Die Groot Geloofswoordeboek: Kettery

Die Groot Geloofswoordeboek: Kettery

Kettery is enige leer oor ‘n wesenlike deel van die evangelie wat deur die kerk verwerp is. Daar is baie afwykings wat as dwalings beskou word sonder dat dit regtig kettery genoem word. Maar dwalings oor belangrike sake, soos die Godheid of die mensheid van Christus, word kettery genoem.

Ons kry ook soms die onderskeiding tussen dwalings binne die geloof en dwalings wat die persoon uit die geloofsgemeenskap uit­sluit. Iemand sou anders oor die doop kon dink as die res van die ge­loofsgemeenskap, maar nog binne die gemeenskap aan­vaar word. Maar as iemand die opstanding van Jesus of die heils­betekenis van die kruis van Jesus verwerp, is dit ‘n dwaling wat hom of haar buite die Christelike geloofsgemeenskap stel. Dit sal dan kettery genoem word. Bekende ketterye in die vroeë kerk was die verwerping van die Goddelikheid van Christus én die verwerping van sy volle menslikheid.

SkrywerProf Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Kerkorde

Die Groot Geloofswoordeboek: Kerkorde

‘n Kerkorde bevat die goedgekeurde beginsels waarvolgens ‘n bepaalde kerk georganiseer en bestuur word. Hierdie beginsels het regsgeldigheid sodat dit deur die wet afdwingbaar is. Die woord “kerkorde” word nie deur alle kerke gebruik nie. Sommige praat van ‘n kerkwet. En daar is ook denominasies soos die Bap­tiste wat nie sulke algemene reëls het nie sodat die plaaslike gemeente sy eie reëls opstel. Soms is dit net ongeskrewe reëls sodat verskille baie moeilik hanteer kan word.

Skrywer: Prof Adrio König




Vrees God?

Vrees God? – Dirk Venter

Andre vra:

Iets wat my al ‘n geruime tyd pla, is al die verse in die Bybel wat sê “Vrees/Fear God.” Ek is God se kind en weet dat Hy my liefhet, hoekom staan daar “Fear God” Kan u my dalk help hoe om bogenoemde te verstaan

Antwoord:

Ds. Dirk Venter antwoord:

Vrees God?

Die konsep van die “vrees vir God / die Here” is algemeen in die hele Bybel, en veral in Deuteronomium, die Psalms en die Wysheidsliteratuur (bv Spreuke). Om dit reg te verstaan, moet ‘n mens die “andersheid” van God in gedagte hou. God is nie ‘n mens nie: Hy is almagtig, groot, ontsagwekkend. ‘n Mens kon nie sommer maar net voor sy aangesig verskyn, asof jy met ‘n vriend of dalk ‘n menslike koning gaan praat nie, want jy sou sekerlik sterf (vgl. Eksodus 19:20-22, 1 Konings 19:11-13 ens.)  Om hierdie rede was daar telkens ‘n element van skrik betrokke wanneer God Homself op ‘n manier aan mense openbaar het. Dink bv. aan die brandende bos (Eksodus 3:6) en die verskyning van God op Sinaï (Eksodus 20:18). Om die Here te “vrees” beteken dus om groot ontsag en respek vir Hom te hê, want Hy is die Almagtige God.

Hierdie “vrees vir die Here” staan egter nie teenoor ons liefde vir die Here of sy liefde vir ons nie. Kyk net hoe mooi verduidelik Deuteronomium 10:12-13 (OAV) hoedat “vrees vir die Here” juis beteken om Hom lief te hê: “En nou, Israel, wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die HERE en sy insettinge…“. ‘n Diepe ontsag en respek vir God sluit dus ook liefde vir Hom in. En natuurlik word hierdie groot respek wat ons vir God het, wat ook ons liefde vir Hom insluit, ons diepste motivering om Hom te gehoorsaam en te lewe op so ‘n manier dat dit Hom verheerlik. Dis dus nie omdat ons vir God bang is, of bang is dat Hy ons gaan straf, dat ons aan Hom gehoorsaam is nie, maar omdat ons Hom respekteer en liefhet en daarom wil doen wat Hy van ons verlang!

Hoewel aardse ouers nie altyd goeie voorbeelde is nie, kan ons ontsag en liefde vir God tog vergelyk word met kleiner kindertjies se ontsag en liefde vir hul (goeie) pa. Klein kindertjies is bewus daarvan dat hul pa ‘n “grootmens” is, en hulle is nog kindertjies – hy is anders as hulle, hy weet meer en beter, hy is sterker ens. Daarvoor het hulle respek. Verder handhaaf ‘n goeie pa ook die nodige dissipline ten opsigte van sy kinders, met die gevolg dat sy kinders hom respekteer en gehoorsaam, en weet wanneer hulle besig is om ‘n kans te vat! Te midde hiervan het hulle hul pa lief, en hy vir hulle. Om ‘n diepe ontsag en respek vir jou pa / Hemelse Vader te hê, staan dus nie teenoor die liefde wat julle vir mekaar het nie, maar is eintlik juis deel van dieselfde pakket.

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Verwag die Jode nog die Messias?

Verwag die Jode nog die Messias? – Marius Nel

Fran vra:

Die Jode glo nie dat Jesus die Messias was nie. So, hulle lewe het net aangegaan. Waarom offer hulle nie meer aan God nie? Of offer hulle nog steeds?

Antwoord:

Dr. Marius Nel antwoord:

Nee, die Jode wag nog vir die Messias (letterlik, Gesalfde). Hy sal hulle van hulle vyande verlos.

Onderskeie groepe Jode het Messiasverwagtinge wat van mekaar verskil.

Jode kan nie meer offers bring nie omdat die tempel finaal vernietig is. Maar hulle beskou hulle bestudering van die Skrifte as die offers wat hulle daagliks bring. En daarom bestudeer hulle die Bybel met soveel oorgawe!

Skrywer: Dr Marius Nel