Die Groot Geloofswoordeboek: Manlikheid van God

Die Groot Geloofswoordeboek: Manlikheid van God

Manlikheid van God

Die vraag of God manlik is, is deur die feministiese teologie (*Fe­minisme) op die tafel gesit. Hierdie vraag is gebore uit die hart van vrouens wat vra hoe dit is dat almal wat in die Bybel belangrik is, mans is: konings, profete, priesters, Bybelskrywers, Jesus, die dissipels. Ons hoor net van die aartsvaders, van Abraham, Isak en Jakob, en nooit van enige aartsmoeders nie. En God self word manlik voorgestel.

Die kerk het die Bybel hierin gevolg: net mans kan priesters wees in die Katolieke Kerk, net mans kon eeue lank predikante wees in die meeste ander kerke. Wat sê dit vir die selfbeeld van vrouens? Moet hulle net deur die genade van mans leef? As God manlik is, ken Hy die gevoelens van vrouens? Kan Hy hulle verstaan? Daar is selfs radikale feministe wat die Christelike geloof afgesweer het omdat hulle oortuig is dat dit ongeneeslik mansgesentreerd is (an­drosentries, patriargaal). Die Katolieke Kerk hou inderdaad nog vas aan sy leer dat net mans priesters mag word omdat ‘n priester God moet verteenwoordig en God manlik sou wees.

‘n Mens moet versigtig wees met die gedagte dat God manlik is. Dis inderdaad waar dat God in die Bybel oorwegend manlik voor­gestel word, maar nie uitsluitlik nie. Daar word inderdaad meestal in manlike terme na God verwys (Vader, Koning, Hy), en Jesus wat Hom openbaar, is ‘n man. Ook na die Gees word in manlike terme verwys.

Maar daar word ook in vroulike terme na God verwys. Een van die mooiste beelde vir God is dat Hy vir ons sorg soos ‘n vrou vir haar kinders. Die verwysing in Deuteronomium 32:18 is merkwaar­dig, veral in die 1953-vertaling. In een enkele vers word God met ‘n vader én ‘n moeder vergelyk: die vader wat die kind verwek, en die moeder wat aan die kind geboorte gee. Die 1983-vertaling gee die Hebreeus ongelukkig nie volledig weer nie.

Verder word God vergelyk met ‘n ma wat nooit haar baba sal vergeet nie (Jes 49:15), en met ‘n ma wat haar kind veilig laat voel (Ps 131:2; Jes 66:13). Die sorg van die Here vir Israel tydens die woestyntog weerspieël die rol van die vrou wat aan die gesin kos en water voorsien. Hierdie sorg word spesifiek uitgedruk as Moses teenoor die Here kla: “Het ek dan swanger geword en hierdie hele volk in die wêreld gebring?” (Num 11:12). Die impli­kasie is duidelik dat die Here dit gedoen het; dus nogeens ‘n vroulike beeld. Elders lees ons dat die Here sê: “Ek self het Efraim leer loop, Ek het hulle op my arms gedra” (Hos 11:3) – ook beelde van ‘n vrou.

Jesus self word met die wysheid vereenselwig wat ‘n vroulike figuur is (Spr 8:1). ‘n Uitspraak wat volgens Lukas 11:49 deur die wysheid gemaak is, word in Matteus 23:34 aan Jesus toegeskryf. En elders (11:19) verwys Matteus na Jesus met die woorde: “Maar die wysheid is geregverdig deur haar werke,” ‘n sin wat ongelukkig glad nie herkenbaar is in die 1983-vertaling nie. Dit gebeur ook in Lukas 7:35 wat net so vreemd vertaal is. Jesus word dus met die vroulike wysheid gelykgestel.

Daar is ‘n laaste saak wat in hierdie verband belangrik is. Daar is ‘n taamlik algemene oortuiging dat mans en vrouens ver­skil­lende eienskappe het. Daar sou so iets wees soos ‘n algemeen manlike natuur, en ‘n algemeen vroulike natuur, al sal almal na­tuur­lik erken dat daar kleiner uitsonderings is. Mans sou dan ver­standsmense wees: vinnig, kreatief, vol inisiatief, hulle wil leiding neem, is in­gestel op mag en is mededingend, hul­le het teg­nologiese aanleg en ana­litiese denke. Vrouens sou ge­voels­mense wees: spontaan en kom­mu­nikatief, vol liefde, ver­draag­samer, hulle kan makliker ver­geef en vergeet.

Kom ons aanvaar vir die oomblik dat dit waar is. Watter van hierdie eienskappe sou ons die maklikste in God herken? Baie mense sal dadelik dink aan die manlike eienskappe van mag, inisiatief, leiding, kreatiwiteit, konfrontasie (Jesus teenoor die Fariseërs en bose magte). En daar kan min diskussie hieroor wees.

Maar wat van liefde, verdraagsaamheid, kommunikasie, ver­gifnis? Is dit nie net so belangrik, of dalk belangriker eienskappe van God nie? Is God nie manlik én vroulik as ons in hierdie ter­me aan Hom dink nie? Is sy een “kant” nie net so belangrik as sy ander “kant” nie? En is die een nie volkome afhanklik van die ander nie? Sê nou God het net mag en inisiatief gehad, en nie liefde en ver­draagsaamheid nie? Dit sou ‘n verskrikking gewees het.

Miskien is dit die beste om te aanvaar dat God wel “manlike” en “vroulike” eienskappe het, maar nie manlik of vroulik is nie, maar eenvoudig nie geslagtelik nie (beyond gender). Daar word trouens ook nie in die Bybel enige seksualiteit aan Hom toegeskryf nie, selfs al word sy verhouding met ons dikwels in terme van die huweliksverhouding uitgedruk.

In die Bybel word om ‘n paar redes oorwegend in manlike terme na God verwys. Eerstens is taal nou eenmaal so dat ‘n mens net in óf manlike óf vroulike terme na ‘n mens kan verwys, en nie in beide of in onsydige terme nie. God is nie ‘n “dit” nie. Omdat Israel in ‘n androsentriese (mansgesentreerde) same­le­wing geleef het, was dit vanselfsprekend dat hulle na God as manlik sou verwys. En verder kan ‘n mens ook aanvaar dat hulle inderdaad aan God as ‘n man gedink het. Maar dis nie deel van die boodskap van die Bybel nie. Geen faset van sy werk of ons heil word aan sy manlikheid verbind nie. Dit is eenvoudig deel van die kultuur van die tyd, net soos die ondergeskikte rol van die vrou. (*Onderdanigheid van die vrou, *Woord as titel vir Jesus)

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Maagdelike Geboorte

Die Groot Geloofswoordeboek: Maagdelike Geboorte

Maagdelike geboorte

Die maagdelike geboorte van Jesus is deel van ons belydenis. (*Twaalf Artikels) Daarmee bely ons dat Hy nie deur die toedoen van ‘n man gebore is nie en dus ‘n buitengewone geboorte gehad het. Tegnies sou ‘n mens eerder van sy maagdelike verwekking kon praat. Dis nie soseer die geboorte nie as die bevrugting wat sonder ‘n man plaasgevind het.

In die Bybel het ons eintlik net twee getuienisse van hierdie merk­waardige verwekking, net in Matteus en Lukas. Volgens Mat­teus sê ‘n engel aan Josef: “Wat in Maria verwek is, kom van die Heili­ge Gees” (1:20), en volgens Lukas sê die engel vir Ma­ria: “Die Heili­ge Gees sal oor jou kom” (1:35). Soms word ook verwys na Paulus se woorde oor Jesus: “gebore uit ‘n vrou” (Gal 4:4). Dit beteken egter nie noodwendig dat daar nie ‘n man be­trokke was nie. Elders in die Bybel verwys “uit ‘n vrou gebore” na alle mense en dui moont­lik net die swakheid van die mens aan (Job 14:1; Matt 11:11 waar die 1953-vertaling duideliker is: “onder die wat uit vrouens gebore is”, en wat na alle mense verwys).

Hierdie belydenis van Jesus se wonder-verwekking word in baie kringe verwerp. Mense sê dis nie moontlik dat ‘n kind sonder die toedoen van ‘n man verwek word nie, en volgens die prosesse wat ons ken, is dit natuurlik waar. Maar as ‘n mens aanvaar dat God alles geskep het (*Skepping), is dit seker nie te veel gevra om ook te aanvaar dat Hy bewerk het dat ‘n vrou ‘n kind kry sonder dat ‘n man betrokke is nie.

Daar is ook die gedagte dat Jesus nie regtig ten volle mens sou gewees het as Hy nie deur ‘n man verwek is nie, omdat kin­ders deur ‘n vrou én ‘n man verwek word. Hy sou dan ‘n soort supermens gewees het. Maar die vorige teenargument geld seker ook hier.

Verder is daar nog die verwysing na die feit dat daar meer ver­hale uit die ou tyd is van besondere mense wat op sulke bui­ten­ge­wone maniere verwek of gebore is, veral konings wat ‘n goddelike geboorte sou gehad het. Dit is egter nie duidelik waarom dit teen Jesus se wonder-verwekking sou tel nie. Daar is ook baie ander skep­pingsverhale en verhale oor wonderwerke, maar dit beteken tog nie dat ons nie meer die Bybelverhale daaroor kan aanvaar nie.

 

Wat beteken dit alles? Minstens twee dinge.

Eerstens is daar twee duidelike getuienisse dat Jesus ‘n ongewone verwekking gehad het. En daar is geen goeie rede om dit te betwyfel nie.

Maar tweedens moet ons ook nie te veel hieruit aflei nie. In die verlede was daar die gedagte dat Jesus juis sonder die toedoen van ‘n man verwek moes word omdat seks eintlik sonde is. Anders sou Hy die *erfsonde gehad het. Natuurlik is dit ‘n vreemde redenasie, ook wat die erfsonde betref. Dis nie iets soos bruin oë wat biologies oorgedra word nie.

Verder is geglo dat Jesus anders as ons moes wees anders sou Hy nie ons Verlosser kon wees nie. Maar dis ook nie ‘n goeie argument nie. Daar is trouens juis die ander siening dat Hy soos ons moes wees om regtig ons saak by God namens ons te behartig.

Ons moet eenvoudig aanvaar dat daar nie ‘n bepaalde re­de ge­gee word waarom Hy juis só verwek moes word nie. En ons moet ook daarop let dat daar nie verder in die Nuwe Tes­tament enige aan­dag daaraan gegee word nie. Dink maar net aan die *won­der­werke, die *kruis en die *opstanding. Daar is eintlik geen vergelyking nie. Vir die kruis gee net Paulus alleen ses verskillende betekenisse wat almal direk met ons heil in verband staan, en vir die opstanding minstens vier. Paulus wil die kerkdeure toemaak as Jesus nie op­gestaan het nie. Na die wonderwerke word oor en oor verwys, en daar word belangrike betekenisse daaraan gegee. Maar geen skry­wer in die Nuwe Testament gee besondere betekenis aan die won­der-ver­wekking van Jesus nie. Daarom moet ons self ook nie te veel klem daarop lê en lang debatte daaroor voer nie. Vir ons heil het dit skynbaar geen besondere betekenis nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Luther en Lutherse Kerke

Die Groot Geloofswoordeboek: Luther en Lutherse Kerke

Luther

Martin Luther (1483-1546) het die *Kerkhervorming in Duitsland begin. Die datum wat simbolies daaraan geheg word, is 31 Oktober 1517 toe hy 95 stellings teen die kerkdeur in Wittenberg vasgespy­-ker het. As priester in die Katolieke Kerk het hy ‘n groot stryd ge­had oor hoe ‘n mens gered kan word. Hy het die *geregtigheid (eise) van God gevrees omdat hy oortuig was dat ‘n mens nie daaraan kan voldoen nie. Na baie Bybelstudie het hy uit Romeine en Galasiërs geleer dat God nie net geregtigheid van ons eis nie, maar ook ge­regtigheid aan ons skenk, dat ons nie deur ons goeie werke gered word nie, maar deur die genade van God wat geregtigheid aan ons skenk op grond van die verdienste van Christus. Ons moet hierdie geregtigheid in die geloof aanvaar, wat net ‘n ander manier is om te sê ons moet die genade van God aanvaar wat Hy deur Jesus aan ons gee.

 

Lutherse Kerke

Daar het ‘n hele aantal Lutherse Kerke ontstaan wat vandag oor groot dele van die wêreld versprei is. Die Piëtisme is ‘n gees­te­like beweging wat in hierdie kerke ontwikkel het met groot sendingondernemings veral in die negentiende eeu. Hulle het ‘n reu­se­bydrae tot die vestiging van die evangelie in Suider-Afrika ge­maak. In ons land is daar minstens twee bekende Lutherse Kerke: die Evangeliese Lutherse Kerk en die Vrygemaakte Lutherse Kerk. Tra­disioneel is hierdie kerke se eredienste ‘n bietjie meer formeel as die kerke in die *Gereformeerde tradisie.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Liturgie

Die Groot Geloofswoordeboek: Liturgie

Liturgie

Die woord “liturgie” kom van die Griekse woord leitourgia wat soms vertaal word met “diens” en verband hou met diens aan God en aan ander gelowiges. Die woord word gebruik vir die in­rig­ting van die erediens. Daar is groot verskille tussen verskillende denominasies, en soms ook binne dieselfde denominasie. Oor die algemeen volg die historiese kerke ‘n baie vaster en formeler liturgie (orde van diens) sodat daar selfs groepe is wat die gebede voorlees, terwyl ander soos die *Pinkster-Charismatiese tradisie en die *Evangelicals (Baptiste) baie vry is in die inkleding van die diens, en soms baie variasie inbou. (*Vernuwingsbeweging, *Spiritualiteit)

 

Skrywer: Prof Adrio König