Die Groot Geloofswoordeboek: Die Kruis

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Kruis

Kruis

Die kruisiging van Jesus het ‘n ongelooflike ryk betekenis in die Nuwe Testament. Maar ‘n mens moet baie duidelik onderskei tus­sen die aanvanklike interpretasie van die kruis en die later inter­pretasie.

Jesus praat ‘n hele paar keer van die feit dat Hy doodgemaak gaan word (Mark 8:31 ev; 9:30 ev; 10:32 ev), en ‘n keer of twee gee Hy ook ‘n interpretasie daaraan: sy dood sal ‘n losprys wees vir baie (Mark 10:45).

Die kruis ‘n skanddaad

Soos baie ander dinge het die dissipels dit egter nie verstaan nie. Daarom gee hulle aanvanklik (dit is net na Pinkster) ‘n heel­temal negatiewe betekenis aan die kruis. Dis interessant om Petrus se preke in Handelinge na te gaan en te kyk hoe hy die Jode beskuldig dat hulle Jesus doodgemaak, selfs vermoor het (2:23-32; 3:15; 4:10; 5:30). Daar word nog geen besondere heilsbetekenis in hierdie tyd aan die kruis gegee nie. Selfs waar Petrus na sondevergifnis ver­wys (Hand 3:19; 5:31), verbind hy dit nie aan die kruis nie, maar bied dit eenvoudig aan soos in die Ou Testament: as jy jou sonde bely, sal God dit vergewe (2 Sam 12:13).

 

Die kruis ‘n heilsdaad

Elders (*Opstanding) is daarop gewys dat die evangelie aan­vank­lik die opstandingsevangelie was, en dat die kruisevangelie eers la­ter bygekom het. Dit het by Paulus gebeur. In sy brief aan die Galasiërs lees ons die eerste keer van die waarde van die kruis: “Christus wat Homself vir ons sondes gegee het” (1:3-4). Onthou dat Petrus sy preke net na die opstanding en hemelvaart van Jesus le­wer, dus om­trent in die jaar 30 nC, terwyl Paulus die brief aan die Galasiërs in omtrent 49 nC skryf, dus eers byna twintig jaar later. Dit is in hierdie tyd dat die oortuiging posgevat het dat die kruis nie net ‘n skanddaad van die Jode was nie, maar tegelyk ook ‘n ongeloof­like heilsdaad: die offer op grond waarvan God ons sonde vergewe. Die briewe van Paulus wat later geskryf is, en ook die ander briewe, is vol daarvan. (Om maar net ‘n paar te noem: Rom 8:3; 1 Kor 15:3; 2 Kor 5:18 ev; Ef 1:7; 2:14 ev; 5:2; Heb 9:12 ev; 9:26 ev.) Dit beteken dat hierdie oortuiging hoe langer hoe sterker geword het en van­dag nog deel van die geloof van die hele Christelike kerk is.

 

‘n Wrede God?

Hierdie betekenis van die kruis word egter ook al lankal aan he­wige kritiek onderwerp as sou dit ‘n onaanvaarbaar wre­de God veronderstel. “Wil God dan eers bloed sien voor Hy ver­ge­we?” is die vraag. (*”Nuwe Hervorming”) In die jongste tyd word daar dan ook nog ‘n “verduideliking” bygevoeg: Die tem­pel is in 70 nC ver­woes en toe kon daar nie meer offers ge­bring word nie. Toe moes daar iets in die plek daarvan kom, en die storie wat toe uitgedink is, is dat offers nie meer nodig was nie omdat die kruis van Christus hierdie offers oorbodig gemaak het.

Maar dis lagwekkend. Die Christen-Jode het lank voor 70 al­reeds opgehou om offers vir die sonde te bring. En verder is Paulus se briewe almal lank voor hierdie tyd geskryf, en hulle is vol van die oortuiging dat Christus se kruis die offer was wat alle sonde-offers finaal oorbodig gemaak het.

Tog is dit nodig om aan die beswaar aandag te gee dat dit ‘n wrede God sou wees wat “eers bloed wil sien voordat Hy kan ver­gewe”. Die vraag is inderdaad waarom Christus hierdie offer vir ons sonde moes bring. (*Versoening)

Die antwoord is nie so maklik nie. Natuurlik sou ‘n mens kon antwoord dat die eis van offers vroeg in die Ou Testament al voor­kom, en dat Christus se offer maar net die vervulling of vol­tooiing hiervan is. Maar dit verplaas net die vraag: Waarom is daar in die geheel, dus ook alreeds in die Ou Testament, offers vir sonde­vergifnis nodig? Mense bied verskillende antwoorde: Om God se teenstand en afkeer van die sonde te beklemtoon, om God se heilig­heid te beklemtoon, om goed te maak wat verbrou is, om die eer van God te herstel, en nog ander.

Maar nie een van hierdie redes word in die Skrif gegee nie. Trouens, ek kry geen duidelike rede of verduideliking in die By­bel waarom offers vir sonde in die geheel nodig was nie, ook nie Christus se offer nie.

Maar die feitelikheid van die offers is duidelik: offers is vereis en moes gebring word in die Ou Testament, en Chris­tus se offer was uiteindelik noodsaaklik. Dit is eenvoudig deel van die Bybel se boodskap sonder dat dit verduidelik word.

Maar maak dit God ‘n wreedaard wat bloed moet sien om te vergewe? Ja, as ‘n mens ‘n veldtog teen die Bybel voer en dit op elke moontlike punt belaglik wil maak. Nee, as ‘n mens die Bybel ernstig opneem en probeer verstaan.

 

Die toppunt van genade

God eis ‘n offer. Ons kan die offer nie bring nie. Liewer as om ons dan verlore te laat gaan, gee God self die offer. Is dit wreed? Of is dit die toppunt van genade? Is dit nie net om hierdie rede alleen al oor en oor die moeite werd om in hierdie God te glo nie? Is dit nie juis een van die unieke fasette van die evangelie wat in geen ander godsdiens voorkom nie?

En moenie dink die eintlike wreedheid is juis dat God nie kans sien om self geoffer te word nie en dan so wreed is dat Hy sy Seun gee nie. Het dit nie die Vader meer gekos om sy Seun te gee as om self te kom nie? Sou dit jou nie meer gekos het om jou kind te laat ly as om liewer self te ly nie? En het God nie in Christus in werklikheid Homself gegee nie? (*Drie-eenheid)

 

Die kruis: ‘n rykdom van betekenisse

In plaas daarvan dat die betekenis van die kruis in die Nuwe Testament geminimaliseer word soos sommige dit vandag pro­beer doen, word dit in werklikheid gemaksimaliseer. Kom ons maak ‘n lys wat by die offer vir ons sonde begin en dan al die ander betekenisse insluit.

1.            Hy het aan die kruis vir ons sonde gesterf.

2.            Hy het aan die kruis vir ons siekte gesterf.

3.            Hy het aan die kruis die bose magte oorwin.

4.            Hy het deur die kruis ‘n nuwe wêreldorde geskep.

5.            Hy verenig ons deur die doop en die geloof met sy kruis­dood.

6.            Sy kruis is ‘n simbool van hoe ons moet lewe.

Na die eerste betekenis het ons reeds gekyk. Die tweede beteke­nis is dat Jesus se kruis in verband gebring word met ons siekte. “Deur sy wonde is julle genees,” lees ons in 1 Petrus 2:24. Dit is ‘n vervulling van Jesaja 53 en hou verband met die wondergenesings (*Wonderwerke) van Jesus wat ‘n integrale deel van sy aardse bediening was en dus wesenlik deel van die evangelie is.

Derdens het Jesus se kruisdood nie net vir individue betekenis nie. Deur sy kruis het Hy ‘n hele nuwe wêreldorde geskep, ‘n nu­we skepping! Volgens Paulus het Jesus se kruis ‘n nuwe mensheid en selfs ‘n nuwe skepping tot stand gebring. Deur sy kruis het Hy Jode en nie-Jode (dus die hele mensdom) “tot een nuwe mensheid verenig” (Ef 2:15). Iemand wat aan Christus behoort, is deel van ‘n nuwe skepping (en nie maar net “‘n nuwe mens” nie), die oue is verby, die nuwe het gekom – absoluut omvattend (2 Kor 5:17).

Die vierde betekenis van die kruis hang direk saam met die derde. As daar deur die kruis ‘n nuwe wêreldorde geskep is, moet die bose magte oorwin wees (Kol 2:15). As Jesus alreeds ty­dens sy aardse optrede soveel demone uit mense uitdryf en verklaar dat dít juis is hoe die koninkryk kom (Matt 12:28), is dit te verwagte dat daar die een of ander tyd een beslissende oorwinning oor hulle behaal sal word.

Hierdie eerste vier betekenisse van Jesus se kruis staan almal in ‘n sekere sin los en ver van ons praktiese lewe. Dis vir ons en in ons belang gedoen, en ons geniet net die vrug daarvan, ons was nie daarby betrokke nie. In die volgende betekenisse word ons egter baie meer direk betrek by die kruisgebeure.

Die vyfde betekenis van Jesus se kruis is dat ons saam met Hom aan die kruis was en dus deel het aan sy sterwe vir die sonde. Dit beteken dat die sonde in beginsel net so min oor ons kan heers as oor Hom. Terselfdertyd het ons ook saam met Hom opgestaan sodat ons ook ‘n aandeel het aan sy oorwinningslewe wat Hy net aan God wy (Rom 6; Kol 2-3).

Dit is nogal ‘n vreemde gedagte waaraan ons selde aandag gee. Ons is meer gewoond om te dink aan wat Christus vir ons gedoen het (dit wil sê lank gelede al, buite ons, ver van ons af, in ons plek aan die kruis), as wat Hy (deur die Gees) in ons doen: Hy verenig ons met Hom (die wynstok en die lote in Joh 15). Ons sonde word nie net vergewe omdat Hy aan die kruis daarvoor gesterf het nie, ons kry ook oorwinning oor die sonde omdat ons met Hom verenig word, en daarom kan ons met die sonde ophou.

Ons besef te min dat dit juis hierdie wonderlike waarheid is wat ons die moed gee om met die sonde te breek en ons lewe aan God te wy. Dit is nie ons taak om onsself vir die sonde dood te maak en ons lewe volkome aan God toe te wy nie. Dit is God wat ons ‘n geskenk gee: Hy verenig ons met Christus.

Dink maar net aan Galasiërs 2:19-20. Daar staan nie dat Paulus homself gekruisig het vir die sonde of soos baie mense dink dat hy sy “eie ek” vir die sonde gekruisig het nie. Daar staan dat hy saam met Christus aan Christus se kruis was en daarom vir die sonde dood is.

Hoe is dit moontlik dat Paulus – en ons – wat lank ná Christus se kruisiging tot geloof kom, saam met Hom aan die kruis was en saam met Hom uit sy graf gekom het?

Dit staan duidelik in Paulus se Romeinebrief: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe” (6:3-4).

Hoe kry ons deel aan Jesus se dood, begrafnis en opstanding? Deur die *doop! (Rom 6:3-4) Hier word nie spesifiek na ons geloof verwys nie, maar dit word veronderstel.

Ons weet mos as ons onsself vir die sonde probeer dood­maak, as ons dit met ons eie krag probeer doen, werk dit nie. En nou kry ons die wonderlike nuus dat ons nie onsself deur inspan­ning hoef dood te maak vir die sonde nie, maar dat ons deur die doop en die geloof só deel van Hom word (ons word immers deel van sy liggaam) dat ons deel het aan sy hele lewe, dus ook aan sy kruis, dood en opstanding.

As gelowiges het ons nie meer ons eie lewe nie, Hy is ons lewe (Kol 3:4). Daarom kan ons diens aan die tiran “sonde” weier en net ore hê vir God. En dit moet ons dan daadwerklik ook doen (Rom 6:11-12).

Die laaste sin is nie maar net ‘n terloopse opmerking nie. Ons weet goed dat ons nie outomaties met die sonde ophou en ons le­we aan God wy nie. Daarom is die hele tweede helfte van Ro­meine 6 daaraan gewy om vir ons te sê dat ons die gawe van God, ons vereniging met Christus, nou moet gebruik, dat ons in­derdaad diens aan die sonde moet weier en ons lewe volkome tot God se be­skik­king moet stel. Maar nou weet ons ons kan, juis omdat ons aan Christus se sterwe en opstanding deel het. (*Heiligmaking, *In Christus)

Die sesde betekenis van sy kruis word bespreek onder *kruis dra.

Wat ‘n ryk betekenis het die vroeë Christene in die kruisdood van Jesus gesien! Saam met die *opstanding vorm dit inderdaad die hart van ons geloof. Wie daarmee peuter, peuter met die evangelie, en dan kan ons maar die kerkdeure toemaak.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Kruis dra/opneem

Die Groot Geloofswoordeboek: Kruis dra/opneem

Kruis dra/opneem

Jesus stel dit as ‘n eis dat die mense wat Hom wil volg:

•             hulself moet verloën

•             hul kruis moet opneem

•             agter Hom moet aankom (Mark 8:34 ev)

Hierdie “kruisdra” het niks daarmee te doen dat ons ons siekte of die algemene seer en lyding in ons lewe geduldig dra nie. Dit het te doen met die lyding wat mense ons aandoen omdat ons Jesus volg.

Dit is ‘n radikale uitspraak. Kom ons kyk eers na selfverloëning. Om iemand anders te verloën beteken om te ontken dat jy hom of haar ken. Ons sien dit in Petrus se reaksie op die diensmeisie se vraag of hy ‘n volgeling van Jesus is. Hy ontken dat hy Jesus ken, en sweer dit selfs later (Matt 26:69 ev). Om jouself te verloën moet dus iets beteken soos om jouself nie te ken nie, om jou behoeftes nie te erken nie.

Daarby kom dan om jou kruis te dra. Die Boodskap omskryf dit as: “Dit is soos om jou eie doodsvonnis te teken” (Mark 8:35). Mense wat gekruisig sou word, moes hul kruis self dra, soos Jesus. Dit be­teken as jy iemand sien wat ‘n kruis dra, het jy geweet daardie persoon is op pad om gekruisig te word. Nou eis Jesus dat ek my kruis moet dra! Dit beteken om my lewe veil te hê vir Hom.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Paulus in Arabië

Paulus in Arabië – Dirk Venter

Vraag:

Galasiers 1 vers 12 : ” EK HET DIT NIE BY N MENS GEHOOR NIE OF GELEER NIE , MAAR JESUS CHRISTUS HET DIT AAN MY BEKENDGEMAAK ” My vraag is dit: Paulus het n ongelooflike kennis van die Evangelie gehad en dit neem ons predikante jare se studie om die evangelie te kan bedien . Paulus was n lang tyd in Arabie ( net na sy bekering ) . Is dit dan so dat Jesus Christus persoonlik self vir Paulus in Arabie onderrig het . Is daar enige inligting bekend van die tyd wat hy daar deurgebring het?

Antwoord:

Ter wille van agtergrondskennis kyk ons eers na die aangehaalde teksgedeelte binne die konteks van Galasiërs. Paulus skryf aan die Galasiërs om hulle te waarsku teen die dwaalleraars wat tussen hulle begin werk het en besig was om die suiwer evangelie van Jesus Christus te verdraai (Gal 1:6-7). Hierdie dwaalleraars was waarskynlik lede van die Judese kerk (met sy belangrikste sentrum in Jerusalem) wat oortuig was dat bekeerlinge vanuit die heidennasies ook besny moet word, die eetgebruike moet onderhou ens. Ons weet dat daar ‘n groep onder die Judese gelowiges was wat hierdie standpunt gehuldig het (vgl. Gal 2:4), hoewel die vergadering van apostels in Jerusalem uiteindelik daarteen besluit het (Gal 2, Hand 15 ens).

Aangesien Paulus baie sterk beklemtoon dat die evangelie wat hy verkondig nie deur mense aan hom geleer is, of daarop gerig is om mense tevrede te stel nie, kan ons aflei dat die dwaalleraars hom waarskynlik hiervan beskuldig het: die boodskap wat hy verkondig is onvoldoende, menslike woorde – hulle verkondig die “evangelie” wat van God af kom. Hierop antwoord Paulus dan dat die evangelie wat hy verkondig nie menslik in oorsprong of motivering is nie, maar dat God dit aan hom openbaar het en dat God Self hom gestuur het om hierdie evangelie aan die heidennasies te verkondig.

In die Ou- en Nuwe Afrikaanse Vertalings van vers 12 word daar vertaal dat Paulus die evangelie “ontvang” het deur ‘n “openbaring” van Jesus Christus. (Dit is dieselfde as “bekendgemaak” in die aanhaling hierbo). Word hierdie gedagte van ‘n “openbaring” verder gevolg in die teksgedeelte, tref ons dit weer in vers 16 aan, omvou in terme wat na Paulus se bekerings-/ roepingsbelewenis op die Damaskuspad verwys (vers 15-16). Daaruit is dit af te lei dat, wanneer Paulus in vers 12 sê dat hy die evangelie ontvang het deur ‘n “openbaring” van Jesus Christus, hy in die eerste plek daardie ingrypende lewensveranderende openbaring van Wie Christus is, die ontmoeting met die opgestane Here oppad na Damaskus, bedoel. Toe hy hierna na Arabië vertrek, het hy reeds geweet wat die kerninhoud van die evangelie is, en wat sy roeping is – om hierdie evangelie na die heidennasies te neem.

Natuurlik sou die verdere implikasies van hierdie evangelie mettertyd meer duidelik aan hom word, en die tyd wat hy in Arabië gespandeer het kort na sy bekering / roeping sou sonder twyfel ‘n belangrike rol daarin gespeel het. Ons kan ons voorstel dat Paulus daar (opnuut) baie tyd sou deurgebring het in die bestudering van die Ou Testament (en sou besef het hoe die Skrif vooruit gedui het op Christus wat sou kom), in gebed en gesprek met die lewende Here, waardeur hy sekerlik ‘n steeds dieperwordende verstaan van die evangelie sou ontwikkel het. Hierbenewens het hy waarskynlik toe ook al die evangelie aan mense in Arabië verkondig (vgl. Hand 9:19-26 en Gal 1:15-18. Paulus het dadelik na sy bekering die evangelie in Damaskus begin verkondig. Daarna is hy vir ‘n onbekende tyd lank Arabië toe, waarna hy weer teruggekom het Damaskus toe en die evangelie opnuut daar verkondig het sodat hy eventueel vandaar af moes wegvlug na Jerusalem. In totaal was hierdie ‘n tydperk van drie jaar. As hy aan die begin en aan die einde van hierdie drie jaar, in Damaskus, die evangelie verkondig het, het hy dit sekerlik ook in die middeltydperk in Arabië gedoen.) Ons kan ons dus voorstel hoedat Paulus in Arabië tot ‘n nog beter verstaan van die evangelie gekom het, terwyl hy reeds besig was om die evangelie aan mense daar te verkondig, maar ongelukkig is daar (behalwe vir Gal 1:17) geen ander feitelike inligting tot ons beskikking oor Paulus se tyd in Arabië nie.

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Die Jode

Die Jode – Adrio König

Jan Smith vra na aanleiding van ‘n artikel oor die Jode op die webblad

Die artikels van Prof Adrio oor die Jode het betrekking. Hy sê dat volgens die inligting in die Nuwe Testament het die Jode as volk geen toekoms behalwe om jaloers gemaak te wees op die Heidense Christen gelowiges en aldus tot bekering moet kom om deel van die Nuwe Testament gemeente te word.

Ek verstaan nie die argument nie omdat dit al vir my neerkom op ‘n anti-klimaks vir die bestaan van die arme Jode. Want dit is vir my moeilik om te glo dat God hulle deur al die hel van ballingskappe, vernedering, vermoording en toekomstige groot verdrukking – onder die antichrist – Mat 24:15 tot 28 sonder om iets groter vir hulle in gedagte te hê. Soos alle ander volke is die Jode seker ook sleg verbaster. Trouens dit is van die begin af so want toe hulle uit Egipte weg is was daar reeds vreemdelinge wat saam getrek het. Jesaja 56 praat van “uitlanders” wat tussen die Jode was en Hom gedien het.

Benjamin se geslag was amper uitgeroei en hulle moes vir hulle vreemde vrouens gaan steel. In Esra te tyd het daar inderdaad ‘n reiniging plaasgevind, maar die afstammelinge was reeds daar. Wat die kriteria sal wees om die ware Jood ten opsigte van toekomstige gebeure te identifiseer sal dus nie maklik wees nie.

As die NT nie ‘n toekoms vir hulle het nie moet die OT dit hê, want hulle is eintlik ‘n “aardse” volk wat “aards” beoordeel moet word. Toegegee, die wat die lig sien en tot redding kom kwalifiseer vir hoër dinge as Christene, maar die oorgrote meerderheid sal, myns insiens, steeds onderhewig wees aan die aardse gebeure.

Ek is nou ietwat “confused,” want wat maak mens met Esegiël: Hfst 36. Die land van Israel word herstel; Hfst 37 Israel word herstel; Hfst 38 Gog trek op teen Israel; Hfst 39 Gog word vernietig; Hfst 40 en verder Die nuwe tempel. Hosea 3:5,  Jes 60, 61 en nog talle meer.

Joël 1: 7 sê: Dit het my wingerdstok en my vyeboom versplinter; dit het al die bas afgeskil en weggegooi; die lote daarvan het wit geword. Hierdie was woorde wat die Here tot Joël gespreek het en die verwysing na wingerdstok en vyeboom lyk vir my of dit Israel kan wees. Vandaar die verwysing na die “vyeboom en al die ander bome” wat bot. Israel het in 1948 ‘n onafhanklike sowereine staat geword en die “juk” van sy verdrukkers afgeskud. Hierdie selfde gees het bv in Afrikalande beslag gekry. Portugal het Angola en Mosambiek opgesê. Brittanje die lande wat onder haar beheer was en Frankryk dieselfde. Emansipasie van die vrou het beslag gekry , kinders wil nie meer gedissiplineer wees nie en les bes het die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom en die omgekeerde gedoen naamlik om “apartheid” in te stel.

In die lig hiervan lyk dit tog vir my of Israel uiteindelik in die toekoms ‘n beduidende rol gaan speel.

Baie dankie vir u tyd.

 

Antwoord:

Prof Adrio König antwoord:

Hi Jan

Dankie. Dis ‘n lekker geselsbrief.

Wat Israel en die vyeboom se bot betref, het ek op p145 in Die Groot Geloofswoordeboek daarop gewys dat die vyeboom nie na Israel se terugkeer kan verwys nie, omdat alle volke dan na hulle oorsprong sal moet terugkeer (Luk 21:29). Dis eenvoudig ‘n vergelyking: soos ‘n mens uit die bot van ‘n boom kan aflei dat die somer naby is, kan jy uit die tekens wat Jesus daar genoem het, aflei sy koms is naby.

As “vyeboom” of “olie” een keer ‘n simboliese betekenis het, kan ons nie aanvaar dit het elke keer dieselfde betekenis nie. “Olie”verwys soms na die Heilige Gees, maar nie in byvoorbeeld 2Kon 4:2ev nie. Verder het die Afrikavolke nie teruggekeer na hulle lande nie. En ook nie die Engelse en Portugese en wie ookal na wie jy almal verwys nie. Miskien gaan jy so ‘n bietjie “los” met daardie teks om.

Jou verwysings na Esegiël is vervul in die terugkeer uit Babel en die herbou van die tempel. Verder is dit altyd ‘n risiko om uit die OT sommer direk na die wederkoms van Jesus te spring, bo-oor die NT. (Dis waarom ek die verwysings na Israel in die NT so ernstig opneem!) Waar ek die vervulling van profesieë behandel (p362), wys ek daarop hoe vry hierdie profesieë meestal vervul word. Let byvoorbeeld daarop dat Esegiël praat van die koning God in die land Magog, maar in Openbaring word dit twee persone: Gog en Magog.

As die moontlike bekering van die Jode ‘n antiklimaks is, is dit tog net hulle eie skuld. Maar intussen is ewige lewe by die Here óók vir hulle, darem seker meer as dit wat jy “‘n aardse toekoms” noem.  Al “die hel van ballingskappe” is tog seker net hulle eie skuld. Die Here het hulle dit aangedoen om hulle tot bekering te roep.

Intussen is die Groot Geloofswoordeboek weer in druk en by CUM beskikbaar.

 

Skrywer: Prof Adrio König