Die Groot Geloofswoordeboek: Liefde

Die Groot Geloofswoordeboek: Liefde

Liefde

(*God)

“Liefde” is een van die kernwoorde van die Bybel, maar miskien juis daarom een van die mees misbruikte woorde. In ons samele­wing word dinge liefde genoem wat eerder onverantwoordelike en ongebreidelde hartstog is.

Jesus som die ganse Ou Testament op in twee gebooie, en albei is liefdesgebooie. Liefde is dus die kern van die Here se wil vir ons lewe. Waarom? Omdat *God self liefde is, en ons as sy *beeld geskape is. As ons sy beeld moet wees of vertoon, moet iets van sy wese, dit is sy liefde, in ons lewe na vore kom. Dit beteken nie dat ons liefde ‘n replika van Syne moet wees nie. Hy is die Skep­per. Ons is maar net skepsels. Hy is oneindig meer as ons. Maar dit beteken wel dat iets van sy liefde in ons sigbaar moet word. Ons praat van ‘n analogie, ‘n gedeeltelike ooreenkoms tussen sy liefde en ons s’n.

Maar dit beteken dat ons eers sal moet vra hoe sy liefde lyk, en dan daaruit aflei hoe ons moet liefhê. Wat verstaan die By­belskrywers onder sy liefde?

 

God se liefde

God se liefde is ‘n onverdiende liefde. Ons het nie verdien om geskape te word om sy vreugde met Hom te deel nie. Ons het nog baie minder verdien om verlos te word. God se liefde is dus ‘n liefde na onder, na sy minderes.

Maar dit beteken nie dat Hy net in die algemeen “na onder” liefhet nie. Sy liefde gaan juis uit na dié van ons wat nog verder agter of “onder” is: die armes, siekes, gebreklikes, verdruktes. Een van sy bekendste Name in die Ou Testament is “die God van die weduwees, weeskinders en vreemdelinge”; dit is die men­se wat geen regte gehad het nie. Hy kies ‘n minderwaardige sla­we­vol­kie wat omtrent geen kultuur gehad het nie en geen rol ge­speel het in hul omgewing nie. Waarom? Vir Israel sê Moses: “Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal. Omdat die Here jou liefhet, het Hy jou bevry” (Deut 7:7-8).

Die Here het nie helde nodig nie. Hy is self die held. Hy kan armes help omdat Hy self ryk is.

Daarom is sy liefde vry. Hy het ons nie lief omdat Hy ons nodig het nie. Hy het ons nie lief omdat ons waarde het vir Hom nie. Trouens, Hy het ons lief ondanks die hoë risiko wat Hy met ons loop. Hy het ons lief … net omdat Hy Hy is, net omdat Hy liefde is (1 Joh 4:8, 16). God motiveer self sy liefde vir ons.

God se liefde is ook skeppende liefde. God het ons geskep as sy beeld; dus het Hy ons geskep met die vermoë om te kan liefhê. En al het ons deur ons sonde hierdie vermoë verloor, gee Hy dit aan ons terug. God is self die oorsprong van alle ware liefde. “Liefde kom van God” (1 Joh 4:7) – ook ons liefde. Ons moet dit by Hom kry. “Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het” (1 Joh 4:19). Daarom is liefde deel van die vrug van die Gees. Die Gees stel ons in staat om lief te hê (Gal 5:22-23).

Dit is ‘n paar opmerkings oor sy liefde. En omdat ons sy beeld is, moet sy liefde op een of ander manier in ons na vore kom. Dit beteken nie dat ons liefde identies aan Syne moet wees nie. Dit kan nie. Hy is oneindig meer as ons. Ons is net sy beeld, en ‘n beeld is nie identies aan die een wat afgebeeld word nie.

Kom ons onderskei tussen die liefde tussen Hom en ons, en die liefde tussen ons en ander mense.

 

Liefde tussen Hom en ons

Wat die liefde tussen Hom en ons betref, is daar ‘n groot verskil tussen sy liefde vir ons, en ons liefde vir Hom. Hy motiveer self sy liefde vir ons, maar ons motiveer nie self ons liefde vir Hom nie. Hy het ons nie lief omdat ons soveel werd is vir Hom nie of omdat Hy ons nodig het nie. Maar ons liefde vir Hom is anders. Ons het Hom juis lief oor wie en wat Hy is, oor Hy so wonderlik is. Ons motiveer nie ons liefde vir Hom nie. Hy motiveer dit. Hy motiveer dus sy liefde vir ons én ons liefde vir Hom. Johannes skryf: die liefde is uit God.

 

Liefde tussen mense

En nou ons liefde vir ander mense. As ons dit self moet mo­tiveer, sal dit maar sleg gaan. Ek sal maklik ‘n hele paar “goeie” redes kan uitdink waarom ek nie sekere mense hoef lief te hê nie. Ek sal my­self waarskynlik net sovêr kry om dié lief te hê wat vir my waarde het. En dit sal my liefde iets anders maak as wat dit moet wees.

Maar “die liefde is uit God”. Die Gees gee my die liefde wat ek vir ander moet hê. Dit beteken dat God ook my liefde vir an­der mo­tiveer. Hy motiveer dus alle vorme van liefde, van ware liefde: sy liefde vir ons, ons liefde vir Hom én ons liefde vir ander mense.

Watter ooreenkoms of analogie moet daar dan wees tussen sy liefde vir ons, en ons liefde vir Hom en vir ander? Ons lees im­mers: “Lewe in liefde, soos Christus” (Ef 5:2).

 

Soorte liefde

In Grieks is daar minstens vier verskillende woorde vir liefde: eros, filia, storge, agape.

Eros word meestal in verband met seksuele liefde gebruik, maar dis nie altyd so nie. Dit is ook die liefde vir die eie, die liefde wat tot groot heldedade lei, soos om jou liggaam te gee om verbrand te word (1 Kor 13:3, 1953-vertaling). As dit liefde vir die eie volk is, word dit gewoonlik nasionalisme genoem. Hierdie liefde kan inderdaad ook op ander persone gerig wees, maar die eintlike motief is die voordeel wat die ander vir my kan hê. Ander word nie ter wille van hulleself liefgehê nie, maar ter wille van die waarde wat hulle vir die eie kan hê. Dis ‘n liefde vir ander wat die ander gebruik.

 

Filia is ‘n hoër, edeler vorm van liefde. Dit dui op ‘n warm, intieme verhouding. Dit word soms met “vriendskap” vertaal. Maar dit kan kwyn as die een wat liefhet, nie meer vreugde in die geliefde vind nie.

Storge is familieliefde, die liefde van ouers en kinders, en broers en susters, en ander familie onderling.

Agape is ‘n woord wat selde in die Griekse literatuur gebruik is. Dit is ‘n woord waarop die Christene beslag gelê het en in ‘n unieke betekenis gebruik het. Dit word gebruik vir God se lief­de vir ons, en ons liefde vir Hom en vir mekaar. Dit het ‘n an­der betekenis as byvoorbeeld filia. Dit kom mooi uit in die ge­sprek tussen Jesus en Petrus (Joh 21:15 ev). Jesus vra vir Petrus of hy Hom liefhet (en gebruik die werkwoord vir agape), en Petrus antwoord dat hy wel vir Jesus liefhet (maar gebruik die werk­woord vir filia). Dit gaan in agape dus om ‘n ander soort liefde as filia. Hy erken daarmee dat hy nie die soort liefde het wat Jesus vra nie.

 

Liefde: omgee, offer

Anders as in die geval van die ander vorme van liefde gaan dit in die liefde wat agape genoem word om die ander persoon. Jy het die ander persoon lief ter wille van die voordeel van die ander een, en ongeag die nadeel vir jou. Dit maak nie saak wie of wat die ander een is nie. Dit maak ook nie saak hoe die ander een op jou liefde reageer nie. Dit is hoe God liefhet. Hy laat reën op regverdiges én onregverdiges, op goeies én slegtes (Matt 5:43 ev). Ons moet ons vyande liefhê soos Hy ons liefgehad het toe ons nog sy vyande was (Rom 5:8 ev). Jy het dus nie die ander een lief ter wille van die waarde wat die ander een vir jou het nie, maar ongeag die hou­ding of gesindheid van die ander een. Daar word gesê dat God waarde­blind is en dat ons dit ook moet wees. Hy motiveer immers sy liefde vir ons, en net so motiveer Hy ook ons liefde vir ander. Dié wat ons moet liefhê, hoef nie ons liefde werd te wees nie. Ons was ook nie God se liefde werd nie.

Maar daar is ‘n ander sin waarin die een wat ons moet liefhê, inderdaad tel. God het nie net in die algemeen alle mense lief nie. Hy “trek sekeres voor”. Hy is mos die God van die on­belangrike vol­kie Israel. Hy is die God van die weduwees, wees­kinders en vreem­de­linge, dié wat verwaarloos is in Israel. Jesus eet saam met die tollenaars en sondaars, dié wat nie in tel was nie. Hy werk in Galilea waar “niks aangegaan het” nie. Hy kies vissers en tollenaars as sy dissipels, mense wat op geen manier getel het in die godsdienstige lewe van Israel nie.

“Lewe in liefde, soos Christus” (Ef 5:2). Ons moet uitsoekerig wees in ons liefde, die onbelangrikes, dié wat niks het nie, in nood is, onaanvaarbaar en selfs aanstootlik is.

En liefhê beteken: bereidheid om te offer wat nodig is. Dit is wat God in Jesus gedoen het. Hy het nie gevra watter voordeel dit vir Hom sou inhou nie, maar wat ons nodig gehad het. Hy het nie ge­wag tot ons Hom vra of tot ons ons bekeer nie, Hy het geoffer wat ons nodig gehad het toe ons nog sy vyande was (Rom 5:8 ev).

Natuurlik vra liefde ‘n antwoord: wederliefde. Natuurlik vra God dit van ons, en vra ons dit van ander. Maar liefde wag nie tot jy seker is jy gaan ‘n antwoord kry nie.

Dit alles maak *selfliefde in sy wese sonde.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Leiding van die Gees

Die Groot Geloofswoordeboek: Leiding van die Gees

Leiding van die Gees

Die Heilige Gees word baie sterk verbind met leiding. Dit is deel van Jesus se belofte dat die Gees ons in die hele waarheid sal lei (Joh 16:13). Alhoewel dit direk aan die dissipels beloof is, is daar geen rede om te meen dit het nie op ons ook betrekking nie. Die meeste Christene glo wel dat daar nie meer nuwe openbarings deur die Gees kom nie omdat Jesus die volheid van God is en omdat Hy die apostels afgerig en voorberei het om hierdie vol­heid aan die gelowiges deur te gee. Ons aanvaar dus dat ons in die *Bybel alles het wat ons nodig het om gered te word en God met ons hele lewe te dien. Daarom sal ons alle nuwe insigte wat gelowiges kry, aan die Woord probeer toets. Ons bely dan ook dat God ons lei deur sy Woord en sy Gees.

Maar gelowiges het nog altyd groot behoefte aan die leiding van die Gees. Enkelinge en groepe staan altyd voor nuwe uit­da­gings. Hulle moet telkens nuwe besluite neem oor hoe hulle God gaan dien in ‘n veranderende wêreld. Dit is ook nie net in “geestelike” sake wat ons leiding nodig het nie. En dis veral nie net die “geestelike” mense soos die pre­dikant/pastoor/priester wat daaraan behoefte het nie. Alle gelowiges het behoefte aan die leiding van die Woord en Gees.

Mense glo dat hulle die leiding van die Gees op verskillende maniere ontvang.

•             Sommige mense kry net eenvoudig ‘n sterk oortuiging.

•             Ander getuig dat die Gees direk met hulle praat.

•             Mense kry dikwels direkte leiding uit die Bybel.

•             Sommige maak net die Bybel oop en aanvaar die teks waarop hulle oë val as leiding van die Gees.

•             Ander maak baie van die gemeenskap van die kinders van God. Hulle sal hulle probleem met hul selgemeente deel of met ander kinders van die Here.

•             Nog ander neem ‘n besluit en kyk dan of hulle vrede daaroor het.

En daar sal wel ook nog ander maniere wees.

‘n Mens sou kritiek op hierdie metodes kon lewer. Die Bybel-oopslaan-metode lyk baie willekeurig. Dikwels moet mense die teks waarop hulle oog val, baie aanpas of rek om regtig dui­delikheid te kry. Soms is sterk vergeesteliking ook nodig. En ‘n mens sou ook kon vra na die oortuiging dat mense die stem van die Gees direk hoor.

Maar hierdie ervarings is nie eintlik op die vlak van rasionele denke en vrae nie. Dis baie sterk op ‘n ervaringsvlak. En dit lei min twyfel dat daar mense is met merkwaardige getuienisse van leiding wat hulle op hierdie maniere gekry het.

Dit word moeiliker as mense ander mense aan hierdie leiding wil bind. Veral wanneer Christene verskil oor ‘n saak en die een kant verklaar dat die Gees hulle gelei het, laat dit die ander kant in skaakmat. Hulle kan tog nie sê dat hulle nie die leiding van die Gees wil volg nie. Die gesprek beland dan gewoonlik in ‘n dood­loopstraat.

Dit is meer respekvol teenoor ander Christene om liewer te praat in terme van: “Ek is oortuig dat … ” Dit laat ruimte vir die ander om sinvol te reageer met hulle oortuiging.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Leë Graf

Die Groot Geloofswoordeboek: Leë Graf

Leë graf

As ‘n mens ‘n duidelike aanduiding soek of iemand werklik in die opstanding van Jesus glo, vra jy of Jesus se graf leeg was. As sy graf nie leeg was na sy *opstanding nie, was die opstanding iets anders as wat ons in die Bybel lees.

Daar is teoloë wat meen dat Jesus “geestelik” opgestaan het. Daar is verskillende voorstellings hieroor. Sommige dink net sy gees het voortgeleef, sommige dink Hy het net “in die harte van sy dissipels opgestaan”, wat dan waarskynlik iets beteken soos sy dissipels het ‘n nuwe waardering vir Hom gekry, of Hy het ‘n nuwe betekenis vir hulle gekry. Soms word die woord “hal­lusinasie” gebruik. Hierdie mense meen dat die opstanding deel is van ‘n ver­ouder­de wêreldbeeld toe mense nog geglo het iemand wat dood is, kan weer lewendig word. Maar vandag sou ons dan weet dit kan nie gebeur nie, en dan moet ons nie aanhou om iets onsinnigs te glo nie.

Enersyds moet ‘n mens hulle argumente baie ernstig opneem. Andersyds moet ‘n mens besef ons gee daarmee die evangelie self prys.

Ons moet mooi kyk na hulle beswaar: ons weet mense word nie weer lewendig nie. Maar dit het die dissipels ook geweet. Daarom het hulle nie die vrouens geglo toe hulle vertel hulle het die Here Jesus gesien nie (Luk 24:8-11). Die geleerde Grieke lag selfs oor die opstanding (Hand 17:32). Dis dus ‘n bietjie naïef om te dink ons is die eerste mense wat so slim is dat ons weet mense word nie weer lewendig nie.

En tog het hulle later wel geglo. Die opgestane Here Jesus het hulle oortuig. Dink maar aan Tomas wat sterk daarop gestaan het dat hy nie sal glo nie, totdat die Here Jesus hom ontmoet het. Dit pas dus nie eintlik goed in die prentjie in om te beweer dat Jesus maar net in hulle harte opgestaan het of dat hulle gehallusineer het nie. Hulle is deur ervarings oortuig van: “Ek sal nie glo nie” tot: “Ek glo, Here.”

Maar daar is wel een verskil. Natuurlik word mense wat dood is nie weer lewendig nie. Maar Jesus het nie maar net weer le­wendig geword nie. Hy het opgestaan. Dit is heeltemal iets an­ders. Iemand wat net weer lewendig word, gaan na ‘n ruk maar weer dood. Maar Jesus het deur die dood deurgegaan en ander­kant uitgekom, Hy het die dood oorwin, Hy het die dood agter die rug. En dit is die eerste en enigste keer wat dit nog ooit gebeur het. Die tweede keer moet nog kom, wanneer sy kinders Hom hierin sal volg.

Om dus uit die feit dat ons nie beleef dat iemand weer le­wen­dig word nie, af te lei dat Jesus nie opgestaan het nie, is om te vergeet dit was ‘n unieke gebeurtenis waarvan daar nog geen ander voorbeelde was nie. En om te ontken dat ‘n unieke gebeurtenis eenmaal eeue gelede plaasgevind het, terwyl jy geen toegang daartoe het nie, is nogal baie gevra.

Ten slotte net nog ‘n woord oor die leë graf. Geen Jood wat die Ou Testament ken, sou gepraat het van opstanding as die graf nie leeg was nie. Daarvoor is daar te veel nadruk op die fisieke as­pek van menswees. Begrippe soos “*heil” en “*vrede” het alles te doen met die konkrete lewe van die mens. En Paulus maak die evan­ge­lie volkome afhanklik van die liggaamlike opstanding. En onder “*opstandingsliggaam” verstaan hy nie net ‘n deel van die mens nie, maar die mens as sodanig (1 Kor 15). Daar is by hom geen moont­lik­heid dat daar ‘n opstanding kan wees, maar dat die lig­gaam nog in die graf is nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Lankmoedigheid/Geduld

Die Groot Geloofswoordeboek: Lankmoedigheid/Geduld

Lankmoedigheid/Geduld

“Lankmoedigheid” is ‘n ouer woord wat soms ook ‘n negatiewe konnotasie het soos in “die lankmoedige Neelsie”, wat ‘n mens aandui wat lammerig en papperig is. Ons praat deesdae eerder van “geduld”. Dit word ingesluit onder die *vrug van die Gees, en verwys daarna dat ‘n mens aanhou om rustig en vriendelik te wees al moet jy ‘n bietjie wag, of al word jy die soveelste keer met die probleem van ‘n ander opgesaal. Dit het niks met pap­perigheid te doen nie.

Trouens, die teendeel is eerder waar: daar is aktiwiteit in ge­duld, en dit vra baie emosionele krag. In die Ou Testament is dit deel van die bekendste beskrywende Naam van God: “Hy is barmhar­tig en genadig, lankmoedig, vol liefde en trou” (Eks 34:6; Neh 9:17; Ps 86:15; 103:8; 145:8; Joël 2:13). Die ouer Engelse ver­talings het “lankmoedigheid” pragtig vertaal met “slow to anger”. Die geduld van *God is nie ‘n blote passiewe gewag nie. Wan­neer mense in Petrus se tyd gedink het die Here moes al gekom het, verwys hy hulle na die geduld van God wat “nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer” (2 Pet 3:9). En ons weet God wag nie passief in die hemel nie, maar Hy het sy Gees gegee om mense se harte sag te maak sodat hulle hulle sal bekeer. Dit is dus aktiewe geduld.

Jy verstaan lankmoedigheid/geduld dus heeltemal verkeerd as jy met ‘n dik mond in die hoek van die kar sit en wag vir jou vrou of man. As jy haar of hom help om gouer klaar te kry, het jy beter verstaan.

 

Skrywer: Prof Adrio König