Die Groot Geloofswoordeboek: Mens

Die Groot Geloofswoordeboek: Mens

  • Siel Gees Hart

Hier word gekonsentreer op die verskillende woorde wat in die Bybel vir die mens gebruik word. Elders kom ander fasette van ons menswees ter sprake. (*Beeld van God)

Daar is baie ou verskille oor geloofsake wat nooit opgelos kan word nie omdat die vraag verkeerd gestel word. Een hiervan is be­handel onder *heilsweg. Dit is die ou vraag wat eerste kom: weder­geboorte of bekering?

In verband met die mens het ons dieselfde tipe probleem. Die ou vraag is of die mens uit twee of uit drie dele bestaan: siel en liggaam; of gees, siel en liggaam. Dit staan onder geleerdes be­kend as dichotomie of trichotomie.

Daar is geen goeie antwoord op hierdie vraag nie omdat die vraag verkeerd gestel is. Die mens bestaan glad nie uit dele nie. Die mens is ‘n eenheid wat uit verskillende hoeke bekyk kan word. Begrippe soos “gees”, “siel” en “liggaam” is nie dele waaruit ‘n mens bestaan nie. Jy kan nie hierdie onderdele by ‘n plek gaan koop en hulle aan­mekaarsit en dan ‘n mens kry nie. Trouens, as hier­die woor­de vir ver­skillende dele van die mens gestaan het, wat van al die an­der: hart, ge­wete, gemoed, krag, niere, almal woor­de wat in die­self­de sin as gees en siel en liggaam vir die mens ge­bruik word? Uit hoe­veel de­le bestaan ‘n mens dan? En waar sit hulle almal?

Jesus som die Tien Gebooie op in twee gebooie. Die eerste is om God lief te hê met jou hele hart, siel, verstand en krag (Mark 12:30). As ons uit vaste dele bestaan het, sou dit dan beteken ons hoef Hom nie lief te hê met ons liggaam, gewete en gemoed nie? As Paulus ons vermaan om ons liggame as ‘n heilige offer aan God te wy (Rom 12:1, 1953-vertaling), beteken dit ons kan maar ons siel en ons gees vir onsself hou? As die psalmdigter sê sy siel smag na God (Ps 42:2, 1953-vertaling), bedoel hy sy ander dele, hart, gees en liggaam, smag nie?

Dit is opvallend dat hier telkens na die *Vertaling van 1953 ver­wys word. Die rede is dat hierdie vertaling Hebreeuse en Griek­se woorde soos woorde vir “liggaam” en “siel” letterlik ver­taal het. Later het dit duidelik geword dat hierdie woorde nie vas­te be­te­kenisse het nie, maar dikwels na die persoon self ver­wys, mees­tal vanuit ‘n bepaalde gesigspunt. Daarom het die *Vertaling van 1983 eerder die besondere betekenis wat die woord in ‘n be­paal­de verband het, probeer weergee. As Paulus in die Grieks letterlik skryf die gemeentelede moet hul “liggaam” (Grieks: soma) aan God wy, beteken dit eintlik hulleself, hul kon­kre­te lewe. Dit is nie een deel van hulle teenoor ‘n ander deel wat hulle dan nie aan God hoef te wy nie. Daarom word “liggaam” in 1983 vertaal met “julleself”.

As die psalmdigter sing sy “siel” (Hebreeus: nefesh) smag na God, bedoel hy nie sy ander “dele” smag nie, hy bedoel hy smag. Daar­om word dit in 1983 vertaal met: “Ek smag na U, o God.”

‘n Mens kan dus die gevolgtrekking maak dat die Hebreeus en Grieks vir woorde soos “gees”, “siel”, “liggaam”, “hart”, “ge­moed” nie vaste betekenisse in die Bybel het nie. Dit verwys nie na spe­si­fieke “onderdele” van die mens nie. Die mens is ‘n eenheid.

 

• Siel

Die Hebreeuse woord vir “siel” kan die volgende be­te­kenisse hê:

Keel (Jes 5:14; Jer 4:10).

Maag: Jesaja 29:8 praat van iemand wat “nog honger is”. Die Hebreeus het: iemand wie se “siel” (nefesh) leeg is. Dit kan tog net sy of haar maag wees. Daarom word dit vertaal met “honger wees”.

Nek: Psalm 105:18: “Hulle het hom in die gevangenis gehou.” Maar die Hebreeus lees: “sy ‘siel’ het in ysters gekom.” Ons weet gevangenes het ‘n ysterband om die nek gekry. Die Hebreeuse woord vir “siel” beteken in hierdie verband dus “nek”.

Begeerte: Spreuke 16:26: “‘n Werker se honger (Hebreeus: “siel”) laat hom werk, sy behoefte aan kos dryf hom.” Elders bid Dawid dat hy nie sy vyande se begeerte (“siel”) moet word nie, want dan sal hulle hom soek en doodmaak (Ps 35:25, 1953-vertaling).

Die persoon self: Dikwels verwys die Hebreeus vir “siel” na die persoon self. As die Here volgens die Hebreeus verklaar: “Ek sal elke ‘siel’ wat op hierdie dag werk, om die lewe bring” lui die vertaling tereg: “Ek sal elkeen wat op hierdie dag werk … ” (Lev 23:30).

Baie voorbeelde kan nog genoem word, maar die punt is ge­maak: die Hebreeuse woord vir “siel” kan in baie verskillende betekenisse gebruik word. Die “siel” is nie ‘n bepaalde deel van ‘n mens nie.

 

• Gees

Dit geld ook van die ander bekende woorde. Die He­breeus vir “gees” (ruag) kan gebruik word vir die volgende:

Asem of lewe (Jes 42:5; Jer 10:14; Eseg 37:6, 14).

Krag (Rig 3:10; 13:25; 14:6; 1 Sam 10:6).

Gemoed (1 Kon 10:5; 21:5; Spr 14:29).

Wilskrag, wil of voorneme (“elkeen in wie God die voorneme gegee het”, Esra 1:5).

Die persoon self (“My gees is verheug in God” word tereg in 1983: “Ek juig oor God”, Luk 1:47).

 

• Hart

Die Hebreeus vir “hart” kan in die volgende betekenisse gebruik word:

Die fisieke hart (2 Sam 18:14; Ps 37:15).

Die mens se innerlike in die algemeen (1 Sam 16:7; in Grieks:
2 Kor 5:12).

Begeertes (Ps 21:3; Job 31:7).

Denke of insig (Deut 29:4 waar “verstand” tereg ‘n vertaling is van die Hebreeus vir “hart”; 1 Kon 3:7-12 waar Salomo vir die Here wysheid vra; letterlik “‘n opmerksame hart” in die 1953-vertaling).

Die persoon self (Ps 22:27: “Mag julle hart lank lewe” word vertaal met: “Mag julle lank lewe”; 1 Kor 7:37: “Hy het in sy eie hart besluit” word vertaal: “Hy het besluit”; Rom 1:21: “hulle hart is verduister” word “hulle is in die duister”).

Uit hierdie voorbeelde, waarby daar nog talle en talle gevoeg sou kon word, en ook vir die ander woorde soos “vlees” (sarx) en liggaam (soma), kan ons aflei dat hierdie woorde nie elkeen vir ‘n vaste deel van die mens staan nie, maar in verskillende betekenisse gebruik word. Dikwels verwys dit eenvoudig na die mens self.

Die gedagte dat die mens uit twee of drie vaste dele bestaan, kom nie uit die Bybel nie, maar van sekere Griekse filosowe af. Die Bybel sien die mens as ‘n eenheid en gebruik ‘n hele aantal woorde vryelik en in verskillende betekenisse om na aspekte van ons lewe te ver­wys, maar nie na vaste dele nie. (*Onsterflike siel, *Opstanding, *Tussen­toestand, *Opstandingsliggaam)

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Masoretiese teks

Die Groot Geloofswoordeboek: Masoretiese teks

Die Masoretiese teks is die Hebreeuse Ou Testament, die Jode se “Heilige Skrif” of Bybel waarvan hulle teen ongeveer 200 vC ‘n Griekse vertaling gemaak het, die *Septuagint. Vir eeue lank was die Jode se Bybel net in medeklinkers geskryf sodat hulle dit baie goed moes ken om dit te lees en te verstaan. Dit is nie seker of daar net een teks van hulle Bybel was, en of daar verskillende tekste was nie. Die Septuagint verskil soms so drasties van die uitgawe van die Masoretiese teks wat ons ken, dat dit makliker is om te aanvaar dat daar verskillende weergawes was.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Maria

Die Groot Geloofswoordeboek: Maria

Maria was ‘n baie algemene naam in Bybeltye. In die Ou Testa­ment kry ons die Hebreeuse vorm Mirjam as die suster van Moses en Aäron (Eks 15:20). In die Nuwe Testament is daar sprake van sewe verskillende Marias:

•             Maria die moeder van Jakobus (Matt 27:56).

•             Die “ander” Maria (Matt 27:61).

•             Maria die vrou van Klopas (Joh 19:25).

•             Maria die suster van Marta (Joh 11:1).

•             Maria Magdalena (Matt 27:56).

•             Maria die moeder van Markus (Hand 12:12).

•             Maria aan wie Paulus groete stuur (Rom 16:6).

•             En natuurlik die belangrikste een: Maria, Jesus se moeder.

 

Die Katolieke Kerk het ‘n baie groter waardering vir Maria, die moeder van Jesus, as die Protestante. Hulle het selfs besondere leer­stukke oor haar geformuleer, soos haar onbevlekte ontvange­nis (dat sy nie aan die *erfsonde deel het nie), haar voortdurende maagdelikheid (dat sy ook nooit na Jesus se geboorte met Jo­sef ge­meenskap gehad het nie), haar sondeloosheid, en haar per­soon­like hemelvaart. Katolieke motiveer haar hemelvaart soms met die gedagte dat Maria ons dan as’t ware vooraf al in die hemel ver­teenwoordig. Maar Protestante is oortuig dat Jesus dit reeds doen en dat ons nie nog ‘n verteenwoordiger nodig het nie. Hulle is ook bang dat Maria uiteindelik vir Jesus kan verdring.

Baie Katolieke bid ook tot haar om by Jesus vir hulle in te tree. Die gedagte is skynbaar dat dit nederiger is om tot haar te bid as sommer direk tot Jesus, en ook dat sy besondere toegang tot Jesus sal hê omdat sy sy moeder is. Protestante sê dikwels dat die Katolieke haar aanbid, maar ‘n mens moet versigtig wees met so ‘n stelling. Dat hulle besondere aandag aan haar gee, dat daar sekere individue is wat haar aanbid en miskien selfs ver­goddelik, is sekerlik waar. Maar dit is nie die amptelike leer van die *Katolieke Kerk nie.

Daar word ‘n paar besondere dinge deur die engel vir haar gesê, maar dit is nie die belangrikste nie. Dit wat die Katolieke aangegryp het, is haar reaksie op die engel se aankondiging dat sy van die Heilige Gees ‘n kind gaan ontvang. Sy sê: “Ek is tot be­skikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het” (Luk 1:38). Dit het vir hulle die model geword van hoe ons as men­se moet reageer op die roepstem en opdragte van die Here.

Verder is daar die aangrypende feit dat sy die moeder van ons Verlosser is. Omdat ons Jesus se Goddelikheid bely, praat die Ka­tolieke graag van haar as die moeder van God. En in ‘n af­ge­leide sin is dit ook waar. Maar die meeste Protestante voel tog ‘n bepaalde huiwering daaroor.

In die Evangelies speel Maria nie regtig ‘n belangrike rol nie. Sy neem ook nie besondere inisiatief nie. Maar ‘n mens moet nie te veel daaruit aflei nie. Die Evangelies is nie biografieë nie, maar heilsboodskappe. Baie interessante ge­gewens is nie daarin opge­neem nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Maranata

Die Groot Geloofswoordeboek: Maranata

Maranata is ‘n Aramese woord wat in sommige vertalings in 1 Ko­­­rin­tiërs 16:22 voorkom. In die 1983-vertaling is dit vertaal met: “Kom, Here,” maar dit kan ook beteken: “Die Here het gekom.”

Dis ‘n woord wat waarskynlik by die nagmaal gebruik is as ‘n op­roep aan die Here om tydens die nagmaalsviering teenwoor­dig te wees (in die betekenis van: “Kom, Here”) of as ‘n versekering dat die Here in die nagmaal by hulle is (in die betekenis van: “Die Here het gekom”). As oproep kon dit die dubbele betekenis gehad het van ‘n versugting dat die Here in die nagmaal by hulle moet wees én dat Hy weer moet kom soos Hy beloof het (die *Wederkoms van Christus, Op 22:20).

 

Skrywer: Prof Adrio König