Satanisme

Satanisme – Pieter Verster

Pieter vra:

Goeie Dag. Ek wil baie graag weet hoeveel aandag moet daar aan byvoorbeeld Satanisme gegee word in Sondagskool om nie “Geloofsabotasie” te veroorsaak nie? Ek weet en het dit iewers ook gelees dat jy jou aandag en gedagtes volkome aan Jesus moet wy en en sodoende nie die aandag aan die duiwel gee nie. Maar hoe maak ek die Sondagskool mentors bewus van die Satanisme sonder dat almal skielik baie navorsing doen en eintlik aandag aan satan geen in plaas van aan Jesus? Of sal ek dalk ‘n kenner vra om ‘n praatjie te hou waar hy/sy uitwys hoe om dit raak te sien en hoe om dit te hanteer wanneer ‘n kind (veral hoërskool) wel navrae het daaroor?

Antwoord:

Prof Pieter Verster antwoord:

Dit is baie waar dat mens nie meer aandag aan Satan en sy werke moet gee as wat  nodig is nie. Die aandag moet geheel op Jesus Christus gerig wees. Dit is egter soms nodig om gevare uit te lig en te waarsku teen sake wat kinders en ander kan mislei. Die beste is die skriftuurlike pad. Laat die Bybel self praat. Verwys na gedeeltes waar die Skrif self oor Satan praat en teen hom waarsku. Pasop vir mense wat allerlei praatjies lewer en wil byvoeg by wat die Bybel sê. Vra ‘n predikant om  met deeglike eksegese en uitleg  oor enkele tekste te kom praat. Die boekie van Prof Johan van Rensburg  “The occult debate ” kan ook met vrug gelees word.

 

Skrywer: Prof Pierter Verster




Die Groot Geloofswoordeboek: Modernisme

Die Groot Geloofswoordeboek: Modernisme

Die Modernisme staan tussen die vroeëre Antieke Tye en die he­dendaagse *Postmodernisme. Daar is baie maniere om hierdie tyd­perke teenoor mekaar te stel. Teenoor die onderdanigheid aan ge­sag wat kenmerkend van die Antieke mens sou gewees het, staan die moderne mens wat volwasse geword het, wat self dink en besluit, wat dinge uitredeneer en bewys. Maar teenoor die se­ker­hede wat deur hierdie Modernisme tot stand gekom het, sou die Postmodernisme nou weer staan met sy relativering van alle waar­heid. Waarheid sou nou wees dit wat vir my waar is, sonder dat daar enige absolute waarheid is wat vir alle mense geld.

In die Antieke Tye het mense in bonatuurlike dinge geglo, soos wonderwerke en die opstanding. In die Moderne tye het die men­se net dit wat bewys kan word, as geldig aanvaar. Die na­tuur­we­tenskappe met hulle duidelikheid en eksaktheid was die ideaal. Die Postmodernisme relativeer glo nou weer alles. Daar is nie absolute sekerheid nie, nie die bonatuurlike waarheid van die Antieke Tye nie, en ook nie die natuurlike waarheid/geldig­heid van die Mo­dernisme nie.

‘n Mens moet dit nie so verstaan dat die een tydperk die ander opvolg nie. En ook nie dat die verskillende tye, of liewer le­­wens­houdings, netjies omskryf en teenoor mekaar gestel kan word nie. Daar is groot verskille binne elke lewenshouding, en baie kante van waar sulke lewenshoudings bekyk kan word. Dit is ‘n totale oorvereenvoudiging dat mense nou nie meer in bo­natuurlike dinge glo nie. Dit is wel waar dat daar ‘n klompie Westerlinge is wat beweer hulle glo dit nie meer nie. Maar daar is al lankal sulke men­se.

‘n Bepaalde lewenshouding is eerder ‘n mengsel as ‘n suiwer tipe. Net soos die telefoon nie die posdiens vervang het nie, en die e-pos nie die faks nie, maar daar net eenvoudig meer en meer geriewe kom wat elkeen sy eie nut het, bestaan verskillende le­wenshoudings langs mekaar en selfs deurmekaar, selfs in een per­soon se oortuigings.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Middelaar

Die Groot Geloofswoordeboek: Middelaar

Die woord “middelaar” word gebruik vir iemand wat in die middel staan om twee partye weer bymekaar te bring. Dit word vir Chris­tus ge­bruik om sy rol aan te dui om die mense met God te ver­soen. (*Versoening) Die verwydering het deur ons sonde gekom, en Chris­tus is deur die Vader gestuur om ons sonde te versoen, of ons weer met Hom te versoen. Aan die kruis het Hy die offer gebring wat ons sonde versoen het en ons terugbring in gemeenskap met God as ons Hom in die geloof as ons Middelaar aanvaar. Kritiek op hierdie gedagte word elders bespreek. (*Kruis, *Versoening)

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Metodis

Die Groot Geloofswoordeboek: Metodis

Metodis • Metodistekerk

‘n Metodis is óf lid van die Metodistekerk (Methodist Church), of iemand met dieselfde oortuigings as die Metodiste. Daar is ‘n groot verskeidenheid Metodistekerke veral in Engeland en Amerika. Daar is selfs ‘n paar wat nog as Wesleyaanse Kerke be­kend staan.

John Wesley was ‘n toegewyde prediker in die Church of Eng­land wat sterk beswaar gehad het teen die lae vlak van gees­te­likheid en toewyding in Engeland. Hy het veral op ‘n heilige lewe klem ge­lê, en gaandeweg ook ‘n besondere leer oor *heilig­ma­king ontwik­kel. Hy het dit beskou as ‘n tweede erva­ring ná be­kering waardeur ‘n mens geheilig word. Dit is later die *twee­de genadewerk genoem (Second Blessing). Sy leer het ‘n be­paalde vorm van *Perfeksionisme ingesluit waarop daar van baie kante af kritiek gekom het.

Hy het later van die Church of England weggebreek en die Me­todistekerk gestig. Sy leer oor heiligmaking het ‘n groot invloed uit­geoefen op die Keswickbeweging, en in die algemeen op die *Heiligheidsbeweging in Engeland en Amerika. In Suid-Afrika is iets daarvan ingedra deur Andrew Murray en die *AEB, die Afrika Evan­geliese Bond.

Alhoewel hierdie leer nog voortleef, is daar baie Metodistekerke wat nie meer daarvoor bekend staan nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König