ’n Latynse
naam vir ’n groep Jode wat slawe was maar later vrygelaat is. As dit ’n slaaf
was wat ’n Romeinse burger se eiendom was, kon hy by vrylating ook Romeinse
burgerreg ontvang het. Daar was ook Griekssprekende Jode uit die provinsie
Sirene in Afrika (vgl. Simon van Sirene wat Jesus se kruis moes dra, Mark
15:21), en uit Alexandrië in Egipte waarheen Jode reeds in Jeremia se tyd
gevlug het (Jer 43:1-7; 560 v.C.). Verder was daar Griekssprekende Jode uit die
provinsie Silisië (in Klein-Asië waarvandaan Paulus gekom het, Hand 23:34) en
uit die provinsie Asië met die hoofstad Efese in Klein-Asië. Van die mense uit
dié groepe het reeds op die Pinksterdag tot geloof in Jesus gekom (vgl.
2:9-10). Stefanus het blykbaar in dié sinagoge ook teenoor die ongelowige
Jode gaan getuig
oor Jesus se opstanding. Maar hulle het teen hom
geredeneer (suzêteō).

6:10 Die Griekssprekende Jode
was egter nie in staat om die wysheid en die Gees, waarmee Stefanus oor
Jesus gepraat het, te weerstaan nie – soos Jesus in Lukas 21:12-15 belowe het.
Dié wysheid het die Heilige Gees vir Stefanus op daardie oomblik gegee om die
redenasies van die Jode teen hom te kan weerlê.

6:11 Hulle het toe manne
omgekoop om te sê: Ons het gehoor hy praat lasterlik oor Moses en God
so het die Raad vir Judas omgekoop om Jesus te verraai (Luk 22:5) en die wagte
by die graf van Jesus, om te vertel dat die dissipels Jesus se liggaam gesteel
het (Matt 28:12-13). Jesus is op die ou end ook weens lastering tot die dood
veroordeel deur die Joodse Raad (Matt 26:65-66). Stefanus se interpretasie van
Moses se wet en sy insig in God se doel met sy Joodse volk het lynreg verskil
van die nasionalistiese siening en verwagting van dié Jode. Ook die tipiese
Joodse geloof dat jy jou sonde deur goeie werke kan neutraliseer en God so
behaag, het Stefanus se onderrig as verkeerd bewys, omdat Jesus die straf op al
ons sonde gedra het en dat geloof in Jesus die enigste manier is om God te
behaag (Hand 5:31). 

6:12 Hulle, die omgekoopte
manne of lede van die sinagoge met die getuienis van die omgekoopte manne, het haat
teen Stefanus opgewek
onder die volk en die volksleiers, wat bestaan het
uit die familiehoofde en die skrifkenners. Toe het hulle, waarskynlik lede van
die volk en van die volksleiers Stefanus aangeval, met geweld gegryp en voor
die Sanhedrin gebring – waar die familiehoofde en skrifkenners sitting het saam
met die leierpriesters.

Vir die eerste maal lees ons
hier dat die volk ook teen die dissipels gedraai het. In die vorige
hoofstukke was hulle nog in groot aansien by die volk (2:47; 4:21; 5:13-16).
Die volk was ook opgestook teen Jesus, Mark 15:11. Nou word hulle opgestook
teen Stefanus, die getuie van Jesus se woorde. Die Helleniste het die
volksleiers gou oortuig om ’n vinnige Raadsvergadering byeen te roep om hulle
aanklag teen ’n getuie van Jesus te lêmet die omgekooptes as valse
getuies om hulle klag te ondersteun.

6:13-14 Die vals getuies word voor die Raad gestel om Stefanus se laster teen Moses en God te lê: Hulle verklaar: ‘Hierdie man (Stefanus) hou nie op om woorde te praat teen hierdie heilige plek en die Wet nie.’ Die heilige plek en die Wet verwys eintlik na God, maar die Jode probeer die naam God vermy om dit nie ydellik te gebruik nie (Eks 20:7). Jesus het egter volgens Matt 23:21 gesê: ‘Wie sweer by die heiligdom, sweer daarby en by Hom wat dit bewoon. Hulle verduidelik hulle aanklag met hulle leuens: Ons het hom (Stefanus) hoor sê – ons is oorgetuies van sy woorde! Met minagting verwys hulle na Jesus (Jahweh se Verlosser) van die onbeduidende dorpie Nasaret: ‘Hierdie Jesus van Nasaret sal hierdie plek (die tempel) afbreek (kataluō afbreek, heeltemal vernietig; vgl. die valse getuienis teen Jesus in Markus 14:58; Joh 2:19-22) en die gebruike verander wat Moses aan ons oorgelewer het’ – ethê gedragspatrone wat deur die tradisie oorgedra en deur die gemeenskap aanvaar is;  allasō om die karakter daarvan te verander. Dat Moses dit oorgelewer het impliseer dat dit van God af gekom het en deur Moses oorgedra is. Daarom is Stefanus se boodskap laster teen God en teen Moses so asof hulle twee dit nie gesê het nie. Of dat God en Moses die verkeerde pad aangedui het vir die lewe, vgl. die aanklag en doodsoordeel oor die profeet Jeremia in Jer 26:6-11. Om iemand tot die dood te veroordeel is twee getuies nodig (Deutr. 19:15). Die Griekssprekende Jode se aanklag teen Stefanus, dat Jesus die tempel van die Here sal afbreek, is daarop gemik om die Sadduseërpriesters op die Raad op te sweep met die bedreiging van hulle heilige werkplek. Die aanklag oor die Wet raak weer die Fariseërskrifgeleerdes wat hulle lewe wy aan die studie van die Wet van die Here. 6:15 En terwyl die Raadslede vol woede en haat stip na Stefanus gekyk het omdat hy alles wat vir hulle die heiligste is in gevaar stel, het almal wat in die Sanhedrin gesit het gesien sy aangesig is soos die aangesig van ’n engel.’n Bo-aardse glans weerspieël die heerlikheid van God wat by hom is (vgl. Hand 7:55). Die gesig van hierdie eerste bloedgetuie van Jesus het blink geword soos Moses se gesig blink geword het terwyl die Here met hom op Sinai gepraat het (Eks 34:29-30). So het die voorkoms van Jesus se gesig verander terwyl Hy op die berg van verheerliking met sy Vader in gebed verkeer het (Luk 9:29; Matt 17:2 sê: Jesus se gesig het gestraal soos die son). Die stralende gesig van Stefanus vol van die Heilige Gees bewys dat God die ware getuie vir Stefanus teen die valse getuies voor die Hoogste Raad van die Jode is. Stefanus getuig juis oor die God van Israel en oor Jesus wat aan die regterhand van God staan (7:55).

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Verkiesing van sewe medewerkers (Hand 6:1-7) – Francois Malan

6:1  ‘In dié dae’ wys na ’n tyd nie lank na die
vorige gebeurtenis nie. Die woord ‘dissipels’ wat dikwels in die Evangelies
voorkom, kom hier vir die eerste keer in Handelinge voor, en wel vir alle Jesusgelowiges,
soos in Lukas 6:13,20 (mathêtês verwys na leerlinge of volgelinge). In
die vorige hoofstukke is, benewens die twaalf apostels, verwys na ‘broers,’
(1:16; ) of ‘gelowiges’ (2:44; 4:32) of ‘eie mense’ (4:23). Met ’n groeiende
gemeenskap van gelowiges ontstaan daar wrywing tussen die verskillende groepe.
Hierdie ‘Helleniste’ verwys na die Joodse Jesusgelowiges wat Grieks
gepraat het en die Griekse vertaling van die Ou Testament in hulle sinagoges
gelees het (vgl. Hand 6:9; 11:20; Hellas is die Grieke se naam vir Griekeland.
Griekeland is die naam wat die Romeine die land genoem het). Hulle was veral
Jode wat in die verstrooiing gebore en grootgeword het, en in hulle ouderdom in
Jerusalem kom woon het om in die heilige stad begrawe te word, en hier
Christene geword het. Hulle weduwees het waarskynlik nie familielede in die
stad nie. Die ‘Hebreërs’ was Jode wat ook pas in Jesus begin glo het. Hulle het
Aramees gepraat, omdat hulle voorouers ná die ballingskap in Palestina kom woon
het, maar in die Babiloniese ryk Aramees grootgeword het. (Die naam Hebreërs
kom van Abraham se voorvader Heber uit die nageslag van Sem; Gen 10:21;
11:10-26; 14:13).

Daar het ’n klag onder die
Helleniste teen die Hebreërs ontstaan omdat hulle weduwees in die daaglikse
versorging
oor die hoof gesien is. Die versorging het waarskynlik uit die
bydraes gekom wat ‘aan die voete van die apostels neergelê is’ (Hand 4:34-35).
Onder die Jode was daar die gebruik om elke Vrydag aan weduwees geld vir 14
maaltye te gee, wat die inwoners van die stad voorsien het. In die Christelike
gemeente word dit ’n daaglikse versorging). Hoewel die Hellenistiese Christene
in die minderheid was in die eerste gemeente in Jerusalem, was daar onder hulle
moontlik baie weduwees. Volgens Lukas was dit ’n gebrek in die organisasie van
die groterwordende gemeente waarin die twaalf Joodse apostels die leiding
geneem het.

6:2 Die twaalf (apostels; die
enigste keer in Handelinge wat na ‘die twaalf’ apostels verwys word. In 1:26
word dit veronderstel) het die leiding geneem in die organisasie van die
gemeente in Jerusalem. Die twaalf het die groot groep dissipels bymekaargeroep
en gesê: ‘Dit is nie reg (voor God) dat ons (twaalf) die woord van God (die
verkondiging van die evangelie in die tempel en in die huise, 5:42) verwaarloos
om die tafels te bedien nie’ – ’n idioom vir die finansies te hanteer, of om by
etes te bedien; dit verwys in elk geval na die sorg aan behoeftiges. Die hele
groep Christene kom deelneem aan die verkiesing van gelowiges om die
finansies en die armsorg van die gemeente te organiseer.

6:3 Die broers word gevra om sewe
gerespekteerde mans
(marturoumenous oor wie goed gepraat word op
grond van persoonlike ondervinding) uit hulle geledere uit te soek deur
noukeurige ondersoek (episkeptomai om te kies of uit te kies na ’n
grondige ondersoek) wat hulle verantwoordelik kan maak vir hierdie taak. Hulle
moet vervul wees met die Gees en met wysheid. Die goeie reputasie van die manne
beteken dat hulle onselfsugtig en barmhartig teenoor behoeftiges moet wees, ook
onpartydig tussen Helleniste- en Hebreër-weduwees, en eerlik met geld kan werk.
Die vrug van die Gees moet in hulle lewe gesien kan word, soos in Galasiërs
5:22-23 uitgespel word, en vervul met wysheid om al hulle werk met mense te kan
beplan en uit te voer (vgl. Eks 18:21; Num 27:18-20; 1 Tim 3:8-10). Die naam
diakens (diakonoi) word nie hier genoem nie, maar in vers 3 word die
werkwoord diakoneō (om te dien) gebruik.

6:4  Die apostels sal hulleself dan toewy (proskartereō
om voort te gaan om iets met intense toewyding te doen) aan gebed en die
bediening (diakonia ) van die woord
– die gebed vir die mense in die
gemeente en buite die gemeente (2:42) en die verkondiging oor die opstanding
van Jesus en oor alles wat hulle van Hom gehoor en beleef het (1:21; 4:20). Met
dié bepaling en afgrensing van hulle opdrag is hulle seker dat hulle doen wat
die Here wil hê (1:8; 5:20).

6:5 Hierdie voorstel het by
die hele groep byval gevind. Dit is duidelik dat Jesus deur die Heilige Gees
die eensgesindheid van die hele gemeente bewerk het (vgl. Matt 18:20:
waar twee of drie in my Naam byeen is, daar is Ek in hulle midde).

Die sewe manne wat hulle toe
gekies het, het almal Griekse name, en was moontlik Helleniste wat die
behoeftes van die groot groep Griekssprekende weduwees die beste kon verstaan.
Sommige Hebreërs, veral uit Galilea waar baie meer Grieks gepraat is, het egter
ook Griekse name gehad. Stefanus was blykbaar ’n natuurlike keuse as ’n
man wat die vereistes wat voorgehou is in vers 3 ten volle gepas het: vol
geloof en die Heilige Gees. Sy geloof in die opgestane Jesus was by almal
bekend sowel as sy lewe wat die vrug van die Heilige Gees se werking in hom
vertoon het. Van Stefanus lees ons van 6:8 tot 8:1; van Filippus, nie die
apostel Filippus nie, in 8:4-40 en 21:8-10. Van die ander vyf vertel Lukas niks
verder nie, behalwe dat Nikolaus ’n proseliet uit Antiogië was. Anders as ’n
‘godvresende’ wat as nie-Jood slegs die Joodse lewenswyse aangeneem het (Hand
10:2), was ’n proseliet ’n nie-Jood wat ten volle tot die Jodendom oorgegaan
het en besny was as teken dat hy ’n volle lid van die volk van God was.

6:6  Die gemeente plaas die 7 manne voor die apostels en biddende lê hulle die hande op die sewe man. Daar word nie gespesifiseer of die apostels die hande opgelê het of die hele gemeente nie. Dat hulle dit biddend doen wys dat hulle glo die Here stel die manne met die handoplegging aan vir hulle werk. So praat Paulus van die genadegawe van God wat in Timotheus is deurdat Paulus hom die hande opgelê het (2 Tim 1:6; volgens 1 Tim 4:14 was dit deur die Raad van ouderlinge in Listra), en waarsku hy Timotheus om nie iemand haastig die hande op te lê in sy werk as leier van die gemeente in Efese nie (1 Tim 5:22).  So het die Here Moses beveel om Josua die hande op te lê in die teenwoordigheid van die hele volk om sy gesag aan Josua oor te dra (Num 27:18-22; 34:9). 6:7 Hier volg weer ‘n opsommende terugblik op die ontwikkeling van die gemeente (soos in 2:41,47; 4:4; 5:14).  ‘En die woord van God het aanhou versprei…’ (auksanō imperfektum hier: het steeds vermeerder) dit beteken deur die prediking van die goeie nuus (evangelie) deur die apostels en die gemeentelede, het die Heilige Gees meer en meer mense oortuig om in Jesus te glo as God se Verlosser.  ‘En die getal van die dissipels (mathêtai leerders en volgelinge van Jesus) in Jerusalem het aansienlik vermeerder…’  En dit ten spyte van die verbod en straf van die Raad om dit alles te beëindig, en ten spyte van die vrees/ontsag vir God met die Ananias en Saffira episode. Maar Gamaliël se woord aan die Raad word hiermee duideliker: ‘…as hierdie plan of onderneming van God af kom, sal julle dit nie kan keer nie’ (5:39). Daarby is daar weer ’n stukkie humor. Die priesters wat die apostels volgens Hand 4:1-3 in die tronk gestop het, word gelowiges! Van destyds se 8 000 priesters was die meeste Sadduseërs wat nie in die opstanding van die dooies geglo het nie. Dat die Heilige Gees juis onder hulle, wat die apostels verbied het om in Jesus se Naam te praat, ’n groot menigte oortuig het om gehoorsaam te word in die geloof in Christus, is eintlik ironies, net die teenoorgestelde van wat verwag is.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Die reaksie van die Raad en van die apostels (Hand 5:33-40) – Francois Malan

5:33 Toe die lede van die Raad
die aanklag en getuienis van die apostels oor God se genade hoor was hulle woedend
(diapriomai om deurgesaag te word, word hier figuurlik gebruik vir
woedend kwaad word) en hulle wou die apostels doodmaak (soos Herodus briesend
opdrag gegee het om al die seuntjies tot 2 jaar oud in Betlehem dood te maak,
Matt 2:16). Jesus en sy getuies moet uit die weg geruim word – dit is die
reaksie van die ongelowige wêreld op God se soort verlossing sedert die slang
Eva en Adam verlei het om nie aan God gehoorsaam te wees nie (Gen 3:6, vgl. die
teken wat Johannes gesien het in Openb 12:9,12,17).

5:34 Soos die Here iemand
voorsien het om die radelose Raad te vertel dat die apostels wat hulle soek in
die tempel is, stuur die Here weer ‘iemand’ om die siedende 70 Raadslede tot
bedaring te bring. Die ‘iemand’ staan in die Sanhedrin op  teen die geweldige emosie van die raadslede.
Dié keer nie ’n ongenoemde iemand nie, maar ’n baie gesiene lid van die Raad,
’n Fariseër by name Gamaliël (sy naam beteken ‘God se vergelding’), ’n
onderwyser in die Wet van die Here van 25-50 n.C. Hy is die eerste rabbi wat ’n
Raban geword het, wat sy hoë posisie aandui, kleinseun van die beroemde
gematigde rabbi Hillel en onderwyser van Paulus (Hand 22:3). Hy was geëer en
gerespekteer deur die hele volk vir sy kennis van die Skrif, sy insigte en
voorbeeldige lewe. Hy gee met gesag opdrag dat die apostels vir ’n wyle uit die
raadsaal geneem word. Hy wil die woedende Raad tot bedaring bring om na rede te
luister en ’n oorwoë besluit te neem.

5:35 Hy spreek die Raad aan as
‘Manne Israeliete/mede-Israeliete’ – As een van hulle, nie verhewe bo hulle
nie, spreek hy hulle aan as lede van die volk van Jakob met wie God by Pniël ’n
verbond gesluit het en sy naam na Israel verander het (Gen 32:28): dink by
julleself goed na
oor wat julle met hierdie manne wil doen. Hy begin met ’n
vermaning tot besinning en versigtigheid. Hy wil eers die gemoedere tot
bedaring bring om nie uit hulle woede-emosie ’n besluit te neem nie, maar ná
beredeneerde nadenke. Waar hulle net gedink het hoe om die apostels stil te
maak, vra hy dat die Raad nie ’n besluit neem wat vir hulleself tot nadeel sal
wees nie. Dit beteken egter nie dat hy simpatie het vir die apostels nie, maar
hy wou die aansien van die Raad nie laat skade ly nie. 

5:36 As verduideliking van sy
vermaning verwys Gamaliël in verse 36-37 na twee voorbeelde van ’n valse leer
met leiers wat aanspraak gemaak het dat hulle die verwagte Messias-bevryders is
en ’n groep volgelinge gekry het. Wanneer die leier sterf kwyn die groep weg,
wat bewys dat dit slegs van menslike oorsprong is.

‘want voor hierdie dae…’ voor
die koms van Jesus, ‘het Teudas (’n verkorting van Theodosius ‘gawe van
God’) opgestaan en gesê dat hy self iets besonders is…’ (Gal 2:6 ‘…God slaan
nie ag op die aansien wat ’n mens het nie’). Hy het waarskynlik gesê dat hy ’n
verlosser is, soos Moses, wat Israel destyds uit die Egiptiese slaweskap
uitgelei het, en dat die Here beloof het dat Hy vir Israel weer ‘n profeet soos
Moses sal stuur, (Deutr 18:15,18). In ‘hierdie dae’ het die mense van Jesus
gesê dat Hy ’n Profeet soos Moses is (Joh 6:14) en nou het sy volgeling Petrus
dit ook van Jesus gesê (Hand 3:22). Destyds het ongeveer 400 mans Teudas
gevolg, en daar is nou ’n groep wat Jesus volg. Toe Teudas omgekom het (anaireō
onthoof, tereggestel word), is almal wat hom gevolg het, verstrooi (dialuō
almal gaan in verskillende rigtings) en die beweging het in die niet verdwyn.
Jesus is nou doodgemaak, en sy beweging kan ook in die niet verdwyn.

5:37 Die tweede voorbeeld
waarna Gamaliël verwys is ’n Judas wat as die Galileër bekend was (nie
Judas Iskariot uit Judea nie). Galilea was beskou as die broeiplek van opstand
teen die Romeine. Die volkstelling waarna Gamaliël verwys is waarskynlik die
een wat in Lukas 2:1-3 genoem word, waartydens Jesus in Betlehem gebore is.
Judas het blykbaar vir sy bevrydingstryd, wat hy teen die Romeine wou begin,
die volk aangehits. Hy was ook teen die Sanhedrin se vrees en versigtigheid vir
die Romeinse owerheid. Toe hy omgekom het (apollumi gewelddadigsterf)
het sy volgelinge uitmekaar gespat (diaskorpizō). Hulle het daarna
blykbaar nog in groepies of as enkelinge opgetree. Volgens Josefus was dit die
begin van die Seloteparty, waaraan die een Simon van Jesus se apostelgroep
moontlik behoort het (Luk 6:15). Die Selote het later so lastig geword dat die
Romeine in 66 n.C. Galilea begin inneem het. Gamaliël sê nie dat Judas die
Galileër se groep in die niet verdwyn het, soos Teudas se groep, nie.

5:38 Gamaliël sien net een
uitweg uit die Raad se radeloosheid. Hy dra sy oplossing voor as ’n
voorstel:  Met twee voorbeelde stel
Gamaliël aan die Raad voor: ‘Los hierdie mense uit en laat hulle gaan.’ Hy wil
die probleem op die maklikste wyse oplos. Hulle leier is reeds doodgemaak en
dieselfde lot as Teudas en Judas die Galileër se volgelinge sal waarskynlik
Jesus se volgelinge ook tref. Hy gee die rede vir sy voorstel: ‘want as hierdie
plan of onderneming uit mense sou wees, sal dit tot niet gaan (kataluō
ophou bestaan) – die ‘as..sou wees’ (Grieks: ean êi konjunktief druk
’n moontlikheid uit). As die passiewe vorm van die werkwoord (kataluthêsetai)
refleksief gelees word, suggereer dit dat die nuwe beweging vanself, van binne
uit, sal doodloop. As die werkwoord passief gelees word, suggereer dit dat God
dit sal laat doodloop, omdat dit bloot menslike planne en menslike werk sou
wees.

5:39 Terwyl Gamaliël die
eerste alternatief  (uit mense) as
’n moontlikheid beskou het, is hy egter seker van sy tweede stelling:  ‘Maar as dit uit God is..’ (ei
estin
aktief, druk ’n werklikheid uit) sal julle hulle nie tot niet kan
laat gaan nie (katalusai laat ophou bestaan nie). Sy advies is deur die
tweede moontlikheid bepaal: ‘Moenie dat dit blyk dat julle teen God veg nie!
So het die koning Abia van Juda destyds vir Jerobeam en Israel gewaarsku:
‘Israeliete, moenie teen die Here die God van julle voorvaders veg nie. Julle
kan nie wen nie’ (2 Kron 13:12). Gamaliël hou veel meer rekening met God wat,
ten spyte van teenstand, sy saak sal deurvoer. Hy waarsku die Raad dat hulle op
gevaarlike gebied beweeg. As dit sou blyk dat hulle teen God veg, is hulle in
groot moeilikheid, want niemand kan teen Hom staande bly nie.In Jesaja
8:13 het die Here vir Jesaja gesê: ‘Julle moet die Here die Almagtige eer as
die Heilige. Vir Hom moet julle vrees en vir Hom moet julle bang wees. Hy sal
vir julle ’n veilige beskutting wees….’ Abia wat op die Here vertrou het, het
met 400 000 man Jerobeam met sy 800 000 man verjaag (2 Kron 13:16; vgl. Hebr
10:31). ‘Die Raad is deur Gamaliël oortuig (peithō om iemand te oortuig
om iets te glo en daarvolgens te handel). So het die Here aan die ‘iemand
genaamd Gamaliël’ (5:34) die insig en woorde gegee om die Raad te oortuig om
van hulle moordplanne af te sien (5:33). Die Raad het toe na Gamaliël
geluister. So het die Here sy apostelgetuies beskerm en bevry.

5:40 Die Raad laat die
apostels weer voor hulle bring, maar voor hulle hulle vrylaat, laat hulle die
apostels vir hulle ongehoorsaamheid aan die Raad eers gesel om so die Raad se
vorige dreigement uit te voer (4:21). Geseling het behels dat hulle
elkeen 39 houe kry, een minder as die 40 waartoe Deutr 25:3 lyfstraf beperk
(vgl. 2 Kor 11:24). So is Jesus ook gegesel voor sy kruisiging (Luk 23:16; Mark
15:15; Joh 19:1); so ook sy volgelinge (vgl. Paulus se vyfmaal in 2 Kor 11:24).
Die vorige verbod om nie in die Naam van Jesus te praat nie, word herhaal. Maar
hierdie keer word na sy Naam Jesus verwys, ironies want die Naam Jesus beteken
juis ‘die Here sal verlos’ (Luk 1:31; 
Matt 1 :21). Daarna is die apostels vrygelaat (apoluō). 

5:41 Die apostels sien egter in die onterende behandeling deur die Raad dat God hulle so vereer het. Lukas stel dit in’n slim paradoks: deur ter wille van Jesus se Naam onwaardig gemaak te word voor mense, word hulle waardig voor God. ‘Toe het hulle met vreugde (chairō om gelukkig en goed te voel) van die Raad af weggegaan (letterlik: van die aangesig van die Raad af, ’n Semitiese idioom wat ’n plegtige en feestelike karakter aan hulle vertrek gee – hulle is eintlik deur die Raad verwerp), bly dat hulle (deur die Here) waardig geag was om skandelik mishandel te word vir die Naam’ (vgl. Jesus se vreugde-opdrag in Luk 6:22-23) Jesus het hulle vooraf gewaarsku dat hulle aan Sanhedrins oorgelewer sal word en in die Jode se sinagoges gegesel sal word om sy ontwil (Matt 10:17-18; vgl. Matt 23:34). Jesus het gesê ons moet bly wees as ons om sy ontwil beledig en vervolg en vals beskuldig word (Matt 5:11-12). Soos die Jode dit vermy om die Naam HERE (Jahweh) te gebruik, word Jesus se Naam hier deur Lukas vermy om daarme te kenne te gee dat Jesus God is. 5:42 Uit die vreugde oor hulle lyding ter wille van hulle getuienis van Jesus, gaan die apostels met onvermoeide ywer voort om elke dag Jode en Christene te onderrig en die vreugdeboodskap te verkondig (euangelizō om goeie nuus oor iets te kommunikeer). Hulle doen dit vir die Jode in die tempel waar hulle gegesel is, waar Jesus ook daagliks onderrig gegee het na sy intog in Jerusalem (Luk 19:47). Die apostels onderrig ook van huis tot huis waar die Christene bymekaarkom. Die inhoud van hulle vreugdeboodskap is dat Jesus die Christus is, die Messias wat die Jode as verlosser verwag het. Maar meer as dit, Hy is die Gesalfde wat deur God gesalf is as Koning wat oor die wêreld regeer aan die regterhand van God (Luk 22:69), as die Profeet soos Moses wat die woorde van God na die mensdom gebring het (Hand 3:22-23; Deutr 18:18) en as die Hoëpriester wat sy eie lewe vir die wêreld aan die vloekhout opgeoffer het (Hebr 4:15; 5:10; 6:20; 10:10 deur die offer van sy liggaam; vgl. die Kneg van die Here van Jes 53, Joh 1:29 die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem).

Skrywer: Prof Francois Malan