Die Groot Geloofswoordeboek: Pastorale Briewe

Die Groot Geloofswoordeboek: Pastorale Briewe

Pastorale Briewe

1 en 2 Timoteus en Titus word die Pastorale Briewe genoem om­dat dit soveel pastorale raad aan Timoteus en Titus gee oor hulle bediening in die gemeente. Dit verskil heeltemal van die ander briewe wat aan gemeentes gerig was en nie aan individue soos hierdie drie nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Papirus/Perkament

Die Groot Geloofswoordeboek: Papirus/Perkament

Papirus Perkament

Papirus

Papirus is ‘n rietsoort wat in Egipte in water groei. Daaruit is ‘n skryfblad gemaak wat ook papirus genoem is. Dit is in rolle opgerol om gebêre of vervoer te word. Wanneer ons in die Bybel die woord “boek” teenkom (2 Tim 4:13; Op 1:11), verwys dit ge­woonlik na sulke rolle. Daar was nog nie boeke soos ons dit van­dag ken nie. Papirus was die belangrikste skryfmateriaal van die vierde eeu voor Christus tot die sewende eeu na Christus. Die oorspronklike geskrifte van die Nuwe Testament was op papirus geskryf. Ons woord “pa­pier” kom van hierdie woord af.

Perkament

Perkament (2 Tim 4:13) is velrolle van skape of kalwers wat ook vir skryfmateriaal gebruik is.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Panteïsme en Panenteïsme

Die Groot Geloofswoordeboek: Panteïsme en Panenteïsme

Panteïsme

Dit kom van twee Griekse woorde: pas (alles), theos (God). Dit is die gedagte dat alles eintlik God is en God alles. God en die heelal is identies. Daar is godsdienste soos die Hindoeïsme wat sterk hieroor voel. Die Judaïsme, die Christelike godsdiens en die Islam maak egter ‘n duidelike onderskeid tussen God en die werklikheid. Net God is God en Goddelik. Alle ander dinge is sy skepsels.

Panenteïsme

Panenteïsme kom van drie Griekse woorde af: pas (alles), en (in), theos (God). Dit is die oortuiging dat God se wese die heel­al insluit en deurdring. Alles is in God, en God is in alles, maar anders as Panteïsme, meen hulle dat God ook meer is as die werklikheid.

Beide oortuigings lei daartoe dat God nie meer regtig teenoor die werklikheid staan nie. Daar vind ‘n vermenging van God en werk­likheid plaas, wat uiteindelik neerkom op ‘n miskenning van die onafhanklikheid en verhewenheid van God, en ‘n ver­god­deliking van die werklikheid.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Onsigbare/Sigbare Kerk

Die Groot Geloofswoordeboek: Onsigbare/Sigbare Kerk

Onsigbare kerk • Sigbare kerk

Daar is mense wat graag werk met hierdie onderskeid: sigbare en onsigbare kerk. Dit word gewoonlik so verstaan dat die sigbare kerk die amptelike ledetal van elke gemeente is, die boeklidmate. Die onsigbare kerk is die ware gelowiges. En die twee groepe is nie identies nie. Daar kan nie te veel fout gevind word met so ‘n onderskeid nie, behalwe dat dit nooit bedoel was om so te wees nie. Almal wat formeel aan die kerk behoort, is veronderstel om ge­lowiges te wees.

Dit word egter ‘n probleem as ‘n mens daaraan dink dat die eint­like kerk, die gelowiges, dan onsigbaar genoem word. Die be­doeling is natuurlik dat dit net onbekend is presies wie al­mal waar­lik gelowiges is. Maar dit kan tog nie met die woord “on­sig­baar” gedek word nie. Die gelowiges is tog juis sigbaar, of tenminste veronderstel om sigbaar te wees. Hulle moet hulle lig só laat skyn dat die mense hulle goeie werke sien en hulle Vader verheerlik (Matt 5:16). Dit maak dus nie goed sin om van ‘n onsigbare kerk as die eintlike kerk te praat nie. En die re­de vir hierdie probleem is een­vou­dig die anomalie dat mense op die boeke van die kerk staan, maar nie regtig aan die Here be­hoort nie. Met so ‘n onmoontlike si­tua­sie kan ‘n mens verwag om probleme te hê.

Hierdie probleme kom net na vore waar dit populêr is om aan die kerk te behoort. In die vroeë kerk het dit jou iets gekos, soms omtrent alles gekos.

Die verdere probleem is dat hierdie gedagte van ‘n onsigbare kerk dan gebruik word om te regverdig dat die kerk maar ver­deeld kan wees solank ons maar net in die onsigbaarheid een is: een in ons geloof en in ons verbondenheid aan die Here, al wil ons nie naby mekaar kom nie. Hiermee kom die ware motivering agter hier­die vreemde onderskeiding na vore: die onwilligheid om aan die Here gehoorsaam te wees en een gemeente te vorm tussen gelowiges wat kultureel of andersins van mekaar verskil.

Jesus self slaan die sigbaarheid van die kerk baie hoog aan. Ons sigbare eenheid moet die wêreld oortuig van Hom (Joh 17:20-23). En Paulus is oortuig dat ons eenheid net soveel ‘n vrug van die kruisdood van Jesus is as die vergifnis van ons sonde (Ef 2:16). Om van twee kerke te praat is net so sinloos as om van twee Gode en twee Christusse te praat.

 

Skrywer: Prof Adrio König