Die Handelinge van die Apostels: Die apostels word weer vervolg (deel 2; Hand 5:27-32) – Francois Malan

5:27 Die lyfwag bring die
apostels in die Raadsaal in en laat hulle weer voor die Raad as aangeklaagdes
staan, soos die vorige keer (Hand 4:7). Dit ten spyte van die wonderbare wyse
waarop hulle uit die beskikkingsmag van die Raad verlos is. Die hoëpriester
begin toe met hulle ondervraging, sonder om te vra hoe hulle uit die tronk
losgekom het, en sonder inagneming van die wonderteken wat die Here daarmee aan
die Raad gegee het.

5:28 Vir die hoëpriester gaan
dit ten eerste oor hulle ongehoorsaamheid aan die Raad se bevel aan
hulle.  ‘Ten strengste gebied’ is ’n
vertaling van die Griekse idiomatiese uitdrukking ‘met ’n bevel het ons julle
beveel’ om nie in hierdie Naam onderrig te gee nie…’ Die hoëpriester bou sy
aanklag teen die apostels voor die Raad op die Raad se vorige uitspraak,
waaraan hulle ongehoorsaam was (4:18). Soos in die vorige verhoor vermy hy die
naam Jesus  wat hulle as gevaarlik beskou
en verwys hy uit vrees en minagting na Jesus slegs as ‘hierdie naam.’  Maar hy moet teen wil en dank erken dat die
triomftog van ‘hierdie naam’ deur die wêreld begin het – ‘En kyk, julle het
Jerusalem met julle lering volgemaak;’ die perfektum werkwoord wys dat die
gevolge daarvan voortduur, Jerusalem is vervul met hulle lering. Dit is soos ’n
damwal wat breek en die Raad is magteloos om die oorstroming te keer.

Die Raad beskuldig die
apostels: ‘Daarby wil julle die bloed van hierdie man op ons bring’
(vgl. die apostels se beskuldiging in Hand 4:10 Jesus Christus wat júlle
gekruisig het). Die verwysing na ‘hierdie man’ kom nader na Jesus toe. Die
dissipels verkondig nie slegs ’n naam nie, maar ’n mens van vlees en bloed, vir
wie se dood hulle verantwoordelik was. Die Ou Testament ken bloedwraak (Num 35:19,21,27;
Deutr 19:12; Ps 79:10 dat die Here die bloed van sy diensknegte wreek; Deutr
19:10 bloedskuld rus op die een wat onskuldige bloed vergiet). So begin die
hoëpriester uit vrees vir bloedwraak; die hele volk het tog voor Pilatus gesê:
‘Laat sy bloed op ons en ons kinders wees’ (Matt 27:25); vgl. Kajafas se woord
in Joh 11:50 dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterf en
die hele volk nie ondergaan nie; maar ook Joh 11: 51-52 dat Kajafas geprofeteer
het dat Jesus vir die volk sou sterf – ook vir die Raadslede wat in Hom sou
glo. Romeine 3:25-26: God het Christus Jesus daargestel as ’n
versoeningsoffer/plek van versoening in sy bloed, wat deur geloof verkry word.
Lukas 22:20: Hierdie beker wat ter wille van julle uitgegiet word, is die nuwe
verbond deur my bloed. Kolossense 1:20: Dit het God behaag om vrede te bring
deur sy Seun se bloed aan die kruis en alles op aarde en in die hemel met Hom
te versoen.

 Minder as 40 jaar na Jesus se versoeningsoffer
aan die kruis, in 70 n.C., is die stad Jerusalem deur die Romeine oorrompel,
die tempel verwoes, die offers by die tempel permanent gestaak, en die
Sadduseërs uitgewis.

5:29 Petrus as mondstuk van
die apostels antwoord op die aanklag teen hulle met ’n kort belydenis,
letterlik: ‘God moet gehoorsaam word eerder as mense’ – Petrus maak ’n
algemene stelling wat die apostels se optrede bepaal, en wat ook die Raad se
optrede behoort te bepaal. Die Raad is ondergeskik aan God se wil. Petrus en
Johannes het by hulle eerste verhoor die Raad reeds uitgedaag om hulle aan God
se wil te onderwerp (Hand 4:19). Die genesing van die lamgebore man het die
apostels verseker van God se wil (Hand 4:20), en met hulle wonderbare
uitredding uit die tronk is hulle weer eens verseker dat God van hulle verwag
om die opdrag wat hulle van Jesus en van die engel ontvang het, uit te voer
(Hand 1:8 en 5:20).

5:30 Die apostels se nuwe
weiering om die Raad te gehoorsaam word vir hulle ’n geleentheid om oor Jesus
te getuig en ’n aanklag teen die Raad te bring. Die aangeklaagde apostels word
aanklaers teen die Raad. Weer eens stel Petrus die handeling van God skerp
teenoor die optrede van die Raad. Gód het Jesus opgewek wat júlle gegryp
en doodgemaak het deur Hom aan ’n boom/paal op te hang – ’n idioom volgens
Deutr 21:22 wat hier gebruik word vir kruisiging.

Die aanklag is vir iemand wat
glo in die verlossingsboodskap. Paulus haal Deutr 21:22-23 aan in Galasiërs
3:13 as verklaring vir die betekenis van Jesus se dood: Christus het ons
vrygekoop van die vervloeking van die wet toe Hy vir ons vervloek is, want daar
staan geskryf: ‘Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang.’ Deur die
moordenaarshande van die Raad het God vir die wêreld verlossing bewerk
.
Hulle het Jesus behandel asof Hy deur God vervloek is, en Hom aan ’n paal laat
ophang. God het Hom egter aan sy regterhand op sy troon laat sit as
Heerser en Verlosser van die skepping, soos Hy vir hulle gesê het (Luk 22:69).
Daarmee staan God téén hulle op en handel tegelyk vír hulle. God het téén hulle
besluit, en daarmee ook vír hulle die pad van verlossing gemaak. Petrus se
aanklag is ook ’n aanbod aan die Raadslede. Hulle het Hom doodgemaak en God het
Hom opgewek, ook vir hulle. Petrus noem Hom die God van ons vaders. Daarmee
vereenselwig Petrus hom met die lede van die Raad as kinders van hulle
gesamentlike voorvaders.Daarom is Hy die God van die Raadslede en van
die apostels, die God wat Hom aan Israel verbind het.

5:31 In hierdie vers spel
Petrus uit wat hy in die vorige verse gesê het. Die verhoging van Jesus, Israel
se verwagte Messias, tot God se regterhand is bedoel as God se redding vir
Israel
. God se bedoeling met die stuur van Jesus as die Jode se verwagte
Christus wat vir hulle kom sterf het en uit die dood opgestaan het, was juis om
aan die verdwaalde en verharde Israel die geleentheid tot bekering te bied,
terug na God toe. En daarvoor het God Hom aan sy regterhand laat sit om sy werk
van bekering voort te sit as Leidsman na God en na die ware lewe toe, want Hy
is die Verlosser uit die sonde en uit die mag van die sonde. ‘Om bekering aan
Israel te skenk en die vergewing van sondes’ – in 3:26 het hy reeds gesê: ‘God
het sy Kind heel eerste na júlle (met klem voorop in die sin) gestuur nadat Hy
Hom opgewek het, om julle te seën, deurdat Hy elkeen van julle sal laat wegdraai
van julle booshede.’ Bekering word in 5:31 as ’n geskenk van God aangebied – metanoia
is die verandering van jou lewe deur ’n verandering van jou denke oor God
en jou medemens en oor jouself.

Die titel Verlosser/Redder kom uit die Ou Testament waar God as Redder geprys word. Habakuk 3:13 ‘nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God my Redder.’ In Hebreeus: Jehoshu’ah, ‘Jahweh is Verlosser.’ Die Naam Jesus is die Griekse vorm van Jeshu’ah, Luk 1:31). So het Maria in haar lofsang gesing: ‘my gees jubel oor God my Verlosser’ (Grieks: sōtêr Luk 1:47; 2:11). Die eerste gemeentes het die titel ‘God is Redder’ op Jesus oorgedra, soos Hy gesê het (Joh 12:47). Jesus is deur sy dood en opstanding erken as die Verlosser van die wêreld, wat deur God sy Vader gestuur is (1 Joh 4:14; Joh 3:17; Titus 1:4 Genade en vrede van God, ons Vader en Christus Jesus ons Verlosser; Joh 4:42 ‘…ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is’). 5:32 Die apostels is deur Jesus aangestel as getuies van hierdie gebeure (rêmata verwys na woorde en hulle inhoud). Petrus het dit in Handelinge 5:30-31 uitgespel. Die Heilige Gees wat God gegee het aan húlle wat aan Hom gehoorsaam is, getuig ook. Hy werk in en deur elke mens wat in Jesus as die goddelike Verlosser van die wêreld glo en aanvaar as die Here oor sy lewe (vgl. Joh 14:26; 15:26; 16:8; Rom 8:11,14). Die kort preek van Petrus eindig soos dit begin het met gehoorsaamheid aan God (Hand 5:29).

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Die apostels word weer vervolg ( deel 1; Hand 5:17-26) – Francois Malan

5:17 Verse  17-18 is een sin in Grieks, met
hoofwerkwoorde ‘arresteer’ en in die tronk ‘gegooi.’  Die hoëpriester (Kajafas of Annas, vgl. die
verwarring in Hand 4:6) en almal saam met hom (sy ondersteuners), naamlik die
godsdienstige party van die Sadduseërs, het uit jaloesie opgestaan. Die
deelwoord ‘opstaan’ verwys waarskynlik na die Hoëpriester se opstand teen die
groeiende populariteit van die apostels, teen die uitbreiding van die Christusgemeente,
en teen hulle ongehoorsaamheid aan die Raad se bevel dat hulle glad nie eers
Jesus se naam mag noem nie (Hand 4:18). Die Sadduseërs het mos nie geglo in die
opstanding van die dooies nie (Hand 23:8), en Jesus se opstanding was reëlreg
teen hulle oortuiging. Daarom gee Lukas die rede vir die hoëpriester se
opstaan: hulle was vervul met jaloesie! (zêlos ’n baie sterk
gevoel van gegriefdheid en afguns teen iemand). Toe die getal gelowiges, wat
gereeld op die tempelterrein vergader het, so vinnig aangegroei het, het die
Raad nog nie opgetree nie, moontlik weens die gewone mense se agting vir die
gelowiges (Hand 5:13). Maar die skare siekes wat langs die strate op die
apostels gewag het en van die buitewyke af aangedra is, het die hoëpriester se
geduld met die skare gelowiges wat daagliks op die tempelterein byeengekom het,
uitgeput.

5:18 Hulle het die apostels
gearresteer
(letterlik: hulle hande aan die apostels geslaan) en hulle in
die publieke (staats-) tronk gesit, waar gewone misdadigers opgesluit is. Die
apostels is deur die mense aanvaar as die leiers van die nuwe godsdienstige
beweging. 

5:19 ’n Engel van die Here
het egter gedurende die nag die deure van die gevangenis oopgemaak, hulle
uitgelei  en gesê:…’    Die engel is die boodskapper wat die Here
(Jesus) gestuur het (vgl. Ps 103:20 ‘Prys die HERE, julle wat sy boodskappers
is, – Hebreeus: male’ak; Grieks: angelos; ‘engel of boodskapper’
– sterk helde wat sy woord uitvoer om sy bevel te gehoorsaam). Op
wonderbaarlike wyse word hulle bevry om hulle opdrag uit te voer, om Jesus se
getuies te wees wat in Jerusalem daarmee moet begin.

5:20 ‘Gaan staan in die tempel
en verkondig aan die volk al die woorde van hierdie lewe’ – die volle
boodskap oor en van Jesus wat uit die dood opgestaan het as die Leidsman tot
die lewe (Hand 3:15; vgl. Hebr 12:2 die Leidsman en Voleinder van die geloof).
Op die plek waar hulle die vorige aand gearresteer is, moet hulle voortgaan met
die verkondiging. In Luk 21:12-13 het Jesus reeds gesê: julle sal in tronke
opgesluit word. Dit sal vir julle ’n geleentheid wees om te getuig. Die tempel
is die plek waar hulle die boodskap aan die volk moet gaan verkondig. Dit is
God se wil en opdrag, want dit is sy huis (Luk 19:46 aangehaal uit Jes 56:7).
Die evangelie van Jesus, die boodskap van verlossing, bevestig en oortref die
lewende woorde wat Moses van ‘die engel’ op Sinaiberg ontvang het (Hand 7:38).
Die engel op Sinaiberg word in Hand 7:30-33 geïdentifiseer as die Here self. Hy
is die God van Abraham, Isak en Jakob. Dit is ’n verwysing na Jesus wat nou as
mens gekom het, ’n profeet soos Moses (Hand 7:37). Die gemeente van
Christusgelowiges is nou die eintlike volk van God, wat aanspraak maak op die
tempel as die huis van die lewende God vir wie hulle dien. Sy nuwe volk vervang
die ongehoorsame Israel as die volk van God (vgl. Paulus wat in die tempel bid,
waar Jesus aan Hom verskyn, Hand 22:17). Vir die woorde van hierdie lewe, vgl.
Petrus se woorde aan Jesus in Joh 6:68: U het woorde van die ewige lewe. Paulus
verwys daarna in Hand 13:26 as die boodskap van verlossing (13:47-48); ook om
aan die woord van die lewe vas te hou (Flp 2:16). Johannes 3:16; en 10:10,28
verwys na die lewe en ewige lewe wat ons reeds het as ons in Jesus glo.

5:21 Gehoorsaam het hulle teen
dagbreek – toe die tempeldeure oopgemaak word – die tempel binnegegaan en onderrig
gegee
– waarskynlik in die voorhof van die heidene, aan die mense wat
vroegdag die Here kom aanbid het en na die apostels kom luister het, soos hulle
na Jesus kom luister het gedurende die vyf dae voor sy kruisiging (Lukas
21:37-38).

Toe die Hoëpriester en dié
saam met hom by die tempel opdaag, het hulle die Sanhedrin saamgeroep met al
die oues van die kinders van Israel – die volksleiers. Hulle het dienaars van
die tempel na die gevangenis gestuur om die apostels te laat haal. Dit word ’n offisiële
vergadering van die Joodse Raad
, die hoëpriester met sy dagbestuur en die
volksleiers vir wie hulle oproep vir die vergadering. Hulle kom om af te reken
met die apostels van Jesus wat aan hulle ongehoorsaam is, en daarom die nag
reeds in die gevangenis moes deurbring, maar juis daar in die gevangenis, God
se opdrag gehoor het en nou gehoorsaam. 

5:22-23 Maar toe die dienaars
van die tempel by die gevangenis opdaag, het hulle hulle nie daar in die tronk
gekry nie, omgedraai en verslag kom gee. Verslae het hulle gerapporteer: Ons
het die gevangenis met alle sekerheid gesluit gekry – die voltooide verlede tyd
van ‘gesluit’ beteken dat die deure sedert die aand net so gesluit gebly het.
En die wagte nog steeds staande (voltooide deelwoord) voor die deure. Maar toe
ons hulle oopmaak vind ons niemand binne nie – by die gevangnis is alles buite
in orde, maar binne nie. Die engel het die tronkdeure oopgemaak en blykbaar
weer gesluit sonder dat die wagte dit agtergekom het (5:19; soos in Hand
12:7,10). Die Joodse Raad moes hieruit erken dat God self ingegryp het, met
’n teken uit die hemel
, soos hulle destyds van Jesus gevra het (Matt
16:1). 

5:24 Toe die bevelvoerder van
die tempel – wat sy wagte se verslag aanhoor (hy was ook die ondervoorsitter
van die Raad, 4:1) – en die leierpriesters hierdie verslag hoor was hulle
totaal verward
oor wat dit kon beteken/waartoe dit kon lei. Die beste van
die Joodse denkers was hier bymekaar en hulle kon niks verstaan wat nou gebeur
het nie en staan radeloos en magteloos. Maar dat God ingegryp het en téén hulle
besluit het, moes eintlik vir hulle duidelik geword het.

5:25 Die Here stuur toe
‘iemand’ om vir hulle te vertel: ‘Kyk! (luister mooi, op hierdie oomblik) die
manne wat julle in die tronk gesit het, is in die tempel staande besig om die
volk te onderrig – soos die vorige keer (4:2) en soos die engel hulle beveel
het (5:21,25). Die ‘iemand’ beklemtoon vir hulle die skreiende teenstelling:
die manne wat júlle in die tronk gesít het (om hulle vryheid te beperk),
is nou (terwyl julle wag om hulle te oordeel) stáánde in die tempel om
die volk vryelik te onderrig. Die raaisel word vir die Raad net groter en
gevaarliker. Die Godswonder van hulle verlosssing uit die tronk het die
apostels tot ’n nuwe oortreding van die Raad se bevel gelei. Die opdrag wat die
Raad aan hulle gegee het, is deur God se opdrag gekanselleer. Dié Jesus wat
hulle laat kruisig het, is duidelik besig om deur sy apostels die wêreld vir
hulle om te krap met sy goeie boodskap (vgl. Luk 22:69 ‘van nou af sal die Seun
van die Mens aan die regterhand van God die Magtige sit’). Om die volk te
onderrig
is eintlike die werk van die Raad. Ongeletterde vissers het die
onderrig van die volk by die Raad oorgeneem.

5:26 Die bevelvoerder van die tempel gaan toe saam met sy wagte om die apostels tussen die skare, wat na hulle luister in die voorhof van die heidene, daar uit te haal om voor die Raad te verskyn. Die wonder het hulle nie oortuig nie. Hulle gaan voort met hulle stryd om hulle invloed onder die volk te behou. Sonder geweld word die apostels gevra om terug te kom na die Raad toe, omdat die lede van die Raad bang was dat die volk hulle sal stenig –  geen vrees vir God of vir Jesus nie, maar vir die volk. Steniging word vir godslastering voorgeskryf (Lev 24:15-16; vgl. Mark. 14:64; Hand 7:58). Die Raad beskou die apostels as godslasteraars. Die volk kan egter teen die Raad begin optree omdat húlle eintlik die godslasteraars is wat God se Seun as ’n godslasteraar verwerp het (Mark 14:64). En nou wil hulle Jesus se volgelinge die swye oplê.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Tekens en wonders (Hand 5:12-16) – Francois Malan

Die paragraaf is ’n kort opsomming van
die vorige hoofstukke oor die lewe in die gemeente en die resultaat van die
apostels se werk. Dit is ook ’n inleiding tot die vervolgings wat hierop volg.

5:12 Deur die hande van die apostels
het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind, waarvan enkeles
reeds genoem is. Die berig vertel van die vervulling van die gemeente se tweede
gebed in 4:30 oor die tekens en wonders wat die verkondiging van Jesus se
opstanding en dat Hy as die Here regeer, begelei en versterk. Naas die
voorafgaande strafwonder word die baie heilswonders gestel. Soos Jesus se hande
aan siekes geraak het (Hand 2:22), word tekens en wonders in die Naam van Jesus
deur die hande van die apostels gedoen as werktuie van die uitgestrekte hand
van God (4:30). 

Hulle (die apostels en die gemeente) was
almal bymekaar in die Pilaargang van Salomo, eensgesind oor Jesus en sy
opstanding. Die onbepaalde verlede tyd van die werkwoord ‘was’ dui aan dat dit
nie eenmalig was dat hulle bymekaar was nie, maar dat hulle gereeld bymekaar
gekom het.

5:13 
Van die res (ander Jode wat nie in Jesus geglo het nie, vgl. Luk 8:10)
het niemand dit gewaag om by hulle (by die gelowiges) aan te sluit om deel van
die gemeente van Jesusgelowiges te word nie (kollaō innerlik aansluit).
Veral ná die gebeure met Ananias en Saffira het die erns van die verhouding met
die lewende God duidelik geword. Dit is nie ’n gewone vereniging waarby iemand
sonder selfverloëning kan aansluit nie (vgl. Jesus se woorde in Luk 9:23-24;
14:25-27,33).

Daarteenoor (alla sterk
kontras), teenoor die Raad se vrees om dié stap te neem, het die volkhoë
agting vir die gemeentelede gehad (laos hier vir die gewone mense).

5:14 Tog (mallon de maarin
teendeel, egter nog meer), nog meer as in die verlede, is mense wat in die Here
glo deurgaans (tot die gemeente) bygevoeg. Die onvoltooide passiewe werkwoord
‘bygevoeg’  dui aan dat Gód besig is om
mense by die gemeente by te voeg (vgl. Joh 6:39,44,65; 10:29; 17:2,6,9,12,24;
18:9 slegs dié mense kom na Jesus, wat die Vader aan Hom gee, na Hom toe trek,
en dit aan hulle gee om na Jesus te kom). Dié byvoeging van gelowiges geskied
ten spyte van ‘die ander’ se vrees om aan te sluit, maar ook deurdat die gewone
mense van die volk die liefde gesien het wat die Here tussen die gemeentelede
bewerk het. Lukas, wat in sy Evangelie besondere aandag aan die vroue
gegee het, spesifiseer hier ook dat mans ‘en vroue’ tot die gemeente toegevoeg
is. So geskied dit ook in die res van Handelinge. Hier beklemtoon Lukas dat God
deurgaans ’n groot getal mans en vroue bygevoeg het. Lukas gee nie meer ‘n
benaderde getal soos in 4:4 nie, maar sê net ’n menigte (plêthos) mans
en vroue wat in die Here Jesus geglo het, is deurgaans bygevoeg.

5:15-16 Die gevolg van wat in vers 12
gesê is oor die baie tekens en wonders deur die apostels, word hier verder
verduidelik. ‘…sodat siekes selfs op veldbedjies en draagbare geplaas,op
die strate uitgedra is, sodat wanneer Petrus sou verbykom die skaduwee op een
van hulle mag val.’ Selfs uit die baie dorpe rondom Jerusalem het hulle
saamgestroom met siekes en deur onrein geeste geteisterdes, van wie almal
genees is.’

Lukas 6:18-19 vertel van Jesus se genesing van siekes en mense wat deur onreine geeste gepla is, en hoe hulle Hom probeer aanraak het en Hy almal genees het. Lukas 9:1 sê, toe Jesus die 12 uitgestuur het in Galilea om die koninkryk van God te gaan verkondig, het Hy aan hulle die mag en gesag oor alle demone gegee en om siekes te genees. Ook aan die 72 wat Hy uitgestuur het in Judea en Perea, om te verkondig dat die koninkryk van God op hande is, het Hy opdrag gegee om siekes te genees (Luk 10:9; vgl. Mattheus 10:1). Met hulle terugkeer het Hy egter gesê: ‘En tog moet julle nie bly wees omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie. Wees eerder bly dat julle name reeds in die hemel opgeskryf is.’ Nou sit Jesus sy genesings van siekes en duiwelbesetenes voort deur sy apostels, om hulle getuienis oor Jesus se opstanding as die Here in sy Koninkryk, te ondersteun (Hand 5:12).

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Ananias en Saffira (Hand 5:1-11) – Francois Malan

5:1 Teenoor Barnabas se
sprekende voorbeeld van barmhartigheid, vertel Lukas van ’n egpaar in die
gemeente wat in hulle harte anders gesind was. ‘’n Man met die naam Ananias het
saam met sy vrou Saffira ’n stuk grond verkoop.’ Ananias is moontlik die
Griekse vorm van die Hebreeuse Gananjah ‘Jahweh is genadig’ of van Ananejah
‘Jahweh hoor’ (Neh 3:23). Die naam Ananias kom ook voor in Hand 9:10 vir
die vroom man in Damaskus wat vir Saulus gaan bid en hom gedoop het (’n ander
Ananias kom in Hand 22:12 voor); en in Hand 23:2 het nog ’n Ananias, die
hoëpriester, opdrag gegee dat Paulus op sy mond geslaan moet word. Saffira
beteken ‘die mooie.’  Soos Barnabas
verkoop die twee ’n stuk grond wat aan hulle behoort, maar met ’n hele ander
gesindheid en doel
as die ‘seun van bemoediging.’

Soos Jesus vir Judas, die
werktuig van die Satan (Luk 23:3), in sy apostelkring opgeneem het, is Ananias
en Saffira ook werktuie van die Satan (Hand 5:3) vir wie Jesus in die
eerste gemeente opgeneem het en verraaiers van sy liefde geword het. So beskryf
Lukas die voortsetting van Jesus se bediening as die Here wat ná sy hemelvaart
deur sy volgelinge werk, met ooreenkomste uit sy bediening as die Seun van die
Mens op aarde. So het Akan uit die stam van Juda met die ingang in die beloofde
land tydens Jerigo se inname troueloos gehandel. Uit die goed wat aan die Here
gewy is  het hy mooi klere, goud en
silwer gevat, daaroor gelieg, en in die grond in sy tent gaan begrawe (Josua
7).

5:2 ‘en hy (Ananias) het van
die geld  (van sy grond) vir homself
teruggehou…’ (nosfizomai terughou vir jouself; dit is dieselfde woord as
in die Griekse vertaling van Josua 7:1 oor Akan; die woord word ook in Titus
2:10 gebruik). Ananias doen dit met die medewete van sy vrou. Van die begin af
was hulle plan om van die geld agter te hou en die skyn voor te hou dat hulle
alles vir die Here gegee het. Sy optrede is ’n model van ’n halwe hart wat tot
oneerlikheid lei. Hy wou homself as ’n besondere goeie Christen voorstel sonder
dat hy dit was. Sy misdaad (5:4 pragma onderneming) was nie dat hy nie
die volle verkoopsom afgelewer het nie, maar dat hy voorgegee het dat dit die
volle som was en homself valslik in ’n goeie lig probeer voorstel het (soos
Judas se soen om Jesus te verraai, en Judas se mooi praatjies oor geld vir die
armes in plaas van die salf vir Jesus se voete, Joh 12:4-6; Mark 14:44-45 ). Ananias
het die eer van mense gesoek
, maar nie die Here se goedkeuring nie (vgl.
Joh 5:44: Hoe kan julle glo terwyl julle van mekaar eer wil ontvang, maar nie
die eer soek wat van die enigste God kom nie?’). Ananias het van die Here se
alsiende oë vergeet. Calvyn sê dat hy die voete van die apostels groter eer
betoon as die oë van die Here.

5:3 Onder die leiding van die
Heilige Gees sien Petrus egter deur Ananias se valsheiden die duiwelse
agtergrond van die bedrog (Luk 22:3; Joh 6:70). So het Jesus geweet wie Hom
gaan verraai (Luk 22:21; Joh 6:64; vgl. Hand 13:9). Maar Ananias bly ten volle
verantwoordelik vir sy daad. Deur die verleiding van die Satan om die eer van
die gemeente vir hulleself te kry asof hulle deur die Heilige Gees gelei is tot
barmhartige vrygewigheid, beplan Ananias en sy vrou die leuen voor die
apostels, maar lieg daarmee ook vir die Heilige Gees, en tree so teen
God self op. 

5:4 Hierdie vers verduidelik
die stellings dat die gemeente alles gemeenskaplik besit het (4:32,34-35).
Petrus stel ‘n dubbele retoriese vraag aan Ananias, waarop die antwoord ‘ja’
gesuggereer word. Toe die grond nog onverkoop bly lê het, was dit nie joune
nie? en toe dit verkoop is het dit nie onder jou seggenskap gebly nie? Daarmee
word die reg tot privaatbesit erken
. Die volgende vra na sy motief: Waarom
het jy hierdie daad (pragma onderneming wat beplanning en
verantwoordelikheid behels) in jou hart gesit/bedink? Sonder om daarop ‘n
antwoord te ontvang wys Petrus  hom wat
hy in werklikheid gedoen het. ‘Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir
God!’ 

5:5 Die onthulling en
beskuldiging van Petrus was vir Ananias ’n ‘dodelike’ verrassing. Terwyl
Ananias die laaste woorde hoor het hy geval en gesterf. God wat deur die
mond van die apostel praat, het die oordeel voltrek (vgl. die eersgeborenes van
die Egiptenare wat almal gesterf het met die tiende plaag, soos Moses gesê het;
Eks 11:4-6; 12:29-30. Dit is soos die skielike dood van Abia, die seun van
Jerobeam oor die skreiende sondes van sy pa, net soos die profeet Agija
aangekondig het, 1 Kon 14:12-17). Hebreërs 10:31 sê: ‘Verskriklik is dit om te
val in die hande van die lewende God,’ oor mense wat die Seun van God vertrap
en die Gees van genade uitdaag. In 2 Kor 2:11-17 sê Paulus: ‘ons versprei die
geur (wierook) van die kennis van Christus; vir dié wat verlore gaan is dit ’n
reuk vanuit die dood tot die dood, vir dié wat verlos word, ’n geur vanuit die
lewe tot die lewe. En wie is hiertoe bekwaam? Ons is nie soos baie wat smous
met die woord van God nie; maar ons praat in opregtheid asof vanuit God, en dit
in Christus.’ 

Ananias se soeke na eer het
van hom ’n werktuig van die Satan gemaak deurdat hy voor die gemeente
vir die Heilige Gees en vir God gelieg het (5:3,4). Deur Ananias se
eersugtigheid het die Satan ingekom in die eerste gemeente wat so mooi
saamgeleef het. So het Eva die leuen van die slang geglo en die dood oor die
mensdom gebring met haar begeerte om soos God te word wat alles kan ken (Gen
3:4-6).   

En ’n groot vrees/ontsag
vir God
, het oor almal gekom wat daarvan gehoor het (vgl Hand 5:13
vir die reaksie van die res van die volk). 1 Petrus 2:8 sê Jesus is ‘n ‘klip
waaroor ’n mens struikel, ja, ’n rots wat ’n mens laat val. Hulle struikel
omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is; hulle was daartoe bestem’ (deur
Petrus aangehaal uit Jesaja 8:14). Hand 2:47 vertel dat die hele volk die
volgelinge van Jesus goedgesind was oor hulle eenheid en milddadigheid. Ná
hierdie straf op die sonde van een van die gemeentelede is die volk ook
versigtig vir hierdie kinders van God.

5:6 Die jonger manne (neōtreroi)
van die gemeente kom en draai hom in linne toe, dra hom uit (waarskynlik ook
uit die stad uit) en begrawe hom (waarskynlik in die graf vir misdadigers,
vgl. Jes 53:9). In die Ben-Hinnomdal is die Tofet opgerig waar kinderoffers aan
Molog gebring is (2 Kon 21:6) en wat ’n kerkhof vir misdadigers geword het
(vgl. Jer 7:31-32; 19:11). In Jeremia se tyd, voor die ballingskap, het die
Potskerfpoort na die dal gelei (Jer 19:2). In Nehemia se tyd, na die
ballingskap, is dit die Aspoort genoem (Neh 2:13). Die vure wat altyd op
Jerusalem se ashope gebrand het, het aanleiding gegee dat Ben-Hinnom (die seuns
van Hinnom se dal) in die Talmud Ge-Henna geword het, waar die woord ‘hel,’ die
plek van die ewige vuur/straf, vandaan kom.

5:7 Saffira kom in, onbewus
van wat met haar man gebeur het, ongeveer 3 uur na sy dood, daar waar die
apostels en gemeente byeen was. Daar word nie verder verduidelik waarom sy
gekom het, en waarom sy onbewus was van alles nie.

5:8  Petrus vra haar ook direk na die koopsom wat
haar man aan die voete van die dissipels kom neersit het, of dit die bedrag is
wat hulle vir die grond ontvang het (5:2). Toe sy bevestig dat dit die koopsom
is wat hulle ontvang het, was dit duidelik dat hulle twee saamgespan het
om van die geld terug te hou.

5:9 Petrus se retoriese vraag
aan haar gaan oor haar en haar man se samespraak oor die bedrag. Waarom het
hulle gedink hulle kan die gemeentelede se hoë agting met hulle valsheid koop?
Het hulle dan nie geweet dat dit eintlik die Gees van die Here is vir wie hulle
getoets het om te kyk of Hy dit miskien nie sal agterkom nie? Dit is die Gees
wat op die gemeente uitgestort is en juis mense tot bekering van hulle sonde
lei. Toets (peirazō) het hier die implikasie dat dit nie sal werk nie.
Weet hulle nie dat die Here alles weet nie, en dat dit onmoontlik is om
vir Hom te lieg sonder dat Hy jou diepste gedagtes en begeertes ken?

Daarop spreek Petrus die
oordeelswoord van God
. ‘Let op! Dié wat jou man begrawe het, is voor die
deur en sal jou uitdra.’ Onder leiding van die Heilige Gees weet Petrus dat
hulle voor die deur is, en weet hy dat hulle haar ook dood gaan uitdra. Dit
bevestig dat dit God se oordeel oor haar is wat Hy met die skielike dood
voltrek. Petrus het dit slegs aangekondig.

5:10  Op Petrus se woord, dat dié wat haar man
begrawe het, haar ook sal uitdra, val sy onmiddellik (paragrêma ) dood
neer voor Petrus se voete, waar haar man die geld neergesit het. En dan kom die
jongmanne (neaniskoi) in, soos hy gesê het, vind haar klaar dood, en
hulle dra haar uit om haar langs haar man, met wie sy saamgespan het, in die
graf vir misdadigers te gaan begrawe. Saam het hulle gesondig, saam word
hulle begrawe
.

5:11 Oor die hele gemeente en
ook oor almal wat van die dood van Ananias en Saffira gehoor het, het daar ’n
groot fobos vrees/diepe eerbied en ontsag vir God gekom – vrees
by dié wat nie in Jesus geglo het nie, en diepe eerbied en ontsag by die
gemeente van die Here. 

Die woord ekklêsia word hier vir die eerste keer in Handelinge gebruik. Dit kan verwys na ’n vergadering van gelowiges wat aan Christus verbind is, en na ’n gemeente waarvan die lidmate op die Here vertrou, en na die kerk van God in die wêreld. Hulle is nou die volk van God (Hand 15:14). Met die twee voorbeelde, Ananias en Saffira die bedrieërs teenoor Barnabas die barmhartige,stel Lukas die lewe in die eerste gemeente van die Here se vreugde en hartseer voor, van die voortgang van Jesus se werk deur die Heilige Gees in mense. Soos Judas in Jesus se dissipelkring en Akan by die wonderlike inname van Jerigo met die intog in Kanaän, word die gemeente se daaglikse afhanklikheid van die Here se leiding beklemtoon en van die teenwoordigheid van God wat sy wil deurvoer. Die straf op sonde teen die Heilige Gees word duidelik beskryf in Jesus se uitspraak oor laster teen die Heilige Gees in Luk 12:10; en oor iets wat teen die Heilige Gees gesê word in Matt 12:32).

Skrywer: Prof Francois Malan